South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 42

| Noteup | LawCite

Louw v WP Kooperasie Bpk. (355/1990) [1991] ZASCA 42; [1991] 2 All SA 256 (A) (28 March 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


LL . Saakno.355/1990

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPéLAFDELING

In die saak tussen:

COENRAAD JOHNNES HENOCH LC W Applikant
en
WP KOoPERASIE BEPERK Respondent

CORAM: HOEXTER, E.M. GROSSKOPF, NESTADT,

MILNE ARR et KRIEGLER WN AR

VERHOORDATUM: 21 MAART 1991

LEWERINGSDATUM: . 28 MARCH 1991

UITSPRAAK

KRIEGLER WN AR

2.

Applikant vra kondonasie om in hoër beroep te kom teen 'n finale sekwestrasiebevel wat in die Kaapse Provinsiale Afdeling teen hom verleen is. Respondent was die sekwestrerende skuldeiser. Uit hoofde van die bepalings van art 150(1) van die Insolvensiewet No 24 van 1936 sou sodanige appèl regstreeks en sonder verlof aan hierdie hof gerig word. (Kyk Fourie v Drakensberq Koöperasie Beperk 1988 (3) SA 466 (A).)
Ter aanvang die kwessie van kondonasie. Applikant se prokureur het die prokurasie wat hom mag-tig om die appêl voort te sit laat ingedien. Volgens reël 5(3)bis(a) van die Appélhofreëls moes dit binne 21 dae na indiening van die kennisgewing van appèl geskied het, naamlik laatstens 19 September 1990. Die prokura-sie is egter eers op 5 November 1990 ingedien. Origens haper daar niks met die voortsetting van die appèl nie. Applikant se petisie om kondonasie en 'n meegaande eeds-verklaring deur sy prokureur trag die versuim te
3. verduidelik. Vraag is of sodanige verduideliking opgaan en, nog belangriker, of dit voldoende rede vir geregtelike toeskietlikheid daarstel. In wese kom die verduideliking daarop neer dat applikant se prokureur onagsaam die gras onder sy voete laat groei het. Applikant was vanweë sy boerderybedrywighede betreklik onbekombaar. Sy prokureur het bowendien met sekretariële probleme te kampe gehad en die tyd het hulle ongesiens ingehaal. Bygevolg het die ondertekende prokurasie die prokureur eers op 1 Oktober 1990 bereik. Daarna het hy getalm tot 5 November 1990 voordat die petisie ingedien is.

Geen opponerende eedsverklaring namens respondent is weggelê nie, maar in sy betoogpunte word gewys op etlike leemtes en vaaghede in die relaas van applikant en sy prokureur. So, byvoorbeeld, sê die prokureur nie of hy van meet af bewus was van die tyds-beperking in reël 5(3)bis(a) en die tyd onagsaam laat verby gaan het nie dan wel of hy eers te laat van die
4. voorskrifte bewus geword het. Ook meld nog applikant nog sy prokureur spesifiek wanneer die prokurasie eersgenoemde bereik het en ook nie of hy op die dwingendheid van die tyd attent gemaak is nie. Die vertraging van meer as 'n maand ná ontvangs deur die prokureur van die ondertekende prokurasie is ook nie verduidelik nie. Daar is dan gesubmitteer dat die verloop van sake aanduidend is van ernstige nalatigheid aan die kant van applikant se prokureur en dat applikant self nie van blaam onthef kan word nie. Aan die hand van 'n reeks beslissings in hierdie hof (die jongste synde Ferreira v Ntshingila 1990 (4) SA 271 (A) te 281J tot 282A) is aangevoer dat kondonasie geweier moet word. By die verhoor van die aansoek het respon-dent se advokate egter volstaan met die betoogpunte en aangevoer dat daar growwe onreelmatighede was. Die klem is egter laat val op die afwesigheid van redelike vooruitsigte op sukses.

