South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2009 >>
[2009] ZAWCHC 146
| Noteup
| LawCite
Jetvest 1099 BK En Ander v Engelbrecht En Ander (7551/2008) [2009] ZAWCHC 146 (27 February 2009)
Download original files |
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
[KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING]
Saaknommer: 7551/2008
In die saak tussen:
JETVEST 1099 BK Eerste Applikant
BEAUMONT ASSIST (EDMS) BEPERK Tweede Applikant
en
ANINA PEDRONELLA ENGELBRECHT Eerste Respondent
FUNDCO BK Tweede Respondent
UITSPRAAK GELEWER: 27 FEBRUARIE 2009
FOURIE, R:
INLEIDING
[1] Hierdie aansoek het te doen met beweerde onregmatige mededinging in die mikroleningsbedryf. In besonder, is die vraag vir beantwoording of applikante se handelsgeheim of vertroulike bedryfsinligting op sodanige wyse deur respondente bekom en aangewend is, dat respondente se optrede as onregmatige mededingingshandelinge beskou kan word.
[2] Applikante het die hof op 'n dringende basis genader vir die verlening van 'n interdik wat, opsommenderwys, respondente verbied om:
(a) enige inligting in verband met die ontwerp en funksionering van tweede applikant se rekenaarstelsel en - programme, vir enige doel te gebruik; en
(b) met behulp van sodanige inligting, met enige persoon of instansie, of enige bestaande kliente van applikante, kontak te maak met die doel om besigheid met hulle te dryf.
[3] Die aansoek word bestry en is na die semi-dringende rol vir aanhoring verwys. Weens sekere feitegeskille in die partye se eedsverklarings, is gelas dat mondelinge getuienis op sekere geskilpunte aangehoor moet word. Mondelinge getuienis is vir hierdie doel aangehoor en moet die aansoek dus beslis word aan die hand van die eedsverklarings wat deur die partye weggele is, soos aangevul deur die mondelinge getuienis.
GESKILPUNTE
[4] Die eedsverklarings bevat wydlopende bewerings deur die onderskeie partye en die aanbieding van mondelinge getuienis het vyf hofdae in beslag geneem. Ek is nie voornemens om 'n gedetailleerde uiteensetting van die bewerings in die eedsverklarings of die mondelinge getuienis wat aangebied is, te verskaf nie, maar sal wel na die relevante gedeeltes daarvan verwys vir soverre dit nodig is vir die beregting van die geskilpunte.
[5] Die oorblywende geskilpunte, soos dit mettertyd uitgekristalliseer het, is die volgende:
(a) Is die aansoek dringend van aard?
(b) Het eerste applikant die nodige locus standi in iudicio om die aansoek teen eerste respondent te bring?
(c) Wat is die aard en omvang van die rekenaarstelsel wat deur applikante in die bedryf van hulle mikroleningsbesigheid gebruik word? In besonder, wat is die aard en omvang van die aanwending en interskakeling van die sagteware komponente van applikante se rekenaarstelsel?
(d) Stel die spesifieke aanwending en interskakeling van die sagteware komponente van applikante se rekenaarstelsel, 'n handelsgeheim of vertroulike bedryfsinligting daar, wat vir applikante n regtensbeskermingswaardige belang verteenwoordig?
(e) Wat is die aard en omvang van die rekenaarstelsel wat gebruik word in die bedryf van tweede respondent se mikroleningsbesigheid?
(f) Tot watter mate, indien enige, stem die rekenaarstelsel van tweede respondent, en in besonder die spesifieke aanwending en interskakeling van die sagteware komponente daarvan, ooreen met die van applikante?
(g) Stel die spesifieke aanwending en interskakeling van die sagteware komponente van die rekenaarstelsel in tweede respondent se besigheid, onregmatige mededinging daar, deurdat dit die onregmatige gebruik van applikante se handelsgeheim of vertroulike bedryfsinligting behels?
(h). Het applikante voldoen aan die vereistes vir die verlening van 'n verbiedende interdik en, indien wel, op watter regshulp, indien enige, is applikante geregtig?
ONREGMATIGE MEDEDINGING- TOEPASLIKE REGSBEGINSELS
[6] Die Suid - Afrikaanse reg op die gebied van onregmatige mededinging word volledig behandel in die gesaghebbende werk van Van Heerden-Neethling, Unlawful Competition, 2de Uitgawe (2008). By die bespreking van die betrokke regsbeginsels put ek grootliks uit hierdie werk, asook, veral ten aansien van die vaktaal, uit die oorspronklike Afrikaanse weergawe daarvan.
[7] Die werfkrag ("goodwill") van 'n onderneming word ingevolge ons gemenereg as immaterieelgoederereg erken. In Phumelela Gaming and Leisure Limited v Grundlingh & Others [2006] ZACC 6; 2007 (6) SA 350 (CC), het die Konstitutionele Hof aanvaar dat die werfkrag van 'n onderneming inderdaad 'n grondwetlike reg ingevolge artikel 25 van die Grondwet, daarstel. Terselfdertyd het die Konstitutionele Hof ook beslis dat hierdie reg nie absoluut is nie, en derhalwe nie aangewend moet word op n wyse wat ander grondwetlike regte, soos die reg om vryelik handel te dryf, vervat in artikel 22 van die Grondwet, misken nie. Sien ook J Neethling, The Law of Unlawful Competition and its Constitutional Compatibility, (2008) 20 SA Merc LJ 414-421.
[8] Dit is gevestigde reg dat die onregmatige inbreukmaking op die werfkrag van n onderneming, tot deliktuele aanspreeklikheid aanleiding kan gee. In gepaste omstandighede sal die benadeelde ook geregtig wees op die verkryging van n interdik om die onregmatige mededinging te verbied.
[9] Die wyses waarop 'n mededinger onregmatig kan meeding met 'n onderneming, met gevolglike aantasting van laasgenoemde se werfkrag, is uiteraard legio. Vir doeleindes van die huidige aansoek is dit slegs nodig om te handel met n verskyningsvorm van onregstreekse inwerking op die werfkrag van n onderneming, naamlik die verkryging en benutting van n ander se handelsgeheime of vertroulike bedryfsinligting.
[10] Alvorens bedryfsinligting as handelsgeheim, of vertroulik, beskou kan word, en gevolglik n beskermingswaardige ekonomiese belang verteenwoordig, moet dit aan drie vereistes voldoen. Eerstens, moet dit geskik wees vir aanwending in n bepaalde onderneming. Tweedens, moet dit, objektief gesproke, van bedryfsekonomiese waarde vir die betrokke onderneming wees. Derdens, moet die inligting geheim of vertroulik wees. Sien in die algemeen in hierdie verband Van Heerden-Neethling, Unlawful Competition, op cit, bladsy 214-216 en die gesag aldaar aangehaal.
