South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2005 >>
[2005] ZASCA 89
| Noteup
| LawCite
Shoprite Checkers (Pty) Ltd v Grobbelaar and Others (460/2004) [2005] ZASCA 89 (26 September 2005)
Download original files | Links to summary |
Last Updated: 3 December 2005
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN
SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
SAAKNOMMER:
460/04
In die saak tussen:
SHOPRITE CHECKERS (EDMS) BPK APPELLANT
en
L J J GROBBELAAR 1STE
RESPONDENT
D J M HEYNS 2DE RESPONDENT
P C
WELGEMOED 3DE RESPONDENT
Coram: HOWIE P, ZULMAN, NUGENT, MLAMBO ARR en COMBRINCK Wnd AR
VERHOOR: 13 SEPTEMBER
2005
GELEWER: 26 SEPTEMBER
2005
OPSOMMING: Maatskappyereg – onnodig om te
voldoen aan a 228 van Maatskappyewet waar alleenaandeelhouer toestem tot verkoop
van maatskappy
se bates – oordraagbaarheid van regte in
handelsinperkingsooreenkoms.
_____________________________________________________________________
UITSPRAAK
__________________________________________________________________
COMBRINCK
Wnd AR:
[1] Hierdie is ‘n appèl teen ‘n bevel
van absolusie met koste ten gunste van die drie respondente, (verweerders in
die
hof a quo) na afloop van die appellant (eiser) se saak. Die appèl
dien voor ons met verlof van hierdie Hof.
[2] Die appellant het
die respondente gedagvaar in die Kaapse Hooggereshof vir skadevergoeding ten
bedrae van R8 625 339. Die eisoorsaak
is gegrond op die verbreking van ‘n
ooreenkoms ter inperking van handelsvryheid wat elk van die respondente geteken
het. Ek
sal later terugkeer en meer breedvoerig met die besonderhede van
vordering en die verweerskrifte handel. Ten einde die pleitstukke
te verstaan
sal dit dienstig wees om eers die feitelike agtergrond kortliks te skets. Wat
volg was gemene saak tussen die partye.
[3] Die eerste respondent
was ‘n aandeelhouer en besturende direkteur van twee maatskappye bekend as
Sentra Koop Handelaars Bpk
(‘Sentra’) en Megasave (Edms) Bpk
(‘Megasave’). Die tweede verweerder was ‘n aandeelhouer en
direkteur
en die derde respondent ‘n diensnemer van gemelde
maatskappye.
Op 23 November 1995 koop Shoprite Checkers (Edms) Bpk
(‘SCEB’) die besigheid van die twee maatskappye vir ‘n koopsom
van R21 miljoen. Die drie respondente tree in diens van SCEB maar behartig
steeds die besigheid van die twee maatskappye. Die besigheid
van die
maatskappye was die van aankooporganisasies, die een vir groothandelaars
(Megasave) en die ander (Sentra) vir kleinhandelaars.
‘n
Aankooporganisasie werk so:
(i) die maatskappy tree op as makelaar tussen die voorsiener en die handelaar wat dan ook ‘n lid word van die aankooporganisasie (AO).
(ii) die AO onderhandel pryse met die voorsiener namens sy lede en die lede is dan geregtig om teen daardie pryse te koop. Die uiteindelike transaksie is tussen die lid en die voorsiener.
(iii) die AO aanvaar die kredietrisiko en betaal die voorsiener, terwyl die lid die AO betaal.
(iv) die AO verdien sy inkomste uit rabatte en toelaes deur die voorsiener wat gekoppel is aan die waarde van die transaksie. ‘n Gedeelte van die rabatte en toelaes word ook aan die lede toegeken.
[4] Die koop van die besigheid van Megasave en Sentra
was onderhewig aan ondertekening deur die drie respondente van ‘n
skriftelike
ooreenkoms ter inperking van hul handelsvryheid. Op 10 April 1996
het hulle wel sodanige ooreenkoms ten gunste van SCEB geteken.
Die beperking wat
mededinging met SCEB verbied het, was in die geval van eerste en tweede
respondent vir ‘n tydperk van 36
maande en in die geval van derde
respondent, 24 maande. Die gebied was die Republiek van Suid-Afrika en
Namibië. As teenprestasie
het eerste en tweede respondente elk R1,1 miljoen
ontvang en die derde respondent R500 000.
