South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 88

| Noteup | LawCite

S v Mahlabane (574/89) [1990] ZASCA 88 (13 September 1990)

Download original files

PDF format

RTF format


Saaknommer 574/89 E du P

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-APRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

MICHAEL MAHLABANE. Appellant

en

DIE STAAT Respondent

Coram: BOTHA, MILNE et F H GROSSKOPF ARR.

Verhoordatum: Leweringsdatum:

21 Augustus 1990. 13 September 1990.

2

UITSPRAAK. F H GROSSKOPF AR:
Die appellant was beskuldigde 1 in die streekhof te Springs. Hy is aan roof skuldig bevind en tot 8 jaar gevangenisstraf gevonnis. Sy mede-beskuldigde is onskuldig bevind en ontslaan. Die appellant se appèl teen sy skuldigbevinging en vonnis is deur die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die hand gewys. Daardie hof het ook sy aansoek om verlof om na die Appèlafdeling te appelleer geweier. Verlof is daarna ingevolge die bepalings van art 316 van wet 51 van 1977 aan die appellant verleen om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer.
Die staatsaak is dat ene Nel, die fabrieks-bestuurder van Delmas Kuikens, op 27 November 1987 by Delmas van R29 888 kontant beroof is. Dit was loongeld wat Nel om ongeveer 13:50 die middag by sy hoofkantoor gaan haal het. Die geld was in 'n trommel verpak. Toe Nel by die kantoor uitkom, het twee swartmans op hom afgestorm. Die een

3

het 'n 9 mm pistool in sy hand gehad en die ander een 'n
skroewedraaier. Die man met die vuurwapen het Nel gelas om die trommel neer te gooi, wat Nel gedoen het toe die man sy pistool oorgehaal het. Die ander man met die skroewedraaier het die trommel opgetel en na 'n rooi Mercedes
Benz motor gehardloop wat voor Nel se motor geparkeer gestaan het. Nel het die rooi Mercedes se registrasienommer, nl. LFJ 990 T, neergeskryf. Hy het die rooi Mercedes in sy eie motor agtervolg, maar dit het vir hom weggery.
Die voorafgaande getuienis is nie deur die verdediging betwis nie. Wat wel betwis is, is dat die appellant en sy mede-beskuldigde iets met die roof te doen gehad het. Die vraag is of daar voldoende betroubare getuienis is om die appellant bo redelike twyfel met die pleging van die misdaad te verbind.
Appellant gee toe dat hy op 27 November 1987 nie by die werk was nie. Hy sê hy het die dag verlof geneem om sy meisie in Dennilton te gaan besoek. Die bevinding van die

4

landdros dat die appellant daardie dag met siekverlof was, is egter nie in ooreenstemming met die getuienis nie. Soos ek later sal aantoon, was dit 'n ernstige mistasting aan die kant van die landdros wat 'n nadelige bevinding met betrekking tot die appellant se geloofwaardigheid tot gevolg gehad het.
Die appellant gee verder toe dat hy die betrokke dag 'n rooi Mercedes Benz motor by Avis gehuur het. Dit was om na Dennilton toe te gaan. Die registrasienommer van hierdie motor was MDP 993 T. Dit verskil dus van die registrasienommer van die rooi Mercedes wat Nel in Delmas gesien het. Die registrasienommer van die rooi Mercedes wat Nel in Delmas gesien het,het presies ooreengestem met die registrasienommer van 'n rooi Mercedes Benz motor wat aan 'n
sekere Erasmus van Pretoria behoort het. Volgens Erasmus se getuienis was sy rooi Mercedes gedurende die relevante tyd op die betrokke dag in Pretoria en was dit beslis nie in Delmas nie. Dit wil dus voorkom asof die persone wat die roof gepleeg het, vals nommerplate gebruik het. Die feit dat

5

die appellant daardie dag 'n rooi Mercedes met registrasienommer MDP 993 T gehuur het, regverdig volgens die respondent se betoog nie die afleiding dat die appellant nie die misdaad gepleeg het nie. Dit is sekerlik so, maar aan die ander kant regverdig die getuienis met betrekking tot die verskillende rooi Mercedes Benz motors ewemin die afleiding dat die appellant wel die misdaad gepleeg het. Die landdros het egter bevind dat die getuienis dat die appellant 'n rooi Mercedes gehuur het en dat 'n soortgelyke rooi Mercedes by die toneel van die misdaad gesien is, tesame met die getuienis dat die appellant daardie dag verlof geneem het, hom oortuig het dat die misdaad met behulp van die gehuurde rooi Mercedes gepleeg is. Alhoewel die omstandighede verdag mag voorkom, is die landdros se afleiding sekerlik nie die enigste redelike afleiding wat daar gemaak kan word nie.
Daar is verdere getuienis waarop die staat steun om die appellant met die pleging van die misdaad te verbind, nl. die uitkenning van die appellant deur die getuie

