South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 171

| Noteup | LawCite

S v Visser (12/91) [1991] ZASCA 171 (27 November 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPELAFDELING)

saaknr. 12/91

In die appèl van

BARNEY WILLIAM VISSER APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

Coram: E.M GROSSKOPF, VAN DEN HEEVER ARR et VAN COLLER WndAR

Datum aangehoor: 15 November 1991 Datum gelewer: 27 November 1991

2 UITSPRAAK

VAN COLLER WndAR:

Appellant is in die streekhof te Vryheid skuldig bevind op twee klagtes van verkragting. Ten opsigte van elke klagte is 'n vonnis van 8 jaar gevangenisstraf opgelê. Op appél na die Natalse Provinsiale Afdeling is die skuldigbevinding op die eerste klagte gehandhaaf. Die skuldigbevinding en vonnis op die tweede klagte is op grond van onreëlmatighede in die verhoor tersyde gestel. Die saak is wat dië klagte betref na die streekhof terugverwys om de novo deur 'n ander landdros verhoor te word. Op 10 Augustus 1990 is appellant op die tweede klagte onskuldig bevind en ontslaan. Verlof is deur hierdie hof aan appellant verleen om teen die skuldigbevinding op die eerste klagte te appelleer.

3

Die saak van die Staat 1 s dat appellant die klaagster gedurende die aand van 28 Desember 1988 te Vryheid verkrag het. Die klaagster was op daardie stadium 19 jaar oud, ongetroud, en sy het by haar ouers ingewoon. Sy het as klerk by die Departement Mannekrag gewerk. Appellant was toe 33 jaar oud en hy het sedert Augustus 1988 as verkoopsverteenwoordiger by die firma, PG Glass, op Vryheid gewerk.

Mnr Scheltema, wat deurentyd names appellant opgetree het, het in hierdie hof die skuldigbevinding op tweërlei grondslag aangeveg. Hy het eerstens aangevoer dat die streeklanddros fouteer het om die klaagster se getuienis te aanvaar. Die tweede been van sy argument was dat die verhoorhof 'n onreëlmatigheid begaan het deur nie 'n aansoek om die herroeping van die klaagster toe te staan nie nadat sekere teenstrydighede in haar getuienis, en 'n verklaring wat sy aan die polisie gemaak het, aan die lig gekom het.

