South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2004 >>
[2004] ZASCA 96
| Noteup
| LawCite
S v Van Wyk (176/04) [2004] ZASCA 96; 2005 (1) SACR 41 (SCA) (30 September 2004)
Download original files | Links to summary |
Last Updated: 7 December 2004
DIE HOOGSTE OF VAN APPèL IN
SUID-AFRIKA
Saak No 176/04
RAPPORTEERBAAR
In die saak tussen
ADRIAAN JACOBUS VAN WYK
APPELLANT
en
DIE STAAT
RESPONDENT
Coram: Harms, Nugent ARR et Comrie Wnde AR
Aangehoor: 22 September
2004
Gelewer: 30 September 2004
Opsomming: Borg – appèl – hoogverraad – skedule 5 oortreding – s 60(11)(b) – hetsy in belang van geregtigheid om vrylating toe te laat.
Borg – wesenlike vooruitsig beskuldigde een of ander tyd verhoor mag ontwyk – nie in belang van geregtigheid om vrylating toe te laat nie.
______________________________________________________
UITSPRAAK
_______________________________________________
COMRIE Wnde AR
[1] Hierdie is ‘n borgappèl. Die
appellant is ‘n beskuldigde in die sogenoemde Boeremag-verhoor wat deur
Jordaan
R in die Transvaalse Provinsiale Afdeling aangehoor word. Gedurende die
verloop van die verhoor, wat nog voortduur, het die appellant
‘n aansoek
om borg gebring wat deur ‘n ander regter, Ismail Wnde R, aangehoor is.
Borg is geweier. Die appellant appelleer
nou direk na hierdie hof, sonder
verlof, soos hy geregtig is om te doen. S v Botha en
‘n ander 2002 (1) SASV 222 (HHA); S v Viljoen 2002 (2) SASV
(HHA) para 25; S v Kock 2003 (2) SASV 5 (HHA) para 26.
[2] Die appellant en sy mede-beskuldigdes staan tereg op 43 aanklagte
(alternatiewe ingesluit), onder andere, hoogverraad (aanklag
1) en moord
(aanklag 10). Van al die aanklagte is moord (op die manier gepleeg soos beweer)
die enigste bylae 6 oortreding. Ingevolge
art 60(11)(a) van die Strafproseswet
71 van 1977 moes die appellant die hof a quo oortuig het dat ‘daar
buitengewone omstandighede bestaan wat sy . . . vrylating [op borg] in die
belang van geregtigheid veroorloof.’
Daarenteen is hoogverraad ‘n
bylae 5 oortreding en art 60(11)(b) verg in so ‘n geval dat ‘n
beskuldigde getuienis
moet aanbied wat die hof oortuig dat ‘belang van
geregtigheid sy . . . vrylating [op borg] veroorloof.’ Onder beide (a)
en
(b) het ‘n beskuldigde ‘n bewyslas maar onder (b) is die las ligter
want daar is geen noodsaak om ‘buitengewone
omstandighede’ aan te
toon nie.
[3] In die hof a quo en in die betooghoofde op
appèl is die saak weens aanklag 10 op die veronderstelling dat die
appellant buitengewone omstandighede
moes bewys, benader. Die betrokke moord het
twee en ‘n half maande na die appellant se arrestasie plaasgevind en
ongeveer ses
weke (op die staat se weergawe) nadat die verraderlike komplot van
aanklag 1 verydel is. Tydens betoog voor ons het die advokaat
vir die staat, mnr
van Rensburg, toegegee dat op die rekord daar nie prima facie-getuienis is wat
die appellant met die moord verbind
nie. Hoewel die formulering van die akte van
beskuldiging beslissend is vir die vraag of art 60(11) van toepassing is (S v
Botha supra para 16), is die afwesigheid van prima facie-getuienis natuurlik
in die algemeen ‘n buitengewone omstandigheid (S v Kock supra para
15). Hy het gevolglik aanvaar dat die saak op appèl in terme van sub-art
(11)(b) besleg kon word.
[4] Die appellant het toegang tot die staat se
dossier gehad. Hy het getuig maar sy getuienis het hoofsaaklik uit betoog
bestaan deurdat
hy die staat se saak wat hom impliseer aan uitvoerige kritiek en
kommentaar onderwerp het. Sommige verklarings het hy met ‘n
onskuldige
verduideliking probeer ondervang; ander bewerings het hy bloot ontken; maar
veral het hy die aandag op teenstrydighede
tussen die verskillende verklarings
gevestig. Beëdigde verklarings is namens hom ingedien waarin andere, net
soos hy, beweer
het dat hulle sonder hulle medewete by die beplande staatsgreep
betrek is op die sg beplanningsdokument, bekend as dokument 12. Hy
het ook
‘n aanval op mnr J C Smit, ‘n vorige vriend wat –
volgens hom – ‘n geswore vyand
geword het en wat glo vasberade was
om hom onskuldiglik te impliseer. Smit se beëdigde verklaring betrek nl die
appellant by
die sameswering as een van die hooffigure. Aangesien die dossier
omvangryk is en die appellant breedvoerig getuig het, het die borgaansoek
‘n hele paar dae geduur – dit alles, so kom dit voor, in ‘n
poging om die appellant se onskuld op al die aanklagtes
aan te toon.
