South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2005 >>
[2005] ZAWCHC 81
| Noteup
| LawCite
Ryklof Beleggings (Edms) Bpk and Others v Du Plessis (7977/04) [2005] ZAWCHC 81; [2006] 4 All SA 474 (C) (25 October 2005)
Download original files |
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
[KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING]
Saaknommer: 7977/04
In die saak tussen:
RYKLOF BELEGGINGS (EDMS) BPK Eerste Applikant
JAN S DE VILLIERS & SEUN Tweede Applikant
VAN DER SPUY & VENNOTE Derde Applikant
MALAN LOURENS INGELYF Vierde Applikant
en
WILLIE CORNELIA DU PLESSIS Respondent
UITSPRAAK GELEWER: 25 OKTOBER 2005
FOURIE, R:
[1] Hierdie is ‘n aansoek ingevolge artikel 2 (b) van die Wet op Kwelsugtige Gedinge, Nr. 3 van 1965 (“die Wet”), waarkragtens applikante vra vir ‘n bevel:
Dat respondent geen regsgeding teen die applikante of enige ander persoon mag instel voortspruitend uit die regsgedinge ingestel teen haar in die Bellville landdroshof onder saaknommers 595/90 en 596/90 (“die landdroshofgedinge”) of voortspruitend uit enige van die geskilpunte wat ontstaan het in aksies ingestel in hierdie hof onder saaknommers 11345/94, 3633/00 en 3766/00 (“die hooggeregshofgedinge”), en dat geen verdere stappe in die hooggeregshofgedinge deur respondent geneem mag word nie, tensy respondent verlof van hierdie hof of ‘n regter daarvan vir die instel van sodanige toekomstige verrigtinge, of die neem van sodanige verdere stappe, bekom het.
Dat respondent die koste van die aansoek betaal.
[2] Artikel 2 (b) van die Wet bepaal as volg:
“Indien die hof, op aansoek van iemand teen wie ‘n regsgeding deur ‘n ander persoon ingestel is of wat rede het om te vermoed dat die instelling van ‘n regsgeding teen hom deur ‘n ander persoon beoog word, oortuig is dat bedoelde persoon aanhoudend en sonder redelike gronde regsgedinge ingestel het in enige hof of in ‘n laerhof, hetsy teen dieselfde persoon of teen verskillende persone, kan die hof, nadat die hof daardie ander persoon aangehoor het of aan hom ‘n geleentheid toegestaan het om aangehoor te word, beveel dat geen regsgeding deur hom teen enige persoon in enige hof of ‘n laerhof, na gelang van die geval, ingestel mag word nie, en sodanige verlof word nie toegestaan nie tensy die hof of regter of die laerhof, na gelang van die geval, oortuig is dat die geding nie ‘n misbruik van geregtelike proses uitmaak nie en dat daar prima facie gronde vir die geding bestaan.”
[3] Die doel van die Wet en die toepassingsgebied daarvan, word as volg in Ernst & Young & Others v Beinash & Others, 1999 (1) SA 1114 (WPA) te 1138H – 1139E omskryf:
“The purpose of the Act is to put a stop to persistent and ungrounded institution of legal proceedings by the introduction of a screening procedure which sifts out only those proceedings which are groundless, i.e. where there is no prima facie ground for the proceedings, or which constitute an abuse of the process of Court. S v Sitebe 1965 (2) SA 908 (N) at 911.
The threshold introduced by the screening procedure appears to be low. It does no more than to sift out proceedings which should in any event not have been brought. This appears to me to be a legitimate and worthy objective.
The screening procedure operates only against those with a track record of vexatious litigation, i.e. those who have in the past persistently and without any reasonable ground instituted legal proceedings. The screening procedure also protects the following interests, namely:
The interests of those persons against whom the vexatious litigant persistently institutes groundless proceedings. Such persons are entitled to the protection of the law and should not be exposed to the harassment and cost of groundless litigation instituted by a proven vexatious litigant.
The interests of the courts not to be burdened with groundless litigation and attempts to abuse their process by those who have already manifested a propensity to do so. The proper functioning of the courts is impeded by persistent groundless proceedings instituted by vexatious litigants. The wider public interest in the proper and effective administration of justice is undermined when vexatious litigants are allowed to harass their adversaries by persistent groundless proceedings which clog the courts.”
