South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1994 >>
[1994] ZASCA 27
| Noteup
| LawCite
S v Malete and Another (490/92) [1994] ZASCA 27 (24 March 1994)
Download original files |
Saaknommer 490/92
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING
In die saak tussen:
BEN JACOB MALETE 1ste Appellant
LEBOHANG BENJAMIN KOESHE 2de Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: NESTADT, NIENABER ARR et MAHOMED Wn AR
VERHOOR: 18 MAART 1994 GELEWER: 24 MAART 1994
UITSPRAAK
/NIENABER AR
2 NIENABER AR:
Die twee appellante, indertyd onderskeidelik 23 en 29 jaar oud, is in die Oranje Vrystaatse Provinsiale Afdeling deur Beckley R en twee assessore aan moord en brandstigting skuldig bevind en tot 15 jaar gevangenisstraf vir die moord en een jaar gevangenisstraf vir die brandstigting, samelopend, gevonnis. Met verlof van die hof a quo word daar tans teen die skuldigbevindings op beide klagtes en die vonnis op die moordklag geappelleer.
Die oorledene, 'n 33-jarige swartman is as 't ware tereggestel. Hy is
deur die appellante daarvan verdink, so word deur die verhoorhof
bevind, dat hy
'n 18-jarige meisie, Synthia Koeshe, op 28 Oktober 1991 te Dingaanstraat,
Botshabelo, in die distrik van Bloemfontein,
verkrag en vermoor het. Hy was wel
deur die polisie daaroor ondervra maar niemand was nog vir die moord op Synthia
Koeshe in hegtenis
geneem nie. Synthia Koeshe was 'n niggie van die twee
appellante. Haar lyk is in 'n kamer in die agterplaas van 'n huis in
Dingaanstraat,
Botshabelo, gevind. Daardie huis is deur die susters, Miriam Sout
en Eva
3 Sout, bewoon. Die oorledene was familie van hulle.
Vroeër was
hy ook daar woonagtig.
Die aand van die llde November 1991, 'n dag na Synthia se
begrafnis, was daar 'n optog na hul huis. Eva en Miriam Sout was
reeds bed toe. Hulle het stemme buite die huis gehoor.
Kort
daarna het Eva Sout 'n vensterruit hoor breek. Toe hulle
besluit
om op die vlug te slaan, merk hulle dat die voordeur van die huis
aan die brand is. So ook die tapyt in die gang en kombuis asook
die agterdeur. Mense het die huis ingestroom. Volgens Eva Sout
was daar op 'n slag sowat 40 mense in die huis, almal mans.
Onder hulle was appellant 1 vir wie sy as Ben geken het. Hy was
die segsman van die groep. Hy het vir hulle gesê: "Haal hom
uit." Toe Miriam vra wie hulle moet uithaal, het hy geantwoord:
"...jy maak asof jy nie weet nie, jy vra nog. Jy weet dat daardie "Search" verkragting gepleeg het en 'n kind van ons vermoor het."
"Search" was die oorledene se bynaam. Volgens Eva was
appellant 1 met 'n mes gewapen. Miriam het getuig dat sy gehoor
het hoe mense besig was om vensters in die huis te breek en
deure te klap. En sy het 'n stem gehoor wat gesê het,
"Lebohang
4 waarom het jy te min petrol geneem?". Miriam was te
verward om
enigeen te kon identifiseer. Boonop het sy die appellante nie
geken nie. Ofskoon Eva Sout 'n gunstige indruk op die verhoorhof
gemaak het, is daar met omsigtigheid na haar identifikasie van
appellant 1 binne in die huis gekyk. Volgens die verhoorhof was
sy 'n enkel getuie wat in die lawaai, rook, samedromming, harwar
en donkerte wat daar geheers het dalk 'n fout kon gemaak het, al
het sy appellant 1, soos hy geredelik toegegee het, goed geken.
Waaroor daar egter geen twyfel kon wees nie, was die gebeure
onmiddellik daarna. Die huis is deur die invallers deursoek maar
die oorledene was nie daar nie. Die inwoners is uit die huis
verwyder. Buitekant is hulle aangesê om die skare na die
oorledene se woonplek te neem. Om haar ouer suster te spaar, het
Eva Sout, vreesbevange, aangebied om dit te doen. Volgens haar
getuienis het appellant 1 haar aan die een arm en appellant 2 aan
die ander arm beetgehad. Ook appellant 2 was aan haar bekend.
