South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2016 >> [2016] ZAFSHC 175

| Noteup | LawCite

Botes v Country Bird (EDMS) Bpk (818/2006) [2016] ZAFSHC 175 (16 May 2016)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

VRYSTAATSE AFDELING, BLOEMFONTEIN

 

Saaknommer:  818/2006

In die saak tussen:-

 

FREDERICH FERDINAND BOTES                                                                            Eiser

en

COUNTRY BIRD (EDMS) BPK                                                                        Verweerder

 

CORAM:                          VAN ZYL, R

GELEWER OP:            16 MEI 2016

 

Agtergrond en Pleitstukke

[1] Hierdie is `n aksie vir skadevergoeding voortspruitend uit beweerde kontrakbreuk deur verweerder ten opsigte van ‘n skriftelike kontrak gesluit tussen die partye op of omtrent 31 Augustus 2000 te Jacobsdal (“die kontrak”).  Ten tyde van die sluiting van die kontrak het eiser persoonlik opgetree, terwyl verweerder deur ene Mnr Hodgson verteenwoordig was.  ‘n Afskrif van die kontrak is aangeheg tot die besonderhede van vordering.

[2] Die partye het ten tyde van hul Reël 37(4)-samesprekings ooreengekom dat kwantum en meriete geskei word en voorts ooreengekom wat die geskilpunte rakende die meriete is.  Ek het dus by die aanvang van die verhoor ooreenkomstig die bepalings van Hofreël 33(4) by ooreenkoms tussen die partye gelas dat kwantum en meriete geskei word en dat die meriete van die aksie ooreenkomstig paragraaf  2.2 van eiser se tweede Reël 37(4) Vraelys gedateer 15 September 2014, eerste bereg word.  Voormelde paragraaf 2.2 lees as volg:

Die enigste relevante geskilpunte, rakende die meriete, is vervat in paragrawe 3.5.4, 3.5.5, 4, 5.1, 5.2, 6, 7.1, 7.2 en 7.3 van eiser se besonderhede van vordering gelees met die relevante paragrawe van verweerder se pleit op hierdie paragrawe.”

[3] By die sluiting van eiser se saak het Mnr Oosthuizen, namens verweerder, aansoek gedoen om absolusie van die instansie (“die absolusie aansoek”). Ek het daardie aansoek bereg en `n volledige uitspraak daarin gelewer (“die absolusie uitspraak”). Ek sal hieronder na die inhoud van daardie bevel verwys.

[4] Die inhoud van die pleitstukke het van meet af aan `n wesenlike rol in die beregting van hierdie aksie gespeel, ook reeds ten tyde van die beregting van die absolusie aansoek. Hoewel ek dus reeds in die absolusie uitspraak op volledige wyse met die inhoud van die pleitstukke gehandel het, ag ek dit nodig om die tersaaklike gedeeltes van die pleitstukke hierin te herhaal, veral gegewe sekere submissies wat Mnr Oosthuizen aan my voorgehou het met betrekking tot die interpretasie van die pleitstukke (waarmee ek later sal handel). Mnr Claasen, namens eiser, het nadat Mnr Oosthuizen reeds die absolusie aansoek geloods het, aansoek gedoen om die besonderhede van vordering te wysig deur paragrawe 4.2 tot 4.4 daartoe by te voeg. Die aansoek was ongeopponeerd en het ek die wysiging dienooreenkomstig toegestaan. Verweerder het in reaksie daarop die verweerskrif ook gewysig. Paragraaf 7.2 van die besonderhede van vordering is ook later gewysig deur “aanhangsel ‘C’” na “aanhangsel ‘E’” te wysig. Ook die verweerskrif was later gewysig deur die datum gepleit in paragraaf 6.5 daarvan te wysig na 10 Februarie 2004. Die tersaaklike paragrawe van die gewysigde besonderhede van vordering lees as volg:

3.5 Eiser verwys na (die kontrak) asof hierin volledig herhaal is.  Onder andere bepaal (die kontrak):

3.5.1 dat die ooreenkoms vir ‘n aanvanklike periode van vyf jaar aangegaan word beginnende op 31 Augustus 2000;

3.5.2 na vyf jaar sal die kontrak vir ‘n onbepaalde periode voortduur met die reg van wedersydse skriftelike opsegging van ses kalendermaande;

3.5.3 kragtens die ooreenkoms sou eiser kuikens ontvang vanaf verweerder en grootmaak en aan verweerder lewer teen ‘n ooreengekome berekende bedrag;

3.5.4 verweerder sou aan eiser betaling laat geskied in ooreenstemming met die kontrak en na aftrekking van die kostestruktuur, wat die vervoerkoste soos prys van kuikens en die prys van voer insluit; (sic)

3.5.5 verweerder mag die kostestruktuur rakende prys van kuikens en vervoerkoste jaarliks aanpas met die voorbehoud dat dit nie eiser se winsmarge mag erodeer nie.

4.

4.1 Op of omtrent Februarie 2004 het verweerder die kostestruktuur aangepas en op so ‘n wyse dat dit eiser se winsmarge totaal erodeer het.

4.2 Alternatiewelik tot 4.1 het die verweerder die kostestruktuur met betrekking tot die vervoerkoste van braaikuikens, wat tot ongeveer Februarie 2004, op ‘n eenvormige basis, met kruissubsidiëring deur alle kontrakgroeiers betaal is, gewysig;

4.3 Die wysiging het behels dat die eenvormige kostestruktuur gewysig is, sodat elke kontrakgroeier sy eie daadwerklike vervoerkoste van braaikuikens betaal, sonder enige kruissubsidiëring.

4.4 Voormelde stel wesenlike kontrakbreuk daar wat Eiser geregtig gemaak het om die kontrak te kanselleer.

5.

5.1  Op 10 Maart 2004 en 16 Maart 2004 het eiser skriftelik aan verweerder kennis gegee dat hierdie aanpassings van die kostestruktuur ‘n netto-verlies veroorsaak en dit vir eiser onmoontlik maak om aan te gaan. Op 3 Augustus 2004 het eiser se prokureur skriftelik aan verweerder berig dat hierdie wysiging van die kostestruktuur wat eiser se winsmarge totaal erodeer het, kontrakbreuk daarstel.  Afskrifte van hierdie skriftelike kennisgewings word hierby aangeheg, gemerk Aanhangsels “B”, “C” en “D” onderskeidelik.

5.2  In ‘n ongedateerde skrywe waarin verweerder antwoord op Aanhangsels “B” en “C” hierbo na verwys, bevestig verweerder dat dit nie meer vir eiser of vir verweerder lonend sal wees om met die ooreenkoms voort te gaan nie en deel verweerder vir eiser mee dat hierdie siklus (siklus 109) as eiser se laaste siklus beskou sal word en dat verweerder geen verdere kuikens by eiser sal plaas nie.  Hierdie skrywe van verweerder word hierby aangeheg, gemerk Aanhangsel “E”. 

6.

Verweerder het versuim om eiser tegemoet te kom of hierdie kostestruktuur te wysig sodat dit nie eiser se winsmarge erodeer nie.

7.

7.1 Verweerder het versuim om hierdie kontrakbreuk tydig of enigsins te remedieer nieteenstaande die voorafgaande skriftelike kennisgewings.

7.2 Volgens Aanhangsel “E” het verweerder ondubbelsinnig kennis gegee van sy bedoeling om nie sy verpligtinge in terme van die kontrak na te kom nie of dat die kontrak beëindig is, en het verweerder daardeur die kontrak beëindig.

7.3 Eiser het hierdie repudiëring van die kontrak deur verweerder aanvaar, alternatiewelik die kontrak gekanselleer, alternatiewelik word dit hiermee gekanselleer.

7.4 Weens verweerder se kontrakbreuk het eiser skade gely....”

[5] Bogemelde aangehaalde paragrawe 3.5.4 tot 4.1 van die gewysigde besonderhede van vordering is deur verweerder in sy gewysigde verweerskrif ontken.  Addisioneel daartoe het verweerder, onder andere, met verwysing na klousule 10.4 van die kontrak (wat in paragraaf 6.1.9  van die gewysigde verweerskrif aangehaal is) ook gepleit dat op ‘n behoorlike interpretasie van die kontrak:

6.2.1  The ‘costs’, referred to in paragraph 6.1.9 above, do not include the transport cost of feed and broiler chickens from the plaintiff’s premises to the defendant’s abattoir;

6.2.2   The provisions of clause 10.4 of the agreement (as set out in paragraph 6.1.9 above) have no bearing on the transport costs of feed and broiler chickens;

6.2.3   The provisions of clause 10.4 of the agreement (as set out in paragraph 6.1.9 above) is only applicable if the defendant unilaterally amends the costs, as set out in Annexure “A” and not under circumstances where such costs are amended by agreement between the parties.”

In die alternatief het verweerder bewerings gepleit ter ondersteuning van ‘n vordering van rektifikasie ten opsigte van klousule 10.4. Voormelde klousulse 10.4 van die kontrak lees as volg:

Country Bird will be entitled to amend the costs as set out in Annexure “A” annually on the first day of Country Bird’s financial year in order to bring it in line with general industry standards, based on genetic and technical progress.  The producer’s profit margin will not be eroded provided that his performance improves in line with the industry progress.  Country Bird shall notify the producer of any such amendment not later than 1 (one) month prior to the implementation date of such amendment.”

[6] Verdermeer het verweerder as volg in paragrawe 6.3 tot 6.8 van die gewysigde verweerskrif gepleit:

6.3  The plaintiff was at all relevant times a member of the Contract Growers Association, being a voluntary organisation that represented the producers of broiler chickens in terms of agreements with the defendant.

6.4 Until or about 2 February 2004 all members of the Contract Growers Association paid from time to time a fixed amount per broiler chicken in respect of transport costs from the producers’ premises to the defendant’s abattoir, which resulted in a subsidization of transport costs by those producers that live nearest to the abattoir to those producers that live furthest from the abattoir.

6.5 On or about 10 February 2004 the Contract Growers Association, duly represented by the committee of the Contract Growers Association, and the defendant reached agreement that with effect from 2 February 2004:

6.5.1 no cross subsidization of feed and transport costs would take place;

6.5.2 each producer would be responsible for his own actual transport costs of feed and broiler chickens from the producers’ premises to the defendant’s abattoir.

6.6 The said agreement was reduced to writing and was signed by the defendant and the chairman of the Contract Growers Association for and on behalf of, inter alia the plaintiff.  Copies of a letter by the defendant to the Contract Growers Association, dated 11 February 2004, and by the chairman of Contract Growers Association to the defendant, dated 15 February 2004, are attached hereto, marked annexures “X2” and “X3”.

6.7 The terms of the agreement were accordingly effectively amended with effect from 2 February 2004 and as set out in paragraph 6.5 above.

6.8 The defendant was accordingly entitled with effect from 2 February 2004 to debit the plaintiff’s account in the defendant’s books with the actual transport costs of feed and Broiler Chickens from the plaintiff’s premises to the defendant’s abattoir.”

[7] Ek het vir die redes in die absolusie uitspraak vermeld, die volgende tersaaklike bevele in die absolusie aansoek  gemaak:

1. Die aansoek om absolusie van die instansie word toegestaan ten opsigte van die hoofvordering vervat in paragraaf 4.1 van die besonderhede van vordering.

2. Die aansoek om absolusie van die instansie word van die hand gewys ten opsigte van die alternatiewe vordering vervat in die res van paragraaf 4 van die besonderhede van vordering.

3. Die koste van die aansoek om absolusie van die instansie staan oor vir latere beregting.”

[8] Die eiser het self getuig.  Mnr Derick Hodgson, wie die kontrak namens verweerder onderteken het en gedurende die tydperk van 2000 tot 2004 die kontrakgroei bestuurder van verweerder was, het namens verweerder getuig.  Mnr J. H. van Rensburg het ook namens verweerder getuig.  Hy was gedurende 2000 tot 2004 as die verteenwoordiger van ‘n kontrakgroeier van verweerder betrokke, deurdat hy die plaasbestuurder van twee vennote was, welke vennootskap die werksaamhede van ‘n kontrakgroeier verrig het.  Hy was van meet af aan ‘n lid van die Kontrakgroeiers Assosiasie en is gedurende 2003 tot voorsitter van die komitee van die Assosiasie verkies.  Addisioneel tot die viva voce getuienis, het die partye ook by ooreenkoms by die aanvang van die verhoor ‘n verhoorbundel voor die hof geplaas, welke ontvang was as bewysstuk “A”.

Ek is nie voornemens om opsommenderwys die getuienis van die onderskeie getuies hierin te herhaal nie.  Ek sal met die tersaaklike gedeeltes van die getuienis handel soos en wanneer ek spesifieke aspekte van die saak hanteer.

