South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 1999 >> [1999] ZAWCHC 5

| Noteup | LawCite

S v Matlala and Others (SS 97/1999) [1999] ZAWCHC 5 (13 December 1999)

Download original files

PDF format

RTF format



IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)



SAAKNOMMER: SS.97/1 999

DATUM: 13 DESEMBER 1999



In die saak tussen:

DIE STAAT

en

  1. DANIEL MATLALA

2. MARTIN WITBOOI

  1. KENNETH NERO




V O N N I S


D H VAN ZYL, R:

Die beskuldigdes is skuldig bevind aan roof, menseroof en moord op ene Matthys Jurie Meyer, die oorledene. Die wyse waarop en die omstandighede waaronder hierdie misdrywe gepleeg is, is reeds volledig uiteengesit in my uitspraak ten opsigte van die skuldigbevinding.



Uit die getuienis van Mertyl Charmaine Kleynhans soos aangevul deur die van dr I G Brouwer, Staatspatoloog, blyk dit duidelik dat die oorledene se laaste ure van sy lewe skrikwekkend moes gewees het. Hy is nie net gewelddadig beroof van sy beurs, sleutels en motor nie, maar is daarna blootgestel aan uitgerekte, koelbloedige en genadelose marteling. Dit het grotendeels gedraai om die poging om sy geheime PIN-nommer te bekom sodat enige verdere geldelike bates wat hy in sy bankrekening sou gehad net, onttrek sou kon word. Vanuit die staanspoor het beskuldigde 1 en 2 horn op gewetenlose wyse, sonder enige provokasie aan die kant van die oorledene, met die hand en voet aangerand oor bykans sy hele bolyf. Ek is nie seker dat die oorledene vrywillig sy beurs en sleutels sou oorhandig het as hulle daarop aangedring het nie, sonder enige nodigheid vir 'n aanranding om horn daartoe te verplig.



Beskuldigde 3 was nie betrokke by die aanvanklike aanranding nie of by die beplanning om die oorledene te beroof nie, maar hy het horn volkome daarmee vereenselwig deur op heel opportunistiese wyse nader te kom in die hoop dat hy self uit die berowing van die oorledene sou baat. Toe hy bewus raak van die motor, wat waarskynlik heelwat meer kommersiele waarde gehad het as die R450,00 wat in die oorledene se beurs aanwesig was, het sy belangstelling toegeneem. Hy kon nie self voluit aan die aanranding op die oorledene deelneem nie, aangesien hy 'n besering aan sy hand gehad het. Hy het egter as 'n mindere rolspeler daaraan meegedoen om die oorledene agter in die voertuig in te druk en aan sy een sy te sit om te verhoed dat hy sou probeer wegkom.



Die oorledene moes in die uiterste angs en vrees verkeer het. Toe hy besef het dat die beskuldigdes nie wou aanvaar dat hy geen geld in sy rekening gehad het nie, het hy aan hulle eise toegegee deur aan hulle die geheime nommer te verstrek. Toe hulle steeds nie regkom nie, is dit duidelik dat beskuldigdes 1 en 2 - veral beskuldigde 2 - sodanig woedend geraak het dat hulle nie belang gestel het in die oorledene se aanbod om na sy huis te gaan waar hulle enigiets kon neem wat hulle sou begeer nie. Dat die oorledene daadwerklik gevrees het vir sy lewe, blyk uit die hoeveelheid kere, volgens Mertyl se getuienis, dat hy gesmeek het dat hulle horn nie moet doodmaak of seermaak nie. Hulle het hulle klaarblyklik nie aan sy smekinge gesteur nie en het sy angs en vrees uitgerek deur eers Mandrax en dagga te gaan koop en dan in die voertuig te rook. Die onderonsie tussen beskuldigdes 1 en 2 oor wie die voertuig moet bestuur, het geensins hulle aandag van die oorledene afgelei nie. Inteendeel het beskuldigde 2, wat deurentyd sy mes ten toon gestel het en dit reeds teen die oorledene se gesig gedruk het toe hy sy geheime nommer probeer ontlok het, met onbeheersde aggressie die oorledene uit die voertuig geruk en gedreig om horn daar en dan met die mes dood te steek. Dit wil voorkom dat, wanneer ook al beskuldigde 1 horn vies gemaak het, hy (beskuldigde 2) sy misnoee op aggressiewe wyse op die oorledene uitgehaal het. Weliswaar het beskuldigde 3, en by geleentheid ook beskuldigde 1, horn probeer keer om met sy moorddadige voorneme op daardie stadium voort te gaan.