[4] Die Konstitusionele Hof het in Beinash & Others v Ernst & Young & Others 1999 (2) SA 116 (CC) te paragraaf 15, die voormelde benadering as volg goedgekeur:
“The purpose is ‘to put a stop to persistent and ungrounded institution of legal proceedings’. The Act does so by allowing a court to screen (as opposed to absolutely bar) a ‘person (who) has persistently and without any reasonable ground instituted legal proceedings in any Court or inferior court’. This screening mechanism is necessary to protect at least two important interests. These are the interests of the victims of the vexatious litigant who have repeatedly been subjected to the costs, harassment and embarrassment of unmeritorious litigation; and the public interest that the functioning of the courts and the administration of justice proceed unimpeded by the clog of groundless proceedings.”
[5] Applikante is by die aanhoor van die aansoek deur Advokaat Oosthuizen SC verteenwoordig, terwyl respondent in persoon verskyn het.
[6] Die relevante feite wat aanleiding gegee het tot die aansoek, word volledig uiteengesit in die funderende eedsverklarings van Mnr. KWJ Brink, ‘n prokureur verbonde aan tweede applikant, en Mnr. CH van Breda, ‘n prokureur verbonde aan derde applikant. Hierdie feite was nie in enige wesenlike opsig deur respondent betwis in die stukke wat sy geliasseer het of in haar mondelinge voordrag aan die hof nie. Gerieflikheidshalwe kan die relevante feite kortliks as volg opgesom word:
In Januarie 1990 is dagvaarding in die landdroshofgedinge teen respondent uitgereik vir haar uitsetting uit sekere sakepersele wat sy by eerste applikant gehuur het. Die uitsettingsbevele is aangevra weens haar wanbetaling van huurgeld. In Februarie 1990 is vonnis by verstek en lasbriewe vir uitsetting in die landdroshofgedinge toegestaan en is die lasbriewe vir uitsetting uitgevoer.
In Maart 1990 is respondent opgeneem in Stikland Sielkundige Hospitaal. Daarna is ‘n kurator ad litem aangestel om haar sake te behartig. Aansoek is toe gedoen vir die vrywillige oorgawe van haar boedel. In die boedeloorgawe is die rede vir haar finansiële probleme verstrek as synde sekere verwagte kapitaal wat sy nie ontvang het nie, met gevolg dat haar sakebedrywighede misluk het.
In September 1994 het respondent die eerste hooggeregshofgeding onder saaknommer 11345/94, teen eerste applikant ingestel, waarin betaling van ‘n bedrag van R1 484 000,00 gevorder is, synde skade na bewering gely weens haar uitsetting uit die gemelde sakepersele. Die bewering van respondent in hierdie geding, is dat haar beweerde skade verband gehou het met beweerde onregmatige optrede van eerste applikant. Dit word deur applikante bevraagteken, veral aangesien, soos reeds gemeld, respondent se finansiële probleme blykbaar te wyte was aan haar gebrek aan kapitaal en nie aan enige optrede van eerste applikant nie. Daarbenewens blyk daar ook geen rede te wees waarom respondent, indien daar geldige gronde was vir die tersydestelling van die uitsettingsbevele, nie sodanige stappe in Februarie 1990 geneem het ten einde weer in besit gestel te word van haar sakepersele nie.
In September 1996 het respondent haar vordering in die eerste hooggeregshofgeding gewysig deur die eisbedrag te verhoog na R3 484 000,00. Die saak was ter rolle geplaas vir verhoor op 29 Mei 1997.
Op 2 Mei 1997 was derde applikant deur die Regshulpraad aangestel om die eerste hooggeregshofgeding namens respondent te behartig. Haar vorige prokureurs het teen daardie stadium reeds onttrek. Voormelde Van Breda, indertyd ’n professionele assistent by derde applikant, het namens respondent opgetree. In ooreenstemming met die reëls van die Regshulpraad, het hy ‘n skriftelike verslag oor die meriete van die saak aan die Regshulpraad verskaf en, onder andere, die mening uitgespreek dat daar probleme was met kousaliteit en dat respondent se beweerde vermoënsregtelike skade moeilik bewysbaar was.
Op 8 Mei 1997 het tweede applikant, wat namens eerste applikant opgetree het, by monde van voormelde Brink ‘n skikkingsaanbod aan respondent , verteenwoordig deur Van Breda, gemaak vir betaling van die bedrag van R60 000,00 tesame met ‘n bydrae van R10 000,00 tot haar gedingskoste. Die skikkingsaanbod is, volgens Brink, gemaak op grond van ekonomiese oorwegings, soos die tyd en koste wat die voer van die hofsaak in beslag sou neem. Van Breda was van mening dat die skikkingsaanbod redelik is en het respondent en die Regshulpraad dienooreenkomstig geadviseer. Die Regshulpraad het gelas dat die skikkingsaanbod aanvaar moet word en dat, indien respondent dit nie wou doen nie, derde applikant van die saak moes onttrek. Respondent het geweier om die gemelde skikkingsaanbod te aanvaar, met gevolg dat derde applikant as haar prokureurs onttrek het.
