South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 136
| Noteup
| LawCite
Registrateur Van Aandelebeurse v Aldum en andere (320/2000) [2001] ZASCA 136; 2002 (2) SA 767 (SCA) (28 November 2001)
Download original files |
Rapporteerbaar
HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer 320/2000
DIE REGISTRATEUR VAN AANDELEBEURSE
APPELLANT
en
CORNELIUS STEPHANUS ALDUM
H/a onder andere
ONECOR GROEP, CASH FOR AFRICA,
BANKWISE, NUMBER ONE en
SIMUNYE RESPONDENT
Coram: HEFER WndeHR, SCOTT, CAMERON, MTHIYANE ARR, NUGENT WndeAR
Verhoordatum: 15
November 2001
Datum van Uitspraak: 28 November
2001
Beweerde gesimuleerde ooreenkomste - leningsooreenkomste
nie verbloemde
koopkontrakte nie.
UITSPRAAK
________________________________________________________________
HEFER WndeHR
HEFER WndeHR:
[1] Die kernvraag in hierdie appèl
is of sekere skriftelike ooreenkomste waarkragtens die respondent gedurende die
tweede helfte
van 1999 aandele in besit geneem het oënskynlik as sekuriteit
vir geldlenings, inderdaad leningsooreenkomste was soos dit heet
te gewees het
dan wel koopkontrakte van aandele. Indien laasgenoemde die geval was, het hy
strydig met arts 3(2) en 39 van die
Wet op Beheer van Aandelebeurse 1 van 1985
opgetree. Die effek van art 3(2) is dat die dryf van besigheid in die koop en
verkoop
van genoteerde aandele anders as deur lede van aandelebeurse en
bankamptenare verbode is. Art 39 bevat allerlei verbiedinge en voorskrifte
ten
aansien van die adverteer van daardie soort besigheid. Die respondent is `n
geldskieter van beroep. Hy is nie `n lid van `n
aandelebeurs nie en ook nie `n
bankamptenaar nie. Hoe sy moontlike betrokkenheid by die koop van genoteerde
aandele ter sprake gekom
het, blyk uit wat volg.
[2] Gedurende
1999 is `n groot aantal genoteerde aandele aan polishouers toegeken as gevolg
van die demutualisering van twee bekende
versekeraars (“Sanlam” en
“Ou Mutual”) se ondernemings. Die respondent het daarna begin om,
soos hy dit
beskou het, geld aan aandeelhouers van die twee maatskappye uit te
leen teen sekuriteit van hulle aandele. Aanvanklik het elke
lener `n
pandooreenkoms ten opsigte van sy aandele onderteken. Die Registrateur
van Aandelebeurse, die huidige appellant, het egter bedenkinge gehad oor die
geldigheid van die ooreenkomste en `n
ondersoek gelas ten einde te bepaal of die
“lenings” nie die koop en verkoop van aandele behels het nie. Die
ondersoek
het gelei tot -
(a) `n aksie wat die respondent in die Transvaalse Provinsiale Afdeling van
die Hoërhof teen die Raad op Finansiële Dienste
ingestel het vir `n
bevel waarvolgens verklaar word dat sy bedrywighede ten opsigte van die Sanlam
en Ou Mutual aandele regmatig
was en nie in stryd met arts 3(2) en 39 nie; en
(b) `n dringende aansoek deur die appellant in dieselfde hof vir `n bevel
waarvolgens die respondent, hangende die beslissing van
die aksie in (a) genoem,
verbied word om voort te gaan met sy bedrywighede in verband met die
pandooreenkomste.
Sonder opposisie van die respondent se kant is die
dringende aansoek op 23 Julie 1999 toegestaan en op 2 Augustus 1999 het die
respondent
sy eie aksie teruggetrek.
