South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2010 >> [2010] ZAWCHC 439

| Noteup | LawCite

Jansen v S (A84/10) [2010] ZAWCHC 439 (13 August 2010)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOE HOF VAN SUID-AFRIKA


(WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)



SAAK NO: A84/10

DATUM: 13 AUGUSTUS 2010



In die saak tussen:



CHARLES JANSEN …..........................................................................................Appellant

en

DIE STAAT …..................................................................................................Respondent






UITSPRAAK




DUMINY. WnR:



Die appellant is op 21 Julie 2003 in die Streekhof te Wynberg skuldig bevind aan poging tot moord op ene Ricardo Simmers of Simons (volgens een van die dokumente); onwettige besit van 'n vuurwapen en onwettige besit van ammunisie. Hy is op dieselfde datum gevonnis onderskeidelik tot tien jaar gevangenisstraf op die aanklag van poging tot moord, drie jaar gevangenisstraf op die tweede klagte en een jaar gevangenisstraf op die derde. Aangesien die Hof nie gelas het dat sy vonnisse saamloop nie, word hulle agtereenvolgens uitgedien. Die appellant kom nou in hoer beroep teen die vonnisse. Daar word namens horn aangevoer dat alhoewel die vonnisse op sigself nie buitensporig is nie, daar nie voldoende gewig geheg is aan die tydperk wat hy teen daardie tyd reeds in die gevangenis deurgebring het nie; dat hy 'n eerste oortreder was wat onder moeilike omstandighede grootgeword het, sonder 'n vader en in armoede; dat hy onderhewig was aan bende-invloede, en dat sy optrede irrasioneel was.



Vervolgens word daar aan die hand gedoen dat die vonnisse vir onwettige besit van 'n vuurwapen en onwettige besit van ammunisie saam moes geloop het en dat die totale tydperk van gevangesetting nie meer as tien jaar moes gewees het nie.



Namens die respondent word daarop gewys dat die opgelegde vonnisse nie skokkend onvanpas was nie; dat die appellant geen berou toon vir sy dade nie en dat die verhoorlanddros sy persoonlike omstandighede behoorlik in ag geneem het.



Die appellant se skuldigbevinding spruit voort uit 'n voorval op 1 Junie 2000 in Manenberg, waartydens die appellant op mnr Simmers gevuur het met "n 9mm handwapen en horn vier keer getref het. Mnr Simmers is ernstig in die aanval beseer. Een van die koeels het sy rugmurg binnegedring en hy is vanaf die T12 vlak, dit is die 12de borswerwelvlak, ondertoe geheel en al motories verlam en hy het slegs beperkte sensasie in sy onderste ledemate. Hy is van 'n rystoel en bystand afhanklik vir die uitoefening van sy daaglikse take en lewensfunksies.



Dit is moeilik om uit die rekord vas te stel wat die ware omstandighede van die aanval was. Daar word verskeie suggesties gelaat van bende-aktiwiteit maar die getuienis daaroor is ongelukkig karig. Die appellant het deurgaans betrokkenheid by die misdryf ontken en het geen lig gewerp op wat aanleiding gegee het tot die ernstige en doelgerigte aanval op Simmers nie.



Die appellant het ter strafversagting getuig. Hy het sy persoonlike omstandighede aan die Hof voorgehou. Hy is die vader van twee jong kinders, alhoewel hy self blykbaar maar 18 jaar oud was tydens die voorval. Sy gesinslewe in moeilike en armoedige omstandighede. Sy getuienis openbaar egter geen besondere simpatie met die slagoffer se toestand nie en gegewe dat hy betrokkenheid by die misdryf ontken, is daar geen sprake van berou nie.



In sy uitspraak ten opsigte van vonnis, het die agbare Verhoorlanddros aandag gegee aan die drie bekende primere faktore by vonnisoplegging, naamlik die erns van die misdryf, die belange en omstandighede van die beskuldigde en die belange van die gemeenskap. In die loop van sy uitspraak het hy verwys na die ernstige afmetings wat geweldsmisdrywe in die Wes-Kaap aanneem en dat daar sprake was van bende-aktiwiteite in hierdie geval.



Gegewe die wisselwerking tussen die voormelde faktore asook die element van geregtelike genade waarop die appellant hom beroep het, is ek van oordeel dat die vonnis van tien jaar op die aanklag van poging tot moord geheel van pas was. Dit is inderdaad nie in geskil nie. Die vonnis van drie jaar gevangenisstraf vir onwettige besit van 'n vuurwapen is dalk
streng maar ook nie op sigself onvanpas nie.
Die omstandighede waaronder hierdie vuurwapen in die appellant se besit was, is van belang. Dit was nie 'n tegniese misdryf nie, maar was klaarblyklik in die appellant se besit met die bedoeling dat hy dit sou gebruik.



Dieselfde opmerkings is van toepassing op die vonnis van een jaar gevangenisstraf vir onwettige besit van ammunisie.