Die kondonasiebetoog namens applikant is op

5. dieselfde faktor toegespits. Met verwysing na die toepaslike kriteria by 'n aansoek om kondonasie wat deur Holmes AR in Federated Employers Insurance and Another v McKenzie 1969 (3) SA 360 (A) op 362G aangestip is, is aangevoer dat die vooruitsigte op welslae deurslaggewend behoort te wees.
Ek is dit met die advokate eens. Die verduideliking vir die versuim is weliswaar nie besonder oortuigend nie maar terselfdertyd was daar geen benadeling, ongerief of vertraging nie. Die nalate was bra tegnies van aard, is betreklik gou reggestel en die voortsetting van die appèl het andersins reëlmatig en flink verloop. As die appèl dus op die meriete deugdelik sou wees, behoort kondonasie toegestaan te word en, natuurlik, omgekeerd. Die aansoek is dan ook op sodanige grondslag beredeneer.

Ofskoon die betoë op die meriete wedersyds op 'n bepaalde regs- en feitevraag gefokus het, moet die breëre feitemilieu geskets word. Applikant het tot sy
6. sekwestrasie jarelank en op groot skaal in die Swartland en omgewing geboer. Hy het drie groot plase in eie naam besit, nog vier deur twee beslote korporasies waarvan hy die alleen-beheerder was, 'n
agste bygehuur en gewoon op 'n ander plaas wat op naam van sy vrou geregistreer was. Die tagtigerjare is egter gekenmerk deur 'n reeks terugslae. Applikant se seun sterf op die grens; sy gesondheid gaan agteruit; hardnekkige koringplae lei tot misoes op misoes; die daling in die ekonomie gaan gepaard met stygende koste en rentekoerse.
Teen 1986 is applikant ver agterstallig met die betaling van verbandpaaiemente aan Boland Bank Beperk, sy destydse hoof-finansieringsbron. Die bank neem verstekvonnis teen applikant en begin om eksekusie te hef teen sy plase. Respondent, waarvan applikant sedert 1951 lid was, kom tot sy hulp. In 1987 betaal respondent 'n bedrag van R1,4 miljoen aan die bank ter vermindering van applikant se skuld en in Junie 1988
7. volg 'n verdere betaling van R1 088 034,69. Respondent word sodoende applikant se enigste noemenswaardige skuldeiser. Respondent het ook voortgegaan om op krediet aan applikant goedere en dienste te lewer en het ook voorskotte aan hom gemaak. Volgens respondent se stukke in die sekwestrasieverrigtinge het applikant se skuld aan respondent in April 1990 te staan gekom op R15 114 333,28. Ofskoon applikant die berekening van die bedrag en die presiese hoeveelheid daarvan in geskil gestel het, waarmee ek aanstons handel, is die orde van die bedrag nie betwis nie. Applikant se plase, dié op naam van sy beslote korporasies en sy eggenote se plaas is aan respondent verhipotekeer tot 'n bedrag van bykans R11 miljoen. Bykomend is lewens-polisse op naam van applikant en sy vrou met 'n totale versekerde bedrag van R680 000 in securitatem debiti aan respondent gesedeer en is daar 'n notariele dekkingsverband ten bedrae van R2,4 miljoen ten gunste van respondent oor applikant se losgoed geregistreer.

8.

Inmiddels het die partye in April 1987 en weer in Mei 1988 skriftelike ooreenkomste gesluit met die oog op hul onderlinge geldsake. Luidens eersgenoemde moes applikant, sy eggenote en een van sy beslote korporasies hul beywer om drie van die plase af te verkoop teen bepaalde minimum pryse. Verdere bates sou van die hand gesit word om 'n bykomende R2 miljoen op te lewer. Die opbrengste sou aan respondent betaal word. Van die beoogde tegeldemaking het niks gekom nie. en op 27 Mei 1988 word die tweede ooreenkoms gesluit. Die partye daartoe is respondent enersyds en applikant, sy eggenote en sy twee beslote korporasies andersyds. Dit dra die eufemistiese benaming "Samewerkingsooreen-koms". In werklikheid het applikant daardeur die beheer oor sy boerderybedrywighede en sy geldsake aan respondent afgestaan. In een van die paragrawe van die aanhef tot die ooreenkoms word geboekstaaf dat applikant, sy eggenote en sy beslote korporasies:

"... tot op datum van hierdie Ooreenkoms in

9.

hoofsaak van" (respondent) "gebruik gemaak het ter finansiering van sy boerderybedrywig-hede en nie sy verpligtinge ten opsigte van kapitaal- en renteterugbetalings kan nakom nie."