Op 12 Mei 1997 het ‘n voorverhoorkonferensie by die kantore van tweede applikant plaasgevind. Brink het die konferensie namens eerste applikant bygewoon, terwyl respondent dit in persoon bygewoon het. Voortspruitende uit die konferensie, het eerste applikant besluit om die voormelde skikkingsaanbod te verhoog na R100 000,00, gedingskoste ingesluit. Die voorverhoorkonferensie was hervat op 13 Mei 1997, toe die verhoogde skikkingsaanbod aan respondent persoonlik gemaak is.
Op 14 Mei 1997 het respondent die skikkingsaanbod aanvaar en ‘n skriftelike skikkingsooreenkoms onderteken. In klousule 4 daarvan bevestig respondent dat sy “nie enigsins deur verweerder (eerste applikant) of verweerder se regsverteenwoordiger (tweede applikant) beïnvloed of gedwing was om die skikking aan te gaan nie” en dat sy “die volle omvang en regsgevolge van die skikking ten volle verstaan”. Klousule 1 van die skikkingsakte bepaal uitdruklik dat die skikking “in volle en finale vereffening van enige en alle eise (is), regskoste insluitende, wat die eiseres teen die verweerder mag hê.”
‘n Betaling ten bedrae van R100 000,00 synde die ooreengekome skikkingsbedrag, is daarna aan respondent gemaak en gemelde betaling is aanvaar. Die betaling is op respondent se versoek aan haar seun gemaak. Nieteenstaande die voormelde skikking van die eerste hooggeregshofgeding, het respondent op 29 Mei 1997 by die hof opgedaag en die Griffier meegedeel dat die saak nie geskik is nie. Op navraag deur die Griffier, het Brink die skikkingsakte aan die Griffier getoon, maar is hy meegedeel dat respondent intussen erken het dat die aangeleentheid geskik is, maar dat sy beweer dat slegs ‘n bedrag van R50 000,00 en nie R100 000,00 nie, aan haar betaal is.
Op 8 Julie 1997 het die Regshulpraad ‘n skrywe aan Van Breda gerig waarby ‘n afskrif van ‘n skrywe van respondent aan die Minister van Justisie, aangeheg was. In laasgenoemde skrywe maak respondent aantygings teen Van Breda, onder andere, dat hy sy plig as prokureur teenoor haar versuim en haar probeer dwing het om die skikking te aanvaar, met die dreigement dat hy haar regshulp sou laat beeïndig. Dit dien gemeld te word dat Van Breda hierdie aantygings ten sterkste ontken, en voer applikante aan dat daar in ieder geval geen meriete daarin is nie.
Op 10 November 1999 het respondent ‘n skrywe aan tweede applikant gerig waarin Van Breda en Brink daarvan beskuldig word dat hulle “saamgestaan” het om die saak uit die hof te hou.
Op 16 Mei 2002 het respondent die tweede hooggeregshofgeding, teen eerste, tweede en derde applikante ingestel, waarin betaling van die bedrag van R1 384 000,00, synde die verskil tussen die skikkingsbedrag wat aan haar betaal is in die eerste hooggeregshofgeding en “the amount which would have been awarded to her had the action proceeded to trial in this Honourable Court”, gevorder word. In hierdie aksie beweer respondent dat tweede applikant, verteenwoordig deur Brink, haar deur wanvoorstelling en misleiding gedwing het om die skikkingsaanbod te aanvaar en dat derde applikant, verteenwoordig deur Van Breda, nalatiglik versuim het om voor te berei vir die verhoor van die eerste hooggeregshofgeding. Hierdie aantygings word ten sterkste deur Brink en Van Breda ontken.
(m) In die tweede hooggeregshofgeding het vierde applikant as respondent se prokureurs opgetree. In 2000 (die spesifieke datum blyk nie volgens die hofstukke nie) het respondent die derde hooggeregshofgeding teen die vierde applikant ingestel. In hierdie geding beweer respondent dat vierde applikant haar eis in die tweede hooggeregshofgeding, nalatiglik laat verjaar het en vorder sy die bedrag wat in die tweede geding gevorder word, as skadevergoeding van vierde applikant.