Presies hoe lank hulle herwaarts en derwaarts gery het blyk nie uit die getuienis nie. Dit moes egter 'n aansienlike tyd gewees het, soos sal blyk uit die mediese getuienis waarna ek later verwys.



Vir die oorledene moes dit ondraaglik gewees het. Nadat hulle klaar die Mandrax en dagga gerook het en hulle aandag weer op horn gevestig het, moes hy besef het dat sy lewe en welsyn vir hulle niks beteken nie. Hy het waarskynlik besef dat die einde naby is, toe hulle by die bos stilhou en hom daar insleep. Vir die eerste keer het hy om hulp geroep toe hulle sy arms en bene met kleefband vasmaak. Sy hulpelose en hopelose krete is waarskynlik bykans oombliklik afgesny toe daar ook om sy mond kleefband gedraai is. Teen daardie tyd was hy seker in 'n ernstige verswakte toestand. Ek het weinig twyfel dat die ergste geweld reeds in daardie stadium teen hom gerig is. Soos blyk uit dr Brouwer se verslag, moes hy sodanig geworstel het in sy poging om die dood af te weer, dat die kleefband van sy bolip afgeskuif het en deur sy mond beweeg het, soos sy dit gevind het.



Sy het ook bevind dat die band styf om sy nek gebind was op so 'n wyse dat hy waarskynlik verwurg is. Soos sy in haar getuienis uitgewys het, was dit waarskynlik die terminale oorsaak van die dood wat reeds, volgens haar, 36 uur of meer vroeer plaasgevind het. Sy het die lyk omstreeks 14h30 op Dinsdag 7 Julie by die toneel ondersoek. Sy dood moes dus voor 02h30 gedurende die vroee oggend van Maandag 6 Julie plaasgevind het, dit wil se ongeveer 2Yi uur nadat die oorledene vir die eerste keer buite die kroeg aangerand en beroof is.



Die oorledene was nie 'n groot man nie. Volgens die lykskouingsverslag was hy maar 1,7 meter lank met 'n massa van 59 kilogram. Sy liggaamsbou was klein. Dit is dus duidelik dat hy weinig weerstand sou kon gebied het teen die beskuldigdes se aggressie. Die aard van die beserings wat dr Brouwer aan die oorledene se liggaam gevind het, getuig van naakte, barbaarse en onbeteuelde geweld. Bykans sy hele liggaam was oortrek van kneusings en skaafplekke. Die frakture van sy hio'i'ed been, sternum en ribbes, wat uitgebreide bloeding veroorsaak het, en die veelvuldige skeure aan sy lewer getuig van ernstige stompgeweld. Dit strook met die beskuldigdes se direkte opset om die oorledene te vermoor. Ten spyte van Mertyl se versekering dat hulle nie die bedoeling gehad het om horn te dood nie, moet dit noodwendig uit die aard van omvang van hierdie beserings afgelei word dat die beskuldigdes die oorledene wou vermoor of sonder twyfel besef het dat hy as gevolg van sodanige beserings sou beswyk. Daar is by my ook weinig twyfel dat hy reeds dood was toe hulle horn in die bos agtergelaat het of andersins baie naby aan die dood was.



By beoordeling van die ems van die misdade wat deur die beskuldigdes gepleeg is teen 'n onskuldige en ongewapende man wat die aand niks meer wou doen as om 'n biertjie te drink en biljart te speel nie, kan die aard van hulle optrede nie anders beskryf word as barbaars en afskuwekkend nie. Die gemeenskap is reeds tot oorlopens sat vir hierdie soort van sinnelose geweld wat teen onskuldige en skadelose lede van die gemeenskap gepleeg word - dikwels vir net 'n paar rand. In die onderhawige geval het dit gegaan oor R450,00 en 'n gebruikte motor waarvan die waarde nie bepaal was nie, maar wat seker nie te veel vir die beskuldigdes in die sak sou bring nie.



