South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2005 >>
[2005] ZAGPHC 324
| Noteup
| LawCite
Afgri Operations Beperk v Eike Boerdery (Edms) Bpk (28312/02) [2005] ZAGPHC 324 (22 September 2005)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA /ES
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
SAAK NO: 28312/02
DATUM: 22/9/2005
nie rapporteerbaar
IN DIE SAAK TUSSEN
AFGRI OPERATIONS BEPERK EISER
EN
EIKE BOERDERY (EDMS) BPK VERWEERDER
UITSPRAAK
PRINSLOO, R
[1] Die eiser is 'n maatskappy wat bedrywig is in landbou sake. Voorheen was dit die "OTK", wat alombekend is, veral onder die plattelandse boeregemeenskap. In die normale loop van hierdie bedrywighede doen die eiser ook sake as 'n graanhandelaar.
[2] Die verweerdermaatskappy is 'n boerdery wat, onder andere, graan verbou. In hierdie saak was die verweerder behoorlik verteenwoordig deur een van sy lede, mnr Kallie van der Linde ("Van der Linde").
[3] Die kern van die saak, en die aard van die geskil tussen die partye, word saamgevat in paragraaf 3.1 van die besonderhede van eis, welke bewerings van tyd tot tyd gewysig is voordat die saak verhoor is:
"3.1 0p 8 Augustus 2001 het die eiser, verteenwoordig deur ene Posthumus, te Ermelo, en verweerder, verteenwoordig deur ene Van der Linde, te distrik Standerton, 'n mondelinge ooreenkoms gesluit ingevolge waarvan verweerder 1500 ton YM1 geelmielies teen R785,00 per ton aan eiser verkoop het vir lewering nie later as 25 Augustus 2002 nie. Die ooreenkoms soos voormeld was deels skriftelik en deels mondeling. Die skriftelike gedeelte van die ooreenkoms was eiser se standaard Graanaankoopooreenkoms (vorm A) wat deur Van der Linde namens die verweerder onderteken is en telefonies mondeling deur Posthumus namens die eiser aanvaar is. Die skriftelike gedeelte van die ooreenkoms genommer 02B490001 het verlore geraak en is nie meer in besit van die eiser nie. 'n Afskrif van 'n voorbeeld van eiser se gemelde standaard Graanaankoopooreenkoms (vorm A) word hierby aangeheg as aanhangsel A1."
[4] Voor my het mnr De Waal SC namens die eiser verskyn en mnr Rossouw namens die verweerder.
[5] Blykens die getuienis is dit gemene saak dat Van der Linde, namens die verweerder, die betrokke standaard Graanaankoopooreenkoms geteken het maar dat dit in die pos verlore geraak het en nooit deur 'n gemagtigde verteenwoordiger namens die eiser onderteken is nie. Dit is ook gemene saak dat die dokument wat Van der Linde geteken het ooreenstem met die voorskrifte soos vervat in vorm A en ek vind dit gerieflik om die algemene voorwaardes, wat deel uitmaak van die genoemde Graanaankoopooreenkoms, aan te haal:
"4. Algemene voorwaardes
1. Die graan se graad moet aan die gehaltestandaarde voldoen, soos voorgeskryf in die Wet op Landbouprodukstandaarde, no 119 van 1990, besonderhede waarvan op aanvraag by die koper verkrygbaar is. Die voginhoud en persentasie vreemde materiaal sal volgens gemelde graderingsvereistes bepaal word.
2. Die koper kan nie die opbergingsruimte by die gespesifiseerde silo waarborg nie en indien daar by die gemelde silo nie voldoende bergingsruimte beskikbaar is of die koper vir welke ander rede ook al nie in staat is om lewering by die ooreengekome silo te aanvaar nie, die koper geregtig sal wees om 'n alternatiewe silo, synde die naaste silo aan die oorspronklike waar daar wel voldoende bergingsruimte beskikbaar is, aan te wys as plek van lewering met 'n prysaanpassing indien nodig.
3. Die partye kom spesifiek ooreen dat die laaste leweringsdatum wesentlik is en dat enige versuim deur die verkoper in hierdie verband daartoe sal lei dat die ooreenkoms ten opsigte van sodanige gedeelte van die graan wat nie tydig gelewer is nie, onmiddellik sonder enige kennisgewing gekanselleer sal word. Enige wysiging tot hierdie ooreenkoms of afstanddoening van enige regte wat daaruit voortspruit, sal slegs van krag wees indien dit op skrif gestel is en deur beide die partye onderteken is. Enige tegemoetkoming sal nie die regte of verpligtinge van enige van die partye kragtens hierdie ooreenkoms affekteer nie.
4. Die massabepaling sal finaal wees soos per siloskaal op plek van lewering.
5. Die koopprys sal betaalbaar wees binne sewe werksdae na die lewering daarvan. Die verkoper verstaan en aanvaar dat daar ongeag markprysskommelinge geen prysaanpassings sal wees nie.
6. Die verkoper verstaan dat die bepalings in hierdie ooreenkoms vervat die geheel van die ooreenkoms tussen die partye weergee en dat hoegenaamd geen ander bepalings, wat in ander ooreenkomste tussen die partye mag geld of gegeld het hierby geïnkorporeer is nie.
7. Die verkoper erken voorts dat hy bewus is dat hy alle risiko dra ten aansien van die aangekoopte produk totdat dit aan die koper gelewer is.
8. Die verkoper verstaan ook dat die koper 'n graanhandelaar is en besef dat enige versuim aan die verkoper se kant om die aangekoopte produk volledig en tydig te lewer, daartoe kan lei dat die koper skade mag ly en dat die verkoper in so geval teenoor die koper aanspreeklik sal wees vir enige skade wat die koper as gevolg daarvan mag ly.
9. Die verkoper verklaar dat die voorgaande inligting waar en korrek is en magtig die koper of sy agent om dit te kontroleer en alle tersaaklike inligting van enige betrokke (sic) te verkry, ingeslote vertroulike inligting."
(My beklemtoning.)
[6] Dit is gemene saak dat die verweerder nooit die 1500 ton geelmielies waarna in die beweerde kontrak verwys word voor of op 25 Augustus 2002 of hoegenaamd gelewer het nie. Die eiser voer aan dat dit neerkom op kontrakbreuk, welke kontrakbreuk gelei het daartoe dat die eiser skade gely het in die bedrag van R945 000,00. Hierdie bedrag, tesame met rente, word nou van die verweerder gevorder.
[7] Wat die quantum van die eis betref, is dit doenlik om te meld dat die eiser die gebruik het om sy graanaankooptransaksies, waar lewering deur die boer slegs in die toekoms moet geskied, by die SA Termyn Beurs ("SA Futures Exchange"), algemeen bekend as "SAFEX", te "verskans". Die doel hiervan is om die eiser te beskerm teen moontlike negatiewe toekomstige prysskommelinge van mielies of ander graanprodukte.
Die beweerde skade wat die eiser gely het is juis voortspruitend daaruit dat die eiser aanvoer dat hy, weens die verweerder se versuim om die mielies teen Augustus 2002 te lewer, die kontrak wat hy met SAFEX gesluit het moes "afkoop" teen 'n verhoogde mielieprys van R1 510,00 per ton. Die beweerde skadevergoeding is die verskil tussen die oorspronklike prys van R880,00 per ton waarteen die transaksie "verskans" is, en die uiteindelike prys waarteen die transaksie "afgekoop" moes word.
