South Africa: Supreme Court of Appeal
![Support SAFLII](/images/donate-button.png)
You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1990 >>
[1990] ZASCA 94
| Noteup
| LawCite
S v Hendricks en 'n Ander (224/1989) [1990] ZASCA 94 (18 September 1990)
Download original files |
LL Saak No 224/1989
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING
Insake die appèl van:
KATY HENDRICKS Eerste Appellant
en
CHRISTIAAN
ARENDSE Tweede Apellant
teen
DIE STAAT Respondent
CORAM: VAN HEERDEN AR, NICHOLAS et
FRIEDMAN WND ARR
VERHOORDATUM: 31 AUGUSTUS 1990
LEWERINGSDATUM: 18 SEPTEMBER 1990
UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:
4
Die appellante is in 'n landdroshof skuldig bevind aan 'n oortreding van art
2(a) van Wet 47 van 1971 deurdat hulle in Augustus 1987
in die distrik van Paarl
in verbode afhanklikheidsvormende medisyne, te wete 810,3 gram dagga en 28
tablette bevattende metakoloon
("Mandrax") handel gedryf het. Die appellante is
gevonnis tot onderskeidelik 8 en 10 jaar
gevangenisstraf, gedeeltes waarvan
voorwaardelik opgeskort is. Hulle appèlle na die Kaapse Provinsiale
Afdeling het misluk
waarna hulle verlof verkry het om na hierdie hof te
appelleer. Ooreenkomstig bedoelde verlof is die appèl van die tweede
appellant
gerig teen beide sy skuldigbevinding en vonnis, en dié van die
eerste appellant slegs teen haar vonnis.
Betreffende die tweede appellant se skuldig-bevinding, het die respondent se
saak hoofsaaklik op die getuienis van ene Neethling berus.
Sy weergawe is deur
die landdros aanvaar en dié bevinding is tereg nie voor ons aangeveg nie.
Vir sover daardie weergawe vir
3. die doeleindes van hierdie appèl ter
sake is, kan dit soos volg saamgevat word:
1) Tydens ondervermelde voorvalle was Neethling 'n sersant in die Suid-Afrikaanse Gevangenis-wese, gestasioneer te Victor Verster-gevangenis, en was die tweede appellant 'n prisonier in daardie gevangenis. 2) Op 29 Julie 1987, en terwyl Neethling patrolliewerk in die gevangenis gedoen het, het hy bewus geword van 'n daggareuk. Hy het toe gekyk deur die venster van 'n sel waarin die tweede appellant en twee ander prisoniers aangehou was. Een van laasgenoemdes, Wilfred Dreyer, was besig om 'n "zol" te rook en Neethling het gemeen dat dit dagga bevat het. Hy het vir Dreyer gesê om die "zol" vir hom te bring waarop Dreyer dit agter sy rug verberg het. Om die prisoniers se vertroue te wen, het Neethling vir Dreyer gesê dat hy hom nie sou aankla nie aangesien hy (Neethling) self 'n daggaroker was.
3) Hierop het die tweede appellant vir
4. Neethling gesê dat as dit die geval was, Neethling vir hom 'n "job" kon verrig. Uitgevra na die aard van die "job" het die tweede appellant gesê dat Neethling vir hom dagga en 'n bietjie Mandrax kon bring.
4) Neethling het geweier om aan die versoek te voldoen en het die gebeure aan luit Van der Westhuizen gerapporteer. Op verskeie geleenthede daarna het die tweede appellant vir Neethling genader om te verneem of hy nog nie van plan verander het nie. Hy het ook belowe om vir Neethling R300 te betaal indien hy aan die versoek sou voldoen. 5) Op 12 Augustus het die tweede appellant vir Neethling 'n stukkie papier gegee. Daarop was die naam van die eerste appellant en 'n telefoonnommer in Elsiesrivier. Die tweede appellant het gesê dat Neethling met die eerste appellant moes. reël om die "goed" - klaarblyklik verwysende na dagga en Mandrax -"in te bring".
6) Neethling het hierna die nommer
5. geskakel en met die eerste appellant gepraat. Sy het egter gesê dat sy eers vir die tweede appellant in die gevangenis wou besoek ten einde die aangeleentheid met hom te bespreek.