Die ooreenkoms het ook bepaal dat respondent regstreeks
die boerdery-inkomste sou ontvang en daaroor beskik.
Die Samewerkingsooreenkoms het voorts voorsiening
gemaak vir beëindiging "deur enige van die partye met
skriftelike kennisgewing te dien effekte van vier en
twintig (24) uur aan die ander party."
Daar is 'n feitegeskil oor die daaropvolgende verloop van gebeure. Een ding staan egter vas - die reddingspogings was vergeefs. Geen noemenswaardige bates is afverkoop nie, die boerdery het nie gefloreer nie en die rentelas het ondraaglik geblyk te wees. In die boekjaar geëindig 28 Februarie 1990 was daar 'n
netto boerdery-inkomste van R595 865 maar renteverplig-tinge ten bedrae van R3 120 189 het 'n boerderyverlies van R2 682 843 tot gevolg gehad.

Daar was ook onenigheid oor die afverkoop van

10. die plase. By 'n publieke veiling van drie daarvan kon geen bod behaal word nie. Daaropvolgende private onderhandelinge kon ook nie 'n aanvaarbare aanbod bewerkstellig nie. Aanbiedinge vir drie ander plase was vir respondent aanvaarbaar maar applikant het dit verwerp. Bygevolg het die kapitaalskuld wesenlik onverminderd bly staan terwyl die rentelas steeds gestyg het - daarvandaan die totale skuld in April 1990 van ongeveer R15 miljoen en 'n daaglikse renteverpligting van bykans R10 000. Bowendien het respondent begroot dat daar in die boekjaar 1990/1991 voorsiening gemaak sou moes word vir boerdery-uitgawes van meer as R4,5 miljoen. Respondent was egter nie bereid om verdere finansiële hulp aan applikant te verleen nie.

Op 20 April 1990 bring respondent toe 'n dringende aansoek in die Kaapse Provinsiale Afdeling om die voorlopige sekwestrasie van applikant se boedel. Die hoof ondersteunende beëdigde verklaring word afgélê

11.

deur mnr Daniel le Roux van Tonder, respondent se

"assistent-hoofbestuurder: Kredietbeheer", wat beweer:

"Ek is behoorlik gemagtig ingevolge 'n
Direksiebesluit gedateer 16 Februarie 1989 om voormelde Kooperasie in hierdie verrigtinge (sic) verteenwoordig."

In Van Tonder se eedsverklaring en die meegaande stukke
word applikant se finansiële verknorsing beskryf en aan
die hand daarvan word beweer dat hy inderdaad insolvent

is. Daar word ook gesteun op die hierbo aangehaalde
paragraaf in die aanhef tot die Samewerkingsooreenkoms
as sou dit 'n daad van insolvensie soos bedoel in art

8(g) van die Insolvensiewet 1936 daarstel. Applikant

se skuld teenoor respondent word beweer R15 114 333,28

te beloop. Na Van Tonder se bewering sou sekwestrasie
vir skuldeisers die voordeel inhou dat 'n kurator

stellig die nodige finansiering vir die voortsetting

van die boederybedrywighede van respondent sou kon

bekom.

Applikant liasseer opponerende stukke. In
12.

hoofsaak vra hy uitstel van die sekwestrasie-aansoek. Hy plaas die bedrag van sy skuld teenoor respondent in geskil en wys op sekere waargenome anomalieë in die rekeningstate by Van Tonder se eedsverklaring. Vervolgens betwis hy die opvorderbaarheid van sy skuld teenoor respondent en benadruk dat hy geen aanmaning om betaling ontvang het nie. Vanweë respondent se houding, so beweer applikant, "it will be necessary for me to obtain alternative sources of finance in order to continue with my farming operations." Hy spreek die vertroue uit dat hy die nodige bystand ingevolge die Wet op Landboukrediet No 28 van 1966 sal kan bekom en voer aan dat hy onherroepelike skade berokken sal word as hy nie die geleentheid daartoe gegun word nie.