[9] Die kern van die dispuut tussen die partye handel oor die vervoerkoste van die braaikuikens vanaf die kontrakgroeiers se onderskeie persele tot by verweerder se abattoir.  Dit is gemeensaak tussen die partye dat op die stadium wat die partye die kontrak gesluit het, voormelde koste op die basis van kruissubsidiëring deur al die kontrakgroeiers betaal was.  Dit het tot gevolg gehad dat elke kontrakgroeier dieselfde tarief betaal het ongeag hoe ver sy/haar perseel vanaf die abattoir geleë was.  Dit is voorts gemeensaak dat gedurende die tydperk wat daar wel uitvoering aan die kontrak gegee was tussen die partye, voormelde vervoerkoste van tyd tot tyd verhoog en verlaag was deur verweerder (maar steeds op die basis van kruissubsidiëring), waaraan eiser hom gebonde geag het en dit aldus betaal het.  Dit is verder gemeensaak dat die kostestruktuur gedurende Februarie 2004 (met siklus 109) gewysig was tot dien effekte dat daar geen kruissubsidiëring meer bestaan het nie en elke kontrakgroeier die daadwerklike vervoerkoste moes betaal gebaseer op die afstand van sy/haar perseel vanaf die abattoir.  Aangesien eiser se perseel te Jacobsdal relatief ver geleë was vanaf verweerder se abattoir te Botshabelo, het dit tot gevolg gehad dat die vervoerkoste wat eiser moes betaal, drasties verhoog het.

 

Was kruissubsidiëring ‘n term van die kontrak

[10] Die essensie van eiser se vordering wat tans nog voor die hof dien (die “alternatiewe vordering” waarna in die bevel in die absolusie aansoek verwys is), is dat voormelde wysiging van die eenvormige kostestruktuur wat deur alle kontrakgroeiers betaal was ten opsigte van die vervoerkoste van die braaikuikens, wesenlike kontrakbreuk daargestel het wat eiser geregtig gemaak het om die kontrak te kanselleer.

[11] Vir eiser om suksesvol te wees met hierdie vordering, moet eiser uiteraard bewys dat die toepassing van kruissubsidiëring ten opsigte van die vervoerkoste van die braaikuikens ‘n term van die kontrak was.  Ek het reeds in die absolusie uitspraak gehandel met die feit dat geen sodanige term, hetsy uitdruklik of stilswyend, pertinent deur eiser in die besonderhede van vordering gepleit is nie.  Ek het verwys na die uitspraak in Minister of Safety and Security v Slabbert [2010] 2 All SA 474 (SCA) op 474, para [12], waarin as volg beslis is:

There are, however, circumstances in which a party may be allowed to rely on an issue which was not covered by the pleadings. This occurs where the issue in question has been canvassed fully by both sides at the trial. In South British Insurance Co Ltd v Unicorn Shipping Lines (Pty) Ltd, this Court said:

However, the absence of such an averment in the pleadings would not necessarily be fatal if the point was fully canvassed in evidence. This means fully canvassed by both sides in the sense that the Court was expected to pronounce upon it as an issue.’”

Ek het ook verwys na die volgende passasie in Erasmus Superior Court Practice, D.E. van Loggerenberg, op RS2, 2016, D1-229:

However, since pleadings are made for the court, not the court for pleadings, it is the duty of the court to determine what are the real issues between the parties and, provided no possible prejudice can be caused to either party, to decide the case on these real issues. In this regard the court has a wide discretion. The court must look at the substantial issue between the parties and not blindly follow the ipsissima verba of the pleadings. The Appellate Division has, however, warned that parties should not be encouraged to rely on the court’s readiness to consider and deal with unpleaded issues. The cardinal rules in regard to pleadings should be properly observed, and the trial should not be allowed to become a ‘free for all’ with a complete disregard of the issues raised on the pleadings.

The court is not bound by the pleadings if the parties themselves at the trial enlarge the issues. The general principle is that the parties will be held to the issues pleaded unless there has been a full investigation of a matter falling outside the pleadings and there is no reasonable ground for thinking that further examinations of the facts might lead to a different conclusion.”

Ek het toe tot die gevolgtrekking gekom dat die aspek “fully canvassed”  was deur eiser se getuienis, beide in hoof- en in kruisverhoor en dat daar geen benadling kan wees indien die aspek wel bereg word nie.  Ek volstaan steeds met daardie gevolgtrekking van my.  Die aspek was daaropvolgend na die afhandeling van die absolusie aansoek ook volledig mee gehandel in die getuienis van Mnr Hodgson en Mnr Van Rensburg.  Onder sodanige omstandighede is ek steeds van mening dat verweerder geensins benadeel kan word deur die beregting van hierdie aspek nie, hoewel dit nie spesifiek as ‘n term van die kontrak in die besonderhede van vordering gepleit is nie.  Dit vorm die spilpunt van die geskil tussen die partye, soos dit deurlopend  uit al die getuienis geblyk het, en is dit dus in die belang van geregtigheid dat dit wel bereg moet word.

[12] Eiser steun daarop dat dit ‘n stilswyende term van die kontrak is dat kruissubsidiëring die basis van die berekening van die vervoerkoste van die braaikuikens is.  Mnr Oosthuizen het betoog dat eiser hom nie van sy bewyslas in die verband gekwyt het nie. Hy het aan die hand gedoen dat die feit dat kruissubsidiëring wel toegepas was, nie outomaties tot gevolg het dat dit `n kontraktuele term was dat dit moet geld nie.

[13] Ten einde bogemelde te beslis, moet die tersaaklike vereistes ten opsigte van die bewys van die bestaan van ‘n beweerde stilswyende term in ‘n kontrak, in ag geneem word. ‘n Stilswyende term, d.w.s. ‘n term wat deur die feite geïmpliseer word, is as volg beskryf en mee gehandel in Alfred Mcalpine & Son (Pty) Ltd v Transvaal Provincial Administration 1974 (3) SA 506 (A) op 531H – 533B, na welke uitspraak Mnr Oosthuizen in sy betoog verwys het:

. . . an unexpressed provision of the contract which derives from the common intention of the parties, as inferred by the Court from the express terms of the contract and the surrounding circumstances. In supplying such an implied term the Court, in truth, declares the whole contract entered into by the parties. In this connection the concept, common intention of the parties, comprehends, it would seem, not only the actual intention but also an imputed intention. In other words, the Court implies not only terms which the parties must actually have had in mind but did not trouble to express but also terms which the parties, whether or not they actually had them in mind, would have expressed if the question, or the situation requiring the term, had been drawn to their attention…This same general concept would appear to underline the following dictum of VAN DEN HEEVER, J.A., in Van der Merwe v Viljoen, 1953 (1) SA 60 (AD) at p. 65:

Die uitdrukking 'stilswyende beding' dui reeds daarop dat dit iets moet wees wat die partye bedoel het, of geag moet word te bedoel het, maar waaraan hulle geen uiting gegee het nie.’

The Court does not readily import a tacit term. It cannot make contracts for people; nor can it supplement the agreement of the parties merely because it might be reasonable to do so. Before it can imply a tacit term the Court must be satisfied, upon a consideration in a reasonable and businesslike manner of the terms of the contract and the admissible evidence of surrounding circumstances that an implication necessarily arises that the parties intended to contract on the basis of the suggested term. (See Mullin (Pty.) Ltd. v Benade Ltd., 1952 (1) SA 211 (AD) at pp. 214 - 5, and the authorities there cited; S.A. Mutual Aid Society v Cape Town Chamber of Commerce, 1962 (1) SA 598 (AD)). The practical test to be applied - and one which has been consistently approved and adopted in this Court - is that formulated by SCRUTTON, L.J., in the well-known case of Reigate v Union Manufacturing Co., 118 L.T. 479 at p. 483:

You must only imply a term if it is necessary in the business sense to give efficacy to the contract; that is, if it is such a term that you can be confident that if at the time the contract was being negotiated someone had said to the parties: “What will happen in such a case?” they would have both replied: “Of course, so-and-so. We did not trouble to say that; it is too clear.’

This is often referred to as the ‘bystander test’.”

Mnr Oosthuizen het ook na die uitspraak in Wilkins NO v Voges [1994] ZASCA 53; 1994 (3) SA 130 (AD) verwys, waarin as volg beslis is op 136H – 137C:

A tacit term, one so self-evident as to go without saying, can be actual or imputed. It is actual if both parties thought about a matter which is pertinent but did not bother to declare their assent. It is imputed if they would have assented about such a matter if only they had thought about it - which they did not do because they overlooked a present fact or failed to anticipate a future one. Being unspoken, a tacit term is invariably a matter of inference. It is an inference as to what both parties must or would have had in mind. The inference must be a necessary one: after all, if several conceivable terms are all equally plausible, none of them can be said to be axiomatic. The inference can be drawn from the express terms and from admissible evidence of surrounding circumstances. The onus to prove the material from which the inference is to be drawn rests on the party seeking to rely on the tacit term. The practical test for determining what the parties would necessarily have agreed on the issue in dispute is the celebrated bystander test. Since one may assume that the parties to a commercial contract are intent on concluding a contract which functions efficiently, a term will readily be imported into a contract if it is necessary to ensure its business efficacy; conversely, it is unlikely that the parties would have been unanimous on both the need for and the content of a term, not expressed, when such a term is not necessary to render the contract fully functional. The above propositions, all in point, are established by or follow from numerous decisions of our Courts (see, for instance Rapp and Maister v Aronovsky 1943 WLD 68 at 75; Alfred McAlpine & Son (Pty) Ltd v Transvaal Provincial Administration 1974 (3) SA 506 (A); Delfs v Kuehne & Nagel (Pty) Ltd 1990 (1) SA 822 (A)).”

[14] In navolging van bogemelde regspraak, ag ek dit noodsaaklik om eers op die uitdruklike terme van die kontrak te let.

[15] In klousule 2.6.3 van die kontrak word daar verwys na ‘n dokument, “annexure ‘A’”, wat as volg gedefinieer word:

The document marked as such, attached hereto and which document sets out production standards, costs and the remuneration schedule.”

Ek sal na die dokument verwys as “aanhangsel  ‘A’”. Klousule 5.4 van die kontrak bevat die volgende verwysing na aanhangsel “A”:

Country Bird will produce day-old chickens and deliver same at the premises at the costs as specified in Annexure ‘A’ subject to the provisions of sub-clause 10.4 of this agreement.”

Klousule 10.1 van die kontrak bepaal as volg:

The producer is entitled to compensation for delivered broiler chickens, calculated on the nett weight thereof in accordance with the specific formula and by taking into account further costs, as set out in annexure ‘A’.”

Ek het reeds klousule 10.4 van die kontrak, wat ook na aanhangsel “A” verwys,  aangehaal. Ek sal later hierin ook na klousule 6.3.1 van die kontrak verwys.

[16] Uit die getuienis blyk dit onseker/in dispuut te wees of daar ‘n aanhangsel “A” tot die kontrak aangeheg was ten tyde van die ondertekening daarvan en indien wel, watter weergawe daarvan; alternatiewelik, na welke weergawe daarvan verwys was ten tyde van die verduideliking van die terme en die werking van die kontrak.  Dit het uit die totaliteit van die getuienis geblyk dat verweerder na elke groei-siklus aan elke kontrakgroeier (ingesluit eiser) ‘n verrekeningstaat verskaf het waarin alle tersaaklike inligting met betrekking tot die bepaalde siklus op ‘n gedetailleerde wyse uiteengesit was en ‘n berekening gedoen was van die bedrag wat verweerder aan sodanige kontrakgroeier (ingesluit eiser) verskuldig was vir daardie bepaalde siklus.  Aangeheg tot elke van hierdie verrekeningstate was ‘n aanhangsel “A” wat volledig voltooi was met die tersaaklike inligting, persentasies, getalle en bedrae van daardie siklus.  Aanhangsel “A” het dus telkens verskil van siklus tot siklus.  Daar is twee moontlike aanhangsel “A” dokumente wat in die getuienis geopper is as synde die tersaaklike aanhangsel “A” wat ter sprake was ten tyde van die kontraksluiting tussen die partye.  Die eerste hiervan verskyn op p. 34 van bewysstuk “A”, welke gedateer is 21 Augustus 2000.  Hierdie aanhangsel “A” blyk die “roneo” weergawe te wees deurdat dit wel al die inligting bevat met betrekking tot alle aspekte wat in berekening gebring word ten einde die vergoeding van ‘n kontrakgroeier te bepaal, maar dit bevat nie spesifieke getalle en berekende bedrae nie.  Daarenteen is daar aanhangsel “A” wat op p. 35 van bewysstuk “A” voorkom, gedateer 25 November 1999.  Hierdie aanhangsel “A” reflekteer berekenings gebaseer op die plasing van ‘n spesifieke hoeveelheid kuikens en verdere berekeninge wat duidelik gebaseer is op werklike syfers wat in die geval van daardie bepaalde kontrakgroeier ten opsigte van daardie bepaalde siklus gedurende 1999 van toepassing was.