[8] By die aanvang van die verhoor het die partye gesamentlik aansoek gedoen dat die quantum van die eis in terme van die voorskrifte van reël 33(4) geskei moes word vir latere beregting. 'n Konsepbevel, wat ek gemerk het "XYZ", is vir hierdie doel deur die advokate voorberei en die gevolglike bevel "XYZ" wat ek toe gemaak het, lees soos volg:
"Ingevolge reël 33(4) word by ooreenkoms tussen die partye gelas dat:
1. die geskilpunte soos beweer in paragrawe 6 en 7 van die besonderhede van vordering gelees met die ooreenstemmende paragrawe van die verweerskrif naamlik die kwessies of die eiser skade gely het en, indien wel, die omvang daarvan, afsonderlik van die ander geskilpunte uiteengesit in paragrawe 3, 4 en 5 van die besonderhede van vordering en die verweerskrif bereg word;
2. die kwessies of die eiser skade gely het en indien wel, die omvang daarvan, word sine die uitgestel."
[9] Die enigste geskilpunt wat dus oorbly vir beregting in die verrigtinge voor my, is die vraag of daar 'n geldige en afdwingbare ooreenkoms tussen die partye tot stand gekom het soos beweer in paragraaf 3.1 van die eiser se gewysigde besonderhede van vordering of, moontlik, op 'n ander konstruksie wat dalk in die alternatief toegepas kan word ten gunste van die eiser.
KORT SAMEVATTING VAN DIE GETUIENIS
[10] Die eerste getuie namens die eiser was Barend de Klerk wat in die relevante tydperk, naamlik Augustus 2001 tot Augustus 2002, in diens van die eiser was as graanverkrygingsdirekteur van die graan divisie of afdeling.
Volgens die getuie was hy vertroud met die rekenaarstelsels van die eiser en ook die handelswyse ten opsigte van die aankoop van graan en die verskansing van transaksies by SAFEX.
[11] Ek meen nie dit lê op my weg om die SAFEX proses in fyn besonderhede te ontleed nie, maar volgens hierdie getuie kom dit daarop neer dat die eiser die prysrisiko op SAFEX verskans deur aan SAFEX te verkoop ingeval die prys drasties fluktueer voordat die boer lewer.
[12] Ek vind dit gerieflik om aan die hand van hierdie getuie se illustrasie aan te dui wat gebeur nadat die eiser se aankoper navrae by die eiser se makelaar gedoen het ten einde die beoogde transaksie by SAFEX te verskans. Volgens die getuie bel die eiser se aankoper dan die boer, en sê vir hom dat die aanbod aanvaar is (dit is die boer se aanbod om 'n sekere besending mielies op 'n sekere toekomstige datum te lewer) en hierdie bevestiging van die aankoper geskied ook met verwysing na die leweringsdatum, die prys en die silo waar lewering moet geskied. Dan, aldus die getuie, kan die aankoper vir die boer sê "gaan teken by die silo" of "ek faks die kontrak" of "ek kom by jou aan".
Die tersaaklike dokument wat dan geteken moet word, word deur die getuie geïdentifiseer as "A1" wat deel uitmaak van die pleitstukke en waarna verwys word in paragraaf 3.1 van die besonderhede van vordering.
[13] Dit blyk uit die getuienis dat in 0os- Transvaal (om die getuie se geografiese benaming te gebruik) lewering gewoonlik moet geskied tussen Mei en Augustus, vanweë die betrokke plant- en oestye wat eie is aan hierdie streek.
Ander tipiese inligting wat dan in die kontrak wat geteken staan te word te vinde sal wees het te doen met die tipe graan wat gelewer moet word, die graad, die prys per ton, toelaatbare persentasie afwykings ten opsigte van die graad en die massa asook die silo waar lewering moet geskied. Die prys wat op die boer van toepassing is staan bekend as die sogenaamde "boerprys" nadat die vervoer differensiaal asook die eiser se kommissie in berekening gebring is.
[14] Die getuie het bevestig dat die algemene voorwaardes wat op die betrokke kontrak verskyn, en wat ek aangehaal het, ook in Augustus 2001 gegeld het. Hierdie feit was nooit in geskil tussen die partye nie.
[15] Die getuie was nooit betrokke by die aangaan van die transaksie met die verweerder nie, maar, tydens sy dienstermyn by die eiser, is dit onder sy aandag gebring dat die betrokke kontrak weggeraak het.
[16] Myns insiens blyk dit onteenseglik uit die getuienis van hierdie getuie, asook uit dié van die ander twee getuies wat die eiser geroep het, dat 'n uiterste poging aangewend is om Van der Linde so ver te kry om 'n ander kontrak te teken ter vervanging van die kontrak wat soek was.
Dit blyk verder dat die reëlings om Van der Linde te laat teken nie wou vlot nie, met die gevolg dat daar toe, op hierdie getuie se inisiatief, 'n skrywe aan Van der Linde gerig is deur die eiser. Dit is gedateer 9 Januarie 2002, en die skrywer was mnr Jan Posthumus, die betrokke graanbemarker wat ook later getuig het. Dit was bewysstuk "A20" voor my en die tersaaklike gedeelte lees soos volg:
"Geagte meneer
INSAKE SAFEX TRANSAKSIES
Hiermee bevestig ons die volgende SAFEX transaksies wat met u gesluit is:
Kontrak nr: Tonne maat: Produk: Prys: Leweringstydperk
02B490001 1500.0000 ton Geelmielies R785,00
Geelmielies R755,00 15.5.2002-25.8.2002
02D820001 300.0000 ton Geelmielies R820,00
Geelmielies R790,00 1.5.2002-25.8.2002
02D830001 200.0000 ton Geelmielies R750,00
Geelmielies R720,00 1.5.2002-25.8.2002
02F970001 500.0000 ton Graansorghum R790,00 1.5.2002-25.8.2002
Indien u enige navrae het oor bogemelde inligting is u welkom om Jan Posthumus by 017 624 1202 of (S) 082 496 0979 te skakel.
Vriendelike groete
nms.
JAN POSTHUMUS
Graanbemarker"
[17] Enkele dae later skryf Van der Linde soos volg in antwoord op die genoemde brief:
"Aandag: 1) Jan Posthumus
2) I Linde
Insake skrywe 'SAFEX TRANSAKSIES'
Bevestiging van kontrakte is ontvang vanaf I Linde, hoofverkrygings-administrasie, insake kontraknommers:
1) 02D820001, gedateer 2 November 2001, 300 ton ym1
2) 02F970001, gedateer 1 November 2001, 500 ton gm1
3) 02D830001, gedateer 31 0ktober 2001, 200 ton ym1.
Ek het geen rekord van bevestiging tov kontrak 02B49001 soos deur u gelys nie.
Verder wys ek u op voorblad nuus van Beeld van Donderdag 10 Januarie 2002. Die hoofopskrif lui ''n 0es verwoes' en hael so groot soos duifeiers vernietig 'n dorp. Die artikel deur Sarie van Niekerk lui verder 'duisende hektaar mielies is deur hael vernietig'.
My lande is in die strook waar die hael deur is. Van die lande is totaal weggeslaan en honderde hektaar van my oes is vernietig. Dit spyt my om u mee te deel dat so 'handeling van God' buite my beheer is en ek op geen manier hierdie skade sal kan dra nie. Ek maak gevolglik van u uitnodiging soos vervat in u briewe gedateer 1 Nov 2001 gebruik.
0m die saak te vererger is van die ureum wat ek moes aankoop teen amper dubbel die prys aan my gelewer omrede die kunsmis maatskappy glo teen die swak Rand roumateriale invoer.
Plaas asseblief my naam op u ramplys en deponeer alle donasies in my rekening Standard Bank, Standerton, rekeningnommer 030977207.
Vriendelike groete
CD van der Linde
18 Januarie 2001" (die datum is foutief en behoort "2002" te lees)
Hierdie skrywe is bewysstuk "A21".