Respondent besef op daardie stadium dat die voortbestaan van die Samewerkingsooreenkoms in die weg staan van sy sekwestrasie-aansoek. Kennisgewing van beëindiging van die ooreenkoms word toe gegêe en
13. die aansoek word teruggetrek. Onmiddellik daarna word
'n tweede aansoek om die sekwestrasie van applikant se boedel geloods. Weer eens is mnr Van Tonder die hoofdeponent. Hy meld die vorige aansoek, skets die omstandighede wat tot die terugtrekking daarvan gelei het en heg respondent se stukke daarin aan met beaming van die korrektheid daarvan. In reaksie op applikant se ontkenning (in sy opponerende eedsverklaring in die eerste aansoek) van die omvang van sy skuld aan res-pondent beweer hy dat die skuld ten tye van onder-tekening van die Samewerkingsooreenkoms R8 754 912 beloop het. Sedertdien het applikant agteruitgeboer en gestadig al hoe dieper in die skuld geraak. Van Tonder se eedsverklaring sluit af met 'n herbeklem-toning van die dringende noodsaaklikheid van 'n

sekwestrasiebevel sodat 'n kurator kan red wat te redde is.

Applikant liasseer twee opponerende eedsverklarings. In die eerste betwis hy dringendheid

14.

en herhaal dat hy tyd nodig het om die moontlikheid van bystand ingevolge Wet 28 van 1966 op te volg. Die presiese omvang van sy skuld teenoor respondent wou hy ook rekeningkundig laat vasstel.
In die tweede eedsverklaring gaan applikant in groter besonderheid in op sy finansiële posisie. Wat betref sy persoonlike skuld aan respondent beweer hy dat dit te staan kom op 'n bedrag van nagenoeg R4 163 476. Hoe sodanige bedrag bereken word, meld hy nie. Hy meld ook nie hoe sy eggenote en die beslote korporasies wat hy beheer hul onderskeie skulde aan respondent aangegaan het of sou kon vereffen nie. Voorts betwis applikant dat sy laste sy bates oorskry en beweer dat hy R150 000 beskikbaar het om die komende boerderyseisoen se uitgawes te finansier. Hoe en waar hy dié bedrag bekom het ondanks die embargo op sy inkomste uit hoofde van die Samewerkingsooreenkoms, vermeld hy nie.

Intussen is die sekwestrasie-aansoek twee-

15. maal uitgestel en dit word toe op 16 Mei 1990 verhoor. Na volledige betoog van weerskante word 'n voorlopige sekwestrasiebevel uitgerêik met keerdag 14 Junie 1990. Twee dae voor die keerdag word bykomende stukke namens applikant weggelê wat heet sy "Antwoordende Beëdigde Verklaring Op Die Keerdag" te wees. Daarin word ten eerste en by wyse van 'n punt in limine aangevoer dat Van Tonder nie behoorlik gemagtig was om die aansoek namens respondent te bring nie. Die eedsverklaring verstrek breedvoerig die feitebewerings en regsubmis-sies waarop die punt gefundeer is. Daar sal ter geleëner tyd daarby stilgestaan word. Ten tweede word in die eedsverklaring aangevoer dat bykomende tyd nodig is vir die inspeksie en evaluering van respondent se rekeningkundige stukke met betrekking tot applikant se rekening. Die debat aangaande die waarde van appllkant se bates en die gevolglike verhouding daartussen en sy laste word ook aangeroer. Die keerdatum van die voorlopige

16.

sekwestrasiebevel word toe verleng. 'n Verdere eedsverklaring deur Van Tonder word ingedien asook een deur die voorsitter van respondent se raad van direkteure. Daarin word die feite- en regsbasis van applikant se punt in limine betwis en word bowendien vermeld dat respondent se direksie op 26 Julie 1990 vergader en besluit het om Van Tonder se optrede in die aansoek goed te keur en te ratifiseer.
Toe die saak op 14 Augustus 1990 in die hof a quo aan die orde kom, is daar van weerskante op die punt in limine gekonsentreer. Applikant se advokaat het, soos die geleerde verhoorregter dit in sy uitspraak stel, aangekondig "dat sonder om enigiets toe te gee, hy nie die hof se tyd op die meriete in beslag sou neem nie." Die punt in limine is daarop beredeneer en ten gunste van respondent uitgewys. Aangesien daar na die mening van die hof a quo 'n

saak op die meriete uitgemaak is, word 'n bevel vir die finale sekwestrasie van applikant se boedel
17. toegestaan.