Die gemeenskap eis dat die howe streng moet optree teen hierdie soort van misdrywe wat niks anders is as stedelike terreur nie. Die Hof neem natuurlik in aanmerking die relatiewe rol gespeel deur elk van die beskuldigdes sover dit uit die getuienis vasstelbaar is. Die inisiatief het gekom van beskuldigde 1, met beskuldigde 2 'n gewillige en oordadige aanhanger wat bereid was om op die geringste provokasie die oorledene met sy mes dood te steek. Beskuldigde 3 was nie betrokke by die beplande roof binne-in die kroeg nie, maar het nie, soos ek reeds gese het, gehuiwer om hom daarby aan te sluit sodra hy bewus geraak het van wat aangaan nie. Hoewel hy nie 'n leidende rol gespeel het in die aanranding nie, het hy hom in alle opsigte daarmee vereenselwig en was by die moordtoneel direk betrokke by die vasmaak van die oorledene se arms en bene. Skynbaar het sy handbesering hom nie gekeer om hieraan aandadig te wees nie.



Hoewel beskuldigde 1 die voertuig daarna vir homself toegeeien het, het beskuldigdes 2 en 3 steeds saam met hom daarvan gebruik gemaak en die wrange vrugte van hul misdadigheid gepluk. Ek neem in hierdie verband in ag dat beskuldigdes 1 en 2 aanvanklik slegs 'n roof op die oorledene beplan het. Die menseroof het daarna as 'n doel ontwikkel toe hulle besef het dat die oorledene 'n voertuig en 'n bankkaart het.



Die moord was ook nie vroeg beplan nie, maar het ook later met verloop van die gebeure hom as 'n moontlikheid voorgedoen. Ek is onder die indruk dat die besef dat hulle nie met die oorledene se bankkaart sou regkom nie, hulle laat besluit het om van hom ontslae te raak. Dit mag wees dat hulle hom aanvanklik net wou aflaai op 'n stil plek maar die aard van die beserings dui daarop dat hulle in 'n later stadium besluit het om permanent van hom ontslae te raak. Terwyl daar geen bewys is dat die mandrax of dagga hulle verwytbaarheid geaffekteer het nie, is ek bereid om te aanvaar dat dit wel 'n rol, hoe gering ook al, gespeel het aangesien dit eers na die roof by hulle opgekom het dat hulle met die oorledene iets moet doen.



Vir doeleindes van vonnis weeg die Hof die ems van die misdaad ewewigtig op met die gemeenskapsbelang en die persoonlike omstandighede van die betrokke beskuldigdes. Beskuldigde 1 is 30 jaar oud en getroud. Daar is twee kinders van onderskeidelik sewe en drie jaar out uit hierdie huwelik gebore. Hy is ook die vader van 'n buite-egtelike kind van vier jaar. Die moeder van laasgenoemde kind is ene Mara. Hy het slegs tot st.3 op skool gevorder. Hy het eers betreklik onlangs na misdaad gedraai. Sy vorige veroordelings dateer terug na 1997 en sluit in diefstal, besit van 'n wapen en ammunisie sonder lisensie en gebruik of besit van dagga. Geen geweldsmisdrywe blyk uit sy kriminele rekord nie.



Beskuldigde 2 is 20 jaar oud en is ongetroud en sonder afhanklikes. Hy het sy vader nooit geken nie en is deur sy moeder grootgemaak. Hy het slegs een vorige veroordeling wat gepleeg is toe hy 13 jaar oud was en dus 'n jeugdige, naamlik, roof van R50,00. Vir doeleindes van vonnis meen ek dat dit nie veel gewig kan dra nie.



