South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 109

| Noteup | LawCite

S A Eagle Versekeringsmaatskappy Bpk. v Steyn (588/1989) [1991] ZASCA 109; 1991 (4) SA 841 (AD); [1991] 2 All SA 516 (A) (19 September 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


LL Saak No 588/1989

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

In die saak tussen:

S A EAGLE VERSEKERINGSMAATSKAPPY BEPERK Appellant

en

JOHAN STEYN Respondent

CORAM: BOTHA, VIVIER, EKSTEEN ARR VAN DEN

HEEVER et VAN COLLER Wn ARR

VERHOORDATUM: 30 AUGUSTUS 1991 LEWERINGSDATUM: 19 SEPTEMBER 1991

UITSPRAAK

BOTHA AR:

2.
Hierdie appèl het betrekking op die uitleg van sekere bepalings van 'n versekeringskontrak tussen die partye. Die kontrak het tot stand gekom op 19 Junie 1984, ten gevolge van 'n skriftelike aansoek van die respondent aan die appellant om versekering ten opsigte van, onder meer, sy woonhuis, die inhoud daarvan, en sy motorvoertuie, en die daaropvolgende uitreiking deur die appellant aan die respondent van 'n polis, met die titel "Eentjekpolis (Maandelikse Premie)".
Op 23 Junie 1986 het die respondent se huis afgebrand. Die respondent het van die appellant skadeloosstelling geëis ingevolge die polis, maar die appellant het die eis verwerp. Daarna het die respondent 'n aksie teen die appellant ingestel in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling. Die uiteinde daarvan was dat vonnis ten gunste van die respondent teen die appellant verleen is ten bedrae van R78 571,42 met rente en koste. Teen hierdie vonnis kom die
3. appellant nou in hoër beroep, met die verlof van die Hof a guo.
Die geskilpunt vir beslegting in die appèl spruit voort uit een van die verwere wat die appellant teen die eis van die respondent geopper het in die Hof a quo. Dié verweer is dat die respondent versuim het om die maandelikse premie wat ingevolge die polis betaalbaar was vir die maand Junie 1986 te betaal, en dat die appellant dientengevolge nie aanspreeklik is om die respondent te vergoed vir die skade wat ingetree het toe sy huis afgebrand het op die 23ste van daardie maand nie. Die geldigheid of andersins van hierdie verweer hang uitsluitlik af van die vertolking van die tweede paragraaf in die aanhef tot die polis, wat weldra aangehaal sal word. Die feite wat betrekking het op die verweer is nie in geskil nie. Hulle is soos volg.

Die respondent se aansoek om versekering was vervat in 'n gedrukte vorm wat deur die appellant

4.

gebruik word, met die titel "Aansoekvorm en
Spesifikasie vir Huishoudelike 'Een'Tjek'-Versekering

(Maandelikse Premie)". Die gedrukte deel van die vorm
weerspieël dat die "Versekeringspesifikasie" daarin
bestem was om aangeheg te wees aan die polis wat
uitgereik sou word; inderdaad is die nommer van die
polis wat uitgereik is, ingevul in die toepaslike oop
ruimte op die vorm. Die gedrukte deel van die vorm

bevat die volgende bepaling:

"Premies is maandeliks agteruit betaalbaar deur 'n Bank of Bouvereniging by voltooiing van die inligting hierin."

Besonderhede van die verskillende soorte versekering

waarvoor die respondent aansoek gedoen het is in die

betrokke oop ruimtes ingevul. Ten opsigte van elke

onderafdeling is daar voorts die bedrag van die premie

ingevul, en daarteenoor die "Aanvangsdatum" as

"19/6/1984" (die datum waarop die respondent die vorm

onderteken het), en onder die woorde "Maand" en "Jaar"

