South Africa: Supreme Court of Appeal
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 93 | Noteup | LawCiteS v Senonohi (691/89) [1990] ZASCA 93; 1990 (4) SA 727 (AD); [1990] 2 All SA 584 (A) (17 September 1990)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
ABEL SENONOHI Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: E M GROSSKOPF, STEYN, EKSTEEN, F 'n GROSSKOPF, ARR
FRIEDMAN, Wn AR
VERHOOR: 17 Augustus 1990 GELEWER: 17
September 1990
2
UITSPRAAK
E M GROSSKOPF, AR
Die appellant is saam met sy broer Gert (beskuldigde no 2) in die Transvaalse Westelike Rondgang Plaaslike Afdeling van moord op ene Patrick Phetoe aangekla. Albei het onskuldig gepleit. Na 'n verhoor voor VAN ZYL R en assessore is beskuldigde no 2 onskuldig bevind en ontslaan. Die appellant is egter skuldig bevind soos aangekla, en, nadat die hof bevind het dat daar geen versagtende omstandighede was nie, is hy ter dood veroordeel. Met die nodige verlof kom hy nou in hoër beroep teen sy skuldigbevinding en teen die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede is nie, en dus ook teen sy vonnis. Weens die bepalings van die Strafregwysigingswet, no 107 van 1990, wat intussen in werking getree het, sal die appèl teen die vonnis nou op 'n veranderde basis bereg moet word. Ek kom later weer daarop terug.
Wat die skuldigbevinding betref, het die Staat se saak hoofsaaklik berus op die getuienis van twee ooggetuies, Elizabeth
3
Nophikela en Martha Pelesa.
Elizabeth het getuig dat sy op die middag van
10 April 1988 (wat 'n Sondag was) op haar huis se voorstoep gesit het toe sy die
oorledene
sien aankom van een rigting terwyl die appellant en beskuldigde no 2
vanaf 'n ander rigting nader. Toe hulle by die oorledene kom
het hulle gaan
staan en oor en weer met mekaar gepraat. Sy kon nie hoor wat hulle sê nie
totdat beskuldigde no 2 die oorledene
aan sy lyfband vasgegryp het en die
appellant hardop gesê het:"Jy gaan vandag dood oor ons geld". Die
appellant het toe 'n
leë karton wat daar naby gelê het, opgetel en
weggestap. No 2 het steeds by die oorledene bly staan. Kort daarna het die
appellant weer sy verskyning gemaak, steeds met hierdie karton in sy hande. Hy
het gestap tot waar die oorledene en beskuldigde no
2 staan en het die inhoud
van die karton - 'n vloeistof - oor die oorledene gegooi. Die getuie kon nie
sien wat die vloeistof was
nie, maar dit was gemene saak op appèl dat dit
lampolie was wat die appellant by 'n nabygeleë winkel gaan koop het. Die
appellant het 'n dosie vuurhoutjies uit
4
sy broeksak te voorskyn gehaal en een vuurhoutjie probeer aansteek. Dit het
egter nie vlam gevat nie. Hy het 'n tweede vuurhoutjie
getrek wat wel vlam gevat
het. Die appellant het die brandende vuurhoutjie op die oorledene gegooi. Vlamme
het onmiddellik op die
oorledene uitgeslaan. Net voordat die vuurhoutjie gegooi
is het beskuldigde no 2 sy greep op die oorledene verstewig maar toe die
oorledene in vlamme uitbars het hy hom weggestamp. Die appellant het toe
gesê "laat hy doodgaan" en het weggeloop. Beskuldigde
no 2 het nog daar
bly rondstaan totdat 'n ander persoon op die toneel gekom het en sand oor die
oorledene gegooi het. Beskuldigde
no 2 het toe self sand opgetel en hom gehelp
om die vuur te blus. Hy het twee maal sand opgegooi en toe weggestap. Volgens
Elizabeth
was die oorledene sowel as die beskuldigdes nugter, hoewel sy in
kruisverhoor toegegee het dat hulle moontlik iets kon gedrink het.