[18] Die "uitnodiging soos vervat in u briewe gedateer 1 November 2001" waarna die verweerder verwys, slaan op die dekbriewe wat die eiser se hoofkantoor aan die verweerder gerig het nadat die ander drie kontrakte waarna in "A20" verwys word, behoorlik deur die gemagtigde amptenare by die eiser se hoofkantoor nagegaan en onderteken is en die getekende kontrak in elke geval onder dekking van so 'n brief aan die verweerder gepos is. Die drie briewe is gedateer 31 0ktober 2001, 1 November 2001 en 2 November 2001 onderskeidelik.
Een van hierdie drie kontrakte bevat 'n sogenaamde "Force Majeure" klousule en die ander twee bevat nie so 'n klousule nie. Dit is gemene saak dat die kontrak wat die onderwerp uitmaak van hierdie saak ook nie 'n "Force Majeure" klousule sou bevat het nie. Dit is doenlik om 'n uittreksel uit die tipiese dekbrief aan te haal:
"Geagte Meneer
KONTRAKNOMMER: 02F970001
Hierby aangeheg 'n afskrif van gemelde kontrak.
0ns bevestig dat hierdie kontrak geen Force Majeur klousule bevat nie en indien u probleme ondervind om die kontrak in sy geheel na te kom, is u welkom om met u graanbemarker daaromtrent te skakel.
Dankie vir u ondersteuning en voorspoed word u met die bemarkingseisoen toegewens.
Vriendelike groete
I LINDE
HOOF: VERKRYGINGSADMINISTRASIE"
[19] Die volgende is gemene saak wat hierdie ander drie kontrakte betref, besonderhede waarvan reeds verskyn in die aanhaling van "A20":
1. Van der Linde het al drie namens die verweerder onderteken;
2. 'n behoorlik gemagtigde beampte by die eiser se hoofkantoor het al drie namens die eiser onderteken, nadat die besonderhede by die hoofkantoor nagegaan en geboekstaaf is;
3. nie een van hierdie drie kontrakte het uit die aard van die saak weggeraak nie;
4. die verweerder het behoorlik presteer ten aansien van al drie hierdie kontrakte.
Dit blyk dat al drie die kontrakte op of ongeveer 23 0ktober 2001 deur die betrokke hoofkantoor beampte van die eiser geteken is en, soos ek reeds gesê het, vroeg in November aan die verweerder gepos is.
[20] Wat betref hierdie kontrakte wat behoorlik uitgevoer is, asook die verweerder se ontkenning van die bestaan van 'n bindende kontrak ten aansien van die vierde transaksie, pleit die verweerder soos volg:
"3.3 Meer in besonder pleit verweerder:
3.3.1 Eiser, as graanhandelaar, het, onder andere by monde van 'n sekere dr Kottel, te alle tye daarop aanspraak gemaak dat graankoopooreenkomste deur eiser gesluit, slegs geldig en afdwingbaar sou wees, indien dit op skrif gestel is, en onderteken is deur beide die verkoper en die koper.
3.3.2 Gedurende 2001 het daar ten opsigte van mielies twee skriftelike graankoopooreenkomste tussen die partye tot stand gekom, wat deur beide partye onderteken is, en afskrifte waarvan hierby aangeheg word as onderskeidelik aanhangsels 'A' en 'B'.
3.3.3 Verweerder het behoorlik ingevolge die ooreenkomste vervat in 'A' en 'B', die voorgeskrewe hoeveelhede mielies daar vermeld aan eiser gelewer.
3.3.4 Buiten die graankoopooreenkomste vervat in aanhangsels 'A' en 'B', het daar ten aansien van mielies geen verdere graanaankoopooreenkomste tussen die partye gedurende 2001 tot stand gekom nie."
Hierdie aanhangsels is die twee mielie kontrakte wat, saam met die sorghum kontrak, deel is van die transaksies waarna ek verwys het.
[21] Die getuies van die eiser is tydens kruisondervraging gekonfronteer met hierdie beweerde uitlatings van dr Kottel namens die eiser, maar die getuies kon nie gesaghebbend daarop kommentaar lewer nie.
In 'n versoek vir besonderhede vir doeleindes van verhoor vra die eiser die volgende vraag:
"1.3 Het enige ander persoon behalwe die gemelde dr Kottel ooit sodanige aanspraak gemaak namens eiser? Indien wel, word die identiteit van iedere persoon wat aldus aanspraak gemaak het namens die eiser verlang, met vermelding van die plek waar, die datum wanneer en die wyse waarop sodanige aanspraak gemaak is."
Die verweerder se skriftelike antwoord lees soos volg:
"1.3 Ja. Kobus Swart, silo bestuurder van eiser, te Standerton, by verskeie geleenthede gedurende 2001."
Mnr Swart het ook namens die eiser getuig, en, reeds in sy hoofgetuienis, is hy deur die eiser se advokaat gekonfronteer met die bewering wat in die verweerder se pleitstukke verskyn, soos ek dit aangehaal het. Ek reproduseer my notas ten opsigte van hierdie stukkie getuienis na die beste van my vermoë:
"V: Die verweerder sê u het op verskeie geleenthede in 2001 teenoor Van der Linde aangedui [dat] die kontrak van OTK geen regskrag het totdat dit deur beide partye geteken is nie?
A: [Daar is op] een geleentheid daaroor gepraat, ek weet nie wie dit opgebring het nie. Ek kan nie dink dit is ek wat dit opgebring het nie. Ek weet die reëls is daar maar dit is nie my werk nie."
Ek sal aanstons verder verwys na mnr Swart se getuienis.
[22] Dit bring my terug by die getuienis van mnr De Klerk. Toe die briefwisseling soos vervat in "A20" en "A21" nie die gewenste uitwerking oplewer om 'n nuwe kontrak deur Van der Linde onderteken te kry nie, het hierdie getuie 'n vergadering belê tussen hom en Van der Linde en Posthumus. Dit het op 28 Januarie 2002 plaasgevind. By die vergadering kon De Klerk en Posthumus nie vir Van der Linde oorreed om 'n nuwe kontrak te teken nie. 'n Inskrywing wat De Klerk tydens die geleentheid in 'n notaboek gemaak het (bewysstuk "A34") lees soos volg:
"Beweer kontrak is nie bevestig nie, sal hom nie lewer nie. – Kan nie onthou dat kontrak geteken is nie.
Wil nie lewer nie, OTK het hom op inmeng-kontrak gebreek."
[23] Dit is gemene saak dat Van der Linde nooit ontken het dat hy die eerste kontrak wat verlore gegaan het, geteken het nie. Dit is myns insiens ook doenlik om te verwys na die verweerder se versoek om besonderhede vir verhoor waar hy hom toespits op die gewraakte bewerings in paragraaf 3.1 van die besonderhede van vordering wat ek aangehaal het:
"1.3 Het eiser op enige stadium gepoog om die mondelinge ooreenkoms wat in hierdie paragraaf vermeld was, op skrif te stel? Indien wel, wanneer en waar?"
Hierop antwoord die eiser soos volg:
"1.3 Ja. Die verweerder word verwys na eiser se meegaande kennisgewing van wysiging en die besonderhede vervat in eiser se voorgenome wysiging van paragraaf 3.1 van sy besonderhede van vordering. Die skriftelike aanbod wat deur die verweerder onderteken is, het verlore geraak. 0p 28 Januarie 2002 te Bethal het eiser, verteenwoordig deur mnre Jan Posthumus en Barnie de Klerk, en die verweerder, verteenwoordig deur mnr Van der Linde, 'n vergadering gehou waarop die eiser die verweerder uitgenooi het om 'n nuwe kontrak ter bevestiging van die ooreenkoms te onderteken saam met die eiser wat die verweerder geweier en/of versuim het om te doen."
(My onderstreping.)
In sy latere betoog het mnr Rossouw, namens die verweerder, my daaraan herinner dat die eiser self in hierdie pleitstuk na die dokument wat Van der Linde geteken het, verwys as 'n "aanbod".
