South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 39

| Noteup | LawCite

Suid-Afrikaanse Geneeskundige en Tandheelkundige Raad v Strauss en Andere (136/90) [1991] ZASCA 39; 1991 (3) SA 203 (AD); [1991] 4 All SA 554 (AD) (28 March 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


DIE SUID-AFRIKAANSE GENEESKUNDIGE- EN
TANDHEELKUNDIGE RAAD Appellant

en

HERCULES JACOBUS STRAUSS 1ste Respondent
KATHERINA JOHANNA DE WET 2de Respondent
IGNATIUS VAN HEERDEN 3de Respondent

Saaknommer 136/90

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

DIE SUID-AFRIKAANSE GENEESKUNDIGE- EN

TANDHEELKUNDIGE RAAD Appellant

en

HERCULES JACOBUS STRAUSS 1ste Respondent

KATHERINA JOHANNA DE WET 2de Respondent

IGNATIUS VAN HEERDEN 3de Respondent

CORAM: HOEXTER, NESTADT, STEYN, F H GROSSKOPF, ARR et PREISS, Wnd AR

VERHOOR: 21 Februarie 1991

GELEWER: 28 Maart 1991

UITSPRAAK

HOEXTER, AR ...

2

HOEXTER, AR,
Dit is 'n siviele appèl. Die appellant is die Suid-Afrikaanse Geneeskundige en Tandheelkundige Raad ("die Raad"). Die respondente is onderskeidelik dr H J Strauss, dr K J de Wet, en dr I van Heerden ("die drie geneeshere") wat kragtens die Wet op Geneeshere, Tandartse en Aanvullende Gesondheidsberoepe, 56 van 1974 ("die Wet") as geneeshere geregistreer is.
Op 27 Mei 1988 het 'n tugkomitee van die Raad ("die tugkomitee") die drie geneeshere aan onbetaamlike gedrag skuldig bevind. Die straf van 'n waarskuwing is hul opgelê. In die Oranje Vrystaatse Provinsiale Afdeling het die drie geneeshere gedurende November 1988 ingevolge hofreël 53 teen die Raad 'n bevel aangevra waarvolgens die tugkomitee.se skuldigbevinding en straf hersien en tersyde gestel word. Die aansoek, wat deur die Raad bestry is, het voor VAN COLLER en LOMBARD, RR gedien. Die aansoek om

3

hersiening het geslaag en die hof a quo het sowel die
skuldigbevinding as die straf van die tugkomitee ten
opsigte van elkeen van die drie geneeshere tersyde gestel.
Verder het die hof benede gelas dat die Raad die koste van
die hersieningsaansoek moet dra. Met verlof van die hof a
guo kom die Raad na hierdie afdeling in hoër beroep.

Voor 1 Junie 1987 het die drie geneeshere te

Petrusburg as algemene praktisyns in vennootskap
gepraktiseer. Onder die venootskap se pasiënte was lede
van die Mediese Skema van die Suid-Afrikaanse
Vervoerdienste ("Transmed"). Gedurende Augustus 1987 het
Transmed 'n brief aan die Raad gerig wat 'n klagte teen die
drie geneeshere bevat het. Dié brief het verwys na 'n
ondersoek wat ingestel is na die vennoptskap:-

"....se eise vir die verskaffing van voordele aan Transmed-voordeeltrekkers."

Paragrawe 4 en 5 van gemelde brief het soos volg gelui:-

4

"4. Die ondersoek is pas afgehandel en die Hoofadjunk-kommissaris, Suid-Afrikaanse Polisie, Tak Vervoerpolisiëring, Johannes-burg, het die volgende verslag uitgereik: 4.1 'Dr 'n J Strauss en vennote, naamlik
K J de Wet en I van Heerden, Petrusburg, is aangekla vir oortreding van artikel 22A gelees met artikel 29(k) en artikel 30(1 )(a) van Wet 101 van 1965 deurdat hulle wederregtelik toegelaat het dat ontvangsdames gelyste stowwe aan kliënte verkoop of lewer sonder dat hulle volgens Wet daartoe gemagtig is.
4.2 Die bovermelde dokters het as volg skulderkenning betaal:
4.2.1H J Strauss het op 144 aan-klagtes 'n skulderkenning ten bedrae van R432,00 be-taal.
4.2.2K J de Wet het op 488 aan-klagtes 'n skulderkenning ten bedrae van R1 464,00 betaal.
4.2.3I van Heerden het op 114 aanklagtes 'n skulderkenning ten bedrae van R342,00 betaal.'
5. Die saak word voorgelê vir enige aksie wat u nodig mag vind."