Op 30 April 1997 bedank tweede
respondent uit die diens van SCEB gevolg deur die derde respondent op 30 April
1998 en die eerste respondent
op 31 Mei 1998.
[5] Intussen het die
volgende gebeur met die Shoprite Checkers Groep van maatskappye waarvan SCEB een
was:
(i) Op 31 Oktober 1997 koop Shoprite Holdings Bpk (‘Holdings’) al die aandele in OK Bazaars (1929) Bpk van Suid-Afrikaanse Brouerye Bpk, en OK Bazaars word ‘n volfiliaal van Shoprite Holdings en aldus ‘n lid van die Shoprite Groep.
(ii) Ten einde gebruik te maak van ‘n opgehoopte belastingverlies in OK Bazaars (1929) Bpk onderneem die Shoprite Groep in Augustus 1998 ‘n reorganisasie of rasionalisasieskema ingevolge waarvan ondermeer die besigheid, bates en regte van SCEB en die ander maatskappye in die groep met terugwerkende krag tot 1 November 1997 aan OK Bazaars (1929) Bpk verkoop is.
(iii) Daarna verander OK Bazaars (1929) Bpk sy naam na Shoprite Checkers Bpk, die appellant in hierdie saak.
(iv) SCEB verander sy naam na OK
Bazaars (1998) Bpk.
[6] Die appellant het die respondente
gedagvaar uit hoofde daarvan dat hy die regte voortvloeiend uit die
handelsbeperkingsooreenkomste
vanaf SCEB bekom het.
Die appellant beweer in
sy besonderhede van vordering dat hy die gemelde regte vanaf SCEB bekom het:
(i) deurdat na die verkoping van die gemelde onderneming van SCEB aan appellant, appellant besit geneem het van sodanige onderneming met die gepaardgaande regte en dit as eienaar begin bedryf het; alternatiewelik
(ii) deurdat die gemelde inperkingsooreenkomste ‘n beding ten behoewe van ‘n derde bevat het wat appellant aanvaar het en sodanige aanvaarding aan respondente bekend gemaak het; alternatiewelik
(iii) deurdat SCEB by wyse van skriftelke sessie gedateer 24 September 1999 die regte wat hy kragtens gemelde ooreenkomste verwerf het aan appellant oorgedra het.
Dit was die bewys van (i) en/of (iii) hierbo wat op die
pleitstukke en by die verhoor die hoof geskilpunt tussen die partye was en
waarop die hof a quo uiteindelik absolusie aan die respondente toegestaan
het.
Die appellant het voorts in sy besonderhede van vordering beweer dat die
respondente kontrakbreuk gepleeg het deur betrokke te raak
in mededingende
aktiwiteite, vertroulike inligting te openbaar en die stigting van ‘n
maatskappy bewerkstellig het wat in mededinging
met appellant besigheid sou
dryf. As gevolg van hierdie handelinge, so is beweer, het elf kliënte (wat
by name genoem is) hulle
verbintenis met Megasave en Sentra en dus met appellant
beëindig. Die verlies aan inkomste wat die appellant as gevolg van die
bedanking van die gemelde kliënte verloor het, is die appellant se gelede
skade.
Respondente se verweer het neergekom in die breë op ‘n
algemene ontkenning van al die wesentlike elemente van die appellant
se
skuldoorsaak.
[7] By die verhoor en voor ons, was daar drie geskilpunte
vir beregting, naamlik:
(i) het die appellant locus standi in iudicio in die sin dat hy die regte en die inperkingsooreenkomste bekom het;
(ii) het die
respondente kontrakbreuk gepleeg en
(iii) was daar ‘n kousale verband
tussen die kontrakbreuk en die gelede skade?
Die quantum van appellant se
skade was ook in geskil maar ‘n bevel in terme van Reël 33(4) van die
Hoërhof reëls
is gemaak ingevolge waarvan dié geskilpunt geskei
is van die ander en oorstaan vir latere beregting, indien nodig.
[8] Na
afloop van appellant se saak (wat 29 dae geduur het en, met dokumentêre
bewysstukke, 48 volumes in beslag geneem het)
het respondente se advokaat
aansoek gedoen om absolusie op grond daarvan dat die appellant nie daarin
geslaag het om enige een van
die drie geskilpunte op ‘n prima facie
vlak te bewys nie.
