South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1991 >>
[1991] ZASCA 50
| Noteup
| LawCite
S v Ndinisa en Andere (214/90, 363/90) [1991] ZASCA 50 (14 May 1991)
Download original files |
Saak nommer 214/90 en 363/90
E du P IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
JEREMIAH NDINISA Eerste Appellant
GEORGE MOTUBATSE Tweede
Appellant
LEONARD KHUMALO Derde Appellant
JOHNSON
MATSILIKITI Vierde Appellant
JOHN MTSALE Vyfde Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: CORBETT HR, VIVIER et F H GROSSKOPF ARR.
Verhoordatum: Leweringsdatum:
1 Maart 1991. 14 Mei 1991
2
UITSPRAAK F H GROSSROPF AR:
Die vyf appellante was respektiewelik
beskuldigdes 2, 3, 4, 5 en 1 in die hof a quo. Vir doeleindes van gerief,
en ten einde verwarring te voorkom, sal ek gewoonlik na die appellante volgens
hulle beskrywing in die
hof a quo verwys. Waar dit nodig mag wees, sal
die betrokke appellant se naam duidelikheidshalwe bygevoeg word.
Die vyf
beskuldigdes het in die hof a quo tereggestaan op 'n aanklag van moord en
'n aanklag van roof met verswarende omstandighede. Met die uitsondering van
beskuldigde 1,
wat op die aanklag van roof skuldig gepleit het, het die
beskuldigdes verder onskuldig gepleit op hierdie aanklagte. Al vyf die
beskuldigdes
is aan beide die moord en die roof skuldig bevind. Die hof a
quo het bevind dat daar geen versagtende omstandighede by die pleging van
die moord aanwesig was nie en het gevolglik al vyf die beskuldigdes
die
doodvonnis vir die moord opgelê. Beskuldigdes 1 en 3 is ook
3
vir die roof die doodvonnis opgelê, terwyl beskuldigdes 2, 4 en 5
respektiewelik tot 12 jaar, 12 jaar en 15 jaar gevangenisstraf
vir die roof
gevonnis is. Beskuldigdes 1 en 3 is ook skuldig bevind aan die onwettige besit
van vuurwapens en ammunisie, maar vir
doeleindes van hierdie appèl is dit
nie verder ter sake nie.
Die beskuldigdes appelleer met verlof van hierdie
hof teen sekere van die skuldigbevindings en vonnisse. Daar is aan al vyf die
beskuldigdes
verlof verleen om te appelleer teen hulle skuldigbevindings op die
moordklag, teen die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede
aanwesig
was nie, en teen die doodvonnis wat elkeen van hulle op die moordklag
opgelê is. Beskuldigdes 2 en 4 het verlof gekry
om teen hulle
skuldigbevindings op die roofklag te appelleer, en beskuldigdes 1, 2, 3 en 4 het
verlof gekry om teen hulle vonnisse
op die roofklag te appelleer.
Omstreeks 08:00 op 24 September 1986 is daar 'n bedrag van R43 772 (saamgestel uit R27 101 in kontant en
4
R16 671 by wyse van tjeks) by 'n besigheid bekend as Highveld Bottling Company ("Highveld Bottling") net buite Witbank geroof. Gedurende die roof is daar skote met 'n vuurwapen afgevuur en is die bestuurder van Highveld Bottling, mnr Burrows ("die oorledene"), noodlottig getref. Die oorledene was ten tyde van sy dood 69 jaar oud. Hierdie feite is nie in geskil nie, maar beskuldigde 2 en beskuldigde 4 het ontken dat hulle hoegenaamd by hierdie gebeure betrokke was. Beskuldigdes 1, 3 en 5 het egter in die loop van hulle getuienis erken dat hulle aan die roof deelgeneem het, en beskuldigdes 1 en 3 het verder erken dat hulle betrokke was by 'n aanval op die oorledene.
Dit was die gebruik by Highveld Bottling om elke oggend die bedrae geld wat die vorige dag deur Highveld Bottling se vragmotorbestuurders by kliënte ingevorder en by die kantoor inbetaal was, te kontroleer en te bank. Die geld was oornag in 'n kluis binne in 'n brandkamer in die kantoorgebou op die perseel gebêre en die volgende more onder
5
toesig van die oorledene en ander werknemers van Highveld Bottling nagegaan
en in 'n leersak geplaas. Die leersak met geld is dan
deur 'n
sekuriteitsmaatskappy by Highveld Bottling gehaal en na die bank
vervoer.
Ongeveer 08:00 die oggend van 24 September 1986 het die oorledene en
'n damesklerk, mev Doubell, en 'n
sekuriteitsbeampte in diens van Highveld
Bottling, mnr Nkadimeng, die vorige dag se inbetalings op die gebruiklike wyse
nagegaan en
die geld in die leersak gepak. Daarna het hulle die brandkamer
verlaat en deur die aangrensende kantoor na die buitedeur beweeg.
Die oorledene
het 'n 9mm pistool aan sy lyfband gedra, maar mnr Nkadimeng en mev Doubell was
ongewapen gewees. Die oorledene het
voor geloop, gevolg deur Nkadimeng met die
leersak met geld. Mev Doubell het agter geloop. Toe die oorledene die deur wat
na buite
lei oopmaak, is hulle gekonfronteer deur twee vreemde mans wie se
gesigte gedeeltelik deur balaklawa musse bedek was. Al wat Nkadimeng
gehoor het,
was dat hulle "money" gesê het.