Martha
Pelesa se getuienis het in alle wesentlike opsigte dié van Elizabeth
gestaaf. Ook die tweede beskuldigde se getuienis
het in 'n groot mate
ooreengestem met dié van hierdie
5
twee Staatsgetuies. Die appellant se weergawe was egter wesentlik anders.
Weens die verloop wat hierdie appèl geneem het is
dit nie nodig om sy
getuienis in besonderhede uiteen te sit nie. Dit het kortliks daarop neergekom
dat daar 'n struweling tussen
hom en die oorledene plaasgevind het en dat die
lampolie, wat die appellant reeds voor sy ontmoeting met die oorledene gekoop
het,
per ongeluk in die loop van hierdie struweling oor die oorledene uitgestort
het. Die appellant het toe, volgens sy weergawe, in 'n
woede-aanval 'n
vuurhoutjie getrek en die oorledene aan die brand gesteek.
Na 'n oorweging
van al die getuienis het die verhoorhbf tot die gevolgtrekking gekom dat
Elizabeth se weergawe, soos gestaaf deur
Martha en tot 'n mate deur beskuldigde
no 2, aanvaar moes word en dié van die appellant verwerp moes word. Op
appèl
voor ons het Mnr. Bester, wat namens die appellant opgetree het,
nie betoog dat hierdie bevinding van die verhoorhof aangeveg kan
word nie. Ek
stem met hierdie toegewing saam. Die Staatsgetuienis kom as geloofwaardig voor
en die getuienis van
6
die appellant was klaarblyklik verwerplik.
Dit blyk uit die getuienis dat
die oorledene nege dae na die insident oorlede is. Die mediese getuienis het
aangedui dat die oorledene
uitgebreide derdegraadse brandwonde gehad het van sy
kop, nek, bors, maag, rug en arms. Hierdie brandwonde was die oorsaak van sy
dood en dit is gemene saak dat hulle opgedoen is as gevolg van die appellant se
optrede soos hierbo beskryf.
In sy betoog voor ons het die appellant se
advokaat aanvaar dat die appellant die dood van die oorledene veroorsaak het en
dat die
appellant se optrede in hierdie verband onregmatig was. Sy enigste
betoog met betrekking tot skuldigbevinding was dat daar nie bo
redelike
twýfel bewys was dat die appellant die opset gehad het om die oorledene
te dood nie. Sy betoog was gevolglik dat
die appellant bloot aan strafbare
manslag skuldig bevind moes gewees het. Myns insiens gaan hierdie argument nie
op nie. Soos blyk
uit die relaas van die gebeure wat ek hierbo gegee het, het
die appellant doelbewus 'n hoeveelheid lampolie oor die oorledene se
kop en lyf
uitgegooi en aan die brand
7
gesteek. Volgens die appellant was daar 'n liter lampolie in die houer, en het ongeveer die helfte daarvan op die oorledene gestort. Elizabeth het egter getuig dat die hele inhoud van die houer op die oorledene uitgegooi is, en dit is haar weergawe wat vir huidige doeleindes deurslaggewend is. Enige mens moes besef het dat die appellant se optrede potensieel lewensgevaarlik was. Dit is dus ondenkbaar dat die appellant nie besef het dat hy heel moontlik of selfs heelwaarskynlik die oorledene se dood sou veroorsaak deur hom op hierdie manier aan die brand te steek nie. Maar enige moontlike twyfel hieromtrent word myns insiens uit die weg geruim deur wat die appellant gesê het terwyl hierdie insident aan die gang was. Soos ek reeds hierbo daarop gewys het, het hy, nog voordat hy die lampolie gaan haal het, aán die oorledene gesê: "Jy gaan vandag dood oor ons geld". Daarbenewens, nadat die oorledene reeds in vlamme uitgebars het, het die appellant, net voordat hy vertrek het, gesê: "Laat hy doodgaan". Die appellant se optrede was dus nie alleen bereken om die dood van die oorledene te veroorsaak nie, maar sy
8
uitlatings tydens die gebeure dui aan dat hy die dood van die oorledene
begeer het.