Die geleerde Regter in die hof a quo (Van der
Westhuizen WR) het die respondente gelyk gegee op die locus standi punt
en dit dus nie nodig gevind om te handel met die ander gronde nie.
Die
bevinding van die verhoorhof, bondig gestel, was dat aangesien SCEB ingevolge
die koopooreenkoms van 28 Augustus 1998 al sy bates
vervreem het hy beide van
regsweë en uit hoofde van die geskrewe ooreenkoms die bepalings van a 228
van die Maatskappye Wet
61 van 1973 moes nakom alvorens hy enige regte kon
bekom. Daar is geen getuienis dat hy dit gedoen het nie. Die kontrak waarvandaan
die regte tot die inperkingsooreenkomste oorgedra is en in die appellant sou
setel, was van geen regskrag en kon nie teen enige derdes
afgedwing word
nie.
In die uitspraak is die bevinding so opgesom:
‘[37] Ek het
onder die omstandighede tot die gevolgtrekking gekom dat die bepalings van
artikel 228 van die Maatskappywet en
die spesifieke bepalings in die koopkontrak
van 28 Augustus 1998 ‘n noodsaaklke voorvereiste is wat behoorlik nagekom
moes
word voordat enige regte teen verweerders uit hoofde van die
inperkingsooreenkomste vanaf SCEB, op eiser kon oorgegaan het. Weens
‘n
gebrek aan getuienis dat artikel 228 behoorlik nagekom is kan ek nie ‘n
bevinding maak dat enige regte òf vanweë
die koopkontrak van 28
Augustus 1998, òf vanweë die sessie van 24 September 1999 op eiser
oorgegaan het nie. Die sessie
was, soos reeds hierbo genoem, niks meer as
‘n pactum adjectum tot die koopkontrak
nie.’
[9] Artikel 228 lees as volg:
‘228 Vervreemding van
onderneming of grootste deel van bate van maatskappy
(1) Ondanks enigiets
vervat in sy akte of statute, is die direkteure van ‘n maatskappy nie
bevoeg om sonder goedkeuring van
‘n algemene vergadering van die
maatskappy –
(a) die geheel of wesenlik die geheel van die onderneming
van die maatskappy; of
(b) die geheel of the grootste deel van die bate van
die maatskappy,
te vervreem nie.
(2) Geen besluit van die maatskappy ter
goedkeuring van so ‘n vervreemding is van krag tensy dit die besondere
transaksie uitdruklik
magtig of bekragtig nie.
(3) Die vereistes in hierdie
artikel voorgeskryf ten opsigte van transaksies wat binne die bepalings van
subartikel (1) val, is bykomend
tot enige ander vereistes met betrekking tot
sodanige transaksies, met inbegrip van die beperking op stemregte, wat deur die
Paneel
oor Sekuriteiteregulering ingevolge artikel 440C of ingevolge enige ander
wet opgelê mag word.’
Die koopkontrak tussen SCEB en appellant
het ‘n opskortende voorwaarde bevat wat dit onderhewig gemaak het aan
nakoming van
die bepalings van a 228. Dit is gemene saak dat daar geen
getuienis was dat daar wel ‘n formele besluit by ‘n algemene
vergadering soos vereis deur a 228 geneem is nie.
[10] Daar is
veel gewag gemaak deur appellant beide in die hof a quo en in hierdie Hof
dat nie-nakoming van die bepalings van gemelde artikel nooit deur respondent
geopper is in hul pleitstukke, geen
blootlegging van sodanige besluit versoek is
en geen vrae in kruisverhoor aan enige getuie oor hierdie aspek gevra is nie.
Dit was
vir die eerste keer in respondente se advokaat se slotbetoog by die
absolusie aansoek wat die punt spesifiek ter berde gebring is.
Die appellant het
aangevoer dat respondente verplig was om hulle verweerskrifte te wysig om die
verweer in geskil te plaas waarop
appellant kon repliseer en getuienis lewer van
afstanddoening, eenparige toestemming en/of rektifikasie.