6

Catharina Sleswa, en 'n bekentenis wat die appellant gemaak het.
Catharina Sleswa was 'n werknemer van Delmas Kuikens. Sy het getuig dat sy en ander vrouens die betrokke dag gedurende die middagete op 'n grasperk buite die kantoor van Delmas Kuikens gesit het. Op 'n stadium het 'n onbekende swartman daar aangekom en by hulle op die gras kom sit. Daarna het 'n ander persoon met 'n rooi Mercedes Benz motor daar opgedaag en eenkant op 'n ander grasperk gaan lê. Toe Nel kort daarna met die geldtrommel by die deur van die gebou uitkom, het die persoon wat vroeër met die rooi Mercedes daar opgedaag het, opgestaan en vir Nel voorgekeer. Die ander man wat by Sleswa-hulle op die gras gesit het, het ook nader gestaan en toe Nel die trommel neersit, het hy die trommel gevat en in die rooi Mercedes geklim. Sleswa het nie gesien wat van die ander persoon geword het nie.

Sleswa het getuig dat sy die appellant daarna op 2 Februarie 1988 tydens 'n uitkenningsparade uitgewys het as

7

die man wat op 27 November 1987 by hulle op die gras gesit het en later die geldtrommel gevat het. Tydens kruisondervraging het die getuie Sleswa getuig dat sy nie ten tye van die uitwysing gepraat het nie. Volgens haar is sy aangesê om die persoon aan te raak, wat sy toe gedoen het. Sy het ontken dat sy gesê het "hy lyk soos hierdie een". Die advokaat vir die verdediging het toe aan haar gestel dat daar
'n aantekening op die uitkenningsparadevorm voorkom waarvolgens sy wel sou gesê het "hy lyk soos hierdie een". Haar antwoord was dat dit nie waar is nie.

Die verdediging het tydens die verhoor op uitnodiging van die staat erken dat die uitkenningsparade behoorlik gehou was en dat dit wat op die

uitkenningsparadevorm aangeteken is, 'n korrekte weergawe is van wat daar plaasgevind het en wat presies gesê is. Die uitkenningsparadevorm bevat die volgende aantekening wat op die getuie Sleswa se uitwysing betrekking het:

"Na 28 sek. wys no. 11 uit en sê hy lyk soos

8

hierdie een. Sy wys hom uit as die persoon wat saam met ander een was wat mnr. Nel met 'n vuurwapen gedreig het. Hy het die geld geneem". Hiervolgens blyk dit dat die getuie Sleswa fout was toe sy ontken het dat sy enigiets tydens die uitwysing gesê het. Van groter belang egter is dat dit uit hierdie opmerking van haar, nl. "hy lyk soos hierdie een", blyk dat sy ten tye van die uitwysing waarskynlik onseker was of sy die regte persoon uitgewys het. Aangesien sy ontken dat sy by hierdie geleentheid enigiets gesê het, sal dit blote spekulasie wees om nou 'n ander en meer gunstige uitleg vir hierdie opmerking van haar te probeer vind.
Mnr Van Vuuren, wat namens die respondent verskyn het, het betoog dat die tweede en derde sinne van bogenoemde aantekening op die uitkenningsparadevorm aantoon dat die getuie Sleswa die appellant daadwerklik uitgewys het as een van die twee booswigte. Sleswa ontken natuurlik dat sy self iets gesê het. Volgens haar getuienis het sy dus nie die