Saam-saam is hulle na die woonplek van haar ander suster, Ruth,
in 'n ander woonbuurt, Phahameng, 'n ent van haar eie huis, waar
die oorledene toe gewoon het. Die res van die groep is
agterna.
5 Dit het hulle sowat 10 minute geneem om by Ruth se huis
uit te
kom. Eva Sout is deur appellant 1 beveel om aan die deur te klop
en haarself te identifiseer. Sy doen dit. Toe Ruth die
deur
oopmaak, is die groep die huis in. Daar tref hulle vir
Jonathan
Sout, 'n neef van Eva Sout, aan. Die oorledene was sy ouer
broer. Albei appellante was aan hom bekend. Albei appellante
was volgens hom met messe of pangas gewapen en was aggressief.
Appellant 2 het vir Jonathan Sout gekonfronteer dat hy weet dat
die oorledene "sy suster" verkrag en vermoor het. Appellant 1
was by. Jonathan Sout het dadelik onraad gemerk. Hy het die
appellante probeer mislei deur aan hulle te vertel dat die
oorledene nie tuis was nie. Appellant 2 het die kers uit sy hand
gegryp. Hy het die kamer waarin die oorledene geslaap het,
binnegegaan. Jonathan Sout het gehoor hy sê: "Hier is hy". Die
oorledene is na buite gesleep.
Nóg Eva Sout nóg Jonathan Sout het gesien wat daarna gebeur
het. Albei is daar weg, terug na Eva Sout se huis, die een per
huurmotor, die ander te voet. Naby Eva Sout se huis, so getuig
elkeen van hulle, het hulle 'n rookwolk gewaar. Later is
die
6 oorledene se lyk daar aangetref. Hy het 'n grusame dood
gesterf.
Blykens die lykskouingsverslag was daar uitgebreide derde, vierde
en vyfdegraadse brandwonde aan sy romp en ledemate. Veelvuldige
wonde te wyte aan sowel stomp- as skerpgeweld is hom
toegedien;
en die tekens van bloed in sy tragea was aanduidend daarvan
dat
hy nog geleef het toe hy die brandwonde opgedoen het. Die
oorsaak van dood is saamgevat as "stompgeweld teen die kop met
terminale verbranding." Agtien wonde is genotuleer. Volgens die
verslag, en blykens die foto's van die lyk, is dit duidelik dat
'n motorband op die liggaam van die oorledene gegooi en aan die
brand gesteek was. Fragmente onverbrande motorband is op die lyk
van die oorledene sigbaar.
Die twee appellante het op vyf klagtes in die Oranje
Vrystaatse Provinsiale Afdeling tereggestaan, nl.
1. Opsetlike saakbeskadiging (die breek van die vensterruite van Miriam Sout se huis te Botshabelo); 2. Brandstigting (met betrekking tot Miriam Sout se huis); 3. Menseroof (deur Eva Sout uit haar huis te neem en onder dwang na 'n ander woonbuurt te vergesel);
7
4. Menseroof (deur die oorledene uit sy woning te sleep
en onder dwang weg te voer);
5. Moord (deur die oorledene dood te maak).
Les bes is die twee appellante slegs op die klagtes van brandstigting en moord skuldig bevind. Die verhoorhof verwerp, om gegronde redes, die afsonderlike alibi's wat elk van die appellante geopper het. Daar is nie betoog dat die verhoorhof in dié opsig fouteer het nie.
Wat die twee klagtes van menseroof betref, een ten opsigte van Eva Sout die ander ten opsigte van die oorledene, bevind die verhoorhof dat enige ontneming van vryheid van beweging so kortstondig was dat nie bewys is dat die appellante werklik bedoel het om die slagoffers hul vryheid van beweging te ontneem nie.
Oor die saakbeskadiging en brandstigting was daar 'n verskil van mening tussen die voorsittende regter en die twee assessore.
Dat enige van die appellante self vensters gebreek of die voordeur aan die brand gesteek het, is volgens die verhoorhof nie bewys nie. Enige skuldigbevinding op dié klagtes moes dus
8
noodwendig op die leerstuk van gemeenskaplike oogmerk
berus.
