South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2015 >> [2015] ZAWCHC 84

| Noteup | LawCite

Johnson v S (A146/2015) [2015] ZAWCHC 84 (8 June 2015)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA


(WES-KAAP HOOGGEREGSHOF, KAAPSTAD)


Saak No: A146/2015


DATE: 08 JUNE 2015


In die saak tussen:


KENO JOHNSON.....................................................................................................................Appellant


En


DIE STAAT.............................................................................................................................Respondent


UITSPRAAK GELEWER OP 08 JUNIE 2015


RILEY, WnR


[1] Die appellant was in die streekhof te Bellville skuldig bevind aan ‘n aanklag van ‘n oortreding van Artikel 117(e) van die Wet op Korrektiewe Dienste No. 111 van 1998 te wete dat hy gedurende die periode 18 September 2011 tot 12 Desember 2012 te 70 Tulbagh Singel, Belhar, terwyl hy onderworpe is aan gemeenskapskorreksies, gedros het en daardeur monitering vermy het.


[2] Appellant is op 5 Februarie 2014 gevonnis tot ‘n termyn van twee jaar direkte gevangenisstraf en kom nou in hoër beroep met verlof van hierdie hof, slegs teen vonnis.


[3] Daar is in hierdie hof onder andere namens die appellant aangevoer dat die verhoorhof misgetas het by die oplegging van ‘n gepaste vonnis deur nie genoeg gewig te heg aan die persoonlike omstandighede van die appellant nie; deur nie in ag te neem dat die appellant vir meer as veertien maande verhoor afwagtend was nie, en dat die verhoorhof versuim het om die kumulatiewe effek van die addisionele twee jaar gevangenisstraf wat opgelê, is in ag te neem.


[4] Dit word nou algemeen aanvaar dat ‘n Hof van Appèl slegs met die vonnis van die verhoorhof sal inmeng indien daar ‘n mistasting deur die verhoorhof begaan is, of as die vonnis opgelê deur die verhoorhof so swaar is dat geen redelike hof die vonnis sou opgelê het nie.


[5] Dit is ook geykte reg dat by die oorweging van vonnis dat dit belangrik is dat die vonnisoplegger by die strewe na ‘n gebalanseerde vonnis, ‘n straf moet oplê wat gepas is vir die oortreder en die misdaad wat hy/sy gepleeg het. Die vonnis moet ook billik of regverdig wees in die oë van die gemeenskap en moet daar ‘n mate van genade wees afhangende van die omstandighede.


[6] Die misdryf waaraan die appellant skuldig bevind is, maak voorsiening vir die oplegging van ‘n boete of met opsluiting vir ‘n tydperk van hoogstens tien jaar of met sodanige opsluiting sonder die keuse van ‘n boete, of met beide sodanige boete en sodanige opsluiting.


[7] Dit is gemene saak dat appellant op 3 Desember 1997 skuldig bevind is aan moord en besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en onderskeidelik gevonnis is tot twee en twintig jaar en drie jaar gevangenisstraf wat saamlopend uitgedien moes word. Appellant is op 29 Oktober 2010 vrygelaat op parool tot 21 Maart 2021. As voorwaarde van sy vrylating op parool moes appellant hom onderwerp aan gemeenskapskorreksies wat insluit dat hy onder andere, gemeenskapsdiens moes verrig en dat hy nie van adres kan verander sonder toestemming van sy paroolbeampte nie. Volgens die aanvaarde getuienis het die appellant van adres verander sonder die toestemming van sy paroolbeampte en kon hy derhalwe nie gemonitor word nie. Daar is ook getuienis dat hy nie die gemeenskapsdiens komponent van sy gemeenskapskorreksie program nagekom het nie alhoewel die getuienis ten opsigte van laasgenoemde egter karig is. Dit is verder gemenesaak dat appellant op 12 Desember 2012 weer in die gevangenis opgeneem is om die res van die 3475 dae gevangenisstraf op die moord saak uit te dien as gevolg van die verbreking van sy parool voorwaardes.

[8] Ek wil uit die staanspoor my misnoë uitspreek oor die feit dat daar meer as ‘n jaar verloop het vandat appellant vir paroolbreuk gearresteer is totdat hy op die aanklag voor die hof gebring is en die saak teen hom afgehandel is. Dit is onverklaarbaar waarom die appellant eers op 23 September 2013 voor die hof gebring is op die aanklag en dat die saak eers op 5 Februarie 2014 afgehandel is, as die appellant reeds op 12 Desember 2012 vir paroolbreuk gearresteer is. Na my mening is die toedrag van sake totaal onaanvaarbaar en kom dit neer op ‘n skending van die appellant se reg tot ‘n spoedige verhoor. Na my mening maak dit nie ‘n verskil dat appellant reeds begin het om die res van sy vonnis uit te dien nie en is dit ‘n faktoor wat die verhoorlanddros nie behoorlik in ag geneem het toe sy oorweging aan ‘n gepaste vonnis gegee het in die saak nie.


[9] In haar uitspraak oor vonnis, verklaar die landdros onder andere as volg:


“Ek is ingelig vandag dat u nie behoort aan ‘n bende nie. Wat vreemd is, is dat u oorlede tweeling broer, soos wat uself getuig het, betrokke was by bende aktiwiteite en dat uself ook getuig het dat u en u familie gevrees het ook vir u lewe. Daar was ook iets wat u tydens kruisondervraging genoem het rondom Pagad. Daar is nie verder daaroor uitgebrei nie. Hoe dit ook al sy, ons almal weet wie ‘Pagad’ is en ons almal weet wie ‘Geweld’ is, as ons met hierdie tipe sake te doen het, en dit voorspel net probleme.


