Potchefstroom Electronic Law Journal // Potchefstroomse Elektroniese Regsblad

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
Potchefstroom Electronic Law Journal // Potchefstroomse Elektroniese Regsblad >>
2010 >>
[2010] PER 9
| Noteup
| LawCite
'n Toekomstige Perspektief op Grondwetlike Stabiliteit [2010] PER 9
Download original files |
'N TOEKOMSTIGE PERSPEKTIEF OP GRONDWETLIKE STABILITEIT[*]
FW de Klerk[*]*
2 Februarie volgende jaar sal die twintigste herdenking wees van die
begin van die proses van transformasie, wat gelei het tot die
instelling van ons
huidige nie-rassige grondwetlike demokrasie. Die vorige jaar, toe ek die koukus
van die Nasionale Party toegespreek
het ná my onverwagte verkiesing tot
leier van die party, het ek klem gelê op die noodsaaklikheid om ʼn
kwantumsprong
te neem om weg te breek van die politieke en ekonomiese
doodloopstraat waarin ons onsself bevind het. Die oorweldigende reaksie
was
"spring FW, spring!".
En so het ons, twintig jaar gelede, ʼn
berekende geloofsprong gedoen. Ons het dit onwaarskynlik beskou dat daar ooit
weer sulke
gunstige omstandighede sou wees vir ʼn skikking:
ná die val van die Berlynse Muur was globale Kommunisme in wanorde gedompel;
die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party – wat gedurende die 1980s feitlik al die setels in die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee beheer het was in volle vlug; ná die mislukking van die 1984–1987 offensief om Suid-Afrika onregeerbaar te maak, het die ANC uiteindelik aanvaar dat daar nie ʼn revolusionêre resultaat sou wees nie; alle partye het aanvaar dat voortgesette toename in konflik die ekonomie en enige hoop op ʼn verenigde toekoms sou verwoes; en in die verkiesings van September 1989 het die wit kieserskorps ʼn duidelike mandaat aan die Nasionale Party gegee vir omvangryke hervorming en onderhandelings.
Nooit weer sou die balans van
magte so gunstig wees vir ʼn regverdige onderhandelde skikking nie.
Desnieteenstaande het ons nie
onderhandelings blindelings aangepak nie:
Informele en uitgebreide verkennende gesprekke met die ANC en met Nelson Mandela het reeds plaasgevind.
Ons was vol vertroue dat ons in staat sou wees om ʼn grondwet te onderhandel wat die billike regte van alle Suid-Afrikaners kon beskerm – ʼn grondwet wat die bekommernisse van diegene wat baie gehad het om te verloor, sowel as die aspirasies van diegene wat baie gehad het om te bereik, kon akkommodeer. Dít alles het plaasgevind binne ʼn groeiende globale situasie waar ʼn grondwetlike demokrasie en vryemarkbeginsels die botoon gevoer het. Die werklikheid was dat geen substantiewe ekonomie dit kon bekostig om die groeiende konsensus oor hierdie beginsels te ignoreer nie. Daardie lande – soos Zimbabwe, Kuba en Noord-Korea wat dit wel ignoreer het – het ʼn enorme prys betaal. Daar was ook aanvaarding dat die noodsaak om eenheid in ons diverse bevolking te bevorder, noodwendig beperkings sou plaas op enige nuwe regering wat te voorskyn sou kom uit die onderhandelsproses.
Die onderhandelinge het 'n
hoogtepunt bereik op 21 Desember 1993 met die aanvaarding van die Tussentydse
Grondwet,[1] wat die grondslag vir
Suid-Afrika se eerste universele demokratiese verkiesing in April 1994 gevorm
het. Dit het ook die raamwerk
daargestel vir die opstel en aanvaarding van 'n
finale grondwet deur die behoorlik verkose Parlement wat terselfdertyd gedien
het
as 'n Grondwetlike Vergadering. Belangrikste van alles was dat die
sogenaamde finale Grondwet sou moes voldoen aan 35 grondwetlike
beginsels, wat deel was van die 1993 Grondwet. Die Grondwetlike
Vergadering het daarna die finale Grondwet van die Republiek van
Suid-Afrika, 1996[2] behoorlik
opgestel, dit in 1996 aanvaar en voorgelê aan die pas ingestelde
Grondwetlike Hof vir sertifisering. Eers op 4 Februarie
1997, nadat die Hof ten
volle oortuig was daarvan dat die Grondwet in alle opsigte voldoen het
aan die 35 grondwetlike beginsels, het die nuwe Grondwet van toepassing
geword.