(n) Beide die tweede en derde hooggeregshofgedinge is steeds hangende. Ek mag meld dat ‘n spesiale pleit van verjaring in die tweede hooggeregshofgeding deur die verweerders (eerste, tweede en derde applikante) geopper is, maar het hulle mettertyd te kenne gegee dat daar nie voortgegaan word met hierdie spesiale verweer nie. Die afleiding is dat hierdie spesiale pleit in die tweede hooggeregshofgeding, vir respondent beweeg het om die derde hooggeregshofgeding in te stel.
[7] Mnr. Oosthuizen voer aan dat respondent se optrede soos hierbo uiteengesit, prima facie daarop dui dat sy ‘n kwelsugtige veldtog teen die applikante voer en dat die litigasie wat teen applikante ingestel is, geen feitelike-of regsbasis het nie. Hy betoog voorts dat respondent geen feite voor die hof geplaas het wat toon dat:
Sy wel skade gely het in die aansienlike bedrae wat geeïs word in die tweede en derde hooggeregshofgedinge;
Sodanige skade kousaal verbind word met haar uitsetting uit die sakepersele in Februarie 1999;
Brink haar wel mislei het om die skikkingsakte aan te gaan;
Derde en vierde respondente opgetree het op ‘n wyse wat afwyk van die standaarde wat verwag word van ‘n redelik vaardige prokureur en dat sodanige optrede vir haar skade berokken het.
Mnr. Oosthuizen betoog derhalwe dat respondent ongegronde en vergesogte aantygings maak teen applikante en verbied moet word om met die hangende litigasie voort te gaan of nuwe litigasie in te stel, alvorens sy bewys voorlê wat aantoon dat sodanige litigasie nie ongegrond is nie.
[8] Ek het tydens argument die vraag geopper of ek ingevolge die Wet die bevoegdheid het om te gelas dat respondent verbied word om met die hangende hooggeregshofgedinge voort te gaan. Die rede vir my navraag is te vind in die bewoording van artikel 2 (b) van die Wet, wat die hof magtig om te gelas dat geen regsgeding deur ‘n kwelsugtige litigant sonder die nodige verlof ingestel mag word nie (my beklemtoning). Die Wet magtig dus nie uitdruklik die hof om te gelas dat ‘n kwelsugtige litigant nie sonder verlof ‘n reeds ingestelde geding, mag voortsit nie.
[9] Mnr. Oosthuizen het in sy aanvullende betoogshoofde die volgende gronde aangevoer waarom by ‘n behoorlike uitleg van artikel 2 (b) van die Wet, dit die Wetgewer se bedoeling was om ook in ‘n gepaste geval die voortsetting van ‘n geding wat reeds ingestel is, te verbied:
Die verwysing na “regsgeding” en “regsgedinge” (“legal proceedings”) moet vertolk word as ‘n verwysing na die verskeie “proceedings” wat geneem word in die loop van ‘n geding, en nie slegs na die aanvanklike loods van ‘n aksie nie. In die onderhawige geval sal dit dus ook die voortsetting van die geding insluit.
Daar moet ‘n doelgerigte vertolking aan die betrokke artikel gegee word ten einde die onheil wat die Wetgewer deur middel van hierdie wetgewing wou aanspreek, naamlik om persone en die howe te beskerm teen kwelsugtige litigante, te vermy. Ten einde hierdie doel van die Wetgewer te verwesenlik, moet artikel 2 (b) van die Wet sodanig uitgelê word dat dit nie alleenlik slaan op die aanvanklike instel nie, maar ook die voortsetting van kwelsugtige verrigtinge.
Die vermoede by wetsuitleg dat die Wetgewer nie ‘n absurditeit bedoel het nie, vereis dat die hof nie die betrokke artikel sal vertolk op ‘n wyse wat slegs die toekomstige instel van ‘n hofsaak wat nog nie aanhangig gemaak is, te verbied nie, met gevolg dat dit magteloos is om die voortsetting van ‘n reeds ingestelde kwelsugtige aksie te verbied.
Die verwysing in artikel 2 (b) van die Wet, na ‘n persoon “teen wie ‘n regsgeding deur ‘n ander persoon ingestel is” en dat, op aansoek van so ‘n persoon, daar ‘n beperking op die voer van ‘n geding sonder verlof van die “bedoelde hof of ‘n regter daarvan of bedoelde laerhof”, geplaas kan word, toon dat die hof voor wie ‘n geding reeds hangende is, die bevoegdheid het om ‘n gepaste bevel te maak. Die betoog is dat die gemelde woorde slegs kan slaan op ‘n bevel ten opsigte van reeds ingestelde litigasie, aangesien daar nie ten opsigte van toekomstige litigasie sprake kan wees van ‘n “bedoelde hof of regter daarvan of bedoelde laerhof” nie.
