South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 78

| Noteup | LawCite

S v Mokoena (405/90) [1991] ZASCA 78 (30 May 1991)

Download original files

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING) In die saak tussen:

BOY MOROENA Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, EKSTEEN, F H GROSSKOPF, ARR

VERHOOR: 23 Mei 1991

GELEWER: 30 Mei 1991

UITSPRAAK E M GROSSKOPF AR

2

Die appellant is in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling aangekla op twee aanklagte, t.w., moord (eerste aanklag) en verkragting (tweede aanklag). Hy het onskuldig gepleit op albei aanklagte. Die hof (O'DONOVAN WR en assessore) het hom op die eerste aanklag skuldig bevind soos aangekla, maar hom op die tweede aanklag slegs aan onsedelike aanranding skuldig bevind. Met betrekking tot die moordaanklag is geen versagtende omstandighede bevind nie, en hy is ter dood veroordeel. Vir onsedelike aanranding is hy tot agtien maande gevangenisstraf gevonnis. Die appellant kom nou in hoër beroep teen sy skuldigbevindinge en vonnisse.
Die belangrikste 'getuie namens die Staat was ene Themba Qwabe. Hy het getuig dat hy op 1 Januarie 1988 omstreeks 21h00 saam met 'n vriend Alfeus Zwane by hul woning aangekom het nadat hulle by die winkel was. Hy ontdek toe dat hy nie sy vuurhoutjies by hom het nie, en besluit om terug te gaan winkel toe om hulle te soek. Hy het geloop in 'n voetpaadjie oor die veld toe hy 'n vroumens hoor skreeu het, "Los my! Los my!" Hy het

3

ook 'n manspersoon se stem gehoor, maar kon nie uitmaak wat hy sê nie. Qwabe het voortgestap winkel toe. Na 'n rukkie het hy teruggekeer, en by dieselfde plek 'n ander geluid gehoor, wat hy soos volg beskryf het:"... 'n geskreeuery van 'n persoon wat sou verwurg word ... ek kon hoor dat daar is 'n persoon wat verwurg word en daardie persoon wil hardop skree, maar omdat daardie persoon verwurg word, sy stem kan nie uitkom nie." Hy was bang om ondersoek in te stel, en het sy vriend Alfeus Zwane gaan roep. Hulle woning was omtrent die lengte van 'n voetbalveld daarvandaan.
Na 'n rukkie keer Qwabe en Zwane terug na die plek waarvandaan die geluide gekom het, en daar tref hulle die appellant aan. Hy het bo-op 'n vroumens (die oorledene) gelê. Sy broek was op sy knieë. Met hul aankoms het die appellant net sy kop opgelig. Qwabe kon toe sien dat die vrou (die oorledene) se bolyf gekleed was, maar dat haar onderlyf kaal was. Haar broekie was op haar knieë. Hy was toe ook seker dat die appellant se privaatdeel in die oorledene s'n was. Later sê hy

4

egter dat dit slegs sy afleiding was. Toe die appellant sy kop oplig, vra Zwane, "Wat maak jy hier?" Die appellant antwoord, "Ek is besig om vleeslike gemeenskap te hou." Qwabe vra toe, "Hoe kan jy vleeslike gemeenskap hou langs die pad?" Die appellant antwoord, "Ek is besig met my vrou hier." Op verdere vrae het hy gesê dat hy daar gemeenskap hou omdat hulle nie 'n woonplek het nie. Die oorledene het die hele tyd stil gelê. Qwabe en Zwane het die appellant beveel om op te staan. Hy het dit gedoen en sy broek aangetrek. Op daardie stadium, sê Qwabe, kon hy die appellant se privaatdeel sien. Dit was styf. Onder kruisverhoor bevestig hy dat hy dit duidelik kon sien.

Nadat die appellant sy broek aangetrek het, het Qwabe en Zwane hom aangesê om die vroumens te laat opstaan. Appellant het egter geantwoord dat sy bewusteloos was. Zwane het 'n stok gepluk en die appellant daarmee begin slaan. Qwabe het hom na 'n rukkie gestop omdat dit vir hom voorgekom het dat die vrou reeds dood was. Zwane het toe die polisie gaan roep terwyl Qwabe by die appellant agtergebly het.