Dit is gemene saak dat elkeen van die drie

5

geneeshere in die landdroshof te Petrusburg ingevolge art
57 van Wet 51 van 1977 erken het dat hy of sy skuldig is
aan die oortredings in die betrokke dagvaardings vervat;
en ten opsigte daarvan boetes betaal het, soos meer
volledig in para 4 van Transmed se voormelde brief aangedui
word. In die betrokke dagvaardings is elk van die drie
geneeshere oortreding van art 22A van Wet 101 van 1965 ten
laste gelê:

"DEURDAT die beskuldigde synde 'n geneesheer op of omtrent die datum genoem in die tweede kolom van die aanhangsel tot hierdie klagtestaat en te of naby Petrusburg in die distrik Petrusburg wederregtelik toegelaat het dat haar/sy ontvangsdame en/of ander lede van haar/sy personeel (wat nie die houer(s) van 'n lisensie was of in diens was van die houer van 'n

lisensie soos bedoel in genoemde artikel 22A nie) gelyste stowwe aan kliente soos genoem in die derde kolom van die aanhangsel verkoop het."

Die tugbevoegdhede van die Raad kom in Hoofstuk

IV (in arts 41-51) van die Wet voor. Art 41 skryf

bepalings voor vir die ondersoek deur die Raad na beskuldi-

6

gings van wangedrag. Kragtens die Wet is daar regulasies uitgevaardig betreffende die instelling van ondersoeke ingevolge art 41. Ingevolge reg 3(3) het die Raad gelas dat Transmed se klagte na die Raad se geneeskundige komitee vir voorlopige ondersoek ("die komitee") verwys moet word. Die komitee het besluit dat daar prima facie bewys is van onbetaamlike of skandelike gedrag aan die kant van die drie geneeshere; en dat 'n pndersoek na hul gedrag ingestel moet word.
Die hoofklagte wat by die tugondersoek teen die drie geneeshere ingebring is, is dat hulle, synde geregistreerde geneeshere, skuldig is aan onbetaamlike of skandelike gedrag wat, indien hul beroep in aanmerking geneem word, onbetaamlik of skandelik is, deurdat op of ongeveer 26 Februarie 1987 in die landdroshof te Petrusburg hulle skuldig bevind is aan 'n aantal oortredings van art 22A van Wet 101 van 1965 soos gewysig. In die alternatief

7

is die -drie geneeshere daarvan aangekla dat hulle
skulderkennings betaal het op 'n aantal aanklagtes van
oortreding van art 22A van Wet 101 van 1965. Die
tugkomitee het die drie geneeshere skuldig bevind op die
hoofklagte en wel aan onbetaamlike gedrag.

Namens die pro forma-aanklaer het 'n prokureur,

mnr G E van der Spuy ("die aanklaer") by die tugkomitee se
ondersoek opgetree. Art 42(2) van die Wet lees soos
volg:-

"Aan iedereen wie se gedrag die onderwerp van 'n ondersoek kragtens art 41 uitmaak, moet die geleentheid gegun word om, òf in eie persoon òf deur sy regsverteenwoordiger, op die beskuldiging te antwoord en sy verdediging aan te voer."

Ten tyde van die verrigtinge voor die tugkomitee

het adv P C F van Rooyen die verdedlging van die drie

geneeshere aangevoer. Dieselfde advokaat het die

hersieningsaak namens die drie geneeshere en hul appèl voor

hierdie hof behartig. Namens die Raad is die appèl deur

8

mnr M C Maritz SC, bygestaan deur mnr J 'n Dreyer, beredeneer.
Die voorsitter van die tugkomitee was die president van die Raad. Ter aanvang van die verrigtinge het elkeen van die drie geneeshere op die klagtes onskuldig gepleit. In die loop van die daaropvolgende ondersoek is die getuienis van slegs twee getuies aangevoer. Die aanklaer het die assistent-registrateur van die Raad as enigste getuie opgeroep. Hierdie getuie het bloot formele getuienis afgelê en sekere dokumente ingelewer, o a gewaarmerkte afskrifte van die strafregtelike dagvaardings wat op Petrusburg aan die drie geneeshere beteken is en wat van die landdroshofstukke deel uitmaak. Laasgenoemde dokumente het ingesluit in die geval van elkeen van die drie geneeshere 'n erkenning, onder sy of haar naamtekening, dat hy of sy aan die oortredings in die betrokke dagvaarding vervat, skuldig is; asook 'n gepaardgaande kwitansie wat die bedrag van die betaalde boete aandui.

9

Namens die drie geneeshere het slegs dr De Wet (die tweede
respondent by hierdie appèl) getuig.

