South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1991 >>
[1991] ZASCA 80
| Noteup
| LawCite
S v Makie (580/90) [1991] ZASCA 80 (30 May 1991)
Download original files |
1.
Saak nr 580/90 /MC
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen
MVUYO MAKIE Appellant
- en -
DIE STAAT Respondent
CORAM: JOUBERT, VIVIER et F H
GROSSKOPF
ARR.
VERHOOR: 24 Mei 1991.
GELEWER: 30 Mei 1991.
U I T S P R A A K
VIVIER AR.
2/...
2.
VIVIER AR:
Die appellant het in die Kaapse Provinsiale Afdeling
voor DE KOCK R en assessore tereggestaan op aanklagte van huisbraak met die
opset
om 'n aan die aanklaer onbekende misdryf te pleeg (aanklag 1), verkragting
(aanklag 2) moord (aanklag 3) en poging tot moord (aanklag
4). Op aanklagte 1 en
2 is hy onskuldig bevind en op aanklag 4 is hy aan aanranding met die opset om
ernstig te beseer skuldig bevind.
Op aanklag 3 is hy skuldig bevind aan moord.
Die Verhoorhof het bevind dat daar geen versagtende omstandighede by die moord
aanwesig
was nie en die appellant is gevolglik die doodvonnis opgelê. Die
Verhoorregter het daarna aan die appellant verlof toegestaan
om na hierdie Hof
te appelleer teen die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede was
3/...
3.
nie en die gevolglike doodvonnis wat hom opgelê is.
Al die aanklagte
spruit uit 'n aanval deur die appellant op 'n bejaarde egpaar, mnr en mev
Wheeler, in hulle huis op Voëlklip,
naby Hermanus, gedurende Vrydagnag 21
Julie 1989. Die appellant het daardie dag vir sekere bouaannemers gewerk wat
besig was met
bouwerk op 'n perseel onmiddellik langsaan die huis van die
Wheelers. Daardie nag het die appellant te voet vanaf die swart woonbuurt
Zwelihle, waar hy gewoon het, na die Wheelers se huis, ongeveer 5 tot 6 km
daarvandaan, gegaan. Hy het deur 'n gangvenster geklim
en so toegang tot die
huis verkry. Omdat die Verhoorhof nie kon vasstel of die venster oopgestaan het
of nie, is die appellant op
die huisbraak-aanklag vrygespreek. In die huis is
die appellant deur die 70-jarige mev Wheeler ("die oorledene") verras. Sy
4/...
4.
was in haar nagrok geklee en volgens alle aanduidings was sy reeds in die bed en het opgestaan en gaan ondersoek instel toe sy die appellant teenkom. Hy het haar met sy mes veertien steek- en snywonde in die nek en twee steekwonde in die bors toegedien as gevolg waarvan sy beswyk het. Die wonde in die nek, vyf waarvan onderskeidelik 63 mm, 46 mm, 75 mm, 93 mm en 80 mm lank was, het die slagaar van die nek afgesny en tot in die mondholte deurgedring. Die steekwonde op die bors het onderskeidelik tot in die linkerlong en hart deurgedring. Daarbenewens het die oorledene ook 'n aantal steekwonde op haar linkerhand sowel as veelvuldige kneus- en skaafwonde oral op haar liggaam opgedoen, wat 'n aanduiding is dat sy haar hewig moes verset het. Nadat die appellant haar oorrompel het, het hy voortgegaan om gemeenskap met haar te hê, maar
5/...
5.
omdat die Verhoorhof onseker was of sy toe nog geleef het, is die appellant
op die aanklag van verkragting onskuldig bevind. Op een
of ander stadium het die
appellant ook die 88-jarige mnr Wheeler aangeval en hom veelvuldige sny- en
kneuswonde op die kop, gesig,
hande en linkerarm toegedien. Mnr Wheeler het
daarin geslaag om twee skote met sy geweer te vuur en een skoot het die
appellant in
die linkerhand getref. As gevolg van skok was mnr Wheeler agterna
nie in staat om
'n relaas van die gebeure te gee nie.
Op een of ander stadium die aand het die appellant die telefoondraad in die huis afgesny. Na die plegings van die misdade het hy die huis deur dieselfde venster as voorheen verlaat en is terug na sy woonplek in Swelihle waar hy om 7.30 die volgende oggend deur die polisie gearresteer is.
6/...
6.