Namens die appellant is sterk gesteun op sy eie getuienis dat hy
probeer het om die vlamme op die oorledene te blus deur sand op die
oorledene te
gooi. Dit, so is beweer, is 'n aanduiding dat hy nie die oorledene wou dood nie.
Hierdie getuienis word gestaaf deur
beskuldigde no 2. Dit is egter teenstrydig
met Elizabeth se getuienis, en is nooit in kruisverhoor aan haar gestel nie. Die
appellant
het getuig dat dit hom ontgaan het om hierdie belangrike feit aan sy
advokaat te noem. Elizabeth se getuienis is oor die algemeen
aanvaar bo
dié van die appellant, en hier gaan dit nog oor 'n bewering wat so laat
in die verhoor deur die appellant geopper
is dat dit na
'n blote nagedagte
lyk. Daar sou dus geen rede wees om op hierdie punt die appellant se getuienis
te aanvaar nie. Die saak word effens
gekompliseer deur die feit dat beskuldigde
no 2 die appellant se weergawe staaf. Beskuldigde no 2 se getuienis met
betrekking tot
sy eie skuld aan die dood van die oorledene is
9
deur die verhoorhof aanvaar as redelik moontlik waar. Ek is nie
voornemens qm die meriete van hierdie bevinding te oorweeg, of om
beskuldigde no
2 se getuienis in besonderheid te ontleed nie. Klaarblyklik was Elizabeth 'n
baie meer oortuigende getuie as hy, en
is ook so bevind deur die verhoorhof. Oor
die bewering dat die appellant die brand probeer blus het is daar 'n botsing
tussen haar
getuienis en dié van beskuldigde no 2. Hoewel die verhoorhof
geen uitdruklike bevinding oor hierdie botsing maak nie, sou
dit volg uit sy
algemene geloofwaardigheidsbevinding dat Elizabeth se getuienis verkies sou
gewees het. Die verhoorhof was dan ook
ten volle bewus van die appellant en
beskuldigde no 2 se getuienis in hierdie verband (dit word in die uitspraak
genoem) maar het
duidelik die appellant se skuldigbevinding en vonnis benader op
die basis dat die appellant niks gedoen het om die brand op die oorledene
te
probeer blus nie. Hierdie standpunt is myns insiens ten volle geregverdig deur
die getuienis. Dit is myns insiens ook in ooreenstemming
met die
waarskynlikhede. As die appellant skielik, nadat hy die
10
oorledene aan die brand gesteek het, bewus geword het van die
verskriklikheid van sy daad, sou hy stellig meer gedoen het as
'n paar
handevol sand op hom te gooi. En as hy tot so 'n inkeer gekom het, sou hy
sekerlik onthou het om sy advokaat daarvan te vertel.
Weens die voorgaande
meen ek nie dat die appellant se getuienis, gestaaf deur beskuldigde no 2, dat
die appellant probeer het om die
brand op die oorledene te blus, aanvaar kan
word nie. Wat die uitwerking op die saak as geheel sou gewees het indien hierdie
getuienis
wel aanvaar was, hoef ek nie te oorweeg nie. Vir huidige doeleindes is
dit genoeg om te sê dat daar niks in die getuienis is
wat afdoen aan die
afleiding,
gegrond op die appellant se optrede en uitlatings, dat hy die dood
van die oorledene begeer het nie. Ek meen dus nie dat die verhoorhof
se
bevinding dat die appellant die direkte opset gehad het om die oorledene te
dood, aangeveg kan word nie. Die appel teen die skuldigbevinding
kan gevolglik
nie slaag nie. Dit bring my dan by die vonnis. Die
11
Strafregwysigingswet, no 107 van 1990 (hierna "die nuwe wet"
genoem) het, insoverre ter sake, op 27 Julie 1990 in werking getree.
Die
relevante bepalings van die nuwe wet word volledig uiteengesit in die uitspraak
van hierdie hof in S teen Masina en Andere (saak 695/89, gelewer op 13
September 1990) en ek hoef dit nie hierin te herhaal nie. Ek gee dus slegs 'n
kort opsomming van die
belangrikste bepalings vir huidige doeleindes.