6
Een van daardie mans het die oorledene gegryp terwyl die ander een 'n
vuurwapen op Nkadimeng gerig het en die leersak by hom af geneem
het. Nkadimeng
en Doubell het in die kantoor teruggespring en die deur toegemaak, maar die
oorledene is saam met die twee aanvallers
na buite. Daar was 'n lawaai buite en
skote van 'n vuurwapen het geklap. Nkadimeng het iemand buitekant hoor sê,
"catch him,
catch him". Nkadimeng is kort daarna na buite. Hy het die oorledene
voor die kantoordeur op die stoep sien lê. Hy het verder
gesien dat twee
persone, een met die leersak, die perseel deur die veiligheidshek verlaat. Die
voorgaande getuienis is nie in enige
wesenlike opsig tydens kruisondervraging
deur die beskuldigdes betwis nie.
Mev Vorster was toevallig daardie oggend op
die perseel nadat sy 'n pakkie daar afgelewer het. Terwyl sy nog binne die
perseel in
haar motor was, en voordat sy deur die veiligheidshek kon beweeg, het
sy sekere gebeure by die veiligheidshek en voor die kantoordeur
sien
afspeel.
7
Volgens mev Vorster het sy gesien dat drie mans die perseel deur die
veiligheidshek binnekom. Een van hulle het 'n veiligheidswag
by die hek met 'n
vuurwapen aangehou, terwyl die ander twee die perseel verder binnegeloop het.
Mev Vorster het ook getuig van 'n
vierde man wat by die veiligheidshek was. Dit
is moontlik dat dit die ander sekuriteitsbeampte was wat saam met die hekwag,
mnr Mdluli,
by die hek diens gedoen het. Sy het verder gesien dat die twee mans
wat verby die veiligheidshek in die perseel inbeweeg het, 'n
blanke man voor die
kantoordeur gegryp het. Dit blyk dat dit die oorledene was. Volgens haar
waarnemings het die oorledene en sy
twee aanvallers om die besit van 'n
sak
gestoei. Mev Vorster het toe gesien hoe een van die twee aanvallers die
oorledene meer as eenmaal met 'n mes steek terwyl die
oorledene nog in 'n
staande posisie was. Kort daarna het mev Vorster sekere skote gehoor, maar as
gevolg van skok, en omdat sy met
haar motor verder agteruit beweeg het, het sy
nie waargeneem wat daarna gebeur het nie.
8
Mev Vorster se getuienis is in alle wesenlike opsigte deur die getuie,
Mdluli, bevestig. Volgens mnr Mdluli het hy daardie oggend
omstreeks 08:00 as
sekuriteitswag by die veiligheidshek diens gedoen. Hy het getuig dat daar drie
ongemagtigde persone deur die veiligheidshek
beweeg het en dat een van hulle vir
hom en sy kollega by die hek met 'n
vuurwapen aangehou het. Die ander twee
het die perseel binnegegaan. Nadat Mdluli sekere klapgeluide gehoor het, het hy
gesien dat
die drie ongemagtigde persone na 'n rooi motor met 'n swart dak buite
die perseel hardloop. Die rooi motor het nader gery, die drie
het ingespring en
die voertuig het weggery.
Die weergawes van mev Vorster en mnr Mdluli is in breë trekke deur beskuldigdes 1, 3 en 5 bevestig, altans vir sover dit die besondere optrede van elkeen van hulle betref. Dit blýk uit die getuienis van beskuldigdes 1 en 3 dat hulle inderdaad die twee mans was wat die perseel van Highveld Bottling daardie oggend betree het nadat hulle sonder
9
magtiging deur die veiligheidshek beweeg het. Volgens hulle eie getuienis was hulle die twee mans wat die oorledene by die kantoordeur gekonfronteer het. Beskuldigde 1 erken trouens dat dit hy was wat die oorledene met 'n mes gesteek het, maar hy ontken mev Vorster se getuienis dat die oorledene toe nog in 'n staande posisie was, of dat hy hom meer as een maal gesteek het. Beskuldigde 1 ontken ook dat die oorledene en hulle twee om die besit van die geldsak gestoei het net voordat hy die oorledene met die mes gesteek het. Beskuldigde 3 erken op sy beurt dat daar pistoolskote afgevuur is, maar volgens sy weergawe het die oorledene die vuurwapen vasgehou en het die oorledene self die sneller getrek nadat beskuldigde 3 daarin geslaag het om die loop van die vuurwapen van homself af weg te draai. Dit blyk verder uit beskuldigde 5 se eie getuienis dat hy die persoon was wat die hekwagte by die veiligheidshek met 'n vuurwapen aangehou het terwyl beskuldigdes 1 en 3 die perseel binnegegaan het. Die besondere rol wat elkeen van hierdie beskuldigdes by die
10
pleging van die moord en die roof gespeel het, sal later bespreek
word.
