South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 149

| Noteup | LawCite

S v Keraan (226/91) [1991] ZASCA 149 (15 November 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


226/91 /mb

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

MOGAMAT KERAAN Appellant
en
DIE STAAT Respondent

Coram : HEFER, VAN DEN HEEVER ARR et

KRIEGLER WndAR
Verhoordatum :7 November 1991 Leweringsdatum: 15 November

UITSPRAAK

KRIEGLER WndAR/......

1.

KRIEGLER WndAR:
Hierdie saak dien ingevolge die bepalings van art 19(12) van die Strafregwysigingswet nr 107 van 1990 ("die Wet"). Dit betref 'n persoon wat op 29 Oktober 1987 in die Kaapse Provinsiale Afdeling weens moord ter dood veroordeel is. Verlof tot appèl teen vonnis is destyds deur die verhoorhof geweier en 'n petisie na hierdie hof afgewys. Ná die inwerkingtreding van die Wet het die paneel wat by art 19(1) daarvan aangestel is, bevind dat die doodvonnis waarskynlik opgelê sou gewees het indien art 277 van die Strafproseswet nr 51 van 1977, soos by art 4 van die Wet vervang, ten tyde van vonnisoplegging in werking was. Hierdie hof moet nou ooreenkomstig die bepalings van art 19(12) (a) van die Wet ook die saak oorweeg, en wel soos 'n appèl teen vonnis ingevolge art 277 van Wet 51 van 1977 soos dit nou lui. Voorts bepaal art 19(12)(b)(ii) van die Wet dat hierdie hof

2/..;

2.

die doodvonnis kan tersyde stel en met h ander straf
vervang indien hy van oordeel is dat hy nie self die
doodvonnis sou opgelê het nie.

In wese beteken dit dan dat hierdie saak

oorweeg moet word ooreenkomstig die riglyne en
meetsnoere wat hierdie hof neergelê het in sake soos S
v Masina and Others 1990 (4) SA 709 (A); S v Senonohi

[1990] ZASCA 93; 1990 (4) SA 727 (A) en S v Nkwanyana and Others 1990

(4) SA 735 (A) . Daar moet naamlik opnuut beoordeel
word of die doodvonnis die enigste gepaste straf is in
die sin dat dit gebiedend aangewese is. By sodanige
beslissing word die aan- of afwesigheid van

strafversagtende en -verswarende faktore in samehang
met die doelstellings van straf in oorweging geneem.
Die begrip "strafversagtende faktore" is breër as die
ooreenstemmende begrip "versagtende omstandighede" wat
by die eertydse art 277 van toepassing was. Morele
verwytbaarheid is steeds belangrik en geniet oorweging

in samehang met ander verbandhoudende faktore by

3/...

3.
straftoemeting maar is nie meer allesoorheersend nie. Bowendien het daar h verskuiwing van die bewyslas ingetree, beide wat betref die aanwesigheid van strafverswarende faktore en die afwesigheid van strafversagtende faktore waarvoor daar 'n feitebasis in die getuienis bestaan. Albei moet oorweeg word op die grondslag dat die Staat die gebruiklike bewyslas by strafsake dra, naamlik bewys bo redelike twyfel.
Die feite waarop voormelde beginsels toepassing moet vind, kan soos volg saamgevat word. Teen die einde van Mei 1986 beplan die veroordeelde h gewapende roof; hy nader h dwelmsmokkelaar genaamd Isaacs om dié se 9 mm pistool te leen; Isaacs stem in maar gee te kenne dat een van sy kornuite by name Whitey in besit daarvan is. Presies hoe en wanneer die veroordeelde die vuurwapen in die hande kry, is nie duidelik nie aangesien Whitey ten tyde van die verhoor spoorloos verdwyn gehad het. Dit staan egter vas dat

4/...
4. hy dit wel bekom het. Tussen 09h00 en 09h30 op Vrydag 30 Mei 1986 steel hy en twee makkers (beskuldigdes nommer 2 en 3 by die verhoor) h Toyota motorkar by Tuine Sentrum in Kaapstad. Hulle ry daarmee na Bellville waar hulle tot minstens 11h11 naby h bank vertoef. Daarvandaan vertrek die driemanskap na Maitland waar hulle eers by h sakeperseel en toe by h nabygeleë bank observasie hou. Hulle agtervolg in die Toyota h man wat met h banksak uit die bank uitkom en in 'n kar wegry. Nouliks toevallig eindig die rit by die besigheidsperseel waar hulle vroeër observasie gehou het.
Daar aangekom gee die veroordeelde, wat tot op daardie stadium die gesteelde motor bestuur het, die stuur af aan beskuldigde nr 3. Hy en beskuldigde nr 2 klim uit en nader uit verskillende hoeke hul slagoffer, wat intussen na sy voordeur aanstap. Dit was toe net voor 1 uur die middag. Die slagoffer, mnr Raymond Dagnin, 'n gesette 66 jarige, betree die