Die
nuwe wet het die voorafbestaande bedeling met betrekking tot die doodstraf
ingrypend gewysig. Artikel 277 van die Strafproseswet,
no 51 van 1977 ("die
Wet") het vroeër bepaal dat, onderhewig aan sekere uitsonderings, 'n
persoon die doodvonnis opgelê
moes word indien hy aan moord skuldig bevind
is. Vir huidige doeleindes was die belangrikste uitsondering dat 'n ander vonnis
bevoeg
was "waar die hof, by skuldigbevinding van 'n persoon aan moord, van
oordeel is dat daar versagtende omstandighede is." In die onderhawige
geval het
die hof a quo bevind dat daar geen versagtende omstandighede was nie, en
die verpligte doodstraf opgelê.
12
Die nuwe wet het die verpligte doodstraf afgeskaf. Kragtens die gewysigde artikel 277 van die Wet is die grondslag waarop 'n hof nou beslis oor die moontlike oplegging van die doodstraf, dieselfde ten opsigte van alle halsmisdade. Dit word, insoverre ter sake, as volg uitgedruk in artikel 277(2) van die Wet, soos vervang deur artikel 4 van die nuwe wet:
"(2) Die doodvonnis word opgelê -
a) nadat die voorsittende regter tesame met die assessore (as daar is) ... met inagneming van enige getuienis en betoë oor vonnis ingevolge artikel 274, 'n bevinding uitgebring het oor die aan- of afwesigheid van enige strafversagtende of -verswarende faktore; en b) indien die voorsittende regter ... met inagneming van daardie bevinding, oortuig is dat die doodvonnis die gepaste vonnis is."
Artikel 274 van die Wet (wat nie deur die nuwe wet
gewysig is nie) lui soos volg:
"(1) 'n Hof kan, voordat hy vonnis oplê, die getuienis aanhoor wat hy goedvind ten einde homself in te lig oor die gepaste straf om op te lê.
(2) Die beskuldigde kan die hof toespreek oor getuienis wat kragtens subartikel (1) aangehoor is, asook oor die aangeleentheid van die vonnis, en daarna kan die
13
vervolging die hof insgelyks toespreek."
Soos blyk
uit die gewysigde artikel 277, het die begrip "versagtende omstandighede" saam
met die verpligte doodvonnis uit die Wet
verdwyn. In Masina se saak,
supra, is neergelê dat die uitdrukking "strafversagtende faktore"
'n wyer begrip uitdruk as wat voorheen deur "versagtende omstandighede"
behels
was, en dat "strafversagtende of
-verswarende faktore" alle faktore insluit wat behoorlik deur 'n hof in ag
geneem kan word hetsy ter versagting, het sy ter verswaring,
van vonnis. Dat
hierdie die korrekte vertolking is, blyk ook uit die voorskrif aan die hof in
die nuwe artikel 277(2)(a) om getuienis
en betoë oor vonnis ingevolge
artikel 274 in ag te neem by sy bevinding oor die aan-of afwesigheid van
strafversagtende of -verswarende
faktore.
Hoewel die verhoorhof die
onderhawige geval onder die ou bedeling beslis het, is dit duidelik uit artikel
20 van die nuwe wet dat
ons die appèl moet besleg asof artikel 4 van die
nuwe wet (wat artikel 277 van die Wet vervang het) te alle tersaaklike tye
in
werking was. Dit beteken dat ons die nuwe
14
maatstawwe wat ek hierbo bespreek het, moet toepas. Hieruit volg dit
natuurlik dat die appèl op 'n ander basis beslis word
as wat deur die
verhoorhof toegepas is. Om enige probleme te ondervang wat hieruit mag ontstaan,
verleen artikel 20(3) van die nuwe
wet aan hierdie hof die bevoegdheid "om die
vonnis tersyde te stel en die saak na die verhoorhof terug te verwys met die
opdrag om
met 'n aangeleentheid, met inbegrip van die aanhoor van getuienis, te
handel op die wyse wat die Appèlafdeling goed ag". In
die onderhawige
geval was die partye dit egter eens dat die oorkonde van die saak alle aspekte
volledig dek wat vir vonnisoplegging
ingevolge die nuwe wet ter sake mag wees.