[3] Na 23 Julie 1999 het die
respondent voortgegaan om geld beskikbaar te stel aan Sanlam en Ou Mutual
aandeelhouers. Hy het die pandooreenkomste
egter vervang met dokumente wat op
die oog af leningsooreenkomste met aandele as sekuriteit was. Die appellant was
steeds nie tevrede
nie. Weereens is `n ondersoek gelas en, na afhandeling
daarvan, het die appellant weer `n aansoek aan die Transvaalse Provinsiale
Afdeling gerig. Hierdie keer het hy `n bevel van opgeskorte gevangenisstraf
teen die respondent aangevra weens sy beweerde minagting
van die bevel van 23
Julie 1999 met alternatiewe bedes vir `n verbod op die gebruik van die
leningsooreenkomste en advertensies in
stryd met arts 3(2) en 39. Die
kernbewering in die funderende verklaring van die adjunk-registrateur was die
volgende:
“Die ‘leningsooreenkoms’ is op die oog af onskuldig en in
blanko vorm kan dit nie vertolk word as `n koopooreenkoms
van genoteerde aandele
nie ... Ek doen egter met eerbied aan die hand dat die omstandighede, gegewe die
verlede en die vorige dringende
aansoek wat teen die respondent geloods is,
vereis dat die ‘leningsooreenkoms’ nie op sigwaarde aanvaar moet
word nie,
maar dat die ware oogmerk en substansie van die
‘leningsooreenkoms’ ondersoek moet word. Soos hieronder uiteengesit
sal
word, kom die ‘leningsooreenkoms’ op `n simulasie neer en is
dit nie `n egte leningsooreenkoms nie.”
Nadat gewys is op bepaalde
kenmerke van die ooreenkoms het die deponent soos volg voortgegaan:
“Na oorweging van al die inligting tot my beskikking is ek van oordeel
dat dit steeds `n staande kenmerk van die respondent
se besigheid is om
genoteerde aandele vir eie rekening aan te koop en in die lig daarvan dat hy nie
`n lid van `n geregistreerde
aandelebeurs is nie, hy deur sy handelinge artikel
3(2) van die Wet oortree .”
Die respondent het die aansoek
teegestaan; `n feitegeskil het ontwikkel en die aansoek is vir mondelinge
getuienis verwys. Na aanhoor
daarvan het Southwood R die aansoek met koste van
die hand gewys. Later is verlof verleen om teen die weiering van die
alternatiewe
smeekbedes te appelleer.
[4] In ooreenstemming met
die bewerings in die funderende verklaring is namens die appellant in hierdie
hof aangevoer dat die leningsooreenkomste
niks anders was nie as verbloemde
koopkontrakte waarvolgens genoteerde aandele aan die respondent verkoop is.
Hoewel die verbloeming
volgens die getuienis nie doelbewus geskied het nie, het
die appellant se advokaat aangevoer (met `n beroep op beslissings soos
dié
in Dadoo Ltd and Others v Krugersdorp Municipal Council 1920
AD 530 op 547, Zandberg v Van Zyl 1910 AD 302 op 309; McAdams v
Fiander’s Trustee and Bell NO 1919 AD 207 op 223-4 en Kommissaris
van Binnelandse Inkomste en `n Ander v Willers en Andere 1999(3) SA 19 par
31) dat die vorm van die leningsooreenkomste die substansie daarvan loën en
dat effek gegee moet word aan
laasgenoemde deur die ooreenkomste volgens die
ware aard daarvan toe te pas. In beginsel kan daar natuurlik nie beswaar wees
teen
so `n stap nie. Soos opgemerk in Kilburn v Estate Kilburn 1931 AD
501 op 507
“...Courts of law will not be deceived by the form of a transaction: it
will rend aside the veil in which the transaction is
wrapped and examine its
true nature and substance.”
Maar, veral met die oog op die argument
namens die appellant in die onderhawige saak, moet Innes R se waarskuwing in
Zandberg v Van Zyl loc cit herhaal word, naamlik :
“The Court must be satisfied that there is a real intention, definitely
ascertainable, which differs from the simulated intention.
For if the parties in
fact mean that a contract shall have effect in accordance with its tenor,
the circumstance that the same object might have been attained in another
way
will not necessarily make the arrangement other than it purports to be.”
Dit is ook van pas om in gedagte te hou dat
“[t]here can be no contract of purchase and sale without the animus
emendi on the part of the purchaser, and the animus vendendi on the
part of the seller. And it must be a genuine animus of the one to sell
and of the other to buy.”
(Per De Villiers Wnde AR in McAdams
loc cit.)
