South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 191

| Noteup | LawCite

S v Jordaan en 'n Ander (162/91) [1991] ZASCA 191 (29 November 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING) In die saak tussen:

RAYMOND JORDAAN Eerste Appellant
SELWYN SAAYMAN Tweede Appellant
en
DIE STAAT
CORAM: E M GROSSKOPF, GOLDSTONE, ARR et VAN COLLER, Wn AR
VERHOOR: 19 November 1991

GELEWER: 29 November 1991

2

UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR
Die appellante is saam met twee ander persone in die Kaapse Provinsiale Afdeling (WILLIAMSON R en assessore) skuldig bevind aan moord op 'n mede-gevangene in die Mosselbaaise gevangenis. Geen versagtende omstandighede is bevind nie, en al vier beskuldigdes is op 31 Augustus 1987 ter dood veroordeel. Aansoeke om verlof tot appèl is van die hand gewys deur die verhoorregter en deur hierdie hof.
Op 27 Julie 1990 het die Strafregwysigingswet, no 107 van 1990, ("die nuwe Wet") in werking getree. Kragtens artikel 19 van die nuwe Wet is die doodvonnis op die twee appellante, asook hul mede-beskuldigdes, heroorweeg deur die paneel wat ingevolge die nuwe Wet aangestel is. Die paneel het ingevolge artikel 19(10) bevind dat die doodvonnis waarskynlik op die twee appellante opgelê sou gewees het indien artikel 277 van die Strafproseswet, no 51 van 1977, soos vervang deur die nuwe Wet, ten tyde van vonnisoplegging in werking was. Ten

3

opsigte van die twee mede-beskuldigdes het die paneel bevind dat die doodstraf waarskynlik nie opgelê sou gewees het nie.

Die appellante se saak kom gevolglik nou op appèl voor

ons ingevolge artikel 19(12) van die nuwe Wet. Die appêlhof se bevoegdhede in 'n appèl kragtens daardie sub-artikel word uiteengesit in artikel 19(12)(b). Onder andere kan die appèlhof die doodvonnis tersyde stel en die saak na die verhoorhof terugverwys met die opdrag om met 'n aangeleentheid, met inbegrip van die aanhoor van getuienis, te handel op die wyse wat die appèlhof goed ag (artikel 19(12)(b)(iii)).
Die appellante doen nou aansoek om terugverwysing van die saak ingevolge gemelde artikel ten einde verdere getuienis te lei. Dit gaan oor strafversagtende faktore. Voordat ek verder op die aard van die getuienis ingaan, is dit egter gerieflik om eers na te gaan watter beginsels geld ten opsigte van so 'n aansoek. In S v. Mathee (AA - ongerapporteerd, saak 258/91, gelewer 28 November 1991) is die volgende hieromtrent gesê:

4

"Soos reeds telkemale deur hierdie hof beklemtoon, het die nuwe Wet heeltemal nuwe beginsels neergelê waarkragtens doodvonnisse opgelê word. Waar 'n aansoek van begin tot einde ooreenkomstig hierdie beginsels bereg word,skep dit geen prosesregtelike probleme nie. Die wetgewer het dieselfde beginsels egter van toepassing gemaak op sake waarin die doodvonnis opgelê is wat ten volle afgehandel is (soos die onderhawige - artikel 19 van die nuwe Wet) en sake wat voor die inwerkingtreding van die nuwe Wet 'n aanvang geneem het, maar ten tyde van die inwerkingtreding nog nie afgehandel is nie (artikel 20 van die nuwe Wet). Hierdie artikels bring dus mee dat 'n hof op appèl die gepastheid van 'n doodvonnis moet bepaal ooreenkomstig beginsels wat nie ten tyde van die verhoor gegeld het nie. Hierdeur word die moontlikheid geskep dat daar getuienis mag wees wat ter sake is tot die oplegging van die doodvonnis ooreenkomstig die nuwe beginsels maar wat nie tydens die verhoor gelei was nie omdat dit nie ter sake was ingevolge die beginsels wat destyds gegeld het nie. Dit is hoofsaaklik om vir sulke gevalle voorsiening te maak, meen ek, dat die bogemelde artikel 19(12)(b)(iii) en die ooreenstemmende artikel 20(3) in die nuwe Wet verskyn."