[11] Wat die vereiste van geheime of vertroulike inligting betref, laat die geleerde skrywers hulle as volg uit te bladsy 215:
"The information must accordingly-objectively determined-only be available, and thus known, to a restricted number of people or to a closed circle; or, as it is usually expressed by the courts, the information 'must be something which is not public property or public knowledge'". Sien ook die gesag aangehaal te voetnoot 16, bladsy 216.
[12] Waar 'n mededinger sodanige handelsgeheim of vertroulike inligting verkry en benut, moet bepaal word of die mededinger se optrede regmatig of onregmatig is. Die antwoord daarop moet deur die hof gevind word by wyse van n bepaling van die boni mores van die gemeenskap. Anders gestel, moet bepaal word of daar, aan die hand van die boni mores van die gemeenskap, n goedkeuring of afkeuring sal wees van sodanige optrede deur n mededinger. In die Phumelela-beslissing het die Konstitutionele Hof bevestig dat die gemeenregtelike boni mores-maatstaf vir die onregmatigheid van mededinging, in ooreenstemming is met die beginsels vervat in ons Grondwet.
[13] By die aanwending van die boni mores-maatstaf (ook beskryf as die redelikheidskriterium) moet die belange van die betrokke partye teen mekaar opgeweeg word. Enersyds is daar die grondwetlike reg van die onderneming op die werfkrag van die betrokke besigheid, waarop inbreuk gemaak word deur die mededinger wat eersgenoemde se handelsgeheim of vertroulike bedryfsinligting verkry en benut. Andersyds is daar die grondwetlike reg van die inbreukmaker om sy of haar eie onderneming te bedryf en ekonomies te eksploiteer.
[14] In die beslissing van die Hoogste Hof van Appel in Grundlingh & Others v Phumelela Gaming & Leisure Limited 2005 (6) SA 502, het die meerderheid (wie se bevinding deur die Konstitutionele Hof gehandhaaf is), die boni mores-maatstaf as volg omskryf te 517 F-H:
"The test for the unlawfulness of a competitive action is essentially public policy and the legal convictions of the community. The latter concept ordinarily includes not only right-thinking members of the community who might be expected to hold a view on the particular topic but also those involved in the industry, 'the business ethics of that section of the community where the norm is to be applied'."
Daar is voorts verwys na verdere oorwegings wat n rol mag speel soos "an inherent sense of fair play and honesty; the importance of a free market and strong competition in our economic system; the question whether the parties concerned are competitors; conventions with other countries, like the Convention of Paris".
[15] Wat die "Convention of Paris for the Protection of Industrial Property" betref, waarna verwys is in die Grundlingh-beslissing, kan daarop gewys word dat dit onregmatige mededinging definieer as "any act of competition contrary to honest practices in industrial or commercial matters". Die begrippe "fairness and honesty" word ook aangewend in ons regspraak op die gebied van onregmatige mededinging. In Schultz v Butt 1986 (3) SA 667 (A) te 679, erken Nicholas WAR (soos hy toe was) dat hierdie begrippe relevante kriteria in die mededingingsreg daarstel, maar waarsku dat "...they are not the only criteria...questions of public policy may be important in a particular case, e.g. the importance of a free market and of competition in our economic system."
[16] In die praktyk gebeur dit dat n werknemer van n onderneming vertroud raak met die onderneming se handelsgeheime of vertroulike bedryfsinligting en dit na sy of haar diensbeeindiging aanwend in n mededingende onderneming. In Easyfind International (SA) (Pty) Ltd v Instaplan Holdings 1983 (3) SA 917 (W) te 927 B-D, het Schutz WR (soos hy toe was) die volgende benadering gevolg by die oorweging of dit onregmatige mededinging daarstel:
"To my mind the simple practical guide in cases of appropriation of confidential documents or ideas is the commandment 'thou shalt not steal'...What is clearly established in our law is that it is unlawful for a servant to take his master's confidential information or documents and use them to compete with the master."
Die aanwending van hierdie benadering is egter nie sonder probleme nie. Soos tereg deur Van Heerden-Neethling, op cit, bladsy 225 aangedui word, moet daar nog steeds n opweging van die belange van beide partye geskied alvorens bepaal kan word of die gewese werknemer se optrede as regmatig of onregmatig aangemerk moet word.
[17] In Northern Office Micro Computers v Rosenstein 1981 (4) SA 123 (K), is die toets om te bepaal of n rekenaarprogram of-stelsel wat deur n onderneming gebruik word, n handelsgeheim of n vertroulike bedryfsidee daarstel, en derhalwe teen misbruik deur derdes beskerm kan word, as volg gestel te 137D:
"It is common cause that much work, skill and time is needed to produce a suite of programs of this kind. If respondent were permitted simply to copy it, he would be unfairly nullifying the advantage of the 'long start' over anyone else to which applicants are entitled. To that limited extent the suite ofprograms is, in my opinion, a trade secret."
[18] In die Northern Office-saak is met goedkeuring verwys na die Engelse beslissing in Saltman Engineering Company Limited v Campbell Engineering Company Limited (1948) 65 RPC (CA), waar bevind is dat bedryfsinligting in die vorm van n dokument as vertroulik beskou kan word indien dit beskryf kan word as "...the result of work done by the maker upon materials which may be available for the use of anybody; but what makes it confidential is the fact that the maker of the document has used his brain and thus produced a result which can only be produced by somebody who goes through the same process."
DIE RELEVANTE AGTERGRONDFEITE
[19] Die volgende feite is gemeensaak of minstens nie in geskil nie.
[20] Tweede applikant is n geregistreerde mikro-gelduitlener en bedryf n gesamentlike onderneming met eerste applikant wat spesialiseer in die verskaffing van korttermyn finansiering aan individue.
[21] Eerste applikant fokus hoofsaaklik op die bemarking van "oorhoofse" kontrakte met groot werkgewer-ondernemings. Wanneer so n oorhoofse kontrak gesluit word, verskaf en implementeer tweede applikant die geldlenings aan individuele werknemers van die werkgewer-onderneming, en administreer die terugbetaling van die lenings deur bemiddeling van die betrokke werkgewer-onderneming.
[22] Mnr. S J Engelbrecht is n lid van eerste applikant en aandeelhouer en direkteur van tweede applikant. Hy is in beheer van die dag tot dag bedryf van die gesamentlike onderneming van applikante te Kleinmond, Wes-Kaap. Eerste respondent was voorheen getroud met Engelbrecht. Tot einde September 2007 was sy n werknemer van beide die applikante. Sy was ook n medelid van eerste applikant.
[23] Tydens haar betrokkenheid by applikante, was eerste respondent in beheer van die bemarking van die oorhoofse kontrakte namens eerste applikant, sowel as die bemarking van individuele lenings aan werknemers van die betrokke werkgewer-ondernemings. Sy het intieme kennis bekom van alle fasette van applikante se metodiek, insluitende die rekenaarstelsel wat aangewend word vir die bedryf van applikante se onderneming.
