South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2005 >>
[2005] ZASCA 70
| Noteup
| LawCite
S v Erasmus (618/2004) [2005] ZASCA 70; 2005 (2) SACR 658 (SCA) (6 September 2005)
Download original files | Links to summary |
Last Updated: 17 October 2005
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer : 618/04
In die saak tussen :
NORMAN WILLIAM ERASMUS
APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM : SCOTT, BRAND ARR et COMBRINCK Wnd AR
DATUM : 25 AUGUSTUS 2005
GELEWER : 6 SEPTEMBER 2005
Samevatting: Aanranding met die opset om ernstig te beseer – suur in die klaer se gesig gegooi – dolus eventualis voldoende - nie vereiste dat beskuldigde persoon die werklike erns van uiteindelike beserings moes voorsien het nie. Voldoende dat hy die moontlikheid van ernstige beserings voorsien het en hom daarmee versoen het.
_____________________________________________________
UITSPRAAK
BRAND AR/
BRAND AR :
[1] Hierdie saak het sy oorsprong in die
streekhof van die Oos-Kaap waar die appellant, wat indertyd 18 jaar oud was,
tereggestaan
het op aanklag van poging tot moord. Ter ondersteuning van hierdie
aanklag het die staat beweer dat hy op 11 April 2002 gepoog het
om mnr Pieter
Huishamen te vermoor deur swawelsuur in sy gesig te gooi. Aan die einde van die
verhoor is hy onskuldig bevind aan
poging tot moord maar skuldig aan aanranding
met die opset om ernstig te beseer. Hierop is hy gevonnis tot agt jaar
gevangenisstraf
waarvan twee jaar voorwaardelik opgeskort is. Sy appèl na
die Grahamstadse Hooggeregshof teen hierdie skuldigbevinding sowel
as die vonnis
wat hom opgelê is, is deur Jansen R, met wie Ndzondo Wnd R saamgestem het,
van die hand gewys. Die verdere appèl
na hierdie hof is slegs teen die
skuldigbevinding gerig. Dit geskied met verlof van die hof a
quo.
[2] Die gebeure wat tot die saak aanleiding gegee het is nie in
dispuut nie. Die appellant erken dat hy die persoon is wat die swawelsuur
in
Huishamen se gesig gegooi het. Die gevolge wat sy daad vir Huishamen meegebring
het, is eweneens gemenesaak. Dit was verskriklik.
Die suur het die vel van
Huishamen se gesig en bolyf gestroop en sy oë letterlik vernietig sodat
hulle chirurgies verwyder moes
word. Waar Huishamen voorheen 'n onafhanklike
36-jarige was wat sy eie besigheid bedryf het en 'n normale bestaan gevoer het,
is
sy hele lewe eensklaps omskep tot dié van 'n hulpelose invalide. Hy
kan geen inkomste verdien nie en is afhanklik van 'n staatstoelaag.
Hy word
rondgelei waar hy ookal wil gaan en maak vir sy heel basiese versorging staat op
die bystand van 'n lojale vriend wat op
sy beurt ook sy werk moes bedank om na
Huishamen om te sien.
[3] Die appellant ontken nie dat hy skuldig is aan
aanranding nie. Die hele saak wentel om sy argument dat die addisionele element
van opset om ernstig te beseer afwesig is. Inaggenome die skrikwekkende gevolge
wat sy daad vir Huishamen meegebring het, mag hierdie
argument met die eerste
oogopslag ietwat verrassend voorkom. Wat egter in gedagte gehou moet word, is
dat die onderskeidende element
van die misdaad waaraan die appellant skuldig
bevind is nie die veroorsaking van ernstige beserings is nie, maar die
subjektiewe opset om dit te doen. Gevolglik sluit die erns van die
gevolge nie noodwendig die appellant se verweer van afwesigheid van opset om
ernstig
te beseer uit nie.
[4] Tydens die verhoor het die appellant nie
getuig nie. As basis vir sy verweer het hy gesteun op die self-begunstigende
gedeeltes
van twee verklarings wat buite die hof gemaak is en wat vir een of
ander rede deur die staat voor die verhoorhof geplaas is. Die
eerste van hierdie
verklarings was inderdaad 'n bekentenis wat die appellant voor 'n landdros
afgelê het. Hiervolgens het die
appellant erken dat hy die suur in
Huishamen se gesig gegooi het. Hy het ook verduidelik dat hy dit gedoen het op
versoek van ene
Gerrit Jacobs wat voorheen 'n homoseksuele verhouding met
Huishamen gehad het en wat toe op hom wou wraak neem nadat die verhouding
beëindig is. Woordeliks lui die tersaaklike gedeelte van die bekentenis
soos volg:
'... Gerrit Jacobs [het] vir my gevra om een van my vriende te kry
om vir Pieter Huishamen aan te rand. Ek het toe eers 'n swart vriend
van my
gekry maar omdat hy 'n seer vinger gehad het, kon hy nie gaan nie. Toe het ek 'n
ander vriend van my gekry Stefan Nel. Hy
het nie saam met my gegaan nie want hy
wou nie. Toe het Gerrit Jacobs vir my suur gekry om vir Pieter Huishamen daarmee
in sy gesig
te gooi. Ek het toe die suur in Pieter Huishamen se gesig gegooi.
