South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 143

| Noteup | LawCite

S v Lentsoane (401/1990) [1991] ZASCA 143 (7 November 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


LL Saak No 401/1990

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
APPèLAFDELING

Insake die appèl van:
G D LENTSOANE Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, MILNE ARR et VAN COLLER WAR

VERHOORDATUM: 1 NOVEMBER 1991 REDES INGEHANDIG: 7 NOVEMBER 1991

REDES VIR UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:

2.

Die appellant en twee mede-beskuldigdes (Khumalo en Mareme) het in 'n streekhof tereg gestaan op 'n aanklag dat hulle op 27 April 1988 ene Ismail Maduna van 'n Nissan motor beroof het. Al drie is skuldig bevind waarna die appellant na die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling teen sy skuldigbevinding en vonnis geappelleer het. Dié appèl is afgewys maar verlof is aan die appellant verleen om teen sy skuldigbevinding 'n beroep op hierdie hof te doen.
Die aanklag het voortgespruit uit 'n voorval in Johannesburg op 27 April 1988. Maduna was die bestuurder van die Nissan. Op 'n stadium, terwyl hy na die stilstaande voertuig teruggestap het, is hy gekonfronteer deur 'n onbekende Swart man ("X"). By hom was twee ander onbekende Swart mans wat later Khumalo en Mareme geblyk te wees het. X het vir Maduna beveel om stil te staan en het die ander twee aangesê om hom te slaan. Daarop het X die sleutels van die Nissan uit Maduna se hand geneem. Die drie geweldenaars het toe
3. in die Nissan geklim en weggejaag.
Nie lank daarna nie is die Nissan deur die polisie agterna gesit. Dit het met 'n sypaadjie gebots en tot stilstand gekom. Die insittendes het weggehard-loop. Mareme, wat die bestuurder was, is feitlik terstond aangekeer. Khumalo en X het ontvlug maar redelik kort daarna is eersgenoemde en die appellant op 'n erf in die omgewing in hegtenis geneem.
Die enigste vraag wat in hierdie appèl ontstaan het, was of die appellant en X een en dieselfde persoon was. Die getuienis wat in die streekhof gelei is, is van belang slegs vir diegene wat in elk geval ten volle daarmee vertroud is. Ek gaan dit dus nie met enige mate van volledigheid opsom nie. Dit is genoegsaam om te meld dat die landdros die verontskuldigende weergawe van die appellant verwerp het en dat die volgende brokke getuienis die appellant met die misdryf verbind het:

1) Maduna het die appellant uitgeken as

4. die persoon wat hom gekonfronteer en die sleutels uit sy hand geneem het.
2) Toe Maduna beroof is, was daar 'n blou
baadjie op die agterste sitplek van die Nissan.
Volgens 'n aantal getuies was die appellant in besit van
die baadjie toe hy gearresteer is.
3) Volgens die polisie was die appellant
en Khumalo saam in 'n hoek van die betrokke erf toe
hulle (die polisie) aldaar opgedaag het. 'n Vroue-
bediende wat op die perseel werksaam was, het getuig
dat sy twee Swart mans reeds 'n ruk vantevore op die erf
gewaar het, Op 'n stadium het hulle bymekaar onder 'n
boom gesit en daarna saam na die agterste deel van die
erf gestap.

Alvorens ek kritiek op bostaande getuienis behandel, dien vermeld te word dat die appellant se weergawe na my mening tereg verwerp is. Dit is ondenkbaar dat Khumalo vir 'n tydsbestek wat die appellant op 8 minute plaas - en wat waarskynlik langer
5. was - feitlik konstant by 'n kraan sou staan en water drink het. Dit is ook onaanvaarbaar dat indien die appellant by die erf ingehardloop het bloot omdat hy 'n
skoot gehoor het, hy hom in 'n agterste hoek van die tuin sou gaan verskuil het. Daarbenewens het die appellant hom op 'n kardinale aspek weerspreek oor die rede waarom hy nie met Khumalo gepraat of sy teenwoordigheid aan hom bekend wou maak nie. Eers het hy gesê dat hy bang was om met Khumalo te praat omdat hy gemeen het dat Khumalo op die perseel werksaam was. Later het hy getuig dat hy gedink het dat Khumalo een van die persone was "wat skiet". Nie een van die twee redes maak sin nie. Indien die appellant gevlug het was daar geen denkbare beletsel vir 'n openbaring - aan 'n werknemer - van die rede waarom hy hom op die perseel bevind het nie. En wat die tweede rede betref, is daar niks wat hom kon laat dink het dat Khumalo 'n skoot gevuur het of daarby betrokke was nie.

Die appellant se advokaat het desnieteen-
6.

staande betoog dat sy skuld nie bewys is nie. Betreffende (1) hierbo, het hy veral klem gelê op die feit dat Maduna die appellant slegs volgens algemene voorkoms uitgeken het, en op 'n weerspreking tussen Maduna en speurder-konstabel Rambau. Eersgenoemde sê naamlik dat toe hy by die polisiestasie kom - waar die appellant, Khumalo en Mareme reeds in aanhouding was -hy onmiddellik die appellant uitgewys het. Daarenteen getuig Rambau dat Maduna sy vinger na Khumalo gewys het as synde die persoon wat hom beroof het.

