South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1995 >>
[1995] ZASCA 152
| Noteup
| LawCite
Isaacs v Minister van Wet en Orde (188/94) [1995] ZASCA 152; [1996] 1 All SA 343 (A); (29 November 1995)
Download original files |
Saak Nr 188/94
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
ROBERT
ISAACS Appellant
en
DIE MINISTER VAN WET EN
ORDE Respondent
CORAM: E M GROSSKOPF, STEYN, HARMS, OLIVIER, ARR
et SCOTT Wnd AR
DATUM VAN VERHOOR: 17 November 1995 DATUM GELEWER: 29 November 1995
UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR
2
Die appellant het die respondent in die
Oos-
Kaapse Afdeling gedagvaar vir genoegdoening weens beweerde kwaadwillige of, in die alternatief, wederregtelike, inhegtenisneming en aanhouding, asook weens beweerde kwaadwillige vervolging. Hy het geslaag slegs in sy eis gegrond op wederregtelike inhegtenisneming en aanhouding. Die hof a quo (Erasmus R) het 'n bedrag van R5000 as genoegdoening bepaal. Die appellant kom nou in hoër beroep teen hierdie uitspraak met verlof van die verhoorhof. Voordat ek die aard van die geskilpunte op appèl behandel is dit nodig om die relevante feite kortliks uiteen te sit.
Die appellant is 'n 48-jarige man woonagtig op Steynsburg. Hy is 'n ongekwalifiseerde elektrisiën maar was in 1988 werkloos. Hy was die eienaar van 'n geel bakkie met 'n wit kap wat hy as 'n huurmotor aangewend het. Daarbenewens het hy skape by 'n plaaslike boer gekoop en by sy huis vleis verkoop. Hy is getroud, die
3
vader van vyf kinders, en 'n lidmaat van die N G Kerk.
Op
Steynsburg was daar 'n konst Marais van die S A Polisie, Die appellant het
Marais geken as 'n persoon wat vis verkoop, maar verder
het hulle niks met
mekaar te doen gehad voor die gebeure wat tans ter sake is nie.
Vroeg in 1988 het Marais 'n swaksinnige jong man wat vir die appellant los werkies gedoen het, by die polisiekantoor ondervra oor die appellant se bedrywighede as vleisverkoper. Die appellant en sy vrou was vies hieroor, en het Marais gaan roskam oor sy optrede. Humeure het opgevlam, en by hul vertrek het Marais gedreig dat hy nog sou bewys dat die appellant skape steel. Volgens Marais se getuienis het hy op daardie tydstip nog geen inligting gehad wat daarop gedui het dat die appellant moontlik betrokke kon wees by veediefstal nie, behalwe, vermoedelik, dat hy wel skaapvleis by sy huis verkoop het.
4 Op 17 Februarie 1988 het Marais inligting ontvang
van 'n beriggewer oor veediefstal in die
distrik. Die
beriggewer het verskeie name genoem van persone
wat
daaraan deelgeneem het. Onder hulle was Geelbooi
Mguzulwa en Richard Klaas. Die beriggewer het genoem
dat 'n geel bakkie met 'n wit kap ook by die diefstalle
betrokke was.
Marais het hierdie inligting opgevolg. Onder meer
het hy 'n verklaring geneem van Klaas. Klaas het vertel
hoe hy, Geelbooi en ander persone skape gesteel het.
Gedurende die middel van 1986 was daar 'n insident toe
hy, Geelbooi en 'n sekere Ellie in Geelbooi se bakkie
gery het en 'n geel bakkie met 'n wit kap langs die pad
gesien het. Hulle het gestop en vir die bestuurder van
die bakkie gevra wat makeer. Die bestuurder het gesê
niks - hy het gedink die aankomelinge was ene "baas
Doppie". Die verklaring gaan dan voort:
"Die skaap was op hierdie stadium reeds bymekaar gemaak ...Geelbooi het toe vir K/man Jan Kwak
5
gevra hoeveel hy wil hê, hy het gesê dat hy net 2 wil hê want hy het net R240 by hom. Ons het toe die 2 skaap op Jan Kwak se bakkie gelaai en 8 skaap op Geelbooi se bakkie.... Die twee voertuie het toe weer weggery in die rigting van die teerpad."