[24] Die huwelik tussen eerste respondent en Engelbrecht het verbrokkel en is gedurende September 2007 ontbind. Ingevolge n skikkingsooreenkoms wat n bevel van die hof gemaak is, het Engelbrecht onderneem om aan eerste respondent die bedrag van R800 000-00 te betaal ten aansien van haar 50% ledebelang in, en eise teen, eerste applikant. Eerste respondent het ook uit die diens van beide applikante getree.
[25] Vanaf ongeveer Oktober 2007 het eerste respondent 'n soortgelyke onderneming as die van applikante, te Kleinmond begin bedryf deur middel van tweede respondent. Met die vestiging van tweede respondent se besigheid, het eerste respondent vir Me. Marzan Huisamen, wat op daardie stadium in eerste applikant se diens was as n persoonlike assistent vir Engelbrecht, en voor Oktober 2007 ook eerste respondent se persoonlike assistent was, gewerf om vir tweede respondent te werk. Kort daarna het eerste respondent vir Me. Hildegard Toerien, wat ook in eerste applikant se diens was, gewerf om by tweede respondent in diens te tree.
[26] In die tydperk 1 Oktober 2007 tot 20 November 2007, het eerste
respondent met 28 van applikante se bestaande kliente kontak gemaak. In Januarie 2008, het sy, namens tweede respondent, 'n oorhoofse kontrak gesluit met die Protea Coin Groep, 'n samesmelting van Coin Security en Protea Security. Sy het voor Oktober 2007, tydens haar dienstermyn by applikante, gepoog om so n oorhoofse kontrak namens applikante te beding. Na haar diensbeei'ndig by applikante was sy dus bewus daarvan dat Coin Security n bestaande klient van eerste applikant is, en dat applikante reeds vir n geruime tyd gepoog het om die voortbestaan van die bestaande oorhoofse kontrak met Coin Security, na die samesmelting van die twee entiteite, met die Protea Coin Groep voort te sit.
[27] Ek gaan nou voort om die oorblywende geskilpunte afsonderlik te behandel.
DRINGENDHEID EN EERSTE APPLIKANT SE LOCUS STANDI
[28] Dit is nie nodig om baie tyd aan hierdie twee geskilpunte af te
staan nie. Wat dringendheid betref, is ek tevrede dat applikante op sterkte
van die bewerings gemaak in die funderende eedsverklaring, geregtig was
om die hof op n dringende basis te nader. Die enigste werklike remedie
wat n applikant in n aansoek van hierdie aard het, is n verbiedende
interdik. Indien so n aansoek in die gewone loop van sake ter rolle
geplaas moet word, sal dit gewoonlik onherroeplike skade tot gevolg he,
indien dit mettertyd sou blyk dat die applikant wel op n interdik geregtig
is. Dit is so aangesien die alternatiewe remedie van skadevergoeding in
die geval van onregmatige mededinging, meestal moeilik bewysbaar is.
Dit is wel so dat respondente op kort kennisgewing met applikante se
bewerings moes handel, maar hulle het dit op uitgebreide wyse gedoen.
Indien hulle nog tyd vir die liassering van verdere eedsverklarings
benodig het, sou n hof in die omstandighede waarskynlik die nodige
verlof verleen het. Respondente het dit egter nie nodig geag om verlof te
verkry vir die wegle van verdere eedsverklarings nie.
[29] Respondente het in hulle eedsverklaring aangevoer dat eerste applikant nie die nodige locus standi het om n aansoek teen eerste respondent te bring nie, aangesien eerste respondent se ledebelang in eerste applikant nog nie formeel aan Engelbrecht oorgedra is nie. Die feit van die saak is egter dat eerste respondent reeds in Desember 2007 die nodige oordragvorms onderteken het en dat die vertraging in hierdie verband bloot administratief van aard is. Respondente het nie enige redes aangevoer, en blyk daar ook nie op regs-of feitelike gronde enige beletsel te wees waarom eerste applikant in die omstandighede verbied word om die aansoek teen eerste respondent te bring nie.
DIE AARD EN OMVANG VAN APPLIKANTE SE REKENAARSTELSEL
[30] Die wyse van aanwending en interskakeling van die sagteware
komponente van applikante se rekenaarstelsel, is ook grotendeels gemeensaak of minstens nie in geskil nie.
[31] Volgens Engelbrecht het hy aan die begin van 2002 besluit om die wese van eerste applikant se besigheid te verander, van n bemarker van ander instansies se lenings, tot bemarker en self-finansierder van sy eie lenings. Dit het, soos hy dit beskryf het, 'n "totale skuif van fokus" geverg met sy mikpunt om kliente landwyd te bedien vanuit n sentrale kantoor. Om hierdie mikpunt te bereik, was dit vir hom nodig om, weens beperkte fondse, van die relatief goedkoop bestaande infrastruktuur (inlsuitende die rekenaarstelsel) gebruik te maak, sonder om kwaliteit van diens prys te gee. Wat die sagteware komponente van die rekenaarstelsel betref, se
Engelbrecht dat hy die "hele roete" vir die skepping van doelmatige en effektiewe dienslewering aan kliente, beplan het.
[32] Engelbrecht het getuig dat indien applikante oor voldoende fondse beskik het, die oplossing sou gewees het om opdrag te gee aan n informasie-tegnologie spesialis om die nodige programmatuur te skryf ten einde die bedryfsproses wat vir hierdie nuwe visie nodig sou wees, te administreer. Weens die gebrek aan fondse, het hy egter vir Mnr. A L Coetzee, n stelselingenieur, opdrag gegee om die vereiste rekenaarstelsel te ontwerp, hoofsaaklik met behulp van die bestaande rekenaartoerusting.
[33] Volgens Coetzee het Engelbrecht van meet af pertinente vereistes gestel waaraan die rekenaarstelsel moes voldoen. Nieteenstaande Coetzee se advies om nuwe pasmaat sagteware aan te skaf, het Engelbrecht daarop aangedring dat die bestaande sagteware komponente van die rekenaarstelsel behou en aangepas moet word, omdat dit goedkoper sou wees. Coetzee het getuig dat dit n "meet, pas en toets"- proses was om die sagteware om te skakel en aan te pas, wat ongeveer drie weke in beslag geneem het. Die stelsel is verder verfyn oor n tydperk van ongeveer twee jaar.
[34] Coetzee het voorts getuig dat indien applikante oor voldoende fondse beskik het, sou hy eerder n ".stelsel geskryf het in n databasis-applikasie wat ontwerp is vir daardie tipe stelsel.". Die koste daarvan sou egter ongeveer R100 000-00 beloop het. Coetzee was van mening dat die spesifieke aanwending van die bestaande sagteware van applikante se rekenaarstelsel, nie geskik was "om te werk in die omgewing wat Engelbrecht verwag het dit moet werk nie", maar het hy dit op aandrang van Engelbrecht aangepas vir applikante se spesifieke behoeftes.
