South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 106

| Noteup | LawCite

S v Morapela (2/91) [1991] ZASCA 106 (17 September 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


Saak nommer 2/91 E du P

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

EDWIN MOEKETSI MORAPELA Appellant
en
DIE STAAT Respondent

Coram: SMALBERGER, F H GROSSKOPF ARR et HARMS Wn AR

Verhoordatum: Leweringsdatum:

5 September 1991 17 September 1991

2

U I T S P R A A K F H GROSSKOPF AR:
Die appellant is in die Oranje-Vrystaatse Rondgaande Afdeling deur Smuts RP en assessore op die volgende klagtes skuldig bevind: huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede (aanklag 1); verkragting (aanklag 2); en poging tot moord (aanklag 3). Die appellant is die doodvonnis opgelê vir die verkragting (aanklag 2). Op aanklag 1 is hy tot 16 jaar gevangenisstraf gevonnis en op aanklag 3 tot 7 jaar gevangenisstraf Die Hof a quo het gelas dat 5 jaar van die 7 jaar gevangenisstraf op aanklag 3 "samelopend uitgedien sal word met enige vonnis van gevangenisstraf wat hierna opgelê mag word deur 'n hoër Hof weens die misdaad van verkragting wat deur beskuldigde gepleeg is of enige gevangenisstraf wat hy andersins beveel mag word om uit te dien deur die Uitvoerende Gesag."

Die appellant appelleer slegs teen die doodvonnis wat hom op aanklag 2 opgelê is, en wel kragtens sy

3

outomatiese reg van appèl ingevolge die bepalings van artikel 316A(1) van Wet 51 van 1977.
Die appellant het aanvanklik onskuldig gepleit op al die klagtes, maar in die loop van die verhoor het hy sy pleit van onskuldig na een van skuldig op al drie klagtes verander. Hy het terselfdertyd sekere relevante erkennings gemaak. Die Staat het besluit om nie hierdie gewysigde pleite te aanvaar nie en die staatsaak is normaalweg voortgesit en afgehandel. Die appellant het daarna sy saak gesluit sonder om enige getuienis op die meriete aan te bied. Die appellant het wel na skuldigbevinding ter strafversagting getuig.

Die misdade is almal gedurende die aand van Sondag 29 April 1990 in die klaagster se huis te Bethulie gepleeg. Die klaagster is 'n weduwee wat ten tye van die gebeure 67 jaar oud was. Sy het alleen in die huis gewoon. Omstreeks 19:00 die betrokke aand, en terwyl die klaagster besig was om in die sonkamer agter in die huis na die televisie te kyk,

4

was die appellant besig om by die klaagster se slaapkamervenster in te breek. Die slaapkamer was aan die teenoorgestelde kant van die huis geleë. Die appellant beweer dat hy geen ligte in die huis sien brand het toe hy daar verbygeloop het nie en dat hy gedink het daar is niemand tuis nie. Volgens hom het hy daar ingebreek met die oog op diefstal. Nadat hy toegang tot die huis verkry het, het hy met die gang begin afloop. Hy het gesien dat daar wel 'n lig in 'n vertrek brand, en toe hy nader aan dié vertrek gekom het, moes hy ook die televisie gehoor het. Dit het hom blykbaar nie afgeskrik dat daar waarskynlik iemand in die huis was nie, want hy het daardie vertrek binnegegaan. Hy het trouens voorsorg getref deur sy mes by voorbaat uit te haal. In die vertrek het hy die klaagster in 'n stoel voor die televisie aangetref. Die klaagster getuig dat sy baie groot geskrik het toe sy skielik hierdie man met 'n mes in sy hand voor haar sien staan het. Hy het geld van haar geeis en gedreig dat hy haar sal doodmaak as sy nie aan sy eis voldoen

5

nie. Die klaagster het gesê hy moet haar nie seermaak nie, sy sal hom geld gee. Desondanks het die appellant haar met die vuis in die gesig geslaan en haar na die gang toe gesleep terwyl hy haar om die keel vashou. Daar het die appellant teenoor die klaagster te kenne gegee dat hy gemeenskap met haar wou hê. Hy het haar op die grond neergegooi en haar klere van haar lyf afgeskeur toe hy nie die knope kon loskry nie. Die klaagster het met hom geworstel en hy het haar toe verskeie steekwonde met die mes toegedien. Hierdie wonde het baie gebloei. Terwyl hy gesukkel het om sy broek los te kry, het die appellant die mes langs hom neergesit. Die klaagster het die mes toevallig raakgevat en dit onder die mat versteek. Die appellant het die klaagster daarna aan die keel beetgekry en gedreig om haar dood te maak as sy sou skreeu. Sy was heeltémal kaal op daardie stadium. Die appellant het haar toe verkrag. Die klaagster getuig dat dit pynlik was, maar dat die appellant ondanks haar gepleit voortgegaan het. Daarna het die appellant die klaagster weer