Maar ons was eers by mnr Riaan Britz se huis gewees. Hy is 'n dokter
by Green
Acres Hospitaal.... Ek was deur Jacobs en Britz gesê dat die "acid" net sy
[Pieter se] vel 'n bietjie rooi sal maak.
Mnr Gerrit Jacobs het vir my 'n kar
belowe en 'n selfoon as ek dit doen. Ek het die selfoon toe gekry maar nie die
kar nie. ... Ek
het dit gedoen vir die geld want ons kry swaar. My ma het nie
eintlik geld nie.'
[5] Dit tweede verklaring wat deur die staat
ingehandig is, was dié van 'n bewaarder in die gevangenis waar die
appellant aanvanklik
weens die tersaaklike gebeure aangehou is. Daarvolgens het
die appellant op die bewaarder se navraag, hoekom hy in aanhouding is,
geantwoord dat hy suur in iemand se gesig gegooi het omdat 'hulle ... gesê
[het] dit nie soveel skade verrig nie'. In konteks
moet hierdie
ongeïdentifiseerde 'hulle' waarskynlik ook as 'n verwysing na Jacobs en
Britz verstaan word.
[6] Jacobs en Britz is oorspronklik as
medebeskuldigdes van die appellant aangekla. Britz is egter reeds deur die
verhoorhof onskuldig
bevind terwyl Jacobs se aanvanklike skuldigbevinding deur
die hof a quo op appèl ter syde gestel is. Beide van hulle het in
die verhoor getuig en enige kennis van die aanranding op Huishamen ontken.
Die
beweerde versekering aangaande die onskadelikheid van die suur wat die appellant
in sy verklarings aan hulle toegedig het, is
nooit in kruisverhoor namens die
appellant aan hulle gestel nie.
[7] Stefan Nel na wie ook in die bekentenis
verwys word, is deur die staat as getuie geroep. Hy het bevestig dat die
appellant hom
vertel het van sy twee homoseksuele vriende wat vroeër 'n
verhouding gehad het en dat een van hulle, na die beëindiging
van die
verhouding, iemand gesoek het om 'acid' in die ander se oë te gooi. Op 'n
stadium het die appellant dan ook die houer
met die suur aan Nel gewys. Volgens
Nel is hy toe genader om hierdie taak teen vergoeding te verrig, maar hy het nie
die 'guts' gehad
om dit te doen nie.
[8] Volgens die verhoorhof se
benadering tot die saak, wat deur die hof a quo op appèl
onderskryf is, het die oplossing van die geskilpunt, of die appellant slegs
skuldig is aan gewone aanranding of
dan wel aan aanranding met die opset om
ernstig te beseer, gewentel om twee vrae. Eerstens, of die self-begunstigende
gedeeltes van
die appellant se buiteregtelike verklarings, waarvolgens aan hom
gesê is dat die suur nie ernstige skade sou aanrig nie, maar
slegs die
slagoffer se vel effens rooi sou verkleur, as getuienis toelaatbaar was.
Tweedens, indien wel, watter gewig daar aan hierdie
getuienis geheg moes word.
Die regsbeginsels onderliggend aan hierdie vrae het die hof gevind in
beslissings van hierdie hof soos,
byvoorbeeld, R v Valachia 1945 AD 826
te 835, 837; S v Khoza 1982 (3) SA 1019 (A) 1039A; S v Yelani
1989 (2) SA 43 (A) 50A-C.) Ooreenkomstig hierdie beginsels het die
self-begunstigende gedeeltes van die buiteregtelike verklarings toelaatbaar
geword
toe die staat hierdie verklarings voor die hof geplaas het. Soos hierdie
beslissings egter ook aandui het die feit van toelaatbaarheid
nie meegebring dat
die self-begunstigende gedeeltes dieselfde gewig as die inkriminerende gedeeltes
van hierdie verklarings moes
dra nie. Afhangende van die omstandighede, kon die
hof selfs laasgenoemde aanvaar en eersgenoemde as ongeloofwaardig
verwerp.
[9] Aan die hand van hierdie beginsels het die verhoorhof toe
bevind dat die onderhawige inderdaad 'n geval is waar die self-begunstigende
gedeelte van die appellant se verklarings verwerp moet word. Wat die hof veral
teen die appellant gehou het, was dat die beweerde
gerusstelling wat in sy
verklarings aan Jacobs en Britz toegedig word nie in kruisverhoor namens hom aan
een van hulle gestel is
nie. In elk geval, so het die verhoorhof beslis, is dit
in die lig van algemene menslike ervaring aangaande die effek van suur,
onwaarskynlik
dat Jacobs en Britz so 'n gerusstelling aan die appellant sou gee.