Mathee se saak het te doen gehad met getuienis wat glad

nie ter sake was kragtens die ou bedeling nie, en derhalwe nie
destyds toelaatbaar was nie. 'n Mens kan egter ook gevalle hê
waar die getuienis wel destyds toelaatbaar was, maar waar die
nuwe Wet die basis van relevantheid, of 'n verandering in die

5

bewyslas, teweeg gebring het, sodat daar nou wesentlik 'n nuwe situasie op appèl ontstaan het. Getuienis oor versagtende omstandighede, waarmee ons tans te doen het,is 'n goeie voorbeeld
hiervan. Kragtens die vorige regsposisie was die beskuldigde beswaar met die bewyslas om die bestaan van versagtende omstandighede te bewys. Tans hoef 'n beskuldigde bloot te wys op die bestaan van 'n feitebasis in die getuienis wat die redelike moontlikheid aantoon dat 'n strafversagtende faktor aanwesig mag wees. Hieruit volg dit dat daar getuienis mag wees wat relevant kon gewees het met betrekking tot versagtende omstandighede maar wat nie gelei was nie omdat dit nie genoeg was om 'n bewyslas te kwyt nie. Tans hoef daar egter slegs 'n redelike twyfel geskep te word, en dit maak uiteraard 'n groot verskil aan die praktiese waarde van die getuienis.
In die lig van die omstandighede wat ek hierbo genoem het, het hierdie hof dan ook in S v. Nofomela (AA.
ongerapporteer, saak 161/91, gelewer 28 November 1991) bepaal dat 'n appellant, ten einde te slaag met 'n aansoek ingevolge artikel

6

19(12)(b)(iii), die hof van die volgende aspekte sal moet

oortuig:

"(a) that the proposed evidence is relevant to the issues of mitigating or aggravating factors and the exercise by the trial court of its discretion in the light of the new test;
(b) that, save for exceptional circumstances, there is a reasonable possibility that such evidence would have been presented to the trial court by the appellant if the test had then been what it now is;
(c) that the proposed evidence would presumably be accepted as true by the trial court;
(d) that, if accepted, such evidence could reasonably lead to a different sentence."

Dit bring my dan terug by die feite van die onderhawige

saak. Nadat die appellante aan moord skuldig bevind was, is geen
getuienis met betrekking tot versagtende omstandighede gelei nie.
Die aangeleentheid is bloot geargumenteer op die rekord van die

getuienis met betrekking tot skuldigbevinding. Dit is ook al wat

tans in die appèl voor ons is. In die aansoeke om terugverwysing

is daar getuienis van 'n kliniese sielkundige, Mnr. G Friedman,

oor die twee appellante se agtergronde en

persoonlikheidsamestellings. Indien die aansoeke toegestaan

7

word, word daar beoog om die getuienis van Mnr. Friedman te lei. Daarbenewens sal daar moontlik getuienis nodig wees om sekere feite met betrekking tot die appellante se agtergronde voor te dra om as basis vir.Mnr. Friedman se getuienis te dien. Die staat sal natuurlik ook op hierdie aangeleentheid wil ingaan, en tydens die verhoor mag verdere kwessies ontstaan wat aanvullende getuienis vereis. Namens die appellante is daar egter beklemtoon dat die aansoek slegs te doen het met die appellante se persoonlikhede en geestestoestande insoverre dit betrekking mag hê op hul verwytbaarheid. Daar is geen rede om te vermoed dat die getuienis wat die appellant wil lei, nie betroubaar sal wees nie. Hoewel hierdie getuienis by die verhoor gelei kon gewees het in 'n poging om versagtende omstandighede te bewys, bied die verandering in die bewyslas na my mening 'n voldoende rede hoekom dit nie gedoen is nie. Die aansoeke behoort dus myns insiens te slaag indien die beoogde nuwe getuienis relevant sou wees en 'n invloed op die bepaling van 'n vonnis sou kon hê.

Mnr. Downer, namens die staat, het dan ook betoog dat

8

die beoogde verdere getuienis geen invloed op die appellante se

vonnis kan hê nie. Ek meen dat dit nie wenslik is om hierdie

argument tans in besonderheid te bespreek nie aangesien ek

liewers nie nou enige kommentaar, al is dit prima facie, wil uitspreek oor die effek van die bestaande getuienis en die moontlike uitwerking daarop van die nuwe getuienis nie. Ek het egter die staat se argumente deeglik oorweeg, en meen dat die beoogde nuwe getuienis wel relevant is en moontlik 'n invloed op die vonnis sou kon hê. Die verhoorhof sal moet oordeel, in die lig van al die getuienis wat voor hom sal wees, of die doodvonnis die gepaste vonnis is ingevolge artikel 277(2)(b) van die Strafproseswet.
Weens die voorgaande word die volgende bevel uitgereik: Die doodvonnis word ter syde gestel en die saak na die verhoorhof terugverwys met die opdrag om enige verdere getuienis aan te hoor wat namens die appellante of die staat aangebied word omtrent die appellante se persoonlikhede en geestestoestande insoverre dit betrekking mag hê op hul verwytbaarheid vir die

9

moord wat hulle gepleeg het; en om daarna die vonnis op te lê wat na die oordeel van die verhoorhof opgelê sou gewees het indien artikel 277 van die Strafproseswet, no 51 van 1977, in werking was ten tyde van vonnisoplegging deur die verhoorhof.

E M GROSSKOPF, AR