South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 2
| Noteup
| LawCite
Middelberg v Prokureursorde van Transvaal (565/98) [2001] ZASCA 2; [2001] 3 All SA 166 (A); 2001 (2) SA 865 (SCA) (22 February 2001)
Download original files |
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer:
565/98
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN
SUID-AFRIKA
In die saak tussen:
A W F
MIDDELBERG APPELLANT
en
DIE PROKUREURSORDE VAN
TRANSVAAL RESPONDENT
CORAM: SMALBERGER WndAHR, VIVIER, SCOTT, MPATI ARR en MELUNSKY
Wnd AR
VERHOORDATUM: 16 FEBRUARIE 2001
LEWERINGSDATUM: 22 FEBRUARIE 2001
Skrapping van
prokureur van rol - siviele verrigtinge kragtens art 20(4) van
die
Hooggeregshofwet - verlof om te appelleer
nodig.
_________________________________________________________________
UITSPRAAK
__________________________________________________________________
SMALBERGER WndAHR
SMALBERGER WndAHR:
[1] Die
Prokureursorde van Transvaal (“die respondent”) het by wyse van
‘n kennisgewing van mosie, ingevolge reël
6 van die Eenvormige
Hofreëls, in Julie 1997 in die Transvaalse Provinsiale Afdeling aansoek
gedoen om die skrapping van die
appellant (‘n toegelate prokureur) van die
rol van prokureurs van daardie Afdeling, en sekere aanvullende regshulp. Na
lang,
uitgerekte verrigtinge is die appellant op 5 Oktober 1998 deur ‘n
hof bestaande uit Van Coller en Combrinck RR van die rol
geskrap en die
aangevraagde bykomende regshulp is toegestaan. Op 19 Oktober 1998 het die
appellant ‘n kennisgewing van appèl
ingedien. Verlof om te
appelleer is nie vooraf deur hom aangevra of verkry nie. Die kennisgewing, wat
19 bladsye beslaan, gee voor
een te wees kragtens artikel 21 van die Wet op die
Hooggeregshof 59 van 1959 (“die Wet”).
[2] Nadat kennis
vooraf aan die partye in dié verband gegee is, is die aanvanklike betoog
voor ons beperk tot die vraag of hierdie
Hof, by ontstentenis van verlof om te
appelleer, regsbevoeg is om die voorgenome appèl aan te hoor. Die
antwoord hierop sal
die verdere verloop van die verrigtinge
bepaal.
[3] Die Wet het op sivielregtelike aangeleenthede betrekking.
Artikel 20(1), soos tans bewoord, verleen aan hierdie Hof die bevoegdheid
om
‘n appèl te verhoor “teen ‘n uitspraak of bevel van die
hof van ‘n provinsiale afdeling in ‘n
siviele geding of teen enige
uitspraak of bevel van so ‘n hof op appèl gegee”. Luidens
art 21(1) van die Wet
is hierdie Hof regsbevoeg om “benewens enige
regsbevoegdheid deur hierdie Wet of ander wetsbepalings aan hom verleen . . .
.
‘n appèl teen enige beslissing van die hof van ‘n provinsiale
of plaaslike afdeling te verhoor en te beslis”.
Artikel 21(1) gee dus
voor om regsbevoegdheid aan hierdie Hof te verleen in moontlike gevalle wat nie
deur art 20(1) gedek is nie
(vgl Moch v Nedtravel (Pty) Ltd t/a American
Express Travel Service 1996(3) SA 1 (A) op 8 B - C).
[4] Die vraag
ontstaan of die uitspraak van die hof benede een is in “‘n siviele
geding” binne die bestek van daardie
woorde in art 20(1) van die Wet.
Indien wel, geld die bepalings van art 20(4) wat soos volg lui:
“(4) Daar is geen appèl teen ‘n uitspraak of bevel van die hof van ‘n provinsiale of plaaslike afdeling in ‘n siviele geding of teen enige uitspraak of bevel van daardie hof op appèl na hom gegee nie behalwe-
(a) in die geval van ‘n uitspraak of bevel in ‘n siviele geding deur die volle hof van so ‘n afdeling gegee op appèl na hom ingevolge subartikel (3), met die spesiale verlof van die appèlafdeling;
(b) in enige
ander geval, met verlof van die hof teen die uitspraak of bevel waarvan die
appèl aangeteken staan te word of,
waar sodanige verlof geweier is, met
verlof van die appèlafdeling.”