Bewys van 'n voorafgaande afspraak of van enige optrede wat
op 'n vereenselwiging met hierdie misdade gedui het, het volgens die
verhoorregter
ten opsigte van die saakbeskadiging by albei appellante, en ten
opsigte van die brandstigting by appellant 1 ontbreek. Volgens die
verhoorregter
moes albei appellante dus aan saakbeskadiging en appellant 1 aan brandstigting
onskuldig bevind word. Volgens die assessore,
daarenteen, was albei appellante
aan albei klagtes skuldig: appellant 1 se vereenselwiging met albei misdade kan
daaruit afgelei
word, so is gesê, dat hy die huis te Botshabelo
binnegegaan en die praatwerk gedoen het nadat dit aan die brand gesteek en
die
vensters reeds gebreek is; maar omdat die saakbeskadiging deur die brandstigting
behels word en 'n skuldigbevinding aan albei
klagtes op 'n vermenigvuldiging van
skuldigbevindings sou neerkom, moes appellant 1, volgens hierdie siening, slegs
aan die ernstiger
misdaad, te wete, brandstigting skuldig bevind gewees het. Wat
appellant 2 betref was sowel die verhoorregter as die assessore van
oordeel dat
hy op grond van Miriam Sout se
9 getuienis (dat sy gehoor het iemand
sê: "Lebohang waarom het jy
te min petrol geneem?") aan brandstigting skuldig bevind moes
word.
Na my mening was die verhoorregter wat die eerste appellant
betref reg en wat die tweede appellant betref verkeerd en het die
assessore ten opsigte van albei appellante fouteer. Myns insiens
moes albei appellante op albei klagtes onskuldig bevind gewees
het. Dit is wel so dat albei appellante deel was van die skare
van sowat 40 wat op Miriam Sout se huis toegesak het. Die doel
was klaarblyklik om die oorledene by te kom. Mens kan die
redelike moontlikheid nie uitskakel dat een of meer van die ander
persone in die groep op hul eie, sonder die medewete of
goedkeuring van die appellante, die vensters gebreek en die
voordeur en die tapyt aan die brand gesteek het nie. Die blote
teenwoordigheid van die appellante by die huis, selfs die feit
dat appellant 1 die praatwerk gedoen het, dui nie sonder meer op
hul aandadigheid aan of 'n vereenselwiging met die optrede van
ander persone in die groep nie. Gevolglik is 'n prima facie saak
nie in dié opsig teen die appellante uitgemaak nie. En by
10
ontstentenis van 'n prima facie saak kan die feit dat albei
van
hulle vals alibi's geopper het, nie die staat se saak, wat
andersins tekortskiet, aanvul nie.
Miriam se getuienis dat sy iemand
hoor sê het, "Lebohang waarom het jy te min petrol geneem?", is myns
insiens ook te dubbelsinnig
om appellant 2 met die brandstigting te verbind.
Daar is nie bewys hoe enig in sy soort die naam "Lebohang" is nie: uit 'n skare
van 40 mog daar, vir al wat mens weet, 'n aantal persone met daardie naam wees.
Dat appellant 2 'n bakkie bestuur en dus tot petrol
toegang sou hê, koppel
hom ook nie noodwendig met hierdie opmerking nie. Waarom daar petrol op die
toneel was, weet mens nie.
Een verklaring, bra onwaarskynlik, kon wees om die
oorledene uit die huis te rook indien hy hom daarin sou probeer verskans. Meer
waarskynlik is dat petrol saamgeneem is met die gedagte om die oorledene te
verbrand, soos inderdaad gebeur het. Wat ook al die verklaring,
volg dit nie
noodwendig dat die een of ander van die appellante, ofskoon die voorbokke,
geweet het, of hulle op die een of ander
manier daarmee vereenselwig het, dat
die huis aan die brand gesteek sou
11
word nie. Die brandstigting en die breek van die
vensterruite
was bloot insidenteel. Dit was nie noodsaaklik vir die
bereiking
van die eintlike oogmerk van die appellante nie. Wat
die
brandstigting en saakbeskadiging betref meen ek dus die
appél
behoort te slaag.
