South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 10

| Noteup | LawCite

S v Ngcamu (621/89) [1991] ZASCA 10 (11 March 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


621/89

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPeLAFDELING) In die saak tussen:

JAMES NGCAMU Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: HOEXTER, E M GROSSKOPF,ARR et PREISS Wn AR
VERHOOR: 11 Maart 1991
GELEWER: Mondeling gelewer op 11 Maart 1991

UITSPRAAK

2

E M GROSSKOPF, AR
Die appellant is in die Witwaterrandse Plaaslike Afdeling skuldig bevind op twee klagtes van moord, een van aanranding met die opset om ernstig te beseer, een van roof met verswarende omstandighede, een van die onwettige besit van 'n vuurwapen en een van die onwettige besit van ammunisie. Die hof (GORDON WR en assessore) het versagtende omstandighede bevind met betrekking tot die moordklagtes. Die appellant is gevonnis tot verskillende termyne gevangenisstraf, party waarvan gelas is om saam te loop. Sy effektiewe vonnis was 16 jaar gevangenisstraf. Hy kom nou in hoër bereop slegs teen sy skuldigbevindinge.
Die insident waaruit die klagtes ontstaan het, het plaasgevind op 29 Junie 1986. Die twee oorledenes in die moordklagtes, Abram Modau en Daniël Modau, het saam met lede van hul familie by hul woning in Meadowlands vars produkte asook drank verkoop. Op die betrokke aand het vier persone by die huis opgedaag, die twee oorledenes doodgeskiet, die klaagster Anna Modau, die vrou van Abram, aangerand met die opset om haar

3

ernstig te beseer deur haar ook te skiet (gelukkig nie noodlottig nie) en 'n bedrag van oor die R3 000 van Anna geroof. Hierdie vier persone het, volgens wat hulle gesê het, opgetree in opdrag van ene Boy wat twee huise weg gewoon het en 'n handelsmededinger van die Modau's was. Dit is duidelik dat hierdie groep gegaan het met die gesamentlike opset om te roof en, indien nodig, te skiet, en dat hulle almal skuldig is aan die misdade waarvoor die appellant aanspreeklik gehou is.
Die enigste vraag in hierdie appèl is dan of die appellant een van hierdie vier rowers was. Al getuienis wat hom verbind is 'n bekentenis wat hy op 10 Desember 1987 aan luitenant Vermaak van die SAP, ex officio 'n vrederegter, gemaak het. Twee hoofpunte is namens die appellant geargumenteer. Ten eerste is daar betoog dat die Staat nie bo redelike twyfel bewys het dat die bekentenis vrywillig, ongedwonge en sonder onbehoorlike belnvloeding gemaak is nie. Die appellant het getuig dat hy deur lede van die polisie in 'n donker kamer geplaas is, aangerand is, en gedreig is om 'n verklaring te maak. Hy het verder getuig dat

4

hy voorgesê was wat om te sê. Hierdie bewerings is ontken deur die drie polisiebeamptes wat volgens hom, betrokke was. Daarbenewens het die hof kaptein Coleman, die waarnemende bevelvoerder te Protea-polisiekantoor, waar die beweerde dwang sou toegepas gewees het, as getuie geroep. Kaptein Coleman het getuig oor die moontlikheid dat so iets in 'n kamer in Protea-polisiekantoor kon gebeur het. As sy getuienis aanvaar word, kon die insident nie plaasgevind het soos deur die appellant getuig nie. Die hof a quo, in 'n sorgvuldige uitspraak, het die getuienis van die polisie-amptenare aanvaar en dié van die appellant verwerp. Myns insiens is niks aan ons voorgedra wat ons sou regverdig om met hierdie bevinding in te meng nie. Dan is daar betoog dat, selfs al sou die bekentenis toelaatbaar wees, die inhoud daarvan so veel verskil van wat by die Modau's gebeur het dat die gevaar nie hier uitgesluit kan word van 'n valse bekentenis deur 'n onskuldige nie. Ek stem nie saam nie. Na my mening is die ooreenkomste tussen die bekentenis en die ware omstandighede van die roof en moord by die Modau's

5

se huis te veel en te treffend om enige twyfel te laat oor die egtheid van die appellant se bekentenis.
Ek meen dus dat die verhoorhof se uitspraak onaanvegbaar is. Die appèl word afgewys.

E M GROSSKOPF, AR