(Die verwysing na die
appèlafdeling moet, gesien die nuwe Grondwetlike bedeling, beskou word as
‘n verwysing na hierdie
Hof.)
[5] Na aanleiding van die
duidelike bepalings van art 20(4) kan daar geen appèl voor hierdie Hof
teen die hof benede se uitspraak
dien nie as die verrigtinge in daardie hof
binne die kader van “‘n siviele geding” val aangesien, soos
reeds aangedui,
geen verlof om te appelleer by daardie hof aangevra of verkry is
nie. Sodanige verlof of, waar dit geweier is, verlof van hierdie
Hof, is
regtens ‘n voorvereiste vir hierdie Hof se bevoegdheid om ‘n
appèl aan te hoor, en nie net ‘n tegniese
struikelblok in die weg
van die appellant nie. Daarbenewens is hierdie Hof, na aanleiding van art
20(4)(b), nie by magte om ‘n
aansoek om verlof om te appelleeer te oorweeg
nie, en verlof te verleen nie, tensy verlof in die hof benede voorheen aangevra
en
geweier is (National Union of Metalworkers of South Africa v Jumbo
Products CC 1996(4) SA 735 (A) op 740 A-D).
[6] By oorweging
van die bestek van die begrip “‘n siviele geding” in art 20(1)
en (4) moet daar op die volgende gelet
word. In die Engelse teks van die Wet
word die woorde “‘n siviele geding” weergegee as “civil
proceedings”.
Soos ek aanstons sal aantoon, het “proceedings”
‘n wyer betekenis as “action” of “suit”
wat
normaalweg as die Engelse ekwivalent van “geding” beskou sou word.
Waar die woord “proceedings” deurgaans
konsekwent in die Engelse
teks gebruik word, word daarvoor in die Afrikaanse teks van die Wet soms
“geding” en soms “verrigtinge”
of
“verrigtings” gebruik - sien bv arts 9(1), 10(6), 19 bis,
20(7), 23, 24(1) en (2), 29, 30(1), (3) en (6), 31(1), (3) en (5) en 32(1). In
arts 28(2) en 31(2) word “geding” klaarblyklik
as die eweknie van
“verrigtinge” gebruik. Daarbenewens, waar die Afrikaanse teks in
art 20(1), (2)(a) en (4) bloot na
“‘n siviele geding” verwys,
is die ooreenstemmende woorde in die Engelse teks “any civil
proceedings”.
Die woord “any”, wat ‘n woord van wye
betekenis is, het dus geen ekwivalent in die Afrikaanse teks nie. Die Engelse
teks is die getekende een. Bygevolg moet “‘n siviele geding”
gelees en geïnterpreteer word as sou dit gelykstaande
wees aan “any
civil proceedings”. Ek sal dus voortaan verwys, in die konteks van art
20(1) en (4), na siviele verrigtinge
eerder as ‘n siviele
geding.
[7] Die voorafgaande geskiedenis van arts 20 en 21 van die
Wet, en die gevolg van wysigings wat van tyd tot tyd aan daardie artikels
aangebring is, word behandel in sake soos Westinghouse Brake & Equipment
(Pty) Ltd v Bilger Engineering (Pty) Ltd 1986(2) SA 555 (A) en Kalil v
Decotex (Pty) Ltd and Another 1988(1) SA 943 (A). Dit is nie vir die
doeleindes van hierdie uitspraak nodig om daarop in te gaan nie. Kortliks kom
dit daarop
neer dat waar daar aanvanklik in siviele verrigtinge ‘n reg tot
appèl na hierdie Hof (of altans sy voorganger) was,
verlof om te
appelleer in sodanige gevalle nou benodig word. Gevolglik was die vraag of
‘n aangeleentheid ‘n siviele
verrigting is deurgaans lotsbepalend -
omdat dit vroeër ‘n reg tot appèl verleen het en nou verlof
tot appèl
vereis.
