South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 238
| Noteup
| LawCite
S v Booysen (560/91) [1992] ZASCA 238 (29 March 1993)
Download original files |
SAAKNOMMER: 560/91
J VD M
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)
In die saak tussen:
JOHN MARTIN
BOOYSEN Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
CORAM: JOUBERT, Wnd HR, KUMLEBEN, AR et
VAN COLLER, Wnd AR
VERHOORDATUM: 12 MAART 1992
LEWERINGSDATUM: 29 MAART 1992
UITSPRAAK
VAN COLLER, Wnd AR:
Appellant is op 27 September 1990 in die streekhof te Kimberley skuldig bevind aan roof met
2
verswarende omstandighede (aanklag 1) en ook aan oortreding van artikel 39(1) (L) van Wet 75 van 1969 (alternatief tot aanklag 2). Op die eerste aanklag is appellant gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf en op die alternatief tot aanklag 2 tot 'n boete van R1000 of ses maande gevangenisstraf. Appellant se appèl teen beide skuldigbevindings en teen die vonnis op aanklag 2, is deur die Noord-Kaapse Afdeling van die hand gewys. Die appèl teen die vonnis op aanklag 1 het egter gedeeltelik geslaag en dit is verminder na twee jaar gevangenisstraf. Verlof is deur hierdie Hof toegestaan om teen die vonnis op aanklag 1 te appelleer.
Dit blyk uit die getuienis dat appellant en ene Swartz gedurende 1990 as sekuriteitsbeamptes by die poskantoor te Kimberley gewerk het. Swartz het in 'n woonstel saam met sy vrou en baba gewoon. Hy en appellant, wat ongetroud is, was goeie vriende. Op die 2de April 1990 het Swartz nie die dag gaan werk nie en
3
dit was die eerste dag van appellant se verlof.
Hoewel
die getuienis nie baie duidelik is nie, kom dit voor
dat
Swartz en appellant reeds gedurende die middag van
2
April sterk drank gebruik het. Teen ongeveer 21H00
is
appellant en Swartz na 'n hotel in Kimberley waar
hulle
snoeker gespeel het tot ongeveer 23h00.
Volgens
appellant se getuienis het hy ongeveer agt
dubbel-sopies
brandewyn by die hotel gedrink. Daarna het hulle by
'n
smokkelhuis 'n bottel brandewyn gekoop en hulle is
na
Swartz se woonstel waar hulle daarvan gedrink
het.
Swartz se swaer van Pretoria het gedurende die nag
by
die woonstel opgedaag om sy suster, Swartz se
eggenote,
te kom haal. Daarna het sake nie rustig verloop
nie.
Konstabel Luyt van die SAP het getuig dat hy as
gevolg
van 'n klagte ongeveer vier-uur die oggend van 3
April
1990 na Swartz se woonstel is. Mev Swartz en haar
broer
was besig om meubels en haar persoonlike besittings
op
'n bakkie te laai. Appellant en Swartz was volgens
4
Luyt besig om te drink en hulle was taamlik onder die invloed van drank. Luidens Luyt se getuienis wou Swartz nie gehad het dat sy vrou saam met haar broer na Pretoria gaan nie en hy het gedreig om hulle agterna te sit indien hulle sou ry. Appellant het aan Swartz gesê dat dit al die probleme sal oplos indien hy sy vrou daar en dan sou skiet. Konstabel Luyt het die woonstel verlaat nadat mev Swartz en haar broer vertrek het. Dit blyk verder uit die getuienis dat appellant en Swartz daarna met appellant se motorfiets vertrek het om Swartz se suster en swaer agterna te sit. Dit was ook vir dié doel dat hulle na 'n vulstasie is om brandstof in te gooi. Aangaande die gebeure by die vulstasie het die streeklanddros die getuienis van die pompjoggie, Hendrik Segakwe, aanvaar. Swartz se getuienis was van so 'n aard dat, volgens die streeklanddros, baie min peil daarop getrek kon word. Appellant se getuienis was dat hy erg onder die invloed van drank was en dat hy
5
nie kon onthou wat by die vulstasie en later die nag gebeur het
nie.