[17] Uit eiser se getuienis blyk dit dat ene Mnr Jacobs, ‘n verteenwoordiger van verweerder, hom gedurende 2000 by sy perseel besoek het en hulle samesprekings gevoer het, waartydens Mnr Jacobs ‘n blanko kontrak aan eiser verskaf het wat hy intussen kon bestudeer.  Volgens eiser was daar geen aanhangsel “A” aangeheg tot daardie blanko kontrak nie.  Nadat eiser reeds twee siklusse dagoud kuikens vanaf verweerder ontvang het en die braaikuikens aan verweerder gelewer het, het eiser verweerder gekontak aangesien eiser nog nie oor ‘n getekende kontrak met verweerder beskik het nie.  Mnr Hodgson het daarop met ‘n besoek aan eiser se perseel vir hom ‘n kontrak gebring, welke kontrak toe deur die partye onderteken is.  Eiser is onseker of daar ‘n aanhangsel “A” aangeheg was tot die kontrak toe hy dit onderteken het, aangesien hy nie op daardie stadium ‘n afskrif van die kontrak ontvang het nie.  Wat betref aanhangsel “A” wat op p. 35 van bewysstuk “A” voorkom, is dit eiser se getuienis dat dit ‘n dokument is wat hy op ‘n stadium vanaf Mnr Danie Delport, vir wie hy voorheen kuikens groot gemaak het, ontvang het toe Mnr Delport aan hom verduidelik het hoe die proses met verweerder werk.

Aldus die getuienis van Mnr Hodgson het hy telkens wanneer hy met ‘n kontrakgroeier onderhandel het oor die sluiting van ‘n moontlike kontrak, ‘n nuut-opgedateerde aanhangsel “A” met hom saamgeneem wat hy gebruik het om aan die potensiële kontrakgroeier te verduidelik hoe die koste- en betalingsstruktuur werk.  Sodanige aanhangsel “A” was egter nie fisies aan die kontrak geheg nie.  Volgens Mnr Hodgson is hy oortuig dat hy nie die roneo vorm op p.34 van bewysstuk “A” sou gebruik het ten tyde van sy verduidelikings aan eiser nie.  Hy sou, aldus sy getuienis,  egter ook nie van aanhangsel “A” op p. 35 van bewysstuk “A” gebruik gemaak het nie, aangesien dit gedateer is 25 November 1999 en daar veranderde waardes en kostes sedertdien sou kon intree gegewe dat die kontrak tussen die partye eers gedurende Augustus 2000 gesluit was.  Volgens hom sou hy egter van ‘n soortgelyke een gebruik gemaak het, wat inderdaad voorsiening maak vir die plasing van ‘n bepaalde hoeveelheid kuikens en dan die tersaaklike getalle, waardes, kostes en berekeninge reflekteer soos wat dit van toepassing was gedurende of omtrent Augustus 2000. 

[18] Na my mening blyk dit duidelik uit die terme van die kontrak wat ek hierbo aangehaal het, dat ‘n dokument getiteld aanhangsel “A” deel gevorm het van die kontrak, welke dokument die produksiestandaarde, kostestruktuur, betalingsstruktuur, ens uiteensit (die “vergoedingsstruktuur”).  Volgens Mnr Hodgson se eie getuienis sou dit ‘n aanhangsel “A” wees wat die tersaaklike waardes en kostes reflekteer soos dit van toepassing was op datum van kontraksluiting.  Gegewe dat aanhangsel “A” wat op p.34 van bewysstuk “A” voorkom gedateer is 21 Augustus 2000, synde dieselfde maand en jaar as waarop die partye die kontrak gesluit het, meen ek dat dit uit die totaliteit van die getuienis op ‘n oorwig van waarskynlikhede blyk dat die vergoedingsstruktuur wat daarop aangetoon word, heersend en van toepassing was op die datum van kontraksluiting tussen die partye.  Derhalwe aanvaar ek dit as bewese dat die aftrekkings soos gereflekteer in die sewende kolom op aanhangsel “A” op p. 34 van bewysstuk “A”, op datum van kontraksluiting die tersaaklike “deductions” was:

7.1 Day-old chicks:  Actual expense as financed by Country Bird (amount will change with price fluxuations).

7.2  Feed:  Actual expense as financed by Country Bird (amount will change with price fluxuations).

7.3  Medication/Vaccines:  Actual expense as financed by Country Bird (amount will change with price fluxuation).

7.4  Transport:  R0.129 per broiler (amount will change with price fluxuations).

7.5  Catching:  R0.07 per broiler.

7.6  Cleaning materials:  Actual expense as financed by Country Bird (amount will change with price fluxuations).”

[19] Mnr Oosthuizen het die eiser gekruisverhoor, onder andere,  met verwysing na klousule 6.3.1 van die kontrak, wat as volg lees:

All disbursement for a specific growth cycle in respect of the purchase price of the day-old chickens (which will include inoculation and transport costs) as well as the purchase of feed, cleaning materials, poultry medication and vaccines (“the production means”) will be debited to the account of the producer by Country Bird from time to time at the prevailing costs of such means.”  (Eie beklemtoning)

Die kruisverhoor was op die basis dat die vervoerkoste van die braaikuikens ook “production means” is en dat dit dus ook ooreenkomstig “the prevailing costs” bereken moet word.  Mnr Oosthuizen het daarop ten tyde van sy betoog aangevoer dat klousule 6.3.1 se uitdruklike bewoording dus nie ruimte laat vir `n stilswyende term dat die vervoerkoste van die braaikuikens op ‘n ander basis bereken moet word nie.

[20] Ek kan egter nie met voormelde betoog van Mnr Oosthuizen saamstem nie.  Wanneer die aftrekkings wat in klousule 6.3.1 vergelyk word met die aftrekkings wat in paragraaf 7 van aanhangsel “A” voorkom, blyk dit dat die vervoerkoste van die braaikuikens, 7.4, en die vang van die braaikuikens, 7.5, die twee uitgawes is wat nie in klousule 6.3.1. vermeld word nie.  Dit is júís die twee uitgawes wat by wyse van ‘n spesifieke prys op aanhangsel “A” aangedui word met geen verwysing na “actual expense” nie.  By ‘n behoorlike uitleg van klousule 6.3.1 van die kontrak blyk die vervoerkoste van die braaikuikens dus by implikasie uitdruklik uitgesluit te wees van die omskrywing van “production means” en voorts ook uitgesluit te wees van `n berekening op die basis van “prevailing costs” en/of “actual expense”.  

[21] Ek handel vervolgens met die getuienis ten opsigte van die omringende omstandighdede. Volgens eiser se getuienis was die vervoerkoste van die braaikuikens ‘n wesenlike term van die kontrak.  Van meet af aan was dit ooreengekom dat verweerder die braaikuikens op eiser se plaas sou kom haal teen die koste wat op aanhangsel “A” verskyn, welke koste bereken was op die basis van kruissubsidiëring en dus vir al die kontrakgroeiers dieselfde was.  Eiser het getuig dat soos en wanneer daar ‘n verhoging of verlaging in die verskaffer se prys van vervoerkoste was, die bedrag in paragraaf 7.4 op aanhangsel “A” dienooreenkomstig verhoog of verlaag het, maar dat dit steeds deurentyd vir alle kontrakgroeiers `n eenvormige bedrag was.  Van eiser se verdere relevante getuienis in die verband was die volgende:

Maar u sê ten opsigte van die vervoer van die voer en die vervoer van die braaikuikens is dit nie ... moet nie die werklike koste wees nie? ----  Ek kry ‘n faktuur vir die prys van die dagoud kuikens wat gedebiteer word en ek kry ‘n faktuur vir alles gelewer en die vervoer bly ek staan daarop U Edele dat dit is die koste vir die vereniging van alle kontrakgroeiers is as dieselfde vasgestel deur Country Bird.  Ek kan nie saamstem dat dit die vervoer op werklike afstande van my abattoir af is nie.  Dit is verseker nie so nie want dan moes dit vanaf die eerste siklus noemenswaardig verskil het.  Al die siklusse is vervoer op ‘n eenvormige basis wat almal dieselfde basis en toe kom die uitsondering ...

Maar u sê dit is hoe die posisie aanvanklik was, hulle, die wat naby is, subsidieer vir u? ---  Country Bird, dit is korrek.  Hulle het met kontrakgroeiers ‘n kontrak gekontrakteer ten spyte van die feit waar hulle geleë is en dit is aan geen kontrakgroeier ooit uitgelig dat hy vanaf sy plaas na die abattoir ‘n ander koste sal moet betaal as wat al die ander kontrakgroeiers saam betaal nie.  Daar was kruissubsidiëring, maar dit was vir ons almal so aanvaarbaar ...” (Rekord, p.125 – p. 126)

[22] Na my mening is Mnr Hodgson se getuienis in hierdie verband essensieel en ag ek dit dus doelmatig om sekere gedeeltes daarvan ook hier aan te haal.  Gedurende kruisverhoor en met verwysing na sy vroeëre getuienis dat hy gebruik gemaak het van ‘n los aanhangsel “A” om aan die potensiële kontrakgroeier die inhoud en implikasies daarvan te verduidelik, het hy as volg getuig:

...Ja, ek kan met eerlikheid sê dit is hoe ek dit met almal gedoen het... So ek het dieselfde prosedure met almal gevolg.  Hier is die kontrak nog duidelik, so werk dit, so loop die kostes, dit kan jou moontlike inkomste wees.  So hy was nie vas nie.  Ek dink dit is ‘n tegniese punt.  Hy was nie vas aan nie.  Hy was nie vasgeheg nie, maar ek het hom so gehad.

So dit is met hom bespreek wat in daardie aanhangsel “A” van u gestaan het? --- Definitief.

En dit vorm deel van die kontrak wat u met hom bespreek het? --- Dit is reg.

Alhoewel hy nie aangeheg is nie? --- Dit is reg.” (Rekord, p. 284)

Ja? --- Want ons het in detail deur dit gegaan.

En die detail sluit in al die aftrekkings wat in daardie paragraaf 7 voorkom nè? --- Dit is reg, ja.” (Rekord, p. 288)

Wat belangrik is, is dat u met Mnr Botes onderhandel het en verduidelik het dat die transportkoste van braaikuikens vanaf Mnr Botes na die abattoir, dit sal hierdie bedrag wees van R0.129 per braaikuiken nè? --- Dit is heeltemal reg.” (Rekord, p. 291)

Kruisgesubsidieer word. --- Dit is reg, kruisgesubsidieer word.  Daar word nie na dit in die kontrak verwys nie.

Maar die feite was daar was gekruissubsidieer? --- Nee, dit was, ja.

En die feite is in daardie paragraaf 7 van aanhangsel “A” word spesifiek na ‘n prys verwys wat kruisgesubsidieer is.  U skud weer u kop net? --- Dit is reg.

En u het gesê dit is deel van die kontrak? --- Dit is reg.

En wanneer daar ‘n wysiging gekom het, is dit weereens eenvormig toegepas.  Met ander woorde kruissubsidiëring het bly geld? --- Ja.

Tot 2004 nou? --- Dit is reg.

Selfs toe dit per vrag ooreengekom is het kruissubsidiëring nog steeds gegeld? ---- Ja.

So u sal met my dan saamstem dat sedert 2000, 2001, 2002, 2003 en so ‘n stukkie van 2004 het almal geweet, die kontrakgroeiers ook, dat daar vind kruissubsidiëring plaas en dit is hoe die koste afgetrek word wat daardie aspek betref.  Daardie aspekte koste word afgetrek, maar as gevolg van die kruissubsidiëring is dit vir u wat ver is voordelig en die wat naby is minder? --- Ja.

Daar was geen onduidelikheid tussen die kontrakgroeiers en Country Bird dat dit die situasie is nie? --- Dit is reg.” (Rekord, p. 304)

En in hierdie aanhangsel “A” is daar ‘n verwysing na die vervoerkoste van die braaikuikens, wat dit is? ---- Dit is reg.

So vir al hierdie jare voor 2004 het, was die inhoud van die ooreenkoms tussen Country Bird en die groeier daar vind kruissubsidiëring plaas? ---- Ja.

En die effek daarvan is dat in jou berekening van die tjek wat jy aan die einde van die maand kry betaal almal dieselfde vervoerkoste per kuiken vanaf jou plaas na die abattoir toe? --- Dit is reg.” (Oorkonde p. 311 – p.312)

En dan die een, 7.4 die transport, dit is ook, in hierdie geval was dit R0,129 per broiler per braaikuiken maar kan ook wissel soos die pryse fluktueer, die petrol aanpas of duurder word? --- Dit is reg.