[11] Ek
vind dit onnodig om op die vraagstukke in te gaan aangesien daar myns insiens op
die getuienis minstens prima facie bewys was dat Holdings die
alleenaandeelhouer van SCEB was en dat hy die koopkontrak goedgekeur het. Hy was
immers ‘n party
tot die kontrak. Dit is nie nodig vir ‘n
alleenaandeelhouer om ‘n formele vergadering te belê ten einde te
voldoen
aan art 228 nie. In Gholke & Schneider v Westies Minerale Bpk
1970 (2) SA 685 (AD) te 693 E nadat hy bevind het dat die leerstuk van
eenparige toestemming (unanimous consent) deel is van ons reg, het Trollip
AR
die volgende gesê:
‘After all, the holding of a general meeting
is only the formal machinery for securing the assent of numbers or the required
majority of them, and, if the assent of all the members is otherwise obtained,
why should that not be just as effective?’
Dieselfde vraag kan hier
gestel word. Indien die alleenaandeelhouer ‘n party is tot die
vervreemdingskontrak waarom moet hy
nog ‘n formele vergadering met homself
belê om die verkoping goed te keur?
[12] Die bewys dat
Holdings die alleenaandeelhouer van SCEB is, is te vinde in die koopooreenkoms
self. Die aanvang van die ooreenkoms
onder die opskrif ‘Recordal’
boekstaaf die volgende:
‘A. HOLDINGS as the holding company and the SELLERS as its subsidiaries collectively carry on as a group the Shoprite Checkers business (“SC Business”) throughout the Republic of South Africa and beyond its borders in Southern Africa.
B. HOLDINGS acquired from The South African Breweries Limited the latter’s entire shareholder’s interest in and loan claims against the PURCHASER and Retail Holdings (Botswana) (Pty) Limited and HOLDINGS thereby acquired full control over the entire OK Bazaars Business, with effect from 1 November 1997.
C. The main objective of HOLDINGS with the acquisition of the OK Bazaars Business was to expand its South African trading base, ie. Achieve growth through acquisition, to utilize existing synergies between the two groups while gaining access to business lines which were not previously conducted by the Shoprite Checkers group of companies, to stabilize the market through control over a previously volatile participant, and to apply its proven management skills to the loss making OK Bazaars Group.’
Een van die
‘sellers’ wat beskryf word as ‘n ‘subsidiary’ is
SCEB.
[13] Die bewoording van die opskortende voorwaarde in die
koopkontrak is ook bewys van die feit dat Holdings alleenaandeelhouer van
SCEB
was. Die voorwaarde lees as volg:
‘3.1.2 it is a condition precedent
for the sale of the above subject matter by SELLER NO 1 that a
shareholder’s resolution
in terms of section 228 of the Companies Act be
taken by HOLDINGS.’
(‘Seller no 1’ in die ooreenkoms was
SCEB.)
Die bepaling dat slegs Holdings die besluit moes neem gekoppel aan
die feit dat Holdings in die ‘Recordal’ beskryf word
as die
houermaatskappy en die verkopers (ingeslote SCEB) as filiale kan alleenlik
beteken dat Holdings die alleenaandeelhouer was.
Ten minste beteken dit
prima facie dat Holdings die alleenaandeelhouer was. Ook uit die
getuienis van Mnre Goosen en Van Zyl, direkteure van SCEB en Holdings, wat
verduidelik het hoe die rasionalisasieskema beplan is, is dit duidelik af te lei
dat SCEB ‘n volfiliaal van Holdings was.
Daar kan ook aanvaar word dat
die partye stilswyend ooreengekom het om nie aan te dring op nakoming van die
opskortende voorwaarde
in die kontrak. Dit kan afgelei word van hul gedrag.
Dit moet onthou word dat hierdie nie ‘n armslengte transaksie was nie.
Dit was ‘n inter-maatskappy ooreenkoms ter uitvoering van ‘n
rasionalisasieskema. Ek kan buitendien nie insien hoe
derdes soos respondente
hulle kan beroep op die nie-nakoming van ‘n kontraktuele bepaling waar die
partye tot die kontrak nie
aandring op nakoming nie.
Dit volg dat die hof
a quo fouteer het deur absolusie op hierdie grond toe te
staan.
(14) Dit is egter nie die einde van die appèl nie. Daar is
namens die respondente aangevoer dat absolusie buitendien toegestaan
moes gewees
het aangesien appellant nie prima facie bewys het:
(i) dat hy die regte tot die beperkingsooreenkomste bekom het nie en dat hy sodanige regte voor kontrakbreuk verkry het; alternatiewelik
(ii) dat die respondente kontrakbreuk gepleeg het; alternatiewelik
(iii) dat daar ‘n kousale verband was tussen die kontrakbreuk en die bedanking van die lede.
