South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 71

| Noteup | LawCite

S v Mkhize (525/89) [1990] ZASCA 71 (1 June 1990)

Download original files

PDF format

RTF format


CG SAAKNOMMER: 525/89

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak van:
DAVID THULANI MKHIZE Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: BOTHA AR, SMUTS et NIENABER WARR

AANGEHOOR: 18 MEI 1990 GELEWER: 1 JUNIE 1990

UITSPRAAK NIENABER WAR

2

Die appellant, as beskuldigde 2, en sy mede-beskuldigde, beskuldigde 1, is in die rondgaande hof te Evander deur 'n regter en twee assessore aan, onder meer, moord skuldig bevind. Die appellant het konsekwent ontken dat hy beskuldigde 1 ooit behulpsaam was om die oorledene, konstabel Phineas Mtshali, te vermoor. Volgens sy getuienis was hy op 13 Oktober 1987 êrens anders, presies waar was hy eintlik nie meer nie, toe die oorledene se kop met 'n 33 kg betonblok verbrysel is. Hierdie getuienis het afgewyk van 'n verklaring wat die appellant vroeër aan 'n landdros gemaak het (bewysstuk K), waarvolgens hy wel teenwoordig was toe beskuldigde 1 die oorledene eers geskiet en sy kop toe met 'n klip vermorsel het. Beskuldigde 1 self, in sy getuienis, plaas die appellant ook die toneel. Volgens hom was die appellant trouens die belhamel en het hyself slegs gehelp om die oorledene dood te maak. Aldus beskuldig elk die ander. Die hof a quo glo geeneen van die twee nie. Albei word

3

skuldig bevind en, na 'n bevinding dat daar geen versagtende omstandighede was nie, ter dood veroordeel. Verlof om te appelleer is deur die verhoorhof aan beskuldigde 1 geweier maar op twee gronde aan die appellant toegestaan naamlik:

(i) of die appellant se verklaring, bewysstuk K, wat nie 'n bekentenis aan moord behels het nie maar wel 'n erkenning wat hom op die toneel van die misdaad plaas, behoorlik toegelaat is; (ii) of daar, selfs met inagneming van die inhoud van dié verklaring, voldoende betroubare getuienis was om die afleiding te regverdig dat die appellant met die nodige opset aan die moord aandadig was. Tydens betoog is hierdie vrae verder verfyn: (1) of bewysstuk K wat op 2 November 1987 deur

4

die appellant voor 'n landdros afgelê is, behoorlik kragtens artikel 219A van die Strafproseswet, 1977, toegelaat is; en, indien die antwoord ontkennend is,

(2) of 'n aantal uitlatings wat die appellant

op 3 November 1987, tydens 'n uitwysing op
die moordtoneel, aan polisie-beamptes
gemaak het (en wat hom gedurende die moord op die toneel plaas) ook kragtens gemelde artikel geïgnoreer moet word; en, indien die antwoord op (2) bevestigend is,
(3) of die uitwysing self, met uitsluiting van
sodanige uitlatings, die appellant op die
moordtoneel plaas; en, ten slotte, in die
lig van die antwoorde op (1), (2) en (3),
(4) of die af leiding onvermydelik is dat die
appellant 'n mede-dader dan wel, op sy
ergste, nie maar net 'n begunstiger by die

5

moord op die oorledene was nie.

Om hierdie vrae in perspektief te plaas, eers

die feite:

Die oorledene was 'n konstabel in die Suid-

Afrikaanse Polisie. Op 13 Oktobêr 1987 was hy sedert
ongeveer 14h00 man-alleen by die Kinross polisiestasie
aan diens. Die aanklagkantoor aldaar is 'n tydelike gebou
wat gewoonweg slegs deur een persoon beman word. Toe die
oorledene die aand omtreeks 22h00 afgelos moes word, was
hy afwesig. Die ligte was afgeskakel. Die hek was oop.
In die aanklagkantoor was die skryftafel se een poot
stukkend. Teen die toonbank en op die sementvloer was
daar bloedspatsels asook 'n bloedsmeer by die ligskakelaar
by die deur. Twee 6.35 mm pistool-patroonpunte is
gevind. (Hierdie koeëlpunte is nie met enige vuurwapen
verbind nie). Op die vloer was swart rubber sleep- of

skuurmerke, skynbaar afkomstig van skoensole, wat op h
worsteling gedui het.