[5] Of die ware bedoeling van die partye in `n
besondere geval inderdaad verbloem is en, indien wel, wat die ware bedoeling
was, is `n
feitevraag wat aan die hand van al die beskikbare getuienis beslis
moet word. In die huidige geval is die strekking van die respondent
se getuienis
dat daar geen verskuilde bedoeling by die aangaan van die leningsooreenkomste
was nie. Die appellant, daarenteen, het
geeneen van die ander partye tot die
ooreenkomste as getuie geroep om die teendeel te beweer nie. Sy advokaat was
gevolglik beperk
tot die effek van sommige bepalings van die ooreenkomste
gepaard met enkele grepe uit die getuienis oor wat prakties gebeur het by
die
aangaan en uitvoering daarvan.
[6] In hierdie verband moet die volgende vermeld word :
Volgens klousule 3 moet die respondent (wat as die gelduitlener beskryf word) `n bepaalde bedrag tot `n bepaalde datum aan die lener voorskiet wat, “tesame met die volle bedrae gehef daarop (insluitende rente teen 30% per maand) ... terugbetaalbaar sal wees ... op die voormelde datum.” Die kumulatiewe effek van die rente en “volle bedrae ” (byvoorbeeld “bewaringskoste”, “administrasiefooie” en “kontraksfooie”) waarvoor elders voorsiening gemaak word, is dat die voorskot plus ongeveer 34% terugbetaalbaar is.
Die getuienis is dat die terugbetalingsdatum normaalweg sewe dae na ondertekening van die ooreenkoms was.
In klousule 4 word voorsiening gemaak vir sekuriteit. In die gevalle onder bespreking was dit natuurlik òf Sanlam òf Ou Mutual aandele. Volgens klousule 4.2 word die sekuriteit aan die respondent verpand vir die stiptelike nakoming deur die lener van sy verpligtinge. Volgens klousule 4.3 moet die aandelesertifikaat of aandelerekeningstaat en `n ondertekende aandele-oordragvorm by ondertekening van die ooreenkoms aan die respondent oorhandig word.
Volgens klousule 7 moet die respondent die sekuriteit in bewaring hou vir die duur van die ooreenkoms maar, kragtens klousule 12.1, is hy geregtig om dit namens die lener “wettig te laat verkoop” ingeval van laasgenoemde se kontrakbreuk, dws ook indien die lening nie op die terugbetalingsdatum vereffen word nie. Die lener verleen verder aan die respondent `n onherroeplike mandaat om in daardie geval alle dokumente te onderteken wat hy na goeddunke nodig of wenslik ag om uitvoering te gee aan die ooreenkoms. Indien die netto opbrengs van die verkoping meer is as die bedrag deur die lener verskuldig, word die oorskot in `n rentedraende bankrekening gedeponeer ten behoewe van die lener wat geregtig is om dit binne 90 dae op te eis.
Saam met die ooreenkoms onderteken die lener `n spesiale volmag waarin `n
aandelemakelaar, IDE (Edms) Beperk (“IDE”),
onherroeplik gemagtig
word om die betrokke aandele namens die lener te
verkoop.
[7] Volgens die appellant se advokaat was die
ooreenkomste uitsluitlik gemik op die verlies deur die leners van hulle aandele
en die verkryging
daarvan deur die respondent. Bondig gestel, kom sy submissies
op die volgende neer: Die groot persentasie rente en bykomende koste
wat elke
lener moes betaal, die feit dat die oorgrote meerderheid van die leners volgens
die getuienis persone was wat geld dringend
vir bepaalde doeleindes benodig
het , en die feit dat slegs 5½ dae gegun is vir terugbetaling (indien
naweke waartydens respondent
se kantore gesluit is in aanmerking geneem word),
dui alles daarop dat dit prakties buite die vermoë van enige lener gestel
was om die lening terug te betaal. (Daarom verras dit nie dat, van die
ongeveer 23000 lenings waarin Sanlam en Ou Mutual aandele
sedert die begin van
die respondent se skema gefigureer het, slegs 12 terugbetaal is nie.) En, waar
die partye van meet af aan
beoog dat die aandele verlore sal wees vir die
leners, moet aanvaar word dat die ooreenkomste in wese eintlik koopkontrakte
was.