Die gedagtegang wat so pas ten opsigte van die mindere klagtes geopper is, geld nie vir die moordklag nie. Mat die moordklag betref was daar weldeeglik 'n prima facie saak teen die appellante. Namens die appellante is tereg toegegee dat albei van hulle by sowel Miriam as Ruth Sout se huise teenwoordlg was. Uit hul eie getuienis is dit duidelik dat hul erg ontstoke was oor Synthia se dood. Die ekspedisie na Niriam se huis het plaasgevind 'n dag na Synthia se begrafnis. Dit kon nie blote toeval wees nie. Uit hul optrede en die opmerkings wat hulle gemaak het, is dit duidelik dat dit hul oogmerk was om Synthia se vermeende verkragting en dood te wreek deur die oorledene leed aan te doen. Daar is geen ander verklaring waarom hulle by Miriam se huis aangedoen het en waarom hulle aangedring het dat Eva Sout hulle na die oorledene se tuiste moes neem nie. Dat
12
hulle na dle oorledene op soek was, kan nie betwyfel word
nie.
Met die oorledene is hulle Ruth se huis uit. Volgens Miriam is
daar gesê dat die oorledene geneem moes word na die plek waar
Synthia
doodgemaak is. Dit dui ook op die samehang wat daar tussen Synthia se moord en
die oorledene se doodslag bestaan het. Inderdaad
is hy ook vanaf Ruth se
woonplek 'n kilometer of wat teruggeneem tot naby Miriam se huis waar die
oorledene se lyk later aangetref
is. Dié verloop van gebeure, waarvan die
aanranding op en die verbranding van die oorledene die finale stap was, dui
daarop
dat dit die bedoeling was om die oorledene vir Synthia dood te laat boet.
By Miriam se huis het beskuldigde 1 gesê dat hulle
na Search op soek is
want hy het hul "suster" verkrag en vermoor. By Ruth se huis het appellant 2
presies dieselfde gesê. Die
twee van hulle lei die optog na Ruth se huis.
Dit geld alles as dade van vereenselwiging met die optrede van die skare om die
oorledene
aan die man te bring. Al het direkte getuienis ontbreek dat die
appellante by die daadwerklike teregstelling van die oorledene aanwesig
was en
daaraan deelgeneem het, is die afleiding dat huile wel daar was,
13
by ontstentenis van weerleggende getuienis en
enige
waarskynlikhede tot die teendeel, onvermydelik. En dit bied
ook die antwoord op die suggestie dat die appellante hulle aan die ekspedisie
sou onttrek het en dat dit bygevolg 'n geval van dissosiasie was, bloot omdat
daar nie getuienis was dat hulle by die plek gewaar
is waar die oorledene
uiteindelik neergevel en verbrand is nie. Kortom, teen beide appellante was daar
onteenseglik 'n prima facie
saak. Daardie prima facie saak, dat hulle direk by
die moord op die oorledene betrokke was, het albei appellante met vals getuienis
probeer weerlê. Dat hulle onwaarhede verkondig het, regverdig die
afleiding dat hulle rede gehad het om die waarheid te verdoesel.
Daardie rede
kon alleen maar wees dat hulle hul inderdaad nooit van die oogmerk gedistansieer
het waarmee die oorledene opgespoor
en uit sy huis verwyder is nie. Die twee
appellante is gevolglik behoorlik op die grondslag van die leerstuk van
gemeenskaplike oogmerk
aan die moord skuldig bevind. Die appèl teen hul
skuldigbevinding op daardie klag moet gevolglik misluk.
Dit bring my by die vonnis van 15 jaar wat vir die moord
14
opgelê is. Aan die een kant is namens die appellante betoog dat
dit 'n buitensporig swaar vonnis is, gedagtig aan
die
omstandighede wat daartoe aanleiding gegee het; aan die
ander
kant is namens die staat betoog dat dit 'n billike vonnis
is,
gedagtig aan die omstandighede waaronder en die wyse waarop
die
oorledene aan sy dood gekom het.
Die omstandighede
wat in die appellante se guns tel, is veral die volgende. Die moord op die
oorledene was 'n nadraai van die moord
op Synthia Koeshe. Alhoewel daar geen
getuienis was dat Synthia inderdaad seksueel gemolesteer is of dat die oorledene
inderdaad
by haar dood betrokke was nie, het die twee appellante, blykens hul
uitlatings by sowel Miriam as Ruth se huise, opreg geglo het
dat Synthia deur
die oorledene verkrag en vermoor is. Sy was hul niggie. 'n Maand na haar dood is
die oorledene steeds nie aangekeer
nie. Haar begrafnis het pas plaasgevind.