Hendrik Segakwe het getuig dat appellant en 'n passassier, wat
Swartz moes gewees het, ongeveer tussen drie- en vier-uur daardie oggend
met 'n
motorfiets by die vulstasie opgedaag het. Die tenk is volgemaak en Swartz het
aan appellant R20 gegee om te betaal. Die brandstof
het R12 en enige sente
beloop. Segakwe is met die R20-noot na sy hokkie om kleingeld te kry en
appellant het hom gevolg. Segakwe
het bang geword vir appellant en hom agt rand
gegee instede van sewe rand en enige sente. Appellant het 'n rewolwer onder sy
linkerarm
uitgehaal en nog geld gevra. Volgens Segakwe het appellant die
rewolwer naby sy kop gehou. Hy het 'n klomp geld uit sy geldsak gehaal,
maar die
geld het geval en daar het net R10 in sy hand oorgebly, wat hy aan appellant
gegee het. Daarna het appellant na die ander
pompjoggie gegaan en hom gedreig om
nie die
6
registrasienommer van sy motorfiets te neem nie. Appellant se passassier het by hom gesoebat dat hulle moes ry. Appellant het die rewolwer weer onder sy linkerarm geplaas en die motorfiets het vinnig weggetrek. Segakwe het getuig dat daar nie 'n telefoon by die vulstasie was nie en die gebeure kon dus eers die volgende dag aan sy werkgewer gerapporteer word en die polisie is toe in kennis gestel.
Swartz het getuig dat appellant verkeerd gery het nadat hulle van die vulstasie weg is. Hulle het in 'n doodloopstraat beland, teen die sypaadjie vasgery en geval. Hy was nie bereid om verder saam met appellant te ry nie. Appellant het hom aangesê om weer op te klim en gedreig dat hy hom sou skiet indien hy dit nie doen nie. Appellant het ' n rewolwer uit ' n skede gehaal en dit op Swartz gerig. Hy het hom weer aangesê om op te klim en hom toe in die maag geskiet. Dit is gemeensaak dat appellant weggegaan het óm hulp te soek.
7
Swartz is later met 'n ambulans na die hospitaal verwyder waar 'n noodoperasie op hom uitgevoer is. Die streeklanddros het Swartz as 'n onbevredigende en 'n leuenagtige getuie beskryf met die gevolg dat die verhoorhof in die duister was aangaande hoe Swartz die maagwond opgedoen het. Appellant kon derhalwe nie aan poging tot moord skuldig bevind word nie, maar wel aan die nalatige hantering van 'n vuurwapen ingevolge die bepalings van artikel 39(1)(L) van Wet 75 van 1969.
Volgens appellant se getuienis was die plan om Swartz se vrou en swaer met die motorfiets agterna te sit. Nadat die polisie die woonstel verlaat het, het hy sy rewolwer by sy woonplek gaan haal. Hy het dit gedoen omdat dit sy gebruik is om sy rewolwer by hom te dra en hy neem dit ook saam as hy ver moet ry. Aangaande die gebeure by die vulstasie kon hy slegs onthou dat hy in 'n struweling met die pompjoggie betrokke was. Hy kon ook nie onthou wat gebeur het toe
8
Swartz die maagwond opgedoen het nie. Die rewolwer het volgens sy
getuienis dié nag op een of ander wyse verlore geraak.
Die
streeklanddros het appellant se getuienis dat hy nie kon onthou wat gebeur het
nie as vals verwerp. Hy het wel bevind dat appellant
"blykbaar onder die invloed
van drank was maar nie tot so 'n mate dat hy nie verantwoordelik is vir sy dade
nie". Appellant is op
sterkte van Segakwe se getuienis skuldig bevind aan
roof.
Dit blyk uit die oorkonde dat appellant ten tye van die verhoor 27 jaar oud was en reeds sewe jaar by die poskantoor gewerk het as sekuriteitsbeampte. Hy het standerd agt op skool behaal en het 'n salaris verdien van R800 per maand. Geen vorige veroordelings is teen appellant bewys nie. Die streeklanddros sê in sy uitspraak dat hy in aanmerking neem dat appellant en Swartz daardie aand 'n aansienlike hoeveelheid drank
9
uitgedrink het en wel tot so 'n mate dat hy waarskynlik dinge gedoen het wat hy andersins nie sou gedoen het indien hy nugter was nie. Die streeklanddros het egter tot die bevinding geraak dat ' n gewapende roof by 'n vulstasie so 'n ernstige misdaad is dat slegs gevangenisstraf 'n gepaste vonnis sou wees. In die hof a quo se uitspraak word vermeld dat die streeklanddros al die tersaaklike versagtende en verswarende omstandighede in ag geneem het en dat daar nie tot die slotsom gekom kon word dat appellant verkeerdelik gevangenisstraf opgelê is nie. Die hof a quo het egter bevind dat 'n vonnis van meer as twee jaar gevangenisstraf nie geregverdig kon word nie. Op grond daarvan dat so 'n vonnis aansienlik verskil van dié deur die streeklanddros opgelê, is die vonnis verminder.