Die uitspraak van die hof a quo is deur regter

VAN COLLER gelewer. In sy uitspraak het die belese regter
die hoofinhoud van dr De Wet se getuienis in die volgende
woorde bondig maar juis opgesom:-

"Sy en die ander twee applikante het in vennootskap te Petrusburg gepraktiseer as geneeshere. Daar het 'n persoon ondersoek kom instel na die sake van die praktyk. Hoewel die persoon te kenne gegee het dat hy geen bedrog kon vind nie het hy beweer dat daar wel oortredings plaasgevind het deurdat die applikante toegelaat het dat daar geresepteer word deur 'n
ontvangsdame. Volgens tweede applikante is probleme ondervind met 'n mediese fonds ten aansien van die wyse waarop betaling geëis is ten aansien van medisyne wat verskaf is. Daar is vereis dat daar ook by die rekening 'n vorm ingevul moes word wat die voorskrif uiteensit. As gevolg hiervan het die ontvangsdame die voorskrifvorm voltooi vir versending aan die mediese fonds. Op die wyse is daar ten onregte tot die gevolgtrekking gekom dat die ontvangsdame medisyne verkoop het. Die werklike posisie is volgens die getuienis van tweede applikante aan die persoon wat kom ondersoek instel het, verduidelik maar hy het nie gehoor gegee aan die

10

verduideliking nie. Vanweë sekere oorwegings en veral onder andere om publisiteit te vermy, het die applikante besluit om die skulderkennings te betaal alhoewel die oortredings nie gepleeg is nie."
Die bepalings van art 42(2) van die Wet is reeds

genoem. Alvorens daar na die verrigtinge by die
tugondersoek teruggekeer word, is dit dienstig om etlike.
ander bepalings in Hoofstuk IV van die Wet vervat, wat op
die onderhawige geval betrekking het, onder die loep te
neem. Hier ter sprake, so meen ek, is veral die bepalings
van arts 41, 42(1) en 45(1), (2) en (3). Art 41 lees soos
volg:-

"41(1) Die Raad is bevoeg om 'n ondersoek in te stel na 'n klagte, beskuldiging of bewering van onbetaamlike of skandelike gedrag teen 'n persoon wat kragtens hierdie Wet geregistreer is en om by skuldig- bevinding van so 'n persoon aan sodanige gedrag, enige van die strawwe voorgeskryf in artikel 42(1) op te lê : Met dien verstande dat in die geval van 'n klagte, beskuldiging of bewering wat die onderwerp van 'n strafsaak in 'n geregshof uitmaak, of

11

waarskynlik sal uitmaak, die raad die hou van 'n ondersoek kan uitstel totdat daardie saak afgehandel is.

(2) Die raad kan, wanneer by hom twyf el bestaan daaroor of 'n ondersoek gehou behoort te word, in verband met die betrokke klagte, beskuldiging of bewering oorleg pleeg met of inligting inwin van enige persoon, met inbegrip van die persoon teen wie die klagte of beskuldiging ingebring of die bewering gemaak is."

Sub-art (1) van art 42 lees soos volg:-

"42(1) ledere persoon wat kragtens hierdie Wet geregistreer is wat, na 'n ondersoek gehou deur die raad, skuldig bevind word aan onbetaamlike of skandelike gedrag of gedrag wat, indien die persoon se beroep in aanmerking geneem word, onbetaamlik of skandelik is, is strafbaar met die een of ander van die volgende strawwe:-

(a)'n waarskuwing of 'n berisping of 'n berisping en n waarskuwing; of
(b)skorsing, vir 'n vasgestelde tydperk, in sy praktyk of die verrigting van handelinge wat by uitstek by sy beroep tuishoort; of
(c)skrapping van sy naam uit die register."

12

Sub-arts (1), (2) en (3) van art 45 lees soos volg:-

"45(1) Daar kan ingevolge die bepalings van hierdie Hoofstuk deur die raad opgetree word teen iedere geregistreerde persoon wat, hetsy voor of na registrasie, deur

'n geregshof aan 'n misdryf skuldig bevind is, indien die raad van oordeel is dat daardie misdryf onbetaamlike of skandelike gedrag uitmaak of gedrag wat, indien die persoon se beroep in aanmerking geneem word, onbetaamlik of skandelik is en so 'n persoon is, by bewys van die skuldigbevinding, strafbaar met die een of ander van die strawwe bedoel in artikel 42 : Met dien verstande dat aan so 'n persoon voor strafoplegging 'n geleentheid gegun moet word om aan die raad 'n verduideliking te verskaf ter vergoeliking van die betrokke gedrag.

(2) Wanneer in die loop van verrigtinge voor 'n geregshof dit vir die hof duidelik word dat daar prima facie-bewys bestaan van onbetaamlike of skandelike gedrag van die kant van 'n

geregistreerde persoon, of van gedrag wat, indien die persoon se beroep in aanmerking geneem word, onbetaamlik of skandelik is, moet die hof gelas dat 'n

afskrif van die oorkonde van die verrigtinge, of die gedeelte daarvan wat tersaaklik is, aan die raad gestuur

moet word.

13

(3) Indien die raad die bevoegdhede aan hom verleen deur artikel 41 uitoefen, moet hy iemand as pro forma-aanklaer aanstel om die saak aan die raad voor te lê : Met dien verstande dat die diensdoenende registrateur of 'n lid van die raad nie aldus aangestel word nie."