[8] In die saak van Prokureursorde van die
Oranje Vrystaat v Louw en Andere 1989(1) SA 310 (O) het ‘n volle hof
van die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling (Olivier R met wie Brink en
Bester RR saamgestem
het) tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n aansoek om
die verwydering of skrapping van ‘n prokureur van die rol ‘n
siviele
verrigting is binne die bestek van art 20(1) en (4) en dat verlof om te
appelleer teen die toestaan van so ‘n aansoek
dus nodig was. Gevolglik is
bevind dat die uitspraak tot die teendeel in Cape Law Society v Solomon and
Jackson 1978(3) SA 452 (OK) verkeerd beslis is. Daar is deur Olivier R
bevind (op 312 F - G) dat die slotsom waartoe daar in die Solomon and
Jackson saak gekom is foutief was, eerstens omdat daar gesteun is op gesag
wat nie met die wye begrip “civil proceedings” handel
nie en,
tweedens, omdat die betrokke wetsartikel te eng uitgelê is. Na my mening
moet die geleerde regter in albei opsigte
gelyk gegee word.
[9] Soos
tereg deur Olivier R in die Louw saak daarop gewys (op 312 G - 313 D),
het die hof in die Solomon and Jackson saak gesteun op ‘n aantal
gewysdes wat gegaan het oor die uitleg en bestek van die begrippe “civil
suit” of “civil
suit and action” (onder andere Solomon v
Law Society of the Cape of Good Hope 1934 AD 401), en nie met die wyer
begrip “civil proceedings” nie, om tot die uiteindelike
gevolgtrekking te kom dat ‘n skrappingsaansoek
nie ‘n “civil
proceeding” soos in die destydse art 20(1)(a) van die Wet bedoel was nie
omdat “the civil
proceedings there contemplated are proceedings in which
there is a lis between the parties” (op 458 B). Sodoende is uit
die oog verloor dat daar ‘n inherente beperking in die begrip “civil
suit or action” is wat nie in die begrip “civil proceedings”
te vinde is nie (vgl Kalil se saak (supra) op 963 F - H). Die
begrip “civil proceedings” is klaarblyklik van wyer omvang (The
Master v Van Aardt 1926 AD 25 op 27) en is ‘n lis in die enge
sin myns insiens nie ‘n noodwendige vereiste daarvan
nie.
[10] In die Solomon and Jackson saak is daar ook gesteun
op die beslissing in Hassim (also known as Essack) v
Incorporated Law Society of Natal 1977(2) SA 757 (A). In daardie saak is
bevind (op 767 C - D) dat aansoeke om die skrapping van prokureurs van die rol
verrigtinge
van ‘n dissiplinêre aard was en gevolglik nie
“civil proceedings” nie soos beoog in art 42 van die Wet op
Bewysleer in Siviele Sake 25 van 1965. In daardie opsig is gesteun op die
Solomon saak van 1934 (supra) waar die woorde “suit or
action” vertolk is - ‘n begrip, soos reeds gemeld, met ‘n
enger betekenis as “civil
proceedings”. Ek stem saam met die
opmerking van Olivier R in Louw se saak op 313 D - E dat “in
soverre as wat die woorde ‘civil proceedings’ in art 42 . . . . .
interpreteer is,
was dit uitsluitlik vir doeleindes van die bewysreg en slegs
met die oog op die werking van gemelde artikel”. Hassim se saak
het nie gegaan oor die vertolking van die begrip “civil proceedings”
binne die konteks van art 20(1) en (4) van
die Wet nie. Wat daar gesê is,
is dus nóg bindend nóg deurslaggewend in die onderhawige
geval.