So wat vir my duidelik na vore gekom het Mnr Johnson, is dat u in verkeerde kringe beweeg en as ek kyk na die laaste oortreding, die een waarvoor u op parool was, daar is nie uitgebrei nie. U kan vir my sê as ek verkeerd is. Ek lei af die moord wapen wat u gebruik het, was ‘n vuurwapen, want u is ook op daardie masnommer skuldig bevind aan besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en besit van ammunisie …’


en verder


‘Ek wil aansluit by die betoog van die Staatsaanklaer dat u een van daardie persone is wat nie daardie kans gegun moet word nie, dat u reeds bewys het met die eerste oortreding waar u op parool uit was, dat u moord gepleeg het terwyl u op parool uit was, dat u nooit hierdie kans, gegun moes gewees het nie.’


[10] Dit is heel duidelik dat by die beoordeling van ‘n gepaste vonnis dat die verhoorlanddros beinvloed is deur die feit dat na haar mening:


1. die appellant hom met bende bedrywighede geassosieer het terwyl hy op parool was;


2. dat hy ‘n ongelisensieerde vuurwapen gebruik het by die pleeg van die moord waarop hy op parool vrygelaat is; en


3. die appellant nooit op parool vrygelaat moes gewees het nie, aangesien hy op ‘n vorige geleentheid op parool vrygelaat is toe die moord gepleeg is.


[11] Daar is geen getuienis dat die appellant hom met bendebedrywighede betrek het terwyl hy op parool was nie. Die getuienis wys eerder daarop dat na appellant se broer deur bendes doodgeskiet is, omdat hy getuienis sou aflê teen bendes, dat appellant en sy familie gevrees het dat appellant ook deur bendes vermoor sou word. Dit was juis om die rede dat appellant onder invloed van sy familie besluit het om die adres waar hy woonagtig was, te verlaat om uit die area te kom waar sy lewe klaarblykbaar in gevaar was.


[12] Alle aanduidings is dat appellant ‘n stabiele leefswyse handhaaf het terwyl hy op parool was, dat hy gewerk het as ‘n motorwerktuigkunde by Porter BMW en dat hy ‘n minderjarige kind van drie (3) jaar oud gehad het. Dit blyk ook dat hy ‘n verhouding met een van sy meisies beëindig het omdat sy onstabiel opgetree het en dat hy bang was dat sy probleme in sy lewe sou veroorsaak wat ‘n negatiewe uitwerking op sy parool sou het. Alle aanduidings is dat appellant nie meer met bendes betrokke was nie en dat hy besig was om sy lewe te verander. Daar is geen getuienis dat terwyl hy op parool vrygelaat is dat hy betrokke was by die pleeg van misdaad nie en of dat hy aan enige misdade skuldig bevind is nie. Dit blyk dat die appellant se enigste fout was dat hy nie sy paroolbeampte laat weet het van sy adres verandering nie.


[13] Die landdros het verder uit die oog verloor dat die verhoorhof wat die appellant skuldig bevind het aan moord en die vonnis van twee en twintig (22) jaar opgelê het, seer sekerlik die omstandighede waaronder daardie moord gepleeg is in ag moes geneem het, toe hy daarvoor gevonnis was.

[14] Dit moet ook so wees dat die Parool Raad oorweging gegee het aan die appellant se vorige veroordelings toe daar besluit is of appellant in die moord saak op parool vrygelaat moes word al dan nie. In elk geval is daar geen getuienis voor die hof geplaas oor die omstandighede van die moord en die redes waarom die vonnis opgelê is nie. Nog minder is daar faktore voor die verhoorlanddros geplaas oor die redes waarom appellant op parool vrygelaat is nie. Die verhoorlanddros het myns insiens misgetas deur haar nie te beperk tot die feite en omstandighede van die huidige misdaad waaraan appellant hom skuldig gemaak het.


[15] Dit is verder duidelik dat die verhoorlanddros die belange van die gemeenskap en die aard en erns van die misdryf oorbeklemtoon het en die belangrike komponente van rehabilitasie en individualisering van vonnis, nagelaat het. Dit is korrek dat die gemeenskap verwag dat ernstige misdaad gestraf sal word, maar word dit ook verwag dat strafversagtende omstandighede in ag geneem moet word en dat die beskuldigde se besondere posisie deeglike oorweging verdien.


[16] Ek is gevolglik van mening dat die verhoorlanddros misgetas het deur die belange van die gemeenskap asook die erns van die misdaad te oorbeklemtoon. Na my mening is dit nie een van die mees ernstige gevalle van paroolbreuk nie. Die feit dat appellant hom skuldig gemaak het aan paroolbreuk sal sonder twyfel sy kanse om in die toekoms weer op parool vrygelaat te word negatief beinvloed. Ek is derhalwe nie oortuig dat inageneem al die omstandighede van hierdie saak, dat die termyn van twee (2) jaar direkte gevangenisstraf wat opgelê is, ‘n redelike en gebalanseerde vonnis is nie. Ek is tevrede dat in die omstandighede van hierdie saak dit gepas is dat die twee (2) jaar gevangenisstraf wat opgelê is samelopend uitgedien moet word met die vonnis wat die appellant huidiglik uitdien.


[17] Derhalwe stel ek die volgende bevel voor:

(a) Die appèl slaag ten opsigte van vonnis.


(b) Die vonnis van twee (2) jaar gevangenisstraf word vervang met die volgende vonnis:


(i) Twee (2) jaar gevangenisstraf. Ingevolge die bepalings van Artikel 280 van die Strafproseswet 51 van 1977 word gelas dat die vonnis van twee (2) jaar samelopend uitgedien word met die vonnis wat die appellant huidiglik uitdien.


(ii) Die vonnis word terugdateer na die oorspronklike datum van vonnisoplegging.


RILEY, WnR



Ek stem saam en dit word so beveel.


NDITA, R