9

appellant met byvoeging van daardie beskrywing uitgewys nie. Die aantekening lui dat sy die appellant sou beskryf het "as die persoon wat saam met ander een was wat mnr. Nel met 'n vuurwapen gedreig het". Dit kon in ieder geval nie haar eie beskrywing gewees het nie, want volgens haar getuienis het sy nie gesien waarmee die ander persoon vir Nel gedreig het nie.
Die getuie Sleswa het haarself ook in 'n ander opsig weerspreek. Tydens haar hoofgetuienis het sy gesê dat die rooi Mercedes agter Nel se motor stilgehou het, maar onder kruisverhoor het sy haar getuienis verander en gesê dat die rooi Mercedes voor Nel se motor gaan stilhou het, wat terloops ooreenstem met Nel se getuienis. Hierdie weerspreking van die getuie Sleswa is opsigselfstaande nie van enige wesenlike belang nie, behalwe dat sy daarna ontken het dat sy ooit tydens haar hoofgetuienis gesê het dat die rooi Mercedes agter Nel se voertuig stilgehou het. Na my oordeel was die getuie Sleswa nie 'n betroubare getuie nie en

10

kan daar nie op haar uitwysing peil getrek word nie. Uit opmerkings wat die landdros in sy uitspraak gemaak het, blyk dit dat hy ook nie veel waarde aan Sleswa se uitwysing geheg het nie.
Die landdros het wel baie gewig geheg aan die bekentenis wat die appellant gemaak het. Met die oog op die omstandighede waaronder die bekentenis gemaak is, is dit nodig om die getuienis in hierdie verband nader te ontleed.
Die appellant is op 1 Februarie 1988 by sy werkplek in Johannesburg deur speurder-konstabel Dlamini van die Oos-Randse moord- en roofeenheid gearresteer en na luitenant Vlok in Benoni geneem. Luitenant Vlok was die ondersoekbeampte in die saak. Hy was ook aan die Oos-Randse moord- en roofeenheid verbonde. Volgens sy getuienis was Dlamini sy assistent en op hoogte van al sy sake. Dlamini het as tolk opgetree toe die appellant daarna 'n bekentenis aan luitenant . Vlok gemaak het. Hierdie bekentenis is gedurende kantoorure op 'n gewone werksdag gemaak, maar die staat het dit nie

11

nodig geag om te verduidelik waarom die appellant nie na h
landdros, of na 'n polisie-offisier van 'n ander eenheid wat
nie by die ondersoek van die saak betrokke was nie, geneem
was om sy bekentenis af te lê nie.

Dit is wel so dat art 217 (1)(a) van wet 51 van

1977 aan luitenant Vlok, as polisie-offisier en vrederegter,
die bevoegdheid verleen om 'n bekentenis met betrekking tot
die pleging van 'n misdryf af te neem. Hierdie hof het in die

saak van S v Mbatha en Andere 1987 (2) SA 272 (A) met hierdie
aangeleentheid gehandel en soos volg op 279 F-G beslis:

"Die Wetgewer ontsê nie 'n offisier wat aan 'n
ondersoekeenheid verbonde is die bevoegdheid om
bekentenisse af te neem nie. Regtens is hy bevoeg
om dit te doen en die Howe kan hom nie dit ontneem
nie. Die Howe het geen bevoegdheid om
toelaatbaarheidsvereistes vir bekentenisse deur offisiere as vrederegters afgeneem te stel wat nie deur art 217(1)(a) voorgeskryf is nie".

Dit is verder in Mbatha se saak beslis dat dit nie per se onreëlmatig is indien die polisie-offisier wat die bekentenis

12

afneem, of die tolk wat hy gebruik, verbonde is aan die
ondersoekeenheid wat die betrokke saak ondersoek nie.
Opmerkings in S v Mbele 1981 (2) SA 738 (A) op 743 C-G wat
besware teen sodanige optrede as "onreëlmatighede" bestempel
het, gaan te ver volgens die beslissing op 279 F in Mbatha
se saak.
(Vgl ook S v Khoza en Andere 1984 (1) SA 57 (A) op 59 E - 60 A).
Dit volg dus uit die voorgaande dat dit nie gesê kan word dat die afneem van die appellant se bekentenis in die onderhawige saak deur luitenant Vlok enigsins ontoelaatbaar of per se onreëlmatig was bloot omdat Vlok ook die ondersoekbeampte in die saak was, of omdat die tolk Dlamini aan dieselfde eenheid verbonde was nie. Die beslissing in Mbatha se saak, supra, beteken egter nie dat die besware en kritiek wat reeds by herhaling vroeër deur die howe in hierdie verband uitgespreek is, nou nie meer geld nie. (Vgl S v Mofokenq and Another 1968 (4) SA 852 (W) op

13

858 B e.v.; S v Dhlamini and Another 1971(1) SA 807(A) op 815 A-C; S v Mdluli and Others 1972 (2) SA 839 (A) op 840
H - 841 D; S v Mazibuko and Others 1978 (4) SA 563 (A) op 568 B - 569 A).