[24] Nietemin het mnr De Klerk in die loop van sy getuienis die mening uitgespreek dat daar wel 'n ooreenkoms tot stand gekom het tussen die partye. In hierdie verband het die getuie ook heelwat uitgewei oor die kontraknommer wat uiteindelik deur die hoofkantoor toegeken word. Hy het egter, selfs in sy hoofgetuienis, op 'n stadium toegegee dat die aankoper so 'n nommer kan bekom selfs voordat 'n transaksie beklink is.
Wat ek ook insiggewend gevind het is die getuienis van mnr De Klerk dat OTK nou 'n stelsel het waarmee telefoonoproepe wat te doen het met hierdie tipe transaksies op band geneem word. Blykbaar is die doel om latere misverstande uit die weg te ruim. 0p die relevante stadium was daar nie so 'n stelsel in plek nie. Dit blyk ook uit die bewysstukke dat die hoofkantoor onomwonde geboekstaaf het dat die betrokke kontrak nooit ontvang is nie en dit moes toe uit die stelsel verwyder word. Nieteenstaande sy mening dat daar 'n kontrak tussen die partye tot stand gekom het, het die getuie dit onomwonde gestel dat die eiser dit vereis dat enige mondelinge ooreenkoms op skrif gestel moet wees. Hy het die stelsel bevestig, wat ek vroeër met verwysing na die drie ander transaksies wat beklink en deurgevoer is uiteengesit het, naamlik dat die kontrakte by hoofkantoor onderteken word en afskrifte dan onder dekking van 'n brief aan die boer gestuur word.
[25] In kruisondervraging van hierdie getuie het die verweerder se advokaat hom gevra of dit sy getuienis is dat waar 'n boer bv mondelings aanbied om 'n paar miljoen rand se mielies die volgende jaar te lewer, en die aankoper bevestig dat dit in orde is, dit sonder meer 'n bindende kontrak daarstel sonder dat verdere papierwerk benodig word. Ek het die indruk gekry dat die getuie aanvanklik ontwykend op hierdie vraag geantwoord het maar toe dit herhaal word (met 'n hipotetiese R10 miljoen se mielies as 'n voorbeeld) het die getuie die volgende gesê:
"As Posthumus sê dit is 'n 'deal', dan is dit 'n 'deal'."
0p 'n vraag hoekom die kontrak dan hoegenaamd na hoofkantoor gestuur moet word was die antwoord dat dit 'n administratiewe prosedure is.
[26] Myns insiens insiggewend, het die verweerder se advokaat hierdie getuie toe gekonfronteer met die eiser se bewering in paragraaf 3.1 van die besonderhede van vordering (supra), naamlik dat dit die eiser se saak is dat die beweerde skriftelike deel van die kontrak mondeling deur mnr Posthumus aanvaar is, en die getuie is gevra of hy so iets kon bevestig. Nadat hierdie vraag ook herhaal moes word, het die getuie gesê dat hy nie daarvan kennis dra nie. Sy verdere kommentaar hierop het ek soos volg aangeteken:
"Wat my betref kon Jan Posthumus dit nooit aanvaar nie want ons het dit nooit gehad nie. Ek is nie bewus daarvan nie, anders het ons die kontrak gehad."
Soos ek reeds gesê het, is dit ook gemene saak dat hierdie getuie nie teenwoordig was of persoonlik kennis gedra het van die gesprek tussen Posthumus en Van der Linde nie. Hy het ook nie die skriftelike dokument wat Van der Linde geteken het onder oë gehad nie. Benewens die opinie wat hy gehuldig het, kon hy hom nie uitspreek oor die vraag of daar wel 'n kontrak tot stand gekom het nie. Hy het selfs sover gegaan om te sê dat die eiser, onder uiterste omstandighede, sal kan weier om die kontrak te beklink selfs nadat die boer dit onderteken het. Dit kan wees dat hy later hierdie getuienis self probeer afwater het.
[27] Waar ek my op my notas van die getuienis en kruisondervraging moet verlaat, meen ek tog dat die volgende uittreksels uit die getuienis (soos ek dit aangeteken het) insiggewend is:
"V: Gee u toe dit moet na hoofkantoor gaan, dit is 'n aanbod wat OTK moet aanvaar?
A: Nee. As die boer vir my 'n mandaat gee om sy graan te onderhandel en hy teken by die silo dan is dit 'n aanbod wat ek moet aanvaar of uitvoer."
En:
"... ek gaan na SAFEX. Ek gaan terug en sê 'dit is 'n "deal"'. Dan is dit 'n mondelingse ooreenkoms, dan doen ons 'n skriftelike ooreenkoms."
En:
"Ek maak 'n skriftelike aanbod aan hom. As albei geteken het, vervang die skriftelike ooreenkoms die mondelinge ooreenkoms."
Ek het die indruk gekry dat hierdie getuie se mening dat die aanvanklike mondelinge gesprek reeds 'n bindende kontrak daarstel, geskoei is op die feit dat die eiser reeds op daardie stadium die toekomstige lewering van die mielies by SAFEX verskans ten einde die eiser te beskerm teen prysskommelinge. Gevolglik word die boer dadelik gebind om later te lewer, want as hy dit nie doen nie, moet die eiser dalk die kontrak in die toekoms by SAFEX "afkoop" teen 'n hoër prys met gevolglike skade vir die eiser.
In sy betoog hierop, het mnr Rossouw aan die hand gedoen dat die besluit om die transaksie te verskans bloot 'n besigheidsbesluit van die eiser is, en dat die produsent nie daardeur gebind is in die sin dat hierdie besigheidsbesluit sonder meer die effek het dat 'n bindende kontrak reeds op die vroeë stadium tot stand kom nie. Soos ek die betoog verstaan het, word die kontemplasie tussen die partye van moontlike skade van hierdie aard wat die eiser mag ly as die boer nie sou lewer nie, eers deel van die kontrak wanneer die partye beide die skriftelike dokument onderteken het, aangesien 'n gelykluidende bepaling deel uitmaak van die algemene voorwaardes.
[28] In kruisondervraging is dit ook aan die getuie gestel dat as 'n boer 'n party moet wees tot 'n kontrak waarkragtens hy in Julie of Augustus moet lewer dan moet die kontrak reeds teen einde November gefinaliseer wees sodat hy betyds kan plant en die nodige reëlings kan tref. Myns insiens het die getuie aanvanklik ontwykend hierop probeer antwoord maar later het hy die betrokke toegewing gemaak. Hy het ook toegegee dat die eiser moet poog om die kontrak so gou as moontlik by die boer terug te kry. Die getuie is ook daarop gewys dat die eiser in elk van die ander drie gevalle betyds die skriftelike bevestiging (behoorlik onderteken) aan die verweerder gestuur het en die getuie is gevra waarom daar nie minstens iets op skrif gestel is deur die eiser as laasgenoemde van oordeel was dat die mondelinge gesprek ten opsigte van die onderhawige transaksie 'n bindende kontrak daargestel het nie. Die enigste rede wat die getuie kon aanvoer is die verdwyning van die kontrak in die pos. Die getuie is ook gevra waarom daar gewag is tot 9 Januarie (bewysstuk "A20") voordat die beweerde kontrak skriftelik bevestig is. Hierop het die getuie erken dat hy voor 9 Januarie geweet het dat die kontrak soek is en "gewoonlik sê ons vir die boer daar is 'n fout, teken weer". Hy sê dit is slegs nodig "vir beter bewys". Die getuie het in elk geval toegegee dat die eiser altyd daarop aangedring het dat daar 'n skriftelike kontrak geteken moet word en dat die amptenare by hoofkantoor namens die eiser geteken het. Hy het ook toegegee dat indien die boer bv sou weier om te teken, nieteenstaande 'n mondelinge reëling, die eiser huiwerig sou wees om met die boer besigheid te doen.