In hierdie hof het die onderskeie advokate 'n

dergelike werkwyse gevolg as in die hof benede. Ofskoon daar in die betooghoofde gehandel is met die vraag of applikant se daadwerklike insolvensie en die aanverwante vraag of 'n daad van insolvensie soos bedoel in art 8(g) van Wet 24 van 1936 bewys is, het die klem op die punt _in limine geval. Tydens betoog namens applikant is daar egter geen submissies met betrekking tot die meriete gemaak nie en is volstaan met dit wat in die betooghoofde verskyn.
Van die kant van respondent is tewens aangevoer dat dit applikant nie vrystaan om die meriete in hierdie hof te opper nie. Die standpunt berus op die veronderstelling dat daar in die hof a quo namens applikant afstand gedoen is van enige beroep op die meriete. Na my mening is sodanige ver-onderstelling egter ongeregverdig. Die aankondiging in die hof a quo, soos blyk uit die aangehaalde
18. sinsnede hierbo, het uitdruklik geen toegewing ten aansien van die meriete gemaak nie. Die gewysdes waarop namens respondent gesteun word (A J Shepherd (Edms) Bpk v Santam Versekeringsmaatskappy Bpk 1985 (1) SA 399 (A) te 415A-D en Chemfos Ltd v Plaasfosfaat (Pty) Ltd 1985 (3) SA 106 (A) te 114F-115B) is dus geensins analoog aan die onderhawige geval nie. In beide gemelde sake het die appllkant in die hof benede sy saak so pertinent oor 'n bepaalde boeg gegooi dat daar in hoër beroep bevind is dat dit noodwendig prysgawe behels het van 'n andersoortige standpunt wat op appèl aangebied is. Hier is dit heel anders gestel.
Verdere bespreking van die onderskeid is egter oorbodig. Daar steek in elk geval niks in die verweer op die meriete nie en appllkant se advokate het tereg geen hoftyd daarmee in beslag geneem nie. Al sou aanvaar word dat die hierbo aangehaalde mededeling in die Samewerkingsooreenkoms nie 'n daad

19.

van insolvensie soos bedoel in art 8(g) van die Insolvensiewet 1936 daargestel het nie (waaroor ek uitdruklik geen mening uitspreek nie), was daar oorvloedige bewys van applikant se daadwerklike insolvensie. Ten tye van die Samewerkingsooreenkoms het applikant se skuld teenoor respondent reeds meer as R4 miljoen beloop. Daarna het dit van sleg na erger gegaan. Die rentelas daarop het die betreklik skamele boerdery-inkomste verswelg en applikant se onvermoë of onwilligheid om van sy bates te gelde te maak, het enige hoop dat hy kommersiëel vlot gehou sou kon word gefnuik. Ongeag die' debat rondom die korrekte waarde wat aan een of die ander van applikant se plase toegeskryf moet word (waaroor daar wyduiteen-lopende en onoplosbare meningsverskil op die stukke bestaan) is dit haas onbetwisbaar dat applikant, toe respondent sy enigste kredietkraan toedraai, eenvoudig onherstelbaar insolvent was. In dié verband is dit betekenisvol dat daar vanaf 20 April 1990, toe die
20. eerste sekwestrasie-aansoek geloods is, tot die verlening van die finale bevel in middel Augustus 1990 niks tereggekom het van applikant se beweerde pogings om elders geldelike bystand te vind nie. Ewe min het gekom van sy pogings om met behulp van ouditeure enige noemenswaardige foute in respondent se berekening van die skuldbedrag aan te merk.
Dat dit tot die voordeel van applikant se skuldeisers was om halt te roep, is voor die hand liggend. Respondent, bykans die enigste skuldeiser, was volledig op die hoogte van applikant se geldsake en het oortuigende bewys gelewer dat die dringende sekwestrasie van sy boedel nodig was ter beveiliging van respondent se belange, of dan ter beperking van sy verlies.
Dit laat dan die punt in limine met betrekking tot Van Tonder se magtiging. Die kern daarvan is die volgende. Respondent dra die bewyslas ten aansien van die vraag of Van Tonder by
21. magte was om die sekwestrasie-aansoek namens respondent te loods. Sy magtiging berus op 'n besluit van respondent se direksie waarluidens besluitnemings-bevoegdhede met betrekking tot die instelling van gedingvoering aan werknemers van respondent heet gedelegeer te gewees het. Sodanige delegering was egter in stryd met die reël teen verdere delegering deur 'n gedelegeerde van besluitnemingsbevoegdhede wat aan hom toevertrou is. Bowendien bots dit met die bepalings van die Kooperasiewet No 91 van 1981, ("die Wet") waaronder respondent geïnkorporeer is, asook met respondent se statuut. Die direksiebesluit was dus ongeldig en die delegering van die besluit-nemingsbevoegdheid nietig. Bygevolg was die loodsing van die sekwestrasie-aansoek in naam van respondent kragteloos en kon dit nie agterna geratifiseer word nie.

