South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2005 >>
[2005] ZAWCHC 121
| Noteup
| LawCite
S v Grosch and Others (SS.377/2004) [2005] ZAWCHC 121 (9 September 2005)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
SAAKNOMMER: SS.377/2004
DATUM: 9 SEPTEMBER 2005
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
JEROME GROSCH
MARTIN VAN WYK
EDWARD CLAASEN
DENVER GROUTZ
FRANCOIS MULLER
MORNE JAGERS
DONOVAN JULIES
UITSPRAAK
CLEAVER, R:
Artikel 52(3)(d) van die Strafregwysigingswet, 105 van 1997 bepaal dat ek nou moet besluit of die verrigtinge in die streekhof ooreenkomstig die reg geskied het. Ek net argument en submissies in hierdie verband gehoor van beide die Staat en die verteenwoordigers van die beskuldigdes.
Die beskuldigdes is deur die streeklanddros skuldig bevind op grond van die leerstuk van "common purpose". Nou die vereistes vir hierdie bevinding is uiteengesit in S v MGEDEZI 1989(1) SA 687 (A) te 705i-706b. Die belangrikste hiervan is of die Hof a quo geregtig was om die afleiding te maak dat die beskuldigdes deur hulle aksies aangedui het dat hulle hulself vereenselwig het met die aanval wat uiteindelik tot die dood van die oorledene gelei het.
Dit is gemene saak dat op die betrokke aand die oorledene en die passasier in sy kar aangeval is in 'n donker gedeelte van die pad tussen Atlantis en Mamre toe die kar gestol het. Die getuienis vir die Staat was dat die beskuldigdes, wat op daardie tydstip in die pad geloop het, toe vir die insittendes aangeval het. Een van die insittendes, die passasier in die kar, het weggekom en was terloops een van die staatsgetuies. Die bestuurder van die kar is egter oorlede as gevolg van 'n steekwond in sy hart.
Namens beskuldigdes 8, 5, 6, 7 en 4 is submissies gemaak dat die getuienis nie genoegsaam was om die nodige afleiding te maak dat hulle hulself vereenselwig het met die aksie wat tot die dood van die oorledene gelei het nie. Daar was min in yerband met beskuldigde 1 gese. Wat nommer 8 betref, is aangevoer dat omrede die Staat nie bewys het dat die bloed wat op die klerasie van die beskuldigde gevind is, die bloed is van die oorledene nie en as gevolg van 'n verskil in getuienis in verband met die toestand van die mes, dat die getuienis in hierdie verband nie genoegsaam was nie. Daar is egter genoegsame getuienis om beskuldigde 8 te verbind. Afgesien van die feit dat hy inderdaad in besit van 'n mes gevind is vlak langs die toneel waar die oorledene gesterf net, is daar ook ander getuienis van die Staat dat hy 'n mes gehad het of gebruik het.
Wat beskuldigde 5 aanbetref, is aangevoer dat omdat die getuienis aangedui het dat hy die oorledene geklap het en daarna 'n entjie weggestaan het, daar nie genoegsame getuienis teen horn was nie. Soortgelyke betoog is namens beskuldigde 4 aangevoer. Ten opsigte van hierdie beskuldigde was daar getuienis dat hy die oorledene in die maag geskop het.
Wat beskuldigde 6 betref, was die getuienis en toegewings namens horn in kruisondervraging gemaak dat hy gedurende die voorval die oorledene met 'n bottel oor die kop geslaan het. Oor beskuldigde 7 is daar nie veel om oor te se nie en tereg ook, want die getuienis teen horn, meen ek, is van sodanige aard dat hy beslis verbind is met die aanval.
Die kern van die beswaar teen veral beskuldigdes 5 en 4 was dat die getuienis wat namens die Staat aangebied is, teenstrydig was in sekere opsigte. Die streeklanddros het dit toegegee en ek moet se ek het simpatie met die Staat, aangesien hulle getuienis moes aanbied van iets wat in die nagtelike ure gebeur het wat in 'n baie kort tyd afgespeel het, waar 'n aantal mense in 'n aanval betrokke was. Dit is dus te verstane dat daar verskille in die weergawes van getuies mag wees. Die feit is egter dat die beskuldigdes wat ek genoem het, direk verbind is met optredes wat daardie aand plaasgevind het.
Die submissies namens beskuldigdes 5 en 4 was dat die afleiding nie noodwendig gemaak moet word dat hulle hulself vereenselwig het met die verdere optredes nie, aangesien die getuienis slegs aangedui het dat hulle in 'n stadium 'n aanranding teenoor die oorledene gepleeg het.
Na my mening, het die streeklanddros tot die korrekte beslissing gekom toe sy besluit het dat daar genoegsame getuienis voor haar was, ten minste op 'n prima facie basis, dat almal behalwe een, wat ek netnou sal noem, van hierdie mense deelgeneem het aan 'n aanval op die oorledene en sy passasier. Wie presies wat gedoen het, is nie seker nie, maar daar is nie, wat my betref, genoegsame getuienis om aan te dui dat enige van hierdie mense hulle self so ver verwyder het van wat daar gebeur het dat dit gese kan word dat hulle nie hulself vereenselwig het met die aanval op die oorledene wat tot sy dood gelei het nie.
Ek het verwys na een beskuldigde en dit is beskuldigde 2. Die Staat het vanoggend aangedui dat hulle nie die skuldigbevinding van beskuldigde 2 sal verdedig nie. Na my mening, is hierdie 'n korrekte toegewing. In normale omstandighede sou ek eers die saak terugverwys het na die streeklanddros vir verdere kommentaar, maar in die lig van die toegewing van die Staat se kant asook die lang tydsverloop wat al plaasgevind het, meen ek dat dit in die belang van die geregtigheid is dat dit nie moet gebeur nie en dat ek die beskuldigde vandag onskuldig kan bevind en ontslaan.
Wat die skuldigbevinding aan roof betref, dit wil se die skuldigbevinding van beskuldigde 1, het die Staat ook toegegee dat hulle nie die skuldigbevinding sal verdedig nie, aangesien daar nie genoegsame getuienis was om te bewys dat die aanval gemik was op die roof van die baadjie nie. Die skuldigbevinding sal ek ook in die belang van geregtigheid vandag afhandel.
In die omstandighede word die volgende bevindings gemaak: Ek bevind dat die skuldigbevinding van beskuldigdes 1, 4, 5, 6, 7 en 8 ooreenkomstig die reg geskied het en ek bevestig die skuldigbevinding.
Wat die skuldigbevinding van beskuldigde 2 op die moordaanklag betref, is ek tevrede dat die Staat nie geslaag het om die misdaad te bewys nie. Die skuldigbevinding word gevolgliktersyde gestel en beskuldigde 2 word ontslaan.
Wat die skuldigbevinding van beskuldigde 1 betref op die roofaanklag, word die skuldigbevinding tersyde gestel en vervang met 'n skuldigbevinding van diefstal.
CLEAVER, R