Soos ek die getuie verstaan het, het hy toegegee dat die partye as 'n reël ooreenkom dat daar 'n skriftelike kontrak geteken moet word. Hy is ook gekonfronteer met die bewoording van algemene voorwaarde 6 wat soos volg lees:
"Die verkoper verstaan dat die bepalings in hierdie ooreenkoms vervat die geheel van die ooreenkoms tussen die partye weergee en dat hoegenaamd geen ander bepalings, wat in ander ooreenkomste tussen die partye mag geld of gegeld het hierby geïnkorporeer is nie."
Daar is ook 'n bepaling in algemene voorwaarde 3 tot die effek dat:
"Enige wysiging tot hierdie ooreenkoms of afstanddoening van enige regte wat daaruit voortspruit, sal slegs van krag wees indien dit op skrif gestel is deur beide die partye en deur beide die partye onderteken is. Enige tegemoetkoming sal nie die regte of verpligtinge van enige van die partye kragtens hierdie ooreenkoms affekteer nie."
Die getuie se houding was dat die eiser bloot die geskrewe kontrak wil hê om latere geskille te vermy. Myns insiens is dit insiggewend dat die getuie uit eie beweging getuig het dat die stelsel nou deur die eiser verander is, sodat 'n rekenaar die kontrak uitdruk vir onmiddellike ondertekening.
[29] Wat "A20" betref, wat eers op 9 Januarie 2002 geskryf is op hierdie getuie se inisiatief, sê die getuie dat toe sy kollegas hom meedeel dat daar nou 'n probleem skyn te wees om Van der Linde so ver te kry om 'n ander kontrak te teken, het hy wat die getuie is gesê "manne dit is mos so maklik soos val uit 'n boom uit" en toe gelas dat "A20" geskryf word as 'n poging om die probleem op te los. Die getuie het toegegee dat "A20" heeltemal te laat sou wees om die boer in staat te stel om nog betyds te plant om in Julie of Augustus te kan lewer. Daar is ook nooit verduidelik waarom "A20" al vier die transaksies onder dieselfde kam skeer nie en bv geen melding maak van die feit dat hierdie betrokke kontrak in die pos verlore geraak het nie. Trouens, dit is vir my onverstaanbaar waarom daar hoegenaamd melding gemaak is in "A20" van die ander drie transaksies, die skriftelike ondertekening en bevestiging waarvan reeds in 0ktober en November geskied het, soos ek geïllustreer het.
[30] Daar is ook namens die verweerder aan die getuie gestel dat die silo bestuurder, Swart, ook by geleentheid aan Van der Linde gesê het dat die kontrak skriftelik moet wees en deur beide partye onderteken moet word ten einde bindend te wees. Volgens my notas het die getuie nie hierop kommentaar gelewer nie. In die algemeen het ek hierdie getuie breedsprakig, en by tye ook ontwykend, gevind.
[31] Die volgende getuie was Jan Posthumus. Hy is 'n graan aankoper in diens van die eiser en het die betrokke transaksies namens die eiser met Van der Linde beding. Hy het ook kontemporêre notas van die besonderhede van die transaksies gemaak en dit is ingedien, onder andere as bewysstukke "A26" en "A27".
[32] Hy is deur Van der Linde gekontak om die beoogde transaksie van stapel te stuur, het die prys met die makelaar uitgeklaar en ook vir Van der Linde gevra om na die silo te gaan en van daar af met hom wat die getuie is telefonies in verbinding te tree.
[33] Nadat die getuie die besonderhede met die makelaar uitgeklaar het (en blykbaar ook die verskansing by SAFEX van stapel gestuur het) het hy die silo bestuurder (die latere getuie Jacobus Nico Swart) geskakel en gesê dat hy kan voortgaan om die kontrak deur Van der Linde te laat teken. Wat hy daarby bedoel is dat die silo bestuurder die kontrakbesonderhede (wat die getuie aan hom verskaf het) op die gedrukte vorm moet invul.
[34] Dit is miskien doenlik om daarop te wys dat mnr Rossouw namens die verweerder by verskeie geleenthede (ook toe die vorige getuie, De Klerk, getuig het) op rekord geplaas het dat hy beswaar maak teen enige getuienis wat moontlik neerkom op 'n poging om 'n kontrak te bewys wat nie ooreenstem met wat gepleit is in paragraaf 3.1 van die besonderhede van vordering nie.
[35] In sy hoofgetuienis is die hipotese aan Posthumus gestel dat Van der Linde kon weier om die skriftelike dokument te teken nadat die beweerde mondelinge ooreenkoms aangegaan is. Die getuie se reaksie was dat daar nietemin reeds "'n verbintenis" aangegaan is met SAFEX, sodat die eiser daardeur verbind is en as die boer sou weier om te teken sal Posthumus sy senior kontak, die situasie skets en dan kan die kontrak teruggekoop word by SAFEX en die boer aangespreek word vir enige verlies. Soos die vorige getuie, het die getuie Posthumus aan die hand gedoen dat die skriftelike kontrak eintlik net nodig is vir rekord doeleindes, sekuriteits doeleindes en oudit doeleindes.
[36] Mnr Posthumus het ook getuig oor die feit dat die kontrak verlore geraak het en dat pogings aangewend is om Van der Linde te beweeg om weer 'n kontrak te teken. Hy het gesê dat as aankoper sien hy nooit die finale kontrak nie en dit word ook nie deur hoofkantoor aan die aankopers gestuur nie. Hy het bevestig dat hy die ander drie transaksies ook met Van der Linde beklink het.
[37] Mnr Posthumus het ook getuig oor die vergadering van 28 Januarie 2002 wat op De Klerk se aandrang gereël is. Hy het bevestig dat Van der Linde gesê het dat hy eers die kontrak onder oë wil hê en dat die getuie moet poog om dit in die hande te kry of op te spoor. Hy het gesê hy wil sy afskrif van die kontrak bekom en sien wat daarin staan. Hierdie mededeling is ook vervat in die getuie se kontemporêre nota "A33".
In 'n e pos wat Posthumus op 16 Julie 2002 aan De Klerk gestuur het, sê hy onder andere die volgende oor hierdie saak:
"Sy brief waar hy meld dat hy nie 'n afskrif van 03B49 ontvang nie was gedateer 18 Januarie 2002. Kallie besoek ons op 28 Januarie 2002 – hy vra dat ons die kontrak soek en hom met 'n afskrif voorsien. Hy erken dat hy wel die kontrak aangegaan en by die silo geteken het, hy wil egter sien wat op die kontrak staan. 0p 5 Februarie 2002 het ek Kallie geskakel, hy het weer herhaal dat hy eers die kontrak wil sien. 0p 26 Junie 2002 het ek 'n minimum prys kontrak van Eike geprys, Kallie het aan my gesê dat hy nie 02B49 gaan lewer nie."
Die e pos is bewysstuk "A25".
Die getuie het ook gesê dat as daar probleme is met die leweringsdatum kan die partye dit by ooreenkoms verleng.
[38] In kruisondervraging het die getuie toegegee dat dit 'n vereiste van die eiser was dat daar 'n skriftelike kontrak moet wees en dat dit geteken moet wees. Hy het die standaard prosedure bevestig dat iemand by die hoofkantoor namens die eiser sou teken en 'n afskrif aan die boer sou stuur. Die boer het geweet dat dit die standaard prosedure is. Die getuie het Van der Linde eers aan die einde van November gevra om weer 'n kontrak te gaan teken. Die getuie het ook bevestig dat Januarie te laat sou wees om 'n kontrak te bekragtig of te beklink aangesien die oes dan nie teen Julie of Augustus gelewer sou kon word nie.
[39] Myns insiens is dit insiggewend dat toe die getuie gekonfronteer is met die eiser se weergawe dat hy wat Posthumus is die mondelinge gedeelte van die beweerde kontrak namens die eiser aanvaar het, hy dit uitdruklik ontken het.