Sedertdien het die Grondwet op daadwerklike wyse gedien as
die grondslag van ons nuwe samelewing:
dit verwoord die waardes waarop die nuwe Suid-Afrika gefundeer is;
dit gee uitdrukking aan die transformasie doelwitte van menswaardigheid, gelykheid en sosiale geregtigheid waarna ons almal moet streef; dit sit die regte waarop al ons burgers geregtig is, uiteen; en dit maak voorsiening vir ware demokratiese beginsels vir die organisering van die Staat, insluitend 'n uitvoerende gesag wat verantwoordbaar is aan 'n demokraties verkose wetgewende gesag, 'n onafhanklike regbank wat waghou oor die Grondwet, en die oppergesag van die reg en die Handves van Regte.[3]
Desondanks
was die Grondwet 'n groot historiese kompromie. Geen party het alles
behaal wat hulle wou hê nie – maar alle partye was in staat om hul
minimum vereistes te verseker. Sommiges wou 'n unitêre staat hê;
ander 'n federasie; sommiges wou onbeheerste mag
gehad het om eiendom te
onteien; ander was diep bekommerd oor die toekoms van hul huise en besighede.
Sommige wou 'n enkele Suid-Afrikaanse
identiteit hê; ander het aangedring
daarop dat ons ryk kulturele en taaldiversiteit behoue moet bly. Oor al hierdie
kritieke
kwessies kon ons kompromieë bereik, baie waarvan dikwels fyn
gebalanseerd was.
Vir Suid-Afrika is ons Grondwet dus baie meer as
'n blote handboek oor hoe ons die meganismes van demokrasie of die beskerming
van basiese menseregte moet bestuur.
Die bewoording van die aanhef is gerig
daarop om die verdelings van die verlede te heel en om 'n samelewing te vestig
wat gebaseer
is op demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele
menseregte.
Inderdaad is die Grondwet die onontbeerlike grondslag
van ons nasionale eenheid en bied dit ons beste en blywende hoop vir
voortgesette vryheid, voorspoed
en stabiliteit. Vir al hierdie redes durf ons
niemand toelaat om dit te ondermyn of dit te bedreig nie. En tog staan die
Grondwet onder bedreiging, en wel op sewe verskillende
fronte.
Die eerste bedreiging lê in die moontlikheid dat die
Parlement dalk wettiglik die Grondwet sal wysig. In terme van Artikel 74
mag die Parlement enige bepaling in die Handves van Regte en in die res van die
Grondwet wysig, met 'n tweederdemeerderheid in beide die Nasionale
Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies, asook met die ondersteuning
van ses van die nege provinsies. Dit is egter belangrik om daarop te let dat
die Parlement die fundamentele bepalings in Artikel
1 slegs mag wysig met 'n 75%
meerderheid. Met ander woorde, die Parlement het 'n baie beperkte vermoë
om enige bepaling te
wysig op 'n wyse wat sou lei tot die ondermyning van die
basiese instellings van ons demokrasie; die oppergesag van die reg; en
die
waardes van nie-rassigheid, menswaardigheid, gelykheid en die bevordering van
menseregte en vryhede.
Toegegee, die Regering het min geneentheid
getoon om wesenlike wysigings van die Grondwet voor te stel – ten
spyte daarvan dat dit al jare lank die nodige tweederdemeerderheid gehad het om
dit te doen. Die uitsonderings
is die Veertiende Grondwetlike
Wysigingswetsontwerp[4] en die
Sewentiende Grondwetlike
Wysigingswetsontwerp,[5] wat tans
voor die Parlement dien.