4

Die getuienis van die klaagster aangaande die gebeure die aand van 28 Desember 1988 is kortliks soos volg. Appellant het haar genooi om die aand saam met hom te gaan eet. Alhoewel sy kennis met hom gemaak het by haar werk, het sy nog nie voorheen met appellant uitgegaan nie en sy het nie geweet dat hy getroud is nie. Sy was aanvanklik onwillig om saam met appellant te gaan, maar het later ingewillig nadat appellant haar laat weet het dat 'n ander paartjie sou saamgaan. Appellant het die klaagster by haar ouerhuis opgelaai. Hy was vergesel van ene mevrou Rhoda van der Merwe, en 'n kollega, ene Gordon Coleman. Hulle is met Coleman se motor na 'n hotel waar drankies gedrink is. Volgens die klaagster het sy 'n brandewyn en soda gedrink. Aangesien die hotel nie die gereg wat hulle bestel het kon voorsit nie, het hulle na 'n restaurant gegaan waar hulle wyn bestel het en geëet het. Die viertal het ongeveer 10.15 nm vanaf die restaurant vertrek. Rhoda van der Merwe en Coleman wou na 'n hotel gaan maar appellant was nie daartoe
5 geneë nie. Rhoda is op haar versoek by haar woning afgelaai. Volgens klaagster wou sy ook huis toe gaan maar Coleman het haar oorreed om saam met hom en appellant na 'n motel, bekend as die Stilwater Motel, te gaan. Daar aangekom is hulle na die dameskroeg. Volgens die klaagster is daar twee rondtes drankies bestel. 5y self het egter net een drankie, weer brandewyn en soda, gedrink. Teen ongeveer 11 nm wou sy huis toe gaan en Coleman het aangebied om haar te neem. Appellant het egter aangedring daarop om haar te neem. Buite die motel het Coleman die klaagster gesoen, maar volgens haar was dit nie 'n intieme soen nie. Appellant se bakkie was by die motel waar Coleman tuis was. Hy en die klaagster het met die bakkie vertrek na Vryheid wat ongeveer 10 km vanaf die motel is. Op pad het die klaagster 'n sigaret aangesteek. Die gebeure tot op hierdie stadium is in hooftrekke gemene saak. Die klaagster se weergawe aangaande wat verder gebeur het is soos volg. Appellant het gesê hy gaan stilhou sodat sy klaar kon rook voordat hy haar by haar ouerhuis aflaai. Appellant het blykbaar geweet dat
6 sy nie voor haar ouers rook nie. Appellant het nie stilgehou nie maar by 'n piekniekplek langs 'n rivier afgedraai van die pad. Hy het onder 'n boom stilgehou ongeveer 100 m van die teerpad af. Die klaagster het getuig dat appellant haar aangekyk het met 'n snaakse, wrede uitdrukking in sy oë. Sy was vreesbevange. Hy het haar nader getrek en gesoen. Sy het begin huil en appellant versoek om haar huis toe te neem. Hy het iets uit sy voertuig se paneelkissie geneem en dit teen haar maag gedruk. Sy kon nie die voorwerp sien nie maar sy kon voel dat dit in staat was om te sny as dit harder gedruk word. Appellant het die klaagster aangesê om op te hou huil en te doen wat hy së. Op die wyse het hy haar gedwing om uit te klim, haar klere uit te trek en om agter op die bakkie te klim. Daar het hy gemeenskap met haar gehou. Terwyl hy met die klaagster besig was het hy sy lyfband van sy broek gehaal, dit om haar nek gesit en gesê dat sy moet ophou huil. Volgens die klaagster het appellant, voordat hy sy klimaks bereik het, opgestaan en langs die bakkie gaan staan
7 waar hy blykbaar gemasturbeer het. Daarna het hy haar aangesê om aan te trek. Alvorens hulle vertrek het, het appellant haar vertel dat hy sy vrou met 'n ander man in die bed gekry het, en dat hy voorheen al in die tronk was omdat hy die persoon iets aangedoen het. Appellant het ook aan die klaagster gesê dat indien sy dit verkies, hy haar by die polisiestasie kan aflaai waar sy 'n saak aanhanging kan maak. Hy het gesê dat hy baie geld het, en hy n advokaat sou kry en sy niks sou kon bewys nie. Die klaagster het getuig dat sy appellant versoek het om haar na haar nefie se huis te neem. Sy het hom beduie na die huis van ene Luitenant de Jager in Heerenstraat waar appellant haar afgelaai het. Luitenant de Jager was nie haar nefie nie maar sy het wel voorheen met hom uitgegaan, en was goed met hom bevriend. Die klaagster se getuienis is verder dat sy met haar aankoms by de Jager histeries was en dat sy gehuil het. De Jager het haar kalmeer en op haar versoek 'n landdros, ene mnr Claasen, telefonies na sy huis ontbied. Claasen het kort daarna opgedaag en sy het aan hom en de Jager vertel wat
8 plaasgevind het. Volgens die klaagster het de Jager die speurders gebel waarna hulle na haar ouer suster se huis is. Daarna is hulle na die klaagster se ouerhuis waar haar moeder ook van die gebeure ingelig is. Die speurders het later opgedaag en sy is na die hospitaal geneem waar die distriksgeneesheer, dokter van Alften, haar ondersoek het. Die klaagster het getuig dat sy slegs blou merke op haar rug gehad het as gevolg van die lé op die bakkie en dat sy nie ander beserings gehad het nie. Sy is twee dae later weer na die geneesheer en tydens dié besoek het sy hom vertel van die blou merke. Die klaagster het voorts in haar getuienis erken dat sy al voorheen met een ander manspersoon gemeenskap gehad het.

Luitenant de Jager, na wie die klaagster verwys het, is ook deur die Staat as getuie geroep. Ten tye van die verhoor was hy 'n kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisie. Hy het getuig dat hy om 12.15 vm op 29 Desember as gevolg van 'n harde geklop aan die agterdeur van sy huis wakker geword
9
het. Die persoon wat geklop het was die klaagster. Sy was
half histeries en sy het gehuil. Hy het haar probeer
kalmeer en in sy kamer op die bed laat sit. Haar klere was
gekreukel en haar hare onnet. Hy het Tom Claasen op die
klaagster se versoek gebel en hom gevra om na sy huis te kom. Die klaagster het aan hom en Claasen vertel dat sy deur appellant verkrag is. Volgens de Jager het die klaagster geskok gelyk. Hy het geen drankreuk by haar waargeneem nie.

