South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2011 >>
[2011] ZAWCHC 252
| Noteup
| LawCite
Arnoldus and Another v S (A78/2011) [2011] ZAWCHC 252 (3 June 2011)
Download original files |
Republiek van Suid-Afrika
In die Wes-Kaap Hoe Hof, Kaapstad
SaakNo: A78/2011
In die appel
Jonathan Arnoldus Appellant …...............................................................................................Nommer 1
Hendrik Mei Appellant …..........................................................................................................Nommer 2
Versus
The State …..........................................................................................................................Respondent
Uitspraak gelewer: 3 Junie 2011
Louw R
[1] Die appellante wat deurgaans deur 'n regsverteenwoordiger bygestaan is. het in die landdroshof op Oudtshoorn tereg gestaan op 'n hoofaanklag dat hulle op 11 Desember 2009 'n volledige motoruitlaatstelsel gesteel het. met 'n alternatiewe aanklag dat hulle artikel 36 van die algemene regswysigtngs wet 62 van 1955 oortree het deurdat hulle op 11 Desember 2009 in besit gevind is van die uitlaatstelsel ten opsigte waarvan daar n redelike verdenking bestaan dat dit gesteel is en dat hulle nie in staat was om voldoende rekenskap van hul besit van die uitlaatstels.el te gee nie.
[2] Die appellante het op 9 September 2010 onskuldig gepleit op die aanklag teen hulle en het al die elemente van die misdryf is in geskil gestel.
[3] Op 11 November 2010 is die appellante skuldig bevind op die alternatiewe aanklag onder art 36 van wet 62 van 1955, tewete die besit van vermoedelik gesteelde goed waarvoor hulle nie in staat was om voldoende rekenskap te gee nie. Op dieselfde dag is die appellante elkeen tot nege maande gevangenisstraf gevonnis.
[4] Die appellante kom nou met verlof van die hof a quo wat op 26 November 2010 aan hulle verleen is, op appel teen beide hulle skuldigbevinding en die vonnis wat hulle opgele[1][1] is.
[5] Dit was tydens die verhoor gemene saak dat die appellante op 11 Desember 2009 omtrent 11h20 die oggend in Pleinstraat op Oudtshoorn deur twee polisieiede in 'n vangwa voorgekeer is terwyl hulle besig was om die uitlaatstelsel te dra. Hulle is dus in besit van die uitlaatstelsel gevind. Die vraag in hierdie appel is of die staat bo redelike twyfel bewys het dat:
1. daar 'n redelike verdenking by die polisieiede bestaan het dat die uitlaatstelsel gesteel is; en
2. die appellante nie in staat was om voldoende rekenskap te gee van hul besit van die uitlaatstelsel nie.
[6] By die aanhoor van hierdie appel op 20 Mei 2011 het Mnr Burgers wat by die appel namens die appellante opgetree het, vir die eerste keer die punt geopper dat die klagstaat in hierdie saak fataal gebrekkig is in die sin dat daar beweer word dat daar 'n redelike verdenking bestaan (in die teenwoordige tyd) en nie dat die verdenking in die verlede, op die tydstip toe hulle in besit van die goed gevind is, bestaan het, dat die uitlaatstelsel gesteel is nie. In hierdie verband het Mnr Burgers staatgemaak op die uitspraak van die appelhof in R v Ismail and Another 1958 (1) SA 206 (A) waar ten opsigte van n soortgelyke bewering in die teenwoordige tyd in die klagstaat op 212 G -213 A die volgende gese het:
'I do not see how a statement that there is reasonable suspicion that the goods have been stolen, following on a statement that the accused were at a specified time found in possession of the goods, can be read as averring that the suspicion and the possession were contemporaneous; yet, on the construction placed on the statute in May's case and the series of decisions that followed it. that contemporaneousness is an essential ingredient in the offence. The averment of the finding in possession having - quite correctly ― been put in the past tense, the averment of the existence of a reasonable suspicion that the goods had been stolen should, in my opinion, also have been in the past tense'.
I therefore consider that the charge disclosed no offence and that consequently the appeal should be allowed and the conviction and sentences should be set aside.'