Die enigste oorblywende vraag is of daar gese kan word dat die verhoorlanddros misgetas het deur nie sy diskresie onder artikel 280(2) van die Strafproseswet, 51 van 1977, uit te oefen en die vonnisse almal te laat saamloop of om die vonnisse met betrekking tot die besit van die vuurwapen en ammunisie te laat saamloop nie.



Dit is duidelik dat artikel 280(2) aan die Hof 'n diskresionere
bevoegdheid verleen orn te gelas dat vonnisse saam uitgedien
mag word. In
S v Mothibi 1982(4) SA 49 (NK) op 50 word
daarop gewys dat hierdie bevoegdheid uitgeoefen kan word
indien die beskuldigde in dieselfde verhoor aan twee of meer
misdrywe skuldig bevind word.
Die bevoegdheid is

diskresioner en daar is geen verpligting op die Verhoorhof om dit eenkant toe of die ander uit te oefen nie. Artikel 280(2) gaan egter verder as om slegs hierdie bevoegdheid aan die hof te verleen. Dit bepaal naamlik as volg:



"Bedoelde straf [dit is die strawwe wat opgele kan word volgens 280(1)] wanneer hulle uit gevangenisstraf bestaan, neem 'n aanvang die een na die verstryking, tersydestelling of kwytskelding van die ander in die volgorde wat die hof gelas, tensy die hof gelas dat sodanige gevangenisstrawwe saamloop."



Dit handel dus nie slegs met die moontlike saamloop van gevangenisstrawwe nie maar ook met die volgorde waarin dit uitgedien word. Terwyl dit aan die hof 'n bevoegdheid met betrekking tot die saamloop van gevangenisstrawwe gee, kan geargumenteer word dat dit vereis dat die hof aandag gee aan die volgorde waarin vonnisse uitgedien word, naamlik dat die hof verplig is om aandag daaraan aandag te gee.



In die onderhawige geval het die agbare Verhoorlanddros nie uitdruklik gehandel met die onderwerpe wat in artikel 280(2) aangeraak word nie en hy het gaan lasgewing uitgereik met betrekking tot die volgorde waarin die vonnisse uitgedien moes word nie. Dit kan dalk betoog word dat dit h mistasting aan sy kant was wat hierdie Hof in staat stel om in te meng met die vonnis. Hiemstra se Criminal Procedure, opgedateer tot April 2009, wys egter daarop dat die bepalings van artikel 280(2) dat vonnisse opeenvolgens uitgedien word in die volgorde waarin die hof gelas, nie van veel praktiese waarde is nie, aangesien die Wet op Korrektiewe Dienste, No. 111 van 1998, in artikel 39(2)(a) bepaal dat veelvuldige vonnisse van gevangenisstraf agtereenvolgens uitgedien word in die volgorde wat die Nasionale Kommissaris bepaal, tensy die hof anders gelas het.



In die appellant se prokureur se betoog tydens vonnis, is die Hof gevra om die klagtes te koppel vir doeleindes van vonnis, wat na my mening kan neerkom op 'n versoek dat die Hof sy diskresie onder artikel 280(2) ten gunste van die appellant moes uitoefen. In die uitspraak op vonnis word daar nie uitdruklik met hierdie versoek gehandel nie, maar dit is duidelik by implikasie van die hand gewys.



Die kwessie van die saamloop van vonnisse is nie in die aansoek om verlof om te appelleer geopper nie en daar was dus geen geleentheid vir die agbare Verhoorlanddros om te reageer op 'n bewering dat hy misgetas het in hierdie verband nie. Alhoewel dit wenslik mag wees dat 'n vonnisoplegger spesifiek verwys na die kwessies wat in artikel 280(2) geopper word, is ek van mening dat dit nie 'n mistasting was om dit nie te doen nie. Dit blyk uit Hiemstra se kommentaar op artikel 280(2) waarmee ek respekvol saamstem, dat die hof nie verplig is om daarmee te handel nie en dat daar ander voorskrifte is wat enige versuim in hierdie verband genoegsaam aanvul. Dit gee dus nie op sigself daartoe aanleiding dat hierdie Hof met die vonnis kan inmeng nie.



Daar word ook namens die appellant aangevoer dat die tydperk wat hy in die gevangenis was voor vonnisoplegging in ag geneem moes gewees het. Dit blyk egter uit die oorkonde dat hy aanvanklik op borgtog was maar later in hegtenis geneem is op 'n ander aanklag. Sy borgtog is ingetrek. Dit is dus nie duidelik dat die appellant weens die onderhawige klagtes voor vonnis aangehou is nie en kan dit myns insiens nie sonder meer in sy guns in ag geneem word nie.

Die enigste oorblywende vraag is of die vonnis in sy geheel gesien skokkend onvanpas was. Na my mening is dit 'n swaar of 'n streng vonnis wat betref die besit van die vuurwapen maar geensins skokkend onvanpas nie. Die kumulatiewe effek van die vonnisse is ook na my mening nie skokkend onvanpas nie.



In die omstandighede sou ek DIE APPEL VAN DIE HAND WYS EN DIE SKULDIGBEVINDING EN VONNIS BEKRAGTIG.

DUMINY, WnR

LOUW. R: Ek stem saam en dit word so beveel.

LOUW. R