Beskuldigde 2 ontken dat hy die persoon was wat die rooi Cortina motor
("die rooi Cortina") bestuur het waarin beskuldigdes 1, 3 en
5 van die toneel
van die misdaad ontsnap het. Hoewel beskuldigdes 1, 2 en 5 almal getuig dat dit
wel so was, behoort daar na my mening
in hierdie saak nie op die getuienis van
mede-beskuldigdes gesteun te word om 'nh ander mede-beskuldigde by die pleging
van die misdade
te betrek nie. Die verhoorhof het bevind dat die beskuldigdes
almal ongeloofwaardige getuies was, en na my mening behoort daar nie
op hulle
getuienis staatgemaak te word nie, behalwe vir sover hulle hulself impliseer, of
omdat dit andersins geloofwaardig is. Afgesien
van sy mede-beskúldigdes
is daar egter ander geloofwaardige getuies wat beskuldigde 2 as die bestuurder
van die rooi Cortina
identifiseer. Volgens Mdluli se getuienis is die drie mans,
wat blyk beskuldigdes 1, 3 en 5 te wees, omstreeks 08:00 die oggend deur
'n rooi
motor
11
opgelaai en het hulle in daardie motor van die toneel van die misdaad af
weggery. Ongeveer daardie tyd het 'n rooi Cortina
'n paar kilometer
daarvandaan op die N4-snelweg teen 'n hoë spoed by twee provinsiale
verkeersinspekteurs verbygejaag. Dit was
klaarblyklik dieselfde motor wat Mdluli
gesien het. Die verkeersinspekteurs het die rooi Cortina gevolg en gemerk dat
dit daarna
by 'n afrit agter 'n silwer-grys Alfa Romeo motor ("die silwer Alfa")
stilhou. Sekere van die insittendes van die rooi Cortina het
oorgeklim in die
silver Alfa wat daarna weggery het. Die verkeersinspekteurs het 'n
vermoede
gehad dat die rooi Cortina 'n gesteelde voertuig was en hulle het langs daardie
voertuig stilgehou. Die enjin van die rooi
Cortina het nog geluier en die
bestuurder van die motor het nog agter die stuurwiel gesit. Dit was beskuldigde
2 gewees. Die linkerdeur
van die rooi Cortina het oopgestaan en daar het 'n
ander man aan die linkerkant van die voertuig gestaan. Volgens beskuldigde 5 se
getuienis was dit hy gewees. Nadat die verkeersinspekteurs vasgestel het dat
daar
12
met die rooi Cortina se enjinnommer gepeuter was, het hulle beskuldigde 2
gearresteer en na die aanklagkantoor in Witbank geneem.
Beskuldigde 2 se
vingerafdruk is later op die bagasiebak van die rooi Cortina gevind. Dit is ook
duidelik dat dit slegs beskuldigde
2 kon gewees het wat die polisie ingelig het
dat die silwer Alfa op pad na Tembisa was. Beskuldigdes 1 en 3 is trouens
daardie selfde
middag in die silwer Alfa in Tembisa deur die polisie
gearresteer.
Dit staan vas dat beskuldigde 2 by die rooi Cortina gearresteer
is. Hy verduidelik sy teenwoordigheid op daardie plek soos volg. Hy
was 'n
ryloper van Nelspruit op pad na Johannesburg. 'n Vragmotor het hom naby die
betrokke afrit afgelaai. Toe hy die rooi Cortina
by die afrit sien stilhou, het
hy nader gehardloop om te vra of hy mag saamry na Johannesburg toe. Volgens hom
het daar mense uit
die rooi Cortina geklim en in 'n wit motor daar weggery. Daar
het egter een persoon by die rooi Cortina agtergebly, en hy het daardie
persoon
gevra of hy mag saamry. Verkeersinspekteurs
13
het toe daar opgedaag en hom gevra hoekom die motor daar staan. Hy het hulle
na die ander persoon verwys, maar hulle het hom vasgegryp
en rondgeruk. Toe hy
die hulp van die ander persoon as tolk wou inroep, het dit geblyk dat daardie
persoon intussen reeds verdwyn
het. Die verkeersbeamptes het hom forseer om die
bagasiebak van die rooi Cortina oop te maak, en so het sy vingerafdruk daar
beland.
Hy is daarna gearresteer en na die aanklagkantoor in Witbank
geneem.
Beskuldigde 2 se weergawe is vergesog en ek stem met respek saam met
die verhoorhof dat hy 'n onbetroubare en ongeloofwaardige getuie
was. Hy was
klaarblyklik die bestuurder van die rooi Cortina daardie dag, wat meebring dat
hy deel van die roofbende uitgemaak het.
Beskuldigde 2 se advokaat het tydens sy
betoog in hierdie hof toegegee dat die getuienis duidelik aantoon dat
beskuldigde 2 die bestuurder
van die rooi Cortina was. Na my mening was dit 'n
realistiese benadering, en was die toegewing ook heeltemal tereg gemaak.
Beskuldigde 4 was die enigste van die vyf
14
beskuldigdes wat in Witbank gewoon en gewerk het. Hy het ontken dat hy enige
van die ander beskuldigdes voorheen geken het, en hy
het deurgaans betwis dat hy
by die pleging van die misdade betrokke was.
Die hof a quo het bevind
dat beskuldigde 4 die silwer Alfa bestuur het en dat hy sodoende aan die optrede
van die roofbende deelgeneem het. Beskuldigdes
1 en 5 het bevestig dat
beskuldigde 4 daardie rol gespeel het, maar beskuldigde 3 het getuig dat 'n
sekere Dan die silwer Alfa bestuur
het en dat beskuldigde 4 niks met die hele
saak te doen gehad het nie. Soos reeds voorheen gemeld, is die getuienis van die
beskuldigdes
egter so onbetroubaar dat dit nie tot die voor- of nadeel van 'n
mede-beskuldigde aangewend behoort te word nie.
Die getuienis wat toon dat beskuldigde 4 die bestuurder van die silwer Alfa was, is kortliks die volgende. Kort voor 08:00 die betrokke oggend, en 'n tydjie voordat die rooi Cortina by hulle verbygejaag het, het die twee
15
verkeersinspekteurs, mnre Botha en Le Roux, diens op die N4r
snelweg buite
Witbank verrig. Hulle het die silwer Alfa diá
eerste maal opgemerk
waar dit op die strook tussen die twee
rylane van die snelweg geparkeer
gestaan het. Hulle het
stilgehou by die silwer Alfa en Botha het die
bestuurder
daarop gewys dat hy nie op 'n deurpad mag stilhou nie.
Botha
het sekere besonderhede van die bestuurder verkry en h
dagvaarding
vir die oortreding aan hom uitgereik. Die
besonderhede op die dagvaarding
toon onder andere aan dat die
bestuurder sy naam as Leonard Khumalo opgegee
het.