Die Veertiende Grondwetlike
Wysigingswetsontwerp, wat ingedien is teen die einde van 2005, sou sleutel
aspekte van die onafhanklikheid van die regbank wel ernstig ondermyn. Gelukkig
het die Regering die Wetsontwerp die daaropvolgende jaar teruggetrek,
nadat dit sterk en vasberade teenstand gekry het van regsgeleerdes en
kommentators van regoor
die politieke spektrum.
Die tweede uitsondering
is die Sewentiende Grondwetlike Wysigingswetsontwerp, wat verreikende
implikasies het vir die toekomstige outonomie en lewensvatbaarheid van plaaslike
bestuur. Onder die voorwendsel
van 'n inisiatief om 'n meer effektiewe
verspreiding van elektrisiteit te verseker, sal die Wetsontwerp in effek
die Regering op nasionale vlak die mag gee om in te meng in 'n wye reeks
munisipale funksies. Deur dit te doen sal die
Regering nie alleen een van die
belangrikste kompromieë in die Grondwet ondermyn nie. Dit sal ook
ʼn presedent skep wat die outonomie van provinsies mag raak.
Die
tweede bedreiging is geleë in die erosie van grondwetlike beginsels
deur gewone wetgewing. In hierdie proses word grondwetlike regte in toenemende
mate ingekort deur bepalings wat weggesteek word in gewone wetgewing. So
byvoorbeeld sou die
Onteieningswetsontwerp,[6] wat
verlede jaar aan die Parlement voorgelê is, die rol van die howe in die
vasstelling van regverdige vergoeding vir onteinde
eiendom, ernstig beperk.
Sodoende sou dit die grondwetlike reg op billike administratiewe optrede en
toegang tot die howe ernstig
inkort. Gelukkig is die Wetsontwerp
onttrek.
Daar was soortgelyke probleme verlede jaar met die
Wysigingswet op die Nasionale
Vervolgingsgesag[7] en die
Wysigingswet op die Suid-Afrikaanse
Polisiediens,[8] waarkragtens
die Skerpioene ontbind is en 'n nuwe eenheid binne die Suid-Afrikaanse
Polisiediens gestig is om ernstige misdaad te
beveg. Kritici glo dat dié
wetgewing die grondwetlik gewaarborgde onafhanklikheid van die Nasionale
Vervolgingsgesag ondermyn
het en dit ontneem het van sy grondwetlike mag om
"enige funksies te verrig wat in verband met die instel van strafregtelike
verrigtinge
nodig is".
Op dieselfde wyse ondermyn die onlangs aanvaarde
Wysigingswet op Films en
Publikasies[9] aspekte van die
grondwetlik gewaarborgde reg op vryheid van spraak. In die opinie van die
kritici wyk dit af van die versigtig bewoorde
teks van die Grondwet se
definisie van ontoelaatbare kommunikasie; dit is onaanvaarbaar vaag; dit skep
ongelyke omstandighede vir die media wat behoort
aan erkende media organisasies
en dié wat nie; en dit vereis van sommige media, die onmoontlike taak om
hul materiaal aan
sensors voor te lê vóór dit gepubliseer
word.
Die derde bedreiging vir die Grondwet spruit uit
verwaarlosing deur die uitvoerende gesag. In terme van hierdie praktyk steur
die uitvoerende gesag hom eenvoudig nie
aan daardie elemente van die
Grondwet waarvan hy nie hou nie. Dit is veral duidelik uit die manier
waarop die Grondwet se voorsiening vir taal- en kultuurregte stelselmatig
geïgnoreer word sedert 1994.
Die Grondwet stel die volgende
vereistes met betrekking tot taal:
Dit erken ons elf amptelike tale.
Dit vereis dat die staat spesiale stappe neem om ons inheemse tale te ontwikkel.
Dit vereis dat regerings op nasionale en provinsiale vlak twee amptelike tale moet gebruik.