[40] Die getuie het ook beaam dat, as die kontrak nie verlore geraak het nie, die transaksie dieselfde pad sou geloop het as die ander drie waarvan melding gemaak is, naamlik dit sou skriftelik bevestig word nadat dit deur die eiser onderteken is.
[41] Die laaste getuie namens die eiser was Jacobus Nico Swart, silo bestuurder in diens van die eiser te Standerton. Hy ken Van der Linde. Hy is in beheer van die graan silo's in Standerton, en hy kry nie persoonlik kommissie op enige transaksie nie.
[42] Mnr Swart onthou die gebeurtenis van 8 Augustus 2001. Van der Linde het daardie dag 'n dokument in sy teenwoordigheid geteken. Dit stem ooreen met die voorbeeld "A1" en "A2" wat by die besonderhede van eis aangeheg is.
[43] Wat die gebeure van 8 Augustus 2001 betref, sê die getuie dat Van der Linde hom by die silo besoek het, dat hulle saam na die graanpryse op die rekenaarstelsel gekyk het en dat die getuie toe vir Posthumus geskakel het. Beide die getuie en Van der Linde het met Posthumus oor die telefoon gepraat, en die getuie het die laaste woord met Posthumus gehad. Dit was om die prys te bevestig sodat die getuie die gedrukte kontrak vorm kon voltooi. Dit is gedoen. Van der Linde het geteken, en mnr Swart het ook as getuie geteken. Sy handtekening verskyn ook as getuie op die ander drie transaksies se kontraksdokumente.
[44] Nadat die getuie 'n kontraknommer by hoofkantoor gekry het, het hy die dokumentasie voltooi en in 'n interne poskoevert na die hoofkantoor op Bethal versend. Die dokument het verlore geraak. Na die ondertekening was Van der Linde per geleentheid by die silo en het hy en Van der Linde oor die kontrak gepraat.
[45] Ek het reeds in besonderhede verwys na die stelling wat gedurende sy hoofgetuienis aan die getuie gemaak is ten opsigte van die verweerder se saak dat die getuie op verskeie geleenthede in 2001 vir Van der Linde gesê het dat die kontrak net geldig is as dit deur beide partye geteken is. Ek het die getuienis op sterkte van my notas weergegee. Myns insiens kan dit nie gesê word dat hierdie getuie Van der Linde se weergawe hieroor in geskil geplaas het nie.
[46] By 'n latere en verdere gesprek het die getuie ook een van die blanko gedrukte kontrak vorms aan Van der Linde oorhandig en gesê Van der Linde kan self na die algemene voorwaardes kyk want hy wat die getuie is weet nie eintlik wat dit behels nie.
[47] In kruisondervraging het die getuie verduidelik hoe hy die vorm ingevul het. Hy het uitdruklik gesê dat die opstel van die kontrak nie sy hoof funksie is nie. Hy het ook nie die algemene voorwaardes met Van der Linde bespreek nie. Hy dink dit word op skrif gestel ten einde dit waarop ooreengekom is skriftelik te bevestig. Hy sou nooit vir 'n boer sê dat dit nie nodig is om die vorm te voltooi en te teken nie.
[48] Die getuie sê dat hy net as getuie kan teken en nie namens die eiser as koper nie. Sy magtiging is slegs om as getuie te teken. Hy weet nie of Posthumus en De Klerk namens die eiser as koper kan teken nie. Die kontrakte word hoofsaaklik by hoofkantoor afgehandel. Die finale afhandeling berus nie by hom nie. Hy het herhaal dat die standaard- of algemene voorwaardes nie met Van der Linde bespreek is nie. Hy gee ook toe dat die dokument self meer bepalings bevat as dit wat telefonies bespreek is en moontlik op ooreengekom is. Hy kan nie die latere verwikkelinge onthou met betrekking tot pogings om Van der Linde so ver te kry om weer 'n kontrak te teken nie. Die laaste van sy betrokkenheid was toe hy die blanko vorm vir Van der Linde gegee het.
[49] Nadat die eiser sy saak gesluit het, het die verweerder dieselfde gedoen.
[50] Vroeg in sy baie volledige betoog het mnr De Waal die korrekte toegewing gemaak dat die eiser die onus dra om die totstandkoming van enige ooreenkoms en die terme daarvan te bewys. Die werklike geskilpunt tussen die partye het betrekking op die totstandkoming van 'n ooreenkoms, of gebrek daaraan, en 'n element van hierdie geskilpunt slaan myns insiens op die uitleg van die inhoud van paragraaf 3.1 van die besonderhede van vordering en die vraag of die beweerde ooreenkoms soos hier gepleit bewys is al dan nie. Tereg het mnr De Waal my verwys na bekende beslissings soos Kriegler v Minitzer and Another 1949 4 SA 821 (A) 827; en ander sake soos Stocks & Stocks (Pty) Ltd v T J Daly & Sons (Pty) Ltd 1979 3 SA 754 (A) 762 en Da Silva v Janowski 1982 3 SA 205 (A) 219.
[51] In sy betoog op hierdie punt het mnr Rossouw ook aan die hand gedoen dat die enigste geskilpunt vir beslissing is of daar 'n geldige en afdwingbare ooreenkoms tussen die partye tot stand gekom het soos beweer.
Vir die betaling van die eisbedrag, so lui die betoog, steun die eiser in paragraaf 3.1 van sy gewysigde besonderhede van vordering op 'n mondelinge ooreenkoms, welke ooreenkoms later in die paragraaf gekwalifiseer word as synde deels skriftelik en deels mondeling te gewees het. Die skriftelike gedeelte van die beweerde ooreenkoms bestaan uit die eiser se standaard ooreenkoms wat deur die verweerder onderteken is en welke ooreenkoms die eiser op dieselfde dag telefonies mondeling aanvaar het, in die persoon van mnr Posthumus.
Mnr Rossouw het ook daarop gewys, soos ek vroeër in die uitspraak uiteengesit het, dat die eiser in sy nadere besonderhede na die dokument wat die verweerder onderteken het verwys as die "skriftelike aanbod".
Die verweerder se verweer is dat die beweerde ooreenkoms nooit tot stand gekom het nie, of, anders gestel, dat daar geen geldige en afdwingbare ooreenkoms tussen die partye ten aansien van die 1500 ton mielies tot stand gekom het nie. In aansluiting hierby voer die verweerder aan dat enige sogenaamde graankoopooreenkoms wat die eiser sluit, slegs geldig en afdwingbaar sou wees indien dit op skrif gestel sou word en deur beide partye onderteken is.
By die aanvang van die verhoor, en ook by meer as een geleentheid tydens die verhoor, het die verweerder dit duidelik op rekord geplaas dat hy beswaar aanteken teen die aanbied van getuienis wat ten doel het om 'n ander ooreenkoms te bewys, behalwe die ooreenkoms wat gepleit is. Geen poging is aangewend om die besonderhede van eis verder te wysig nie.
Soos ek reeds aangedui het, het beide die getuies De Klerk en Posthumus onomwonde getuig dat daar nie sprake was van 'n telefoniese mondelinge aanvaarding deur Posthumus van die skriftelike "aanbod" wat Van der Linde namens die verweerder geteken het nie. Soos ek probeer aantoon het, het van die eiser se getuies tydens die verhoor ook na hierdie dokument as 'n "aanbod" verwys.
Gevolglik, so lui die verweerder se betoog, het die eiser nie daarin geslaag om die ooreenkoms wat hy gepleit het te bewys nie. Na my mening is hierdie submissie korrek.