[7] Ons het die advokate namens die appellant en die staat gevolglik versoek om aanvullende hoofde van argument voor te berei oor die vraag of die aanklag wat hierdie punt betref nie ingevolge die bepalings van art 88 van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977 nie reggestel word omdat daar getuienis was dat die polisie ten tyde van die vind en arrestasie van die appellante wel 'n verdenking gehad het dat die uitlaatstelsel gesteel is. Die advokate namens die partye het nou verdere hoofde geliasseer waarvoor ons hulle bedank.
[8] Dit is onduidelik of daar direkte voorgangers van die bepalings van art 88 te vinde is in die voorgangers van Wet 51 van 1977 en wel in artikel 225 van Wet 31 van 1917 en art 176 van wet 56 van 1955. Hoe dit ookal sy, die bepalings van art 88 van wet 51 van 1977 is na my mening, wat hierdie aspek betref duidelik. Die artikel lui soos volg:
'Gebrek in aanklag deur getuienis herstet.
88. Waar 'n aanklag gebrekkig is vanwee" die weglating van 'n bewering wat 'n noodsaaklike bestanddeel van die betrokke misdryf is, word die gebrek, tensy dit voor uitspraak onder die aandag van die hof gebring word, herstel deur getuienis by die verhoor wat die aangeleentheid bewys wat beweer moes gewees het.'
[9] In hierdie geval is daar 'n bewering dat daar 'n redelike vermoede bestaan (in die teenwoordige tyd) dat die goed gesteel is. Wat dus weggelaat is uit die klagstaat is 'n bewering dat toe die appellante in besit van die goed gevind is. daar op daardie stadium "n redelike vermoede bestaan het dat dit gesteel is. Mnr. Burgers se betoog dat daar hier slegs 'n verkeerde bewering was en dat daar nie 'n weglating van 'n noodsaaktike bewering is nie, is spitsvondig. Daar is 'n weglating omdat daar 'n verkeerde bewering is. Dit was weens hierdie weglating dat, op die gesag in Ismail, die klagstaat 'n bewering wat 'n noodsaaklike bestanddeel van die misdryf is, skort en dat die aanklag nie 'n misdryf openbaar nie. Soos ek reeds gese het, was daar egter getuienis voor die verhoorhof van die omstandighede waaronder die appellante in besit van die goed gevind is en dat daar op daardie stadium 'n vermoede by die polisie bestaan het dat die goed gesteel is. Daar was dus getuienis van die feite en van 'n vermoede wat op daardie stadium bestaan het Die vraag of daardie vermoede 'n redelike vermoede was moet op daardie getuienis uitgemaak word.
[10] Ek is van mening dat die gebrek in die klagstaat deur die getuienis by die verhoor herstel is en dat die klagstaat dus wet, aangevul deur die getuienis 'n misdryf openbaar.
[11] Na my mening is daar dus geen meriete in Mnr Burgers se betoog wat hierdie aspek betref nie.
[12] Die eerste vraag is dus of die verdenking wat daar by die polisie was dat die goed gesteel is, 'n redelike verdenking was. Die toets is objektief, sou die redelike persoon in die posisie van die polisieiede so 'n verdenking gehad het. Die feite waarop die polisie tot hierdie gevolgtrekking gekom het was dat die uitlaatstelsel wat omtrent 3m in lengte was en deur albei die appellante gedra moes word, hoewel dit nie nuut was nie, nog in 'n goeie toestand was. Dit was volgens adjudant offisier Kennedy 'n Bosal uitlaatstelsel wat hy skat ongeveer 'n R1000 werd was. Die ander polisieman, sersant Boshoff het geskat dat die stelsel ongeveer R1500 werd is. Boshoff het getuig dat hy kon sien dat die uitlaatstelsel. hoewel dit nie splinternuut was nie, in 'n goeie toestand was en dat dit nog jare gebruik sou kon word. Dit was dus nie iets wat ;n persoon sonder meer vir 'n ander sou weggee nie. Die twee polisiemanne het ook getuig dat hulle vir die appellante gevra het waar hulle die uitlaatstelsel gekry het en beweer dat die appellante mekaar toe oor en weer daarvan beskuldig het dat die ander een die uitlaatstelsel gekry het. Hierdie verduideliking was nie vir die polisie geloofwaardig nie en het oenskynlik verder bygedra daartoe dat hulle vermoed het dat die goed gesteel is.