Op appèl het die hof a quo hierdie redenasie oorweeg en as
oortuigend aanvaar. Ek deel egter nie hierdie oortuiging nie. Nadat Jacobs en
Britz reeds pertinent
enige kennis van die aanranding op Huishamen ontken het,
sou 'n stelling van hulle beweerde gerusstelling teenoor die appellant nouliks
van enige nut wees. Verder kan ek my ook goed voorstel dat Jacobs en sy vriend
Britz juis so 'n gerusstelling aan die appellant kon
gee in 'n poging om hom te
oorreed om Jacobs se vuilwerk vir hom te doen. Soos ek die saak sien moet die
self-begunstigende gedeelte
van die appellant se verklarings dus op sigwaarde
aanvaar word.
[10] Dit is egter nie die einde van die ondersoek nie. By
verdere beoordeling moet in gedagte gehou word dat oogmerksopset geen vereiste
is vir 'n skuldigbevinding aan die onderhawige misdaad nie. Aanwesigheid van
opset in die vorm van dolus eventualis is voldoende. Die skuldigbevinding
was dus geregverdig indien die appellant (subjektief) die moontlikheid van 'n
ernstige besering
voorsien het en hom daarmee versoen het. Die vraag of dit sy
oogmerk was om ernstig te beseer, is onsaaklik. Verder moet in gedagte
gehou
word dat die vraag nie is of die appellant die uiteindelike gevolge wat sy
optrede vir Huishamen gehad het in al sy verskriklike
detail voorsien het nie.
Solank die beserings wat hy subjektief as 'n moontlikheid voorsien het ernstig
was, was die skuldigbevinding
behoorlik verantwoord.
[11] Soos ek dit
sien, wentel die appèl dus om die vraag of die afleiding in al die
omstandighede geregverdig is dat die appellant,
ten spyte van Jacobs en Britz se
gerusstelling tog die moontlikheid voorsien het dat Huishamen ernstig beseer sou
word en hom daarmee
versoen het. Wat in die appellant se guns tel is dat hy op
daardie stadium slegs 17 jaar oud was; dat hy slegs standerd 7 op skool
geslaag
het en dat hy blykbaar nie baie slim was nie. Voorts moet ook aanvaar word dat
hy beïndruk kon wees deur die mediese
kennis van Britz wat, hoewel nie 'n
dokter nie, darem in 'n hospitaal gewerk het.
[12] Dit alles inaggenome
is ek egter nie oortuig dat die appellant die wêrelvreemde stelling, dat
die suur maar slegs Huishamen
se vel 'n bietjie rooi sou verkleur, kon geglo het
sonder om selfs die moontlikheid te oorweeg dat dit nie waar is nie. Menslike
ervaring leer tog dat suur op 'n mens se vel en veral in die oë waarskynlik
dramatiese beserings tot gevolg sal hê. Die
toegedigte gerusstelling val
byna op dieselfde vlak as die stelling dat 'n steekhou met 'n mes slegs 'n rooi
kol op die slagoffer
se vel sal laat. Dit is so ver van die werklikheid verwyder
dat selfs die mees oningeligte dit nouliks kan glo. By ontstentenis aan
enige
getuienis deur die appellant self kan hy nie van die hof verwag om sonder meer
te aanvaar dat hy nie die algemene kennis oor
die effek van suur in 'n mens se
oë met die res van die bevolking gedeel het nie.
[13] Wat meer is,
'n vraag wat die appellant homself onvermydelik moes afvra, is waarom Jacobs
bereid sou wees om vir hom 'n motor
en 'n selfoon te gee as dit wat hy gevra is
om te doen weinig meer tot gevolg sou hê as 'n harde klap. Nog minder
verstaanbaar
in die omstandighede is die appellant se aanvanklike soeke na 'n
plaasvervanger om hierdie relatief geringe beserings namens hom
te veroorsaak en
dit terwyl hy 'n ernstige behoefte aan geld gehad het. En dan weier Nel boonop
om selfs teen vergoeding hierdie
geringe beserings te veroorsaak omdat hy nie
die 'guts' daarvoor het nie.
[14] In al die omstandighede is die
afleiding dus myns insiens bo redelike twyfel geregverdig dat die appellant dit
minstens as 'n
moontlikheid voorsien het dat sy aanranding op Huishamen ernstige
beserings tot gevolg sou hê en dat hy hom met daardie moontlikheid
versoen
het. Gevolglik is ek van oordeel dat die skuldigbevinding aan aanranding met die
opset om ernstig te beseer moet bly staan.
[15] Derhalwe word die
appèl van die hand gewys.
..................
F D J
BRAND
APPÈLREGTER
Stem saam:
SCOTT AR
COMBRINCK Wnd AR