Beskuldigde 3 is 31 jaar oud en die vader van 'n seun wat tans tien maande oud is. Hy het st.9 op skool geslaag en het vyf jaar lank in die weermag gedien as instrukteur. Hy is Tswana van oorsprong maar het in Kimberley grootgeword waar hy Afrikaans baie goed magtig geraak het. Hy kom oor as 'n intelligente mens wat met sy ingebore talente 'n sukses van sy lewe sou kon maak, maar wat tog in sy vroee twintigerjare in die wereld van misdaad opgevang geraak het. Sedert 1 991 is hy reeds ses keer aan diefstal skuldig bevind. Gedurende 1 992 is hy ook skuldig bevind aan besit van 'bn wapen sonder lisensie. . t



Ek het reeds vermeld dat beskuldigde 3 'n mindere rol gespeel het in die aanrandings op die oorledene en nie betrokke was by die aanvanklike plan om die oorledene te beroof nie. Van belang is verder dat tydens die betoog oor versagting, hy besluit het om te getuig oor sy aandadigheid by die misdrywe. Hy het afgesien van sy verweer van 'n alibi en 'n relaas aan die Hof voorgehou wat in wesenlike opsigte strook met die van Mertyl. Weliswaar het hy sy eie rol so klein as moontlik gehou, maar hy het besef dat hy hom vereenselwig het met die optrede van beskuldigdes 1 en 2 en Mertyl en dus ook skuldig is soos aangekla. Hy het berou getoon vir wat hy gedoen het, hoewel sy berou waarskynlik eerder op sy huidige posisie gerig word as op die oorledene as slagoffer van die misdrywe. Nogtans meen ek dat daar na aanleiding hiervan versagtende omstandighede in sy geval teenwoordig is wat nie by beskuldigdes 1 en 2 gevind is nie. Dit beteken nie dat hy lig gestraf moet word nie. Daar is na mening slegs een soort van straf wat uit die verskillende moontlike vonnisopsies in die onderhawige geval gepas sal wees en dit is langtermyn gevangenisstraf. Ek meen egter dat die versagtende omstandighede in beskuldigde 3 se geval 'n enigsins ligter straf regverdig as in die geval van beskuldigdes 1 en 2. In hierdie verband plaas ek op rekord dat daar geen statuter voorgeskrewe minimum vonnis in die onderhawige geval van toepassing is nie.



Na oorweging van al die voormelde feite en omstandighede, en by toepassing van die relevante regsbeginsels, meen ek dat die volgende vonnisse op elk van die aanklagte gepas en geregverdig is:



Aanklag 1, die roof van 'n beurs bevattende R450,00 kontant, sleutels en 'n motorvoertuig - beskuldigde 1 VYFTIEN (15) JAAR GEVANGENISSTRAF, beskuldigde 2 VYFTIEN (15) JAAR GEVANGENISSTRAF. en beskuldigde 3 TIEN (10) JAAR GEVANGENISSTRAF.



Aanklag 2, die menseroof gepleeg ten opsigte van die oorledene deur horn sy vryheid van beweging te ontneem en in 'n motor in te dwing en geruime tyd met horn rond te ry - beskuldigde 1 TWAALF (12) JAAR GEVANGENISSTRAF, beskuldigde 2 TWAALF (12) JAAR GEVANGENISSTRAF en beskuldigde 3 AGT (8) JAAR GEVANGENISSTRAF.



Aanklag 3, die moord op die oorledene - beskuldigde 1 VYF-EN-TWINTIG (25) JAAR GEVANGENISSTRAF. beskuldigde 2 VYF-EN-TWINTIG (25) JAAR GEVANGENISSTRAF en beskuldigde 3 TWINTIG (20) JAAR GEVANGENISSTRAF.




Dit word gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien sal word. Dit beteken dat die volgende vonnisse effektief opgele word: beskuldigde 1 VYF-EN-TWINTIG (25) JAAR GEVANGENISSTRAF; beskuldigde 2 VYF-EN-TWINTIG (25) JAAR GEVANGENISSTRAF; beskuldigde 3 TWINTIG (20) JAAR GEVANGENISSTRAF.


Die Hof wil op hierdie stadium sy dank uitspreek teenoor sersant Bailey en sy ondersoekspan vir die knap wyse waarop hulle hulle van hulle taak gekwyt het in hierdie saak. Baie dankie ook aan die regspan wat hulle bes gedoen het vir die onderskeie partye vir wie hulle opgetree het.


D H VAN ZYL, R



OORSKRYFSTER SE SERTIFIKAAT