7) Neethling het aan die tweede appellant teruggerapporteer en later het laasgenoemde vir Neethling gesê dat hy met die eerste appellant in verbinding was, en dat Neethling haar weer moes skakel sodat gereël kon word waar en wanneer die "goed" aan hom oorhandig sou word. 8) Volgende op verdere telefoniese gesprekke tussen Neethling en die eerste appellant het sy op 23 Augustus die tweede appellant in die gevangenis besoek. Dit was toe reeds gereël dat Neethling haar na die besoek moes volg na 'n vulstasie waar die "goed" aan hom oorhandig sou word. 9) Tydens die besoek het die eerste appellant, in die teenwoordigheid van die tweede appellant, vir Neethling gesê "ons kry mekaar by
die garage". Na die besoek het Neethling in sy voertuig
'n motor ("die Cortina") waarin die eerste appellant 'n
passasier was,
gevolg. In die omgewing van die vulstasie het die Cortina gestop. Ene Kameel het
toe 'n
rugsak by 'n bos uitgehaal en na Neethling se voertuig gestap. Kameel
het 'n deur van die voertuig oopgemaak en die inhoud van die
sak daarin gesit.
Terselfdertyd het die eerste appellant uit die Cortina geklim en na Neethling se
voertuig aangestap gekom. Sy het
toe aan hom R100 oorhandig en gesê dat
die "ander" aan hom deur die tweede appellant gegee sou word.
10) Hierop het Kameel en die eerste appellant in die Cortina geklim. Dit het weggetrek maar omdat Neethling per radio in kontak met adjudant Tredoux was, is die Cortina kort daarna deur die polisie voorgekeer. 11) Die inhoud van die rugsak wat soos voornoemd ih Neethling se voertuig geplaas is, het later geblyk 810,3 gram dagga en 28 Mandrax tablette te
7.
wees.
Dit is blykbaar nie in die landdroshof betoog
dat selfs met aanvaarding van Neethling se weergawe nie
bewys is dat die
tweede appellant hom aan 'n oortreding
van art 2(a) van die Wet skuldig
gemaak het nie.
Gevolglik het die landdros nadat hy die weergawes van
die
appellante verwerp het en Neethling se getuienis
aanvaar het, bloot
voortgegaan om hulle skuldig te
bevind aan handeldryf in dagga en Mandrax. Op
appèl na
die Kaapse Provinsiale Afdeling is egter wel aangevoer
dat
die tweede appellant verkeerdelik aldus skuldig
bevind is omdat die
respondent nie bewys het dat die
tweede appellant die dagga en die Mandrax
(hierna
gesamentlik die stof genoem) nie bloot vir eie gebruik
wou bekom
nie. Hierdie betoog is soos volg deur die
hof a quo verwerp:
"In hierdie verband val dit onmiddellik op dat tweede appellant op geen stadium aan enigiemand beweer het dat hy die verbode stof vir eie gebruik wou bekom nie. Sy valse getuienis en die doelgerigtheid en die wyse
8.
waarop hy te werk gegaan het om die verbode stof te bekom, asook die reëlings met sersant Neethling (hierbo alreeds , na verwys) is geheel en al teenstrydig met die redelike moontlikheid dat die verbode stof vir sy eie gebruik bedoel was. Dit is duidelik dat tweede appellant die verbode stof nie vir eie gebruik wou verkry het nie. Die tweede appellant was aandadig aan (behulpsaam met) die lewering van die verbode stof aan sersant Neethling en sy ontvangs daarvan vir verspreiding deur hom aan sy mede-gevangenes vir of sonder betaling."
In hierdie hof het die appellante se advokaat
bedoelde betoog herhaal, en ek meen dat hy gelyk gegee
moet word. Dit is
waar dat die tweede appellant
valslik ontken het dat hy vir Neethling genader
het en
bostaande reëlings met hom getref het, maar hy sou
waarskynlik
dieselfde gedoen het ihdien hy slegs
aangekla was van besit van die stof, of
'n poging om besit daarvan te verkry. 'n Mens kan dus nie bloot op grond van die
leuenagtigheid
van sy getuienis die afleiding maak dat hy nie die stof vir eie
gebruik wou bekom nie. Dit is ook waar, soos die hof a quo gesê
het, dat die tweede appellant op geen stadium teenoor
9. enigiemand beweer
het dat hy die stof self wou gebruik nie. Aan die ander kant het hy egter nooit
teenoor Neethling laat blyk dat
hy die stof tot voordeel van homself en van sy
mede-gevangenes wou bekom nie.
Dit is nie vir my duidelik welke konklusie uit
die tweede appellant se "doelgerigtheid en die wyse waarop hy te werk gegaan het
...
asook die reëlings met sersant Neethling" gemaak kan word nie. Indien
die tweede appellant die stof vir eie gebruik wou verkry,
sou hy immers
waarskynlik op presies dieselfde wyse te werk gegaan en presies dieselfde
reëlings met Neethling getref het.
'n Afleiding dat die stof bestem was vir
gebruik deur die appellant sowel as van sy mede-gevangenes, kan egter
moontlik wel gemaak word uit die hoeveelheid daarvan. Op die
oog af kom dit
naamlik voor dat 810 gram dagga en 28 Mandrax tablette nie vir die gebruik van
'n enkele persoon bestem kon gewees
het nie. Aan die ander kant moet in gedagte
gehou word dat
10. die tweede appellant 'n prisonier was wat nie vryelik die
stof kon verkry nie, en dat hy heel moontlik wou sorgdra dat hy 'n eenmalige
geleentheid benut om 'n
voorraad te bekom wat hy oor 'n lang tydperk self kon gebruik.