Maduna was natuurlik op die betrokke tydstip veel meer as Rambau ingesteld op die identiteit van die persoon wat hy uitgeken het. As een van die twee ten tyde van die verhoor 'n eerlike fout gemaak het, is dit dus waarskynliker dat dit Rambau was. Hierdie oorweging sou natuurlik verval indien dit ook die appellant se saak was dat Maduna nie vir hom nie maar wel vir Khumalo uitgewys het. Dit het die appellant egter nooit gesê nie. Trouens, toe Maduna getuig het,

7.
is slegs aan hom gestel dat toe hy in die polisiekantoor gevra was of die appellant en sy latere mede-beskuldigdes die mense was wat die motor gesteel het, hy "na ... [die appellant] ... gekyk en gesê het ek dink ek ken die man".
Wat betref die eerste van bogenoemde twee faktore waarop namens die appellant klem gelê is, is dit so dat Maduna nie enige uitstaande of besonder onderskeidende kenmerk van die appellant se voorkoms kon noem nie. Daar is ook gewys op ander aspekte wat, so is betoog, twyfel werp op die betroubaarheid van sy uitkenning van die appellant. Dit is onnodig om die tersaaklike betoë nader toe te lig. Vir huidige doeleindes kan veronderstel word dat indien slegs Maduna se getuienis die appellant met die roof verbind het, die respondent nie sy skuld buite redelike twyfel sou bewys het nie. Daardie getuienis was egter sekerlik nie duidelik onbetroubaar nie en moet in samehang met ondergenoemde vingerwysings in ag geneem
8. word.
Drie polisiebeamptes het getuienis oor die appellant se besit van die blou baadjie gegee. Konstabel Swart getuig dat toe hy die appellant en Khumalo hurkend in 'n hoek van die erf - met twee hoë mure agter en langs hulle - aangetref het, die appellant die baadjie in sy hande gehad het. Konstabel Taljaard het net na Swart op die toneel opgedaag. Een van die twee skuilendes, sê hy, het die baadjie by hom gehad. Volgens Taljaard moes die baadjie dus op een of ander wyse uit die Nissan na die erf geneem gewees het alvorens die polisie daar opgedaag het.

Derdens is daar die getuienis van Rambau. Alhoewel hy - anders as Swart en Taljaard - meld dat die appellant in die erf die baadjie "op" sy skouers gehad het, getuig hy ook dat die appellant in die erf die baadjie by hom gehad het. Net soos Swart sê hy ook dat die appellant kort na sy arrestasie - en terwyl hy nog in die erf was - die baadjie op die grond
9. neergegooi het.
Dit is tot 'n mate onwaarskynlik dat die appellant met die blou baadjie in sy hand vanaf die Nissan sou probeer wegvlug het. Dit is ook waar dat nòg Swart nòg Taljaard getuig dat die appellant 'n blou baadjie aangehad het toe hy ontvlug het. Aan die ander kant was Swart en Taljaard se aandag toegespits op die persone wat hulle agterna gesit het, d w s Khumalo en Mareme. Trouens, Swart sê dat toe hy vir Khumalo agterna gesit het, die appellant "uit my sig uit" was.

Betreffende bostaande getuienis van die drie polisiebeamptes is daar geen ruimte vir 'n eerlike vergissing nie. Indien die appellant nie die baadjie by hom gehad het nie, moes die drie saamgesweer het om meinedige getuienis te lewer. Hulle sou ook ten tyde van of kort na die appellant se arrestasie die komplot moes bereik het. Die appellant se advokaat het dan ook betoog dat Swart 'n motief gehad het om die baadjie valslik met die appellant te verbind. Die rede sou

10.

wees omdat hy nie die appellant andersins kon identifiseer nie. Hierdie betoog verloor uit die oog dat toe die appellant gearresteer is Swart nog nie kon weet dat Murray dit later as sy eiendom sou uitken nie. Hierbenewens is daar ook 'n duidelike weerspreking tussen wat aan Rambau gestel is en wat die appellant later getuig het. Laasgenoemde se regsverteenwoordiger het naamlik aan Rambau gestel: "Beskuldigde 1 [die appellant] sê dat toe u daar op die toneel aankom was u in besit van die baadjie". Toe die appellant egter getuig het, was sy weergawe dat hy die baadjie vir die eerste keer by die polisiestasie gesien het.

Ten slotte is dit belangrik dat die appellant aangetref is langs Khumalo wat bewys was een van die voortvlugtendes te gewees het; dat die twee vir 'n

aansienlike tydperk saam op die erf was, en dat die appellant 'n valse rede vir sy teenwoordigheid aldaar verstrek het.

Ek vind dit onnodig om spesifiek te verwys na
11.

verdere kritiek wat teen die Staatsgetuies geopper is. Ek volstaan deur te sê dat dit nie afding nie aan die trefkrag van bostaande oorwegings wat, gesamentlik beskou, buite redelike twyfel op die skuld van die appellant dui.
Om bogenoemde redes is die appèl na die verhoor daarvan afgewys.

H J O VAN HEERDEN AR

A J MILNE AR

A P VAN COLLER WAR