[52] Moontlik in 'n poging om hierdie, myns insiens wesenlike, gebrek in die eiser se saak die hoof te bied, maak mnr De Waal die volgende submissie in sy baie volledige betoogshoofde:
"Daar word verder respekvol verwys na die inhoud van paragraaf 1.3 van die verweerder se versoek om nadere besonderhede en die antwoord daarop. Hierdie versoek is geformuleer voor die wysiging van paragraaf 3 van die besonderhede van vordering. Die eiser se saak was aanvanklik slegs baseer op 'n mondelinge ooreenkoms. Dit word submitteer dat dit gevolglik duidelik is presies wat die eiser se saak is naamlik dat daar 'n mondelinge ooreenkoms gesluit is wat ook op skrif gestel is. 0fskoon dit die eiser se saak is dat slegs een ooreenkoms gesluit is wat deels mondeling en deels skriftelik was (met duidelike oorvleueling) word respekvol submitteer dat dit vir doeleindes van hierdie saak en op grond van die getuienis nie werklik belangrik is of dit gekonstrueer behoort te word as een ooreenkoms of twee afsonderlike ooreenkomste nie. Indien die verweerder se standpunt dat 'n skriftelike ooreenkoms nie tot stand gekom het nie, gehandhaaf sou word, is die verweerder steeds aanspreeklik op grond van die mondelinge ooreenkoms (of gedeelte daarvan). Indien die teendeel bevind word, is die verweerder aanspreeklik op grond van die skriftelike ooreenkoms (met of sonder die mondelinge gedeelte)."
[53] 0m hierdie, ietwat oorweldigende, scenario die hoof te bied, doen mnr Rossouw, in sy betoogshoofde, aan die hand dat dit blyk uit die getuienis van beide De Klerk en Posthumus dat wanneer 'n produsent met die eiser wil besigheid doen, dit 'n vereiste is dat die produsent die eiser se standaard kontrak moet teken. Ek verstout my om te sê dat dieselfde gevolgtrekking gemaak kan word uit Swart se getuienis. Dit blyk uit die oorwig van die getuienis dat die produsente van hierdie vereiste kennis gedra het en dat hulle die vereiste, minstens deur hulle gedrag, aanvaar het en die nodige dokumente geteken het. Dit geld ook Van der Linde. Dit was dus, so lui die betoog, binne die kontemplasie van die partye dat eiser se standaardooreenkoms hulle ooreenkoms sou wees of, anders gestel, het die partye ooreengekom dat hulle kontrak op skrif sal wees. Ter ondersteuning van hierdie betoog het mnr Rossouw ook verwys na algemene voorwaarde 6, wat ek reeds aangehaal het, wat bepaal dat die skriftelike ooreenkoms die hele ooreenkoms weergee en dat geen ander bepalings wat in ander ooreenkomste tussen die partye mag geld of gegeld het by die skriftelike stuk ingelyf is nie.
Ter stawing van sy betoog dat dit die bedoeling van die partye was dat die kontrak op skrif gestel en geteken moes word, het mnr Rossouw my herinner daaraan dat al die getuies dit eens is dat dit standaard prosedure by die eiser was om die dokument wat die produsent geteken het by hoofkantoor te laat goedkeur en onderteken, waarna die gedeelte wat die handtekening vervat met 'n dekbrief so gou doenlik aan die produsent teruggestuur word. Die eiser se getuies het ook toegegee dat hierdie bevestiging voor die einde van die plantseisoen (laat November) moes geskied en dat 'n bevestiging in Januarie (soos in die geval van "A20") te laat sou wees.
Met verwysing na die getuienis as geheel, het mnr Rossouw aan die hand gedoen dat die getuie Posthumus mondeling met die verweerder, verteenwoordig deur Van der Linde, 'n reëling getref het of 'n voorlopige ooreenkoms gesluit het vir die aankoop van vier oeste. Wat al vier oeste betref, het die verweerder die eiser se betrokke skriftelike standaardooreenkoms by die silo gaan teken. Drie van die vier is na hoofkantoor gestuur, daar mede onderteken deur 'n gevolmagtigde van die eiser en die verweerder is voor die einde van die plantseisoen behoorlik daarvan in kennis gestel onder dekking van die betrokke skrywe. Hierdie kontrakte is almal behoorlik uitgevoer en afgehandel. Die dokument ten aansien van die gewraakte eis of transaksie het egter in die hande van die eiser verlore geraak en van hierdie feit was die verweerder vir die eerste keer in kennis gestel laat in November 2001. Posthumus het egter nie die kontrak met die verweerder bevestig nie, maar hom bloot versoek om nog 'n soortgelyke dokument te teken, wat hy nie gedoen het nie.
Toe "A20" eers in Januarie 2002 die lig sien, het Van der Linde namens die verweerder voorspelbaar gereageer beide in "A21" en by die vergadering van 28 Januarie deur te weier om die kontrak uit te voer en daarop aan te dring dat die kontrak in die eerste plek nie bevestig is nie. Dit is ook opvallend dat, selfs by die vergadering van 28 Januarie 2002, die eiser se verteenwoordigers weer eens vir Van der Linde versoek het om nog 'n kontrak te teken.
[54] Myns insiens is daar veel te sê vir hierdie betoog van die verweerder. 0p al die getuienis is dit duidelik dat daar 'n spreekwoordelike gefladder in die duiwehok was toe die eiser se amptenare besef dat die kontrak weggeraak het en dat hulle alles in hulle vermoë gedoen het om 'n ander kontrak onderteken te kry. Hulle penarie is vererger deur die feit dat hulle die pogings om nog 'n kontrak te bekom vertraag het tot na sluiting van die plantseisoen.
Myns insiens is die waarskynlikhede oorweldigend dat die eiser se amptenare hierdie uiterste pogings aangewend het omdat hulle ook van mening was dat dit 'n vereiste was vir die geldigheid van die kontrak dat dit op skrif gestel moes word en onderteken moes word.
Benewens die optrede van die eiser se amptenare, meen ek dat hierdie gevolgtrekking waartoe ek geraak het, op die waarskynlikhede ook ondersteun word deur die volgende faktore:
1. Dit is gemene saak dat die eiser se standaard prosedure 'n proses behels waarkragtens die hoofkantoor die kontrak moet goedkeur en deur 'n gemagtigde amptenaar laat onderteken voordat dit skriftelik teenoor die produsent bevestig word.
2. Presies dieselfde prosedure is gevolg in die geval van die ander drie transaksies wat tussen die partye beklink is.
3. Die getuie Swart het nie die verweerder se stelling ontken dat hy die vereiste van 'n handtekening om geldigheid daar te stel met Van der Linde bespreek het nie. Hy het ook nie betwis dat hierdie vereiste bestaan nie.
4. Dit is inherent onwaarskynlik dat 'n groot organisasie soos die eiser 'n beleid sou aanvaar waarvolgens hy hom verlaat op 'n blote mondelinge reëling (dikwels telefonies) ten einde 'n kontrak waarby miljoene rande betrokke kan wees as bindend te aanvaar. Ek het reeds melding gemaak van die getuie De Klerk se, myns insiens ontwykende, getuienis toe hy met hierdie vraag in kruisondervraging gekonfronteer is.
In hierdie verband meen ek dat daar met vrug verwys kan word na die saak van Lambons (Edms) Bpk v BMW Suid-Afrika (Edms) Bpk [1997] ZASCA 51; 1997 4 SA 141 (A) 153E 154C. Met verwysing na hierdie saak, en ander gewysdes, sê die geleerde skrywer Christie The Law of Contract 4de uitgawe op 39 40 die volgende:
"Especially in complicated or protracted negotiations it is not uncommon for the parties to record the progress they have made in a partial agreement, thus clearing the points on which they are agreed out of the way and facilitating discussion on the points that remain outstanding. If agreement is eventually reached on the outstanding points and a complete contract drawn up and signed, the prior partial agreement is usually forgotten, but if for one reason or another the intended contract is never concluded one party will sometimes seek to hold the other to the partial agreement. 0bviously he cannot be permitted to do so, because although the partial agreement may have taken the form of an accepted offer it lacked animus contrahendi, being designedly incomplete or provisional."