En Hestony vir julle meer vra? --- Dit is reg.

Want dit is ook ‘n term van die kontrak? --- Ja.” (Rekord, p. 313)

[23] Ook Mnr Van Rensburg het rondom hierdie aspek getuig:

... en u dra kennis van hierdie aanhangsel “A” by kontrakte, is dit reg? --- Ek dra kennis van die aanhangsel “A” van die kontrak.

Dit vorm ook deel van die kontrak tussen Country Bird en die kontrakgroeiers. --- Dit is korrek.

En van belang vir hierdie saak ... paragraaf 7 daar onder aan op bladsy 34 ... gehandel met die deductions ... en onder andere word daar ook met vervoer in paragraaf 7.4 gehandel. --- Dit is korrek.

...

En hier is die transportkoste per braaikuikens geïdentifiseer as R0,129 per kuiken. --- Dit is korrek.

Nou ons het al daardeur gegaan, hierdie bedrag is aangepas soos wat petrolprys of vervoerkoste gestyg het tot dit  later op ‘n stadium per vrag bepaal is.  ---- Dit is korrek.

Maar u weet ook as verteenwoordiger of as ‘n werkgewer van ‘n kontrakgroeier dat hierdie transportkoste tot en met 2000, die begin van 2004 het behels dat daar sogenaamde kruissubsidiëring plaasvind, met ander woorde alle kontrakgroeiers betaal dieselfde per braaikuiken. --- Dit is korrek.

En die logiese effek daarvan is dat daar prys subsidiëring is want die wat naby die abattoir is behoort eintlik minder te betaal omdat dit korter vervoer is as die een wat baie ver geleë is. --- Dit is korrek.

En dit is korrek dat Country Bird en elke kontrakgroeier het geweet dat daar kruissubsidiëring bestaan. --- Dit is korrek.

En dat daardie prys van vervoer wat in paragraaf 7.4 voorkom beteken dit is ‘n bedrag wat afgetrek gaan word maar dit gaan gepaard met kruissubsidiëring. --- Dit is korrek.” (Rekord, p. 382 – p.383)

[24] Na my mening blyk dit uit die totaliteit van bogemelde getuienis dat die kontrak verduidelik en voorgehou was aan eiser op die basis dat dit ‘n term van die kontrak is dat die vervoerkoste van die braaikuikens op die basis van kruissubsidiëring bereken word, met die gevolg dat elke kontrakgroeier dieselfde tarief betaal, ongeag hoe ver sy/haar perseel vanaf verweerder se abattoir geleë is.

[25] Addisioneel tot voormelde is dit noodsaaklik om in ag te neem dat die partye dit eens is dat wanneer die vervoerkoste van die braaikuikens bereken sou word op die basis van die werklike koste daarvan, met ander woorde sonder kruissubsidiëring, dit nie vir eiser ekonomies moontlik is om ooreenkomstig die bepalings van die kontrak ‘n kontrakgroeier van verweerder te wees nie.  Die bestaan van kruissubsidiëring as die basis waarop die vervoerkoste van die braaikuikens bereken word was dus essensieel ten einde die kontrak funksioneel en besigheids-effektief vir die partye te gemaak het.  Dit is dus na my mening by noodwendige implikasie verder aanduidend daarvan dat die partye bedoel het om die kontrak te sluit op die basis dat die vervoerkoste van die braaikuikens by wyse van van kruissubsidiëring bereken sal word.

[26] Uit die totaliteit van voormelde, is dit die noodwendige gevolgtrekking dat  die partye bedoel het om op daardie basis te kontrakteer. Dit blyk uit die omringende omstandighede, saamgelees met die bogemelde uitleg van klousule 6.3.1, saamgelees met aanhangsel “A” daartoe. Na my mening het die eiser hom dus van sy onus gekwyt om voormelde term as `n stilswyende term van die kontrak te bewys.

 

Wysiging deur middel van die Kontrakgroeiers Assosiasie

[27] Mnr Oosthuizen het in die alternatief betoog dat indien ek sou bevind dat die staking van kruissubsidiëring ten opsigte van die vervoerkoste van die braaikuikens ‘n wysiging van die kontrak daargestel het, dit by wyse van skriftelike ooreenkoms geskied het deur middel van die Kontrakgroeiers Assosiasie waarvan eiser lid was en aan wie se onderhandelinge en besluite eiser gebonde was, soos gepleit in paragrawe 6.3 tot 6.8 van die gewysigde verweerskrif.

[28] Dit het by die afsluiting van die getuienis geblyk dat die partye ad idem is (ten spyte van getuienis deur Mnr Van Rensburg tot die teendeel) dat die saak steeds bereg moet word op die basis soos ooreengekom ten tyde van die Reël 37 – samesprekings, synde dat dit verweerder se saak is dat die Kontrakgroeiers Assosiasie nie oor ‘n konstitusie beskik nie.  Mnr Oosthuizen en Mnr Claasen het voorts aangedui dat die partye ook ad idem is dat die bestaan van ‘n konstitusie nie ‘n voorvereiste is vir ‘n assosiasie om regspersoonlikheid te hê nie.

[29] Mnr Claasen het betoog dat verweerder die bewyslas dra met betrekking tot die bewerings vervat in paragrawe 6.3 tot 6.8 van die gewysigde verweerskrif, soos dit reeds eiser se standpunt was in die Reël 37-notule, gedateer 29 Julie 2008, paragraaf 6.7 op p. 103 van die pleitstukbundel.  Hierdie submissie van Mnr Claasen blyk na my mening korrek te wees.  Sien Cecil Nurse (Pty) Ltd v Nkola 2008 (2) SA 441 (SCA).

[30] Dit het ten tyde van sy betoog geblyk dat Mnr Claasen toegee dat die bestaan van die Kontrakgroeiers Assosiasie as ‘n regspersoon wel as bewese geag kan word. (Rekord, p. 433)

[31] Die volgende algemene beginsels ten opsigte van assosiasies is uiteengesit in LAWSA, 2de Uitgawe, Volume 1, paragrawe 619 tot 620 op p. 466 tot p. 467:

An association is founded on a basis of mutual agreement.  This entails that it will come into being if the individuals who propose forming it have the serious intention to associate and are in agreement on the essential characteristics and objectives of the universitas or unincorporated association.  The latter aspect is usually manifested by the approval and adoption of a constitution.  For practical purposes it is advisable, but not essential, to have a written constitution. … The constitution of an association together with all rules or regulations collectively constitutes the agreement which is entered into by its members.  … It not only determines the nature and scope of the association’s existence and activities but also, where necessary, prescribes and demarcates the powers of, inter alia, the executive committee, secretary and general meeting, expresses and regulates the rights of members and provides for certain procedural aspects. …”  (Eie beklemtoning)

[32] In die onderhawige geval het Mnr Van Rensburg getuig dat die doel van die Kontrakgroeiers Assosiasie was om as spreekbuis te dien vir die res van die kontrakgroeiers en onderhandelinge namens hulle te behartig.  Hy het dit voorts as volg verduidelik:

Daar sou onderhandel wees as wanneer daar veranderinge in die standaarde plaasvind op die betalingsstruktuur en wanneer die kontrakgroeiers voel dat hulle kostes nie meer gedek kan word deur die huidige betalingsstruktuur nie, dan sou die kontrakgroeiers komitee namens hulle dan dit onderhandel het met Country Bird.”

[33] Onder die omstandighede is ek tevrede, ooreenkomstig die ooreenkoms tussen die partye en die toegewing deur Mnr Claasen, dat die bestaan die Kontrakgroeiers Assosiasie, synde n assosiasie met regspersoonlikheid, wel bewese is ten spyte van die afwesigheid van ‘n konstitusie.

[34] Duidelikheidshalwe moet vermeld word dat dit uit die getuienis blyk dat  die lede van die Kontrakgroeiers Assossiasie by wyse van meerderheidsbesluit besluite op hul vergaderings geneem het en dan daarvolgends `n mandaat aan die komitee van die Kontrakgroeiers Assosiasie gegee het, waarop die komitee op grond van daardie mandaat met verweerder onderhandel het. Volgens Mnr Van Rensburg het die Kontrakgroeiers Assosiasie egter nie enige formele skriftelike kontrakte namens die lede gesluit nie.

[35] Vanweë die bevindings waartoe ek later in hierdie uitspraak kom, aanvaar ek vir doeleindes van hierdie uitspraak, sonder om dit te beslis, dat die besluite wat by wyse van meerderheidsbesluit op die vergaderings van die lede van die Kontrakgroeiers Assosiasie geneem was, geldig was en bindend op eiser was en gaan ek dus nie oor die prosedurele aspekte van sodanige vergaderings beslis nie.

[36] Aanhangsel “X2” tot die gewysigde verweerskrif, synde ‘n skrywe vanaf Mnr Searle namens verweerder gerig aan die voorsitter van die Kontrakgroeiers Assosiasie, Mnr Van Rensburg, gedateer 11 Februarie 2004, is een van die twee skrywes waarop verweerder steun vir sy bewering van die sluiting van ‘n gewysigde kontrak. Die eerste twee sinne daarvan lees as volg:

The following concept of payment to Contract Growers has been accepted at a meeting held at Hartbeesfontein on 27 January 2004.

Subsequent to our meeting on 10 February 2004, Country Bird will unilaterally implement the new payment system as from 2 February 2004.”

[37] Met verwysing na voormelde vergadering van 27 Januarie 2004 was dit Mnr Van Rensburg se getuienis dat daar nie ‘n notule ten opsigte van hierdie vergadering beskikbaar is nie, die afwesigheid waarvan hy nie kon verduidelik nie.  Hy het ook nie ‘n onafhanklike herinnering van wie daar teenwoordig was en wie ten gunste daarvan of daarteen besluit het dat kruissubsidiëring afgeskaf word nie.  Mnr Hodgson het ook geen herinnering of hy teenwoordig was by daardie vergadering, aldan nie.  Verweerder se viva voce getuienis is bloot dat daar by wyse van meerderheidsbesluit besluit was dat kruissubsidiëring afgeskaf word.  Daar is geen getuienis oor die presiese terme van hierdie besluit en derhalwe die terme van die mandaat wat die lede aan die komitee gegee het om namens hulle met verweerder te onderhandel nie.

[38] Wat betref die vergadering van 10 February 2004 waarna ook in aanhangsel “X2” verwys word, het Mnr Hodgson nie self getuig of hy teenwoordig was by daardie vergadering, aldan nie.  Volgens die getuienis van Mnr Van Rensburg bestaan daar ook nie ‘n notule ten opsigte van hierdie vergadering nie.  Mnr Van Rensburg het egter getuig dat hy ‘n onafhanklike herinnering daaraan het dat hy en die ander drie lede van die Kontrakgroeiers Assosiasie se komitee by hierdie vergadering teenwoordig was, asook Mnr Searle en Mnr Hodgson namens verweerder.  Weereens is daar geen getuienis van die spesifieke terme van die beweerde ooreenkoms waarop ooreengekom was anders as bloot dat kruissubsidiëring afgeskaf sou word nie.

[39] Ek ag dit noodsaaklik om die totaliteit van die inhoud van aanhangsel “X2” tot die gewysigde verweerskrif hierin aan te haal:

Country Bird Payment Schedule to Contract Growers

The following concept of payment to Contract Growers has been accepted at a meeting held at Hartbeesfontein on 27 January 2004.

Subsequent to our meeting on 10 February 2004, Country Bird will unilaterally implement the new payment system as from 2 February 2004. 

Country Bird has increased the payment per kilogram as per the table below.

Payment Method:

1. The new payment method will be made at a Rand value per kg live weight delivered to the abattoir.

2. No cross subsidisation of Transport.

3. The Contract Grower will be responsible for his actual transport cost of feed and live birds.

4. The price per kg live weight paid to the Contract Grower will be negotiated every quarter based on the feed price negotiated by Country Bird.

5. D.O.A.:  This will still be shared at 50%.

6. Price per kg live weight for period 1 February 2004 to 31 March 2004.

AGE                                   Rand per kg live weight

38                            R 6,10

37                            R6,14

36                            R6,18

35                            R6,22

We trust that the above structure will simplify the payment to Contract Growers and afford those close to the abattoirs the opportunity to expand their operations.  The payment method will ensure the long-term sustainability of Country Bird in creating the opportunity for growth for both Country Bird and Contract Growers.

Day Old Chicks

The minimum weight for D.O.C. placed at day old will be 36 grams.  The seven-day claims on chick quality will remain the same as agreed to by Country Bird and Contract Growers, i.e. loggers to be in place to prove the standard of Management is in place.  The price of the D.O.C. is R2,50.

We are of the opinion that Country Bird and their Contract Growers will develop a new relationship in building Country Bird to be a competitive player in the Poultry Industry.”