Nadat die aanklaer sy saak gesluit het, het die

advokaat namens die drie geneeshere 'n openingsrede gelewer
waarin hy dit aan die raad gestel het dat hul verweer
daarop neerkom dat, in weerwil van die skulderkennings in
die landdroshof, die drie geneeshere inderdaad nie die
gewraakte oortredings gepleeg het nie. Die geldigheid van
die verweer aldus aangedui, is toe deur die voorsitter van

die tugkomitee bevraagteken. Teenoor die advokaat het die
voorsitter o a opgemerk:-

"Die raad beskik ook nie oqr die bevoegdheid om 'n
skuldigbevinding in die hof as verkeerd te aanvaar nie, dit kan ons ook nie doen nie, maar u kan praat ten opsigte van versagting as u wil of redes aanvoer."

Met die oog op die regsgeldigheid van die geopperde verweer

14

het die voorsitter vervolgens die aanklaer versoek om die
tugkomitee "op die regspunte" toe te spreek. In die loop
van sy betoog dienaangaande het die aanklaer o a gesê:-

"....die punt van artikel 45 sake is dat hierdie nie 'n hof van appel of 'n hoërhof of 'n hof van hersiening of iets dergeliks is nie wat kan inmeng met die skuldigbevinding of wat self 'n
besluit mag neem dat die skuldigbevinding verkeerd was nie. So, indien die getuienis gemik word om te bewys dat hulle verkeerd skuldig bevind is, dan gaan dit nie op voor hierdie hof nie maar wat my geleerde kollega wel mag doen is hy mag getuienis lei ter versagting van die aangeleentheid of hy mag getuienis lei om te bewys dat ten spyte van die skuldigbevinding dit nie onbetaamlike of skandelike gedrag is nie...."

Nadat die getuienis van dr De Wet deur die tugkomitee
aangehoor is, het die aanklaer en die advokaat die
tugkomitee oor die meriete van die klagte toegespreek. Ex
facie die oorkonde is dit duidelik dat die aanklaer nie op
h skuldigbevinding aangedring het nie. Ter afsluiting van
sy betoog het die aanklaer opgemerk:-

"Dit staan nie te betwyfel nie dat die partye skuldig bevind is aan hierdie aanklagte soos

15

beweer in elkeen van die dagvaardings maar dit is uit die aard van die saak nie die einde van die saak nie. U moet verder gaan en u moet besluit of getuienis aan u voorgelê is wat van so
'n aard is dat dit daarop neerkom dat hulle optrede nie op onbetaamlike of skandelike gedrag neerkom nie.
By die oorweging van die aangeleentheid moet u uit die aard van die saak in gedagte hou die getuienis wat hier voorgelê is en net die getuienis wat hier voorgelê is en wat dit betref het ons die verduideliking van mev De Wet dat die skulderkennings geteken is, dat hulle besef dat hulle skuldig bevind is maar die omstandighede waaronder die skulderkennings geteken is en na aanleiding waarvan die skulderkennings gevolg is, van so 'n aard is dat daar eintlik geen oortreding gepleeg is deur hulle nie of geen onbetaamlike of skandelike gedrag gepleeg is nie. Dit is basies die argument van die anderkant.
Namens die pro forma-aanklaer wil ek u nie verder toespreek oor hierdie klag nie, ek los dit in u diskresie."
Aan die hand van dr De Wet se onweersproke

getuienis voor die tugkomitee het die drie geneeshere ter
ondersteuning van die hersieningsaansoek wat hulle in die
hof a quo geloods het, aangevoer dat hulle inderdaad nie

16

die verwyt van enige onbetaamlike optrede dra nie; en dat
die aangevoerde getuienis geen ruimte bied vir enige
bevinding dat hulle aan die hoofklagte skuldig is nie.

Ter bestryding van die hersieningsaansoek het die

voorsitter van die tugkomitee 'n gedronge beantwoordende
beëdigde verklaring by die hof benede ingedien. Daarin
ontken hy dat in die loop van die werksaamhede van die
tugkomitee enige onreëlmatigheid plaasgevind het.
Paragrawe 4 en 5 van die beantwoordende verklaring lees
soos volg:-

"4. Die komitee was eenparig van mening dat die oortredings van Artikel 22A van Wet 101 van 1965, soos gewysig, ten opsigte waarvan die huidige applikante skulderkennings betaal het en waaraan hulle skuldig bevind is, minstens op onbetaamlike gedrag neergekom het, gesien in die lig ván die feit dat die applikante al drie as geneeshere gepraktiseer het. Nakoming van die statutêre bepaling hou direk verband met die uitoefening van sodanige beroep en verontagsaming daarvan kan tot ernstige gevolge ly.