6

'n Soektog is na die oorledene op tou gesit. Ongeveer 01h45 die volgende oggend is sy lyk ontdek, 114,3 m van die aanklagkantoor. Sy kop was vergruis. Sy dienspistool met skede was weg maar sy beursie met geld was nog in sy agtersak. Ook was 'n haelgeweer wat in die hoek van die kantoor gestaan het, nog daar. Die oënskynlike motief was dus nie roof nie. Ongeveer 50 m van die aanklagkantoor is sy trui aangetref en nog 30 m verder sy das. Die trui was omgedop en die dasknoop uitgerek en styf getrek. By die plek waar die oorledene se lyk gevind is, was daar 'n betonblok met 'n ysterpen daarin met tekens van bloed en harsings daarop. Die betonblok het 33 kg geweeg.
Blykens die verslag oor die na-doodse ondersoek en die getuienis van die distriksgeneesheer, dr Geyser, wat die na-doodse ondersoek behartig het, is die oorledene as gevolg van 'n vergruising van sy skedel dood. Origens was daar 'n steekwond by die regteroor, 'n ronde

gaatjie by die linkeroor (wat 'n steek- of skietwond was),
'n gaatjie bokant die oorledene se regteroog (vermoedelik ook 'n skietwond), 'n laserasie van ongeveer 5 sentimeter by die linkeroor ('n steekwond) en verskeie kneusplekke, skaafmerke en oppervlakkige laserasies. Omdat die skedel vergruis was, kon nie bepaal word of daar uitgangswonde was nie.
'n Week later, op 20 Oktober 1987, word die appellant en beskuldigde 1 gearresteer. Hulle was passasiers in die kombi van ene Jamson Vilakazi, na wie die appellant as sy broer verwys het, Volgens beskuldigde 1 was hy en die appellant sedert die moord deurentyd in mekaar se geselskap. Dit word deur die appellant ontken. Hy beweer dat dit bloot toevallig was dat beskuldigde 1 deur sy broer opgelaai is.
Die polisie het agterdogtig geraak toe die kombi 'n ent voor 'n padblokkade skielik stilgehou het. Volgens Jamson Vilakazi was hulle op pad Springs toe om

8

appellant by die stasie af te laai. Dit was ook beskuldigde 1 se bestemming. Dis toe dat die appellant skielik van plan verander, aldus Jamson, en hom opdrag gee om in die teenoorgestelde rigting na Daveyton te ry. Terwyl hy talm, daag die polisie op. Ofskoon die verhoorhof geen bevinding hieroor maak nie, lyk dit waarskynlik dat die appellant van koers wou verander om die polisie te vermy.
Hoe dit ook al sy, die appellant, sy broer en beskuldigde 1 is gearresteer. By beskuldigde 1 is 'n .38 Special Astra pistool (bewysstuk 5) gevind. Op die grond by die sydeur van die kombi het die polisie 'n 9 mm Walther pistool (bewysstuk 6) opgetel, wat later geblyk het die oorledene se dienspistool te wees. Een van die passasiers in die kombi was 'n jong skooldogter, Lina Nhlapho. Volgens haar was die Walther pistool kort vantevore in die appellant se besit. Toe hulle die polisie gewaar, het die appellant, volgens haar, vir

9
beskuldigde 1 gesê: "Ek los die vuurwapen." Daarop het beskuldigde 1 geantwoord dat hy sy vuurwapen by hom gaan hou. Haar getuienis is deur die appellant betwis maar deur die hof op goeie gronde aanvaar. Die hof verwerp ook die appellant se verduideliking dat die Walter pistool laat val is toe beskuldigde 1 se dra-sak langs die kombi deursoek is: die getuienis was dat die sak voor en nie langs die kombi nie, gevisenteer is.
Die appellant en beskuldigde 1 is aanvanklik te Springs aangehou. Op 21 Oktober 1987 word hulle na Evander vervoer. Volgens die appellant het hy, geboei aan beskuldigde 1, in 'n voertuig gereis wat deur sersant Mnisi bestuur is. Op pad soontoe, so getuig die appellant, het beskuldigde 1 daarop aangedring om aan Mnisi te wys wat op die toneel by die Kinross polisiestasie gebeur het. Op dié manier het hy gesien watter plekke deur beskuldigde 1 uitgewys word. Diê stukkie getuienis is origens deur al die ander getuies