[40] Die tweede skrywe waarop verweerder steun ter bewys van die beweerde skriftelike gewysigde kontrak wat gesluit is, is aangeheg as aanhangsel “X3” tot die gewysigde verweerskrif.  Dit is gedateer 15 February 2004 en is ‘n skrywe deur Mnr Van Rensburg gerig aan Mnr Searle.  Weereens ag ek dit noodsaaklik om die inhoud daarvan hierin te herhaal:

Country Bird Payment Schedule to Contract Growers

Refer to your letter dated 11 February 2004.

The concept of payment has been accepted on a meeting held by the Contract Growers, but not the price paid by kilogram and the implementation date by Country Bird.

We as contract growers accept the following conditions:

- No cross subsidisation of transport.

- The contract grower will be responsible for its actual transport costs of feed and live birds.

- The price paid by the contract grower will be negotiated every quarter based on the feed price negotiation by Country Bird.

- D.O.A. will still be shared at 50%.

We as Contract Growers can’t accept the price paid by kg live weight due to the following reasons:

- Average Net Price per kg live weight previously: R0,69.

- Average Net Price per kg live weight currently: R0,54.

- DOC price per kg live weight previously:  R1,15.

- DOC price per kg live weight currently: R1,38.

- The full transport price and the feed was part of the payment previously and now it is just an amount of R78,00 per ton part of it.

The Contract Growers cannot produce live birds on the prices given by Country Bird currently and therefore we need to meet with Mr Kevin James very urgently.

We as Contract Growers want to take hands and develop a new relationship to ensure a long-term sustainability of Country Bird in creating the opportunity for growth for both Country Bird and Contract Growers.” (Eie beklemtoning)

[41] Mnr Claasen het betoog dat die voormelde inhoud van aanhangsels “X2” en “X3” nie ‘n vergestalting is van ‘n ooreenkoms wat tussen die partye gesluit was nie.  In die verband het hy betoog dat die basis of wyse waarop die betaling van vergoeding bereken sou word, uit verskillende komponente bestaan het wat ‘n pakket gevorm het op ‘n wyse dat dit interafhanklik van mekaar was.  Hy het dus betoog dat alvorens die partye nie wilsooreenstemming ten opsigte van elke komponent van die pakket gehad het nie, daar nie sprake kon wees van ‘n ooreenkoms nie.  Hy het gevolglik aan die hand gedoen dat dit wat in aanhangsel “X2” uiteengesit was, ‘n aanbod deur verweerder was, welke nie vir die Kontrakgroeiers Assosiasie aanvaarbaar was nie, waarop ‘n teenaanbod deur laasgenoemde in aanhangsel “X3” gemaak was.  Ter ondersteuning van sy submissie het Mnr Claasen onder andere verwys na die uitspraak in Legator Mckenna Inc and Another v Shea and Others 2010 (1) SA 35 (SCA), para [17], waaruit die volgende tersaaklike beginsels blyk:

“…What gives rise to the question is of course the trite principle that a binding contract can only be brought about by an acceptance which corresponds with the offer in all material aspects. 'Yes, but' does not signify agreement. At best it is a counter-offer (see eg Jones v Reynolds 1913 AD 366 at 370 - 371; Pretoria East Builders CC and Another v Basson 2004 (6) SA 15 (SCA) in para 9; RH Christie The Law of Contract in South Africa 5 ed at 62 - 3 and the cases there cited). Since the Erskines offered an unconditional agreement while McKenna agreed to a conditional one, I think the difference between offer and acceptance is clear. It follows that in my view McKenna did not accept the offer by the Erskines, even though they may all have thought that he did. As a matter of law, this purported acceptance constituted no more than a counter-offer.”

[42] Ten tyde van die kruisverhoor van Mnr Hodgson het hy getuig dat sy interpretasie van die inhoud van voormelde twee skrywes tot dien effekte is dat die partye nog besig was om te onderhandel en dat daar nog nie ‘n ooreenkoms tussen hulle bereik was nie.

[43] Wat voorts uit die getuienis geblyk het en wat gemeensaak is tussen die partye, is dat daar nog twee soortgelyke skrywes gevolg het op aanhangsels “X2” en “X3” tot die gewysigde verweerskrif.  Weereens ag ek dit noodsaaklik om na die gedetailleerde inhoud van hierdie skrywes te verwys.  Die eerste hiervan is ‘n skrywe wat voorkom op p. 100 van bewysstuk “A”, synde ‘n skrywe vanaf Mnr Searle gerig aan die voorsitter van die Kontrakgroeiers Assosiasie, Mnr Van Rensburg, gedateer 18 February 2004, wat as volg lees:

Country Bird Payment Schedule to Contract Growers

The following concept of payment to Contract Growers has been accepted at a meeting held at Hartbeesfontein on 27 January 2004.

Subsequent to our meeting on 10 February 2004, Country Bird will unilaterally implement the new payment system as from 2 February 2004.  

Country Bird has increased the payment per kilogram as per the table below.

Payment Method:

1. The new payment method will be made at a Rand value per kg live weight delivered to the abattoir.

2. No cross subsidisation of Transport.

3. The Contract Grower will be responsible for his actual transport cost of feed and live birds.

4. The price per kg live weight paid to the Contract Grower will be negotiated every quarter based on the feed price negotiated by Country Bird.

5. D.O.A.:  This will still be shared at 50%.

6. Price per kg live weight for period 1 February 2004 to 31 March 2004.

AGE                                   Rand per kg live weight

38                            R 6,17

37                            R6,21

36                            R6,25

35                            R6,29

We trust that the above structure will simplify the payment to Contract Growers and afford those close to the abattoirs the opportunity to expand their operations.  The payment method will ensure the long-term sustainability of Country Bird in creating the opportunity for growth for both Country Bird and Contract Growers.

Day Old Chicks

The minimum weight for D.O.C. placed at day old will be 30 grams.  The seven-day claims on chick quality will remain the same as agreed to by Country Bird and Contract Growers, i.e. loggers to be in place to prove the standard of Management is in place.  The price of the D.O.C. is R2,50.

We are of the opinion that Country Bird and their Contract Growers will develop a new relationship in building Country Bird to be a competitive player in the Poultry Industry.”

Die verdere skrywe kom voor op p. 102 van bewysstuk “A”.  Dit is ‘n skrywe vanaf Mnr Van Rensburg gerig aan Mnr Searle, gedateer 1 Maart 2004, en welke skrywe as volg lees:

Country Bird Payment Schedule to Contract Growers

Refer to contract grower meeting held on 25 February 2004.

The concept of payment has been accepted on a meeting held by the contract growers, but still not the price paid by kilogram.

We as Contract Growers can’t accept the price paid by kg live weight due to the following reasons and want to make certain suggestions:

Reasons:

- Average Net Price per kg live weight previously: R0,69.

- Average Net Price per kg live weight currently: R0,61.

-

- DOC price per kg live weight previously:  R1,15.

- DOC price per kg live weight currently: R1,38.

Suggestions:

The following will be acceptable and fair:

- R6,51 and the growers will pay their own transport of live birds.

- Above suggestion was calculated in the difference in the DOC price.

The Contract Growers cannot produce live birds on the prices given by Country Bird currently and therefore we need to meet with Mr Kevin James very urgently.

We as Contract Growers want to take hands and develop a new relationship to ensure a long-term sustainability of Country Bird in creating the opportunity for growth for both Country Bird and Contract Growers.” (Eie beklemtoning)

[44] Uit die skrywe gedateer 1 Maart 2004 is dit duidelik dat daar nog weer ‘n verdere Kontrakgroeiers Assosiasie vergadering was op 25 Februarie 2004, met ander woorde na aanhangsel “X3” wat verweerder beweer die tweede deel van die skriftelike gewysigde kontrak daarstel. Ook ten opsigte van hierdie vergadering bestaan daar nie ‘n notule nie.  Mnr Van Rensburg se getuienis ten opsigte van hierdie vergadering was bloot dat dit plaasgevind het om terugvoering te gee aan die kontrakgroeiers ten opsigte van die inhoud van die skrywe van 18 February 2004 en dat dit wat in die skrywe van 1 Maart 2004 gereflekteer word, die besluit van die kontrakgroeiers was.  Wat betref voormelde vier skrywes, het Mnr Van Rensburg gedurende kruisverhoor toegegee dat tot en met die laaste skrywe van 1 Maart 2004, daar nog geen finale ooreenkoms oor al ses die komponente van die vergoedingsstruktuur bereik was tussen die partye nie en dat die onderhandelingsproses nog aan die gang was.  Wat betref die bewering namens verweerder in twee van die skrywes dat die vergoedingsstruktuur geïmplementeer sou word vanaf 2 Februarie 2004, het Mnr Van Rensburg bevestig dat dit nie vanaf daardie datum geïmplementeer was nie, juis omdat die partye nie oor al die verskillende komponente op daardie stadium kon ooreenkom nie.  Daar was egter aldus hom toe op ‘n later stadium wel ‘n ooreenkoms tussen die partye bereik, wat ‘n ooreenkoms op die prys per kilogram ingesluit het, maar kon hy nie die spesifieke detail van hierdie ooreenkoms in herinnering roep nie.  Hy het egter wel getuig dat verweerder die gewysigde vergoedingsstruktuur geïmplementeer het op ‘n datum voordat daar tussen die partye op die prys ooreengekom was.  Beide Mnr Hodgson en Mnr Van Rensburg se getuienis in hoof was met die strekking dat hoewel daar nog nie op die prys per kilogram ooreengekom kon word tussen die partye nie, dit wel tussen die partye ooreengekom was dat kruissubsidiëring nie meer sou geld nie.

[45] By behoorlike bestudering van die getuienis in totaliteit, wat insluit die notules van vorige Kontrakgroeiers Assosiasie vergaderings, is dit na my mening egter duidelik dat die verskillende komponente van die vergoedingsstruktuur inter-afhanklik is van mekaar.  Soos ook deur Mnr Van Rensburg getuig, handel sekere komponente daarvan met die uitgawe-komponent en die ander met die inkomste-komponent.  Die prys per kilogram wat deur verweerder aan eiser betaal sou word vir die braaikuikens, konstateer die totaliteit van die inkomste-komponent van die vergoedingsstruktuur.  Dit is dus duidelik dat dit ‘n wesenlike element van die kontrak vorm. Logika dikteer, soos ondersteun deur die getuienis, dat ‘n party nie finaal kan ooreenkom op welke wyse die uitgawe-komponent bereken gaan word alvorens hy/sy nie dienooreenkomstig tevrede is met die wyse waarop die inkomste-komponent bereken gaan word nie, aangesien dit ‘n direkte invloed op ‘n party se netto inkomste sal hê.

[46] Wat die staking van kruissubsidiëring spesifiek betref, was daar nie getuienis dat dit voordelig sou wees vir al die kontrakgroeiers behalwe die wat verder as 120km vanaf die abattoir geleë was nie.  Hoewel dit duidelik uit die getuienis blyk dat ‘n kontrakgroeier wat wel verder as 120km vanaf die abattoir geleë was nie op winsgewende wyse sou kon voortgaan om ‘n kontrakgroeier te wees nie, was daar ook ander kontrakgroeiers wie se transportkoste as gevolg van die staking van kruissubsidiëring toegeneem het.  In die verband was Mnr Hodgson se getuienis as volg:

Maar behalwe vir Mnr Botes, was daar toe ‘n probleem met die implementering van hierdie beëindiging van die pro-subsidiëring ten aansien siklus 109? ... Ja, want daar was ander mense wat nie noodwendig so ver, U Edele nie noodwendig so ver soos Mnr Botes was nie wat ook direk geraak was, want hulle kostes het dienooreenkomstig toegeneem ...” (Rekord, p.281)

Dit het na mening tot gevolg dat alvorens daar nie op ‘n prys per kilogram ooreengekom was nie, die Kontrakgroeiers Assosiasie se meerderheidsbesluit ten gunste van die staking van kruissubsidiëring steeds weer verander kon word.  In die verband moet in gedagte gehou word dat die staking van kruissubsidiëring nie net van toepassing was ten opsigte van die vervoerkoste van die braaikuikens nie, maar ook ten opsigte van die voer.  Dit was deurgaans die getuienis, ook die van die eiser, en is dit ook so gepleit in paragrawe 6.5 en 6.8 van verweerder se gewysigde verweerskrif.  In die verband blyk die interafhanklikheid tussen die prys per kilogram en die afskaffing van kruissubsidiëring uiters duidelik uit aanhangsel “X3” tot die gewysigde verweerskrif, waar spesifiek vermeld word dat een van die redes waarom die prys per kilogram nie aanvaar kan word nie, die volgende is:

The full transport price on the feed was part of the payment previously and now is just an amount of R78,00 per ton part of it.”