17

5. Die komitee het die getuienis wat ter vergoer liking aangebied is, oorweeg en in aanmerking geneem. Omdat tweede applikante se getuienis die komitee tevrede gestel het dat sulke wanpraktyke as wat in hulle praktyk mag bestaan het bloot van 'n tydelike aard was en lankal uitgeskakel is, het die komitee besluit om die straf so lig moontlik te stel."

Ek het reeds daarop gewys dat toe die aanklaer

die tugkomitee oor die meriete toegespreek het hy dit heel
pertinent gestel het dat die blote feit van die

skuldigbevindings in die strafhof nie die einde van die
ondersoek beteken nie; en dat dit die tugkomitee se plig

is om aan die hand van die aangevoerde getuienis te oorweeg
of die optrede van die drie geneeshere sodanig is dat hulle
die verwyt van onbetaamlike of skandelike gedrag dra.
Hierdie voorligting het egter nie by die tugkomitee ingang

gevind nie. Hieromtrent het die hof benede in sy

uitspraak soos volg opgemerk:-

"Die getuienis wat deur tweede applikante gegee is, is nie in aanmerking geneem by

18

oorweging van die vraag of die applikante skuldig is aan onbetaamlike gedrag nie."

Dat die tugkomitee by sy ondersoek na dié vraag die
getuienis van dr De Wet buite rekening gelaat het, en dat
gemelde getuienis slegs ná die tugkomitee se
skuldigbevinding van die drie geneeshere en bloot ter
strafversagting in aanmerking geneem is, is volkome
duidelik. Hierdie feit straal sowel uit die oorkonde van
die verrigtinge voor die tugkomitee as die strekking van
die beantwoordende verklaring wat die voorsitter van die
Raad by die hof a quo ingedien het.

In die loop van sy betoog namens die Raad het mnr

Maritz in bedenking gegee dat die aanklaer se voorligting
aan die tugkomitee m b t saaklikheid van dr De Wet se

getuienis rakende die Raad se beslissing oor die meriete
van die saak ondeurdag was; en dat die wyse waarop die

tugkomitee die getuienis van dr De Wet benader en beoordeel

het inderdaad regtens suiwer en in ooreenstemming met die

19

voorskrifte van Hoofstuk IV van die Wet was.

Die strekking van die betoog wat die Raad se

advokaat aan ons voorgehou het, kan kortliks soos volg
saamgevat word. Ofskoon dit deel van Hoofstuk IV van die
Wet uitmaak, staan sub-art 45(1) wesenlik los van art 41.
Die bepalings van sub-art 45(1), aldus die betoog, stel
as't ware 'n selfstandige en eiesoortige prosedure daar.
Mnr Maritz steun in die eerste plek op die woorde -

".....en so 'n persoon is, by bewys van die skuldigbevinding, strafbaar met die een of ander
van die strawwe " (Emfase aangebring)

wat in die hoofdeel van sub-art 45(1) voorkom. Ten tweede
vestig hy die aandag op sekere woorde waarmee die Wetgewer
die voorbehoudsbepaling by sub-art 45(1) ingeklee het -

"Met dien verstande dat aan so 'n persoon voor strafoplegging 'n geleentheid gegun moet word om aan die raad 'n verduideliking te verskaf ter vergoeliking van die betrokke gedrag." (Emfase aangebring)

Mnr Maritz laat die blik vervolgens gaan op die verskil

20

tussen die woordgebruik in die voorbehoudsbepaling by subr-
art 45(1) en die bewoording van die voorbehoudsbepaling by

sy onmiddellike statutêre voorganger wat gevind word in
sub-art 45(1) van Wet 13 van 1928 ("die vorige Wet"). Met
enkele en nie-tersaaklike afwisselings in woordgebruik is
die strekking van die hoofdeel van art 45(1) in die vorige
Wet dieselfde as dié van die huidige sub-art 45(1). Die
voorbehoudsbepaling by sub-art 45(1) van die vorige Wet

("die ou voorbehoudsbepaling") verskil egter enigermate van
die huidige voorbehoudsbepaling. Meer in besonder kom die
woorde "voor strafoplegging" nie in die ou
voorbehoudsbepaling voor nie. Laasgenoemde lui:-

"Met die verstande dat aan so iemand geleentheid verleen moet word om aan die raad of kommissie 'n
uitleg te gee wat sy gedrag in 'n gunstiger lig
stel." (Emfase aangebring)

Die betekenis wat aan art 45(1 ) van die vorige Wet, en in besonder die ou voorbehoudsbepaling, toegeskryf moes word, het in Sachs v South African Pharmacy Board

21

1947(1) 646 (T) onder die loep gekom. Dit was 'n
hersieningsaak wat voor twee regters (MILLIN en NESER, RR)
gedien het. Die applikant was ingevolge die vorige Wet h
geregistreerde apteker; en na afloop van 'n tugondersoek is
hy skuldig bevind en tydelik geskors. In die loop van sy
uitspraak verklaar regter MILLIN (op 650):-