5

Qwabe se getuienis is tot 'n mate gestaaf deur die verdere getuienis. Konstabel Schwulst van die S.A. polisie was die eerste polisie-amptenaar wat op die toneel gekom het. Hy het die appellant gevind saam met Qwabe en Zwane. Laasgenoemde het die oorledene aan hom uitgewys. Sy was dood. Haar rok was opgetrek oor haar bolyf en haar onderlyf was kaal. Haar broekie was om haar linkerknie. Die appellant het aan hom gesê dat terwyl hy en die oorledene gemeenskap gehad het met haar toestemming, sy begin teenstand bied het en hom gebyt het. Hy het ontsteld geraak en haar gewurg.
Nog later het speurder-konstabel De Vos op die toneel gekom. Hy beskryf die oorledene se klere op dieselfde manier as die vorige getuies. Die appellant het aan hom dieselfde verduideliking gegee as aan konstabel Schwulst. Later het die appellant egter gesê dat die oorledene hom met 'n mes wou steek. Die twee konstabels het met 'n flits gesoek na 'n mes in die omgewing waar die oorledene gelê het, maar sonder sukses.

Speurder-konstabel Mchunu het getuig dat hy op 'n later

6

tydstip die ondersoekbeampte in die saak was. Hy het die appellant uitgevra omtrent die oorledene. Die appellant het gesê dat haar naam Irene was, maar hy kon nie haar van of adres verskaf of inligting omtrent haar familie verstrek nie. Hy het nogtans beweer dat die oorledene sy vrou was, en dat hy haar lank vantevore ontmoet het. Die appellant kon ook nie sy eie adres, of die adresse van sy familie, verskaf nie.
Die laaste staatsgetuie was Dr. Pieterse, die distriksgeneesheer, wat 'n nadoodse ondersoek op die oorledene gedoen het. Hy het die polisiebeamptes se getuienis omtrent die toestand van die oorledene se klere bevestig, en het bygevoeg dat haar broekie geskeur was. As oorsaak van dood het hy aangeteken "consistent with strangulation". Hy kon geen ander doodoorsaak vind nie. Ek handel later weer met Dr. Pieterse se getuienis in hierdie verband.
Gedurende Dr. Pieterse se kruisverhoor het 'n verrassende nuwe element in die saak na vore gekom - iets waarvan daar tot op daardie stadium geen suggestie hoegenaamd was nie.

7

Die betrokke getuienis lui soos volg:

"Dokter, u was so 'n halfuur gelede uur gelede daar in die selle en u het daar die beskuldigde se liggaam
ondersoek, is dit reg? --- Dit is korrek.
Wat het u daar gevind? --- Wel ons het gevind dat hy
omtrent 'n 80% - 85% amputasie van sy penis het, U
Edele.
As u nou sê 80-85% is u miskien nie heeltemal akkuraat

nie want u weet nie hoe lank dit in die eerste plek was

nie? --- Nee, dit is maar op 'n..
Sal u eerder vir die hof verduidelik wat oor is? ---
Daar is 'n baie klein stompie van die penis oor.
Ek stel dit aan u dat dit eintlik niks omtrent is nie,

hoeveel sou u skat in millimeter is dit? ---

Millimeter? Kom ons stel dit liewer sentimeter, ek sal sê omtrent 'n sentimeter.
Sou u sê dat hierdie man hoegenaamd in staat is om geslagsverkeer te hê? --- Nee, U Edele."

Dit was gemene saak op appèl dat hierdie amputasie lank voor die gebeure wat tans ter sprake is, plaasgevind het.

Nadat Dr. Pieterse sy getuienis voltooi het, het die Staat sy saak gesluit. Alfeus Zwane is nie as getuie geroep nie. Qwabe het vroeër getuig dat hy kontak met Zwane verloor het, en nie geweet het wat van hom geword het nie.