[47] Die redelike moontlikheid dat die kontrakgroeiers vanweë voormelde feite en omstandighede alreeds ten tyde van die vergadering van 25 February 2004 waarna verwys word in die skrywe op p.102 van bewysstuk “A”, die inhoud van hul besluit ten opsigte van die afskaffing van kruissubsidiëring gewysig het voortspruitend uit die feit dat daar nie op die prys per kilogram ooreengekom kon word nie, blyk uit hul skrywe van 1 Maart 2004.  In laasgenoemde skrywe is daar nie meer aangebied dat die kontrakgroeiers hul daadwerklike koste ten opsigte van die voer sou betaal nie.  Die voorstel wat daarin gemaak was is die prys van R6,25 per kilogram “and the growers will pay their own transport of live birds”.

[48] Die inhoud van aanhangsels “X2” en “X3” kan dus na my mening op geen wyse geïnterpreteer word as `n beweerde gewysigde ooreenkoms wat tussen die Kontrakgroeiers Assosiasie en verweerder gesluit was nie.  Dit was duidelik bloot onderhandelings wat nog verder voortgesit was deur die skrywes gedateer 18 February 2004 en 1 Maart 2004, waarna, selfs op dáárdie stadium, steeds nie ‘n ooreenkoms tussen die partye bereik was nie.  Die afwesigheid van ‘n ooreenkoms tussen die Kontrakgroeiers Assosiasie en verweerder word nog verder beklemtoon deur die volgende paragraaf in aanhangsel “X3” wat duidelik nog verdere onderhandelinge in die vooruitsig stel (wat ook weer herhaal was in die skrywe van 1 Maart 2004):

The Contract Growers cannot produce live birds on the prices given by Country Bird currently and therefore we need to meet with Mr Kevin James very urgently.

[49] Vanweë bogemelde feite en omstandighede stem ek ten volle met Mnr Claasen se betoog saam dat daar nie sprake kan wees daarvan dat verweerder hom van sy bewyslas gekwyt het om die skriftelike gewysigde ooreenkoms te bewys soos gepleit in paragrawe 6.3. tot 6.8 van die gewysigde verweerskrif nie. 

 

Selfs indien ‘n gewaande gewysigde kontrak gesluit was, voldoen dit aan die bepalings van klousule 2.4 van die kontrak

[50] Selfs indien ek verkeerd sou wees met laasgenoemde bevinding en dit word argumentsonthalwe aanvaar (nie bevind nie) dat die Kontrakgroeiers Assosiasie en verweerder ‘n gewaande gewysigde kontrak gesluit het soos beweer in paragrawe 6.3. tot 6.5 van die gewysigde verweerskrif, ontstaan die vraag steeds of dit ‘n geldige en afdwingbare wysiging was op die basis soos gepleit in paragrawe 6.6. tot 6.8 van verweerder se gewysigde verweerskrif.

[51] Paragraaf 2.4 van die kontrak bepaal as volg:

This agreement cancels all previous agreements entered into between the parties prior to date hereof and no amendment or additions hereto will be of any force or effect unless reduced to writing and signed by all the parties to this agreement.”

[52] Die vraagstuk wat hier beantwoord moet word is of die voorsitter van die Kontrakgroeiers Assosiasie se ondertekening van aanhangsel “X3” tot die gewysigde verweerskrif, behoorlike nakoming van laasgenoemde formaliteits-vereistes daarstel.  Mnr Oosthuizen het gesteun op die uitspraak in Levitan N.O. v Petrol Conservation (Pty) Ltd and Another 1962 (3) SA 233 (WLD).  Laasgenoemde uitspraak het gehandel met die interpretasie van artikel 6 van die Algemene Regswysigingswet, 50 van 1956, wat op daardie stadium as volg gelees het:

No contract of suretyship entered into after the commencement of this Act shall be valid, unless the terms thereof are embodied in a written document signed by the surety.”

Mnr Oosthuizen het na die volgende gedeeltes van die uitspraak verwys op 235G – 236A:

The question is crisply whether the deed of suretyship, not signed by the second defendant but signed by an agent, is binding on the second defendant.

Mr. Oshry has on behalf of the plaintiff asked me to interpret the section as if it reads: ‘. . . signed by the surety or his authorised agent’. He suggests that this should be done on the basis of the maxim qui facit per alium facit per se. This is the common law rule, which can of course be excluded or qualified by statute….

The general position in regard to signature by proxy is stated as follows by Bowstead on Agency, 12th ed. p. 17:

'As a general rule at common law a person sufficiently “signs” a document if it is signed in his name and with his authority by somebody else. Thus, an agent may be appointed to subscribe the name of the principal to the memorandum of association of a company, or to the instrument of dissolution of a building society, and such a signature is a sufficient compliance with the Companies Act, 1948, sec. 3, or the Building Society Act, 1874, sec. 32, respectively. Where there is nothing in the subject matter or context of a statute to indicate that a personal signature is necessary, the common law rule prevails. But if by statute or some other rule of law or by contract a personal signature is required, the duty of signing cannot be delegated.'”

Mnr Oosthuizen het dus beklemtoon dat die gemeenregtelike beginsel tot dien effekte is dat waar ‘n kontrak bepaal dat dit onderteken moet word deur ‘n party, kan dit ook deur ‘n party se verteenwoordiger of agent onderteken word, tensy dit op ‘n behoorlike interpretasie van die kontrak blyk dat dit in die besondere geval vereis word dat dit persoonlik deur die tersaaklike party onderteken moet word.  Hy het aan die hand gedoen dat geen bepaling van die kontrak aanduidend is daarvan dat die gemenereg beginsel nie van toepassing is nie.

[53] Mnr Claasen, daarenteen, het aan die hand gedoen dat op `n behoorlike uitleg van die kontraktuele bepalings, sodanige ondertekening deur die voorsitter van die Kontrakgroeiers Assosiasie nie ‘n behoorlike nakoming van die formaliteitsvereistes gestel in klousule 2.4 van die kontrak daarstel nie.

[54] Wanneer daar gelet word op die tersaaklike bepalings van die kontrak wat hierdie aspek betref, is die volgende volgens my relevant.  Waar daar in klousule 1.2 van die kontrak voorsiening gemaak word vir die omskrywing van die kontrakgroeier (wat in die kontrak beskryf word as “the producer”) is daar onder die spasie waar die identiteit van die kontrakgroeier voltooi moet word, voorsiening gemaak vir “Registration/Identity Numberen onder laasgenoemde verskyn die volgende:

(If a Legal Person or Trust)

Herein represented by _______________________________

in his capacity as ___________________________________

being duly authorised thereto by virtue of a Resolution of Directors/Members/Trustees)

of: ______________________________________________”

Na my mening maak voormelde uiteensetting nie voorsiening en is daar geen verwysing na ‘n situasie waar die kontrakgroeier ‘n natuurlike persoon is en ‘n verteenwoordiger/agent namens sodanige kontrakgroeier die kontrak sluit of onderteken nie.  Al verteenwoordiging waarvoor dit voorsiening maak is indien die kontrakgroeier `n regspersoon of `n trust is. Wanneer daar onder sodanige omstandighede gelet word op die bewoording van klousule 2.4 wat bepaal dat “signed by all the parties to this agreement”, is ek van mening dat dit mutatis mutandis nie die bedoeling van die partye was dat dit ondertekening deur ‘n verteenwoordiger/agent namens ‘n natuurlike persoon insluit nie.

[55] In ieder geval, soos tereg deur Mnr Claasen betoog, is daar ‘n uitdruklike voorvereiste wat in klousule 2.5 van die kontrak voorgeskryf word wat van toepassing is indien ‘n persoon die kontrak in ‘n verteenwoordigende hoedanigheid sluit, welke as volg lees:

In the event of a person entering into this agreement in a representative capacity, and should the person acting in such representative capacity not have proper written authority from his principal to act as such, then and in such an event the person undersigning this agreement shall be liable in his personal capacity for the due compliance of all the obligations of party on behalf of whom he purported to act.”

[56] Ten eerste moet ek vermeld dat ek in die lig van klousule 1.2 waarna ek reeds hierbo verwys het, van mening is dat klousule 2.5 weereens verwys na omstandighede waar iemand in ‘n verteenwoordigende hoedanigheid namens ‘n “legal person or trust” die kontrak sluit. Selfs indien dit egter argumentsonthalwe aanvaar sou word dat ‘n verteenwoordiger/agent namens ‘n natuurlike persoon die kontrak, of dan ‘n wysiging daarvan, kon onderteken, is dit na my mening ‘n voorvereiste vir die geldigheid en afdwingbaarheid daarvan dat sodanige verteenwoordiger/agent oor skriftelike magtiging vanaf die natuurlike persoon moes beskik.  Geen sodanige skriftelike magtiging is in die onderhawige geval deur eiser aan die voorsitter van die Kontrakgroeiers Assosiasie verleen nie.  Inteendeel, Mnr Van Rensburg het pertinent getuig dat die Kontrakgroeiers Assosiasie nooit enige formele kontrakte namens enige van die partye gesluit het nie.

[57] Gevolglik voldoen aanhangsels “X2” en “X3” tot die gewysigde verweerskrif nie aan die formaliteitsvereistes uiteengesit in klousule 2.4 van die kontrak nie en kan dit nie ‘n geldige en afdwingbare gewysigde kontrak tussen die partye daarstel nie.

 

Kontrakbreuk

[58] In die lig van voormelde bevindings kom ek gevolglik tot die gevolgtrekking dat verweerder se implementering van die gewysigde kostestruktuur waarvolgens die vervoerkoste van die braaikuikens nie meer op die basis van kruissubsidiëring bereken was nie en elke kontrakgroeier dus die daadwerklike vervoerkoste moes betaal gebaseer op die afstand van sy/haar perseel vanaf die abattoir, met die  gevolg dat die vervoerkoste wat eiser moes betaal drasties verhoog het, kontrakbreuk jeens eiser daargestel het.

 

Welke vorm van kontrakbreuk en die regsgevolge daarvan

[59] Ek het vroeër in hierdie uitspraak vermeld dat Mnr Oosthuizen sekere submissies aan my gemaak het met betrekking tot die interpretasie van die pleitstukke.  In die verband het Mnr Oosthuizen daarop gewys dat in gedagte gehou moet word dat paragraaf 4.1 van die gewysigde besonderhede van vordering aanvanklik die enigste vorm van kontrakbreuk was waarop eiser gesteun het.  Dit het weggeval as gevolg van my beslissing in die absolusie uitspraak.  Hy het voorts daarop gewys dat paragrawe 4.2, 4.3 en 4.4 van die gewysigde besonderhede van vordering na aanleiding van die wysiging waarna ek vroeër verwys het, ‘n nuwe skuldoorsaak daargestel het.  Ek stem met voormelde submissies saam.  Mnr Oosthuizen het egter daarop aan die hand gedoen dat paragrawe 5.1 tot en met die eerste gedeelte van 7.3 (voor die eerste alternatief) slegs verband hou met die aanvanklike vordering en nie met die alternatiewe vordering gepleit in paragrawe 4.2 tot 4.4 nie.  Hy het gevolglik betoog dat eiser se steun op aanhangsels “B”, “C”, “D” en “E” slegs verband hou met die oorspronklike vordering en nie geïnterpreteer kan word as deel van eiser se skuldoorsaak soos uiteengesit in paragrawe 4.2 tot 4.4 van die gewysigde besonderhede van vordering nie.  Derhalwe was dit Mnr Oosthuizen se betoog dat enige bewering van en steun op repudiasie slegs deel gevorm het van die hoofvordering en dus voortspruitend uit die absolusie uitspraak spreekwoordelik van die tafel gevee is, met die gevolg dat eiser nie meer daarop kan steun nie.  Mnr Oosthuizen het dus gesubmiteer dat eiser slegs kan steun op paragrawe 4.2 tot 4.4 van die gewysigde besonderhede van vordering as synde dat dit die basis is waarop eiser die kontrak gekanselleer het; alternatiewelik by wyse van die aksie kanselleer.

[60] Hoewel ek al vroeër in hierdie uitspraak na tersaaklike beginsels met betrekking tot die Hof se benadering tot pleitstukke verwys het, was dit vir ander doeleindes. Daardie regspraak is egter ook hier steeds relevant, maar verwys ek ook ook na addisionele regspraak: In Shill v Milner 1937 AD 101 op 105 is die volgende beslis:

This preliminary portion of Mr. Ramsbottom's argument consists largely of an examination of the ipsissima verba of the pleadings. While listening to him however, I could not but ask myself what the substantial issue was between the parties in the court below. The importance of pleadings should not be unduly magnified. ‘The object of pleading is to define the issues; and parties will be kept strictly to their pleas where any departure would cause prejudice or would prevent full inquiry. But within those limits the Court has wide discretion. For pleadings are made for the Court, not the Court for pleadings. Where a party has had every facility to place all the facts before the trial Court and the investigation into all the circumstances has been as thorough and as patient as in this instance, there is no justification for interference by an appellate tribunal merely because the pleading of the opponent has not been as explicit as it might have been. Robinson v Randfontein Estates G.M. Co. Ltd. (1925 AD 198). In another case, Wynberg municipality v Dreyer (1920 AD 443), an attempt was made to confine the issue on appeal strictly to the pleadings, but it was pointed out by INNES, C.J., that the issue had been widened in, the court below, by both parties. ‘The position should have been regularised of course,’ said he, ‘by an amendment of the pleadings; but the defendant cannot now claim to confine the issue within limits which he assisted to enlarge.’