"The effect of subsec 45(1) is that when once the Board has come to the conclusion that the offence of which the registered person has been convicted constitutes improper or disgraceful conduct (in the case of any person) or conduct which is improper or disgraceful when regard is had to the persons' calling, he may be dealt with in accordance with Chapter IV of the Act, i e he may be cautioned, suspended, or have his name erased from the register on proof of the conviction. The Board may form its opinion without having any evidence before it other than evidence of the conviction and this is to be contrasted with an enquiry under sec 41 into charges of improper and disgraceful conduct not arising out of any conviction in a Court of law; in this case the Board cannot impose any sanction until the conduct charged, if denied, has been proved before it. The effect of the proviso is that the accused person is to have an opportunity of giving an explanation in extenuation of his conduct and this, in our opinion, inclndes an

22

attempt by him to show that his conduct should not be regarded as either disgraceful or improper. This, of course, contemplates an enquiry into that question if raised by the person charged." (Emfase aangebring)

'n Gelykluidende wetsuitleg, weer eens by monde yan regter
MILLIN, vind mens in die latere beslissing van Read v S A
Medical and Dental Council 1949(3) SA 997 (T). Daar word
op 1016-7 o a die volgende gesê:-

"The object of sec 45 is simply to dispense with proof of the act or acts complained of when there has been a conviction based on the commission of the act or acts. All that is necessary in such a case is proof of the conviction and an opinion formed by the Council, after hearing the registered person in extenuation of his conduct, that the offence constituted improper or disgraceful conduct either in itself or in relation to the person's professional calling." (Emfase aangebring)

Mnr Maritz het ter oorweging gegee dat die Wetgewer nie

gediend was nie met die vertolking van die ou
voorbehoudsbepaling in die sake van Sachs en Read (supra),

nl dat aan die aangeklaagde voor die tugkomitee 'n

23

geleentheid verleen moet word om aan te toon dat sy doen en late nie op onbetaamlike of skandelike gedrag neerkom nie; en dat die Wetgewer bygevolg dit goed geag het om deur die invoeging van die woorde "voor strafoplegging" by die huidige voorbehoudsbepaling te verorden dat enige verduideliking deur die aangeklaagde slegs ná sy skuldigbevinding deur die tugkomitee toelaatbaar is en dat dit bloot ter strafversagting kan dien. Uit hoofde hiervan is betoog dat die betekenis wat in die Sachs- en Read-beslissings aan die ou voorbehoudsbepaling toegeskryf is, as ondeugdelik en regtens ongegrond vir die huidige voorbehoudsbepaling beskou moet word. Die juiste gedagteinhoud van art 45(1) van die Wet, so lui die argument, is derhalwe dat die Wetgewer dit goedgedink het om 'n aangeklaagde geneesheer sonder meer met die een of die ander kategorie beroepsvergryp te brandmerk vir geval (1) 'n strafhof hom aan enige misdryf skuldig bevind het,

24

en (2) die raad of sy tugkomitee van' oordeel is dat daardie
misdryf onbetaamlik of skandelik is. Die "verduideliking"

soos by die voorbehoudsbepaling bedoel, kan bygevolg geen
vêrduideliking behels wat inhou dat die aangeklaagde,
objektief beskou, nie skuldig is aan die misdryf waaraan
die strafhof hóm skuldig bevind het nie.

Nadat hy die bewoording van art 45(1) van die Wet

krities in oënskou geneem het, het die hof a quo tot die

slotsom geraak dat dusdanige vertolking nie die werklike
bedoeling van die Wetgewer sou weerspieel nie. In sy
uitspraak het VAN COLLER, R hom hieromtrent soos volg
uitgelaat:-

"So 'n vertolking sou beteken dat die geregistreerde persoon in die verhoorproses nie die geleentheid gebied word om sy saak oor die vraag of die misdryf skandelike of onbetaamlike gedrag uitmaak, te stel nie. Dit sou onredelik wees en in stryd met die vermoede dat die Wetgewer nie 'n onredelike resultaat beoog nie. Die vertolking sou ook strydig wees met die bepalings in Artikel 45 dat ingevolge die bepalings van dié hoofstuk opgetree kan word..."

25

Verder aan in die uitspraak verklaar die belese regter:-

"Na my mening moet Artikel 45 so vertolk word dat daar ná bewys van die skuldigbevinding aan die geregistreerde persoon ooreenkomstig die bepalings van Artikel 42(2) die geleentheid gegee moet word om sy verdediging aan te voer. Daarna moet oorweeg word of die persoon hom skuldig gemaak het aan onbetaamlike of skandelike gedrag, en indien dit bevind sou word, kom die voorbehoudsbepaling ter sprake."