Beskuldigde 4 het getuig dat sy vriende hom as Mandla ken, en
dat hy
die naam Leonard net by "belangrike sake" soos by sy
werk gebruik. Wat sy
besigheidsadres betref het die
bestuurder die volgende besonderhede aan Botha
verstrek:
"Besigheidsadres: Highveld Steel, Witbank.
(Frans Papenfus)
Beroep of status: Operateur."
Die staat het mnr Papenfus as getuie geroep, maar die verteenwoordiger van die staat het geag dat dit in belang van
16
reg en geregtigheid sal wees indien hy nie vooraf met mnr Papenfus konsulteer
nie. Papenfus het getuig dat hy in 1986 as skofvoorman
by 'n onderafdeling van
Highveld Steel gewerk het en dat hy vir, beskuldigde 4 sedert daardie tyd ken.
Beskuldigde 4 was 'n sogenaamde
"operateur" wat minstens twee keer per week
onder sy toesig en saam met hom op 'n skof gewerk het. Papenfus het hom as
Leonard geken,
maar sy van vergeet. Papenfus het beskuldigde 4 se bewering dat
hy 'n
leerling-hyskraandrywer was, ontken, en bygevoeg dat hulle nie
hyskrane by daardie afdeling gehad het nie.
Beskuldigde 4 het in die loop van
sy getuienis aan die hand gedoen dat die bestuurder van die silwer Alfa hom moes
geken het en toe
valslik sy besonderhede aan Botha verstrek het. Na my mening is
dit vergesog. Dit is hoogs onwaarskynlik dat so 'n denkbeeldige bestuurder
wat
onverwags sy besonderhede aan 'n verkeersinspekteur moet verskaf, op die
ingewing van die oomblik die korrekte besonderhede in
verband met beskuldigde 4
se werk sou kon verstrek het.
17
Daarby sou hierdie denkbeeldige bestuurder ook nog moes geweet het dat
beskuldigde 4 se offisiele naam Leonard is, en nie Mandla soos
hy algemeen onder
sy vriende bekendstaan nie. Indien so 'n denkbeeldige bestuurder al beskuldigde
4 se ander besonderhede geken het,
is dit vreemd dat hy nie beskuldigde 4 se
korrekte woonadres geken het nie.
Die hof a quo het heelwat gewig
geheg aan Botha se uitkenning van beskuldigde 4 as die bestuurder van die silwer
Alfa, veral ook omdat Botha na
twee besondere kenmerke van beskuldigde 4 verwys
het, nl sy onderlip wat effens uitstaan en die feit dat hy 'n sekere goue oorbel
aan sy linkeroor dra. Die redes wat Botha vir sy uitkenning verstrek het, is na
my mening egter nie baie oortuigend nie.
Aangesien daar 'n verwisseling van ondersoekbeamptes in die saak was, is daar nooit 'n behoorlike uitkenningsparade gehou nie. Botha het beskuldigde 4 slegs onder vyf beskuldigdes in die hof uitgeken. Dit was sekerlik nie 'n
baie betroubare uitkenning nie. Daarbenewens was Botha
18
aanvanklik onseker of beskuldigde 4 inderdaad die persoon was
aan wie hy
op 24 September 1986, en byna tien maande tevore,
die dagvaardiging uitgereik
het. Botha het getuig:
"Dit lyk soos nr. 4 .... Dit is lank terug wat dit
gebeur het en ek het die man net vir 'n kort tydjie gesien. Dit kan vir my lyk of dit hy kan wees."
Tydens kruisondervraging het
Botha egter met veel meer
oortuiging getuig dat dit wel beskuldigde 4
was:
"Dit is hy .... Ek is seker .... Ek sê dit was nr.
4 .... Ek stel dit aan die hof dat dit definitief
nr. 4 is."
Alhoewel die uitkenning van beskuldigde 4
deur Botha opsigselfstaande ontoereikend is, moet daar na my oordeel tog 'n
sekere gewig
aan sy uitkenning geheg word.
Die besonderhede met betrekking
tot sy werk wat die persoon in die silwer Alfa destyds aan Botha verstrek het,
was na my mening presies
korrek gewees. Die enigste redelike afleiding wat
daarvan gemaak kan word, is dat dit beskuldigde 4 self moes gewees het wat
daardie
inligting verskaf het. Beskuldigde 4 het tydens kruisondervraging
van
19
Papenfus en in die loop van sy eie getuienis valslik probeer aantoon dat hy
inderdaad 'n leerling-hyskraanbestuurder was. Na my mening
was dit 'n poging om
die betroubaarheid van die besonderhede op die dagvaarding in twyfel te
trek.
Na my oordeel is daar dus wel voldoende getuienis voorgelê om te
bevind dat beskuldigde 4 die persoon was wat langs die snelweg
in die silwer
Alfa vir die ander beskuldigdes gewag het, en dat hy inderdaad vir beskuldigdes
1 en 3 by die afrit in die silwer Alfa
opgelaai het.
Vervolgens wil ek handel
met die besondere rol wat die verskillende
appellante by die pleging van die misdade gespeel het. Eerstens is daar
beskuldigdes 1 en 3.
Beskuldigde 1 het op sy eie weergawe saam met beskuldigdes 2, 3 en 5 van Tembisa na Witbank gereis om as 'n bende 'n roof te gaan pleeg. By die plek van die beoogde roof aangekom, het hulle gevind dat daar te veel mense op die toneel teenwoordig was toe die geld afgelewer is. Volgens beskuldigde 1 het hulle toe die plan laat vaar aangesien dit
20
nie "maklike geld" sou wees nie, en daar moontlik mense beseer kon word. Na
my mening is dit meer waarskynlik dat hulle die eerste
plan laat vaar het omdat
hulle vir hulle eie veiligheid gevrees het.