10
ontken: deur beskuldigde 1, deur sy broer, Jamson Vilakazi, deur Mnisi en deur luitenant Kilian, die ondersoekbeampte, wat almal getuig het dat drie voertuie in konvooi van Springs na Evander onderweg was: een waarin die beskuldigdes saam met Mnisi was, een waarin Kilian met ander aangehoudenes was en die kombi van die appellant se broer.
By die Evander-speurtak is beskuldigde 1 deur luitenant Kilian ondervra. Kort daarna, om 19h14 op 21 Oktober 1987, lê beskuldigde 1 'n bekentenis voor landdros van Niekerk af (bewysstuk E), die toelaatbaarheid waarvan nie betwis is nie, en waarin hy onder meer vertel dat die appellant hom opdrag gegee het om die oorledene se mes af te neem en hom daarmee te steek, wat hy gedoen het, waarna die oorledene uit die aanklagkantoor na buite gevlug het. Toe die oorledene

'n ent verder val, het die appellant die betonblok geneem "en hy het die polisieman op die kop gegooi". Die
11
appellant het beskuldigde 1 daarop versoek om hom te help
en hulle het die oorledene toe "met die klip gegooi".

(Die bekentenis, as sodanig, het natuurlik nie teen die
appellant getel nie.)

Volgens luitenant Kilian het by die appellant

dié aand glad nie ondervra nie, selfs nie nadat hy
verneem het dat beskuldigde 1 die appellant direk by die
moord betrek het nie. Hy verduidelik, onder
kruisverhoor, soos volg:

"Beskuldigde 2 is glad nie daardie aahd ondervra nie. Beskuldigde 2 was saam met Jamson en die twee swartvrouens in 'n kantoor apart gewees. Nadat beskuldigde 1 sy konfessie of sy verduideliking op skrif gestel het, is hy onmiddellik aangehou en omrede ons onseker was wie eintlik op daardie stadium betrokke was, het ons die bestuurder ondervra en die twee swartvrouens. Nadat ons hulle ondervra het en gesê het dat hulle die volgende oggend moet rapporteer by die polisiestasie, het ek opdrag gegee dat ons beskuldigde 2 nie sal ondervra daardie aand nie, omrede dit al klaar redelik laat was, anders moet ons nou weer 'n landdros kry en weer die landdroskantoor oopsluit en weer 'n ander tolk moet gaan haal in Langverwacht. Ons het toe besluit dat ons hom

12

die volgende oggend sal ondervra."

Volgens die appellant was dit daarenteen juis gedurende hierdie tydperk dat hy vir die eerste maal deur Kilian en twee swart lede van die ondersoekspan, Mnisi en Ndhlovu, afgeransel en gemartel is omdat hy nie bereid was om 'n dergelike verklaring af te lê nie. Aldrie van hulle, so getuig hy, het hom op die linkeroor geklap wat veroorsaak het dat sy oor gebloei het.
Dié bewerings is deur die betrokke polisiebeamptes ontken. Volgens Kilian het hulle die appellant eers die volgende oggend, die 22ste Oktober 1987, om 08h30 gespreek toe hy oop kaarte met hulle gespeel en verduidelik het dat hy nie besef het dat beskuldigde 1 die oorledene wou vermoor nie. Kilian het hom gevra of hy bereid sou wees om dié verklaring voor 'n landdros te herhaal en toe hy instem, is hy net na 10 die oggend vir dié doel na landdros van Niekerk geneem.