Die benadering wat die streeklanddros gevolg het om tot die slotsom te kom dat slegs gevangenisstraf in die onderhawige saak 'n gepaste vonnis sou wees, verg
10
verdere aandag. Hy verwys eerstens daarna dat hierdie 'n redelike ernstige geval is en vervolg dan soos volg:
"Dit is so ernstig dat ek sal - daar sal baie min mense wees wat daarin sal slaag om 'n ander vonnis as gevangenisstraf te kry indien hulle in 'n hof skuldig bevind word dat hulle 'n gewapende roof by so ' n motorhawe uitgevoer het. Ek dink ook nie dat 'n ander vonnis 'n gepaste vonnis is in die meeste van sulke gevalle nie. Ek kan my beswaarlik aan 'n geval bedink waar so iets sal gebeur waar 'n ander vonnis gepas sal wees behalwe gevangenisstraf.
Die Hof het besluit om u maar 'n matige termyn van gevangenisstraf op te lê vanweë die aard van wat nou daar gebeur het. In die eerste plek het die klaer nou niks oorgekom nie, gelukkig vir u. In die tweede plek is daar nou nie 'n groot bedrag geld daar deur u geneem nie. Dit is faktore wat die Hof in aanmerking neem. Maar soos ek nou reeds gesê het, daar kon maklik iets daar verkeerd gegaan het en die vuurwapen kon afgegaan het en hy was deur daai man se kop en dan was dit waarskynlik dan nou moord en dit kon so maklik soos wat die geval nou daar gebeur het met mnr
11
Swartz, kon die vuurwapen afgegaan het en dan was die saak baie ernstiger. So ek is nou jammer vir u, dit is altyd 'n swaar saak om 'n eerste oortreder gevangenisstraf op te lê maar ek dink waar dit 'n ernstige oortreding is die Hof sal sy plig versuim as die Hof nie dit - sodanig straf dat die Hof darem wys in watter lig die Hof die saak beskou nie."
Die streeklanddros het dus van die standpunt uitgegaan dat 'n gewapende roof by 'n vulstasie so 'n ernstige misdaad is dat slegs gevangenisstraf gepas sou wees. Daarna het hy sekere strafversagtende faktore oorweeg, dog slegs om ' n gepaste termyn van gevangenisstraf te bepaal.
Dit is verkeerd om die oorweging of gevangenisstraf opgelê behoort te word te beperk tot die tipe misdaad wat gepleeg is. Die vereiste dat die aard van die misdryf oorweeg moet word (saam met die belange van die gemeenskap en die persoonlike omstandighede van die beskuldigde) beteken dat al die feite wat betrekking
12
het op die aard en erns van die misdaad en die wyse waarop die besondere misdaad gepleeg is, oorweeg moet word. Dat daar nie in die onderhawige saak 'n gebalanseerde oorweging van al die feite was nie het tot gevolg gehad dat 'n belangrike versagtende faktor wat die onderhawige saak van ander rooftogte by vulstasies onderskei, nie by die oorweging van 'n gepaste vonnis in aanmerking geneem is nie. Ek verwys na die feit dat hier geen vooraf beplanning om te roof was nie. Appellant en Swartz was op pad om Swartz se vrou en swaer te agtervolg. Hulle het by die vulstasie stilgehou om brandstof in te neem. Hulle het geld gehad om vir die brandstof te betaal en daar was geen sprake van roof nie. Appellant het op die ingewing van die oomblik die rewolwer uitgehaal en geld geëis. Hy het slegs R10 geneem en die geldsak daar gelaat. Die feit dat hier geen voorafbeplanning was nie, word nie deur die streeklanddros in sy redes vir vonnis genoem
13
nie. Indien aanvaar word dat hy dit wel in aanmerking geneem het by die oorweging van vonnis, is dit slegs as versagtende faktor by die oorweging van die termyn in aanmerking geneem. Die verhoorhof het, soos reeds gemeld, van die standpunt uitgegaan dat by die gewapende roof van 'n vulstasie slegs gevangenisstraf gepas sou wees. Die afwesigheid van voorafbeplanning moes egter as sterk versagtende faktor by oorweging van die aard en erns van die misdaad en die wyse waarop dit gepleeg is, in aanmerking geneem gewees het.