Dit bly nog steeds 'n ongewenste praktyk vir 'n

polisie-offisier om 'n bekentenis af te neem indien hy self die ondersoekbeampte in die saak is, of indien hy met die ondersoek van die saak gemoeid is, of selfs indien hy aan dieselfde eenheid as die ondersoekbeampte verbonde is. Dit is eweneens onwenslik dat daar by die afneem van 'n bekentenis gebruik gemaak word van 'n tolk wat self 'n lid van die ondersoekspan is.
Indien 'n polisie-offisier wat met 'n saak gemoeid is self 'n bekentenis van 'n verdagte persoon afneem, skep hy onnodiglik ruimte vir aantygings deur die verdagte dat die bekentenis nie vrywillig en ongedwonge gedoen is nie. Indien daar 'n landdros of ander polisie-offisier beskikbaar is om die bekentenis af te neem, stel die polisie-offisier wat

14

nogtans self die bekentenis afneem, homself verder onnodiglik bloot aan die beskuldiging dat hy die bekentenis self afgeneem het om sodoende die bewerings van aanranding, dreigemente of ander onreëlmatighede deur homself of lede van sy personeel te probeer verdoesel. As polisie-offisiere hulle egter daarvan sal weerhou om bekentenisse af te neem in sake waarmee hulle persoonlik gemoeid is, behoort dit nie alleen ongegronde beskuldigings van onbehoorlike optrede deur lede van die polisie te laat afneem nie, maar sal dit aan die ander kant ook groter gemoedsrus en beskerming aan verdagte persone verleen. Indien polisie-offisiere hierdie ongewenste praktyk staak, mag dit selfs meebring dat die noodsaak om lang uitgerekte verhore binne verhore te hou langs hierdie weg verminder kan word.
Die volgende benadering van JANSEN AR, soos
uiteengesit in Dhlamini se saak, supra, op 815 A-B, blyk met
eerbied nog steeds 'n gesonde een te wees:

15

"it is not a question of impugning in any way the integrity of responsible police officers in carrying out their duties as justices of the peace; it is the fact that this procedure constitutes fertile earth, for an accused, in which to plant the seed of suspicion, which there readily sprouts and burgeons to the stature of a reasonable doubt whether he, when making the confession to the police officer (as justice of the peace), was not still being actuated by an improper inducement that might have gone before."

In die onderhawige saak het die appellant juis daardie saad van suspisie gesaai waarvan daar in die bogenoemde aanhaling uit Dhlamini se saak melding gemaak word. Die appellant het in die loop van 'n verhoor binne.h verhoor getuig dat hy direk na sy arrestasie in Johannesburg, en op pad na Benoni, deur die polisie in die motor aangerand, gedreig en onbehoorlik beïnvloed is. Volgens die appellant het speurder-konstabel Dlamini in die motor vir hom voorgesê wat daar in Delmas sou gebeur het. Dlamini het hom gemaan om saam te werk aangesien Cornelius (die appellant se mede-

16

beskuldigde) reeds alles vir hulle vertel het wat daar sou plaasgevind het. Dit kan terloops genoem word dat Cornelius geen bekentenis gemaak het nie. Die appellant het getuig dat hy by sy aankoms in Benoni na luitenant Vlok geneem is. Dieselfde Dlamini wat hom gearresteer het en hom na Benoni toe gebring het, het as tolk opgetree. Toe die appellant vir Vlok sê dat hy niks van die Delmas-geval weet nie, het Vlok hom na bewering met 'n vuurwapen gedreig en hom forseer om 'n
verklaring wat reeds uitgeskryf was, te teken.

Die polisiegetuies het die appellant se bewerings van aanranding, dreigemente en onbehoorlike beïnvloeding ontken. Die landdros het aan die einde van die verhoor binne 'n
verhoor beslis dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat die appellant se bekentenis vrywillig en sonder dwang afgelê is en dat dit as getuienis toelaatbaar is. Die landdros het nie op daardie stadium met die geloofwaardigheid van die appellant en die polisiegetuies gehandel nie, maar wel in sy uitspraak aan die einde van die saak.