Hoewel die
verklaring eers praat van die bestuurder van die bakkie en daarna van Jan Kwak,
is dit duidelik dat dieselfde persoon bedoel
was. En dit is gemene saak dat Jan
Kwak die appellant se bynaam is.
Op Saterdag 20 Februarie 1988 was
die appellant in die dorp. Dit was ongeveer 9 vm. Twee speurders het hom
genader. Hulle het hom
gevra of hy Jan Kwak is. Hy het dit bevestig. Hulle het
hom gevra om voor hulle uit te ry na die aanklagkantoor. Daar aangekom het
die
twee speurders en Marais hom geneem na 'n kamer waarin daar 'n man was. Dit was
Geelbooi. Die polisie-beamptes het die appellant
gevra of hy die man ken. Die
appellant het geantwoord dat hy nie eintlik die man ken nie maar dat hy hom
eenkeer op die grondpad
van De Dam gesien het. Dit is nie nodig om die appellant
se weergawe van
6
hierdie ontmoeting te herhaal nie. Dit is voldoende om
te
sê dat, volgens die appellant, daar geen transaksie m b t skape
plaasgevind het nie. Een van die speurders het vir die appellant
gesê dat
Geelbooi beweer dat hy twee skape aan die appellant verkoop het vir R120 elk.
Die appellant het dit ontken, en gesê
dat hy skape by 'n mnr Du Plessis
koop teen R50 stuk. Hy sou dus nie so veel as R120 betaal nie. Hy het gesê
dat hulle dit
by Du Plessis kon bevestig, en hulle Du Plessis se telefoonnommer
gegee. Een van die polisie-beamptes het gesê dat die man
die waarheid
praat, en hulle is terug na die aanklagkantoor. Die appellant het gedink hy kon
huis toe gaan, maar Marais het gesê
hy moes daar wag. Marais is toe weg
sodat Klaas en 'n ander verdagte uitwysings kon maak van relevante
punte.
Intussen het die appellant in die aanklagkantoor gebly. Teen die aand het
hy twee polisievroue wat daar aan diens was, gevra of hy
huis toe kon gaan om te
eet.
7 Hulle het by die adjudant navraag gedoen. Hy het
gesê
die appellant moes nog wag. Later het sy familie vir
hom kos gebring.
Om 1.40 die volgende oggend het Marais teruggekeer. Hy het opdrag gegee dat hulle die appellant moes aanhou. Die appellant is na die polisie-selle geneem. Dieselfde middag het Marais hom weer laat kom en sekere inligting van hom verkry. Marais het gesê dat hy hom aankla. Die appellant is teruggeneem na die selle toe. Die volgende oggend (22 Februarie) het hy en drie ander persone voor die landdros verskyn op 'n aanklag van diefstal van 67 skape van ene Keefe. Die beskuldigdes is nie gevra om te pleit nie, en die saak is uitgestel vir verdere ondersoek tot 29 Februarie.
Om redes wat later sal blyk is dit nie nodig om die gebeure ná 22 Februarie volledig uiteen te sit nie. Die appellant is eers op 16 Augustus 1988 vrygelaat op borg. Na 'n deurmekaarspul tussen die polisie en die
8
aanklaers is alle klagtes teen hom uiteindelik
teruggetrek.
Die respondent het die appellant se aanhouding
deur die polisie probeer regverdig met verwysing na art
40 (1) (b) van die Strafproseswet, 51 van 1977.
Hierdie
bepaling lui soos volg:
"(1) 'n Vredesbeampte kan iemand sonder lasbrief in hegtenis neem -
(b) wat hy redelikerwys verdink dat hy 'n in Bylae I bedoelde misdryf gepleeg het ...".