die volgende: "07" en "84". Dieselfde syfers verskyn
5. onder dieselfde woorde teenoor die aanduiding: "Eerste betaling en verjaringsdatum". Die totale maandelikse premie was R109,26.
Die respondent het sy maandelikse premies betaal by wyse van 'n debietorder op sy bank, wat telkens deur die appellant se bank aangebied is vir betaling. Uit die getuienis wat by die verhoor afgelê is deur die respondent, blyk dit dat die debietorder maandeliks aangebied en betaal is teen die einde van die maand, meestal op die 28ste, maar soms 'n dag of twee later. Die debietorder wat volgens die vorige gang van sake teen die einde van Junie 1986 aangebied sou word, is egter eers op 3 Julie 1986 aangebied vir betaling. Op daardie datum was daar nie voldoende fondse vir die betaling in die respondent se bankrekening nie, en gevolglik is daardie premie nie betaal nie. Dit is hierdie wanbetaling waarop die appellant hom beroep in sy verweer dat hy nie aanspreeklik is teenoor die respondent vir die
6. vergoeding van die skade wat ingetree het op 23 Junie 1986 nie.
Die aansoek en die "spesifikasie" soos hierbo vermeld, vorm deel van die polis. Dit blyk uit die eerste paragraaf van die aanhef van die polis (dit word hieronder aangehaal). Gevolglik is dit 'n bepaling van die kontrak tussen die partye dat die premies maandeliks agteruit betaalbaar is. Dit was deurgaans en is steeds gemenesaak tussen die partye. In die Hof a quo het die Verhoorregter (BRINK R) bevind dat die premies betaalbaar is "op die laaste dag van elke maand". Dit weerspieël die grondslag waarop die saak

van beide kante gevoer is, in die Hof a quo en in

hierdie Hof. Tydens die beredenering van die appèl is die vraag of die premies nie dalk betaalbaar was op die 19de van elke maand nie, geopper teenoor die appellant se advokaat. Daarop het hy ons meegedeel dat dit nie die appellant se saak was of is nie en dat hy aanvaar dat die premies op die einde van elke maand betaalbaar
7. was. Ek dink dat sy houding verantwoordelik en verstandig was: 'n argument tot die teendeel sou nie alleen ingedruis het teen die grondslag waarop die saak in die Hof a quo gevoer is nie, maar sou ook strydig gewees het met die manier waarop die partye self oor 'n

lang tydperk hulle sake ingerig het ten opsigte van die betaling van die premies. As hierdie punt in die Hof a quo geopper was, sou die verloop van die saak, en die getuienis wat aangebied is, ongetwyfeld 'n ander wending geneem het. Soos dit is, is daar in die getuienis nie ondersoek wanneer die heel eerste premies betaal is nie. Ek vermoed dat dit teen die einde van Julie 1984 was, vanweë die verwysing in die spesifikasie na daardie maand teenoor die bedrae van die premies, en as die maand van die "eerste betaling". Maar dit maak nie saak nie. Die saak is gevoer op die grondslag dat die wanbetaling van die premie vir Junie 1986 op 3 Julie 1986 van deurslaggewende belang is met die oog op die geskilpunt of die appellant aanspreeklik is om die
8. respondent se skade te vergoed. Die geskilpunt is in
daardie gedaante aan ons voorgelê, en dit moet op daardie grondslag besleg word.
Op die voorgaande basis is dit duidelik dat die premie wat nie voor die einde van Junie 1986 of op 3 Julie 1986 betaal is nie, die premie is wat juis ten opsigte van Junie-maand betaalbaar was, agteruit. Gevolglik is die vraag wat beantwoord moet word, dit: wat is die uitwerking van die respondent se versuim om daardie premie te betaal, op die appellant se aanspreeklikheid vir die skade wat op die 23ste van die maand ingetree het? Die antwoord gaan ons kry in die bepalings van die polis. Voordat ek daarby kom, is dit egter gerade om eers iets in die algemeen te sê oor die agteruit-betaling van premies.