6

aan haar keel beetgekry en haar na die slaapkamer gesleep waar hy haar geldsakkie en juwele uit haar hangkas geneem het. Nadat die appellant nog verskeie ander items gesteel het, het hy die klaagster met bloeiende wonde in haar eie slaapkamer toegesluit en weggegaan.
Die klaagster het lank om hulp geroep voordat haar buurvrou dit gehoor het en haar uit die slaapkamer kom bevry het. Die buurvrou het gevind dat die klaagster verward was. Die klaagster is later daardie selfde aand deur die distriksgeneesheer in sy spreekkamer ondersoek. Volgens sy getuienis was die klaagster in 'n geskokte en bebloede toestand toe hy haar gesien het. Daar was kneusings en skaafplekke aan haar gesig, wurgmerke aan haar keel en bloeding onder die vel, ook om haar oë. Daar was 'n laserasie van haar lip by die mondhoek. Hierdie beserings blyk eweneens uit 'n foto wat die volgende dag van die klaagster geneem is. Haar duim was ook verstuit. Die distriksgeneesheer het verder tien laserasies gevind waarvan

7

die meeste een sentimeter tot een en 'n half sentimeter diep was. Dit was klaarblyklik die steekwonde wat met die mes toegedien was. Die distriksgeneesheer het onder andere melding gemaak van drie steekwonde in die boud, twee in die rug, een in die regterskouer en een in die regterknie. Dit was veral die steekwond tussen haar skouerblaaie en die een in haar regterskouer wat volgens die distriksgeneesheer potensieel gevaarlik was. Die distriksgeneesheer het ook die klaagster se geslagsdele ondersoek. Hy sê die klaagster het nie tydens die ondersoek gekla dat dit pynlik is nie. Hy het ook geen vaginale skeure of laserasies gevind nie.

Die klaagster getuig dat die steekwonde septies geraak het en lank geneem het om te genees. Dit moet egter in gedagte gehou word dat sy die aand na die gebeure geweier het dat die distriksgeneesheer die laserasies toewerk. Sy wou net huis toe gaan. 'n Mens kan aflei dat die steekwonde nie te ernstig was nie. Die besering by haar mondhoek het 'n blywende litteken gelaat. Die klaagster het na die voorval

8

sielkundige behandeling ontvang. Volgens die klaagster het die gebeure haar ook psigies geaffekteer deurdat sy sedertdien baie bang is. As iemand na haar kyk, raak sy verbouereerd, bang en skaam. Met inagneming van al die omstandighede blyk dit egter dat die klaagster, ondanks die geweld waarmee die verkragting gepaard gegaan het, gelukkig geen ernstige fisiese of ingrypende psigiese nagevolge daarvan oorgehou het nie.

Vervolgens moet oorweeg word tot watter mate die omvang van die geweld rondom die verkragting in aanmerking geneem kan word by die bepaling van 'n gepaste vonnis vir die verkragting. Dit is duidelik dat die messtekery in verband met die verkragting gestaan het. Dit was trouens die wyse waarop die appellant die klaagster se weerstand afgebreek het toe sy haar verset het teen sy poging om haar te verkrag. Aan die ander kant moet dit egter in gedagte gehou word dat die aanklag van poging tot moord, en die appellant se skuldigbevinding daaraan, op dieselfde messtekery berus. By

9

die bepaling van die daaropvolgende vonnis van 7 jaar
gevangenisstraf vir die poging tot moord moes die volle
omvang van die appellant se messtekery noodwendig 'n
deurslaggewende rol gespeel het. Hierdie Hof het reeds

by herhaling beslis dat waar 'n persoon bv. tegelyk aan
verkragting en moord (in hierdie geval poging tot moord)

skuldig bevind word, die Verhoorhof by vonnisoplegging

steeds teen die gevaar van 'n verdubbeling van vonnis moet

waak. (S v Mathebula and Another 1978(2) SA 607(A) te 613D-

E; S v Witbooi 1982(1) SA 30 (A) te 35A-G; S v Mooi 1985(1)