Diefstal verskyn in Bylae I. Die verhoorhof het
egter bevind dat Marais die appellant nie
"redelikerwys" verdink het nie, en dat die artikel dus
geen regverdiging vir die arrestasie an aanhouding
gebied het nie. Die hof se redes was kortliks soos
volg. Die inligting van die beriggewer was vaag. Dit
het nie aangedui wie die bestuurder van die bakkie was
nie nóg hoe dié persoon by die veediefstal betrokke
was. Marais het nie eers geweet in watter dorp die
9
bakkie geregistreer was nie. Hy het slegs geweet
dat
die enigste geel bakkie met 'n wit kap in Steynsburg aan die
appellant behoort het. Blykbaar het die beriggewer nie gesê wanneer
die
veediefstalle sou plaasgevind het nie.
Wat Klaas se verklaring betref, was daar eerstens geen direkte bewering dat die appellant geweet het dat hy gesteelde skape koop nie. Die transaksie het gedurende die dag op 'n openbare pad plaasgevind. Die appellant en Geelbooi het mekaar oënskynlik toevallig ontmoet. Marais se inligting omtrent datums het nie gerym nie. Klaas beweer dat die diefstal op 'n plaas Hillmoor gedurende die middel van 1986 plaasgevind het. Mnr Dell, die eienaar van Hillmoor, het egter by die polisie gekla oor veediefstalle in 1987. Dit was onseker of die beriggewer en Klaas van hierdie diefstalle gepraat het.
Volgens Klaas het die appellant R240 vir die twee
10 skape
betaal. Die appellant het egter vir Marais vertel
dat hy nooit soveel soos R120 per skaap sou betaal
nie
aangesien hy skape by Du Plessis kon kry teen R50
stuk.
Dit behoort Marais tot versigtigheid te gestem het:
die
koop van gesteelde goedere word normaalweg gekenmerk
deur pryse laer as die markprys. Daarbenewens was die
beriggewer en Geelbooi op die oog af nie betroubare
getuies nie.
Weens hierdie onsekerhede en teenstrydighede behoort Marais, volgens die verhoorhof, verder ondersoek in te gestel het voordat hy die appellant redelikerwys van veediefstal kon verdink. Aangesien daar geen rede was om te vermoed dat die appellant sou probeer ontvlug nie was daar geen haas om hom in hegtenis te neem nie.
As gevolg van al hierdie omstandighede het die verhoorhof dan bevind dat art 40 (1) (b) van die Strafproseswet nie in hierdie geval van toepassing was
11
nie, en dat die appellant se arres dus onregmatig
was. Daar is geen appèl teen hierdie bevinding nie.
Mnr
Eksteen, wat namens die appellant verskyn het, het egter betoog dat die
verhoorhof in verskeie opsigte verder behoort te gegaan
het. Eerstens
argumenteer hy dat die verhoorhof behoort te bevind het dat Marais animo
iniuriandi in die volle sin van die begrip,
d w s, met
wederregtelikheidsbewussyn, opgetree het met die appellant se inhegtenisneming
en vervolging sien Minister of Justice
v Hofmeyr [1993] ZASCA 40; 1993 (3) SA 131 (A) op bl
154C-157F. Die aanwesigheid van wederregtelikheidsbewussyn is nie 'n
noodsaaklike element vir 'n eis weens onregmatige
vryheidsberowing nie (ibid)
maar mnr Eksteen het betoog dat dit die bedrag van genoegdoening sou
beïnvloed. Wederregtelikheidsbewussyn
is wel nodig vir die eis weens
kwaadwillige vervolging (Todt v Ipser 1993 (3) SA 577 (A) op bl 586F-G; Moaki v
Reckitt and Colman
12 (Africa) Ltd and Another 1968 (3) SA 98 (A) op bl 103D-
104D; Neethling, Potgieter en Visser Deliktereg 2 uitg
(1992) 343 en gewysdes daar aangehaal.)
Mnr Eksteen het
betoog dat wederregtelikheidsbewussyn afgelei kan word van die feite. Die
enigste relevante feite is dié t
o v die appellant se inhegtenisneming en
t o v Marais se uitlatings 'n paar weke vantevore toe hy en die appellant 'n
rusie gehad
het oor die ondervraging van hul helper.