[35] In kort, geskied die bedryf van applikante se gesamentlike onderneming as volg:
(a) Die prosedure vir die ontvang, goedkeuring en uitbetaling van n lening is as volg:
(i) Aansoeke
word hoofsaaklik per faks, maar ook telefonies of
by wyse van
e-pos ontvang;
(ii) Die aansoeke word aangeteken in 'n aansoekregister;
(iii) Daar
word gekontroleer of 'n aansoek volledig is en indien
nodig word
verdere inligting verkry ten einde die aansoek te
voltooi;
(iv) Die aansoek word dan oorweeg en goed-of afgekeur;
(v) n
Leningskontrak
word saamgestel vir ondertekening deur
die goedgekeurde lener, wat
dit dan weer na applikante
terugstuur;
(vi) By
ontvangs van die ondertekende leningskontrak word die
lening
formeel goedgekeur en elektronies oorbetaal;
(vii) Invordering
van maandelikse paaiemente, en bestuur van die
lening, geskied tot
die lening finaal terugbetaal is.
(b) Die implementering van hierdie prosedure by wyse van die interskakeling van die sagteware komponente van die rekenaarstelsel, en die voordele wat gebied word deur sodanige interskakeling, kan as volg beskryf word:
(i) Data kan deur meer as een rekenaar gelyktydig of afsonderlik gebruik word en toegang tot sodanige data kan deur verskillende rekenaars gedeel word;
(ii) Die faksaansoeke word ontvang op n program bekend as Bitfax. Meerdere rekenaars kan gesamentlik en afsonderlik toegang tot Bitfax faksdokumentasie verkry. Die Bitfax faksdata word deur verskillende rekenaars gelyktydig gedeel met die doel om die data gesamentlik of afsonderlik te lees en te manipuleer (deur die betrokke dokumente te skuif, te verander en te redigeer);
(iii) Vir
doeleindes van die prosessering van 'n
aansoek skep en ontvang n rekenaarprogram (Microsoft Excel) die
aansoeker se inligting op n digitale dokument op die rekenaar.
Die
konsultant wat die aansoek hanteer, plaas hierdie dokument
rekenaarmatig oor na n elektroniese leer wat terselfdertyd vir die
betrokke aansoeker geskep word. Hierdie leer word deur die rekenaar
na n sentrale punt op die rekenaarstelsel verskuif, waar al
die
aansoeke ontvang en beoordeel word en ter insae is van al die
konsultante. Enige verdere inligting wat bekom word van die
aansoeker, word tydens n telefoongesprek rekenaarmatig opgeneem en
vasgele in n digitale dokument en daarna oorgedra na die
betrokke
aansoekleer;
(iv) Die relevante data wat aldus van die aansoeker bekom is, word daarna rekenaarmatig op n keuringsprogram oorgedra. Die aansoek word dan rekenaarmatig gekeur aan die hand van kriteria wat reeds op die keuringsprogram ingevoer is.
(v) Uitbetaling van die lening geskied deur middel van die internet. Die lening word geadministreer en ingevorder deur middel van 'n sagteware pakket (Q-Money) wat die maandelikse renteberekening, asook die uitstaande bedrae, van tyd tot tyd bereken en aan die werkgewer van die lener stuur vir aftrekking van sy of haar salaris, en oorbetaling aan applikante.
[36] Eerste respondent het erken dat die rekenaarstelsel, soos aangepas deur applikante, die volgende voordele inhou:
(a) Die stelsel funksioneer met die nodige effektiwiteit en spoed, wat eerste applikant in staat stel om sy finansiele produk suksesvol aan n werkgewer-ondernemer bekend te stel en te bemark. Dit stel voorts vir tweede applikant in staat om lenings aan werknemers effektief en spoedeisend te oorweeg, te prosesseer en te administreer. Die ontvangs, oorweging en goedkeuring van n aansoek vir n lening, word derhalwe aansienlik vergemaklik en versnel.
(b) Die voormelde eienskappe stel n groot voordeel daar, wat n wesenlike effek het op die doelmatigheid en effektiwiteit waarmee tweede applikant se dienste aan kliente bemark en gelewer kan word.
HANDELSGEHEIM OF VERTROULIKE BEDRYFSINLIGTING?
[37] Die vraag wat ontstaan, is of die voormelde spesifieke aanwending en interskakeling van die sagteware komponente van applikante se rekenaarstelsel, n handelsgeheim of vertroulike bedryfsinligting daarstel, wat beskermingswaardig is.
[38] Die deskundige, Coetzee, het die volgende standpunt in sy beedigde verklaring gehuldig:
"Although all operating systems and application software used are generic and freely available, the particular configuration and integration of these software packages and their employment in the Beaumont Assist (Pty) Ltd (tweede applikant) environment can be regarded as the intellectual property of Beaumont Assist (Pty) Ltd."
[39] Dit is dan ook applikante se saak dat, alhoewel die individuele sagteware komponente van die rekenaarstelsel nie uniek is nie, die ontwerp of formaat van verskeie aspekte daarvan, veral die wyse waarop die onderskeie sagteware programme met mekaar ineenskakel, uniek en vertroulik is. In sy getuienis het Engelbrecht gese dat applikante bestaande en algemeen bekombare sagteware ".geneem, saamgevoeg, aangepas en gewysig het.", en aanwendings volgens hulle eie behoeftes opgestel het, wat as n geheel "absoluut sonder eweknie en gelyke is". Volgens hom is applikante se stelsel ".uitgedink, uitgewerk, verpak en gefinaliseer rondom ons spesifieke behoeftes, gegewe kapitaalbronne".
[40] Respondente, daarteenoor, het deurlopend die houding ingeneem dat daar niks uniek of vertroulik is aan applikante se stelsel nie, en dat dit grootliks algemene kennis is.
[41] As gelet word op die drie vereistes vir die tipering van bedryfsinligting as geheim of vertroulik, (sien paragraaf 10 hierbo), behoef dit nie veel betoog dat die eerste twee vereistes duidelik aanwesig is nie. Die rekenaarstelsel word inderdaad aangewend in applikante se gesamentlike onderneming en is dit, objektief gesproke, van bedryfsekonomiese waarde vir applikante. Die kernvraag is egter steeds of hierdie inligting as geheim of vertroulik beskryf kan word. In die aansoek en tydens getuienis is die woord "uniek" ook dikwels gebruik, maar blyk dit volgens die gesag dat uniekheid in die konteks van onregmatige mededinging, eerder slaan op die beperkte bekendheid van die betrokke bedryfsinligting.
[42] Soos gemeld in paragraaf 11 hierbo, word bedryfsinligting geag vertroulik te wees indien dit slegs beskikbaar is vir, en dus bekend is aan, n beperkte personekring. Dit behels dus inligting wat nie openbare eiendom of openbare kennis is nie. Vertroulike inligting kan ook bestaan uit n kombinasie van andersins bekende komponente, so lank as wat die gekombineerde eindresultaat slegs bekend is aan n beperkte personekring. Sien die Saltman-beslissing na verwys in paragraaf 18 hierbo, asook Atlas Organic Fertilizers (Pty) Ltd v Pikkewyn Ghwano (Pty) Ltd & Others 1981 (2) SA 173 (T) en Harvey Tiling Co. (Pty) Ltd v Rodomac (Pty) Ltd and Another 1977 (1) SA 316 (T).