Om die kwessie van wetsuitleg wat in die onderhawige appèl ontstaan behoorlik in perspektief te stel, is ter aanvang twee algemene opmerkings nie onvanpas nie. Met die oog op die argument namens die appellant dat sub-art 45(1) van die Wet alleenstaande 'n eiesoortige prosedure skep, is dit gemeenplasig maar nodig om te sê dat daardie sub-artikel in die samehang van al die bepalings van Hoofstuk IV vertolk moet word. In Colguhoun v Brooks 14 AC 493 (HL) verklaar LORD HERSCHELL op 506:-

26

"It is beyond dispute, too, that we are entitled and indeed bound when construing the terms of any provision found in a statute to consider any other parts of the Act which throw light upon the intention of the Legislature and which may serve to show that the particular provision ought not to be construed as it would be if considered alone and apart from the rest of the Act."

Daarbenewens is dit opvallend dat sub-art (3) van art 45
self die bepalings van art 41 byhaal. Tweedens dien
opgemerk te word dat by die interpretasie van sub-art 45(1)
die kernfeit na vore tree dat dit hier gaan oor
dissiplinêre strafmaatreëls wat teen lede van 'n beroep
geneem word; en wat op hul bestaande regte en voorregte
ernstige inbreuk kan maak. Hierby is derhalwe onmiddellik
ter sprake daardie reëls van natuurlike geregtigheid en
billikheid waarvolgens, in die algemeen gesproke, geskille
bereg moet word. Vgl. Administrator, Transvaal, and
Others v Zenzile and Others 1991(1) SA 21 (A) op 36 I-J.
Die erkende reg wat 'n persoon het om sy saak te stel, word

27

in Administrateur van Suidwes-Afrika en 'n Ander v Pieters

1973(1) SA 850 (A) op 860G in die volgende woorde deur
BOTHA, AR opgesom:-

"Dit is ....algemeen gesproke duidelik dat waar h
openbare liggaam of gesag statutêr gemagtig word om 'n beslissing te gee wat die goed, vryhede of bestaande regte van 'n ander nadelig kan raak, of waar die beslissing bestaande regte kan aantas of regsgevolge vir andere mag inhou, daardie ander persoon of persone die reg het, tensy die teendeel uit die magtigende bepaling blyk, om toegelaat te word om sy saak te stel voordat daar so 'n beslissing teen hom geneem word."

In gewysdes van hierdie hof is in die verlede die
aanwending van die stelreël audi alteram partem soms aan
die hand van die bestaan van 'n vermoede verklaar, terwyl by
ander geleenthede daar eerder van die standpunt uitgegaan
is dat die betrokkene beskik oor 'n gevestigde reg om
aangehoor te word. Kyk Attorney-General, Eastern Cape v
Blom and Others 1988(4) SA 645 (A) op 660F-662F. In

laasgenoemde beslissing (op 662F-I) het hierdie hof egter

eenparig voorkeur verleen aan die beskouing dat die

28

betrokkene inderdaad oor 'n reg om aangehoor te word, beskik.
Vir die redes hierna bespreek, deel ek die siening van die hof a quo by sy uitleg van sub-art 45(1). Ofskoon die bepalings van gemelde sub-artikel na woordlui letterlik dui op die vertolking waarvoor die appellant se advokaat hom beywer, sou 'n letterknegtelike uitleg ongerymdhede meebring en op 'n gevolg uitloop wat nouliks anders as grof onbillik bestempel kan word. Die letterlike uitleg het tot gevolg dat die "ondersoek" na 'n
beweerde beroepsvergryp deur 'n geneesheer dermate verskraal dat dit ontaard in 'n klug waarby die tugkomitee bloot die funksie van 'n rubberstempel vervul. In weerwil van 'n

geneesheer se pleit van onskuldig by die tugondersoek, sonder dat hy enige inspraak het in die verrigtinge wat die tugkomitee se uitspraak voorafgaan, en eenvoudig uit hoofde van die raad se voorafbepaalde prima facie beskouing van

29

die meriete van die geval, word die geneesheer op stel en
sprong skuldig bevind.

Na my beskeie oordeel is die betekenis wat die

hof a quo aan die sub-artikel geheg het 'n uitleg waarvoor
die woorde redelikerwys vatbaar is. Ofskoon die
vertolking van die hof benede op 'n minder letterlike
betekenis neerkom, bring dit mee dat die drakoniese

strengheid van die letterlike uitleg vermy word. In
Principal Tmmigration Officer v Bhula 1931 AA 323 sê
appèlregter WESSELS op 336:-

"It has been repeatedly laid down by this Court that where a statute is clear, the Court must give effect to the intention of the Legislature, however harsh its operation may be to individuals affected thereby. Where, however, two meanings may be given to a section, and the one meaning leads to harshness and injustice, whilst the other does not, the Court will hold that the Legislature rather intended the milder than the harsher meaning."