[15] Ek handel voorts met elk van die
betoë. Soos hierbo aangetoon het appellant staatgemaak op die alternatiewe
wyses waarop
die onderhawige regte op hom oorgegaan het. Ek mag noem dat tydens
betoog appellant se advokaat aangedui het dat daar nie meer gesteun
word op die
stipulatio alteri nie.
Die advokaat vir die respondente het
aangevoer dat daar op die getuienis geen bewys is van wanneer en hoe die regte
oorgegaan het
op die appellant nie. Die appellant, so is betoog, moes bewys dat
hy die houer van die regte was ten tye van kontrakbreuk en ook
ten tye van die
skadeveroorsakende gebeurtenis, die bedanking van die elf lede. Anders was daar
geen kontrakbreuk vis-à-vis
die appellant nie.
[16] Die appellant
se saak was dat hy by oorname en bedryf van die besigheid eienaar van die regte
geword het. Die regte het aan
die besigheid gekleef as deel van sy werfkrag en
dit sou nie saak maak wie besit geneem het nie, die eienaar van die besigheid
was
ook die eienaar van die regte en kon hulle afdwing.
[17] Al die
betoë wentel om hierdie sentrale punt: was die regte persoonlik tot SCEB
en dus nie oordraagbaar nie, of was hulle
ten gunste van die eienaar van die
besigheid wie ookal dit mag wees en dus oordraagbaar met die besigheid.
Die
antwoord op hierdie vraag is beslissend van appellant se locus standi.
Indien die regte aan die besigheid gekleef het, is daar geen problem nie (op die
prima facie bewysvlak). Die getuienis was dat die kontrakbreuk
voortgeduur het vanaf Julie 1998 tot die bedanking van die lede in Februarie
1999. Dit is gemene saak dat voor daardie datum die appellant besit van die
besigheid geneem het en dit bedryf het.
Sou die regte slegs SCEB persoonlik
toegekom het, is dit moeilik om in te sien hoe deur oordrag hetsy by wyse van
sessie hetsy andersins,
respondente nou gebonde was om nie met appellant mee te
ding nie. Anders gestel, hoe kon die respondente se verpligtinge teenoor
SCEB
nou omskep word na verpligtinge teenoor appellant?
[18] Die antwoord op
die kernvraag is te vinde in die bedoeling van die partye soos dit blyk uit die
ooreenkoms en die omliggende
feite.
[19] Dieselfde vraag het voor
hierdie hof gedien in Botha and Another v Carapax Shadeports (Pty) Ltd
[1991] ZASCA 134; 1992 (1) SA 202 (AD). In die saak het die respondent afdwinging van ‘n
inperkingsooreenkoms geëis. Soos in hierdie saak was die geskilpunt
of die
inperkingsregte aan die besigheid gekleef het as deel van sy werfkrag of aan die
persoon in wie se guns die inperking gegee
is. Die twee standpunte word so deur
Botha AR gestel:
‘If it appears, then, on the facts, that the benefit
of a restraint agreement forms part of the goodwill of a business which
is sold,
and is thus intended to pass to the purchaser, how, in the eyes of the law, is
that benefit transferred to the purchaser?
What I have been referring to as
“the benefit” of an agreement in restraint of trade, pertaining to a
business, is,
in the eyes of the law, the contractual right to enforce the
restraint. It vests in the owner of the business. He is the creditor
in
respect of it. When he sells the goodwill of the business, the merx
embraces that contractual right. We have, therefore, a sale of the contractual
right, or claim.’ (214 B-C)
‘There is no fixed or invariable rule
by which the benefit of an agreement in restraint of trade passes to the
purchaser of
the goodwill of a business. For instance, such an agreement may in
terms confer a purely personal benefit on the owner of the business
only; in
such a case, the benefit of it does not enure to the advantage of the business,
it is not part of the goodwill, and it
will not pass to the purchaser.’
(213 A-B)
Hy sê dan ook te 213I:
‘Ultimately, what one
is dealing with here, is an inference of fact as to the intention of the
parties.’