[43] Dit is namens respondente betoog dat enige vertroulikheid wat die aanwending van die rekenaarstelsel deur applikante, mag gehad het, vernietig is aangesien dit aan potensiele beleggers bekend gemaak is. Die getuienis toon egter dat geen aspekte van die stelsel aan enige derde party geopenbaar is nie. Die onbetwiste getuienis van Engelbrecht is dat die huidige aandeelhouers die enigste beleggers is wat applikante genader het. Bekendmaking van hierdie aard sou egter nie die vertroulikheid van die rekenaarstelsel in gedrang bring nie, aangesien kennis daarvan nie buite die beperkte kring van diegene wat betrokke is by, of n belang het in applikante, bekend gemaak is nie.
[44] Engelbrecht het dit onomwonde gestel dat die besondere aanwending van die rekenaarstelsel se sagteware komponente deur applikante, nie algemeen bekend is nie en gevolglik geheime of vertroulike bedryfsinligting daarstel. Volgens hom is daar net sowat 1 500 mikro-leners in Suid-Afrika met ondernemings van soortgelyke omvang as die van applikante, maar nie een van hulle bedryf soortgelyke rekenaarstelsels as applikante nie. Hierdie laasgenoemde stelling is wel deur respondente se advokaat gekritiseer, as synde sonder enige grondslag, maar moet in gedagte gehou word dat hierdie getuienis van Engelbrecht onderskraag word deur die deskundige getuie, Coetzee. Volgens Coetzee het hy hierdie stelsel vir applikante ontwerp om by hulle eie besondere behoeftes en omstandighede aan te pas. Van die sagteware moes dan ook vir doeleindes aangewend word wat nie gebruiklik gepas is vir sodanige sagteware nie. Verder moet ook in gedagte gehou word dat respondente geen deskundige of ander getuienis aangebied het om hierdie getuienis aangaande die besondere unieke aard van die stelsel, te weerle nie.
[45] Dit moet, na my mening, verder in gedagte gehou word dat die onderhawige nie n geval is soos in die Atlas Organic Fertilizers-saak, supra, nie, waar die individuele komponente van, en die betrokke proses, reeds algemeen bekend was en die hof ook bevind het dat enige ingenieur wat hom daarop sou toespits, uit eie kennis dieselfde proses sou kon ontwerp het. Die onderhawige is eerder n geval soos in die Harvey Tiling-saak, supra, waar die proses om n besondere teel te ontwerp, intern ontwikkel is en nie algemene kennis was nie.
[46] Na oorweging is ek van oordeel dat, nieteenstaande die feit dat die individuele komponente van die sagteware van applikante se rekenaarstelsel algemeen bekend is, dit op n oorwig van waarskynlikhede bewys is dat die spesifieke aanwending daarvan in applikante se onderneming, bedryfsinligting daarstel wat vir applikante van besondere ekonomiese waarde is en nie algemeen beskikbaar en bekend is aan die algemene publiek en ander mededingers in hierdie bedryf nie. Ek bevind derhalwe dat hierdie bedryfsinligting van applikante geheim of vertroulik is en n beskermingswaardige belang vir applikante verteenwoordig.
STEM TWEEDE RESPONDENT SE REKENAARSTELSEL OOREEN MET DIe VAN APPLIKANTE?
[47] Teen die tyd wat die argumente van die partye aangehoor is, was die feitelike grondslag waarop hierdie geskilpunt beoordeel moet word, ook gemeensaak of minstens nie wesenlik in geskil nie.
[48] In haar getuienis het eerste respondent toegegee dat die voordelige eienskappe van applikante se rekenaarstelsel iets is waarna sy gestreef het toe sy tweede respondent gestig het. Volgens haar het sy "...gebruik gemaak van die kennis wat ek het...die programme waarmee ek in die verlede gewerk het", toe sy die besigheid van tweede respondent opgerig
het.
[49] Wat tweede respondent se rekenaarstelsel en in besonder die aanwending van die sagteware komponente betref, toon die getuienis dat tweede respondent se stelsel in die volgende opsigte ooreenstem met die van applikante:
(a) Die installering van Bitfax met gevolglike gelyktydige beskikbaarstelling van faksdokumente aan al die rekenaars gekoppel aan die netwerk. Die deskundige, Mnr A V Landman, is spesifiek deur eerste respondent versoek om Bitware (oftewel Bitfax) te installeer en het hy vir haar daarteen geadviseer. Desnieteenstaande het eerste respondent op die installering daarvan aangedring.
(b) Die aanpassing en manipulering van Microsoft Excel- spreiblaaie ("spreadsheets") om as databasis te funksioneer. Dit is insiggewend dat eerste respondent tydens kruisverhoor toegegee het dat sy in staat was om hierdie databasisfunksie te laat skep uit hoofde van haar kennis van applikante se gebruik van hierdie metode om data te stoor. Die getuienis van Engelbrecht, wat nie betwis is nie, was dan ook dat sy "haar Excel spreadsheets aangepas (het) om op dieselfde plek en met dieselfde funksionaliteit te funksioneer."
(c) Die gebruik van n aansoek-register wat n groter rol speel as bloot n lys van kliente se name, ten einde n klient se navraag oor die vordering van n aansoek, so spoedig moontlik te kan beantwoord. Hierdie aansoek-register het applikante geskep uit 'n normale Microsoft Excel-spreiblad, wat aangepas is om aan hulle spesifieke behoeftes te voldoen.
(d) Die gebruik van n kontrolelys, wat soos in die geval van applikante, die keuringsmetodiek verteenwoordig.
(e) Die berging van inligting wat telefonies ontvang word, deur middel van Voice Logic.
[50] Die getuienis van die deskundige, Coetzee, wat nie in enige wesenlike opsig betwis is nie, is dat die netwerkstruktuur in beide applikante en tweede respondent se ondernemings, dieselfde is. Coetzee het dit as volg gestel in sy getuienis:
"Ek dink wat belangrik is, is dat die netwerkstruktuur in beide kantore is dieselfde. Daar is 'n server, die leers word op die server gestoor. Daar is baie ander inligting op al twee rekenaars maar waarvoor ek hier is, is vir die gedeelte waarvoor ek hier is, se inligting sit op al twee servers en dit word op dieselfde manier van al twee-van betrokke werkstasies af word dit ge-access...die inligting vir hierdie stelsel wat hulle gebruik le nie op 'n werkstasie nie, met ander woorde daar werk mense op die werkstasies maar die leer wat oopgemaak word word van die server af oopgemaak en Mej. Eigelaar (eerste respondent) se stelsel werkpresies dieselfde."
[51] Die gevolgtrekking waartoe ek in die lig van die getuienis kom, is dat alhoewel daar verskille is (bv. die gebruik van verskillende keuringsisteme), die aanwending van die sagteware komponente van die rekenaarstelsel deur tweede respondent, in wesenlike opsigte ooreenstem met die van applikante.