Daarna is Highveld Bottling aan
hulle uitgewys as 'n sogenaamde "maklike plek" om 'n roof te pleeg. Daardie roof
is toe behoorlik
beplan. Beskuldigde 5 moes die hekwagte met sy rewolwer aanhou
terwyl beskuldigdes 1 en 3 die roof sou uitvoer. Beskuldigdes 1 en
3 het beide
gelaaide vuurwapens gehad terwyl beskuldigde 1 ook nog 'n mes saamgeneem het.
Beskuldigde 2 moes buite die perseel in
die rooi Cortina wag om hulle weg te ry,
terwyl beskuldigde 4 langs die snelweg moes wag sodat hulle van voertuig kon
verwissel.
Beskuldigde 1 het getuig dat hulle vooraf afgespreek het dat hulle nie mense gaan doodmaak nie, en dat hulle die wapens saamneem slegs om hulle slagoffers mee skrik te maak. Toe die geleentheid hom voordoen, het beskuldigde 1
21
egter nie die daad by die woord gevoeg nie, maar het hy die oorledene sonder waarskuwing 'n potensieel dodelike steekwond toegedien.
Beskuldigde 3 was volgens sy eie getuienis ook 'n
lid van die roofbende wat van Tembisa na Witbank
in die rooi Cortina en die silwer Alfa gereis het. Hy het 'n 9 mm Star pistool
met
patrone saamgeneem. Hy het ook getuig van die beweerde ooreenkoms
waarvolgens hulle nie die vuurwapens sou gebruik nie, behalwe om
mense mee skrik
te maak deur bv in die lug of deur 'n venster te skiet. Beskuldigde 3 het getuig
dat hy sou weghardloop as die slagoffer
hom sou aanval. Die werklikheid is egter
dat die oorledene doodgeskiet is toe hy hom enigsins wou verset
het.
Beskuldigde 1 se weergawe van die roof is kortliks die volgende. Hy het
die oorledene, 'n swart man (Nkadimeng) en 'n blanke vrou
(Doubell) by die gebou
sien uitkom en hy het sy vuurwapen op hulle gerig. Die oorledene het sy hande in
die lug gesteek, maar die
blanke vrou en die swart man wat
22
die sak gedra het, het weggehardloop. Volgens beskuldigde 1 het hy die man met die sak gejaag en later die sak by hom afgeneem. Toe hy weer in die rigting van beskuldigde 3 kyk, sien hy dat die oorledene op die grond lê en dat beskuldigde 3 oor hom buk en met hom stoei. Beskuldigde 3 het hom toe geroep om te kom help. Volgens beskuldigde 1 het hy die geldsak neergesit, sy vuurwapen in sy sak gesteek en nader gegaan. Toe hy by hulle kom, het hy 'n skoot gehoor. Hy het gemerk dat die oorledene en beskuldigde 3 nog stoei en dat die oorledene 'n vuurwapen in sy hand hou. Beskuldigde 1 het sy mes uitgehaal en probeer om die oorledene se hand, waarin hy die vuurwapen gehou het, met die mes raak te steek. Die oorledene het egter sy hand van die een kant na die ander kant beweeg en beskuldigde 1 het weer 'n skoot gehoor. Beskuldigde 1 het sy oë toegemaak en blindelings gesteek. Daarna het hy die sak opgetel en saam met beskuldigde 3 in die rigting van die veiligheidshek gehardloop.
Beskuldigde 1 se getuienis dat hy Nkadimeng gejaag
23
het en toe die geldsak by hom afgevat het, strook nie met die getuienis van
Doubell en Nkadimeng nie. Sy getuienis dat hy die geldsak
neergesit het en dat
hy die oorledene gesteek het terwyl hy op die grond gelê het, verskil weer
in wesenlike opsigte van mev
Vorster se getuienis.
Beskuldigde 1 se weergawe
omtrent die gestoei met die oorledene klop ook nie met beskuldigde 3 se weergawe
nie. Volgens beskuldigde
3 se getuienis van die gebeure daardie oggend, het hy
die oorledene, 'n swart man (Nkadimeng) en 'n
blanke vrou (Doubell) by die
deur van die gebou sien uitkom. Beskuldigde 3 het sy vuurwapen op die oorledene
gerig en die oorledene
het sy hande in die lug gesteek. Beskuldigde 3 het toe
opgemerk dat daar 'n vuurwapen voor onder die oorledene se broek uitsteek.
Hy
het dit nie verwag nie en het geskrik. Beskuldigde 3 het sy hand uitgesteek om
die oorledene se vuurwapen te vat en hy het sy
ander hand met sy eie vuurwapen
laat sak. Die oorledene het hom toe op sy linkerhand geskop. Dit was die hand
waarin hy sy eie vuurwapen
gehou het.
24
Beskuldigde 3 het daarin geslaag om die oorledene se vuurwapen te gryp, maar terselfdertyd het 'n skoot van beskuldigde 3 se eie vuurwapen afgegaan (wat terloops daarop dui dat sy vuurwapen 'n patroon in die loop gehad het). Beskuldigde 3 se eie vuurwapen het toe op die grond geval, maar hy het die oorledene se vuurwapen gehad en dit onder sy broek by sy heup ingesteek. Terwyl hy besig was om dit te doen, het die oorledene gehardloop na waar beskuldigde 3 se vuurwapen geval het. Toe die oorledene sy hand op beskuldigde 3 se pistool plaas, het beskuldigde 3 nader gestorm en ook die pistool vasgegryp. Die oorledene het die pistool aan sy kolf vasgehou. Beskuldigde 3 het hom gepootjie en die oorledene het geval. Die oorledene het egter probeer om die pistool se loop in die rigting van beskuldigde 3 te draai. Beskuldigde 3 het vir beskuldigde 1 geroep om hom te kom help. Toe beskuldigde 1 op die toneel kom, was beskuldigde 3 en die oorledene nog besig om oor die besit van die vuurwapen te stoei. Twee skote het vinnig na
25
mekaar afgegaan. Volgens beskuldigde 3 was dit die oorledene wat self die
sneller getrek het. Daarna het beskuldigde 3 die vuurwapen
by die oorledene
afgeneem en na die wagtende motor gehardloop. Beskuldigde 3 maak geen melding
van enige hulp wat beskuldigde 1 hom
gebied het, of van enige steekwonde wat
beskuldigde 1 vir die oorledene met die mes toegedien het nie. Beskuldigde 3
getuig trouens
later tydens kruisondervraging dat hy nie kan onthou op watter
stadium beskuldigde 1 daar aangekom het nie, en dat hy ook nie gesien
het dat
beskuldigde 1 die oorledene steek nie.