17

Die appellant se bekentenis is kort en saaklik. Al die inligting daarin vervat, met die uitsondering van die wyse waarop die buit na bewering verdeel is, was reeds aan die polisie bekend. Dit is dus nie onmoontlik dat die appellant se verklaring reeds vooraf uitgeskryf kon gewees het nie. Op die staat se weergawe is dit ook glad nie duidelik waarom die appellant by sy aankoms in Benoni sonder meer bereid was om 'n bekentenis af te lê nie.
Deur te beslis dat die bekentenis toelaatbaar is, het die landdros klaarblyklik die appellant se weergawe met betrekking tot die aflegging van die bekentenis, en die gebeure wat dit voorafgegaan het, verwerp. In sy uitspraak aan die einde van die saak het die landdros inderdaad bevind dat die appellant 'n ongeloofwaardige getuie is. Dit blyk egter dat hierdie geloofwaardigheidsbevinding grootliks op 'n wanvoorligting aan die kant van die landdros berus. Die landdros, en trouens ook die hof a quo, het onder die foutiewe indruk verkeer dat die appellant se werkgewer, mnr

18

Delport, getuig het dat die appellant siekverlof gevra het vir Vrydag 27 November 1987, die dag van die roof in Delmas. Delport het egter nooit van siekverlof gepraat nie. Hy het getuig dat die appellant destyds by sy firma in Johannesburg werksaam was, maar dat hy nie op die betrokke dag gewerk het nie. Delport was gevra waarom die appellant nie by die werk was nie, en hy het soos volg geantwoord: "Hy het 'n dag verlof ingesit." Dit blyk uit Delport se verdere getuienis dat die appellant vooraf gereël het dat hy daardie dag verlof sou neem. Siekverlof was dus nooit ter sprake nie. Die landdros het die appellant egter aan die einde van sy getuienis gekonfronteer met die stelling dat Delport getuig het dat die appellant daardie dag met siekverlof was en dat dit nie die waarheid was nie. Die appellant het toegegee dat hy nie siek was nie, maar hy het ontken dat hy siekverlof geneem het. Die landdros het daarna in sy uitspraak bevind dat dit die onbetwiste getuienis van Delport was dat die appellant

19

daardie dag met siekverlof was, maar dat die appellant nie siek was nie, en dat dit dus vasstaan dat die appellant 'n
valse verklaring in hierdie verband gemaak het. Dit blyk verder uit die landdros se uitspraak dat hy sterk op hierdie vermeende onwaarheid gesteun het vir sy bevinding dat die appellant se weergawe verwerp moet word.
Die landdros se bevinding dat die appellant 'n ongeloofwaardige getuie was, steun in 'n groot mate op hierdie wanvoorligting en moet gevolglik buite rekening gelaat word. Daar moet dus opnuut beslis word of die appellant se weergawe nie redelik moontlik waar kan wees nie. Die appellant se getuienis met betrekking tot die maak van die bekentenis was weliswaar nie in alle opsigte bevredigend nie, en dit is goed moontlik dat sy weergawe omtrent die polisie se beweerde dreigemente en aanrandings aangedik is. Dit wil egter nie sê dat sy weergawe so vergesog is dat dit verwerp moet word nie. In die lig van die appellant se bewering dat hy deur lede van die ondersoekspan aangerand en gedreig is, sou dit

20

meer gerusstellend gewees het as hy sy bekentenis voor 'n landdros of polisie-offisier van 'n ander eenheid gemaak het. Die appellant se bekentenis is egter deur die ondersoek-beampte, luitenant Vlok, afgeneem terwyl sy assistent, konstabel Dlamini, as tolk opgetree het. Op die appellant se weergawe het beide Vlok en Dlamini hom gedreig en dwang op hom toegepas om die bekentenis te maak. Die vraag ontstaan onwillekeurig of die bekentenis onder die omstandighede werklik vrywillig en sonder dwang gemaak is. Na my mening het die staat nie bo redelike twyfel bewys dat dit die geval was nie. Die bekentenis moes gevolglik nooit toegelaat gewees het nie. Sonder die bekentenis is daar nie voldoende getuienis vir 'n skuldigbevinding nie.
Die appèl slaag gevolglik en die appellant se skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.

BOTHA AR F 'n GROSSKOPF AR.

MILNE AR Stem saam