ONREGMATIGE MEDEDINGING DEUR RESPONDENTE?
[52] In die lig van my bevinding dat respondente inderdaad in wesenlike opsigte gebruik maak van applikante se vertroulike bedryfsinligting, naamlik die spesifieke wyse van aanwending van die sagteware komponente van applikante se rekenaarstelsel, moet dit nou bepaal word of sodanige gebruik regmatige of onregmatige mededinging daarstel.
[53] Soos reeds genoem, moet hierdie vraag beantwoord word aan die hand van die boni mores-maatstaf, oftewel die redelikheidskriterium. Dit is uiteraard 'n objektiewe maatstaf en 'n raak beskrywing daarvan word gevind in die Atlas Organic Fertilizers-saak te 188H-189A, naamlik:
"I have come to the conclusion that the norm to be applied is the objective one of public policy. This is the general sense of justice of the community, the boni mores, manifested in public opinion...In determining and applying this norm in a particular case, the interests of the competing parties have to be weighed, bearing in mind also the interests of society, the public weal. As this norm cannot exist in vacuo, the morals of the market place, the business ethics of that section of the community where the norm is to be applied, are of major importance in its determination".
Sien ook die aanhaling uit die Grundlingh-beslissing in paragraaf 14 hierbo.
[54] Ek is van oordeel dat aan die hand van die getuienis, die volgende feite en omstandighede relevant is by die toepassing van die boni mores-maatstaf ten einde die regmatigheid van respondente se optrede te beoordeel:
(a) Applikante en respondente is in dieselfde segment van die mikroleningsmark betrokke, naamlik die sluiting van oorhoofse kontrakte met werkgewer-ondernemings. Dit word nie juis deur respondente betwis dat applikante, met die oog op die bediening van hierdie marksegment, n rekenaarstelsel met gepaardgaande interskakeling van die sagteware komponente daarvan, laat ontwerp het nie.
Alhoewel die individuele komponente van die betrokke sagteware vryelik in die handel beskikbaar is, toon die getuienis dat die spesifieke samestelling daarvan vir die doeleindes van applikante se onderneming, n pasklaar eindproduk vir applikante tot gevolg gehad het.
Die getuienis namens applikante is dat hierdie interskakeling van die sagteware komponente van die rekenaarstelsel, met gepaardgaande voordele vir applikante, nie deur enige ander ondernemer in hierdie veld op dieselfde wyse aangewend word nie. Engelbrecht se getuienis in hierdie verband word gestaaf deur die deskundige, Coetzee. 'n Verdere deskundige, Mnr. VP Pienaar, het, alhoewel hy nie mondelinge getuienis afgele het nie, wel 'n eedsverklaring weggele waarin hy meld dat die betrokke rekenaarstelsel sonder gelyke, en eie aan applikante, is. Daarteenoor het respondente, benewens die ongestaafde stelling van eerste respondent, nie enige getuienis aangebied om dit te weerle nie.
Dit is duidelik dat indien eerste respondent nie so nou betrokke was by applikante se onderneming nie, sy waarskynlik nie van hierdie spesifieke aanwending van die sagteware komponente van die rekenaarstelsel bewus sou gewees het nie. Die kennis wat sy by applikante opgedoen het, het haar in staat gestel om belangrike gedeeltes van die stelsel by die onderneming van tweede respondent te laat installeer. Sonder die kennis wat sy by applikante opgedoen het, sou sy in alle waarskynlikheid nie in staat gewees het om opdrag te gee dat die sagteware, met hierdie besondere wyse van interskakeling, by tweede respondent gei'nstalleer moes word nie. Dit volg dus dat sy uit hoofde van haar besondere kennis van applikante se rekenaarstelsel, in staat was om n voordeel, soms na verwys as die springplank ("springboard")-voordeel, vir tweede respondent, tot nadeel van applikante, te bewerkstellig.
Die wyse van interskakeling van die sagteware komponente van die rekenaarstelsel, is hoofsaaklik die idee van applikante, verteenwoordig deur Engelbrecht. Dit is nie n geval waar n deskundige van buite bekom is om 'n ontwerp voor te le vir dit wat Engelbrecht in gedagte gehad het nie. Dit was Engelbrecht se eie breinkind waaraan hy met behulp van n deskundige, gestalte gegee het.
Die verkryging van hierdie kennis deur eerste respondent en die wyse waarop sy dit tot haar voordeel aangewend het deur middel van tweede respondent, strek noodwendig tot die finansiele nadeel van applikante. Dit word duidelik ge'llustreer deur die feit dat applikante binne enkele maande na eerste respondent se vertrek, hulle grootste klient kwyt is. Die waarskynlikhede toon dat eerste respondent, sonder die intieme kennis wat sy by applikante opgedoen het, nie in staat sou gewees het om op so n spoedige wyse die tweede respondent se besigheid van stapel te stuur en applikante se belangrikste klient te bekom nie. (g) Wat die verhouding tussen applikante en eerste respondent betref, moet verder in gedagte gehou word dat sy nie alleenlik n werknemer van applikante was nie, maar ook n lid van eerste respondent. Sy het onderneem om hierdie ledebelang, teen betaling van R800 000-00, aan Engelbrecht oor te dra en alhoewel sy nog nie die volle koopprys ontvang het nie, het sy uit hoofde van die bepalings van die betrokke skikkingsakte n vorderingsreg teen hom vir betaling daarvan.
[55] Soos reeds by herhaling gemeld, moet die belange van applikante enersyds, en respondente andersyds, teenoor mekaar opgeweeg word. Applikante het die grondwetlike reg op die behoud van die werfkrag van hulle onderneming. Respondente se optrede tas noodwendig hierdie reg aan. Daarteenoor het respondente n grondwetlike reg om vryelik aan die ekonomiese verkeer deel te neem en n bestaan te maak, ook deur die aanwending van eerste respondent se kundigheid en ervaring. In die gegewe omstandighede, sal daar noodwendig konflik wees tussen hierdie teenstrydige regte.
[56] By die opweging van die onderskeie regte en belange van die betrokke partye, is dit, benewens die feite en faktore waarna ek reeds verwys het, ook nodig om aandag te skenk aan oorwegings van eerlikheid en regverdigheid binne sakeverband. Soos dit gestel is in die Grunlingh-saak, supra, speel die vereiste van "an inherent sense of fair play and honesty" noodwendig ook n rol.
[57] Eerste respondent was nie alleen n werknemer wat tydens haar diensbestek in n vertrouensverhouding teenoor applikante gestaan het nie, maar ook n lid van eerste applikant met wie sy as sulks in n fidusiere verhouding gestaan het. Haar optrede by diensbeeindiging, deur onmiddellik die vertroulike bedryfsinligting van applikante tot haar eie finansiele voordeel te gebruik, met gevolglike finansiele nadeel vir applikante, laat die wenkbroue lig. Daarbenewens het sy ook werknemers van applikante oorreed om laasgenoemde se diens te verlaat en by tweede respondent aan te sluit. Voorts is eerste respondent, soos reeds gemeld, op n ruim vergoeding vir die oordrag van haar ledebelang in eerste applikant geregtig en moet die moraliteit van haar optrede, om onmiddellik na haar vertrek, inbreuk te maak op die werfkrag van die onderneming van applikante, bevraagteken word.