SA 625(A) te 630D-G; S v S 1987(2) SA 307(A) te 312C-F; S_v

S 1991(2) SA 93(A) te 103 H-105C). Hierdie benadering is

soos volg in die saak van S v S 1991(2) SA 93 (A) te 105A-C

deur Nienaber AR geformuleer:

"'n Selfstandige regsbeginsel is dit egter nie. Die eintlike beginsel is dat dieselfde feit of feitestel wat aan meerdere misdade gemeenskaplik is - in die een geval bes moontlik as 'n bestanddeel van die misdaadomskrywing, en in die ander geval as 'n verswarende omstandigheid by vonnis - nie meermale teen 'n beskuldigde in ag geneem moet word

10

wanneer dit by die oplegging van vonnis op elk van die klagtes kom nie. Die 'wegdink' van die een misdaad sodra 'n vonnis vir die ander oorweeg word, is dus hoogstens 'n riglyn."

By die bepaling van 'n gepaste straf vir die verkragting in die onderhawige saak het die geleerde Verhoorregter die appellant se onverskilligheid teenoor die moontlike intrede van die klaagster se dood as gevolg van die messteke, buite rekening gelaat. Hy het, met verwysing na die beslissings hierbo aangehaal, daarop gewys dat die appellant afsonderlik vir die poging tot moord gestraf sou word. Hy het egter beslis dat hy desnieteenstaande "geregtig (is) om in ag te neem dat die klaagster tien steekwonde toegedien is wat gewissel het in diepte van een sentimeter tot een en 'n half sentimeter terwyl beskuldigde gepoog het om haar weerstand teen sy poging om haar te verkrag te oorkom".

Dit sou myns insiens onrealisties wees om die verskillende misdrywe in die onderhawige saak in aparte

11

waterdigte kompartemente te probeer indeel asof daar geen onderlinge verband tussen die pleging van hierdie misdrywe bestaan het nie. Geweld teenoor die klaagster was bv. 'n deurlopende verskynsel. Die feit van die appellant se gewelddadige optrede ten tye van die verkragting kan na my oordeel nie geïgnoreer word wanneer 'n gepaste vonnis vir die verkragting oorweeg word nie. Aan die ander kant moet dit egter in gedagte gehou word dat die toediening van die tien messteke reeds in volle omvang in ag geneem is by die oplegging van vonnis vir die poging tot moord. Die Staat het immers verkies om 'n afsonderlike aanklag van poging tot moord op grond van die messtekery teen die appellant in te stel. Die appellant is ook 'n stywe vonnis vir daardie misdaad opgelê. Wanneer 'n gepaste vonnis vir die verkragting dus oorweeg word, moet daar gewaak word teen die gevaar dat die appellant meer as eenmaal vir dieselfde optrede gestraf word.

In 'n poging om te verseker dat die appellant nie
12

twee maal vir dieselfde steekwonde gestraf word nie, het die geleerde Verhoorregter beslis dat 5 jaar van die 7 jaar gevangenisstraf wat vir die poging tot moord opgelê is, eventueel samelopend uitgedien moet word met enige gevangenisstraf wat hierdie Hof of die Uitvoerende Gesag in plaas van die doodvonnis vir die verkragting mag oplê. Daardie bevel dat 'n deel van die gevangenisstraf vir die poging tot moord samelopend uitgedien moet word, was egter voorwaardelik. Dit het na my oordeel nie verhoed dat die appellant in die Verhoorhof inderdaad twee keer vir dieselfde messtekery gestraf is nie. Die effektiewe gevangenisstraf op die aanklag van poging tot moord sal weliswaar met 5 jaar verminder word ingeval die doodvonnis wat vir die verkragting opgelê is, met 'n termyn van gevangenisstraf vervang word. Daar is egter geen appèl teen die vonnis van 7 jaar gevangenisstraf wat die Verhoorhof vir die poging tot moord opgelê het nie, en daardie vonnis, wat op die messtekery berus, bly dus staan. Na my oordeel moet hierdie Hof by die

13

beoordeling van 'n gepaste vonnis vir die verkragting dus steeds waak teen die gevaar dat die appellant meer as een keer vir dieselfde messtekery gestraf word. Dit bring mee dat daar by die bepaling van 'n gepaste straf vir die verkragting in die onderhawige geval nie soveel gewig geheg kan word aan geweld as 'n strafverswarende faktor as wat die Verhoorhof gedoen het nie.
Daar is verskeie ander strafverswarende faktore wat die Hof a quo by die verkragting in ag geneem het. Die omstandighede waaronder die klaagster, 'n bejaarde dame van 67 jaar, gedurende die aand op 'n brutale wyse in haar eie huis aangeval, verneder en verkrag is, is beslis verswarend. (S v S 1988(1) SA 120(A) te 124D; S v G 1989(3) SA 695(A) te 705G). Daar is ook getuienis voorgelê dat dergelike misdrywe teen bejaardes in hulle eie wonings aan die toeneem is. Dit is egter nie bewys dat die appellant die huis binnegegaan het met die oogmerk om te verkrag nie. Die getuienis dui eerder daarop dat die appellant op die ingewing van die

14

oomblik besluit het om die klaagster te verkrag. Dit bring

mee dat die omstandighede ietwat minder verswarend is.