Dit was gevolglik nie nodig om van die bevoegdhede verleen deur artikel 20(3)
van die nuwe
wet gebruik te maak nie.
By die toepassing van die maatstawwe
neergelê deur die gewysigde artikel 277 kan hierdie hof, indien hy "van
oordeel is dat
hy self nie die doodvonnis sou opgelê het nie, die vonnis
tersyde stel en die straf oplê wat na sy oordeel gepas is"
(artikel
322(2A) van die Wet soos ingevoeg deur artikel 13(b) van
15
die nuwe wet - 'n bepaling wat ook deur artikel 20(1) van die nuwe . wet van toepassing gemaak word op appèlle in reeds verhoorde sake). By 'n appèl teen 'n doodvonnis oefen die Appèlhof dus nou 'n onafhanklike diskresie uit. Hy moet self oordeel of, met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore wat uit die oorkonde blyk, die doodvonnis "die gepaste vonnis" ingevolge die nuwe artikel 277(2)(b) is. Deur die invoeging van artikel 322(2A) het die Wetgewer dus afgewyk van die beginsel wat tot dusver in appèlle teen vonnis gegeld het, naamlik dat die hof van appèl slegs kan ingryp as die verhoorhof nie sy diskresie behoorlik uitgeoefen het nie. Tans kan hierdie hof 'n doodvonnis tersyde stel selfs waar die verhoorhof se diskresie-uitoefening onbesproke is, en bloot op grond daarvan dat hierdie hof 'n ander mening huldig oor die gepastheid van die doodvonnis.
Dit bring my dan by die oorweging van die feite. Die belangrikste strafverswarende faktorê word as volg deur die hóf a guo uitgedruk in sy uitspraak oor versagtende omstandighede: "Vanaf die oomblik dat die beskuldigde aan die
16
oorledene toegevoeg het dat die oorledene sou doodgaan en omgedraai het om lampolie te gaan koop, het hy reeds sy wrede handeling beplan. Hy het direk na die winkel . gegaan, die lampolie gaan koop en binne 'n kort tydjie teruggekeer daarmee. Hy het sonder aarseling na die oorledene gegaan en die lampolie oor hom gegooi. Hy het eweneens sonder aarseling 'n vuurhoutjie getrek wat nie vlam gevat het nie en onmiddellik daarna 'n tweede vuurhoutjie getrek wat wel vlam gevat het en op die oorledene gegooi. In geen stadium was die oorledene in die geringste mate teenoor hom aggressief nie. Inteendeel, totdat die lampolie oor hom gegooi is en hy daarna aan die brand gesteek is, het hy doodstil gestaan."
Die aard van die misdaad soos dit hier deur die hof a
quo beskryf word, was inderdaad 'n ernstige
strafverswarende
faktor. Die wreedheid en gevoelloosheid van die misdaad
spreek
vanself. Wat die voorbedagtheid betref, moet daar egter in
gedagte
gehou word dat daar blykbaar nie veel tyd verloop het
tussen die appellant se
besluit om die lampolie te gaan koop, en
die daaropvolgende aanval op die
oorledene nie. Die winkel was
byderhand en alles het blykbaar vinnig verloop.
Daar was dus nie
'n lang tydperk vir die appellant om te besin nie. Hierdie
aspek
doen tot 'n geringe mate af aan die verfoeilikheid van die
17
appellant se optrede.
Die belangrikste strafversagtende
faktor is dat die appellant, wat ten tyde van die verhoor 28 jaar oud was, 'n
skoon rekord het en
vaste werk gehad het. Dit wil dus blyk dat hy nie van aard
'n gewelddadige persoon is nie. Duidelik het hy op die betrokke dag op
'n
buitengewone wyse opgetree. Sy eie verduideliking was dat hy op hierdie Sondag
drank ingehad het, en daar is niks om sy getuienis
hieromtrent te weerspreek
nie, hoewel sy dronkenskap klaarblyklik nie van 'n ernstige graad was nie. Dan
was daar duidelik 'n rusie
tussen hom en die oorledene oor geld wat die
oorledene aan hom sou geskuld het. Die appellant getuig hieromtrent en sy
getuienis
word gestaaf deur die woorde wat hy, volgens Elizabeth, aan die
oorledene toegevoeg het toe hy weg is om die lampolie te gaan koop.
