South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 14

| Noteup | LawCite

S v Blaauw (418/90) [1991] ZASCA 14 (16 March 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


1.

Saak nr 418/90 /MC

IN DIE HOOGGEREGSHOP VAN SUID-AFRIKA. (APPèLAFDELING.

In die saak tussen:

ALFRED JERRY BLAAUW Appellant

- en-
DIE STAAT Respondent

CORAM: JOUBERT, VIVIER et GOLDSTONE ARR
VERHOOR: 16 Maart 1991.

GELEWER: 16 Maart 1991.

UITSPRAAK

VIVIER AR.

2/...

2.
VIVIER AR:

Die appellant het in die Rondgaande Hof op George voor BURGER R en assessore tereggestaan op twee aanklagte van moord (klagtes 2 en 5) en drie aanklagte van sodomie (klagtes 1, 3 en 4). By die aanvang van die verhoor het hy skuldig op die twee moord-aanklagte en skuldig op twee van die drie aanklagte van sodomie gepleit (klagte 1 en 4). Op die ander aanklag van sodomie (klagte 3) het hy skuldig aan onsedelike aanranding gepleit. 'n Skriftelike verklaring ingevolge art 112(2) van Wet 51 van 1977 is daarna deur sy advokaat by die Verhoorhof ingelewer. Sy pleit van skuldig op twee aanklagte van sodomie (klagtes 1 en 4) is deur die Staat aanvaar. Sy pleit op die ander aanklag van sodomie (klagte 3) sowel as die twee

3/...
3.

aanklagte van moord is nie deur die Staat aanvaar nie.
Getuienis is daarna op al die aanklagte deur die Staat gelei. Die appellant het sy saak gesluit sonder om enige getuienis op die meriete aan te bied. In die uitspraak van die Verhoorhof op die meriete, wat hierna gevolg het, is die appellant skuldig bevind op aldrie aanklagte van sodomie. Die uitspraak maak geen melding van die aanklagte van moord nie. Daarna het die appellant, sy moeder en 'n psigiater ter versagting getuig, waarna die uitspraak oor die kwessie van versagtende omstandighede gevolg het. Daarin word ter aanvang die vraag gestel of . daar "versagtende omstandighede was ten opsigte van die twee moorde". Ook uit hierdie uitspraak blyk dit glad nie of die appellant inderdaad aan moord skuldig bevind is nie.

4/...
4.

Die Verhoorregter mag dus wel onder die verkeerde indruk verkeer het dat die appellant skuldig bevind is aan moord vanwee 'n verwarring met die skuldigbevinding op die aanklagte van sodomie.
Nadat die Verhoorhof bevind het dat daar wel versagtende omstandighede aanwesig was, is die appellant nietemin op die aanklagte van moord, wat saamgeneem is vir die doeleindes van vonnis, ter dood veroordeel. Dat dit onreëlmatig was om die aanklagte vir hierdie doel saam te neem, laat ek daar. Die appellant is verder op elk van die drie aanklagte van sodomie tot 3 jaar gevangenisstraf gevonnis. Met verlof van die Verhoorregter kom die appellant in hoer beroep teen sy vonnisse alleen.

Soos ek hierbo aangedui het, blyk dit nêrens

5/...
5.

uit die oorkonde dat die Verhoorhof inderdaad die appellant op die aanklagte van moord skuldig bevind het nie. Dit word bevestig deur mnre Le Roux en Theron wat beide in die Verhoorhof en voor ons vir die appellant en die Staat onderskeidelik verskyn het. Verder was die appellant geregtig om in die ope hof te hoor of die Verhoorhof hom skuldig of onskuldig bevind na aanhoor van die getuienis. Dit is so 'n basiese beginsel dat dit geen gesag behoef nie. Dit spreek vanself dat dit 'n growwe onreëlmatigheid was om die appellant te vonnis sonder dat hy eers skuldig bevind is.
Gevolglik word die vonnisse wat die Verhoorregter op al die aanklagte opgelê het, tersyde gestel. Dit is wenslik om ook die skuldigbevindings

6/...
6.

op die sodomie-aanklagte ter syde te stel omdat die verhoor moontlik de novo voor 'n ander hof mag begin. Vanweë die bepalings van die Strafregwysigingswet 107 van 1990, wat intussen in werking getree het, word verlof aan beide die appellant en die Staat verleen om verdere getuienis voor vonnisoplegging te lei. Die getuienis wat reeds oor die kwessie van versagtende omstandighede gelei is, staan. Indien die Verhoorhof nie behoorlik saamgestel kan word nie, moet die verhoor de novo voor 'n ander hof begin.

Die volgende bevel word gevolglik gemaak: 1. Die skuldigbevindings en vonnisse op die drie aanklagte van sodomie (klagtes 1, 3 en 4) word tersyde gestel.

7/...
7.

2. Die doodvonnis op die twee aanklagte van moord (klagte 2 en 5) word tersyde gestel.
3. Die saak word terugverwys na die Verhoorhof om 'n uitspraak op die meriete ten opsigte van al vyf aanklagte te gee en vonnis op te lê.
4. Verlof word aan beide die Staat en die appellant verleen om verdere getuienis te lei oor vonnis.
5.Die getuienis wat reeds gelei is, staan.
6. Indien die Verhoorhof nie behoorlik hersaamgestel kan word nie, begin die verhoor de novo voor 'n ander hof.

W. VIVIER AR.

JOUBERT AR)

Stem saam. GOLDSTONE AR)