Thomas Claasen, 'n landdros van Vryheid, se getuienis het ooreengestem met die van de Jager. Hy het getuig dat met sy aankoms by de Jager die klaagster baie ontsteld was en kermagtig gehuil het. Hy het geen beserings waargeneem nie maar opgelet dat haar romp gekreukel was. Hy het geen drankreuk waargeneem nie maar hy het self vroeër die aand drank gebruik. Die klaagster het vir hom nugter voorgekom.
10 Dokter F. E van Alften, die distriksgeneesheer van Vryheid, het getuig dat hy die klaagster op 29 Oesember 1988 om 3.25 vm by die hospitaal ondersoek het. Haar liggaamlike en geestestoestand was normaal en so ook die toestand van haar klere. Die klaagster was op haar gemak en nie geskok nie. Die ondersoek van die klaagster se geslagsdele was maklik. Daar was geen vars skeure van die maagdevlies nie maar wel twee ou skeure. Volgens dr van Alften se getuienis het die klaagster hom ook op 9 Januarie 1989 kom besoek. Sy het gekla van lae abdominale pyne, maar hy het geen aantekening dat sy van rugpyn gekla het nie. Hy het ook geen aantekening daarvan dat die klaagster sou gekla het van blou kolle op die rug nie. Indien sy aandag op blou kolle op die rug gevestig was, sou hy beslis 'n aantekening daarvan gemaak het.

Appellant se getuienis is dat die klaagster dronk was op die stadium toe hulle met sy bakkie vanaf die motel vertrek het. Sy het heelwat meer gedrink as wat haar getuienis voorgee.

11

Daar is geensins by die piekniekplek afgedraai of stilgehou nie en geen verkragting of gemeenskap het plaasgevind nie. Volgens appellant het die klaagster hom versoek om haar by vriende se huis af te laai, want indien sy in die toestand waarin sy was sou tuis kom, daar moeilikheid sou gewees het. Die klaagster het hom beduie na Kommissiestraat 90 waar hy haar afgelaai het. (Hierdie adres stem nie ooreen met die adres waar die klaagster volgens haar getuienis afgelaai is nie.) Appellant het ook getuig dat daar varkkos agterop sy bakkie was. Hy het op daardie tydstip 'n paar varke aangehou op die plaas waar hy woonagtig was. Hy het feitlik daagliks groente en vrugte wat reeds bederf was by die mark gekry vir sy varke.

Appellant se eggenote het getuienis vir die verdediging afgelê. Sy het getuig dat sy op 29 Desember 1988 by die huis was toe appellant in die vroeë oggendure opgedaag het. Sy was bekommerd en kwaad en het uitgegaan om hom te ontmoet. Appellant het aan haar vertel dat hy saam met
12 Gordon gaan uiteet het. Sy het gesien dat daar varkkos agterop die bakkie was.

Die verdediging het ook n vrouekonstabel, Maria van Eck, as getuie geroep. Die enigste rede waarom hierdie getuie geroep was, is om die verklaring wat sy van die klaagster om 5.25 vm op 29 Desember 1988 geneem het, voor die hof te plaas.

Dit blyk uit die oorkonde dat die verdediging op twee geleenthede gedurende die verhoor aansoek gedoen het om die klaagster te herroep vir verdere ondervraging. Die eerste geleentheid was op 27 November 1989 en op daardie stadium het die aanklaer reeds die verklaring wat die klaagster aan die polisie gemaak het tot beskikking van appellant se advokaat gestel. Die aanklaer was egter van mening dat haar getuienis nie wesenlik afgewyk het van haar verklaring nie en hy het die aansoek om herroeping teengestaan. Die aansoek is deur die streeklanddros, wat op daardie stadium
13 nie insae in die verklaring gehad het nie, van die hand gewys. Op 28 November 1989, en nadat die klaagster se verklaring ingehandig is, en die verhoorlanddros insae daarin gehad het, het appellant se advokaat sy aansoek om herroeping van die klaagster herhaal, Die aansoek is weereens van die hand gewys.

Die streeklanddros het die getuienis van die klaagster aanvaar en dié van appellant en sy eggenote verwerp. Hy het bevind dat daar stawing vir die klaagster se getuienis is in die getuienis van Claasen en de Jager. Die streeklanddros meld in sy uitspraak dat die klaagster se getuienis sonder twyf el aanvaar kan word en dat voldoen is aan die versigtigheidsreels.