Die
appellant het verder getuig dat die oorledene nie alleen geweier het om te
betaal nie, maar hom ook vieslike vloeke toegevoeg
het. Hier weer eens word sy
getuienis nie weerspreek nie. Elizabeth kon nie alles hoor wat die appellant en
die oorledene aan mekaar
gesê
18
het nie, en uit die heftigheid van die appellant se reaksie lyk dit
waarskynlik dat die oorledene iets meer kwetsend gedoen het as
bloot te versuim
om geld te betaal.
Om op te som dus: as strafversagtende faktore was daar die
appellant se skoon rekord en werksomstandighede, sy drankverbruik, en die
provokasie daargestel deur die oorledene se weiering om die geld te betaal en
die kwetsende wyse waarop dit geskied het.
h Uiteensetting van die
strafverswarende en
-versagtende omstandighede toon duidelik, meen ek, dat
die
verhoorhof nie gekritiseer kan word vir sy bevinding dat daar
geen
versagtende omstandighede was in die sin waarin hierdie
begrip in die verlede
toegepas is nie. Ingevolge die nuwe wet
moet 'n mens. egter wegkom van
hierdie benadering. Die appellant
se morele verwytbaarheid, wat die wese
gevorm het van die
ondersoek na versagtende omstandighede, is nie
meer
allesoorheersend nie (hoewel natuurlik steeds belangrik) maar moet nou
in die skaal geplaas word met die ander faktore wat
19
verband hou met die doelstellinge van straftoemeting. Na behoorlike inagneming van al hierdie faktore, mag die verhoorregter (en hierdie hof op appèl) die doodvonnis oplê slegs as hy "oortuig is dat die doodvonnis die gepaste vonnis is" (artikel 277(2)(b) soos gewysig deur die nuwe wet - in Engels "satisfied that the sentence of death is the proper sentence".) Die uitdrukkings "die gepaste vonnis" en "the proper sentence" laat blyk dat die doodstraf nie opgelê moet word tensy die hof oortuig is dat geen ander straf gepas sou wees nie - iets wat eintlik vanself spreek, want die wetgewer sou tog nie wou hê dat die doodvonnis opgelê mag word selfs waar ander vorms van straf ook gepas sou wees nie. 'n Moeiliker probleem is om te besluit wanneer die doodstraf "die gepaste vonnis" is. Ek is nie voornemens om te probeer om 'n algemeen-geldende formulering neer te lê nie. As algemene riglyn meen ek dat die afskaffing van die verpligte doodstraf vir moord 'n aanduiding is dat die wetgewer beoog het dat die doodstraf voortaan net in gevalle van uitsonderlike erns opgelê sou word.
20
In die onderhawige geval was die moord sekerlik 'n baie ernstige een, selfs met inagneming van die mate van drank en provokasie wat aanwesig was. Wat vir my die deurslag gee is egter die appellant se skoon rekord. Hy het die ouderdom van 28 jaar bereik sonder enige skuldigbevinding. Dit is 'n aanduiding dat hy nie inherent gewelddadig is nie, en dat hy waarskynlik rehabiliteerbaar is. Die doodstraf is dus myns insiens nie die enigste gepaste, of selfs die mees gepaste, straf nie. Ek meen dat 'n lang tydperk van gevangenisstraf voldoende sou wees om die oogmerke van strafoplegging, t.w., voorkoming, vergelding, afskrikking en hervorming, te bevredig. Onder die omstandighede van die saak beskou ek agtien jaar as 'n gepaste termyn.
Die hof se bevel is dus soos volg:
1. Die appèl teen die skuldigbevinding word afgewys.
2. Die appèl teen die yonnis slaag. Die doodvonnis word tersyde gestel en vervang met agtien (18) jaar gevangenisstraf.
STEYN, AR
AR Stem
FRIEDMAN, Wn AR
E M GROSSKOPF, AR