Soos reeds genoem, het die hof a quo hom vereenselwig met die verhoorhof se redes en bevinding dat gevangenisstraf die aangewese straf is en is die verkeerde benadering dus ook nagevolg. In die omstandighede is hierdie Hof verplig om met die vonnis in te meng en om self opnuut oor 'n gepaste straf te besin.
Die onderhawige misdaad is seer sekerlik 'n
14
ernstige een. ' n Vuurwapen is gebruik by die roof, die pompjoggie was weerloos en 'n maklike prooi. Daar is egter reeds op gewys dat die roof nie deur enige beplanning voorafgegaan is nie en dat dit op die ingewing van die oomblik geskied het. Slegs RlO van die geld is geneem. Appellant is 27 jaar oud en hy het geen vorige veroordelings nie. Hy het 'n goeie betrekking beklee ten tye van die pleging van die misdaad. Die feit dat hy die betrekking op daardie stadium reeds vir 'n tydperk van sewe jaar beklee het, is aanduidend van 'n mate van standvastigheid. Dit is waarskynlik dat die drank wat voor die pleging van die misdaad ingeneem is, appellant se oordeelsvermoë afgestomp en sy selfbeheer grootliks verminder het. In die lig van al die omstandighede is gevangenisstraf nie die enigste gepaste straf nie. Die aard van die misdryf en veral ook die belange van die gemeenskap vereis egter dat daar effektief bestraffend teenoor
15
appellant opgetree moet word. Ek is van mening dat 'n vonnis van
korrektiewe toesig met vrug in die onderhawige saak opgelê
kan
word.
Korrektiewe toesig is as 'n nuwe vonnisopsie ingestel
ingevolge die bepalings van die Wysigingswet op Aangeleenthede Rakende
Korrektiewe
Dienste en Toesig 122 van 1991 ("die Wysigingswet"). Artikel
276(1)(h) van die Strafproseswet, wat voorsiening maak vir 'n vonnis
van
korrektiewe toesig, is deur art 41(a) van die Wysigingswet tot die
Strafproseswet toegevoeg. Art 276A(1) van die Strafproseswet,
ingevoeg deur art
42 van die Wysigingswet, bepaal dat straf slegs kragtens art 276(1)(h)
opgelê word nadat 'n verslag van 'n
proefbeampte of 'n korrektiewe beampte
voor die hof geplaas is. Dit moet vir 'n bepaalde tydperk wat nie drie jaar te
bowe gaan nie
opgelê word. Ingevolge Proklamasie R86 van 1 Augustus 1992,
gepubliseer in Staatskoerant 14204 het artikels 276(1)(h) en 276A(1)
16
vanaf genoemde datum ook ten opsigte van die landdrosdistrik van
Kimberley in werking getree.
Alhoewel die misdaad, die
skuldigbevinding en vonnis in die streekhof, asook die vervanging van die vonnis
deur die Provinsiale Afdeling,
alles plaasgevind het voor die inwerkingtreding
van die Wysigingswet, is 'n vonnis van korrektiewe toesig op hierdie tydstip wel
regtens geoorloof. Sien S v R 1993(1) SA 476(A) op 484J-485H. In hierdie
saak verwys Kriegler Wnd ÁR op 487E-488E na die groot potensiaal wat die
magtigende
wetgewing inhou. Hy wys ook op die wye verskeidenheid maatreëls
met die gemeenskaplike kenmerk dat hulle buite die gevangenis
toegepas word. Op
488 F-J toon hy die duidelike onderskeid aan wat die Wetgewer maak tussen twee
soorte misdadigers, naamlik dié
wat deur gevangesetting van die
gemeenskap afgesonder moet word en dié wat strafwaardig is maar nie uit
die gemeenskap verwyder
hoef te word nie.