Neethling
het ook getuig dat die tweede appellant hom versoek het om die Mandrax tablette
terstond aan hom te oorhandig maar die dagga
met tussenposes vir hom te bring.
Sy motivering was dat "so 'n groot klomp dagga" te veel was om "te hanteer en
weg te steek". Ek
meen dat hierdie versoek in die onderhawige verband neutraal
is en nie 'n afleiding na die een of die ander kant regverdig nie. Die
tweede
appellant se houding was klaarblyklik dat hy wel die
Mandrax, maar nie die
betreklik groot hoeveelheid dagga nie, in sy sel kon versteek. Die feit dat hy
onmiddellike besit van die Mandrax
wou verkry, dui dus nie met enige mate van
sekerheid op 'n voorneme om die tablette, of sommige daarvan, aan ander
gevangenes te
11.
laat toekom nie.
Die respondent se advokaat het ook gesteun op die feit
dat dit nie blyk welke reëlings in verband met die betaling van die
koopprys
van die stof getref is nie. Daarom, so het hy aangevoer, is dit redelik
om te aanvaar dat die tweede appellant van die stof aan sy
mede-gevangenes sou
verkoop ten einde die koopprys te verhaal. Hierdie betoog berus egter op blote
spekulasie. Aangenome dat die
stof wel aangekoop is, het die eerste appellant
waarskynlik daárvoor betaal en is daar in die getuienis geen aanduiding
van
'n reëling dat die tweede appellant aan haar 'n terugbetaling sou maak
nie.
In die lig van bostaande oorwegings meen ek nie dat die respondent buite
redelike twyfel bewys het dat die tweede appellant nie die
stof bloot vir
gebruik deur homself wou bekom nie. Dit is erkende reg dat 'n koper wat 'n
verbode stof vir eie gebruik koop nie binne
die raamwerk van art 2(a) van die
Wet daarin handel
12. dryf nie, en gevolglik is die tweede appellant verkeerdelik aan 'n oortreding van daardie artikel skuldig bevind. Hy was ook nooit in besit van die dagga en Mandrax nie, maar dit was tereg gemene saak dat hy wel gepoog het om besit daarvan te verkry en dat hy dus op die alternatiewe aanklag skuldig bevind moes gewees het aan 'n poging om art 2(b) te oortree. Dit volg dat sy skuldigbevinding dienooreenkomstig gewys moet word.
Dit is nou nodig om opnuut oor 'n gepaste vonnis vir die tweede appellant te besin. Die landdros het tereg daarop gewys dat die tweede appellant beoog het om vir Neethling voor 'n versoeking
te stel wat, indien hy daarvoor sou geswig het, lig kon
meebring dat Neethling se loopbaan in die Gevangeniswese geruïneer word, en dat waar die tweede appellant in die gevangenis was om gerehabiliteer te word, hy doelbewus getrag het om gevangenisregulasies te omseil. Voorts was die tweede appellant besig om
13.
gevangenisstraf uit te dien ten opsigte van o a die pleging van 'n nou
verwante misdryf, nl handeldryf in Mandrax. Daarvoor is hy
op 28 Maart 1985
gevonnis tot 5 jaar gevangenisstraf. Op 29 November 1985 is hy 'n
verdere
effektiewe termyn van 4 jaar gevangenisstraf opgelê weens wederregtelike
besit van 'n masjiengeweer en van ammunisie.
Hierna, en terwyl hy in die
gevangenis was, is hy ook op twee geleenthede skuldig bevind aan besit van
geringe hoeveelhede dagga
en vir elke misdryf gevonnis tot betaling van 'n boete
of die ondergaan van korttermyn gevangenisstraf. Ten slotte is hy op 31 Maart
1987 8 jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan
menseroof gepaardgaande
met die gebruik van 'n vuurwapen. Dit is egter gelas
dat 3 jaar van hierdie tydperk moes saamloop "met enige vonnis wat die
beskuldigde
tans uitdien". Die resultaat was dat die tweede appellant ten tyde
van die pleging van die onderhawige misdryf nog 'n onverstreke
tydperk van
nagenoeg 13 jaar gevangenisstraf moes
14. uitdien.