Die redes vir die inhegtenisneming regverdig m i nie die afleiding dat Marais met wederregtelikheidsbewussyn opgetree het nie. Ek het reeds die swakhede in hierdie redes aangedui. Ten gunste van Marais se besluit kan die volgende gesê word. Die appellant is 'n kleinhandelverkoper van vleis vanuit sy woonhuis. Hy koop blykbaar nie vleis by enige groothandelaar of slagpale nie, maar direk van die
13
produsent. Hoewel dit waar mag wees dat hy wettiglik by
mnr Du Plessis koop, is hy in 'n posisie om ook met gesteelde skape te handel. Daar is net een geel bakkie met 'n wit kap in Steynsburg, en dit is onwaarskynlik dat daar baie van hulle in die omliggende distrikte is. Waar die beriggewer dus vertel het dat 'n geel bakkie met 'n wit kap betrokke was, moes daar 'n redelike sterk kans gewees het dat hy van die appellant se bakkie gepraat het, veral waar Klaas ook na die appellant en sy bakkie verwys het.
Die insident met Geelbooi waarvan Klaas in sy verklaring praat het sekere
onskuldige aspekte, soos die verhoorhof uitgewys het. Nogtans,
as Klaas se
storie waar was, moes dit minstens agterdogwekkend vir die appellant voorgekom
het dat iemand soos Geelbooi langs die
pad in die veld (soos blyk uit die fotos
wat Marais van Klaas se uitwysings laat neem het) op iemand anders se plaas tien
skape bymekaar
gehad het, waarvan
14 hy twee aan die appellant
verkoop het en ag in sy eie
bakkie gelaai het.
Daar moet onthou word dat art 40 (l)(b) slegs 'n
redelike verdenking vereis. Soos dit gestel is in
Shaaban Bin Hussien and Others v Chong Fook Kam and
Another
[1969] 3 All ER 1626 (PC) op bl 1630C in 'n
passasie wat al verskeie kere in hierdie hof aangehaal
is (sien Duncan v Minister of Law and Order 1986 (2) SA
805 (A) op bl 8191-J; Minister of Law and Order v Kader
1991 (1) SA 41 (A) op bl 50H-I):
"Suspicion in its ordinary meaning is a state of conjecture or surmise where proof is lacking; 'I suspect but I cannot prove'. Suspicion arises at or near the starting point of an investigation of which the obtaining of prima facie proof is the end".
Die inligting wat Marais tot sy beskikking gehad het
was myns insiens nie so onbeduidend dat dit 'n
afleiding regverdig dat Marais nie te goeder trou die
appellant van veediefstal kon verdink het nie.
Die relletjie oor die appellant se helper kan ook
15 m i nie
veel gewig dra nie. Dat Marais in die hitte van
die oomblik die voorneme uitgespreek het om die
appellant se skuld aan veediefstal te bewys toon nog
nie dat hy enigiets onbehoorliks beoog het nie.
Ek meen dus nie dat die appellant daarin geslaag
het om wederregtelikheidsbewussyn aan die kant van
Marais te bewys nie.
'n Tweede opsig waarin die appellant die
verhoorhof se uitspraak aanveg het te doen met die
tydperk van die appellant se onregmatige aanhouding.
Die verhoorhof het bevind dat dit begin het in die
vroeë oggendure van 21 Februarie 1988 toe Marais hom na
die selle laat neem het en dat dit gestrek het tot sy
verskyning in die hof op 22 Februarie 1988. Mnr Eksteen
betoog dat dit vroeër begin het en langer aangehou het.
Ek behandel eers die tyd van aanvang. In die
besonderhede van vordering beweer die appellant dat hy
om ongeveer 9 vm op 20 Februarie 1988 in hegtenis
16
geneem is. Die woord "arrested" word gebruik.
Die
omstandighede van die appellant se aanhouding is volledig in die
getuienis uitgepluis. Die vraag is of clit 'n aanvang geneem het
voordat Marais
vroeg die oggend van 21 Februarie teruggekom het. Die hof a quo het geen redes
vir sy bevinding in hierdie verband
verstrek nie, en het blykbaar veronderstel
dat die appellant se onregmatige aanhouding begin het eers toe hy formeel in
hegtenis
geneem is.