Die appellant het in sy eie verdediging getuig. Sy relaas was kortliks soos volg. Die oorledene was sy vr.ou. Hy

8

het haar lank geken en 'n kind by haar gehad. Hulle was 'n lang tyd uitmekaar (later het dit geblyk dat hy in die tronk was) en hy het haar toevallig op die betrokke dag raakgeloop in 'n skrootwerf waar sy toe gewoon het. Sy het intussen 'n ander man gekry. Hy het haar uitgevra na die kind. Sy het hom gevloek. Hy het haar gevra om hom te vergesel. Sy het geweier. Die mense in die omgewing het hom weggejaag en die oorledene se nuwe vryer het hom met 'n ysterstaaf geslaan. Die appellant het toe weggehardloop, en die mense het hom gejaag. By 'n hostel het die hostelpolisie sy agtervolgers verwilder. Die appellant het tussen fabrieke op geloop, en toe weer die oorledene teengekom. Hy vra haar weer om hom te vergesel. Sy het saam met hom gegaan, maar op pad het sy hom nou en dan gevloek en met haar gebalde vuiste geslaan. By die toneel waar haar lyk later gevind is, het hulle mekaar gegryp en gestoei. Hulle het geval, en sy het 'n mes uitgehaal. Hulle het om besit van die mes baklei, en die appellant het haar met sy regterhand teen haar nek gedruk. Na
'n ruk het sy slap geword, en hy besef toe dat sy dood was.

9

Op daardie stadium kom Qwabe en Zwane op die toneel. Hulle het hom aangerand en beroof, en die oorledene se broekie afgetrek. Daarna het hulle die polisie ontbied.

Die appellant is straf gekruisvra, onder meer oor

verskille tussen sy getuienis en verklarings wat hy voorheen
gemaak het. Daar was nie alleen die verklarings wat hy aan die

polisiegetuies, na wie reeds verwys is, gemaak het nie, maar ook
'n verklaring aan 'n landdros op 4 Januarie 1988, en sy

pleitverduideliking toe hy op 19 Januarie 1988 in die landdroshof
gepleit het. Ek is nie van plan om al hierdie verklarings te

herhaal, of die appellant se getuienis onder kruisverhoor te

ontleed nie. Die verhoorhof het dit alles oorweeg en soos volg

bevind:

"The accused could not have created a worse impression in the witness box as a flagrant liar. He has put forward a number of versions of what happened, which are inconsistent with each other; the contradictions in the account of the accused are endless ..."
'n Deurlees van die getuienis toon die juistheid van

hierdie bevinding, en dit is nie op appèl aangeveg nie.

10

Die verhoorhof het die staatsgetuies as geloofwaardig beskou en die appellant se getuienis verwerp. Die hof het spesifiek ook die appellant se getuienis verwerp dat die oorledene sy vrou was, en dat hy in noodweer opgetree het. Dit was, aldus die verhoorhof, duidelik dat hy haar verwurg het, en die hof het afgelei dat hy dit gedoen het met die direkte opset om haar te dood. Hy was dus skuldig aan moord.
Wat die tweede aanklag betref, het die verhoorhof aanvaar dat die appellant nie in staat was tot normale geslagsverkeer nie. Op sterkte van die staatsgetuienis het die hof hom skuldig bevind aan onsedelike aanranding.
Op appêl het Mnr. Gertsch, wat namens die appellant in hierdie hof (maar nie in die verhoorhof nie) verskyn het, betoog dat die getuienis omtrent die appellant se amputasie die staatsaak totaal vernietig het. Wat Qwabe betref, het dit aangetoon dat hy gelieg het toe hy gesê het dat hy die appellant se stywe penis gesien het. En wat konstabel Schwulst en konstabel De Vos betref, het hulle, so is betoog, gelieg toe

11

hulle gesê het dat die appellant beweer het dat hy gemeenskap
gehad het met die oorledene. Omdat hy inderdaad nie gemeenskap
kon hê nie, so is betoog, is dit uiters onwaarskynlik dat hy aan
die polisie-amptenare sou gesê het dat hy wel gemeenskap gehad
het. Mnr. Gertsch het aanvaar dat sy betoog daarop neerkom dat
daar 'n samespanning tussen die drie staatsgetuies moes gewees het
om die appellant te inkrimineer, maar het betoog dat so 'n

samespanning 'n onafwendbare (of minstens 'n redelike moontlike)

afleiding uit die feite is.