Die appellant se vorige veroordelings is 'n verdere

verswarende faktor. Hy is gedurende Mei 1985 skuldig bevind
aan verkragting waarby liggaamlike geweld 'n rol gespeel het.
Hy was toe ongeveer 19 jaar oud, en is gevonnis tot 18 maande
gevangenisstraf en 5 houe met 'n rottang. Dit blyk dat hy na

9 maande op parool vrygelaat is. Die vonnis wat opgelê is,
dui egter daarop dat dit nie as 'n besonder ernstige geval van

verkragting beskou was nie. Dit is ook die enigste vorige

veroordeling van die appellant waar geweld 'n element van die
misdaad uitgemaak het. Die appellant het wel ander vorige

veroordelings; daar is twee vir huisbraak met die opset om

te steel en diefstal en 'n verdere twee vorige veroordelings

vir diefstal. Vir sy jongste vorige veroordeling was die

appellant tot 6 maande gevangenisstraf gevonnis. Vier dae

nadat hy op parool vrygelaat is, pleeg hy die onderhawige

reeks misdade. Dit toon sekerlik nie dat die appellant

15

besonder vatbaar vir rehabilitasie is nie. Aan die ander kant is dit wel so dat die appellant nog nooit langtermyn gevangenisstraf opgelê is nie. Die moontlikheid van rehabilitasie onder langtermyn omstandighede kan dus nie sonder meer uitgesluit word nie.
Die feit dat daar geen besondere strafversagtende faktore aangestip kan word nie, terwyl daar wel verskeie strafverswarende faktore teen die appellant in aanmerking geneem moet word, beteken nie dat die doodvonnis noodwendig die enigste gepaste vonnis in die omstandighede is nie. ( S
v Nkwanyana and Others 1990(4) SA 735(A) te 745B-D; S v
Mthembu 1991(2) SASV 144(A) te 147b). Die erns van die misdaad en die gemeenskapsbelang moet klaarblyklik in ag geneem word, maar na my oordeel is hierdie nie so 'n uitsonderlik ernstige geval dat vergelding vereis dat die doodvonnis opgelê word nie. 'n Lang termyn van gevangenisstraf behoort na my mening wel te voldoen aan die ander oogmerke van vonnis soos afskrikking, voorkoming en

16

moontlike rehabilitasie. (Vergelyk S v P 1991(1) SA 517(A) te 523D-H; S v S 1991(2) SA 93(A) te 108B-E).
Met inagneming van al die omstandighede is ek nie daarvan oortuig dat die doodvonnis die enigste gepaste vonnis vir die verkragting in die onderhawige saak is nie. Na my oordeel moet die doodvonnis op aanklag 2 tersyde gestel word en met 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf vervang word. Indien die kumulatiewe effek van die verskillende vonnisse op die drie aanklagte in aanmerking geneem word, behoort 13 jaar van die 16 jaar gevangenisstraf op aanklag 1 na my mening samelopend uitgedien te word met die vonnis van 20 jaar gevangenisstraf op aanklag 2. Die Verhoorhof het reeds gelas dat 5 jaar van die 7 jaar gevangenisstraf op aanklag 3 samelopend met die gevangenisstraf op aanklag 2 uitgedien moet word. Die gevolg is dat die effektiewe termyn van gevangenisstraf 25 jaar beloop.

Die volgende bevel word gemaak: 1. Die doodvonnis op aanklag 2 word tersyde gestel en

17

vervang met 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf.

2. 13 jaar van die 16 jaar gevangenisstraf wat op
aanklag 1 opgelê is, en 5 jaar van die 7 jaar
gevangenisstraf wat op aanklag 3 opgelê is, sal
samelopend uitgedien word met die vonnis van 20

jaar gevangenisstraf wat op aanklag 2 opgelê is.

F H GROSSROPF AR.

SMALBERGER AR
HARMS Wn AR Stem saam