Dit verklaar dat munisipaliteite die taalvoorkeure van inwoners in ag moet neem.
Dit bepaal dat die nasionale en provinsiale regerings hul gebruik van amptelike tale moet reguleer en monitor.
Dit vereis dat alle amptelike tale gelykheid in aansien moet geniet en gelyk behandel moet word.
Dit verklaar dat alle Suid-Afrikaners die reg het om onderwys in openbare onderwysinstellings te ontvang in die taal of tale van hul keuse, waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.
Ongelukkig word feitlik elkeen van hierdie bepalings geïgnoreer of
verwater sedert die aanvaarding van die Grondwet in 1996:
In toenemende mate het ons 'n enkele de facto amptelike taal – en dit is Engels.
Die Regering maak nie voldoende gebruik van twee amptelike tale nie. Ons tale geniet nie gelykheid in aansien nie – en word nie gelyk behandel nie. Bloedweinig is tot dusver gedoen om ons inheemse tale te ontwikkel. Enkelmedium Afrikaanse skole is onder druk, en daar is ernstige kommer oor die behoud van Afrikaans as die primêre taal van onderrig by Stellenbosch Universiteit.
Die vierde bedreiging vir
die Grondwet spruit uit 'n gebrek aan kapasiteit in die uitvoerende
gesag. Op baie terreine blyk dit dat die Regering nie in staat is om belangrike
regte op effektiewe wyse te verseker nie, vanweë die krisis wat dit ervaar
rondom dienslewering.
Die ongelukkige realiteit is dat:
buitensporige geweldsmisdaad te dikwels mense ontneem van hul reg op lewe, hul reg om vry te wees van alle vorms van geweld, en hul reg op eiendom;
die reg op gelykheid veronagsaam is, deur die feit dat ons ná vyftien jaar steeds een van die mees ongelyke samelewings in die wêreld is – die staat het nie gepaste wetgewing en ander maatreëls ingestel om diegene wat benadeel is deur onregverdige diskriminasie, te beskerm en bevorder nie; die gepaste maatreëls is nie ongebalanseerde regstellende aksie nie, maar behoorlike onderwys, effektiewe dienslewering en werkskepping; die regte van kinders nie voldoende respekteer word nie – soos geïllustreer word deur hoë vlakke van mishandeling en verwaarlosing, die bestaan van te veel straatkinders en te veel kinders wat aan die hoof van huishoudings staan; die reg op basiese onderwys ernstig ingeperk is deur die mislukking om behoorlike onderwys te verskaf; en te veel mense het in die praktyk nie voldoende toegang tot howe of 'n verhoor sonder onredelike vertraging nie.
Die verskaffing van effektiewe onderwys,
polisiëring en gesondheidsdienste is 'n belangrike vereiste vir die
verwesenliking van
grondwetlike regte.
Die vyfde bedreiging het sy
ontstaan in die moontlikheid dat die Grondwet toenemend deur die howe
interpreteer mag word om die uitvoerende gesag of 'n enkele deel van ons
samelewing te bevoordeel. Ek moet
klem daarop lê dat dit nog nie gebeur
het nie. Die howe het, in die geheel, uitsprake gelewer wat onafhanklik en
onpartydig
is. Die nuwe Hoofregter het sy toewyding tot die handhawing van die
onafhanklikheid van die regbank en van die Grondwet oortuigend
oorgedra.
Ons kan egter nie die beroep ignoreer wat gedoen is deur die
ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee in 2005 om "die kollektiewe denkwyse
van
die regbank" ... "in ooreenstemming te bring met die visie en aspirasies van die
miljoene wat deelgeneem het aan die struggle
om ons land te bevry van
oorheersing deur die wit minderheid" nie. Gegewe hierdie benadering, bestaan
die bedreiging steeds dat
die uitvoerende gesag toenemend sal probeer om te
verseker dat regters, wat hulle met hierdie standpunt vereenselwig, op die
regbank
aangestel word.