Wat die meriete van die saak betref, het mnr Scheltema
aangevoer dat die streeklanddros nie die klaagster se
getuienis krities benader het nie en fouteer het om dit te
aanvaar. Hy het aangevoer dat die klaagster nie 'n

14 bevredigende getuie was nie en hy het na verskeie aspekte verwys, wat volgens hom, duidelik aantoon dat die klaagster se getuienis nie aanvaar kon word nie. Mnr Scheltema se vernaamste kritiek teen die klaagster se getuienis is gebaseer op die getuienis van die distriksgeneesheer. Hy het ook na ander aspekte verwys, soos byvoorbeeld verskille in die getuienis van die klaagster en die polisie aangaande besonderhede wat die klaagster aan hulle sou verstrek het. Daar is seer sekerlik heelwat meriete in hierdie argumente. Hierteenoor is daar die getuienis van de Jager en Claasen en sekere waarskynlikhede wat steun bied aan die getuienis van die klaagster. In die lig van die bevinding waartoe geraak is ten opsigte van mnr Scheltema se tweede argument, is dit egter nie nodig om verder hierop uit te brei nie en ook nie om te besluit of daar wel voldoende gronde bestaan om met die verhoorhof se geloofwaardigheidsbevindings in te meng nie.

Mnr Scheltema het aangevoer dat die verhoorhof se weiering
15 om die klaagster te herroep 'n growwe onreëlmatigheid in die verrigtinge daarstel aangesien daar wesenlike weersprekings in die klaagster se getuienis en haar verklaring voorkom. Dit dien vermeld te word dat appellant se skuldigbevinding op die tweede klagte deur die hof a quo op grond van 'n soortgelyke onreëlmatigheid tersyde gestel is. Die beweerde verkragting waarop die tweede klagte betrekking gehad het, het plaasgevind op die 3de Februarie 1989, te Vryheid, dws nie lank na die verkragting wat in die eerste klagte die appellant ten laste gelê is nie. Die klaagster was 'n getroude vrou en die verkragting sou op die perseel waar appellant werksaam was, plaasgevind het. Die hof a quo het bevind dat daar wesenlike verskille is in die klaagster se getuienis en die verklarings wat deur haar aan die polisie gemaak is. Dit is as gevolg van hierdie onreëlmatigheid dat die bevele gemaak is waarna reeds verwys is. Wat die eerste klagte betref, het die hof a quo egter bevind dat die verskille in die getuienis en die polisieverklaring nie wesenlik is nie en dat daar derhalwe geen onreëlmatigheid
16 begaan is deur nie die klaagster vir verdere ondervraging te herroep nie.

In S v Xaba 1983 (3) SA 717 (A), waarin gehandel is met die plig van 'n aanklaer om 'n verklaring tot die beskikking van die verdediging te stel wanneer 'n getuie daarvan afwyk, sê Botha AR op 729 F - H die volgende aangaande 'n wesenlike teenstrydigheid:

"It must be borne in mind that the rationale of the rule requiring disclosure of a previous inconsistent statement is to provide a safeguard against the danger of an accused being convicted on the evidence of a witness who is not a credible and reliable witness. Whether or not a discrepancy between the evidence of a state witness and his previous statement to the police is sufficiently serious to call for the performance of the duty of disclosure by the prosecutor must therefore be assessed in the context of the effect that such disclosure and the cross-examination following upon it might have cm the credibility and reliability of the witness. In my opinion a discrepancy is serious whenever there is a real possibility that the probing of it by means of cross-examination could have an adverse effect on the assessment by the trial court of the witness' credibility and reliability. Such a real possibility is not created by a discrepancy of a minor or trivial nature."

17

In die onderhawige saak het die aanklaer wel die verklaring tot beskikking van die verdediging gestel. Indien die teenstrydighede wat hier ter sprake is wesenlik is, was die weiering van die streeklanddros om aan die aansoek om herroeping van die klaagster te voldoen, onreëlmatig.

Ek ag dit nie nodig om al die weersprekings waarna verwys is te behandel nie. Sommige kan nie as werklike teenstrydighede bestempel word nie en ander is van geringe aard. So bv kan 'n teenstrydigheid of appellant teenoor klaagster se moeder dan wel teenoor haar vader onderneem het dat hy haar teen 11 nm huis toe sou bring nie as wesenlik bestempel word nie. Dieselfde kan egter nie van die volgende teenstrydighede gesê word nie. Volgens haar verklaring het die klaagster oa die volgende gesê aangaande wat by die piekniekplek gebeur het:

18

"Ek wou uitklim maar hy het die deur gesluit. Daarna het hy by die bestuurderskant uitgeklim en langs my kom staan."