These principles apply to the present dispute. Assuming (though I disagree) that Mr. Ramsbottom's contentions, based on the frame of the pleadings, are just, the fact remains that the issues were substantially broadened in the court below.

To return to the question of the real issue in the court below.”

In die uitspraak van Imvula Quality Protection (Pty) Ltd v Loureiro and Others 2013 (3) SA 407 (SCA) is die volgende beginsel bevestig in para [47]:

As to the second point: cases are decided on the evidence, not on the pleadings or counsel’s argument.  Of course, if the case is formulated in the pleadings in such a way that the opposite party is prejudiced, the position is different – but that is not the general rule.”

[61] Alvorens ek met die gewysigde besonderhede van vordering en die getuienis handel, ag ek dit noodsaaklik om na sekere tersaaklike kontraktuele beginsels te verwys.

[62] Kontrakbreuk kan een van die volgende verskyningsvorme aanneem, synde mora debitoris, mora creditoris, positiewe wanprestasie, repudiasie en onmoontlikmaking van prestasie. In The Law of Contract in South Africa, R H Christie, 6de uitgawe, op p. 538 tot p. 539 is die volgende beginsels ten opsigte van repudiasie uiteengesit:

In Schlinkmann v Van der Walt 1947 2 SA 900 (E) 919 Lewis J said:

Repudiation is in the main a question of the intention of the party alleged to have repudiated. As was said by Lord Coleridge LCJ in Freeth v Burr (1874) LR 9 CP at p 214:

the true question is whether the acts or conduct of the party evince an intention no longer to be bound by the contract”,

a test which was approved by the House of Lords in Mersey Steel Co v Naylor (1884) 9 AC 434. In Re Rubel Bronze and Metal Co and Vos [1918] 1 KB at p 322 McCardie J said as follows:

The doctrine of repudiation must of course be applied in a just and reasonable manner. A dispute as to one or several minor provisions in an elaborate contract or a refusal to act upon what is subsequently held to be the proper interpretation of such provisions should not as a rule be deemed to amount to repudiation . . . But, as already indicated, a deliberate breach of a single provision in a contract may under special circumstances, and particularly if the provision be important, amount to a repudiation of the whole bargain . . . In every case the question of repudiation must depend on the character of the contract, the number and weight of the wrongful acts or assertions, the intention indicated by such acts or words, the deliberation or otherwise with which they are committed or uttered, and the general circumstances of the case.”

To this I would add only that the onus of proving that the one party has repudiated the contract is on the other party who asserts it.’

In Inrybelange (Edms) Bpk v Pretorius 1966 2 SA 416 (A) 427 and Van Rooyen v Minister van Openbare Werke en Gemeenskapsbou 1978 2 SA 835 (A) 844–846 the Appellate Division approved of this passage, together with the short test enunciated by Williamson J in Street v Dublin 1961 2 SA 4 (W) 10:

The test as to whether conduct amounts to such a repudiation [as justifies cancellation] is whether fairly interpreted it exhibits a deliberate and unequivocal intention no longer to be bound.’

In Van Rooyen at 845–846 Rabie JA added:

Om ‘n ooreenkoms te repudieer, hoef daar nie, soos in die aangehaalde woorde uit Freeth v Burr te kenne gegee word, ‘n subjektiewe bedoeling te wees om ‘n einde aan die ooreenkoms te maak nie. Waar ‘n party, bv, weier om ‘n belangrike bepaling van ‘n ooreenkoms na te kom, sou sy optrede regtens op ‘n repudiëring van die ooreenkoms kon neerkom, al sou hy ook meen dat hy sy verpligtinge behoorlik nakom. (Kyk De Wet en Yeats Kontraktereg en Handelsreg 3de uitg op 117.)’

The sort of case considered in this last passage may lie in the overlap between repudiation and breach justifying cancellation, it being perhaps thought more appropriate to describe it as a repudiation because of the definite nature of the refusal to perform,or it may, because performance is not yet due, be necessarily described as a repudiation.

As indicated in the extract from McCardie J’s judgment in Re Rubel Bronze quoted above, repudiation may manifest itself in a variety of ways.

If it takes place before performance is due it is sometimes described as anticipatory breach and may take the form of a statement that the party concerned is not going to carry out the contract…

When performance is due repudiation may take the form of insistence on the fulfilment of a term that does not form part of the contract…”

Sien ook OK Bazaars (1929) Limited v Grosvenor Buildings (Pty) Ltd and Another [1993] ZASCA 56; 1993 (3) SA 471 (A) op 480I tot 481C.

[63] Die toets vir repudiasie is opsommenderwys as volg uiteengesit in LAWSA, 2de Uitgawe, Volume 5 deel 1, paragraaf 485 op p. 481 tot p. 482:

An objective test is applied to determine whether a party to a contract has repudiated it.  The question is whether the words or conduct are such as to lead a reasonable person to the conclusion that the repudiator does not intend carrying out his or her part of the contract either properly or at all.  Repudiation is, accordingly, a matter of perception, the perception being that of a reasonable person in the position of the aggrieved party.  Although it is sometimes said that there must be an intention to repudiate, wrongful intention in the sense dolus malus or mala fides (or for that matter negligence) is not a requirement for this form of breach.  Even if a party honestly and on good grounds believes that he or she is entitled to act in the way that he or she does, such party will still be guilty of repudiation if his or her conduct amounts to a denial of his or her contractual liability. Examples of repudiation are ... contesting the terms of the contract…”

In Wille’s Principles of South African Law, F. du Bois, 9de Uitgawe, op p. 867, is die volgende gestateer:

Other examples of repudiation are … an insistence on enforcing an ineffective purported variation agreement …”

Sien ook Datacolour International (Pty) Ltd v Intamarket (Pty) Ltd [2000] ZASCA 82; 2001 (2) SA 284 (SCA), paras [16] en [17].

[64] Waar daar in die kontrak ‘n terugtredingsreg beding is (lex commissoria) wat gekoppel is aan ‘n voorafgaande tydperk van kennisgewing, geld dit nie in die geval van repudiasie nie.  In Contract General Principles, Van der Merwe et al, 4de uitgawe, op p. 313 is dit as volg gestel:

A provision in a contract that in case of malperformance a debtor must be notified to rectify the defects within a certain period affords the party in breach no protection in case of repudiation.”

Sien ook South African Forestry Co Ltd v York Timbers Ltd 2005 (3) SA 323 (SCA) op 342F.

[65] Die kontrak bevat inderdaad ‘n lex commissorio in klousule 19.1 daarvan:

If any party hereto (the breaching party) fails to comply with any of its obligations in terms of this agreement and such failure is not remedied within 24 hours after written notice by the other party (the prejudiced party) the last mentioned will be entitled but not compelled to, without further notice, resile from this agreement and to cancel this agreement by written notice to the breaching party.”

[66] Die beginsels rondom ‘n party se reg tot kansellasie in die geval van repudiasie deur die ander party, is vervat in LAWSA, supra, paragraaf 486 op p. 483:

Repudiation, like any other form of breach of contract, does not necessarily entitle the innocent party to rescind.  The right to rescind depends on the seriousness of the breach which the repudiation portends.  If, for instance, a debtor expresses the intention not to carry out only a minor part of the performance which is due, the creditor may not rescind on that account.  In each case, since it is either positive or negative malperformance which is threatened, the normal criteria for rescission on the ground of these forms of malperformance must be applied.  So, if the repudiation predicts positive malperformance, the question is whether, were the predicted malperformance to occur, one could not reasonably expect the creditor to obey by the contract and be satisfied with damages alone. …

Of course, if a party refuses to perform at all or rejects the contract as a whole, the innocent party will always be entitled to rescind. …

It seems clear that ‘acceptance of repudiation’ is nothing other than the exercise by the innocent party of the right of rescission. …  Thus an acceptance of repudiation, like a notice of cancellation, must be communicated to the guilty party.  This can be done extra judicially, by an oral or written notice to that effect, or by conduct showing acquiescence in the repudiation.  It can also be done judicially, by service of summons claiming damages for breach of contract.”

[67] Wat uit die totaliteit van die getuienis blyk ten opsigte van die verloop van die tersaaklike gebeure, is tot die grootste mate gemeensaak.  Toe Mnr Hodgson aanvanklik vir eiser ingelig het rondom die gewysigde kostestruktuur, was dit nie duidelik presies wat die impak daarvan op eiser sou wees nie.  Nadat eiser ‘n werknemer van verweerder versoek het om ‘n berekening te doen op die basis van die gewysigde kostestruktuur, het dit vir eiser duidelik geblyk dat dit nie meer vir hom winsgewend sou wees om voort te gaan met die kontrak nie.  Ek het reeds bevind dat dit kontrakbreuk deur verweerder daargestel het. Die bevinding is dus in ooreenstemming met die eerste gedeelte van die bewering  in paragraaf 4.4 van die gewysigde besonderhede van vordering.  Die volgende vraag is welke vorm van kontrakbreuk dit was.  Die toepassing van kruissubsidiëring ten opsigte van die vervoerkoste van braaikuikens, was duidelik `n wesenlike term van die kontrak. Die wesenlike aard daarvan blyk duidelik uit die verreikende gevolge wat die wysiging daarvan op eiser gehad het, synde dat die voortsetting van die kontrak op sodanige basis nie meer winsgewend vir eiser sou wees nie, wat nie in dispuut is nie. Na my mening en in die lig van die tersaaklike regsbeginsels waarna ek reeds verwys het, kan hierdie vorm van kontrakbreuk deur verweerder dus nie as iets anders dan repudiasie geklassifiseer word nie.  Vanweë die wesenlike aard en drastiese negatiewe gevolg van die repudiasie vir eiser, het dit eiser geregtig gemaak om die kontrak te kanselleer.  Eiser het in ieder geval ‘n reg tot terugtrede gehad ooreenkomstig die bepalings van klousule 19.1 van die kontrak, ten opsigte waarvan hy nie gebonde was daaraan om eers ‘n kennisgewing tot nakoming van die kontrak aan verweerder te verskaf nie.  Gevolglik was eiser na my mening regtens geregtig om by wyse van aanhangsels “B” en “C” tot die gewysigde besonderhede van vordering aan te dui dat hy in die lig van die veranderde kostestruktuur nie met die kontrak kan voortgaan nie.  Daardie bewerings het nie kontrakbreuk deur eiser daargestel nie – dit was eiser se reaksie (kansellasie deur eiser) op verweerder se kontrakbreuk (repudiasie deur verweerder).

[68] Wat betref aanhangsel “E” tot die besonderhede van vordering, lees dit onder andere as volg:

Aangesien dit egter nie vir u of vir Country Bird lonend sal wees om voort te gaan met hierdie ooreenkoms nie, word hierdie siklus as u laaste beskou en sal daar dus geen verdere kuikens by u geplaas kan word nie.”

Hierdie skrywe is ongedateer, maar dui die opskrif daarvan aan dat dit in antwoord is op bogemelde aanhangsels “B” en “C”.  Mnr Hodgson se getuienis en verduideliking ten opsigte van voormelde aanhaling, was die volgende:

Nou eerstens sê u dit gaan nie vir Mnr Botes meer lonend wees nie en u het met my saamgestem dit blyk so te wees, nè? --- Dit is reg.

Maar u gaan nou verder.  Dit gaan ook nie vir Country Bird lonend wees om voort te gaan met hierdie ooreenkoms nie.  Is dit ook reg? --- Dit is reg.

Ek verstaan dit dat as hierdie ooreenkoms moet voortgaan, dat Country Bird nogsteeds die gedeelte nou moet betaal wat die ander groeiers sou betaal, met ander woorde Mnr Botes as ons moet voortgaan en jy wil nogsteeds daardie enkele bedrag per vrag betaal meen dit ons sal uit ons sak uit meer moet betaal.  Is dit eintlik wat u daar vir hom meedeel, hierdie ooreenkoms soos hy staan, kan ons nie mee aangaan nie, want dit sal ook nie vir ons lonend wees nie? --- Ja, wat dit in praktyk beteken is, as ek dit net so kan antwoord as ek die vraag reg verstaan.