'n Bepaling in 'n versekeringskontrak dat die premies agteruit betaalbaar is, is 'n baie buitengewone verskynsel. Ek het self nog nie vantevore 'n bepaling soos die huidige raakgeloop nie. 'n Mens is wel
9. vertroud met die verskynsel dat onmiddellike dekking
toegestaan word wanneer aansoek gedoen word om versekering, in afwagting van die betaling van die eerste premie, maar hier is dit anders: hier word by voorbaat uitstel verleen en krediet gegee vir die betaling van elke maandelikse premie, vir elke maandelikse tydperk van die versekering, oor die hele onbepaalde termyn van die kontrak. Dit is heel anders as die gebruiklike en alledaags voorkomende geval, waar die polis uitdruklik bepaal dat die stiptelike vooruitbetaling van premies deur die versekerde 'n
voorvereiste is vir die aanspreeklikheid van die versekeraar. Wat dit betref, het die appellant se advokaat ons verwys na uitlatings in die regspraak en in teksboeke, hier en elders, waarin die noodsaaklik-heid van stiptelike betaling as 'n voorvereiste vir aanspreeklikheid beklemtoon word (sien bv Steyn's Estate v South African Mutual Life Assurance Society 1948 (1 ) SA 359 (C) op 364-367; A J Shepherd (Edms)
10. Bpk v Santam Versekerinqsmaatskappy Beperk 1985 (1) SA 399 (A) op 417D-F; MacGillivray and Parkington on Insurance Law (8ste uitg) par 948 op 387 en die Kanadese saak Frank v Sun Life wat daar aangehaal word; en Gordon en Getz, The South African Law of Insurance (3de uitg) op 185). Daardie uitlatings is egter gemaak met verwysing na polisse waarvolgens die premies vooruit betaalbaar was, en hulle kan nie as 'n algemeen-geldende reel toegepas word sonder inagneming van die bepalings van 'n besondere polis nie. In die onderhawige geval bepaal die polis (deur inlywing van die spesifikasie en die aansoek) dat die premies agteruit betaalbaar is. So 'n bepaling, alhoewel ongewoon, is sekerlik nie regtens vreemd aan die wese van 'n versekeringskontrak nie: kyk bv Van der Keessel Praelectiones ad Gr 3.24.2 (Gonin se vertaling, Band V op 129-131), wat breedvoerig die onderwerp bespreek, en vgl Lake and Others NNO v Reinsurance Corporation Ltd and Others 1967 (3) SA 124 (W) op 127H, en MacGillivray

11.

and Parkington op cit par 891 op 368. In so 'n geval mag dit wees dat die versekerde wat 'n eis ingevolge die polis instel, verplig is om die betaling van die premie aan te bied (sien die Lake-saak supra op 128B-H en MacGillivray and Parkington loc cit). In die huidige saak is dit wel gedoen: die respondent het in sy pleitstukke sowel as in sy getuienis getender om die premie verskuldig vir Junie 1986 aan die appellant te betaal. Maar in die algemeen, waar premies agteruit betaalbaar is, waar daar skade intree gedurende 'n
bepaalde versekeringstydperk, en waar daar dan 'n versuim is om die premie te betaal wat betaalbaar is aan die einde van daardie tydperk, sal die uitwerking van sodanige versuim bepaal moet word aan die hand van die bepalings van die besondere polis waarmee 'n mens te doen het.
Dit lei my tot 'n beskouing van die tersaak-like bepalings van die onderhawige polis. Die eerste twee paragrawe van die aanhef daarvan lui soos volg:

12.

"NADEMAAL die Versekerde genoem in hierdie Spesifikasie wat deel van die polis uitmaak deur 'n aansoek en verklaring wat die grondslag van hierdie kontrak- uitmaak en beskou word as hierby ingelyf te wees by die Suid-Afrikaanse Eagle Versekeringsmaatskappy Beperk (hierna "die Maatskappy" genoem) aansoek gedoen het om die versekering hierin uiteengesit en as teenprestasie daarvoor dat die Versekerde ingestem het om aan die Maatskappy die premie te betaal wat in die Spesifikasie gemeld word.

DERHALWE GETUIG HIERDIE POLIS

dat die Maatskappy sodanige van die versekerings in die bygaande afdeling toegestaan het as wat volgens die spesifikasies by hierdie polis ingesluit is; en dat elke sodanige versekering 'n aanvang neem op die datum in die spesifikasie aangetoon en voortduur totdat dit deur die Versekerde of die Maatskappy deur middel van 14 dae skriftelike kennisgewing gekanselleer word, onderworpe aan die betaling van die premie in die spesifikasie uiteengesit vir elke versekeringstydperk."

Ten opsigte van die betekenis van die tweede

paragraaf is daar in die uitspraak van die Hof a quo
bevind dat, alhoewel daar 'n onbepaalde versekeringstyd-
perk is wat in maandelikse tydperke verdeel is, dit tog
nie 'n geval is waar die versekering maandeliks deur die
13. versekerde hernu moes word deur die betaling van die premie nie; dit is inteendeel 'n geval waar die versekering bly voortbestaan totdat dit by wyse van kennisgewing gekanselleer word. Hierdie beskouing van die betekenis van die tweede paragraaf is namens die respondent in hierdie Hof ondersteun. Volgens die respondent se vertolking kan die versekering dus net op een manier beëindig word, en dit is deur 'n kennisgewing van kansellasie.
Namens die appellant is 'n ander uitleg aan ons voorgehou, waarvolgens die versekering nie slegs tot 'n einde kom deur kansellasie nie, maar ook deur die wanbetaling van enige maandelikse premie. In laasge-noemde geval, volgens die appellant se vertolking, word die versekering in sy geheel beëindig, ook met betrekking tot die maand ten opsigte waarvan die onbetaalde premie betaalbaar was.