Dat Qwabe se getuienis oor die appellant se penis h

swakheid in sy getuienis is, spreek vanself. Die hof a quo het
hierdie aspek soos volg behandel (die hof verwys na hom as

Themba, sy eerste naam):

"Themba's evidence is in one respect subject to serious criticism. He says in his evidence that he saw that the accused had an erection. On the medical evidence this was described as highly improbable. The court accepts that the accused was not physically capable of sexual intercourse following amputation in hospital of his sexual organs.
This aspect apart, however, Themba impressed the court

12

as honest and reliable. In fairness to Themba it must be remembered that the incident about which he testifies occurred well after dark. There was also the fact that the accused himself stated that he was having intercourse with the woman on top of whom he was lying. The incident took place in the open veld. It was not in dispute that the accused was lying on top of the woman with his trousers pulled down. The deceased's dress and pants were pulled up. The obvious prima facie inference in all these circumstances would have been that they were having intercourse. ... It was, in all those circumstances, at least understandable that Themba could confuse what must have seem to him to be an irresistible inference with direct observation. It would not be right, in the court's view, to accuse Themba of deliberate perjury on this point."
Die verhoorhof het die getuies gesien, en op appèl sal

ons nie maklik afwyk van die hof se bevindinge oor
geloofwaardigheid nie. Wat Qwabe betref, is daar myns insiens
geen gegronde rede voorgelê waarom ons die verhoorhof se
geloofwaardigheidsbevinding sal omverwerp nie. Die verhoorhof
was ten volle bewus van die swakheid in sy getuienis, maar het
beskou dat dit verstaanbaar was dat hy hom vergis het en het hom

nogtans geglo. Ek kan nie sê dat hierdie gevolgtrekking verkeerd
was nie. Trouens, tot die mate dat 'n mens uit die geskrewe

13

oorkonde kan oordeel, meen ek dit was ten volle geregverdig.
Wat konstabel Schwulst en konstabel De Vos betref: dit is waar dat die appellant inderdaad nie normale geslagsverkeer kan hê nie. Wat hy egter wel kan doen is om 'n aanvaarbare verklaring te probeer gee oor hoekom hy by die lyk van 'n
half-naakte vrou gevind is, en as dit hom pas, is daar niks wat hom verhinder om te sê dat hy met haar gemeenskap gehad het nie. Daar is dus na my mening geen rede om die getuienis van die twee konstabels in hierdie verband te bevraagteken nie. En die suggestie dat die twee konstabels met Qwabe saamgespan het om die appellant in die moeilikheid te bring is so uiters onwaarskynlik dat 'n mens dit skaars ernstig hoef op te neem. Hoekom sou die twee konstabels en Qwabe, wat vreemdelinge aan mekaar was, saamsweer teen die appellant, nog 'n vreemdeling?

Namens die appellant is verder betoog dat 'n nadelige afleiding teen die Staat gemaak moet word omdat Zwane nie as getuie geroep is nie. Soos ek hierbo aangedui het, het Qwabe getuig dat hy kontak met Zwane verloor het, en daar kan moontlik

14

afgelei word dat die polisie hom ook nie in die hande kon kry nie. Maar selfs al aanvaar 'n mens dat Zwane se versuim om te getuig 'n swakheid in die Staat se saak is, is die Staat se saak origens so sterk teenoor die totale ongeloofwaardigheid van die appellant dat hierdie leemte eintlik onbenullig is.
Ek meen dus dat die hof ten volle geregtig was om die staatsgetuienis te aanvaar, en te bevind dat die skuld van die appellant bewys was. Dit volg dus dat die appèl teen die skuldigbevindinge nie kan slaag nie.
Dit bring my dan by vonnis. Daar is nie betoog dat die vonnis vir onsedelike aanranding te swaar is nie, en die appêl gaan dus bloot om die doodvonnis vir moord. Sedert die uitspraak in die onderhawige saak gelewer is, is die regsposisie met betrekking tot die doodstraf ingrypend gewysig deur die Strafregwysigingswet, no. 107 van 1990. Die betekenis en uitwerking van hierdie wet is gesaghebbend bespreek in 'n aantal onlangse beslissings van hierdie hof, en dit is nie vir my nodig om weer in besonderheid daarop in te gaan nie. Die effek van