5/...
5. voorportaal van sy sakegebou met die banksak in sy hand. Sonder woord of waarskuwing skiet die veroordeelde hom in die rug. Die slagoffer syg neer, waarop die veroordeelde twee verdere skote afvuur. Dagnin word in die omgewing van beide enkels skrams getref. Beskuldigde 2 raap die banksak op; hy en die veroordeelde haas hulle na die Toyota, spring in en beskuldigde nr 3 jaag weg. Hulle abandoneer die kar aan die buitewyke van die Kaapse middestad en gaan verdeel hul buit in h park in die Bo-Kaap. Daar tref Isaacs ongeveer 2 uur die middag vir die veroordeelde en beskuldigde nr 2 aan waar hulle sit en koerant lees. Hulle was toe nugter.
Dieselfde aand word die veroordeelde en beskuldigde nr 2 in verband met die voorval in hegtenis geneem. Beskuldigde 3 se arrestasie volg eers h paar weke later. Aldrie maak verklarings aan die polisie en neem aan uitwysings deel. Die veroordeelde werp

6/...

6.
aanvanklik 'n alibi op maar skakel kort daarna oor na 'n ander verontskuldigende relaas. Daarvolgens sou hy niksvermoedend in die Toyota gesit het terwyl beskuldigdes 2 en 3 vir Dagnin beroof; hulle kom toe by die kar aangehardloop, spring in en sê hom om weg te ry; dis eers later dat hy besef daar is 'n roof gepleeg.
Op 10 Junie 1986 sterf mnr Dagnin in die Groote Schuur Hospitaal. Die oorsaak van dood was 'n pulmonêre embolisme veroorsaak deur die skietwonde wat hy opgedoen het. Die drie bendelede staan in Augustus 1987 in die Kaapse Provinsiale Afdeling tereg op 5 aanklagte, naamlik moord op mnr Dagnin, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van die pistool en die ammunisie en diefstal van die Toyota. Die veroordeelde pleit onskuldig aan al vyf die aanklagte en gee ter pleitverduideliking die tweede verontskuldigende relaas. By monde van 'n

7/...
7. verskeidenheid getuies bewys die Staat die gebeure soos hierbo opgesom. Iedereen van die drie bendelede getuig ook. Elkeen probeer sy eie rol minimiseer - die veroordeelde in ooreenstemming met sy pleitverduideliking. Die verhoorhof verwerp hul weergawes as leuenagtig en bevind dat aldrie deelgeneem het aan die diefstal van die motorkar, aan die moord en die roof. Wat die veroordeelde betref, word bevind dat hy die oorledene geskiet het met die regstreekse opset om te dood.

Na skuldigbevinding betree die veroordeelde die getuiebank om getuienis ter strafversagting te gee. Hy verstrek toe 'n heel ander relaas: Hy erken deelname aan die diefstal van die Toyota en aan die gewapende roof. Laasgenoemde sou egter op die ingewing van die oomblik geskied het toe hulle toevallig vir Dagnin by die bank gewaar. Hy probeer - kennelik onoortuigend -voorhou dat die noodlottige skote per ongeluk afgevuur

8/...
8. is toe Dagnin met hom stoei om besit van die pistool. Vanselfsprekend kon hy nie die skoot in die rug verduidelik nie; ook nie hoe drie afsonderlike skote (wat elk afsonderlike en aansienlike snellerdruk geverg het) afgevuur is nie. Hy weet ook te vertel dat hy en beskuldigde nr 2 die betrokke Vrydagoggend twee pype gemengde dagga en Mandrax gerook het. Hy sou dan 'n jarelange en verslaafde gebruiker van beide dwelmmiddels gewees het. Sy aanvanklike ontkenning van enige dwelmgebruik die noodlottige oggend probeer hy afmaak as 'n poging om sy moeder te beskerm teen die skokwete dat haar seun (wat teregstaan op twee halsmisdade) h dwelmgebruiker is. Ewe onoortuigend is sy poging om sy relaas van dwelmgebruik voor die pleging van die roof te laat klop met dié van beskuldigde nr 2 - wat hy voorheen heftig ontken het. Oor waar, wanneer en hoeveel pype geniet sou gewees het, is daar 'n onversoenbare weerspreking. Die

9/...