[20] Ek wil my nie uitlaat oor waar die waarskynlikhede
in verband met die vraag lê nie. Dit is die taak van die verhoorhof
nadat
al die getuienis aangehoor is. Die appellant het genoegsame prima facie
getuienis om sy standpunt dat die regte aan die besigheid kleef, voorgelê
om absolusie af te weer. Dit volg dat respondente
se betoog op hierdie punt nie
kan slaag nie.
[21] Wat oorbly is om te handel met die vraag of daar
genoegsame getuienis was van kontrakbreuk en kousaliteit.
Na my mening was
daar voldoende getuienis voor die hof op beide die aspekte om absolusie af te
weer. Samevattend is die getuienis
die volgende:
(i) nadat hulle bedank het, het respondente ‘n vergadering belê by ‘n hotel bekend as Little Switzerland waarheen hulle verskeie van die grootste lede van Megasave en Sentra uitgenooi het. Daar is hulle deur respondente versoek en aangemoedig om as lede van gemelde entiteite te bedank en aan te sluit by ‘n nuwe maatskappy wat die respondente sou stig;
(ii) ongeveer twee weke na die vergadering het respondente aan lede van Megasave ‘n memorandum gestuur waarin die struktuur en funksies van die beoogde nuwe maatskappy uiteengesit is en waarin die lede weereens aangemoedig word om te bedank en by die nuwe organisasie aan te sluit;
(iii) ter uitvoering van die plan het respondente op 8 September 1998 ‘n maatskappy gestig genaamd The Business Exchange Company (Pty) Ltd waarvan ingevolge sy Akte van Oprigting sy hoofdoelstelling was: ‘To act as a buying exchange’;
(iv) die drie respondente was dan ook direkteure van die maatskappy tot en met 17 November 1998 en die eerste en tweede respondent die interim bestuur vanaf die stigtingsdatum;
(v) die respondente het deur maatskappye waarvan hulle direkteure was of waarin hulle aandeelhouding gehad het die nuwe maatskappy befonds.
[22] Dat die optrede van respondente dan ook gelei
het tot die bedanking van die elf lede van Megasave en Sentra is ook, na my
mening,
prima facie bewese. Ek volstaan deur daarop te wys dat daar
onbetwiste getuienis was dat vier lede wat op 3 Februarie 1999 bedank het en op
uiteenlopende plekke soos Ladysmith, Vereeniging, Zeerust en Isipingo besigheid
gedoen het, se bedankingsbriewe woord vir woord dieselfde
was en almal van die
kantore van die Buying Exchange Company se kantore te Johannesburg gefaks
is.
[23] Ek bevind dus dat nie een van die gronde deur die respondente
aangevoer die toestaan van absolusie sou regverdig het nie.
[24] By die
aanhoor van die appèl het appellant by wyse van ‘n substantiewe
aansoek verlof gevra om ingevolge a 22 van
die Wet op die Hooggeregshof 59 van
1959 verdere getuienis voor die verhoorhof aan te voer. Die appellant het
blykbaar na die hof
a quo se bevel ontdek dat daar wel dokumentêre
bewys was dat voldoen is aan die bepalings van a 228 van die Maatskappyewet.
Gesien
die feit dat die a 228 geskilpunt eers by betoog opgeduik het, staan dit
die appellant steeds vry om aansoek te doen vir heropening
van sy saak, sou hy
dit goeddink.
[25] Vir die redes hierbo uiteengesit is absolusie
verkeerdelik toegestaan en was die aansoek dus onnodig. Advokaat vir die
appellant
het ons inderdaad nie gevra om enige bevel in verband daarmee te maak
nie. Die appellant is dus nie op die koste van die aansoek
geregtig nie.
Trouens daar bestaan geen rede waarom hy nie die respondente se koste moet
betaal nie.
[26] Die volgende bevel word dus gemaak:
1. Die appèl slaag met koste. Die koste sluit in die koste van twee advokate maar nie die koste van die aansoek om verdere getuienis aan te voer nie. Die appellant word gelas om die respondente se koste van die aansoek te betaal.
2. Die bevel van die hof a quo word ter syde
gestel en vervang met die volgende:
‘Die aansoek om absolusie word van
die hand gewys.’
3. Die saak word terugverwys na die verhoorhof.
__________________
P C
COMBRINCK
WAARNEMENDE APPèLREGTER
CONCUR
HOWIE P
ZULMAN JA
NUGENT
JA
MLAMBO JA

RTF format