15

hierdie beslissings is dat ons, met inagneming van strafverswarende en -versagtende faktore asook alles anders wat ter sake mag wees, moet besluit of die doodvonnis die enigste gepaste straf in die omstandighede van die onderhawige geval is.
Die beginpunt is dus om te bepaal watter strafverswarende en -versagtende faktore aanwesig is. Hierdie bepaling moet gemaak word aan die hand van die getuienis, en nie op grond van blote bespiegelings nie. Hier staan ons egter voor die probleem dat die getuienis in die huidige geval so besonder karig is. Die staatsgetuies het op die toneel gekom nadat die moord reeds gepleeg was, en die appellant se getuienis oor wat vroeër gebeur het, is totaal verwerplik. Ons weet nie eers wie die oorledene was, en waarvandaan sy gekom het nie. Behalwe die omstandighede van die moord self, en die appellant se rekord (waarby ek later kom) is daar skaars enige materiaal op grond waarvan 'n bevinding van strafverswarende of -versagtende faktore gemaak kan word. So, byvoorbeeld, is daar selfs uiters min om aan te dui of die oorledene gewillig was om met die appellant na

16

hierdie punt in die veld te stap. 'n Mens sou dus kan sê dat die Staat nie bewys het dat sy onwillig was nie, en die moontlikheid dat sy ingewillig het word miskien effens versterk deur die feit dat die oorledene, volgens die mediese getuienis, groter en swaarder as die appellant was en dus kwalik deur hom saamgesleep kon word. Aan die ander kant het die mediese getuienis ook getoon dat die oorledene 'n paar geringe beserings gehad het wat niks met haar verwurging te doen gehad het nie. Dr. Pieterse is net oor die moontlike oorsake van een van hierdie beserings uitgevra, nl., 'n swelling van die gesig. Die waarskynlike oorsaak hiervan sê hy, was "'n hou of twee deur die gesig". Dit kan miskien 'n aanduiding wees dat die oorledene 'n mate van aanmoediging nodig gehad het om die appellant te vergesel, maar die kneusings kon net so wel veroorsaak gewees het in die worsteling by die moordtoneel self. Al hierdie moontlikhede is egter grootliks spekulatief. Al wat 'n mens met 'n mate van oortuiging kan sê is dat dit taamlik onwaarskynlik voorkom dat die oorledene ernstige weerstand gebied het om saam met die

17

appellant oor die veld te stap.
Wanneer 'n mens by die gebeure op die moordtoneel self kom is daar ook nie juis groter sekerheid nie. Uit die feit dat die oorledene se broekie geskeur was kan 'n mens seker aflei dat die oorledene uit wans uit onwillig was om met die appellant se begeertes saam te gaan. Ons weet egter nie hoe nuut die broekie was nie - dit kon moontlik so verslete gewees het dat dit in die loop van 'n taamlik aktiewe hofmakery meegegee het. Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat die oorledene haar later teengesit het - dit blyk uit die getuienis van Qwabe dat sy eers geskree het, "Los my ! Los my !", en, by sy terugkeer, geluide gemaak het asof sy verwurg word. Dit is dan 'n redelike afleiding dat die appellant haar gewurg het sodat sy moes ophou skree, en moontlik ook om haar weerstand te bowe te kom. Prima facie lyk dit dus onwaarskynlik dat hy die positiewe oogmerk gehad het om haar te dood. Die verhoorhof se bevinding tot die teendeel berus hoofsaaklik op die mediese getuienis, en dit is nodig om dit nou nader te oorweeg.