Ek het die getuienis hierbo opgesom. Daarvolgens blyk dit dat die appellant aanvanklik aangesê is om na die polisiekantoor te gaan. Die doel was klaarblyklik om hom te ondervra. Op die oog af was dit nie onbillik van die betrokke polisie-amptenare om dit van hom te verwag nie. Wat sou gebeur het as die appellant geweier het is nie in die getuienis ondersoek nie. Besmoontlik sou die polisie-amptenare hom laat loop het totdat hulle verdere opdragte ontvang het. Ek dink nie dit is
17
'n geregverdigde afleiding dat hierdie opdrag op
'n
vorm van vryheidsberowing neergekom het nie.
Die opdrag aan hom om in die polisiekantoor
vir
Marais te wag is egter anders. Toe hierdie opdrag
gegee
is het die polisie klaar die appellant ondervra.
Geen
rede is gegee waarom sy verdere aanwesigheid vereis
was
nie. Vermoedelik wou Marais hom daar beskikbaar
hê
indien hy na sy inspeksie besluit het om hom formeel
in
hegtenis te neem. Die appellant se versoeke
om
toegelaat te word om huis toe gaan is geweier. Dit
is
'n geregverdigde afleiding dat indien hy
probeer
wegloop het, hy verhinder sou gewees het, desnoods
met
geweld. Ek meen dat hy toe reeds van sy vryheid
beroof
was. Ek dink nie dat vir huidige doeleindes 'n
tegniese
betekenis aan die woord "arrested" in die
besonderhede
van vordering geheg moet word nie, maar dit is
nogtans
insiggewend dat die appellant waarskynlik wel toe
reeds
selfs in 'n tegniese sin onder arres was. In R v
Mazema
18
1948 (2) SA 152 op bl 154 word gesê
"A person is under arrest as soon as the police assume control over his movements."
Hierdie dictum is goedgekeur en toegepas in
State
President and Others v Tsenoli 1986 (4) SA 1150 (A)
op
bl 1186C-D.
Die volgende vraag is dan wanneer die appellant se
onregmatige aanhouding tot 'n einde gekom het. Die
verhoorhof het bevind dat die onregmatigheid van die
appellant se aanhouding net geduur het tot sy
verskyning voor die landdroshof op 22 Februarie. Daarna
waa hy aangehou kragtens 'n regmatige bevel wat deur
die hof uitgereik was. Hierdie bevinding is voor ons
aangeveg. Mnr Eksteen se argument was dat as die
appellant se arres onregmatig was, was alle stappe wat
daarop gevolg het, ook onregmatig. Volgens hierdie
betoog was die enigste vraag dus een van veroorsaking -
was die appellant se arres die oorsaak van sy
aanhouding totdat hy in Augustus op borg vrygelaat is?
19
Mnr Eksteen het betoog dat hierdie vraag bevestigend
beantwoord moet word.
Die wesentlike vraag vir beslissing is dus of die
appellant se onregmatige inhegtenisneming die gevolg
gehad het dat sy aanhouding ingevolge die landdros se
bevel van 22 Februarie ook onregmatig was. Die
prosedure na inhegtenisneming word uiteengesit in art
50 van die Strafproseswet. Veral sub-artikel (1) is van
belang. Insoverre ter sake lui dit soos volg:
"Iemand wat met of sonder lasbrief in hegtenis geneem is, word so gou moontlik na ' n polisiekantoor geneem ... en, as hy nie vrygelaat word omrede geen aanklag teen hom ingebring gaan word nie, word hy aangehou vir 'n tydperk van hoogstens agt-en-veertig uur tensy hy voor 'n laer hof gebring word, en sy verdere aanhouding vir die doeleindes van sy verhoor deur die hof op 'n aanklag van enige misdryf gelas word ...".
Ingevolge verdere bepalings van die artikel mag die
tydperk van agt-en-veertig uur onder sekere
omstandighede oorskry word.