Myns insiens raak die betoog van meet af die spoor byster. Respondent se raad van direkteure is nie

22.

'n gedelegeerde nie. Kragtens die Wet is die direksie
beklee met oorspronklike bevoegdhede. 'n Kooperasie
soos respondent wat by die inwerkingtreding van die Wet
reeds bestaan het, word ingevolge art 2 van die Wet
geag daaringevolge opgerig en ingelyf te wees. Art
28(a) verleen vervolgens aan 'n kooperasie, by sy

inlywing, regspersoonlikheid en art 49(1) verleen aan
die aldus geskape regspersoon 'n breë verskeidenheid
bevoegdhede. Die bestuur en beheer van die aldus
geskape en bevoegde regspersoon word dan in hoofstuk VI
van die Wet georden. In die besonder bepaal art 107(1)

soos volg:

"Die sake van 'n koöperasie word bestuur en beheer deur 'n raad van direkteure, wat die bevoegdhede en pligte van die koöperasie behoudens die bepalings,van hierdie Wet en die statuut van die koöperasie uitoefen en verrig."

Die struktuur en sin van die Wet is duidelik. 'n

Kooperasie kom as regspersoon tot stand met sy

inlywing. Terselfdertyd word die regspersoon met

23.

bevoegdhede beklee en sy bestuur en beheer in sy
direksie gevestig. Net soseer as wat die regspersoon

sy ontstaan en bevoegdhede aan die Wet ontleen, so ook
ontleen die raad van direkteure sy bevoegdhede aan die

Wet.

Namens applikant word egter aangevoer dat

daar by wyse van analogie met die maatskappyereg
gefingeer moet word dat 'n koöperasie by sy inlywing sy
bevoegdhede aan sy direksie delegeer. Bygevolg en uit
hoofde van die reël delegatus delegare non potest is 'n
koöperasie nie by magte om die bevoegdhedé wat art
107(1) van die Wet aan hom verleen op sy beurt aan
andere te delegeer nie. Volgens die betoog word
gesteun op die volgende opmerking in Gower's Principles
of Modern Company Law 4de uitgawe op p 140:

"In practice the initial constitution of the company will provide for the appointment of the board of directors and expressly delegate all powers of management to them, and they in turn are generally empowered to subdelegate to a committee or managing director. In such circumstances the theory seems to be that the

24.

company, as such, has, in its constitution, appointed its agents and clothed them with authority; the act which gives birth to the company operates as an appointment and delegation by the company."

Die submissie gaan nie op nie. Ten eerste maak die
geleerde skrywer die betrokke opmerking terloops in die
samehang van 'n algemene bespreking aangaande die
historiese ontwikkeling van die Engelsregtelike siening
van die interverhoudings tussen maatskappy-organe. Ten
tweede bied die skrywer die teorie bra huiwerig aan -
"the theory seems to be". Of hy dit self aanhang, is
nie duidelik nie. Wat my betref, val die teorie
gekunsteld en gedwonge op. Diepgaande bespreking
daarvan is egter oorbodig. Die haakplek in die betoog
namens applikant lê by die volgende stap in die
redeneertrant. Daarvolgens moet van die gefingeerde
delegering afgelei word dat die reël delegatus delegare
non potest dan strakke toepassing vind. Dat dit nie
die geval is nie, blyk uit die bronne waarop daar

getrag gesteun te word. Gower, tap,sê in die sin wat

25.

volg op die aangehaalde passasie die volgende:

"It will be observed that authority to exercise the company's powers is delegated, not to the members, nor even to the individual directors, but only to the directors as a board, although it may, as we shall see, be sub-delegated by the board to individual managing directors and to other officers."