Dit is 'n merkwaardige verhaal wat
beskuldigde 3 vertel het, veral as dit in gedagte gehou word dat die oorledene
69 jaar oud was.
Beskuldigde 3 moes natuurlik verduidelik hoe dit gekom het dat
nie een van die drie skote deur die oorledene se eie 9 mm Astra pistool
afgevuur
was nie. Die drie 9 mm doppies wat op die toneel opgetel is, was trouens almal
deur beskuldigde 3 se 9 mm Star pistool afgevuur.
Vandaar die ongelooflike
verhaal van hoe die
26
oorledene beskuldigde 3 se pistool uit sy hand geskop het, dit opgetel het en
homself toe daarmee geskiet het.
Die distriksgeneesheer wat die
regsgeneeskundige lykskouing uitgevoer het, het die oorsaak van dood in sy
verslag beskryf as "skok
as gevolg van bloedverlies as gevolg van skietwonde
(in) bors". Beide skietwonde was in die oorledene se linkerbors. Die
distriksgeneesheer
het die een skietwond as noodlottig en die ander een as
potensieel noodlottig beskryf. Die strekking van beide hierdie skietwonde
het
getoon dat die vuurwapen so te sê reghoekig met die oorledene se liggaam
gehou was toe die skote afgevuur is. In beide
gevalle is die skote op kort
afstand afgevuur. Teen daardie agtergrond is dit hoogs onwaarskynlik dat die
oorledene homself in die
loop van die beweerde stoeiery sulke skietwonde sou kon
toegedien het.
Die waarskynlikste weergawe, myns insiens, is diè van mev Vorster, nl dat die oorledene en die twee beskuldigdes om die besit van die geldsak gestoei het, dat
27
beskuldigde 1 toe die oorledene met die mes gesteek het en dat skote eers daarna afgevuur is. Hoe dit ook al sy, op beskuldigde 1 se eie weergawe het hy die oorledene blindelings met 'n groot mes gesteek ten einde die oorhand oor die oorledene te kry, en om sy weerstand te oorkom. Die steekwond het tot in die oorledene se linkerlong gestrek en was volgens die distrikgeneesheer 'n potensieel dodelike wond. Dit was doelbewus toegedien. Hoewel die verhoorhof bevind het dat daar slegs dolus eventualis aanwesig was, bestaan daar na my oordeel nie twyfel dat beskuldigde 1 die direkte opset gehad het om die oorledene te dood nie. Beskuldigde 1 is dus sonder twyfel skuldig aan moord. Daar is nie verlof aan beskuldigde 1 verleen om teen sy skuldigbevinding op die roofklag te appelleer nie. Hy het trouens op die roofklag skuldig gepleit.
Beskuldigde 3 se weergawe is deur die verhoorhof verwerp. Na my oordeel is dit duidelik dat hy die oorledene twee maal geskiet het met die direkte opset om hom te dood. Daar kan dus ook in sy geval geen twyfel bestaan dat hy aan
28
moord skuldig is nie. Beskuldigde 3 het ook nie verlof om teen sy
skuldigbevinding op die roofklag te appelleer nie.
Beskuldigdes 2, 4 en 5 het
klaarblyklik almal aan die beplanning van die roof deelgeneem. Aan elkeen van
hulle is daar 'n spesifieke
belangrike taak toevertrou wat ook uitgevoer is.
Beskuldigde 2 het buite die perseel van Highveld Bottling in die rooi Cortina
gewag
om beskuldigde 1, 3 en 5 vanaf die toneel van die roof na die wagtende
silwer Alfa te vervoer. Beskuldigde 4 het langs die snelweg
in die silwer Alfa
gewag sodat beskuldigdes 1 en 3 die geld kon neem en van voertuig kon verwissel
voordat hulle na Tembisa vertrek.
Beskuldigde 5 het die sekuriteitswagte by die
veiligheidshek van Highveld Steel met sy .38 Special rewolwer aangehou terwyl
beskuldigdes
1 en 3 die roof uitgevoer het.
Die vier beskuldigdes wat saam
vanaf Tembisa na Witbank gery het, was almal daarvan bewus dat beskuldigdes 1, 3
en 5 vuurwapens met
patrone by hulle gehad het, en dat beskuldigde 2 'n
speelgoed rewolwer saamgeneem het.