Die funksie van hierdie bepaling is oorweeg in
20
Minister of Law and Order v Kader (supra). Dit
is
tweërlei, hoewel daar 'n mate van oorvleueling is. Eerstens
vereis die artikel dat 'n gearresteerde persoon binne 'n kort tydperk
voor die
hof gebring word. Hierdeur word heimlike en onreëlmatige inhegtenisnemings
en aanhoudings ontmoedig. Die gearresteerde
persoon word 'n geleentheid gegee om
in die openbaar die wyse en omstandighede van sy inhegtenisneming te
bevraagteken, en om aansoek
te doen om op borg of waarskuwing vrygelaat te word
(ibid, bl 49F-G). Hoe die hof in so 'n geval sal reageer sal natuurlik afhang
van die aard van die gearresteerde se versoek of klagte. 'n Klagte dat hy deur
die polisie aangerand was sal vermoedelik administratief
behandel word, terwyl '
n aansoek om borg ' n beroep op die uitoefening van die hof se gewone regterlike
funksies uitmaak.
Tweedens magtig die artikel die hof om die verdere
21
aanhouding van die gearresteerde vir die doeleindes van
sy verhoor op 'n aanklag van 'nmisdryf te gelas (ibid,
bl
49H). By die uitoefening van hierdie bevoegdheid kan
die hof gevra
word om verskillende sake te oorweeg, bv,
of dit hoegenaamd nodig is
dat die gearresteerde
aangehou word eerder as om op borg of waarskuwing
vrygelaat te word. 'n Aangeklaagde kan ook betwis dat
daar voldoende getuienis teen hom is om sy verdere
aanhouding te regverdig. Ek sou nie graag 'n algemene
formule wou neerlê oor hoe die hof so 'n dispuut moet
hanteer nie. Dit sal afhang van omstandighede. In die
meeste gevalle sou dit waarskynlik genoeg wees om die
aanklaer te vra, in sodanige besonderheid as wat nodig
mag wees, watter inligting in die vervolging se besit
is, en na aanleiding van die aanklaer se antwoord te
besluit of die beskuldigde se verdere aanhouding gelas
moet word. In ander gevalle mag dit nodig wees om
verder te gaan. Hoe dit ook al sy, dit is belangrik om
22
te beklemtoon dat die besluit wat die hof moet
neem is
of die beskuldigde se verdere aanhouding gelas moet word.
Vir doeleindes van hierdie besluit is dit in beginsel nie ter sake of die
beskuldigde se aanvanklike arrestasie geregverdig was nie, Natuurlik, as daar
onvoldoende gronde was om hom in hegtenis te neem,
sal daar dikwels ook
onvoldoende gronde wees om sy verdere aanhouding te gelas, maar dit is nie
noodwendig so nie. Nuwe getuienis
mag sedert die inhegtenisneming beskikbaar
geword het.
Mnr Eksteen se argument is dan ook nie dat die funksie wat 'n hof ingevolge art 50 van die Wet vervul dit vir hom nodig maak om 'n beslissing te vel oor die regmatigheid van die beskuldigde se inhegtenisneming nie. Sy betoog is 'n jurisdiksionele een. Dit lui soos volg. Art 50(1) geld alleen t o v iemand wat "in hegtenis geneem" is. Hierdeur word bedoel 'n regsgeldige inhegtenisneming. Waar daar geen geldige
23
inhegtenisneming was nie, kan art 50(1) nie toegepas
word
nie. Die verdere aanhouding en alles wat daarop volg is dan net so ongeldig as
die oorspronklike gepoogde inhegtenisneming.
Bloot teoreties beskou is hierdie argument heeltemal aantreklik maar as 'n mens na die praktiese uitwerking daarvan kyk kan dit nie reg wees nie. Soos reeds gesê, die artikel beoog onder meer om onreëlmatige vorms van vryheidsberowing teen te werk. Dit behels juis dat ook persone wat nie regsgeldig in hegtenis geneem is nie, voor 'n hof gebring moet word sodat hulle hul griewe in die openbaar kan lug en hul vrylating kan probeer bewerkstellig. Indien die artikel vertolk word om net te slaan op persone wat regmatiglik onder arres verkeer, sal hierdie funksie van die artikel grootliks verydel word. Dit sou dan beteken dat 'n persoon wat 'n regmatige arres uitgevoer het, verplig is om die gearresteerde binne die vasgestelde
24
tyd voor 'n hof te bring terwyl 'n persoon wat geen
gronde
gehad het om iemand te arresteer nie, vrygestel word van hierdie
verpligting.