[11] Namens die appellant is betoog dat die beslissing in
die Solomon and Jackson saak goedgekeur is, minstens by implikasie, in
Law Society, Transvaal v Behrman 1981(4) SA 538 (A). Daar is nie in
Louw se saak na hierdie saak verwys nie. In Behrman se saak het
die huidige respondent geappelleer teen die hertoelating van Behrman as
prokureur nadat hy reeds twee keer vantevore
van die rol geskrap was vir
wangedrag. Met betrekking tot art 20(1) van die Wet verwys Corbett AR in die
loop van sy uitspraak (op
546 A - C) onder andere na die Hassim en
Solomon and Jackson sake as gesag vir die stelling dat aansoeke om skrapping
van prokureurs nie “civil proceedings” is nie. Die geleerde
regter
handel dan nie verder met art 20(1) nie maar gaan voort op die veronderstelling
dat sou die hof benede se beslissing appelleerbaar
wees, die appèl onder
artikel 21(1) van die Wet resorteer. Daar is nie verdere aandag geskenk aan die
betekenis en omvang
van die begrip “civil proceedings” in art 20(1)
nie en geen mening is uitgespreek oor die korrektheid al dan nie van
die
beslissing in die Solomon and Jackson saak. Die Behrman saak kan
na my mening nie vertolk word as goedkeuring of bevestiging daarvan nie.
Afgesien daarvan is die vraag wat hier ter sprake
is nie in die Behrman
saak oorweeg nie.
[12] Daar word in verskeie gewysdes beklemtoon dat
aansoeke om skrapping van ‘n prokureur of ‘n advokaat verrigtinge
van ‘n
dissiplinêre aard en sui generis is. Gevolglik is
sulke verrigtinge nie beskou as “ordinary civil proceedings” nie -
sien bv Cirota and Another v Law Society, Transvaal 1979(1) SA 172 (A) op
187 H; Society of Advocates of South Africa (Witwatersrand Division) v
Edeling 1998(2) SA 852 (W) op 859 I. Die kwalifikasie
“ordinary” is belangrik. Omdat verrigtinge van daardie aard van
gewone
siviele verrigtinge verskil, volg dit nie noodwendig dat hulle nie
nogtans siviele verrigtinge is kragtens art 20(1) en (4) van die
Wet nie, gesien
die wye strekking en betekenis van daardie begrip.
[13] Uit
‘n prosesregtelike oogpunt is dit moeilik om te begryp hoe die verrigtinge
in die hof benede anders beskou kan word as
siviele verrigtinge. (Die enigste
ander erkende kategorie van verrigtinge sou wees strafregtelike verrigtinge, en
dit is hulle klaarblyklik
nie - sien Cirota and Another (supra) op
187 G.) Hulle het immers meeste van die kenmerke van siviele verrigtinge. Die
aansoek is by wyse van ‘n kennisgewing
van mosie van stapel gestuur; dit
het beoog die verskyning van die appellant voor die hof benede; en bepaalde
regshulp is aangevra
wat onder andere die sekretaris van die respondent sou
magtig om as kurator op te tree met betrekking tot die appellant se praktyk.
Die funderende stukke voldoen aan die vereistes van ‘n siviele dagvaarding
soos omskryf in art 1 van die Wet. Volledige funderende,
beantwoordende en
verdere eedsverklarings is geliasseer. Weliswaar word daar nie streng gesproke
in geding getree met die appellant
oor die vraag of sy naam van die rol geskrap
moet word nie - enige besluit in die verband berus by die hof in die
uitoefening van
sy diskresie as die uiteindelike custos morum van die
regsberoep. Nogtans, indien daar feitegeskille sou ontstaan in ‘n aansoek
om skrapping aangaande aangeleenthede onderliggend
tot die uitoefening van
sodanige diskresie, sou dit van die respondent verwag word om die feite waarop
dit steun vir die aansoek
te bewys volgens die gebruiklike sivielregtelike
beginsels en maatstawwe wat geld by mosie-verrigtinge.
[14] Gevolglik
stem ek saam met Olivier R se gevolgtrekking in Louw se saak op 313 I - J
naamlik:
“Wat die prosesreg betref, is dit dus in alle opsigte ‘n siviele verrigting, naamlik ‘n mosie-aansoek. Die feit dat so ‘n aansoek vir sekere doeleindes sui generis-eienskappe vertoon, bring nie mee dat dit vir prosesreg-doeleindes, nie ‘n siviele verrigting is nie.”