[10] Ek het hierdie argumente van Mnr. Oosthuizen deeglik oorweeg, maar is nie oortuig dat artikel 2 (b) van die Wet vatbaar is vir die uitleg deur hom voorgehou nie. Die gewone grammatikale betekenis van die werkwoord “instel” (“institute”), in hierdie verband, is om iets aan die gang te sit of te begin. Sien die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, FF Odendal et al. In Ex Parte Lancashire: In Re Paruk v Patel (2), 1943 NPA 353 te 357, het Selke R, na my mening tereg, gesê dat die woord “institute” die betekenis van “setting on foot” kan dra, maar dat die gewone betekenis daarvan, “begin or commence”, is. Sien ook S v Sitebe 1965 (2) SA 908 (N) te 911 H.
[11] Ek is voorts van mening dat die Wetgewer nie bedoel het om in ‘n geval soos die onderhawige, waar die pleitstukke in die tweede en derde hooggeregshofgedinge reeds gesluit is en die aksies hangende is, die voortsetting daarvan kragtens artikel 2 (b) van die Wet te verbied nie. Met die sluiting van die pleitstukke in die twee hangende hooggeregshofgedinge, is die tydstip van litis contestatio bereik. In Government of RSA v Ngubane 1972 (2) SA 601 (A) te 608 B, het die Appèlhof die volgende beskrywing van die gevolg van litis contestatio, deur Melius De Villiers in Law of Injuries te 236, goedgekeur:
“Through litis contestation an action acquired somewhat of the nature of a contract: a relation was created resembling an agreement between the parties to submit their differences to judicial investigation…”
Dit word verder te 608 D-E as volg deur Holmes AR gestel:
“In modern practice litis contestatio is taken as being synonymous with close of pleadings, when the issue is crystalised and joined…And in modern terminology, the effect of litis contestatio is to freeze the plaintiff’s rights as at that moment.”
[12] Aan die hand van voormelde is ek van oordeel dat die bereiking van die tydstip van litis contestatio in die tweede en derde hooggeregshofgedinge, ‘n ooreenkoms tussen die partye daarstel om die geskilpunte in die betrokke gedinge, soos vergestalt deur die pleitstukke, deur die hof te laat bereg. Indien hierdie hof nou sou gelas dat respondent as eiseres in die tweede en derde hooggeregshofgedinge, verbied word om voort te gaan tot tyd en wyl sy die hof tevrede stel dat daar gronde vir die betrokke gedinge bestaan, sal dit in stryd wees met sodanige ooreenkoms wat die partye op die tydstip van litis contestatio bereik het. Dit volg na my mening dat die tweede en derde hooggeregshofgedinge in die gewone loop van sake op verhoor moet gaan en is die applikante se remedie om, indien die verhoorhof oortuig word dat daar geen meriete in die betrokke gedinge is nie en/of dat dit vir kwelsugtige redes ingestel is, aansoek te doen vir bestraffende kostebevele teen respondent. Daarbenewens sou respondent in gepaste omstandighede ook verplig kan word om sekuriteit vir koste te stel. Dit sou egter, na my mening, voorbarig wees om nou, na litis contestatio, te gelas dat respondent eers die verlof van die hof moet verkry alvorens sy die hangende tweede en derde hooggeregshofgedinge, kan voortsit.
[13] Die verdere vraag is of respondent verbied moet word om toekomstige regsgedinge, soos aangevra in die kennisgewing van mosie, in te stel. Ten einde met hierdie regshulp te slaag, moet applikante aantoon dat respondent “aanhoudend en sonder redelike gronde regsgedinge ingestel het”. Ten eerste moet in gedagte gehou word dat eerste applikant, en nie respondent nie, die landdroshofgedinge ingestel het. Applikante moet dus op sterkte van die drie hooggeregshofgedinge wat respondent ingestel het, die hof oortuig dat sy ‘n persoon is wat aanhoudend en sonder redelike gronde regsgedinge instel en derhalwe verbied moet word om verdere regsgedinge sonder verlof in te stel.