9.

veroordeelde probeer nie eens verduidelik hoe hulle die tyd vir 'n paar pype in die Bo-Kaap kon vind tussen die steel van die Toyota in Tuine om ongeveer 09h30, die bespieding van die bank in Bellville tot minstens 11h11 en hul aankoms by Dagnin se perseel kort na 12h00 nie. Bowendien - en in sigself afdoende - gee hy nie te kenne dat die pype wat hy sou gerook het enige noemenswaardige uitwerking gehad het op sy geestesvermoëns toe hy die drie skote afgevuur het nie. Hier dien vermeld te word dat die kille berekendheid en flinke volvoering van die rooftog geen blyke toon van enige beneweldheid by enigeen van die drie rowers nie. Toe Isaacs 'n uur later vir die veroordeelde en beskuldigde nr 2 teëkom, was hulle nugter. Sodanige indruk word bevestig deur die veroordeelde se getuienis dat hy Dagnin se bankstukke nagegaan het om vas te stel hoeveel geld hulle buitgemaak het. Die gedagte aan sodanige kontrole en die veroordeelde se vermoë om dit

10/...

10.
uit te voer, getuig van sy onbelemmerde geestesvermoëns kort na die moord. Bygevolg bevind die verhoorhof ten aansien van die moontlike tersaaklikheid van dwelmgebruik deur die veroordeelde: "Daar is geen aanvaarbare getuienis dat, indien dwelmmiddels gebruik was, dit enigsins gelei het tot die pleging van die misdaad of dat dit enigsins die uitvoering daarvan beïnvloed het nie."
Die enigste ander strafversagtende omstandigheid wat aan die verhoorhof voorgehou is, het die veroordeelde tydens ondervraging deur die hof soos volg verwoord: "Ons het nog nooit beplan om die roof te doen nie. Ons het nie beplan om die man te skiet nie en ek het dit nie gedoen dat ek die man wou doodskiet met die opset om vir hom te dood nie. Om vir hom te skiet of so nie. Dit is by die ongeluk wat die vuurwapen afgegaan het."

In die uitspraak in verband met versagtende

11/...

11.

omstandighede is die veroordeelde se getuienis oor die spontane pleging van die roof en die onwillekeurige afgaan van die drie skote as leuenagtig verwerp. Aangesien daar geen ander versagtende omstandighede gesuggereer is nie, word die destyds verpligte doodstraf opgelê.
Die gegewens moet nou egter opnuut en in die lig van die huidig geldende art 277 van Wet 51 van 1977 beoordeel word. Die strafverswarende faktore is gewigtig, veelvuldig en duidelik. Dit was h berekende rooftog deur h bende rampokkers. Die nodige vuurwapen is geleen en die wegkomkar gesteel. Op die laaste Vrydag van die maand, betaaldag, word eers 'n bank in Bellville bespied; dan verskuif die bende na h bank in Maitland waar hulle 'n sagte teiken uitkies en agtervolg; helder oordag word die niksvermoedende slagoffer met h swaar kaliber vuurwapen van agter in die borskas geskiet; twee verdere skote word afgevuur.

12/...
12. Hy word nie eers die geleenthede gebied om sy lewe deur prysgawe van sy geld te red nie. Die twee parate jong rowers probeer nie hul bejaarde slagoffer handtastelik oorweldig nie. Aldrie rowers was onvermom in h besige nywerheidsgebied tydens die etensuur. Die aanwending van vlugtige en dodelike geweld moet gevolglik 'n noodwendige komponent van die beplanning gewees het. Die morele verwytbaarheid van die veroordeelde se optrede is dus besonder hoog.
Wat betref strafversagtende faktore, speel die andersliggende bewyslas as gevolg van die nuwe bedeling ingevolge die Wet geen rol nie. Die getuienis aangaande dwelmgebruik was só onoortuigend dat dit selfs nie as h redelike moontlikheid beskou kan word nie. Bowendien het die veroordeelde self te kenne gegee dat die uitwerking daarvan op hom is om hom te kalmeer. Gevolglik, al sou hy op een of ander stadium tydens die betrokke oggend dwelms gebruik het,

13/...