[58] Engelbrecht het ook getuig dat hy geluister het na n bandopname van n telefoongesprek wat eerste respondent in Januarie 2008 met ene Me. Mde, n werknemer van eerste applikant, gehad het. Volgens Engelbrecht het hy gehoor hoe eerste respondent vir Mde vra om eerste applikant se kontrolelys ("checklist") aan haar te faks en daarna die faksversending uit te wis. Eerste respondent het aanvanklik ontken dat die betrokke gesprek plaasgevind het, maar daarna gese dat sy wel verskeie oproepe na Mde gemaak het om haar te oorreed om vir tweede respondent te kom werk. Later het eerste respondent getuig dat sy haarself nie kan "herinner aan die feit dat ek gebel het en vir haar gese het sy moet die checklist vir my faks, aangesien ek reeds die checklist in my besit gehad het op die flashdrive".
[59] Die bestaan van die bandopname en die getuienis van Engelbrecht dat dit hierdie telefoongesprek tussen eerste respondent en Mde bevat, is nie in kruisverhoor betwis nie. Dit is verder insiggewend dat alhoewel die bandopname beskikbaar gestel is, respondente se regsverteenwoordigers nie versoek het om daarna te luister nie. Engelbrecht se getuienis aangaande die gesprek, is gegrond op sy eie sintuiglike waarneming toe hy na die bandopname geluister het, en is dus toelaatbare getuienis aangaande die plaasvind van sodanige gesprek.
[60] Die verkryging van die kontrolelys deur eerste respondent sou na my mening onaanvaarbare optrede deur eerste respondent daarstel, veral in die lig van Engelbrecht se getuienis dat die kontrolelys n belangrike dokument is wat na die keuringsproses geproduseer word en effektief die wyse van keuring en die uitslag daarvan, reflekteer. Die optrede van Mde om dit aan eerste respondent beskikbaar te stel, is as sodanig ernstig beskou dat sy intern verhoor en ontslaan is. Alhoewel eerste respondent ontken dat sy die kontrolelys van Mde aangevra het, getuig sy, ironies genoeg, dat sy in ieder geval die kontrolelys van applikante bekom het, aangesien dit op 'n datastafie ("flashdrive") was wat Huisamen aan haar oorhandig het. Volgens eerste respondent het die oorhandiging van hierdie datastafie plaasgevind na Huisamen in diens van tweede respondent getree het, en moes dit sekerlik vir eerste respondent op haar hoede gestel het dat dit dalk onregmatiglik aan haar beskikbaar gestel word. Desnieteenstaande het eerste respondent geen gewetensbeswaar gehad om die datastafie met applikante se inligting daarop, te behou nie.
[61] Applikante steun ook op bewerings vervat in die eedsverklaring van Huisamen en die mondelinge getuienis van Mnr. P S De Villiers, vir die betoog dat eerste respondent haar aan verdere onbehoorlike optrede skuldig gemaak het. Die wese van Huisamen se bewerings en De Villiers se getuienis, word egter deur eerste respondent betwis. In die lig van die gevolgtrekking waartoe ek geraak het, is dit egter nie vir my nodig om hierdie feitedispute te beslis nie en laat ek dus hierdie getuienis van Huisamen en De Villiers buite rekening.
[62] Na oorweging van al die toepaslike feite en omstandighede, soos hierbo uiteengesit, is ek van mening dat die algemene regsgevoel van die gemeenskap en in besonder die regsgevoel van ondernemers in die mikroleningsbedryf, een van afkeur sal wees van die wyse waarop respondente hierdie vertroulike bedryfsinligting van applikante bekom en aangewend het, met die gevolglike inbreukmaking op applikante se reg op die werfkrag van hulle gesamentlike onderneming. Die optrede van eerste respondent as gewese werknemer van applikante, en lid van eerste applikant, soos hierbo beskryf, druis na my oordeel in teen die heersende waardes en norme van redelike lede van ons gemeenskap. Die finansiele voordeel wat respondente gevolglik bekom het, sou hulle nie toegeval het as dit nie was vir die onregmatige inbreukmaking op die regte van applikante nie. Daar is geen beletsel vir respondente om op gelyke vlak met applikante mee te ding in die mikroleningsbedryf nie, maar behoort hulle, aan die hand van algemeen geldende norme van billikheid en regverdigheid, nie op hierdie onregmatige wyse bevoordeel te word bo applikante nie. Ek kom derhalwe tot die gevolgtrekking dat applikante geregtig is op regshulp ten einde hierdie onregmatige mededinging deur respondente, aan bande te le.
IS APPLIKANTE GEREGTIG OP 'n INTERDIK?
[63] In Valunet Solutions Incorporated v eTel Communications Solutions (Pty) Ltd [2005] ZAGPHC 10; 2005 (3) SA 494 (W) het Van Oosten R hom as volg uitgelaat:
"In the computerised world of today, however, it seems to me that the innovator of a novel concept or idea can only preserve it by jealously guarding it as a secret or secure its protection by patent or otherwise. Once disclosed, its impetus and hopes of remaining unique are shortlived. Experience in this particular field teaches that a novelty of today is merely history tomorrow."
[64] Ek is dit respekvol eens met die geleerde Regter en is n verbiedende interdik, na my mening, die enigste gepaste regsmiddel tot die beskikking van applikante. Dit blyk aan die hand van die getuienis dat die unieke interskakeling van die sagteware komponente van applikante se rekenaarstelsel, nie algemeen bekend of in gebruik is buite die geslote kring van applikante en respondente nie. n Interdik sal dus die doel dien om die vertroulikheid daarvan te beskerm.
[65] Dit is geykte reg dat ten einde n finale interdik te verkry, applikante moet bewys dat hulle 'n gevestigde reg het; dat daar 'n inbreukmaking op hierdie gevestigde reg is, of dat daar redelikerwys verwag word dat daar inbreukmaking sal plaasvind, en dat daar geen alternatiewe remedie vir hulle bestaan nie. (sien Setlogelo v Setlogelo 1914 AA 221 te 227). Daarbenewens het die hof egter steeds 'n diskresie, selfs al voldoen applikante aan die voormelde vereistes, om n interdik toe te staan of te weier.
[66] Die strekking van die bevindings wat ek gemaak het, is dat applikante n gevestigde reg het in die beskerming van die werfkrag van hulle onderneming; dat respondente daarop inbreuk maak en dat geen voldoende alternatiewe remedie beskikbaar is ter beskerming van hierdie reg nie. Ek is verder van oordeel dat aan die hand van die getuienis as n geheel, daar geen geldige rede is waarom ek my diskresie teen applikante moet uitoefen nie. Inteendeel, is ek van oordeel dat, in die lig van my bevindings aan die hand van die boni mores-maatstaf, hierdie n gepaste geval is waar my diskresie ten gunste van applikante uitgeoefen moet word.