29
Beskuldigde 1 het ook die groot mes gedra. Beskuldigde 4 was die plaaslike
lid van die bende. Die roof wat aanvanklik beplan was,
sou juis by beskuldigde 4
se werkplek uitgevoer gewees het. Daar was egter 'n oormag waarteen hulle nie
opgewasse was nie, en dit
het die bende afgeskrik . Dit is ondenkbaar dat die
bende se beskikbare wapens nie bespreek sou gewees het nie. Daar is in ieder
geval op advies van beskuldigde 4 se vriend, Dan, besluit dat Highveld Bottling
'n minder gevaarlike teiken sou wees. Die bewering
dat daar 'n
ooreenkoms
deur die lede van die bende aangegaan was dat hulle die wapens slegs as
afskrikmiddels sou aanwend, is onder die omstandghede
so vergesog dat dit
verwerp moet word. Daar is slegs aan beskuldigdes 2 en 4 verlof verleen om teen
hulle skuldigbevindings op die
roofklag te appelleer, maar nadat dit eenmaal
vasstaan dat hulle wel by die pleging van die misdade betrokke was, is daar geen
twyfel
dat hulle tereg aan roof skuldig bevind is nie. Ek stem dus met respek
saam met die verhoorhof se bevinding dat die
30
beskuldigdes 'n gemeenskaplike oogmerk om te roof gehad het. Al die
beskuldigdes het besef dat iemand in die loop van die uitvoering
van hulle
roofplanne moontlik gedood kan word, maar hulle het hulle daarmee versoen. In
die omstandighede het beskuldigdes 2, 4 en
5 die nodige opset by
moontlikheidsbewussyn gehad en is hulle almal aan moord skuldig. (Kyk: S v
Malinga and Others 1963(1) SA 692(A)).
Ten slotte moet die appèlle
teen die onderskeie vonnisse oorweeg word. Eerstens wil ek handel met die
doodvonnisse wat vir
al vyf die beskuldigdes vir die moord opgelê is.
Sedert die Strafregwysigingswet 107 van 1990 in werking getree het, het die
begrip "versagtende omstandighede" saam met die verpligte doodvonnis uit die
Strafproseswet verdwyn. Die hof moet nou alle relevante
strafversagtende en
strafverswarende faktore in ag neem. Daarna moet geoordeel word of die
doodvonnis die enigste gepaste vonnis
is. (Kyk: S v Masina and Others
1990(4) SA 709(A); S v Senonohi 1990(4) SA 727(A); S v Nkwanyana
and
31
Others 1990(4) SA 735(A)).
Beskuldigde 1 was ongeveer 37 jaar oud
toe die misdade gepleeg is. Die roof was vooraf en deeglik beplan. Dit was 'n
bende optrede
gewees en die lede van die bende was tot die tande toe gewapen.
Die oomblik toe die slagoffer weerstand wou bied, is hy koelbloedig
vermoor.
Beskuldigde 1 het 'n lang lys van vorige veroordelings, waaronder roof in 1978,
waarvoor hy 5 jaar gevangenisstraf opgelê
is. Beskuldigde 1 is ook in
Desember 1987 aan gewapende roof skuldig bevind waarby 'n bedrag van R85 000
betrokke was en waarvoor
hy 10 jaar gevangenisstraf opgelê is. Dit blyk
nie wanneer hierdie laasgenoemde misdaad gepleeg is nie, maar dit is beslis
'n
relevante veroordeling wat in ag geneem moet word. Beskuldigde 1 is dus 'n
persoon wat hom in die verlede reeds skuldig gemaak
het aan misdade waarvan
geweld 'n element was. Die voorgaande is alles strafverswarende faktore. Ek is
nie bewus van enige strafversagtende
faktore wat in die guns van beskuldigde 1
in aanmerking geneem kan word nie.
32
Indien die hoof oogmerke van straf oorweeg word, nl afskrikking, voorkoming,
hervorming en vergelding, is daar myns insiens ook niks
wat in beskuldigde 1 se
guns kan tel nie. Daar is geen aanduiding dat daar 'n redelike moontlikheid op
hervorming is nie. In die
omstandighede is ek van oordeel dat in die geval van
beskuldigde 1 die doodvonnis die enigste gepaste vonnis vir die moord
is.
Dieselfde strafverswarende faktore geld na my oordeel ook vir beskuldigde
3 vir sover dit die moord betref. Hy was 36 jaar oud toe
die moord in 1986
gepleeg is. Sy vorige veroordelings is selfs nog erger as dié van
beskuldigde 1 . In 1976 is beskuldigde
3 tot 'n termyn van 8 jaar
gevangenisstraf vir roof met verswarende omstandighede gevonnis. Daarna is hy in
1987 tot 15 jaar gevangenisstraf
vir roof met verswarende omstandighede gevonnis
waarby 'n bedrag van R78 000 betrokke was. Ook in sy geval is daar geen
strafversagtende
faktore waarvan ek bewus is nie. Die moontlikheid van
hervorming kan ook in sy geval buite
33
rekening gelaat word. Soos in die geval van beskuldigde 1 is ek van oordeel
dat die doodvonnis die enigste gepaste vonnis vir beskuldigde
3 vir die moord
is.
Die verhoorhof het ook in die geval van beskuldigdes 2, 4 en 5 die
doodvonnis vir die moord opgelê, maar ek is van oordeel dat
die doodvonnis
in hulle gevalle nie die enigste gepaste vonnis vir die moord is nie.
Beskuldigde 2 was ten tyde van die pleging van
die moord 43 jaar oud. Daar is
geen vorige veroordelings teen hom bewys nie. Die feit dat hy op 43 jarige
leeftyd geen vorige veroordelings
het nie, is beslis 'n belangrike
strafversagtende faktor wat in sy guns in aanmerking geneem moet word. (Kyk:
S v Senonohi, supra, te 733J). Daarbenewens was hy nie direk by
die gewelddadige aanval op die oorledene betrokke nie, en was daar in sy geval
slegs
dolus eventualis aanwesig. Na my oordeel is 'n vonnis van 12 jaar
gevangenisstraf 'n gepaste vonnis vir die moord in sy geval.