Henochsberg on the Companies Act, 4de uitgawe, op p 813
is nog meer eksplisiet. In die loop van 'n bespreking
van art 59 van tabel A in die eerste bylae by die
Maatskappyewet No 61 van 1973, (wat ooreenstem met art

107(1) van die Wet), word onder die opskrif "Directors

and Legal Proceedings Involving Companies" die volgende
gestel:

"The directors' powers under an article such as art 59 enable them to cause the company to participate in legal proceedings. For this purpose they must authorise one of their number or someone else (e g a manager or the secretary) to represent the company. The authorisation may be particular (i e with reference to a single case) or general (i e with reference to any case or any class of case, e g, actions against debtors for payment)."

26.

Die derde handboekverwysing waarop die betoog wil steun, LAWSA Vol 4 para 276 op p 254, loënstraf dit ewe ondubbelsinnig.

"Representation of companies in court As it is a legal persona, a company sues and is sued in its own name. However, being an 'artificial' or 'fictitious' entity, a company cannot institute or defend any legal proceedings without human assistance; it obviously cannot physically appear in court and must therefore be represented by a natural person. Two questions arise: firstly, who has authority to bring or defend proceedings and secondly, who may appear in court on the company's behalf?
Almost invariably the board of directors has the power to authorize the participation of the company in litigation. This does not mean that each and every law suit must be specifically authorized by a resolution of the board. It would be absurd if the directors were required to summon a meeting whenever the company wished, for instance, to take action for the recovery of a trade debt. Thus it is common practïce for boards to delegate authority to other persons, for instance the managing director, the secretary, a manager or other officer of the company."

Die regterlike gesag wat ter ondersteuning

van die betoog aangehaal word, baat dit ook nie. In

27.

Langeberg Kooperasie Bpk v Folscher and Another 1950

(2) SA 618 (K) het dit gegaan om die locus standi van 'n
werknemer om 'n aansoek in naam van sy werkgewer te
bring. Afgesien van ander tekortkominge in die
applikant se stukke, was daar geen direksiebesluit ter
magtiging van die gedingvoering nie. Die geleerde
regter ontleed die betrokke bepaling in die applikant
se regulasies en beslis dat daarluidens direksie-
magtiging 'n voorvereiste tot litigasie in naam van die
applikant was. Teenstelling van die feite in daardie
saak met dié in die onáerhawige onderstreep die
onhoudbaarheid van die betoog namens applikant. Hier
het 'n amptenaar nie op eie houtjie en sonder
voorafverkreë direksiemagtiging tot gedingvoering
oorgegaan nie. Inteendeel respondent se raad van
direkteure het op 16 Februarie 1989 soos volg besluit:

"DAT in alle gevalle waar bedrae aan WP (Koöperatief) Beperk verskuldig is, van watter aard ook al, waar die Hoofbestuurder en/of die Adjunk-Hoofbestuurder en/of die Kredietbestuurder of hulle ampsopvolgers dit

28.

nodig ag om geregtelike stappe van invorder-ing vir gemelde skulde teen die betrokke persone of regspersone in te stel, enigeen van bogenoemde amptenare gemagtig is om enige prokurasie of. ander dokumente wat in die regsproses nodig mag wees te teken, asook aansoeke by enige Hooggeregshof te doen vir die Sekwestrasie van sodanige persone of boedels, of vir die likwidasie van regspersone."

Die aard en omvang van die aldus gedelegeerde
bevoegdhede is duidelik. Die openingsin van die
besluit stel dit pertinent dat dit gaan om bedrae wat
aan respondent verskuldig is. Die besluitnemings-
bevoegdheid het dan betrekking op "geregtelike stappe
van invordering vir gemelde skulde teen die betrokke
persone of-regspersone ... asook aansoeke ... vir die

sekwestrasie van sodanige persone of boedels ...". Van
Tonder se posbenaming het wel tussen die betrokke
direksiebesluit en die aflegging van sy eedsverklaring
verander maar dis duidelik dat die besluit ook op hom

betrekking het. Die aansoek wat hy in naam van

respondent gebring het, val gevolglik vierkantig binne

29.

die verleende bevoegdheidsveld.

Die betoog namens applikant gaan egter 'n stap

verder. Daar word naamlik aangevoer dat die Wet h
kooperasie se raad van direkteure verbied om hoegenaamd
aan 'n werknemer 'n besluitnemingsbevoegdheid ten aansien
van gedingvoering te delegeer. Sodanige verbod word
gesien in art 107(1) van die Wet, gelees in sy same-
hang. Die subartikel lui so:

"Die sake van 'n kooperasie word bestuur en beheer deur 'n raad van direkteure, wat die bevoegdhede en pligte van die kooperasie behoudens die bepalings van hierdie Wet en die statuut van die kooperasie uitoefen en verrig."