In Westinghouse se saak (supra) is
die veranderings wat ingetree het in arts 20 en 21 van die Wet weens die
wysigings teweeggebring deur Wet 105 van 1982 omvangryk
behandel. Artikel 20
van die Wet is heeltemal herformuleer en art 21 wesenlik gewysig. Na aanleiding
hiervan bevind Corbett AR
op 559 I - J dat:
“The new s 20, read together with the amended s 21, has introduced an entirely new dispensation regarding appeals from a judgment or order of a Provincial or Local Division in civil proceedings. The first main innovation is that henceforth leave to appeal is required in all cases.”
Hy wys daarop (op 562 B - C, 563 B - E) dat die
rede waarom verlof om te appelleer ‘n vereiste gemaak is, was om die
werklading
van hierdie Hof te verminder deur te sorg dat sover doenlik net sake
met redelike vooruitsigte van sukses voortaan voor hierdie Hof
sou dien,
sodoende te verhoed dat hierdie Hof met onbeduidende appèlle opgesaal
word. Hierop is later voortgebou deur verdere
wysigings (wat deur Wet 129 van
1993 aangebring is) om arts 20 en 21 te laat lees soos tans die geval is. Dat
die Wetgewer doelgerig
strewe om alle appèlle na hierdie Hof onderhewig
te maak aan verlof om te appelleer, blyk ook uit die wysigings wat aangebring
is, onder andere, aan artikel 150 van die Insolvensiewet 24 van 1936 en artikel
76(2)(a) van die Wet op Patente 57 van 1978 waar
die reg tot appèl
onderhewig gemaak is aan die voorskrifte van artikel 20(4) van die Wet. Waarom
sou ‘n geval soos
die onderhawige ‘n uitsondering wees op die
algemene reël dat verlof benodig word? Dit blyk nie dat daar enige
beginsel-rede
of oorweging van openbare belang is waarom dit die geval moet wees
nie.
[15] Na my mening is die aansoek om die skrapping van ‘n
persoon van die rol van prokureurs, indien nie in alle opsigte ‘n
gewone
siviele verrigting (ordinary civil proceeding) nie vanweë die sui
generis aard daarvan, nogtans ‘n siviele verrigting vir die
doeleindes van art 20(1) en (4) van die Wet. Verlof tot appèl
was dus
benodig om ‘n appèl voor hierdie Hof te laat dien. Hierdie siening
strook met dié van die geleerde skrywers
Harms: Civil Procedure in the
Supreme Court A1; Erasmus: Superior Court Practice A1-46; en
dié van Herbstein & Van Winsen: The Civil Practice of the Supreme
Court of South Africa, 4de uitgawe, 851.
[16] Vir soverre daar in
Vaatz v Law Society of Namibia 1991(3) SA 563 (Nm HC) op 572 A - E
‘n mening uitgespreek is teenstrydig met bogaande is dit, met respek,
klaarblyklik verkeerd.
Dit is opvallend dat daar in Vaatz se saak glad
nie na Louw se saak verwys is nie.
[17] Gevolglik is daar geen
appèl behoorlik voor hierdie Hof nie en is dit onvermydelik dat die saak
van die rol geskrap moet word
met koste. Namens die respondent is versoek dat
prokureur en kliënt koste toegestaan word. Gesien die omstandighede van
die
geval bestaan daar na my mening geen regverdiging vir so ‘n bevel nie.
[18] Dit is te betreur dat ‘n saak wat reeds lank sloer nog nie
finaal afgehandel kan word nie. Tot ‘n groot mate moet die
appellant self
daarvoor verantwoordelikheid aanvaar. Hy (of sy raadgewers) moes bewus gewees
het van die beslissing in Louw se saak en behoort hy versigtigheidshalwe
en in eie belang daarvolgens te gehandel het. Hy het egter verkies om nie
daardie weg
te volg nie.
[19] Die saak word van die rol geskrap. Die
appellant word gelas om die koste te
betaal.
____________________
J W SMALBERGER
Wnd
ADJUNK-HOOFREGTER
VIVIER AR )Stem saam
SCOTT AR )
MPATI AR )
MELUNSKY
WndAR )