[67] Dit is namens respondente betoog dat die interdik soos aangevra deur applikante, sodanig vaag en wyd is dat dit nie prakties toegepas kan word nie. Dit is wel so, soos toegegee deur applikante, dat die regshulp wat gevra word, waarskynlik moeilik afdwingbaar sal wees in die praktyk. Desnieteenstaande, is ek van oordeel dat applikante geregtig is op n interdik, soos aangepas in die bevel wat ek voornemens is om te maak.
[68] Applikante vra vir n ewigdurende interdik. In die lig van my bevinding dat respondente hierdie vertroulike bedryfsinligting van applikante aanwend ten einde vir hulle n springplank-voordeel te bewerkstellig, ontstaan die vraag of so n voordeel nie bloot van beperkte tydsduur sal wees nie. Indien wel, moet oorweeg word of die verbiedende interdik waarop applikante geregtig is, n beperkte tydsduur behoort te he.
[69] In Waste Products Utilisation (Pty) Ltd v Wilkes & Another
2003 (2) SA 515 (W) te 583G, stel Lewis R (soos sy toe was) dit as volg:
"In terms of the springboard doctrine, an interdict against the use of confidential information may be limited by the duration of the advantage obtained, or the time saved, by reason of having had access to the confidential information."
In Van Heerden-Neethling, Unlawful Competition, op cit, bladsy 222/3 word dit as volg gestel:
"...the springboard may be of limited duration because its effectiveness may diminish with the passage of time and ultimately vanishes entirely".
[70] Dit is egter duidelik dat elke saak op sy eie meriete beoordeel moet word. In die Waste Products-saak, supra, het die hof bevind dat as dit nie vir die verkryging van die vertroulike bedryfsinligting was nie, die verweerder nooit in staat sou gewees het om in kompetisie te tree met die eiser nie. Die hof het gevolglik teen die verlening van n interdik van beperkte tydsduur besluit en n ewigdurende interdik toegestaan. In Telefund Raisers CC v Isaacs & Others 1998 (1) SA 521 (K), het Thring R egter in 'n geval waar vertroulike klientelyste bekom is, 'n verbiedende interdik met n tydsduur van 12 maande, toegestaan. Die grondslag waarop dit geskied het, word as volg deur die geleerde regter te 536D-G verduidelik:
"The basis of the springboard doctrine.is that the confidential information in question is usually to be protected only for a limited period, viz for no longer than the time which an independent enquirer would require to gather it for himself. There are nearly four thousand names on the applicant's customer lists...No doubt some of these could quickly be ascertained by a rival from publicly available sources such as telephone directories. It would probably take longer to identify others...it seems to me, in all the circumstances, that a period of 12 months would be necessary and adequate to protect the applicant properly against the abuse by the respondents of the confidential information filched from it, and would, at the same time, not be unduly onerous on the respondents."
[71] Dit is algemeen bekend dat die tegnologie op rekenaargebied voortdurend ontwikkel. In die lig daarvan moet dit, na my mening, aanvaar word dat die spesifieke aanwending en interskakeling van die sagteware van applikante se rekenaarstelsel, nie vir altyd vertroulik sal bly nie. Dit is uiteraard onmoontlik om te voorspel hoe lank die vertroulikheid van die aanwending en interskakeling van die sagteware van applikante se rekenaarstelsel, sal duur. Die getuienis wat aangebied is, is ook nie juis behulpsaam by die beantwoording van hierdie vraag nie. Applikante het aangevoer dat hulle op n ewigdurende interdik geregtig is, terwyl respondente die houding ingeneem het dat geen interdik verleen moet word nie. Wat die getuienis egter wel toon, is dat vir die tydperk van ongeveer 14 maande wat verloop het sedert die installasie van tweede respondent se rekenaarstelsel, tot met die aanbieding van getuienis in hierdie aansoek, die vertroulikheid van hierdie bedryfsinligting behoue gebly het. Anders gestel, daar is nie getuienis wat daarop dui dat dit noodwendig spoedig deur die ontwikkeling van die tegnologie ingehaal gaan word nie.
[72] In hierdie verband is ek verder van oordeel dat by die bepaling van die tydsduur van die interdik, die blatante wyse waarop respondente inbreuk gemaak het op die werfkrag van applikante, ook nie uit die oog verloor moet word nie. Alhoewel die doel van die interdik nie moet wees om eerste respondent en haar alter ego, tweede respondent, te straf nie, moet dit tog, na my mening, die afkeuring van hulle optrede reflekteer. In hierdie verband moet in gedagte gehou word dat eerste respondent vir n teenprestasie van R800 000-00, afstand gedoen het van haar ledebelang in eerste applikant. Hierdie ledebelang het eerste respondent se reg op die vrugte van die werfkrag van die gesamentlike onderneming van eerste en tweede applikante verteenwoordig, maar alhoewel sy hierdie reg "verkoop" het vir R800 000-00, het sy nie gehuiwer om dadelik stappe te neem om inbreuk te maak op die werfkrag van applikante se onderneming nie. In die lig daarvan is ek van oordeel dat by die bepaling van die tydsduur van die interdik, my diskresie ook ten gunste van applikante uitgeoefen moet word.
[73] Ek is na oorweging van oordeel dat aan die hand van al die relevante feite en omstandighede hierbo uiteengesit, applikante geregtig behoort te wees op n verbiedende interdik met n tydsduur van minstens vier jaar.
[74] Uit hoofde van die voorafgaande is applikante die suksesvolle partye in hierdie aansoek. Hulle is dus op hulle regskoste geregtig, insluitende die verspilde koste veroorsaak weens die uitstel van die aansoek op 19 Mei 2008.
BEVEL
[75] Bygevolg word die volgende bevel gemaak:
1. Eerste en tweede respondente word tot 1 Maart 2013, verbied om enige inligting wat betrekking het op, of verband hou met, die aanwending en wyse van interskakeling van die sagteware komponente van die rekenaarstelsel van applikante se gesamentlike onderneming, soos dit tans bedryf word te Hoofweg 67, Kleinmond, Wes-Kaap, vir enige doel te gebruik of aan enige persoon of instansie bekend te maak.
2. Eerste en tweede respondente word tot 1 Maart 2013, verbied om met behulp van, of deur die aanwending van, enige inligting in paragraaf 1 hierbo na verwys, met enige persoon of instansie kontak te maak, met die oog op die bemarking van enige mikroleningsbesigheid soortgelyk aan die mikroleningsbesigheid van die voormelde gesamentlike onderneming van applikante.
3. Eerste en tweede respondente word, gesamentlik en afsonderlik, aanspreeklik verklaar vir die betaling van applikante se gedingskoste, insluitende die verspilde koste veroorsaak weens die uitstel van die aansoek op 19 Mei 2008.
PB Fourie, R