Daar is groot moeilikhede met albei hierdie vertolkings. Die appellant se vertolking gaan mank
14. daaraan dat dit eintlik geen uitwerking gee nie aan die feit dat die premie vir elke maandelikse versekerings-tydperk agteruit betaalbaar is. Dit hou noodwendig in dat die bepaling ten aansien van die betaling van die premie vir elke versekeringstydperk beskou moet word as 'n ontbindende voorwaarde, sodat die wanbetaling van enige premie die versekering vir die voorafgaande tydperk met terugwerkende krag ongedaan maak. Gedurende elke tydperk bestaan daar dus onsekerheid of die versekering van krag is al dan nie, wat eers opgelos word wanneer dit aan die einde daarvan blyk of die premie betaal word al dan nie. Dit is onwaarskynlik dat dit die bedoeling van die partye kon gewees het. Die respondent se vertolking, aan die ander kant, gee eintlik geen uitwerking nie aan die bepaling wat die versekering onderworpe maak aan die betaling van elke maandelikse premie. Dit bring mee dat die versekering nie tot 'n einde kom nie, al word opeenvolgende premies nie betaal nie, tensy daar h
15. kansellasie is. Die Hof a quo het bevind, en dit is voor ons betoog, dat die "onderworpe aan"-bepaling maar net aandui, in aansluiting by die eerste paragraaf, dat die betaling van die premie die teenprestasie is vir die verlening van die versekering. Dit is onwaarskyn-lik dat dit die bedoeling van die partye kon gewees het.
Na my mening is nie een van die bogenoemde twee vertolkings korrek nie. Om die bespreking wat volg, te vergemaklik, kan die tersaaklike bestanddele van die bepalings soos volg geïdentifiseer word:

A. dat ... [die] ... versekering 'n aanvang
neem op die datum in die spesif ikasie
aangetoon

B. en voortduur

C. totdat dit deur ... kennisgewing
gekanselleer word

D. onderworpe aan
E. die betaling van die premie in die

16.

spesifikasie uiteengesit F. vir elke versekeringstydperk.

Die sleutelwoorde is in D: "onderworpe aan". Hulle is van kardinale belang. Hulle is koppelwoorde wat dit wat voorafgaan, A, B en C, verbind met dit wat volg, E en F. Wanneer hulle gebruik word in 'n sinsverband soos hier, om 'n kwalifiserende sinsnede in te lui (E-F) wat volg op 'n voorafgaande sin (A-B-C), is hulle sinoniem met "onderhewig aan", en die eweknie van die Engelse woorde "subject to". (Dit is nie nodig om woordeboeke aan te haal om dit te bewys nie.) Hulle funksie, in so
'n sinsverband, is om aan te dui dat dit wat volg (E-F), oorheersend is in verhouding tot dit wat voorafgaan (A-B-C); andersom, A-B-C word ondergeskik verklaar aan E-F. Die gebruik op hierdie wyse van die uitdrukkings "onderhewig aan" en "subject to" is welbekend in
wetgewing (sien die bespreking van MILLER AR in S v

Marwane 1982 (3) SA 717 (A) op 747H-748B). 'n Ander belangrike kenmerk van hierdie uitdrukkings is die
17. volgende: wanneer hulle in 'n kontraktuele samehang soos die huidige gebruik word, dra hulle gewoonlik die begrip oor van iets wat 'n opskortende uitwerking het, soos 'n opskortende voorwaarde (sien die opmerkings van HEFER AR in Badenhorst v Van Rensburg 1986 (3) SA 769 (A) op 777H-778C). Hulle kan soms 'n ontbindende uit-werking hê, as die samehang dit aandui, maar dit is nie hulle gewone betekenis om terugwerkend te funksioneer nie. Normaalweg slaan hulle op die toekoms, om aan te dui dat iets vanaf 'n bepaalde punt vorentoe effek sal hê.