18

Soos reeds gemeld, het dr. Pieterse die doodsoorsaak beskryf as "consistent with strangulation". Deur "strangulation" bedoel hy 'n afsluiting van die lugweë, hetsy met die hand of met 'n tou of band. Hy het die afleiding van verwurging gemaak uit sy bevindings dat daar stuwing van bloed in die longe en in die lewer van die oorledene was, en kneusing was van die nekstrukture. Hierdie stuwing word veroorsaak wanneer daar 'n hartstilstand plaasvind. Die hartstilstand kan om verskeie redes plaasvind, onder meer deur verwurging, maar dit kan ook ontstaan vanweë ander oorsake soos 'n skielike hartaanval.
In die onderhawige geval het die kneusing van die nekstrukture vir dr. Pieterse aangedui dat verwurging die oorsaak van die hartstilstand was. Onder kruisverhoor is hy daarop gewys dat daar geen krapmerke op die oorledene se nek was nie, en geen uitwendige kneusings nie. Ook was die hioïde-beentjie in die nek nie gebreek nie. Laasgenoemde het hy toegegee, is veral belangrik - baie regsgeneeskundiges meen dat verwurging met

19

die hande "gewoonlik of altyd" gepaard gaan met 'n fraktuur van die hioïde. Dr. Pieterse het dan ook toegegee dat "die dood van hierdie oorledene moontlik veroorsaak kon gewees het deur iets anders as 'n ... duim en vier vingers wat haar keel toeknyp".
Hy het verder toegegee dat drukking op die karotis-liggaam in die nek 'n skielike totale stilstand van die hárt kan veroorsaak.

Daarvoor is "redelike drukking" nodig. Dan volg hierdie

passasie :

"Maar u stem saam dat ons nie dan meer by 'n gewone
'strangling' of 'throttling' is nie ? - - - Nee, dis korrek, dit is net drukking op die nek dan."
In ondervraging deur een van die assessore het dr.

Pieterse weer sy oorspronklike mening herhaal dat die oorsaak van

dood waarskynlik "strangulation" was. Daar is verder hierop

uitgebrei soos volg:

"En hoe lank sou daar druk moes gewees het op die nekstrukture om die dood te veroorsaak? - - - Wel, basies kan die brein vier minute sonder suurstof klaarkom en daarna kan hy nie meer sonder suurstof klaarkom nie.
So vir hoe lank meen u daar moes druk gewees het op die nekstrukture om dood te veroorsaak voordat die dood

20

ingetree het? - - - Vier minute.
Vier minute? - - - Drie tot vier minute.
Is dit u mening? - - - Dis my mening.
En sou dit van tyd tot tyd gewees het of sou dit
aanhoudende? - - - Nee, dit moet aanhoudend wees.
Aanhoudend gewees het? - - - Ja, want élke keer wat u

kan asemhaal moet u nou weer van vooraf begin.

So met ander woorde as verwurging die oorsaak van die
dood is dan sal daar moet druk gewees het op die
nekstrukture vir minstens vier minute? - - Dis korrek
u edele.

Kon u volgens u observasie was daar enige ander oorsaak

van dood, enigiets anders wat die dood kon veroorsaak
het? - - - Niks wat ek kon kry nie.
Niks anders nie? - - - Niks volgens my opinie nie."
Die laaste twee antwoorde skyn teenstrydig te wees met

die moontlikheid wat Dr. Pieterse vroeër toegegee het dat die
oorledene se dood veroorsaak kon gewees het deur 'n skielike
hartversaking as gevolg van drukking op die karotis-liggaam. Die
verhoorhof het blykbaar hierdie teenstrydigheid uit die oog
verloor deur te bevind dat die verwurging van die oorledene
behels het dat haar asemhaling vir minstens vier minute
onderbreek moes gewees het. In die lig van haar geringe
beserings en die toegewings van Dr. Pieterse was daar na my
mening 'n redelike moontlikheid dat daar minder of korter

21

ononderbroke drukking in hierdie geval kon gewees het. En die feit dat die appellant self in sommige van sy verklarings die woord "verwurg" gebruik het (waaraan die verhoorhof ook gewig geheg het) voer myns insiens die saak nie veel verder nie -duidelik het hy die oorledene se dood veroorsaak deur haar nek met sy hande te druk, en die enigste vraag wat tans ter sprake is, is of hierdie drukking noodwendig 'n kwessie van minute ononderbroke moes voortgeduur het. Sy gebruik van die woord "verwurg" dra myns insiens nie by tot 'n beantwoording van hierdie vraag nie. Ten slotte het die verhoorhof vir sy bevinding dat daar dolus directus in hierdie geval was, staat gemaak op 'n
antwoord van die appellant gedurende kruisverhoor "that he knew perfectly well that interference with the deceased's breathing by pressure to her neck would result in her death." Die appellant se erkenning was egter meer beperk. Wat hy toegegee het, was dat as hy "lank genoeg" op haar keel druk, en sy "kan nie meer asem kry nie", sy sou doodgaan. Hy het egter voet by stuk gehou dat hy haar nie wou doodmaak nie. Natuurlik, sy eie