(My onderstreping.)
5. Myns insiens word die benadering van die geleerde skrywer Christie, supra, verder gestaaf in die onderhawige geval deur die feit dat die algemene voorwaardes verskeie bepalings insluit wat glad nie te berde gekom het tydens die vlugtige mondelinge gesprekke tussen Van der Linde, Posthumus en Swart nie. Voorbeelde hiervan is die vereiste dat die graan se graad aan sekere gehalte standaarde soos by wetgewing voorgeskryf moet voldoen, die feit dat die koper nie die opbergingsruimte by die besondere silo kan waarborg nie, die feit (supra) dat die kontrak op skrif gestel moet word, die feit dat die massa bepaling finaal sal wees soos per silo skaal, die feit dat die koopprys binne sewe werksdae na lewering betaalbaar is, die feit dat die verkoper die risiko dra ten aansien van die aangekoopte produk totdat lewering geskied en die feit dat die verkoper die inligting as waar en korrek waarborg en die koper magtig om enige inligting wat die verkoper verskaf het deur sy agent na te gaan en te kontroleer.
[55] Ek het dus tot die gevolgtrekking geraak dat die getuienis, in die geheel beoordeel, op die waarskynlikhede daarop dui dat die partye die bedoeling gehad het om hulle ooreenkoms op skrif te stel en dat beide partye dit moes onderteken om geldigheid te bewerkstellig. Na my mening word hierdie gevolgtrekking gestaaf deur die aard van die standaard prosedure wat die eiser self gevolg het en op aangedring het, die bewoording van die algemene voorwaardes, en in besonder algemene voorwaardes 3 en 6 en verskeie opmerkings wat die eiser se getuies gemaak het, en waarna ek in die opsomming hierbo verwys het.
[56] Ek is ook van mening dat die feit dat die eiser moontlik 'n risiko neem om onmiddellik die transaksie by SAFEX te verskans voordat die kontrak nog geteken is, nie gesien moet word as 'n aanduiding dat die partye bedoel het dat die vlugtige mondelinge reëling wat getref is die status van 'n finale en bindende kontrak moet hê nie. Myns insiens is dit waarskynlik niks meer nie as 'n besigheidsrisiko wat die eiser neem. Die risiko is ook nie te groot nie, want, op die getuienis soos dit aangebied is, is dit duidelik dat die waarskynlikhede oorweldigend is dat die boer uiteindelik homself gebonde sal beskou aan die kontrak nadat die hoofkantoor se amptenare dit geteken en bevestig het. Die verlies van 'n kontrak in die pos geskied slegs by hoë uitsondering.
[57] In sy baie volledige betoog het mnr De Waal nog 'n argument geopper wat ek nie sonder meer oor die hoof kan sien nie. Mnr De Waal voer aan dat die verweerder se pleit in paragraaf 3.3 daarvan tot die effek dat dr Kottel (en ook mnr Swart soos per die nadere besonderhede vir verhoor) aangedui het dat die eiser sy graankoopooreenkomste slegs as geldig en afdwingbaar beskou as dit op skrif gestel en onderteken is, neerkom op 'n "tweede verweer" en dat die verweerder die bewyslas dra om hierdie "tweede verweer" te bewys.
[58] Soos ek paragraaf 3 van die pleit lees is hierdie verwysing na dr Kottel en sy uitlatings slegs aanvullend gepleit tot die kern van die verweer, naamlik dat die verweerder ontken dat 'n kontrak tot stand gekom het. Ek het nie die indruk gekry dat dit 'n addisionele of alternatiewe verweer is nie. Ek meen dus dat die bewyslas op die eiser om die kontrak waarop hy steun en die terme daarvan te bewys, soos uiteengesit in Kriegler v Minitzer, supra, en ander bekende sake, steeds deurslaggewend is.
[59] Nietemin, is dit nodig om daarop te wys dat mnr De Waal my in hierdie verband onder andere verwys het na die sake van Goldblatt v Freemantle 1920 AD 123 op 128 129 en Woods v Walters 1921 AD 303 op 305. In laasgenoemde saak word die volgende gesê op 305:
"It follows of course that where the parties are shown to have been ad idem as to the material conditions of the contract, the onus of proving an agreement that legal validity should be postponed until the due execution of a written document lies upon the party who alleges it."
Myns insiens is die onderhawige geval onderskeibaar want ek meen nie dat dit vasstaan uit die getuienis dat die partye reeds eenstemmigheid bereik het ten opsigte van al die wesenlike bepalings van die kontrak tydens die mondelinge telefoniese gesprekke wat plaasgevind het nie. Ek het reeds verwys na die belangrike algemene voorwaardes wat glad nie eers te berde gekom het tydens die mondelinge gesprekke nie. Daarbenewens vereis die eiser se eie standaard prosedure dat die kontrak op skrif gestel en geteken moet word. In hierdie verband het ek reeds op die waarskynlikhede 'n bevinding gemaak.
Al sou ek egter verkeerd wees deur te bevind dat hierdie geval onderskeibaar is en dat die gewraakte onus op die verweerder nie hier van toepassing is nie, meen ek in elk geval, en bevind ek dienooreenkomstig, dat die verweerder sodanige bewyslas gekwyt het op die getuienis van die eiser self en in die lig van die inherente waarskynlikhede wat van toepassing is. Die redes hiervoor het ek reeds verskaf.
[60] Myns insiens kan daar ook met vrug verwys word na die skrywer Christie, op cit, se bespreking van hierdie onderwerp op 120 121. Die geleerde skrywer noem 'n aantal voorbeelde van gevalle waar die bewyslas wel gekwyt is en ook voorbeelde waar die bewyslas nie gekwyt is nie.
Ek haal stuksgewys aan uit die gedeelte wat gevalle illustreer waar die bewyslas wel gekwyt is:
"The burden was discharged in Goldbladt v Freemantle by evidence that the details orally agreed were to be confirmed by exchange of letters; in Lordan v Pelunsky and Mervis ... by evidence that the oral agreement covered a number of details that the parties were unlikely to remember; in Mitchell v Knox Gore ... by evidence that one party insisted on a proper lease being drawn up so that 'when that lease is signed we are bound by it and we know exactly where we are'; in Mocke v Rautenbach ... by evidence that the letter referring to a formal agreement did not cover all the matters already discussed; in Bailes v Highveld 7 Properties ... by the words 'upon receipt of your written confirmation of these proposals I will agree for the addendum to be prepared for signature', the original agreement being a formal agreement prepared by lawyers; in First National Bank Ltd v Avtjoglou ... by one party's insistence on a signed copy of the written agreement, by the other party's admission that reduction to writing was contemplated and by references to signature in the written agreement."
Wat die voorbeelde betref van gevalle waar die hof gevind het dat die bewyslas nie gekwyt is nie, kry ek die indruk dat dit oorwegend sake is waar die mondelinge reëling reeds in werking gestel is voordat die moontlikheid van ondertekening van 'n skriftelike kontrak te berde gekom het. Hierdie uiteensetting verskyn op p121 van die aangehaalde werk. Ek gaan dit nie herhaal nie. Natuurlik is dit in die onderhawige geval duidelik dat daar geen sprake daarvan was dat die mondelinge reëling eers naastenby in werking gestel is nie. Die teenoorgestelde is waar.
[61] 0nder al hierdie omstandighede, en vir die redes wat ek genoem het, het ek tot die gevolgtrekking geraak dat die eiser nie daarin geslaag het om die kontrak waarop hy steun te bewys nie en dat sy eis gevolglik nie kan slaag nie.
[62] Die bevel wat ek maak is dat die eis van die hand gewys word met koste.
W R C PRINSLOO
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
28312-2002