Dit is heeltemal aanvaarbaar in Suid-Afrika
– soos in ander lande met gerespekteerde regterlike tradisies – dat
verkose
regerings kan en moet verseker dat die regbank by bly by veranderende
openbare waardes en houdings. Daar is egter grense vir die
toelaatbare
politieke evolusie van die regbank – veral in multikulturele gemeenskappe
soos ons s'n.
Die konvensie waarop demokrasie rus is dat vrae rondom
politieke mag nie beslis moet word deur verwoestende en verdelende konflik
nie,
maar deur vrye en regverdige verkiesings. Die noodsaaklike afleiding hiervan is
dat wenners van verkiesings die burger- en
politieke regte van die verloorders
moet respekteer. Hierdie proses moet gereguleer word deur grondwette en
handveste van regte
en moet bereg word deur regverdige en onafhanklike howe. In
ʼn sin word grondwette hoofsaaklik opgestel om die belange van minderhede
en
individue wat nie mag besit nie te beskerm – aangesien meerderhede
gewoonlik hul beheer van staatsmag kan gebruik om hul
eie belange te beskerm.
In die geval van Suid-Afrika is dit veral belangrik dat die politieke evolusie
van die regbank nie toegelaat
word om die sorgvuldig onderhandelde grondwetlike
konsensus, waarop ons nuwe samelewing gebaseer is, te ondermyn nie.
Baie
grondwetlike regte is versigtig gebalanseerd met kontraregte. Daar is 'n reg op
eiendom – maar daar is ook 'n reg op grondhervorming;
daar is vryheid van
diskriminasie – maar daar is ook voorsiening vir wetgewende en ander
maatreëls om diegene wat deur
onregverdige diskriminasie benadeel is, te
bevorder. Daar is 'n reg op onderwys in die taal of tale van jou keuse –
maar dit
moet doenbaar, billik en nie-rassig wees. Daar is 'n reg om jou eie
taal te gebruik en eie kultuur te beoefen – maar nie op
só 'n wyse
dat dit ander se regte sal ondermyn nie. Indien die howe voortdurend uitsprake
sou lewer ten gunste van slegs
een kant van hierdie balans, sal dit die
sorgvuldig onderhandelde kompromieë vernietig – en daarmee saam ook
die vooruitsigte
van nasionale eenheid en stabiliteit.
Die sesde
bedreiging vir die Grondwet spruit uit die vooruitsig van politieke
ondergrawing. Die les van die ANC se 52ste Nasionale Konferensie by
Polokwane was dat mag volgens hulle siening nie lê by die Grondwet
of die Parlement, die uitvoerende gesag of die regbank nie. Dit lê,
volgens die linkervleuel van die ANC, in die hande van
watter groep ook al
beheer kan neem van die meerderheidsparty in die Parlement. Dit is omdat
Artikel 47(3)(c) van die Grondwet stipuleer dat lede van die Parlement
hul lidmaatskap van die Parlement verloor indien die party waaraan hul behoort,
hul party lidmaatskap
ophef. Ons parlementêre verteenwoordigers is
gevolglik nie primêr verantwoordelik aan die kieserskorps nie – maar
aan die base van hul onderskeie partye.
By Polokwane het die vermoë
van faksies, wat gekant was teen President Mbeki, om net 10% van die stemme om
te swaai, 'n algehele
skuif in nasionale politieke mag tot gevolg gehad. Die
nuwe leierskap van die party – wat nie deur die publiek verkies is
nie
– het besluit wat die wetgewende program van die Parlement moet wees,
skryf voor wie aangestel moet word in belangrike
politieke poste en het
uiteindelik die president afgedank.
Dit is gevolglik net so belangrik om
die magsverhoudinge in die leierskap van die regerende party dop te hou, as wat
dit is om die
breër politieke toneel in die nasionale arena te monitor.