34
Dieselfde oorwegings geld vir beskuldigde 4. Hy het wel voorheen met die
gereg gebots, maar sy enkele vorige veroordelings toon geen
neiging tot geweld
nie. Na my oordeel sal 'n vonnis van 12 jaar gevangenisstraf ook in sy geval 'n
gepaste vonnis vir die moord wees.
Beskuldigde 5 se posisie is nie heeltemal
so gunstig nie. Hy was een van die rowers wat 'n vuurwapen gehad het en hy het
die vuurwapen
ook gebruik om die veiligheidswagte by die hek aan te hou.
Daarbenewens is hy in 1987 aan roof en poging tot moord skuldig bevind
waarvoor
hy respektiewelik tot 10 jaar en 5 jaar gevangenisstraf gevonnis is. In beide
daardie gevalle het hy ook van 'n
vuurwapen gebruik gemaak. 'n Gepaste
vonnis vir die moord in sy geval, is na my oordeel 20 jaar
gevangenisstraf.
Die vonnisse wat die verhoorhof vir beskuldigdes 1, 2, 3 en
4 vir die roof opgelê het, moet nou oorweeg word. Daar is nie verlof
aan
beskuldigde 5 verleen om teen sy vonnis op die roofklag te appelleer nie. Die
verhoorhof het
35
vir beskuldigdes 1 en 3 die doodvonnis vir die roof opgelê, terwyl
beskuldigdes 2 en 4 elk 12 jaar gevangenisstraf vir die roof
gekry het.
Die
feit dat die oorledene dood is, moet natuurlik nie weer in aanmerking geneem
word by die oorweging van 'n
gepaste vonnis vir die roof nie. (Kyk: S v
S 1987(2) SA 307 (A) te 312F; S v Petersen 1989(3) SA 420(A), te 426E
-F).
Dit was 'n goed beplande roof, en daar was heelwat geld op diê
spel. Daar is van gelaaide vuurwapens en 'n groot mes gebruik
gemaak om die roof
te pleeg. Afgesien van die moord op die oorledene was daar egter nie
buitengewone geweld gebruik nie. Mens kan
jou seker 'n meer wreedaardige en
gewelddadige roof indink. In die omstandighede is ek met respek van oordeel dat
die doodvonnis
wat die geleerde verhoorregter beskuldigdes 1 en 3 vir die roof
opgelê het, nie die enigste gepaste vonnis vir die roof is
nie. Na my
oordeel sal 'n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf vir die roof
36
'n gepaste vonnis vir sowel beskuldigde 1 as beskuldigde 3 wees.
Wat
beskuldigdes 2 en 4 betref, is daar na my mening nie goeie gronde om in te meng
met die vonnis wat die verhoorhof vir die roof
opgelê het nie. Die 12 jaar
gevangenisstraf vir die roof behoort myns insiens egter samelopend uitgedien te
word met die 12
jaar gevangenisstraf wat beskuldigdes 2 en 4 nou vir die moord
opgelê is.
Daar is weliswaar nie verlof aan beskuldigde 5 verleen om
teen sy vonnis vir die roof te appelleer nie, maar hy is nou gevangenisstraf
vir
die moord opgelê. In die omstandighede moet daar ook in sy geval beveel
word dat die 15 jaar gevangenisstraf vir die roof
samelopend met die 20 jaar
gevangenisstraf vir die moord uitgedien word.
Die volgende bevele word gevolglik gemaak:
1.Appellant nr 1 (Jeremiah Ndinisa):
1.1 Die appèl teen sy skuldigbevindings op die aanklag van moord en die aanklag van roof word afgewys.
37
1.2 Die appêl teen die doodvonnis op die moordklag word gehandhaaf en die vonnis word verander na 12 jaar gevangenisstraf.
1.3 Die appèl teen die vonnis van 12 jaar gevangenisstraf op die roofklag word geweier, maar dit word gelas dat die 12 jaar gevangenisstraf op die roofklag samelopend met die 12 jaar gevangenisstraf op die moordklag uitgedien word.
2.Appellant nr 2 (George Motubatse):
2.1 Die appèl teen sy skuldigbevinding op die aanklag van moord word afgewys.
2.2 Die appèl teen die doodvonnis op die moordklag word afgewys.
2.3 Die appèl teen die doodvonnis op die roofklag word gehandhaaf en die vonnis word verander na 15 jaar gevangenisstraf.
3. Appellant nr 3 (Leonard Khumalo):
3.1 Die appel teen sy skuldigbevindings op die aanklag van moord en die aanklag van roof word afgewys.
3.2 Die appèl teen die doodvonnis op die moordklag word gehandhaaf en die vonnis word verander na 12 jaar gevangenisstraf.
3.3 Die appel teen die vonnis van 12 jaar gevangenisstraf op die roofklag word geweier, maar dit word gelas dat die 12 j aar gevangenisstraf op die roofklag samelopend met die 12 jaar
38
gevangenisstraf op die moordklag uitgedien word. 4. Appellant nr. 4 (Johnson Matsilikiti):
4.1 Die appèl teen sy skuldigbevinding op die aanklag van moord word afgewys.
4.2 Die appèl teen die doodvonnis op die moordklag word gehandhaaf en die vonnis word verander na 20 jaar gevangenisstraf.
4.3 Dit word gelas dat die 15 jaar gevangenisstraf op die roofklag samelopend met die 20 jaar gevangenisstraf op die moordklag uitgedien word.
S.Appellant nr 5 (John Mtsale):
5.1 Die appèl teen sy skuldigbevinding op die aanklag van moord word afgewys.
5.2 Die appèl teen die doodvonnis op die moordklag word afgewys.
5.3 Die appèl teen die doodvonnis op die roofklag word gehandhaaf en die vonnis word verander na 15 jaar gevangenisstraf.
F 'n GROSSKOPF, AR
CORBETT HR
VIVIER AR Stem saam.