South Africa: North West High Court, Mafikeng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North West High Court, Mafikeng >> 2006 >> [2006] ZANWHC 66

| Noteup | LawCite

Hough N.O and Others v AFGRI Bedryfs Beperk and Others (943/2006) [2006] ZANWHC 66 (2 November 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(BOPHUTHATSWANA PROVINSIALE AFDELING)

SAAKNOMMER: 943/2006


In die saak tussen:


JACOBUS ALBERTUS HOUGH NO 1STE APPLIKANT

ALETHA CATHARINA HOUGH NO 2DE APPLIKANT

JACOBUS ALBERTUS HOUGH 3DE APPLIKANT

ALETHA CATHARINA HOUGH 4DE APPLIKANT


en


AFGRI BEDRYFS BEPERK 1STE RESPONDENT

HERMAN DU PLESSIS 2DE RESPONDENT

ERNST J V PENZHORN 3DE RESPONDENT

MNR R P R ACKERMAN 4DE RESPONDENT

MNR J S TALJAARD 5DE RESPONDENT

MNR A J DU TOIT 6DE RESPONDENT



UITSPRAAK




LANDMAN R


[1] Die applikante, J A Hough NO, A C Hough NO, J A Hough and A C Hough het ʼn aansoek teen Afgri Bedryf Bpk, Mnr Herman du Plessis (die Balju) Mnr Penzhorn (Afgri Bedryf se prokureur) en P R Ackerman, J S Taljaard en A J Du Toit geloods. Die laasgenoemde drie respondente het die applikante se goedere wat op ʼn geregtelike verkoping opgeveil is, gekoop.


[2] By aanhoor van die aansoek om koste het Mnr Goosen, wat namens the eerste 3 respondente verskyn het, aangevoer dat ek ʼn bevel ooreenkomstig ʼn konsepbevel wat hy opgehandig het, moet maak. Die konsepbevel lees soos volg:


“Die Applikante se prokureur van rekord, EAL Muller, word gelas om die koste van die 1ste to 3de Respondente met betrekking tot die opponering van die aansoek, ingeslote die drie aansoeke na verwys in the opponerende beëdigde verklarings, op ʼn bestrede basis de bonis propriis (op ʼn skaal soos tussen prokureur en kliënt) te betaal.”


[3] Die eerste respondent het onder saaknommer 775/2005 vonnis by verstek teen die applikante op 29 September 2005 verkry. Die eerste respondent het voortgegaan met eksekusie-stappe teen die applikante, waarop die Balju vir die distrik Delareyville op 27 Februarie 2006 ʼn nulla bona relaas ten aansien van eerste en tweede applikant uitgereik het, nadat die lasbrief vir eksekusie persoonlik op hul beteken is. ʼn Beslaglegging is dieselfde dag op die derde applikant se roerende goedere uitgevoer in die teenwoordigheid van die derde applikant. Op dieselfde dag het die vierde applikant persoonlik aan die Balju meegedeel dat sy nie enige roerende bates besit nie.


[4] In opdrag van die eerste respondent is ʼn veiling vir 18 Julie 2006 gereël.


[5] Op 14 Julie 2006 beteken die applikante ʼn kennisgewing van mosie op die respondente, wat opgevolg word met twee verdere kennisgewings van mosie. Die aansoeke hou verband met die vonnis wat deur die eerste respondent verkry is. Die applikante loods die huidige aansoek op ʼn dringende basis vir 18 Augustus 2006. Op 18 Augustus 2006, ongeveer 10 minute voor aanvang van die verrigtinge, word ʼn kennisgewing van terugtrekking van die dringende aansoek geliasseer. Die applikante bied die getakseerde koste aan. Die eerste, tweede en derde respondente aanvaar nie die aanbod nie. Zwiegelaar WR het die aspek betreffende koste voorbehou en die aangeleentheid sine die uitgestel.


[6] Die eerste drie respondente lewer daarna die volgende kennisgewing van plasing op die applikante se prokureur van rekord:


NADEMAAL het die 1ste tot 4de Applikant ʼn dringende aansoek teen onder andere die 1ste tot 3de Respondente hierin gebring het.


EN NADEMAAL die 1ste tot 4de Applikante die aansoek teruggetrek het en koste getender het, welke tender nie deur die 1ste tot 4de applikante aanvaar is nie.


GELIEWE KENNIS TE NEEM dat die 1ste tot 3de Respondente hiermee die aansoek terrolle Plaas vir die 26 Oktober 2006 vir ʼn bevel in die volgende terme:


1. Dat die applikante die koste van die dringende aansoek geliasseer onder saaknommer 943/2006 betaal op spesiale skaal;

2. Dat die Applikante die kostes van hierdie aansoek betaal;

3. Verdere en/of alternatiewe regshulp.”


[7] Die eerste drie respondente voer aan dat weens die fataal gebrekkige aansoek; die totale miskenning van die Hof reëls; die roekelose wyse waarop daar met die aansoeke opgetree is; en die flagrante miskenning van toepaslike regsvoorskrifte en beginsels, dit ʼn koste bevel de bonis propriis (op prokureur en kliënt skaal) teen die prokureur van rekord van die applikante regverdig. In die alternatief word aangevoer dat die Hof ʼn gepaste bestraffende kostebevel sal verleen.


[8] Mnr Goosen het tereg my aandag daarop gevestig dat die kennisgewing van plasing het slegs op die huidige aansoek betrekking. Die kennisgewing van plasing stel ook nie die applikante se prokureur in kennis dat die eerste drie respondente van plan is om koste de bonis propriis op ʼn spesiale skaal teen hom te vra nie. Onder die omstandighede kan ek nie aan hulle versoek voldoen nie.


[9] Die omstandighede wat hierbo geskets is tesame met die onbeholpenheid van die aansoek vereis egter dat ʼn spesiale kostebevel teen die applikante toegestaan moet word.


Die volgende bevel word verleen:


1. Die applikante word gelas om die eerste, tweede en derde respondente se koste ten opsigte van die aansoeke wat onder saaknommer 943/2006 geloods is op ʼn prokureur kliënt skaal te betaal gesamentlik en afsonderlik, betaling deur die een die ander kwytgeskeld te word. Die koste sluit in die koste wat op 26 Oktober 2006 aangegaan is.


_______________

A A LANDMAN

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF





VERSKYNINGS:


Vir die Applikante : Geen

Vir die Respondente : Adv H S Goosen



PROKUREURS:


Vir die Applikante : Nico Heath/Eal Muller

Vir die Respondente : Van Rooyen Tlhapi & Wessels



Datum van Aansoek : 26 Oktober 2006

Datum van Uitspraak : 02 November 2006