Ja? --- Dan beteken dit dat as ons sê met Mnr Botes sou aangaan op die ou stelsel, dan sou dit nie vir ons lonend wees nie.

Ja-nee, dit is hoe ek dit ook verstaan. --- Ja.

En dan sê u: ‘Daarom word hierdie siklus as die laaste beskou en sal daar dus geen verdere kuikens by u geplaas word nie.’ So weer ‘n mededeling van u namens Country Bird dat hierdie gaan nou die laaste kuikens wees Mnr Botes ongelukkig.  Ons gaan nie weer kuikens plaas by u onder hierdie ooreenkoms nie? --- Dit is reg.

Wat u betref sê u vir hom die kontrak het nou tot ‘n einde gekom wat tussen u en Country Bird bestaan het? --- Ja.” (Rekord, p. 302)

Feitelik het dit ook so gebeur, synde dat daar geen verdere kuikens geplaas was vir eiser ter uitvoering van die (oorspronklike) kontrak nie.  Na my mening het aanhangsel “E” tot die besonderhede van vordering dus verweerder se repudiasie van die kontrak bevestig.

[69] Op welke wyse die pleitstukke ook al geïnterpreteer word, strook die getuienis na my mening daarmee en was dit ten volle mee gehandel in die getuienis namens beide eiser en verweerder.  Indien dit geïnterpreteer word soos deur Mnr Oosthuizen aan die hand gedoen, is ek van mening dat eiser die wesenlike kontrakbreuk beweer in paragraaf 4.4 van die gewysigde besonderhede van vordering bewys het in die vorm van repudiasie, wat eiser geregtig gemaak het om die kontrak te kanselleer, soos verder in paragraaf 4.4 beweer.  Indien daar dan “gespring” word na die alternatief in pargaraaf 7.3 van die gewysigde besonderhede van vordering, strook dit weereens met die getuienis, synde dat eiser voortspruitend uit die wesenlike kontrakbreuk die kontrak gekanselleer het.  Indien die gewysigde pleitstukke egter geïnterpreteer word op die totaliteit daarvan, met insluiting van paragrawe 5.1 tot die eerste gedeelte van 7.3 daarvan, sowel as aanhangsels “B”, “C”, “D” en “E”  daartoe, is dit steeds na my mening ooreenkomstig die getuienis en het eiser hom steeds van voormelde bewyslas gekwyt.

 

Gevolgtrekking

[70] Derhalwe is ek van mening dat eiser se alternatiewe vordering soos uiteengesit in paragrawe 4.2, 4.3 en 4.4 van die gewysigde besonderhede van vordering, moet slaag. Dit het tot gevolg dat verweerder aanspreeklik is vir die betaling van skadevergoeding aan eiser ten opsigte van sodanige skade as wat eiser mag bewys hy voortspruitend uit bogemelde kontrakbreuk gely het; alternatiewelik tussen die partye op ooreengekom word.

 

Koste

Oorgestane koste van 9 September 2008:

[71] Wat betref die voorbehoue koste van 9 September 2008, het Mnr Claasen betoog dat verweerder vir daardie koste aanspreeklik behoort te wees, aangesien dit teweeggebring was deur ‘n kennisgewing van voorneme om die verweerskrif te wysig wat eers geliasseer was op 20 Augustus 2008, soos dit voorkom op p. 32 tot p. 34 van die kennisgewings.  Mnr Oosthuizen het daarop gewys dat die eerste gedeelte van die voorgenome wysiging slegs gehandel het met ‘n wysiging van die beskrywing van die Kontrakgroeiers Assosiasie en die onderskeid tussen die assosiasie as sulks en die komitee daarvan.  Die tweede wysiging het gehandel met eiser se verpligting om sy skade te beperk, welke wysiging in ieder geval toe nooit deur verweerder mee voortgegaan was nie.  Nadat daar by ooreenkoms tussen die partye ‘n kennisgewing van verwydering van die rol geliasseer was op 2 September 2008, het eiser ‘n kennisgewing van voorgenome wysiging van sy besonderhede van vordering geliasseer op 17 September 2008.  Mnr Oosthuizen het gesubmiteer dat dit duidelik uit laasgenoemde wysiging blyk dat dit ‘n substantiewe wysiging was wat gehandel het met die kwantifisering van eiser se beweerde skade, welke essensieel was aangesien die partye nog nie op daardie stadium ooreengekom het dat kwantum en meriete geskei word nie.  Mnr Oosthuizen het gevolglik aan die hand gedoen dat eiser bloot sy beswaar teen die voorgenome wysiging van verweerder geliasseer het ten einde aan homself die geleentheid te gee om ‘n omvangryke wysiging te liasseer.  Hy het derhalwe betoog dat eiser aanspreeklik behoort te wees vir die verspilde koste van 9 September 2008.

[72] Ek meen dat dit nie gepas is vir my om te spekuleer met betrekking tot die vraag of eiser ten tyde van die liassering van sy beswaar teen verweerder se voorgenome wysiging reeds sy eie voorgenome wysiging in sy kontemplasie gehad het, aldan nie.  Die feit is dat verweerder ‘n kennisgewing van voorgenome wysiging geliasseer het ten opsigte waarvan voorgeskrewe tydperke in terme van reël 28 van toepassing is en eiser was geregtig om op die nakoming daarvan aan te dring.  Terselfdertyd blyk dit egter wel nou in retrospek dat eiser nie op daardie stadium gereed sou wees om met die verhoor voort te gaan op die meriete en kwantum daarvan sonder die substantiewe wysiging van sy besonderhede van vordering nie.  In sodanige omstandighede het die uitstel dus beide partye die geleentheid gegee om deur die nodige wysigings hul pleitstukke in orde te kry.  Ek is gevolglik van mening, in die uitoefening van my diskresie, dat dit gepas sal wees indien die koste teweeggebring deur daardie uitstel, koste in die geding is.

 

Oorgestane koste van 4 September 2012:

[73] Mnr Claasen het aan die hand gedoen dat daardie uitstel teweeggebring was deur ‘n kennisgewing van verweerder se voorgenome wysiging van sy verweerskrif wat eers geliasseer was op 15 Augustus 2012, soos dit voorkom op p. 118 tot p. 120 van die kennisgewings.  Hy het dus gesubmiteer dat onder sodanige omstandighede verweerder aanspreeklik behoort gehou te word vir die verspilde koste teweeggebring deur daardie uitstel.

[74] Dit blyk dat die kennisgewing van verwydering van die rol daaropvolgend op 28 Augustus 2012 geliasseer was.  Anders as in die vorige geval, blyk dit egter dat eiser nie ‘n formele kennisgewing van beswaar binne die voorgeskrewe 10 dae, of daarna, geliasseer het nie.  Hoewel ek deeglik in ag neem dat eiser steeds 15 dae na die wysiging gehad het om ooreenkomstig die bepalings van reël 28(8) op te tree, is ek van mening dat in die lig van die hoeveelheid kere wat die saak al teen daardie tyd uitgestel was, eiser, wie dominus litis is, werklik meer doelgerig kon opgetree het  onder die omstandighede. Indien hy andersins gereed was om met die verhoor voort te gaan en erns daarmee gehad het, kon hy sekerlik die proses vinniger laat verloop het vanaf sy kant en daardeur toegesien het dat die verhoor steeds voortgaan.  Gevolglik is ek in die uitoefening van my diskresie insgelyks van mening dat daardie voorbehoue koste, koste in die geding moet wees.

 

Koste van 17 Oktober 2014:

[75] Eiser se getuienis was aangebied op 14 en 15 Oktober 2014, waarna Mnr Oosthuizen die absolusie aansoek geloods het en dit geargumenteer was.  Ten tyde van sy betoog ter opponering van die toestaan van sodanige aansoek, het Mnr Claasen, soos vroeër vermeld, aangedui dat eiser wens sy besonderhede van vordering te wysig.  Nadat ‘n verdaging verleen was sodat Mnr Claasen die voorgenome wysiging op skrif kon formuleer en aan Mnr Oosthuizen toon, het Mnr Oosthuizen aangedui dat dit noodsaaklik  is dat verweerder die geleentheid gegee word om die voorgenome wysiging te oorweeg en het hy dus versoek dat sodanige geleentheid gegee word tot 17 Oktober 2014, synde die daaropvolgende datum waarvoor die verhoor in ieder geval terrolle geplaas was.  Dit was na my mening ‘n uiters billike versoek onder die omstandighede en het ek dit aldus toegestaan.  Eiser se voorgenome wysiging was toe op 17 Oktober 2014 aangebring, waarop Mnr Oosthuizen voortspruitend daaruit dienooreenkomstig wysigings ten opsigte van die verweerskrif geliasseer het.  Beide regsverteenwoordigers het daarop voortgegaan om my toe te spreek op die meriete van die absolusie aansoek, veral ook op die basis van die gewysigde pleitstukke.

[76] Mnr Oosthuizen het gevolglik versoek en betoog dat die koste van 17 Oktober 2014 deur eiser betaal moes word, aangesien daardie addisionele koste deur eiser se toedoen veroorsaak was.

[77] Na my mening moet ek met Mnr Oosthuizen se betoog saamstem. As dit nie was vir die baie laat stadium van die verrigtinge waarop eiser besluit het om sy besonderhede van vordering te wysig nie, sou die betoë gefinaliseer gewees het op 15 Oktober 2014 en is die addisionele koste van 17 Oktober 2014 dus uitsluitlik teweeggebring deur eiser se toedoen. Dit is dus reg en billik dat eiser gelas moet word om daardie koste te betaal.

 

Oorgestane koste van die absolusie aansoek:

[78] Op die stadium wat die absolusie aansoek geloods was, was die hoofvordering eiser se enigste skuldoorsaak. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die wysiging wat die alternatiewe vordering daargestel het, plaasgevind het voor die afhandeling van die argumentering van die absolusie aansoek. Desnieteenstaande het verweerder besluit om met die absolusie aansoek te volhard en dit teen beide die vorderings. Dit het geskied onder omstandighede waar die oorgrote meerderheid van eiser se getuienis in ieder geval relevant was met betrekking tot beide die vorderings. Die absolusie aansoek was wel suksesvol ten opsigte van die hoofvordering. Wat die alternatiewe vordering betref, was nie net die absolusie aansoek onsuksesvol nie, maar is eiser ook nou, aan die einde van die verhoor, suksesvol met daardie vordering. Onder sodanige omstandighede en alwaar eiser reeds aanspreeklik gehou word vir die onnodige koste van 17 Oktober 2014 en dit dus nie meer deel vorm van die kostebevel ten opsige van die absolusie aansoek nie, is ek in die uitoefening van my diskresie van mening dat dit reg en billik is dat elke party gelas word om sy eie koste van die absolusie aansoek te betaal.

[79] Volledigheidshalwe word vermeld dat gegewe laasgenoemde gevolgtrekking, die kwalifiserende koste van een van verweerder se deskundige getuies, Mnr L. Dunn, ten opsigte waarvan Mnr Oosthuizen my volledig toegespreek het tydens die absolusie aansoek, dus nie verdere oorweging verg nie.

 

Koste van die geding:

[80] Daar is geen rede waarom koste nie die uitslag van die aksie moet volg en dat verweerder gevolglik gelas moet word om, onderhewig aan die bevindings wat reeds hierbo gemaak is, die koste van die aksie te betaal nie. Dit is uiteraard beperk tot die koste van die geding ten opsigte van die meriete daarvan en tot op hierdie stadium.


Bevel

[81] Gevolglik word die volgende bevel gemaak:

1. Eiser se alternatiewe vordering soos uiteengesit in paragrawe 4.2, 4.3 en 4.4 van die gewysigde besonderhede van vordering, slaag ten opsigte van die meriete daarvan.

2. Verweerder is aanspreeklik vir die betaling van skadevergoeding aan eiser ten opsigte van sodanige skade as wat eiser mag bewys hy voortspruitend uit bogemelde kontrakbreuk gely het; alternatiewelik tussen die partye op ooreengekom word.

3. Verweerder word gelas om die koste van die aksie te betaal, onderhewig aan die volgende:

3.1 Wat die oorgestane koste van 9 September 2008 en 4 September 2012 betref, is dit koste in die geding.

3.2 Wat die oorgestane koste van die aansoek om absolusie van die instansie betref, word dit gelas dat elke party sy eie koste betaal, behalwe die koste van 17 Oktober 2014, welke koste deur eiser betaal moet word.

 

______________

C. VAN ZYL, R

 

Namens Eiser:                       Adv. J. Y. Claasen SC

                                                In opdrag van:

                                                Phatshoane Henney Ing.

                                                BLOEMFONTEIN

Namens Verweerder:           Adv. H.F. Oosthuizen

                                                In opdrag van:

                                                Symington & de Kok Prokureurs                              BLOEMFONTEIN