By sy verhoor het die appellant nie voor skuldigbevinding getuig of enige getuienis aangebied nie. Hy het wel daarna getuig toe die kwessie van versagtende omstandighede ter sprake was. Sy aanvanklike getuienis was toe dat hy glad nie die betrokke nag by die oorledene se huis was nie en dat hy niks van die misdade af weet nie. Daarna het hy sy getuienis verander en erken dat hy ongeveer 10.30 die aand vanaf sy woonplek na Voëlklip gestap het waar hy ongeveer drie uur later by die oorledene se huis aangekom het. Hy het deur 'n oop venster geklim en toe hy die oorledene teenkom het hy haar met sy mes gesteek. Daarna het die oorledene se man te voorskyn gekom en op hom geskiet. Hy het toe die oorledene se man ook met sy mes gesteek. Daarna is hy terug na sy woonplek. Toe hy die oorledene en haar man gesteek het
7/...
7.
was hy onder die invloed van drank.
Die Verhoorhof het die appellant as 'n
onbetroubare en leuenagtige getuie. beskryf en sy getuienis totaal
ongeloofwaardig en onaanvaarbaar
gevind, behalwe vir soverre hy feite in verband
met sy aandadigheid aan die pleging van die misdryf erken het. Hierdie bevinding
is verstaanbaar indien gelet word op die talle weersprekings en teenstrydighede
in die appellant se getuienis, ook wat betref die
vraag of hy onder die invloed
van drank gehandel het. Die appellant het uiteindelik getuig dat hy slegs effens
onder die invloed
van drank was toe hy die oorledene doodgemaak het. Die
staatsgetuienis, wat deur die Verhoorhof aanvaar is, was dat toe die appellant
vroeg die volgende oggend gearresteer is, hy heeltemal nugter was en nie eens na
drank geruik het nie. Die
8/...
8.
Verhoorhof het bevind dat selfs indien die appellant vroeër die aand
gedrink het, dit hom nie beinvloed het toe hy die oorledene
doodgemaak het nie.
Die Verhoorhof het verder bevind dat die ander versagtende omstandighede wat by
die verhoor aangevoer is, naamlik
dat die appellant 'n onbeskaafde persoon is en
dat hy in primitiewe omstandighede in 'n reservaat grootgeword en slegs tot
standerd
4 op skool gevorder het, en gevolglik 'n lae intelligensie het,
afsonderlik of gesamentlik nie as versagtende omstandighede aangemerk
kan word
nie.
Sedert die appellant se verhoor in die Hof a quo en die
daaropvolgende verlof om te appelleer wat aan hom verleen is, is die regsposisie
met betrekking tot die oplegging van die
doodstraf fundamenteel verander deur
die Strafregwysigingswet 107 van 1990
9/...
9.
("die nuwe Wet") wat na vonnis, maar voor die aanhoor van hierdie appèl in werking getree het. Ingevolge art 20(1)(a) van die nuwe Wet moet die appèl afgehandel word "asof artikels 4 en 13(b) te alle tersaaklike tye in werking was". Art 4 van die nuwe Wet het art 277 van die Strafproseswet 51 van 1977 met 'n nuwe art 277 vervang en weggedoen met die verpligte doodvonnis sowel as die begrip "versagtende omstandighede". Voordat die doodvonnis ingevolge die nuwe art 277 opgelê word, moet die Verhoorhof 'n bevinding uitbring oor die aan-of afwesigheid van enige strafversagtende of -verswarende faktore en slegs indien die voorsittende regter, met inagneming van daardie bevinding, oortuig is dat die doodvonnis die gepaste vonnis is, word die doodvonnis opgelê. Ingevolge art 13(b) van die nuwe Wet kan hierdie Hof, indien hy "van oordeel is dat hy
10/...
10.
self nie die doodvonnis sou opgelê het nie, die vonnis tersyde stel en die straf oplê wat na sy oordeel gepas is". Die posisie is as volg deur E M GROSSKOPF AR in S v Senonohi 1990(4) SA 727 op 733C-D saamgevat:
"By 'n appèl teen 'n doodvonnis oefen die Appelhof dus nou 'n onafhanklike diskresie uit. Hy moet self oordeel of, met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore wat uit die oorkonde blyk, die doodvonnis 'die gepaste vonnis' ingevolge die nuwe art 277(2)(b) is."
Die uitdrukking "strafversagtende faktore" behels 'n wyer begrip as wat voorheen onder "versagtende omstandighede" verstaan was, en "strafversagtende of -verswarende faktore" sluit alle faktore in wat behoorlik deur 'n hof in ag geneem kan word ter versagting of verswaring van vonnis. Sien S v Masina
11/...
