South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 160

| Noteup | LawCite

S v Rautenbach (73/91) [1991] ZASCA 160 (25 November 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA

(APPêLAFDELING)

SAAKNR. 73/91 In die appël tussen:

STEPHANUS PETRUS RAUTENBACH APPELLANT

en ::
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: VAN HEERDEN et EKSTEEN ARR; PREISS WnAR
Aangehoor: Maandag 25 November 1991

Transkripsie van ex tempore uitspraak op

Maandag 25 November 1991 deur Preiss WnAR

gelewer en waarmee Van Heerden et Eksteen ARR saamgestem het

UITSPRAAK

PREISS WnAR:

Die appellant is 'n 55 jarige ongerehabiliteerde insolvent. Hy het in die Streekhof te Worcester, Kaapprovinsie, op sewe aanklagte van tjekbedrog skuldig gepleit, asook op nege aanklagte van oortreding van a 137 (a) van die Insolvensie -wet 24 van 1936 , deurdat hy krediet vir meer as R20 by mense gekry het sonder om sodanige mense in te lig dat hy insolvent is. Die klaers in die bedrog aanklagte het meer as R7000 verloor. Ten aansien van die statutêre oortredings was die betrokke bedrae aansienlik groter, naamlik meer as R117 000. Die appellant is 'n gesamentlike vonnis van 5 (vyf) jaar gevangenisstraf op die bedrog aanklagte opgelê. Op die nege statutêre oortredings is hy tot 6 (ses) maande

3

gevangenisstraf op elke aanklag gevonnis. Die hof het egter gelas dat laasgenoemde vonnisse samelopend met die vonnis van 5 jaar gevangenisstraf uitgedien moet word. Die effektiewe tydperk van gevangenisstraf beloop gevolglik 5 jaar.

Die appellant se boedel is oorspronklik in 1974 gesekwestreer. Hy is gedurende 1980 of 1981 gerehabiliteer, maar kort daarna, naamlik gedurende 1982, is sy boedel vir 'n tweede maal gesekwestreer. Hy is tans ongerehabiliteerd. Die lys van sy vorige veroordelings is swaar. Hy het sedert 1977 gereeld met die gereg gebots. Die lys bevat onder andere 'n lang reeks kommersiële misdrywe. Hy is nie minder nie as sewe keer aan bedrog skuldig bevind. Ten aansien van statutêre misdrywe voortspruitend uit sy insolvensie is hy reeds ses keer skuldig bevind.

Ondanks die ernstige aard van sy vorige veroordelings het hy slegs een keer gevangenisstraf uitgedien. Hy is weliswaar

4.
voorheen gevangenlsstraf opgelê, maar nadat hy by die gevangenis aangemeld het, is hy onmiddelik weer vrygelaat. Op 24 November 1986 is 'n opgeskorte vonnis in werking gestel waarna hy vir die eerste keer gevangenisstraf uitgedien het. Hy is na amper 'n jaar op parool vrygelaat .

Die streeklanddros het aanvaar dat die appellant wel berou vir sy misdrywe getoon het. Hy het die persoonlike omstandighede van die appellant in ag geneem. By die opweeg van die relevante faktore waarop 'n gepaste vonnis gegrond word, het hy egter beslis dat die element van afskrikking die belangrikste is, en dat dit, en die belange van die gemeenskap vereis dat gevangenisstraf opgelê behoort te word. Die deeglike wyse waarop al die betrokke elemente ontleed is, bevat geen mistasting hoegenaamd nie. Die appellant het na die Kaapse Provinsiale Afdeling teen die opgelegde vonnis geappelleer, maar sonder sukses. Laasgenoemde hof het egter verlof tot appèl na hierdie hof toegestaan.

5.
In hierdie hof het die appellant se advokaat daarop gewys dat al die misdrywe gedurende die tydperk November 1984 tot Mei 1986 gepleeg is. Hy het aangevoer dat die misdrywe gevolglik gepleeg is voordat die appellant ooit gevangenisstraf uitgedien het. Ek aanvaar dat dit buitengewone omstandighede is, maar die verhoorhof was bewus hiervan en het dit in ag geneem by vonnisoplegging. Daar is na my mening egter geen regverdiging vir die stelling dat hierdie omstandighede opsigselfstaande die oplegging van verdere gevangenisstraf uitskakel nie. Al wat gesê kan word, is dat die gevangenisstraf wat hy uitgedien het in verband gestaan het met 'n reeks misdrywe wat streng gesproke nie as vorige veroordelings beskou kan word nie. Daar is verder betoog dat die verhoorhof nie die moontlikheid van die inwerkingtreding van 'n vorige opgeskorte vonnis oorweeg het nie. Daardie argument gaan nie op nie. Die verhoorhof was van hierdie moontlikheid bewus en het dit uitdruklik in sy uitspraak genoem.

6
Die streeklandros het ook na die algemene voorkoms van soortgelyke misdade in sy streek verwys. Dit was en is 'n geldige en tersaaklike oorweging: (R v FORD 1939 AA 559 op 560 - 1)
Die appellant se advokaat het verder betoog dat die appellant op 14 Augustus 1986 in die streekhof te Wynberg, Kaapprovinsie, 'n opgeskorte vonnis opgelê is vir misdrywe wat met die onderhawige reeks misdrywe verband hou. Sy argument is dat gevangenisstraf die doel van hierdie opgeskorte vonnis sal verydel. Die antwoord hierop is tweeledig. In die eerste plek word die kwessie van die moontlike inwerkingtreding van die opgeskorte vonnis aan 'n ander hof oorgelaat. Die gevangenisstraf wat hom tans opgelê is, sal eers op daardie stadium as deel van die tersaaklike agtergrond oorweeg moet word. In die tweede plek, en gesien die erns en hoeveelheid van die aanklagte, is daar niks wat die verhoorhof verhoed het om ondanks die vorige opgeskorte vonnis gevangenisstraf in sy diskresie op
7.
te lê nie.

Ek is die mening toegedaan dat die verhoorhof in al hierdie omstandighede 'n behoorlike diskresie uitgeoefen het. Gesien die aard en omvang van die misdrywe wat hier ter sprake is, die aansienlike verliese wat die klaers gely het, die appellant se vorige veroordelings vir soortgelyke misdrywe en die belange van die handelsgemeenskap, bly die opgelegde vonnis van gevangenisstraf myns insiens onaanvegbaar.

Die appèl word dus van die hand gewys.

H.J. PREISS