[13] Die appellante het self getuig en bevestig dat hulle in Pleinstraat deur die polisie voorgekeer is terwyl hulle besig was om die uitlaatstelsel te dra. Hulle bevestig ook dat die polisiemanne vir hulle gevra het waar hulle die uitlaatstelsel gekry het. Hulle ontken egter dat hulle mekaar oor en weer beskuldig het van wie die uitlaatstelsel aanvanklik sou gekry het. Die appellante se dat hulle vir die polisie gese het dat hulle sopas die goed van 'n onbekende persoon wat hulle in die straat genader het vir 'n sigaret, gekry het. Volgens hulle het die persoon ges6 dat hy nie 'n identiteitsdokument het nie en dat hy dus nie die uitlaatstelsel aan 'n skrootwerf sou kon verkoop nie. Hy was ook haastig oppad om sy salaris te gaan haal. Hy het gevolglik sondermeer die uitlaastelsel vir hulle gegee en die eerste appellant sou sy identiteitsdokument by die huis gaan haal waarop hulle dit by die skrootwerf sou gaan verkoop.
[14] Die landdros het die polisie se weergawe van die gesprek aanvaar. Dit was tydens die verhoor gemene saak dat die tweede appellant wat heelwat ouer as die eerste appellant is, tot 'n mate onder die invloed van drank was.
[15] Ek meen dat die verdenking by die polisie dat die uitlaatstelsel gesteel is, in die omstandighede wel 'n redelike verdenking was. Ek meen dat selfs al sou die appellante se weergawe dat hulle vir die polisie gese het waar hulle die stelsel gekry het, tewete by 'n persoon wat dit sondermeer in die straat aan hulle oorhandig het nadat hulle horn toegelaat het om aan hul sigaret te suig. steeds saam met die aard en waarde van die uitlaatstelsel en die omstandighede waaronder die appellante daarmee gevind is, by 'n redelike persoon die verdenking sou laat ontstaan het dat die uitlaatstelsel gesteel is.
[16] Die volgende vraag is of die appellante in staat was om voldoende rekenskap van hul besit van die uitlaatstelsel te gee.
[17] Volgens die staat se weergawe het die appellante geen verduideliking gegee nie en het hulle mekaar oor en weer daarvan beskuldig dat die ander een dit gekry het en dat altwee beweer het dat hy net gehelp het om dit te dra. Indien die staat se weergawe aanvaar word, is dit klaarblyklik nie 'n voldoende verduideliking van die besit van die goed nie. Die appellante se weergawe by die verhoor is dat hulle wel vir die polisie verduideiik het dat hulle sopas die uitlaatstelsel van 'n onbekende persoon in die straat gekry het. Volgens hulle het die polisie gese dat hierdie verduideliking glad nie opgaan nie.
[18] Daar moet onthou word dat artikel 36 so deur die howe interpreteer word dat daar nie vereis word dat die onvermoe om 'n verduideliking te verskaf juis net tyde van die vind van die goed moet bestaan nie. Die artikel word so uitgele dat die appellante ook 'n verduideliking by die verhoor kan gee van hulle besit. Die staat moet dus bewys dat die appellante tot by die verhoor, nie 'n voldoende verduideliking kon verskaf vir hul besit van die goed nie. Selfs al het hulle dus nie 'n verduideliking aan die polisiemanne verskaf nie. moet hul verduideliking by die verhoor steeds oorweeg word. Die feit dat hulle vroeer 'n ander verduideliking gegee het kan egter lei tot die bevinding dat hulle nie 'n voldoende verduideliking kon verskaf nie. Die vraag of die verduideliking voldoende is moet beide subjektief en objektief beoordeel word in die sin dat die verduideliking nie net redelik moontlik waar moet wees nie maar, tweedens, ook dat die appellante self geglo het dat hul besit bona fide en onskuldig is 'met betrekking tot die doelstelltng van die wet. naamlik die bekamping van diefstal' (sien Snyman: Strafreg 5de uitgawe op 519).