11.
and Others 1990(4) SA 709 (A) op 714A-D en S v
Senonohi, supra, op 732F-H. Aan die hand van hierdie maatstawwe
moet daar gevolglik beslis word of die feite en omstandighede van die huidige
saak
sodanig is dat die doodvonnis "die gepaste vonnis" ingevolge die nuwe art
277(2)(b) is.
Die appellant was 29 jaar oud toe hy die misdryf gepleeg het.
Hy is in King William's Town gebore en het in 'n landelike gebied in
die Ciskei
gebly totdat hy in 1989 na Kaapstad. gekom het. Hy het tot standerd 4 op skool
gevorder. Hy het geen vorige veroordelings
nie. Daar is, na my oordeel, geen
feitebasis vir die betoog namens die appellant dat hy 'n persoon van lae
intelligensie is of dat
hy onbeskaaf is nie. Hy het nie getuig dat hy nie
instaat was om 'n
hoër standerd op skool te slaag nie.
Ongeletterdheid
12/...
12.
beteken nie 'n gebrek aan intelligensie nie en sy swak getuienis is duidelik toe te skryf aan leuenagtigheid en nie aan 'n gebrek aan intelligensie nie. Die feit dat hy in 'n landelike gebied in die Ciskei gewoon het, beteken ook nie opsigself dat hy onbeskaaf is, soos namens hom betoog is nie. Wat die appellant se gebruik van drank vroeer die betrokke aand as 'n moontlike versagtende faktor betref, toon sy optrede voor en tydens die aanval op die oorledene en haar man geen tekens van beïnvloeding deur drank nie. Hy het sonder moeite die 5 tot 6 km vanaf sy woonplek na die oorledene se huis en terug gestap. Hy het twee keer deur 'n venster geklim wat betreklik hoog is. Hy het die teenwoordigheid van gees gehad om die telefoondraad te sny sodat hulp nie ontbied kon word nie. Dit is nie die optrede van iemand wat in enige noemenswaardige
13/...
13-
mate deur drank aangetas is nie. Na my mening is daar geen rede om met die
feitebevinding van die Hof a quo dat die appellant nie deur drank
beinvloed is, in te meng nie. Ek kan gevolglik nie enige strafversag = tende
faktore in die appellant
se agtergrond, intellek of sy drankgebruik die betrokke
aand vind nie. Die enigste strafversagtende faktor in die guns van die appellant
is sy skoon rekord, en die gevolglike moontlikheid van sy rehabilitasie. Die
gewig indien enige, wat aan hierdie oorweging gegee
moet word, hang af van die
omstandighede van elke saak. (Vgl S v Mooi 1985(1) SA 625(A) op 631A en
S v S 1991(2) SA 93(A) op 102H).
Die eerste strafverswarende faktor is
dat hierdie 'n aanval op bejaarde mense in hul huis was. Die tweede is dat die
aanval vooraf
beplan was in die
14/...
14.
sin dat die appellant vooraf bewus was dat dit bejaarde mense en 'n
gevolglike maklike prooi is en daarheen gegaan het om 'n misdryf
te pleeg. Hy
het verset verwag en voorsorgmaatreëls getref deur 'n mes saam te neem. Die
derde strafverswarende faktor is die
wyse waarop hy die oorledene doodgemaak
het. Die groot aantal wonde en die gruwelike aard daarvan toón dat dit 'n
wrede, barbaarse
en genadelose aanval was wat met die direkte oogmerk om te dood
toegedien is. Die aanval was totaal onnodig. Die slagoffer was 'n
weerlose,
bejaarde vrou wat maklik op 'n ander wyse oorweldig kon word sonder om haar te
beseer of te dood.
Dit bring my by die uiteindelike vraag of, inaggenome die
strafversagtende en -verswarende faktore, die doodstraf die enigste gepaste
straf is (S v Nkwanyana 1990(4) SA 735(A) op 745E-F). Ten
15/...
15.
einde hierdie vraag te beslis, moet die hoofoogmerke van straftoemeting, nl vergelding, voorkoming en hervorming, oorweeg word. In sake soos die huidige tree die gemeenskapsbelang sterk na vore. Aanvalle op weerlose bejaardes in die veiligheid van hul eie huise is uiteraard iets wat vir die gemeenskap verderflik is. Die appellant se misdaad was egter so afgryslik en sy optrede so boos, dat hierdie as 'n uiterste geval beskou moet word waar die voorkomings-en vergeldingselemente deurslaggewend, en die doodstraf gevolglik die enigste gepaste vonnis is. Die appèl word afgewys.
W. VIVIER AR.
JOUBERT AR)
Stem saam. F.H. GROSSKOPF AR)