Volgens die klaagster se getuienis onder kruisverhoor was die deur nie gesluit nie en het sy dit nie oorweeg om uit te klim nie. Sy het getuig dat sy op daaardie stadium alreeds te vreesbevange was. Hierdie twee weergawes is direk teenstrydig en kan nie met mekaar versoen word nie. Volgens wat in die verklaring staan moes appellant die deur van binne gesluit het en daarna uitgeklim het. Niks sou die klaagster verhoed het om die deur weer oop te maak nie, of om by die ander deur uit te klim nie. Die verklaring is dus nie alleen strydig met die klaagster se getuienis nie maar laat verskeie vrae ontstaan wat in kruisverhoor verder ondersoek kon gewees het. Nie alleen bestaan die moontlikheid dat die klaagster leuenagtig is aangaande wat sy sê ten aansien van die gebeure kort voor die verkragting nie, maar dit kon daarop gerig gewees het om die saak teen
19 appellant aan te dik. Die moontlikheid kan wel nie uitgesluit word dat die klaagster die teenstrydighede op so 'n wyse kon verduidelik dat dit nie haar geloofwaardigheid nadelig sou raak nie. Daaroor kan egter slegs gespekuleer word en dit doen geensins afbreuk aan die werklike moontlikheid dat verdere kruisondervraging die verhoorhof se geloofwaardigheidsbevindings nadelig kon raak nie.

'n Verdere teenstrydigheid wat nie as gering of beuselagtig bestempel kan word nie, het betrekking op die wyse waarop die seksdaad voltooi sou gewees het. Die strekking van die klaagster se verklaring is dat appellant die daad voltooi het. Volgens haar getuienis het appellant voordat hy sy klimaks bereik het, sy privaatdeel uitgehaal en langs die bakkie gaan staan waar hy gemasturbeer het. Die strekking van haar getuienis onder kruisverhoor is baie duidelik dat sy ook in haar verklaring aan die polisie gesê het dat appellant sy privaatdeel uitgehaal het voordat hy saad gestort het. Wat hierdie teenstrydigheid betref val die

20

ongewone optrede aan die kant van appellant dadelik op. Die ongewone optrede word egter nie in die verklaring vermeld nie terwyl die klaagster in haar getuienis baie seker is dat sy dit wel vermeld het. Die moontlikheid dat verdere ondervraging op hierdie aspek die klaagster se geloofwaardigheid en betroubaarheid nadelig kon aantas word versterk indien hierdie getuienis in verband gebring word met die getuienis van die klaagster in die tweede klagte. Sy het ook getuig dat nadat sy verkrag is, appellant gemasturbeer het. Nie lank na die beweerde verkragting nie het sy besoek afgelê by die eerste klaagster. Hulle het met mekaar oor die gevolge van hulle onderskeie ondervindinge gepraat, dog nie, so is getuig, aangaande wat presies met elkeen gebeur het nie. Waar die feit van die masturbasie nie in die klaagster se verklaring gemeld word nie, maar wel in haar getuienis wat gegee is na die gesprek met die ander klaagster, kan die afleiding gemaak word dat die klaagster hierdie getuienis versin het. Na my mening was daar ook 'n werklike moontlikheid dat verdere ondervraging ten opsigte
21 van hierdie teenstrydigheid 'n nadelige uitwerking kon gehad het op die verhoorhof se siening van die klaagster se geloofwaardigheid en betroubaarheid.

Mnr Scheltema moet dus gelyk gegee word dat die landdros 'n onreëlmatigheid begaan het deur nie die aansoek om herroeping van die klaagster vir verdere ondervraging toe te staan nie. Appellant was derhalwe verkeerdelik die geleentheid ontneem om die klaagster se geloofwaardigheid verder te toets aan die hand van die verklaring wat deur die polisie van haar geneem is. Daar kan geen twyfel wees dat die onreëlmatigheid 'n regskending tot gevolg gehad het nie. Die appél moet dus op hierdie grondslag slaag.

Soos in die Xaba-saak, is dit ook wat hierdie saak betref, ongelukkig dat die skuld of onskuld van appellant onbeslis gelaat word. Dit moet weereens beklemtoon word dat 'n beskuldigde egter geregtig is op 'n regverdige verhoor, iets wat nie hier geskied het nie.

22

Die appèl slaag en die skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.

A P VAN COLLER WndAR E M GROSSKOPF AR ) VAN DEN HEEVER AR ) STEM SAAM