17
In die ongerapporteerde beslissing van hierdie Hof in die saak van Peter Ndaba v Die Staat, saaknommer 499/91 - uitspraak gelewer op 25 Maart 1993 - het Kriegler Wnd AR volledig op die pligte van 'n regterlike beampte by die oplegging van 'n korrektiewe vonnis ingegaan. Dit is noodsaaklik dat die volgende gedeelte van die uitspraak voor oë gehou word:
"Die hoofvraag is of korrektiewe toesig hoegenaamd vanpas is, maar dit is ook belangrik om ondersoek in te stel na die toepaslikheid en formulering van die een of ander komponent daarvan. Veral terwyl hierdie nuwe vonnisopsie nog in sy kinderskoene staan, sal die samestelling van 'n gepaste regime 'n moeisame - dog onvermydelike - las op die reeds swaar belaaide skouers van regterlike beamptes plaas. Maar die beslissing oor die toepaslikheid van korrektiewe toesig en van enige bestanddeel daarvan berus by hom. Hy laat hom wel lei deur vakkundige getuienis maar behoort self die raamwerk van die program te konstrueer. Dit beteken dat hy iedereen van die komponente bepaal sonder om in besonderheid die inhoud daarvan haarfyn voor te skryf. So byvoorbeeld kan hy
18
voorskryf dat die toesiggeval hom by
die
korrektiewe beampte of 'n ander
gespesifiseerde
persoon of instansie (by die naam of
generiek
aangedui) aanmeld op tye wat die
korrektiewe
beampte van tyd tot tyd bepaal. Dit sou ook
in
orde wees om voor te skryf dat die toesiggeval vir
'n
voorgeskrewe soort behandeling rapporteer op
tye en plekke wat deur
die korrektiewe beampte
bepaal word.
'n Hof behoort in die reël egter nie sommer breedweg 'n vonnis van korrektiewe toesig op te lê en die komponente daarvan aan die goeddunke van die korrektiewe beampte oor te laat nie. Dit sou ook oor die algemeen verkeerd wees om die inhoud van 'n wesenlike komponent geheel en al aan vasstelling deur die korrektiewe beampte oor te laat. Hier het ek dit daarteen dat die hof byvoorbeeld huisarres of gemeenskapsdiens voorskryf sonder om die termyn of periodieke. tydsduur daarvan te bepaal. Artikel 84(1) van Wet 8 van 1959 (soos ingevoeg by a. 28 van Wet 122 van 1991) beklee weliswaar die Departement van Korrektiewe Dienste met uitvoerige bevoegdhede buite-om die hof se voorskrifte. Dit bepaal naamlik dat '[e]lke toesiggeval...onderworpe [is] aan die monitering, gemeenskapsdiens, huisarres.
19
indiensplasing, diensverrigting' ensovoorts 'soos deur die hof of die Kommissaris bepaal. . . en aan enige ander vorm van behandeling, beheer of toesig...wat die Kommissaris...mag bepaal...' Dit beteken egter nie dat die regspreker goedskiks sy geykte rol as straftoemeter ten gunste van die uitvoerende gesag moet afstaan nie. Juis vanweë die veelsoortigheid van die onderhawige strafvorm en die knelpotensiaal van bepaalde komponente daarvan (byvoorbeeld huisarres of diensverrigting) betaam dit 'n regterlike straftoemeter om paal en perk te stel aan die straf wat hy oplê. Die feit dat bykomende administratiewe handelinge deur andere geneem mag word, ontneem 'n regspreker geensins van die plig om die geregtelike fase van straftoemeting, waarvoor hy verantwoordelik is, ooreenkomstig geykte norme te laat verloop nie."
In die onderhawige saak het ons nie die voordeel van 'n verslag van 'n proefbeampte of 'n korrektiewe beampte nie. Die feite en omstandighede wat in die getuienis aan die lig gekom het, toon egter reeds aan dat 'n vonnis van korrektiewe vonnis by uitstek die
20
gepaste strafvorm in hierdie saak mag wees. Die aangewese weg is dus om die saak na die verhoorhof terug te verwys om na die verkryging van die voorgeskrewe verslag en met inagneming van die prosesregtelike rigtingwysers uiteengesit in S v R supra op bladsy 492 en van die pligte van die regterlike beampte, 'n vonnis van korrektiewe toesig te oorweeg met die oog op die oplegging daarvan.
Die appél slaag. Die vonnis van twee jaar gevangenisstraf ten opsigte van aanklag 1 opgelê, word tersyde gestel. Die saak word na die verhoorhof terugverwys vir die oplegging van 'n vonnis ooreenkomstig die bovermelde riglyne.
A P VAN COLLER
WAARNEMENDE APPèLREGTER
JOUBERT, AR )
STEM SAAM KUMLEBEN, AR )

RTF format