[14] Die vraag of respondent aanhoudend en sonder redelike gronde regsgedinge ingestel het, soos bedoel in artikel 2 (b) van die Wet, moet uiteraard beantwoord word aan die hand van die feite van die onderhawige geval. In The Law of South Africa, Joubert, Volume 3 (1) (eerste heruitgawe), word die betrokke vereiste as volg omskryf in paragraaf 247:
“Mere persistence is not enough to entitle the applicant to an order: it is necessary for the applicant to show that a sufficient number of cases were instituted without any reasonable grounds. In the exercise of it powers the court will consider the general character and result of the action. Even though the number of occasions is comparatively small, there may be exceptional circumstances justifying the making of an order”.
Sien ook: State Attorney v Sitebe 1961 (2) SA 159 (N); Heugh and Others v Gubb 1980 (1) SA 699 (K) en Fitchet v Fitchet 1987 (1) SA 450 (OK).
[15] In die onderhawige geval moet dus gelet word op die aard en uitslag van die drie hooggeregshofgedinge wat respondent ingestel het, ten einde te bepaal of haar optrede deur die instel daarvan, gebrandmerk kan word as die aanhoudende instel van regsgedinge sonder redelike gronde.
[16] Die eerste hooggeregshofgeding is die enigste van die drie wat deur respondent ingestel is, waarin ‘n “uitslag” bereik is. Soos reeds gemeld, het eerste applikant ‘n bedrag van R100 000,00 aan respondent betaal ter skikking van die eerste hooggeregshofgeding. Dit kan, objektief gesproke, daarop dui dat daar wel redelike gronde vir die instel van die betrokke geding was. Dit is so dat eerste applikant aanvoer dat ‘n skikking bloot weens ekonomiese redes aangegaan is, maar kan ‘n bedrag van R100 000,00 in 1997 nie sonder meer as ‘n ergerniswaarde-betaling afgemaak word nie. Dit is wel so dat respondent se gedingsoorsaak in die eerste hooggeregshofgeding op gesigswaarde bevraagteken mag word en dat die eisbedrag erg oordrewe blyk te wees. Hoe dit ookal sy, eerste applikant het dit goed gedink om ‘n betaling van R100 000,00 aan haar te maak, en kan ek nie sonder meer bevind dat hierdie geding sonder redelike gronde ingestel was nie.
[17] Die tweede en derde hooggeregshofgedinge is, soos reeds gemeld, steeds hangende en moet die lot daarvan nog deur hierdie hof beslis word. Dit mag wees, soos betoog deur Mnr. Oosthuizen, dat die vooruitsig op sukses van respondent in hierdie twee gedinge, ernstig bevraagteken kan word, maar word ek steeds met die probleem gekonfronteer dat die gemelde twee hooggeregshofgedinge reeds die tydstip van litis contestatio bereik het. Dit sou derhalwe, na my mening, voorbarig wees om nou ‘n bevinding te maak ten aansien van die potensiële meriete van hierdie twee aksies. Ek is dus van oordeel dat, in die besondere omstandighede van hierdie geval, ek ook nie op hierdie tydstip ‘n bevinding kan maak dat die tweede en derde hooggeregshofgedinge sonder redelike gronde ingestel is nie.
[18] Samevattend is ek dus van oordeel dat ek nie op die feite huidiglik voor my, kan bevind dat respondent aanhoudend en sonder redelike gronde regsgedinge ingestel het, ten einde applikante geregtig te maak op die aangevraagde regshulp nie. Die aansoek moet gevolglik misluk.
[19] Wat gedingskoste betref, is respondent as die suksesvolle party, nie op enige bevel in haar guns geregtig nie, aangesien sy in die aansoek geen regsverteenwoordiger opdrag gegee het om haar te verteenwoordig en/of namens haar te verskyn nie.
[20] Bygevolg word die volgende bevel gemaak:
Die aansoek word van die hand gewys.
Geen kostebevel word gemaak nie.
_____________
Fourie, R
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
[KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING]
Saaknommer: 7977/04
In die saak tussen:
RYKLOF BELEGGINGS (EDMS) BPK Eerste Applikant
JAN S DE VILLIERS & SEUN Tweede Applikant
VAN DER SPUY & VENNOTE Derde Applikant
MALAN LOURENS INGELYF Vierde Applikant
en
WILLIE CORNELIA DU PLESSIS Respondent
Advokaat vir die Applikante : Adv. A. C. Oosthuizen (SC)
Prokureur vir die Applikante : Deneys Reitz
Respondent : In Persoon
Datum van verhoor : 15 September 2005
Datum van uitspraak : 25 Oktober 2005