22

getuienis dra geen gewig nie. Gesien egter die onwaarskynlikheid dat die appellant die vrou sou wou doodmaak by wie hy een of ander vorm van seksuele bevrediging gesoek het, asook die aard van haar beserings, en die mediese getuienis daaromtrent, meen ek dat daar minstens 'n redelike moontlikheid is dat die appellant nie direkte opset gehad het om haar te dood nie, maar slegs dolus eventualis. Onder die omstandighede van hierdie saak meen ek dat dit 'n strafversagtende faktor is.
As ek dus opsom: dit blyk dat die oorledene waarskynlik redelik vrywillig saam met die appellant oor die veld gestap het. Daar het hy toenadering gesoek. Sy was onwillig, en hy het 'n mate van geweld gebruik om haar stil te maak en haar weerstand te bowe te kom. Sy oogmerk was nie verkragting nie, want hy was nie in staat daartoe nie, maar 'n mindere vorm van geslagsbevrediging. Die moontlikheid bestaan dat sy in die loop van die struweling skielik beswyk het, en dat hy nie die direkte opset gehad het om te dood nie. Aldus gesien was die omstandighede van die moord in hierdie geval heelwat minder

23

ernstig as in baie gevalle wat daagliks voor ons dien.
'n Ernstige strafverswarende faktor is egter die appellant se rekord. Hy het 'n reeks vorige veroordelings wat strek vanaf 1956 tot 1981. Die enigste skuldigbevinding vir 'n geweldsmisdaad was in 1960 toe hy weens verkragting gevonnis is tot gevangenisstraf vir korrektiewe opleiding. Hy het egter altesame elf veroordelings vir diefstal of huisbraak, en sedert April 1960 het hy in totaal ongeveer 23 jaar agter tralies deurgebring. Trouens, hy is op parool uitgelaat op 23 Desember 1987, ongeveer 'n week voordat hy die huidige oortreding gepleeg het. Daar kan dus geen realistiese verwagting wees dat hy deur verdere gevangenisstraf gerehabiliteer sal word nie.
As 'n mens al die faktore wat relevant by vonnisoplegging is, saamneem, bring dit my tot die volgende slotsom. Ek meen nie dat die misdaad self so afskuwelik is dat die gemeenskapsbelang noodwendig die dood van die appellant verg as die enigste afskrikkingsmiddel of as vergelding vir sy misdaad nie. Aan die ander kant lyk die appellant nie rehabiliteerbaar

24

nie, en is die samelewing geregtig om teen hom beskerm te word. Die aangewese vorm van straf is gevolglik lewenslange gevangenisstraf (sien S v Mdau 1991(1) SA 169 (A) op bl. 177 B-D) en daar is geen faktore wat so 'n straf ongewens maak nie -daar is geen aanduiding dat die appellant in die verlede 'n gevaar vir ander gevangenes was, of dat hy ooit probeer ontsnap het nie. Tans is hy uiteraard nie meer 'n jong man nie (dit lei ek af uit sy rekord - sy ware ouderdom word nie aangegee nie) en hy het sedert die pleging van hierdie misdaad 'n been verloor. Hy behoort dus geen gevaar vir enige seksie van die bevolking te wees solank hy in die gevangenis aangehou word nie.

Gevolglik word die volgende bevel uitgereik:

a) Die appèl teen die skuldigbevindinge word afgewys.

b) Die appèl teen die doodvonnis op die eerste aanklag
slaag, en die vonnis word vervang met lewenslange
gevangenisstraf.
c) Die appèl teen die vonnis op die tweede aanklag word
afgewys.

E M GROSSKOPF, AR EKSTEEN AR

EKSTEEN, AR STEM SAAM

F H GROSSKOPF, AR