Ons moet spesifiek die veranderende verhoudings binne in die
ANC/SAKP/COSATU-Alliansie
monitor. In die verband moet ons die volgende in
gedagte hou:
COSATU steun die SAKP se politieke visie. Daarom, van 'n politieke perspektief, moet dit eintlik die ANC/SAKP-Alliansie wees. Beide die SAKP en COSATU wy hulle daaraan toe om "Marxisme-Leninisme as 'n instrument van wetenskaplike ondersoek" uit te bou om "te soek na antwoorde in die kontemporêre wêreld".
COSATU en die SAKP ondersteun die ANC se doktrine van die Nasionale Demokratiese Revolusie – maar slegs as 'n grondslag vir verdere vordering tot die behaling van hul medium-termyn visie. Hierdie visie is om "'n werkersklas hegemonie in die staat in sy diversiteit te vestig en in alle ander areas van mag". Hul langtermyn visie is om 'Sosialisme' te vestig, dit wil sê, 'n volwaardige Kommunistiese staat. Die SAKP het 'n beroep gedoen op die "hersamestelling van die Alliansie" deur middel van die daarstelling van 'n Alliansie Politieke Raad om "toesig te hou oor breë politieke kwessies". Die ANC en COSATU sal elkeen ses lede op die raad hê en die SAKP 'n beskeie vyf. Die SAKP het tagtig lede in die vorige Parlement gehad wat verkies is op die ANC se lys. Dit was twintig persent van totale verteenwoordiging, ten spyte van die feit dat meningspeilings daarop wys dat die SAKP en COSATU gesamentlik nie meer as agt persent van die stemme sou kon verwerf nie. Desnieteenstaande dring die SAKP daarop aan dat sy lede wat deur middel van die ANC se lys verkies is, se primêre lojaliteit by die SAKP moet lê. Die SAKP het die idee om aan toekomstige verkiesings as 'n afsonderlike party deel te neem, laat vaar en meen dat "alhoewel verkiesings belangrik is, daar nie 'n voorafbepaalde enkele roete vir die werkersklas is om mag te hegemoniseer nie". Met ander woorde, hulle beplan om mag langs ander weë te bekom. By die Twaalfde Kongres in Julie 2007 het die SAKP, met goedkeuring, die lank staande opdrag van die Kommunistiese Party van die Sowjet Unie aangehaal, naamlik dat die SAKP moet fokus op "die sistematiese ontwikkeling van die leierskap van die werkers en die Kommunistiese Party in hierdie organisasie" – dit is die ANC.
In die afgelope paar weke het ons gesien
dat COSATU en die SAKP 'n hewige aanval geloods het op minister Trevor Manuel.
Dit lyk of
hulle glo dat sy onlangs gepubliseerde Groenskrif oor Nasionale
Strategiese Beplanning[10] 'n
voorteken is van ʼn terugkeer na die breë ekonomiese beleidsrigtings
van President Mbeki. Die uitkoms van hierdie stryd,
wat al hoe meer sigbaar
word, sal wys waar die swaartepunt in die ANC nou lê.
COSATU en die
SAKP maak geen geheim van hul voorneme om die grondslag te lê vir
werkersklas hegemonie in die staat en in alle
magsentrums nie. Die doelwit is
die instelling van ʼn Marxisties-Leninistiese staat. Nodeloos om te
sê, enige sodanige
skuif sal 'n rampspoedige slag wees – nie net vir
ons Grondwet en ons demokrasie nie, maar ook vir ons ekonomie en enige
vooruitsig op vrede en stabiliteit.
Die finale bedreiging vir ons
Grondwet is moontlik die gevaarlikste van almal. Dit is ons eie apatie.
Dit is ons traagheid om ons Grondwet aktief te ondersteun en aanspraak te
maak op die regte wat dit waarborg. Ons almal gaan bloot voort met ons
daaglikse lewens; ons
vat ons kinders skool toe; ons dra by tot die ekonomie
in ons kantore en fabrieke; ons onthaal ons vriende; en ons gaan op vakansie.