Die daaropvolgende artikels bevat dan 'n aantal
voorskrifte met betrekking tot direkteure, hul
kwalifikasies, ampsontruiming, raadsvergaderings en
dies meer. In sodanige samehang word dan in art 115(1)

soos volg bepaal:

"Die raad van direkteure van 'n kooperasie kan behoudens die beperkings en kwalifikasies in die statuut van die kooperasie uiteengesit enige van sy bevoegdhede, met inbegrip van

30.

die bevoegdhede wat hy kragtens artikel 107(1) kan uitoefen, aan 'n direkteur of 'n komitee van direkteure delegeer of 'n direk-teur of so 'n komitee magtig om 'n plig van die raad te verrig of as verteenwoordiger of agent van die kooperasie op te tree."

Na luid van die betoog was dit die Wetgewer se
bedoeling dat 'n kooperasie se direkteure ten nouste
betrokke moet wees by die bestuur van hul kooperasie se
sake - 'n sogenaamde "hands on"-beleid. Daarom dan die
bepalings van art 115(1), wat magtiging verleen vir
slegs een vorm van delegering van bestuursbevoegdhede:
naamlik aan 'n komitee of lid van die raad.

Die submissie verg dat daar in art 115(1 )

woorde ingelees word wat nie daar staan nie. Daar is
geen uitdruklike verbod op die delegering van
bevoegdhede aan iemand anders , dan 'n komitee of
direkteur nie. Ek meen ook nie dat behoorlike uitleg
van die subartikel verlang dat sodanige verbod geag

moet word noodwendig daarby inbegrepe te wees nie. Op

die oog af is dit 'n magtigende bepaling waarby die raad
31.
se bevoegdhede uitgebrei word en nie ingekort nie.
Volgens die gewone betekenis van die woorde, veroorloof
dit 'n kooperasie se raád om na goeddunke vah sy
bestuurs- en beheersfunksies aan 'n komiteé of lid toe
te vertrou. Aldus uitgelê dui dit op niks meer as 'n toelaatbare werkwyse nie.

Word daar dan na die samehang gekyk, is sodanige uitleg des te duideliker. Luidens art 49(1) staan dit 'n kooperasie vry om 'n magdom bevoegdhede uif te oefen. Mits sy statuut dit magtig, kan 'n kooperasie' takke en depots stig (art 106). Die beheer en bestuur oor sodanige bedrywighede word dan in art 107(1) aan die raad van direkteure toevertrou. Dit kon nouliks die bedoeling van die wetgewer gewees het dat die direksie, self of deur 'n by art 115(1) benoemde, iedere litigasiebesluit ten aansien van so 'n omvangryke besigheid moet neem. Kontekstuele beskouing van art 115(1 ) lei dus ook tot die slotsom dat dit niks meer voorskryf as wat daarin staan nie.

32.

Die konklusie is dus dat Van Tonder ten tye van die instelling van die sekwestrasie-aansoek teen applikant behoorlik daartoe gemagtig was deur die direksiebesluit van 16 Februarie 1989. Dit sou gevolglik vrugteloos wees om kondonasie te verleen vir die laat indiening van applikant se prokurasie.
Vanweë die feit dat die meriete van die beoogde appèl volledig betoog is en geblyk het deurs-laggewend te wees by die weiering van kondonasie is dit vanpas om 'n soortgelyke kostebevel te maak as dié in Reinecke en 'n ander v Nel en 'n ander 1984 (1) SA 820 (A) op 836F, en die aldaar vermelde sake. Daar word bygevolg soos volg gelas:

1. Die aansoek om kondonasie vir die laat indiening van applikant se prokurasie word met koste afgewys.
2. Die koste verbonde aan die appèl word aan respondent toegeken.
3.In albei gevalle word die koste verbonde aan

33.

die indiensneming van twee advokate toegelaat. 4. Sodanige koste is koste.in die sekwestrasie.

KRIEGLER WN AR

HOEXTER AR

E.M. GROSSKOPF AR
STEM SAAM NESTADT AR

MILNE AR