[8] Tot op `n punt is ek dit eens met die betoog. Ek aanvaar
dat die respondent beoog het dat die geld wat hy aan leners beskikbaar gestel
het in die meeste gevalle uit die opbrengs van die verkoop van die aandele
verhaal sou word en dat dit presies is wat die oorgrote
meerderheid van die
leners ook voor oë gehad het. Dit bring egter nie mee, soos appellant se
advokaat betoog het, dat die respondent
in elke geval die lener se aandele
gekoop het nie. Hoewel die oorgrote meerderheid van die leners die verlies van
hulle aandele voorsien
en selfs beoog het, volg dit geensins dat hulle bedoel
het om dit aan die respondent te verkoop nie. Inteendeel, gesien die
uitdruklike bepalings van klousule 12.1.1 wat die respondent gemagtig het om die
aandele by
wanbetaling “namens die lener” wettig “te
laat verkoop” en die gepaardgaande mandaat aan IDE, het hulle
klaarblyklik slegs beoog dat die aandele namens hulle deur die makelaars in die
ope
mark verkoop sou word.
[9] Die konstruksie wat die appellant
voorstaan, skep wesenlike probleme. Hoewel ver in die minderheid, was daar tog
diegene wat die
bedrae wat hulle ontvang het met rente en koste terugbetaal en
hulle aandele terug ontvang het. Dit rym hoegenaamd nie met `n verkoping
aan die
respondent nie. Nog minder rym die verpligting wat klousule 7 die respondent
oplê om die aandele vir die duur van
die ooreenkoms in veilige bewaring te
hou daarmee. Die enigste denkbare konstruksie, indien daar wel sprake is van
verkopings aan
die respondent, is dat dit voorwaardelik moes gewees het in die
sin dat dit afhanklik was van die leners se versuim om die bedrae
wat hulle
ontvang het met rente en koste terug te betaal. Selfs voorwaardelike verkopings
rym egter nie met die respondent se verpligting
onder klousule 12.1.4 om enige
oorskot na verkoping van die aandele deur IDE “ten behoewe van die
lener[s]” in `n rentedraende bankrekening in te betaal, of met
laasgenoemde se reg om die oorskot op te eis nie. Die mandaat aan IDE kan nie
eenvoudig weggedink word nie. Dit is opvallend dat die verkoping van die aandele
deur IDE in opdrag van `n lener sou geskied, en dat dit eers sou gebeur
nadat laasgenoemde versuim het om die verskuldigde bedrag terug te betaal. Wat
gevolglik
voorsien is, is `n situasie waarin die lener se mandaat na sy
versuim nog staande sou bly en uitgevoer word. Ook dit is nouliks versoenbaar
met `n verkoping vroeër aan
die respondent. Myns insiens laat die regte en
verpligtinge wat die ooreenkomste aan die respondent sowel as aan die leners
verleen
het geen ruimte vir `n gevolgtrekking dat die ware bedoeling van die
partye was om die aandele, hetsy voorwaardelik of andersins,
aan die respondent
te verkoop nie.
[10] My gevolgtrekking is derhalwe dat dit nie
bevind kan word dat die leningsooreenkomste verbloemde koopkontrakte was nie en
dat die
respondent strydig met art 3(2) opgetree het nie. Die advokate was dit
eens dat, in die afwesigheid van `n bevinding dat art 3(2)
oortree is, `n
bevinding dat art 39 oortree is ook nie geregverdig is
nie.
[11] Die appellant appelleer ook teen die kostebevel wat teen
hom verleen is. Die betoog in hierdie verband was dat die appellant `n openbare
amptenaar is wat in die uitvoering van sy ampspligte opgetree het deur die
aansoek teen die respondent te loods. Dit is bekend dat
nadelige kostebevele
gewoonweg nie in sulke gevalle gemaak word nie. Southwood R het die argumente
teen die toestaan van so `n bevel
egter deeglik in sy uitspraak oorweeg en tot
die slotsom gekom dat gegronde redes bestaan het waarom die appellant beveel
moes word
om die respondent se koste te betaal. Ek is nie oortuig dat die
geleerde regter sy diskresie verkeerdelik uitgeoefen het nie.
[12] Om hierdie redes word die appèl van die hand gewys met
koste.
JJF HEFER
Waarnemende Hoofregter
Stem saam:
Scott AR
Cameron AR
Mthiyane
AR
Nugent WndeAR