13.
sou dit juis gedoen gewees het om hom te versterk vir die moorddadige rooftog waarop hy bedag was. In ieder geval is daar geen reële moontlikheid dat die veroordeelde ten tyde van die pleging van die moord enigsins bedwelm of afgestomp was nie.
Daar is ook geen redelike moontlikheid dat die skote anders as doelbewus en met moorddadige opset afgevuur is nie. Die ligging en rigting van die skoot in die borskas van die oorledene is reeds onversoenbaar met enige ander afleiding. So ook die daaropvolgende afvuur van nog twee skote. Bowendien staan dit vas dat daar vooraf beplan is om die weerlose slagoffer plat te skiet ten einde die gewaagde roof te laat slaag. Die slotsom moet dus wees dat daar geen versagtende faktore te bespeur is nie.

Vervolgens moet die algemene oogmerke van straftoemeting oorweeg word. Die veroordeelde se persoonlike omstandighede is besonder ongunstig. Hy kan

14/...
14. trouens alleen as 'n geharde misdadiger beskryf word. Van kleintyd af was hy in botsing met die gereg en word verskeie kere gevangenisstraf opgelê. Na sy vrylating op parool op 14 Junie 1985 loods hy h volgehoue aanslag op die geordende samelewing waarvan die onderhawige misdade slegs die kulminasie was. Hy was trouens tydens die beplanning en pleging daarvan reeds verhoorafwagtend op h reeks ander misdade waaraan hy in November 1986 en Januarie 1987 skuldig bevind is. Dié het ingesluit 5 aanklagte van motordiefstal en 3 van gewapende roof wat vir hom altesaam 32 jaar gevangenisstraf (vanweë sameloping beperk tot 19 jaar) op die hals gehaal het. Dat hy uit was op h veldtog van misdadigheid blyk ook daaruit dat hy omgegaan het met ewe geharde residiviste. Beskuldigde nr 2 was sy medebeskuldigde en insgelyks verhoorafwagtend by etlike van die voorafgepleegde misdade terwyl sy neef, beskuldigde nr 3, presies vier weke voor die pleging

15 /...
15. van die onderhawige misdade op vrye voet was ná jare in die gevangenis. Die veroordeelde is gevolglik nie alleen 'n geharde misdadiger nie maar ook 'n man met 'n voorliefde vir gewelddadige bende-optrede, dikwels met behulp van vuurwapens. Straftoemeting in die verlede het geen inkeer gebring nie. Die feit dat hy verantwoording sou moes doen vir 'n reeks ander ernstige misdade het hom nie afgeskrik nie. Inteendeel, die genadelose neerskiet van oorlede mnr Dagnin was bloot die funeste toppunt van 'n leefwyse wat daarop bestem was. Dis dan nouliks verbasend dat daar van die kant van die veroordeelde geen sweem van berou of selfs insig in die enormiteit van sy handelinge was nie. Kennelik is daar van hervormingsmoontlikhede geen sprake nie.
Daar moet egter steeds oorweeg word of 'n besondere lang termyn gevangenisstraf nie dalk vanpas sal wees nie. Die wysigings aan art 276 van die

16/...

16.
Strafproseswet nr 51 van 1977 en art 64 van die Wet op Gevangenisse nr 8 van 1959 (deur artikels 3 en 18 van die Wet) beteken immers dat permanente verwydering van h booswig uit die samelewing bewerkstellig kan word anders as deur die doodstraf (kyk S v Mdau 1991(1) S.A. 169(A) te 176 D tot 177 C). Nietemin meen ek dat "die onvergelyklike uiterste" hier die enigste vonnis is wat voldoen aan die vereistes van straftoemeting. Die laakbaarheid van die misdaad is sodanig, die gemeenskapsvyandigheid van die misdadiger so volhardend verregaande en die regmatige aanspraak van die samelewing op vergelding so dwingend dat die doodvonnis onafwendbaar is. Daarbenewens moet afskrikking sy volwaardige rol speel in die tydgees van geweld wat tans hier te lande hoogty vier.

Bygevolg word die doodvonnis bekragtig.

J C\KRIEGLER WndAPPELREGTER

HEFER AR

VAN DEN HEEVER AR Stem saam