Die kern van die bepalings is dus dat E-F kwalifiserend en oorheersend inwerk op A-B-C. Die volgende stap is om te bepaal wat presies dit is in A-B-C wat onderhewig gestel word aan E-F. Kyk 'n mens eerste na die sinsnede in C, wat die naaste aan die koppeling D lê, en wat betrekking het op die kansel-lasie van die versekering, dan blyk dit dadelik dat E-F geen' sinvolle skakeling daarmee kan hê nie. Dit kon

18.

nie die bedoeling gewees het om die kansellasie afhanklik te stel van die betaling van elke maandelikse premie nie. C kan dus buite rekening gelaat word. (Terselfdertyd blyk dit dat kansellasie 'n afsonderlike manier is om die versekering te beëindig, onafhanklik van die betaling al dan nie van elke maandelikse premie.)
Kyk 'n mens vervolgens na die sinsnede in A, wat die verste weg is van D, dan blyk dit dat die woorde daarin nie versoenbaar is met die woorde in D self en in die daaropvolgende E en F nie. A sê dat die versekering 'n aanvang neem op die datum in die spesifikasie aangetoon. Ons weet dat dit 19 Junie 1984 is , en ons weet dat geen premie op daardie datum betaalbaar was nie, vanweë die bepaling dat premies agteruit betaalbaar is. Die versekering neem dus 'n aanvang, al word geen premie betaal nie. E en F verwys na die betaling van die premie vir elke versekerings-tydperk, wat ook die eerste tydperk insluit. E en F

19.

kan dus nie as gevolg van D kwalifiserend op A inwerk nie, hetsy ontbindend, hetsy opskortend, tensy 'n mens woorde inlees in die bepalings wat nie daarin staan nie, en wat die betekenis van die woorde wat daar staan, ingrypend sal moet verander.
Dan kom 'n mens by B: "en voortduur". En dan word die betekenis van die bepalings dadelik duidelik. Die woorde "en voortduur" volg op die woorde "h aanvang neem"; hulle laat die beginpunt van die versekering agter, en kyk vandaar die toekoms in. "Voortduur" is 'n
begrip van deurlopendheid. Gekoppel aan D, "onderworpe aan", kom die gedagte helder na vore, dat die versekering sal ophou om voort te duur, vanaf 'n

bepaalde punt in die toekoms, vorentoe, nie terugwaarts nie. Die bepaalde punt van onderbreking van die "voortduur" is die nie-betaling van die premie vir enige versekeringstydperk, strydig met die oorheersende voorvereiste wat vir die "voortduur" bepaal word deur D, met verwysing na E en F. Dit pas volkome in by die

20.

eerste tydperk ook: die versekering neem 'n aanvang, en duur dan voort, onderhewig aan die betaling van die premie vir daardie tydperk; word daardie premie nie betaal nie, duur die versekering nie meer voort nie, vanaf die datum van die wanbetaling; maar dit wis nie die versekering uit wat 'n aanvang geneem het en voortgeduur het vir die tydperk wat verby is nie. Dieselfde gedagtegang is van toepassing op elke opeenvolgende versekeringstydperk na die eerste een. Telkens as die maandelikse premie betaal word, duur die versekering voort vir die volgende maandelikse tydperk; as 'n maandelikse premie nie betaal word nie, duur die versekering nie voort vir die daaropvolgende maand nie; dit verval dus; maar die versekering wat gedurende die voorafgaande maand van krag was, word nie ongedaan gemaak nie.

Volgens my oordeel is dit die juiste vertolking van die bepalings, om die woorde "onderworpe aan" en wat daarop volg, te koppel aan die woorde "en
21 . voortduur", op so 'n wyse dat die versuim om 'n maandelikse premie te betaal, die gevolg het dat die versekering nie voortbestaan na die wanbetaling nie, maar dat die wanbetaling nie die versekering vir die voorafgaande tydperk tot niet maak nie. Hierdie vertolking gee behoorlik uiting aan die gewone betekenis van die woorde wat in elke onderafdeling van die bepalings gebruik is, en aan die sinsverband waarin hulle voorkom. Terselfdertyd verskaf dit 'n praktiese doelmatigheid aan die bepalings, sonder dat daar enige ongemaklikheid is in die toepassing daarvan. Kortom, die vertolking weerspieël die waarskynlike bedoeling van die partye.

Die uiteindelike gevolgtrekking is dat die appellant aanspreeklik is om die skade te vergoed wat die respondent op 23 Junie 1986 gely het, ten spyte van die nie-betaling van die premie vir daardie maand.

Die resultaat wat die Hof a quo bereik het, is dus korrek.

22.

Die appèl word van die hand gewys, met koste.

A.S. BOTHA AR

VIVIER AR

EKSTEEN AR
STEM SAAM VAN DEN HEEVER Wn AR

VAN COLLER Wn AR