[5] Die appellant en sy regsverteenwoordiger het nie ag geslaan op die
woorde van Olivier AR in S v Viljoen, supra, nie (te para
25):
‘dat daarteen gewaak moet word om van elke borgaansoek ‘n
uitgerekte verhoor vóór die strafverhoor te maak
. . . Kon dit
ooit die bedoeling van die Wetgewer gewees het dat borgaansoeke ‘n volle
kleedrepetisie van die verhoor moet
wees? Ek betwyfel dit ten sterkste. Ek sou
dus oordeel dat die verhoor van borgaansoeke binne redelike perke gehou moet
word onderhewig
aan die bepalings van die Wet en die regte van die
beskuldigde.’
[6] Die appellant se metodiek, soos hierbo beskryf,
misken die ware karakter van ‘n borg-ondersoek in gevalle waar dit
‘n
geskilpunt is of die staat ‘n swak of sterk saak het. In die
gewone geval wat nie onder sub-art (11) val nie moet die aanklaer,
byvoorbeeld
deur die getuienis van die ondersoekbeampte of die voorlegging van beëdigde
verklarings, aandui wat die aard en
omvang van die getuienis is wat teen die
borgapplikant bestaan. Die ondersoekbeampte mag dan binne redelike perke daarop
gekruisvra
word. Dit is nie vir die aanklaer om sy getuienis op die meriete aan
te voer nie of om sy getuies aan kruisondervraging bloot te
stel nie. Dit is ook
nie vir die hof om negatiewe afleidings te maak oor die versuim van die aanklaer
om die staatsgetuies te laat
getuig nie. Die hof se funksie is om die relatiewe
krag van die staat se saak vas te stel in die lig van die gemelde materiaal.
Indien
die geval onder sub-art (11) resorteer, rus die las natuurlik op die
applikant om aan te toon dat die staat se saak geen of relatief
min meriete het.
Die applikant, indien daartoe geadviseer en gewaarsku (vgl art 60(11B)(c)), kan
oor die meriete getuig en daaroor
gekruisvra word. Natuurlik kan hy aan die hand
van die dossier aantoon dat die getuienis teen hom weinig of geen waarde het
nie.
Dit is nogtans nie vir die borghof om ‘n voorlopige bevinding van
skuld of onskuld in te bring nie. Die hof se plig is om prima
facie sterkte of
swakheid te oorweeg. Dit kan natuurlik aan die einde van so ‘n ondersoek
blyk dat die staat se saak teen ‘n
applikant swak is. S v Mohammed
1999 (2) SASV 491 (C) was so ‘n geval, asook S v Kock supra. Maar
om so ‘n gevolgtrekking te bereik aan die hand van
geloofwaardigheidsbevindings is normaalweg ongewens en ‘n
miskenning van
die feit dat die borgverrrigtinge nie ‘n kleedrepetisie is
nie.
[7] In elk geval was die bogenoemde oefening in die hof a quo
vanuit die appellant se oogpunt teenproduktief. Dit het bloot getoon dat die
staat in besit is van ‘n aansienlike hoeveelheid
getuienis wat hom
besonderlik by die beweerde sameswering impliseer. Of daardie getuienis
voldoende vir ‘n skuldigbevinding
sal wees en of die appellant se weergawe
redelik moontlik waar is, is vrae vir beregting deur die verhoorhof. Op hierdie
staduim
is dit voldoende om te konstateer dat die staat ‘n sterk prima
facie saak met betrekking tot aanklag 1 – hoogverraad
– het en kan
ek nie bevind dat die appellant, aan die hand van die beskikbare materiaal,
waarskynlik onskuldig bevind sal word
nie.
[8] Op grond waarvan beweer
die appellant is dit in belang van geregtigheid dat hy vrygelaat moet word? Hy
maak, benewens die gebrek
aan meriete in die staat se saak (waarmee ek reeds
gehandel het) op sy persoonlike omstandighede staat. Hy is ongeveer 38 jaar oud,
is getroud en het nie kinders nie. Hy wil graag sy besigheid bedryf tydens die
verhoor. Daar is min, indien enigiets, oor van hierdie
besigheid wat hy kort
voor sy arrestasie begin het. Sou hy op borg vrygelaat word, betwyfel ek of hy
die besigheid kan bestuur en
herbou aangesien die verhoor sy bywoning vereis.
[9] Die appellant het in sy getuienis gekla dat sy aanhoudings-toestande
ongunstig was vir konsultasie met sy regsadviseurs en die
verkryging van
getuienis. Hy het besonderlik gekla oor die verslegting van sy gesondheid sedert
sy opsluiting. Mediese getuienis
het aangetoon dat die appellant aan ‘n
diabetiese toestand en hoë bloeddruk ly waarvoor hy medikasie en ‘n
spesiale
dieet benodig. Die appellant beweer dat by geleentheid het hy nie sy
medikasie ontvang nie en by ander geleenthede het hy nie sy
maaltye ontvang nie.