Die tweede appellant
het ook verdere vorige veroordelings maar dit is onnodig om daarby stil te
staan. Dit is oorvloediglik duidelik
dat die oplegging van gevangenisstraf op
verskeie geleenthede, asook twee vorige veroordelings vir besit van dagga, nie
die appellant
weerhou het van die pleging van die onderhawige misdryf nie. Dit
dien ook beklemtoon te word dat drie van sy skuldigbevindings op
oortredings van
art 2 van die Wet berus het. Van rehabilitasie aan sy kant, of van 'n
afskrikkingseffek van sy vorige veroordelings,
is daar dus weinig, indien enige,
sprake. 'n Verdere faktor wat oorweging verdien, is dat die tweede appellant
getrag het om besit
van redelik
groot hoeveelhede verbode stof te verkry. Al
het hy hom slegs skuldig gemaak aan 'n poging om art 2(b) te oortree, volg dit
dat 'n
stewige vonnis aangewese is. Na my oordeel is so 'n vonnis een van 2 jaar
gevangenisstraf.
15.
Ek kom dan by die appèl van die eerste appellant teen haar vonnis van
8 jaar gevangenisstraf waarvan 4 jaar voorwaardelik opgeskort
is. Sy was die
sogenaamde houvrou van die tweede appellant. Ten tyde van vonnisoplegging het sy
ses kinders gehad met ouderdomme
wisselende tussen 'n paar maande en 15 jaar. Sy
het met vis en groente gesmous en haar vader het haar ook finansieel
bygestaan.
Die landdros is meegedeel dat die eerste appellant betaling van 'n
boete sou kon bekostig (uit welke bron is nie so duidelik nie).
Vanweë 'n
vorige veroordeling van die eerste appellant was die landdros egter van mening
dat 'n boetevonnis nie die aangewese
straf was nie. Sy is naamlik op 11 Augustus 1983
skuldig bevind aan
handeldryf in Mandrax en 5 jaar gevangenisstraf opgelê. Hierna het sy met
gedeeltelike sukses teen haar skuldigbevinding
en vonnis geappelleer. In
Augustus 1984 het die hof van appèl die skuldigbevinding en vonnis
tersyde gestel en
16.
vervang met 'n skuldigbevinding aan begunstiging tot die pleging van 'n
oortreding van art 2(a) van die Wet en 2 jaar gevangenisstraf
wat in die geheel
voorwaardelik opgeskort is, plus 'n boete van R300 of alternatiewelik 300 dae
gevangenisstraf. Die eerste appellant
is nie afgeskrik deur die opgeskorte
vonnis nie en daarom, so het die landdros gemeen, moes sy "die gevolge dra
daarvan". Hy was
voorts van mening dat die tweede appellant gevangenisstraf
opgelê moes word om onder haar aandag te bring dat 'n vonnis 'n
doel
dien.
Met die landdros se siening dat gevangenis-straf aangewese was, kan
geen fout gevind word nie. Dit kom my egter voor dat by besinning
oor die duur
van
so 'n vonnis die landdros 'n belangrike aspek uit die oog
verloor het. Die onderhawige was naamlik nie 'n geval waarin die tweede
appellant artikel 2(a) van die Wet oortree het ten einde haarself
te verryk nie.
In haar guns moet aanvaar word dat sy 'n blote werktuig was ten einde die eerste
appellant, met wie sy voorheen as
man
17. en vrou saamgeleef het en wat die
vader van sommige van haar kinders was, te voorsien met die stof wat hy vir eie
gebruik in die
gevangenis sou aanwend. Haar morele skuld was dus nie dieselfde
as dié van die normale verkoper of voorsiener van sodanige
stof nie.
Vanwee haar noue verwantskap met die tweede appellant sou dit waarskynlik ook
vir haar moeilik gewees het om sy versoek,
soos oorgedra deur Neethling, te
ignoreer. En dan moet ook in gedagte gehou word dat dit nie sy was nie, maar wel
die tweede appellant,
wat Neethling aangepor het om as tussenganger op te tree.
Ten slotte is daar die oorweging dat die eerste appellant blykbaar nie
voorheen
gevangenisstraf uitgedien het nie, en dat dus nie gesê kan word dat sy nie
deur so 'n ondervinding
afgeskrik is nie.
Ek kom derhalwe tot die slotsom
dat die landdros vir die eerste appellant buitensporig skerp gevonnis het, en
dat daardie vonnis vervang
moet word deur een van 2 jaar gevangenisstraf.
18.
Gevolglik slaag die appèlle tot die volgende mate:
1) Die vonnis van die eerste appellant
word tersyde
gestel en vervang deur 'n vonnis van 2 jaar gevangenisstraf.
2) Die tweede
appellant se skuldig-
bevinding en vonnis word tersyde gestel en
vervang
deur 'n skuldigbevinding aan 'n poging tot oortreding
van art 2(b)
van Wet 41 van 1971 en 'n vonnis van 2 jaar
gevangenisstraf.
H.J.O. VAN HEERDEN AR
NICHOLAS ARR
STEM SAAM FRIEDMAN ARR