[19] Die tweede appellant getuig dat hulle vir die onbekende man gevra het waar hy die uitlaatstelsel gekry het en dat hy aan hulle verduidetik het dat hy dit by die 'tiep' opgetel het Die landdros meen dat hierdie getuienis op 'n teenstrydigheid neerkom. Dit is nie geregverdig nie. Die tweede appellant is eers in kruisverhoor vir die eerste keer gevra oor of die persoon vir hulle gese het waar hy die uitlaatstelsel gekry het. Die eerste appellant is nie in hoof of kruisverhoor gevra of die persoon aan hulle 'n verduideliking oor sy besit verskaf het nie. Die tweede appellant was dus heeltemal reg om te se dat hy nie voorheen gevra is oor wat die persoon gese het oor waar hy die uitlaatstelsel gekry het nie. Die landdros het ook misgetas deur in haar uitspraak te se dat die appellante altwee ontken het dat die polisie aan hulle gevra het waar hulle die uitlaatstelsel gekry het Hulle het altwee getuig dat die polisie wel vir hulle so gevra het en dat hulle wel 'n verduideliking aan die polisie verskaf het.
[20] Ek meen nietemin dat selfs al sou die appellante se weergawe van hoe hulle in besit van die uitlaatstelsel gekom het, as redelik moontlik waar aanvaar word, dit is steeds nie 'n voldoende verduideliking is in die sin dat hulle werklik geglo het dat hul besit bona fide en onskuldig is nie. Ek meen dat hulle nie werklik geglo het dat hulle besit bona fide en onskuldig was nie en dat hulle nie werklik geglo het dat die persoon wat die goed aan hulle gegee het, dit op 'n onskuldige wyse by 'n stortingsterrein opgetel het nie. Verder, selfs al het hulle geglo dat die persoon die goed by die stortingsterrein opgetel het, het hulle weens die aard en waarde van die uitlaatstelsel. Nie werklik geglo dat wie ookal die eienaar van die uitlaatstelsel was, dit vrywilliglik op 'n stortingsterrein sou laat beland het nie.
[21] Ek meen dus die appellante se verduideliking van hul besit nie voldoende rekenskap van hul besit daarstel nie.
[22] Dit volg dus dat die appellante, op die Staat se weergawe, maar ook hulle eie weergawe, skuldig is aan die oortreding van artikel 36 van Wet 62 van 1955..
[23] Ek handel vervolgens met die appel teen vonnis.
[24] Die eerste appellant was 24 jaar oud ten tyde van die verhoor. Hy is ongetroud maar het op daardie stadium 'n kind wat een maand oud was gehad. Die kind het egter by haar ma gewoon. Hy het standerd sewe op skool geslaag maar was ten tyde van die verhoor werkloos en is deur sy ouers onderhou. Hy het vyf vohge veroordelings vir diefstal wat teruggaan na 2001. Hy het ook verdere veroordelings vir kwaadwillige saakbeskadiging en aanranding. Hy is vroeer termyne van gevangenisstraf wat aanvanklik opgeskort is en later nie opgeskort is nie, opgele. In die omstandighede is die nege maande gevangenisstraf wat die eerste appellant opgele is, nie onvanpas nie.
[25] Die tweede appellant was reeds 41 jaar oud ten tyde van die verhoor. Hy is ook ongetroud maar het 'n seun van drie jaar oud wat deur sy ma versorg word. Hy het gevorder tot standerd agt op skool en het ten tyde van die verhoor as 'n 'hawker' van groente en vrugte gewerk. Hy verdien ongeveer R500 per week wat hy gebruik om homself, sy ouers en sy seun te onderhou. Die tweede appellant het 'n besonder lang lys van vorige veroordelings wat teruggaan na 1982 en dit sluit twaalf vorige veroordelings vir diefstat en roof in. Hierdie misdrywe is met gereelde tussenposes oor die jare gepleeg en hy is verskeie termyne van gevangenisstraf opgele. Die laaste hiervan was in 2007 toe hy ses maande gevangenisstraf opgele is vir diefstal. Daar is voorts ook veroordelings vir aanranding, verkragting in 1989, kwaadwillige saakbeskadiging, die oortreding van die wet op gesinsgeweid en die besit van dwelms.
[26] Ook in die geval van die tweede appellant is die vonnis van nege maande gevangenisstraf nie onvanpas nie.
[27] Die gevolg is dat die appellante se appel teen hul skuldigbevinding en die vonnis wat hulle opgele is, nie kan slaag nie.
[28] Die volgende bevel word gemaak:
1. Die appellante se appel teen skuldigbevinding en vonnis word afgewys;
2. Die appellante se skuldigbevindings en vonnisse word bekragtig.
W.J. LOUW
Regter van die Hooggeregshof
Ek stem saam.
R.C.A. HENNEY
Regter van die Hooggeregshof