Selde stop ons om te bedink dat feitlik alles wat ons doen, alles wat ons besit,
alles waarna ons streef, saamhang met die handhawing
van ons Grondwet en
die vryhede en regte wat dit waarborg. Ons is geneig om die Grondwet te
beskou as iets op die kantlyn van ons lewens, iets waaraan ons slegs aandag hoef
te gee wanneer dit dringend nodig raak.
Ons moet ontslae raak van hierdie
houding. Ons toekomstige geluk en voorspoed en die toekomstige sekuriteit van
ons kinders is direk
afhanklik van die handhawing van ons Grondwet. Dit
is nie iets wat mens sommer maar net kan toevertrou aan hierdie of daardie
politieke party, of hierdie of daardie burgerregte
organisasie nie. Vir
boosheid om te floreer is dit genoeg dat goeie mense niks doen nie –
apaties is.
Ek doen 'n beroep op almal om in die volgende maande, in
aanloop tot die twintigste herdenking van 2 Februarie 1990, daadwerklike
stappe
te doen om die Grondwet te ondersteun. Weet wat u regte is; eis dit op
en dring daarop aan dat die eweneens geldige regte van alle ander
Suid-Afrikaners
gerespekteer word; ondersteun organisasies soos die Sentrum vir
Grondwetlike Regte onder die vleuels van die FW de Klerk Stigting;
maak die
Grondwet 'n sleutel faktor in u denke en u lewe – want, glo my, dit is
werklik belangrik.
Ondersteuning vir die Grondwet beteken nie
dat u maar net iets doen vir 'n goeie saak nie: dit is die mees gepaste
beskerming van eie belang waaraan ek kan dink.
Ons is bereid om goeie geld te
betaal om ons huise, ons karre, ons gesondheid en ons lewens te verseker. Wat
is ons bereid om te
doen om ons toekomstige vryheid, vrede en voorspoed te
verseker?
Ten spyte van die waarskuwings wat ek gegee het oor die
bedreigings wat ons Grondwet in die oë staar, bly ek steeds 'n
optimis. Ek is vol vertroue dat baie mense in die ANC leierskap deel in talle
van die bekommernisse
wat ek vanaand na vore gebring het. Ek is seker daarvan
dat die oorgrote meerderheid in al ons gemeenskappe die Grondwet
ondersteun. Wat nou nodig is, is dat ons moet hande vat, dat ons saam moet fees
vier oor ons suksesse sedert 1990 en dat ons moet
saamwerk in aanvaarding van
die uitdagings waarvoor ons staan.
Bibliografie
Lys van wetgewing
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996
Films and
Publications Amendment Act 3 van 2009
Grondwet van die Republiek van
Suid-Afrika, 200 van 1993
National Prosecuting Authority Amendment
Act 56 van 2008
South African Police Services Amendment Act 57 van
2008
Lys van staatspublikasies
Constitution Fourteenth Amendment Bill GK 520 in SK 31013 van 8 Mei
2008
Constitution Seventeenth Amendment Bill GK 869 in SK 32311 van 17
Junie 2009
Expropriation Bill GK 440 in SK 30963 van 11 April 2008
South Africa Presidency "National Strategic Planning" (Green Paper) September 2009
[*]Toespraak tydens
die agtste FW de Klerk lesing, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus, op 12
Oktober 2009.
[*]* Frederik Willem
de Klerk, voormalige Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika..
[1]Grondwet van die Republiek van
Suid-Afrika, 200 van 1993 (hierna 1993
Grondwet).
[2]Hierna die
Grondwet.
[3]Hfst 2 van die
Grondwet.
[4]
Constitution Fourteenth Amendment Bill GK 520 in SK 31013 van 8 Mei
2008.
[5] Constitution
Seventeenth Amendment Bill GK 869 in SK 32311 van 17 Junie
2009.
[6] Expropriation
Bill GK 440 in SK 30963 van 11 April
2008.
[7] National Prosecuting
Authority Amendment Act 56 van
2008.
[8] South African
Police Services Amendment Act 57 van
2008.
[9] Films and
Publications Amendment Act 3 van
2009.
[10] September 2009.