Gemoedere moes hoog geloop het. As die owerhede nie wou ingryp nie, moes hulle
dit self
doen. Hulle is deur 'n vermeende pligsbesef besiel, nie eie gewin
nie.
Wat weer teen die appellante tel, is die wyse waarop die
15 oorledene vermoor is. Die dag na die begrafnis val 'n groep van
ongeveer 40 mans die huis van Miriam Sout binne, op soek na
die
oorledene. Daar is geen direkte getuienis dat die appellante
die
groep byeengeroep of die optog gereël het nie. Feit is dat hulle
in die optrede van die groep die leidende rol gespeel het.
Die
waarskynlikheid is dat hulle ook vir die inval
verantwoordelik
was. En dit kon alleen maar wees met die oogmerk om
die
oorledene leed aan te doen. Gedagtig aan die lot wat die
oorledene uiteindelik wel getref het, kon daardie leed net wees
om die oorledene om die lewe te bring. Albei die appellante was
met messe of pangas gewapen. Die oorledene is inderdaad snywonde
toegedien. Hy is verbrand. Reeds by Miriam Sout se huis was
daar uitroepe, "Lebohang waarom het jy te min petrol geneem?".
Daar is gesê dat die oorledene geneem moes word na die plek waar
Synthia doodgemaak is. En dit was naby Miriam se huis, naastenby
'n kilometer vanwaar die oorledene uit Ruth se huis gesleep is. Dit dui alles op voorafbeplanning. Mens het hier nie te doen met
'n geval waar die appellante, onnadenkend, op die ingewing van die oomblik, in 'n opwelling van emosie, deur die optrede van 'n
16
gepeupel meegesleur is nie. Hulle was, op die getuienis,
die
leiersfigure, verantwoordelike volwassenes, wat hulle met die
oog op vergelding vir die dood van die oorledene beywer het. Soos reeds
gesê, was daar nie direkte getuienis dat hulle by die uiteindelike
teregstelling van die oorledene aanwesig was nie. Feit is
dat hulle meegedoen
het om hom by Ruth se huis op te spoor en dat hulle by was toe hy uit die huis
gesleep is. Kort daarna en nie
ver daarvandaan nie, op 'n plek wat nie sommer
toeval was nie maar met die dood van Synthia verband gehou het, is hy van kant
gemaak.
By gebreke aan 'n verduideliking dat hulle hul aan die ekspedisie
onttrek het en dus nie by die doodslag van die oorledene betrokke
was nie, is
die afleiding geregverdig dat hulle die groep wel na die plek van teregstelling
vergesel het. Geen sodanige verduideliking
is deur die appellante verstrek nie.
Inteendeel, hulle het met vals getuienis volhard. Daar kan dus aanvaar word dat
hulle wel by
die uiteindelike wreedaardige en grusame dood van die oorledene
aanwesig was. Hoe seer mens ook vir die appellante se hartseer en
verontwaardiging begrip mag hê, kan eierigting, te meer
waar
17 dit op so 'n barbaarse wyse geskied, net nie in 'n
gemeenskap wat
orde en vreedsaamheid nastreef, gedoog word nie. Dit moet
met
mening bestraf word. Op 'n wyse wat die boodskap onomwonde
by
almal tuisbring dat die kool die sous nie werd is nie.
As
verhoorregter sou ek denkbaar self, in die lig van die
appellante
se verstaanbare gevoel van wrewel, 'n mindere vonnis as 15 jaar
opgelê het, maar ek kan nie sê dat daardie vonnis so stewig is
dat inmenging deur hierdie hof op daardie grondslag alleen
geregverdig is nie. Die appèl teen die vonnis moet dus ook faal.
Die appèl slaag in die opsig dat die skuldigbevinding en
gevolglike vonnis op die klag van brandstigting tersyde gestel
word. Wat die moordklagte betref word die appèl teen sowel
skuldigbevinding as vonnis van die hand gewys.
P M Nienaber AR Nestadt AR
Stem saam Mahomed Wn AR

RTF format