Daarbenewens sou hierdie voorgestelde
vertolking
inhou dat 'n beskuldigde wat op onregmatige wyse
in
hegtenis geneem is, in enige stadium van
die
verrigtinge teen hom kan staatmaak op die
ongeldigheid
van alles wat op die inhegtenisneming gevolg het.
Dit
sou gevolglik moontlik wees vir 'n beskuldigde om by
sy
verhoor, of op hersiening na sy skuldigbevinding,
die
geldigheid van die verrigtinge aan te val op grond
van
'nbeweerde onreëlmatigheid by sy inhegtenisneming.
En
indien sy arrestasie inderdaad onregmatig was, sou
die
proses van voor af moet begin. Selfs
'n
skuldigbevinding sou tersyde gestel moes word. Ek
kan
my nie voorstel dat dit ooit die bedoeling van
die
wetgewer kon gewees het om so 'n resultaat
te
bewerkstellig nie.
25
In die praktyk is die artikel ook nie so toegepas
nie. Indien die argument korrek waa, sou 'n mens verwag het dat ons strafhowe dikwels sou moes uitspraak gee oor die geldigheid van 'n inhegtenisneming ten einde te bepaal of die hof voor wie die beskuldigde verskyn, of reeds verskyn het, regsbevoegdheid het of gehad het om hom te verhoor. Geen voorbeeld van so 'n saak is aan ons voorgelê nie, en ek weet van geen nie.
Een aspek van hierdie probleem wat wel voor ons howe gedien het is die vraag of 'n beskuldigde wat oor die landsgrense na Suid-Afrika vervoer is, hier verhoor mag word. Sien Abrahams v Minister of Justice and Others 1963 (4) SA 542 (K) en S v Ebrahim [1991] ZASCA 3; 1991 (2) SA 553 (A) . Die vroeëre gewysde het beslis dat dit nie saak maak hoe 'n beskuldigde voor die hof kom nie. As die hof andersins bevoeg is, kan hy die saak verhoor. In Ebrahim se saak het hierdie hof egter tot die teendeel bevind ooreenkomstig 'n gemeenregtelike
26
beginsel dat 'n hof geen regsbevoegdheid het om 'n
persoon te
verhoor wat uit 'n ander jurisdiksie ontvoer
is deur werktuie van die staatsgesag wat bewind voer in
die regsgebied van so 'n hof nie (op cit, bl 579F-G;
582B) . Waar 'n persoon nie so ontvoer is nie, sou
Ebrahim se saak nie van toepassing wees nie, en sou die
algemene reël wat in Abrahams se saak (supra)
geformuleer is op bl 545 G-H geld, t w,
"... once there is a lawful detention, the circumstances of the arrest and capture are irrelevant."
Deur "lawful detention" bedoel die hof klaarblyklik
aanhouding ingevolge 'n landdroshofbevel, afgesien
daarvan of die inhegtenisneming regmatig was (sien bl
545G).
Ek meen dus dat waar art 50(1) praat van iemand
wat "in hegtenis geneem" is, dit nie beperk is tot 'n
regmatige inhegtenisneming nie. Dit sluit iemand in
wat, in 'n gepoogde uitoefening van arrestasie-
27
bevoegdhede, onder die arresteerder se beheer gebring
is. Dit
volg dat die aanval op die landdros se regsbevoegdheid in die onderhawige geval
ongegrond is en dat die bevel vir die verdere
aanhouding van die appellant binne
sy regsbevoegdheid geval het en geldig was. Die blote feit dat die appellant se
inhegtenisneming
onregmatig was, kan nie daaraan afdoen nie. Die beslissing van
die hof a quo in hierdie verband was dus korrek. Die saak van Mthimkhulu
and
Another v Minister of Law and Order 1993 (3) SA 432 (E), waar 'n teenstrydige
houding ingeneem word (op bl 438 C-F), was m i tot daardie mate verkeerd
beslis.