Die gevangenisbeamptes wat getuienis afgelê het, het die teenoorgestelde
beweer. Die waarheid lê
moontlik iewers in die middel. Hoe dit ook al sy,
insoverre as wat die appellant nie behoorlike aandag in bewaring ontvang nie,
het
hy ander regsmiddels tot sy beskikking en is borg in die algemeen nie die
remedie vir die vergrype en versuime van die gevangenisowerhede
nie. Wat van
belang bly, is die feit dat die beperkings weens sy gevangenisskap en bywoning
van die verhoor nie ideaal vir ‘n
persoon in sy fisiese toestand is nie.
Natuurlik is die ingryp in sy vryheid ‘n belangrike faktor waaraan heelwat
gewig geheg
moet word by bepaling van die belang van geregtigheid maar die
omstandighede wat ek sopas behandel het, moet geweeg word teen die
ander faktore
en moet nie in isolasie gesien word nie.
[10] Die appellant maak ook
staat op die feit dat hy sy verhoor sal staan. Sewe mede-beskuldigdes is op borg
vrygelaat en het tot
dusver die verhoor bygewoon en hulle borgvoorwaardes
nagekom. Die appellant gebruik hulle as voorbeeld en beloof om dieselfde te
doen. Die borggeld wat sy familie sal moet betaal, kan hy nie bekostig om te
verbeur nie. Hy wys ook daarop dat hy reeds vier maande
voor sy inhegtenisneming
deur die polisie ondervra is en ten spyte van die risiko van ‘n
inhegtenisname het hy nie gevlug of
iewers geskuil nie. Daarbenewens verwys hy
na die feit dat sedert sy inhegtenisneming het hy tweemaal die geleentheid gehad
om met
gemak te ontvlug en dat hy dit nie gedoen het nie.
[11] Die
appellant is alreeds vir twee en ‘n half jaar in aanhouding. Dit blyk of
die verhoor nog lank sal voortduur; ek praat
in terme van jare eerder as maande.
Ons is deur die advokate meegedeel dat die verhoorhof met nog slegs die derde
staatsgetuie besig
is. Die appellant se beweerde rol in die coup
d’etat was een van relatiewe senior bevel, alhoewel nie een van
direkte leierskap. As die appellant skuldig bevind word aan aanklag 1 op
die
beweerde basis, staar hy langtermyn-gevangenisstraf in die gesig. Soos die
verhoor voortduur, mag die saak (ek sê nie dit
sal nie) teen hom draai. In
daardie geval sal die versoeking om te vlug, verhoog. Hy is ‘n goed
opgeleide soldaat wat grensdiens
gedoen het. Hy het tot die rang van majoor in
die Wonderboom-kommando gevorder en was die bevelvoerder totdat hy dié
konneksie
na die inhegtenisname van die hoofbeskuldigdes enkele maande voor sy
arres verbreek het. Die appellant het ‘n paspoort wat
hy aangebied het om
in te handig maar hy hoef natuurlik nie oorsee of buite die landsgrense te gaan
om sy verhoor te ontvlug nie.
Hy kan eenvoudig binnelands verdwyn, iets wat
histories nie vergesog is nie. Volgens die ondersoekbeampte bestaan daar
‘n sterk
infrastruktuur van simpatiseerders en ondersteuners wat
voortvlugtendes kan beskerm, huisves en onbepaald versteek.
[12] Die
aard van die sameswering wat wydverspreide ondersteuning van wesenlike gedeeltes
van die gemeenskap veronderstel het en daarop
moes gesteun het, moet in ag
geneem word by die beoordeling van die vraag van wat in belang van geregtigheid
is. Aangesien ander
geesgenote bystand van derdes ontvang het om die gereg te
ontduik, hoekom kan dit ook nie mettertyd die geval met die appellant wees
nie?
Gegewe die sterk prima facie saak van die staat, die langtermyn gevangenisstraf
wat sal volg op ‘n moontlike skuldigbevinding
en die infrastruktuur waarna
ek verwys het, is ek van oordeel dat daar ‘n redelike vooruitsig bestaan
dat as hy op borg vrygelaat
sou word, hy een of ander tyd sy verhoor mag ontwyk.
Die primêre doelstelling van die borgstelsel is immers om te verseker
dat
‘n beskuldigde sy verhoor sal staan. Aangesien daardie doelstelling in
hierdie geval verydel kan word deur die toestaan
van borg, het die appellant hom
nie van die art 60(11)(b) bewyslas gekwyt dat dit in die belang van
regspleging is om borg te
verleen nie.
[13] Die appèl word
afgewys.
____________
R G COMRIE
WAARNEMENDE
APPèLREGTER
STEM SAAM
HARMS AR
NUGENT AR