Die opvatting dat sub-art 45(1) 'n eiesoortige

prosedure skep wat die aangeklaagde sy fundamentele reg om

30

sy saak te stel, ontneem, is na my mening verkeerd. Wanneer daar gekyk word of die Wetgewer by sub-art 45(1) bedoel het om 'n aangeklaagde gemelde reg te ontneem, kom nie alleen die woorde van die sub-artikel nie, maar al die bepalings van Hoofstuk IV van die Wet onder die vergrootglas. En wanneer die bepalings van Hoofstuk IV in geheel beskou word, dan staan dit m i onmiskenbaar vas dat ook waar die raad hom op sub-art 45(1) beroep 'n
aangeklaagde wat op die beskuldiging wil antwoord en wat begerig is om sy verdediging aan te voer, 'n geleentheid mioet kry om sy of haar saak te stel. By die woorde "voor strafoplegging" in die voorbehoudsbepaling is daar nie noodwendig inbegrepe die gedagte "na skuldigbevinding aan onbetaamlike of skandelike gedrag" nie. Hoe dit ook sy, vir sover die woorde "voor strafoplegging" aanduiding mag bevat dat die verduideliking wat die aangeklaagde gegun moet word slegs op strafversagting en nie op die meriete

31

van sy verdediging betrekking het nie, is daardie aanduiding na my oordeel lynreg in stryd en onbestaanbaar met die klaarblyklike bedoeling van die Wetgewer.
Die reeds aangehaalde opmerkings van regter MILLIN in die Sachs- en Read-sake (supra) ten opsigte van die betekenis van die ou voorbehoudsbepaling deug eweseer, so meen ek, by uitleg van die huidige voorbehoudsbepaling in sub-art 45(1) van die Wet. Die twispunt waaroor die tugkomitee in die onderhawige geval 'n beslissing moes gee was die vraag of die drie geneeshere aan die beroepsvergryp van onbetaamlike of skandelike gedrag skuldig is. Indien die aangeklaagdes by aanvang van die verrigtinge voor die tugkomitee skuldig sou gepleit het, of indien hul onskuldig sou gepleit het maar geen getuienis pp die meriete van die beskuldiging sou aangevoer het nie, sou die tugkomitee regtens bevoeg gewees het om alleen aan die hand van die bewese skuldigbevindings van die strafhof die drie

32

geneeshere aan onbetaamlike of skandelike gedrag skuldig te bevind, en hul een of ander van die strawwe by art 42 bedoel, op te lê. Dan het hulle nie gebruik gemaak van die geleentheid om aangehoor te word nie. Die drie geneeshere het egter onskuldig gepleit en daarna wel getuienis op die meriete aangevoer. In hierdie omstandighede het die Wet vereis dat die tugkomitee, met behoorlike inagneming van die aangevoerde getuienis, 'n eie en selfstandige diskresie moet uitoefen om te besluit of die drie geneeshere aan die beweerde beroepsvergryp skuldig is of nie. Wat egter gebeur het is dat die tugkomitee homself regtens gedwonge geag het om die getuienis namens die drie geneeshere aangebied van oorweging uit te sluit. Hierdie regsdwaling het tot gevolg dat die tugkomitee versuim het om sy aandag te bestee aan die geval wat aan sy oordeel onderwerp is. Ek gaan derhalwe akkoord met die volgende slotsom waartoe regter VAN COLLER in die hof a quo geraak het -

33

"Omdat die tugkomitee die omvang van sy bevoegdhede verkeerd vertolk het, het die tugkomitee die bevoegdheid wat aan hom opgedra was in werklikheid nie uitgeoefen nie en kan met die bevinding op hersiening ingemeng word."

Om voorgaande redes kan die appèl nie slaag nie.

In die loop van sy uitspraak in die hof benede het regter
VAN COLLER soos volg opgemerk:-

"....daar is na my mening geen aanduidings in die Wet of in artikel 45 dat bewys van die skuldigbevinding afdoende bewys van die pleging van die misdryf in die ondersoek teen die geregistreerde persoon sal wees nie. In die onderhawige ondersoek was daar, deurdat die skuldigbevinding bewys is, prima facie bewys van die misdrywe soos uiteengesit in die dagvaardings."

Met daardie sienswyse stem ek met eerbied saam.

Ten slotte dien die volgende opgemerk te word.

In die buitegewone omstandighede van die onderhawige geval
was dit vir die aangeklaagdes betreklik eenvoudig om die
prima facie-bewys wat die skuldigbevindings in die strafhof
daargestel het, te weerlê. Waar 'n voorafgaande

34

skuldigbevinding van 'n strafhof egter die kulminasie is van
'n daadwerklike verhoor, en die strafhof se uitspraak op feite- en geloofwaardigheidsbevindinge berus, sal die weerleggingsproses voor 'n tugkomitee uiteraard moeiliker wees.

Die appèl word met koste van die hand gewys.

G G HOEXTER, AR

NESTADT, AR )

STEYN, AR )

F H GROSSKOPF, AR) stem saam

PREISS, Wnd AR )