Ons is ook na 'n aantal ander beslissings verwys. In nie een van hulle is die vraag wat ek hierbo bespreek het, pertinent behandel nie. Insoverre as daar dicta in sommige sake voor provinsiale of plaaslike afdelings mag wees wat teenstrydig is met wat ek hierbo gesê het, stem ek nie daarmee saam nie. Mat beslissings
28
van die appèlhof betref, het Minister of Law and
Order,
Kwandebele, and Others v Mathebe and Another 1990 (1) SA 114
(A) nie te doen gehad met die vertolking en toepassing van die Strafprosesreg
nie, maar van noodregulasies, waar 'n verskillende
bewoording en ander beginsels
van toepassing is (ibid bl 122 E-G). Minister of Law and Order v Thandani [1991] ZASCA 123; 1991
(4) SA 862 (A) was weer 'n geval van ontvoering oor landsgrense. Soos reeds
gemeld is ander oorwegings daar ter sprake. In elk geval meen ek
nie dat die
beslissing in daardie saak enigsins teenstrydig is met wat ek hierin bevind het
nie.
Die eindresultaat is dat die appellant slaag in net een van sy argumente, nl, dat sy onregmatige aanhouding vroeër 'n aanvang geneem het as bevind was deur die verhoorhof. Die bedrag van R5000 wat as genoegdoening bepaal is deur die verhoorhof berus op die verkeerde veronderstelling dat die appellant eers
29 in die vroeë ure van Sondagoggend van sy vryheid beroof
was. Inderdaad was dit een of ander tyd gedurende
Saterdagoggend. Ek meen dat die appellant geregtig is
op 'n
verhoging van die bedrag van genoegdoening om
voorsiening te maak
vir die werklike feite. Natuurlik
kan 'n mens nie die bedrag aanpas
op 'n meganiese pro
rata tydsbasis nie. Die genoegdoening dien as 'n
solatium vir die appellant se gekrenkte gevoelens. Sy
ernstigste vernedering was om in die selle gestop en
daar gehou te word totdat hy voor die landdros verskyn
het. Om in die aanklagkantoor te wag, al is dit ure
lank, is 'n mindere aantasting van sy
persoonlikheidsregte. Nogtans kan dit nie buite
rekening gelaat word nie. Ek meen dat die bedrag
vermeerder moet word na R6000.
Die laaste vraag wat ontstaan is watter kostebevel
gemaak moet word. Die appellant se hoofbetoë was dat
Marais met wederregtelikheidsbewussyn opgetree het en,
30
in elk geval, dat die appellant se onregmatige
aanhouding
voortgeduur het totdat hy op borg vrygelaat was in Augustus. Hierdie betoë
het misluk. Aan die ander kant het die
appellant 'n mate van sukses gehad. Die
bedrag van genoegdoening is met twintig persent verhoog. Dit was vir hom nodig
om na hierdie
hof te kom om hierdie verhoging te bewerkstellig. Die respondent
het geen aanbod gemaak wat hom teen 'n kostebevel kon vrywaar nie
(sien
Griffiths v Mutual & Federal Insurance Co Ltd [1993] ZASCA 121; 1994 (1) SA 535 (A) op bl 549
D-E). Onder hierdie omstandighede meen ek dat daar 'n verdeling van die koste
behoort te wees. sien Community Development
Board v Mahomed and Others NNO 1987
(2) SA 899 (A) op bl 919F-920A; Protea Assurance Co Ltd v Matinise 1978 (1) SA
963 (A) op bl 978A-B. Myns insiens sou dit billik wees as elke party sy eie
appèlkoste dra.
Bygevolg word die appèl gehandhaaf. Elke party sal
31
sy eie koste van appél dra, insluitende die koste
van
die aansoek om verlof om te appelleer. Die hof a quo se bevel
word gewysig deur die bedrag van R5000 in paragraaf (a) te vervang met
R6000.
E M GROSSKOPF, AR
STEYN, AR HARMS, AR OLIVIER, AR SCOTT, AR Stem saam