Volgens die appellant is hy dié oggend weereens

13
ernstig aangerand. Hy is geslaan, geskop, met 'n
elektriese toestel geskok en met 'n binneband wat oor sy gesig getrek is, versmoor. Beskuldigde 1 se verklaring is aan hom voorgelees. Die polisie het aan hom opdrag gegee om beskuldigde 1 te inkrimineer.
Hieroor was daar, soos te verwagte is, 'n groot dispuut. Wat wel vasstaan, is dat appellant geweier het om 'n verklaring aan landdros van Niekerk te maak. Dit blyk uit Van Niekerk se getuienis asook bewysstuk L.
Ongeveer dieselfde tyd wys beskuldigde 1 sekere punte op die toneel van die moord uit wat gefotografeer word (bewysstuk D).
Die appellant se weiering om die verlangde verklaring te teken, het volgens hom tot hernude aanrandings gelei. Hy is eers geklap, deur aldrie die gemelde polisiebeamptes, en die aand is hy na 'n plek in die veld geneem waar iets oor sy kop getrek is om hom te, verblind, waarna hy aangemoedig is om weg te hardloop

14

sodat hulle hom kon skiet. Hy het volstrek geweier en is toe na Secunda geneem waar hy die nag opgesluit is.
Kilian ontken die insident in die veld. Wat volgens hom wel gebeur het, is dat die appellant die polisie na beskuldigde 1 se verblyfplek naby die Kinross-inryteater geneem het waar beskuldigde 1, volgens die appellant, die skede van die oorledene se vuurwapen sou gebêre het. Die skede is egter nooit gevind nie. Volgens Kilian het hy die appellant gedurende hierdie gehele ekspedisie nooit uitgevra waarom hy, nadat hy vroeër daartoe ingestem het om 'n verklaring aan die landdros te maak, geweier het om dit te doen nie.
Die aanrandings en dreigemente is volgens die appellant die volgende dag, 23 Oktober 1987, hervat maar die dag daarop, 24 Oktober, was hy siek en daarom is hy nie "hard aangerand" nie maar net geskok.
Dit was op dié dag, die 24ste, so verklaar die appellant, dat hy en beskuldigde 1 saam in 'n kantoor

15

gelos is. Luitenant Kilian het later verduidelik dat dit 'n doelbewuste set van die polisie was: 'n bandopname-masjien is versteek met die gedagte dat die twee beskuldigdes die saak sou bespreek en dalk die motief vir die moord sou verklap. Die set het misluk: vir die een of ander rede is die gesprek nie opgeneem nie.
Ook op die 24ste is die appellant na sy eie woonplek geneem, op soek na die skede, waartydens daar op
'n reënjas (wat aan konstabel Baloyi behoort het) beslag gelê is.
Op 26 Oktober 1987 verskyn die appellant vir die eerste keer in die hof te Evander. Direk daarna is hy na die distriksgeneesheer, te Evander geneem. Blykens bewysstuk J, en die getuienis van die distriksgeneesheer, is 'n perforasie van die linker oordrom met sepsis gediagnoseer en is sekere medikasie vir hom voorgeskryf.
Op pad terug van die geneesheer, so beweer die appellant, is hy na die moordtoneel te Kinross geneem

16

waar hy op 'n afstand gesien het hoe beskuldigde 1 sekere uitwysings maak. Vir die stukkie getuienis is daar hoegenaamd geen stawing nie - al die ander getuies, ook beskuldigde 1, ontken dit ten ene male. Hierop kom ek aanstons terug.
Vandaar is hy na Bethal geneem waar hy in die polisieselle aangehou word. Gedurende sy verblyf te Bethal is beskuldigde 1 se verklaring daagliks aan hom gegee om te lees. So getuig hy. Voorts is hy ook met 'n apparaat elektriese skokke toegedien en net een keer per dag, omstreeks 10 nm die aand, van kos en water voorsien.
Die 2de November 1987 was die dag waarop die appellant einde ten laaste tog 'n verklaring maak - toe hy, in sy advokaat se woorde, "geknak het". Eers is hy na Secunda geneem, na lede van die veiligheidstak aldaar, waar hy ondervra is. Die rede vir hierdie ondervraging is deur luitenant Kilian verstrek: hy was nog steeds op soek na 'n motief vir die moord. Om te bepaal of die
17
moord nie dalk 'n politieke kleur gehad het nie, het hy
gereël dat die veiligheidstak die appellant ondervra.
Dit het egter niks opgelewer nie. Die appellant het voet
by stuk gehou en dieselfde verontskuldigende verklaring
verstrek as vantevore. Dis toe dat Kilian hom vra of hy
nou bereid sou wees om die verklaring teenoor 'n landdros

te herhaal. Hy was, en op dié wyse is hy na landdros
Pretorius geneem. Dit erken die appellant, maar volgens
hom is hy vooraf eers goed bearbei. Sy getuienis in hoof
lui soos volg:

"Toe ek daar kom, daar in Secunda, het ons mnr. Kilian daar gekry. Hy het vir my gesê daar waar hulle my geplaas het sal niemand hoor of kom wanneer ek skreeu nie. Hy het gevra of ek
'n verklaring kan gaan maak. Ek het gesê ek het gesien hoe Sipho sy verklaring afgelê het. Mnr. Kilian het my nie vertrou nie dat ek die verklaring sal maak nie. Hy het gesê my hande moet agter my rug met 'n nat stuk lap vasgemaak word en toe het hy my weer met die - toe het hy weer my pinkie sowel as my toon met die skokdraad vasgemaak. Ek was toe geskok. Hulle het gesê ek moet alles laat skryf wat hulle vir my gesê het. Ek het gesê, ja, ek sal dit laat skryf. Hulle het gesê as ek by die landdros

18
kom moet ek nooit sê dat hulle vir my aangesê
het om 'n verklaring te gaan maak nie. Hulle
het my toe die reëls van die verklaring gelees,
dit is vir die verklaring wat ek nie gemaak het

nie.

Ja? -- Hulle het gesê wanneer die landdros vir

my so lees, dan moet ek net ja sê.

Met ander woorde as hy vir u vrae vra of dat u
weet dat u in die teenwoordigheid van 'n

landdros is? -- Dan moet ek ja sê.

En dat u nie verplig is om 'n verklaring te maak
nie en dat u dit vrywillig doen? -- Ja, hulle

het daardie reëls aan my voorgelees.

HOF: Moes jy op almal ja sê? -- Ja."

Volgens hom was hy steeds geboei toe hy in die landdros
se kantoor ingeneem is - iets wat die landdros self, soos
ook die polisiebeampte wat hom vergesel het, ten sterkste
ontken het.

Sy verklaring is om 16h10 voor landdros

Pretorius te Evander afgelê. Dit is Bewysstuk K. Nadat
die appellant in die inleidende gedeelte bevestig het dat

hy geensins aangerand is nie, lui die verklaring soos
volg:

"Dit was op 'n Dinsdag in Oktober vanjaar, ek kan nie die datum onthou nie dit was in die
19

aand, het ek en my vriend konstabel Mtshali by Kinross polisiestasie gesit. Dit het baie gereën en toe die reën opgehou het, het Sipho, hy het baie vanne en ek ken net sy naam, ingekom. Toe hy inkom, het hy my gevra om buite te gaan staan omdat hy met konstabel Mtshali wou praat. Ek het uitgegaan en buite die deur gestaan. Ek het gehoor Sipho vra vir konstabel Mtshali uit oor 'n meisie met die naam van Zodwa. Kort daarna het ek 'n skoot van 'n
vuurwapen gehoor. Ek het toe vermoed iets verkeerd het gebeur en ek het in die polisiestasie ingestap en by die deur het ek teen konstabel Mtshali gestamp wat op pad na buite was. Ek het toe vir Sipho met 'n
vuurwapen in sy hand gesien en ek het ook soos Mtshali probeer weghardloop. Sipho het 'n skoot op die grond gevuur en gesê ek moet stop. Ek het gestop. Op daardie stadium het die omheining vir Mtshali gekeer en Sipho het hom 'n 2de skoot in sy kop geskiet. Ek het geskree en vir Sipho geskree om nie vir konstabel Mtshali dood te maak nie. Konstabel Mtshali het weer in die voor langs die heining gehardloop. Hy het 'n kort afstand gehardloop en toe hy by Sasol Klub hom het hy geval. Sipho het hom gevolg en toe hy by hom kom, het hy my geroep om hom te help om konstabel Mtshali te dra. Ons het hom gedra en langs die Sasol Klub op die grond neergesit. Hy het toe na konstabel Mtshali se lyk gekyk om te sien waar hy hom geskiet het. Konstabel Mtshali was toe reeds dood. Hy het gesien hy het hom in sy kop geskiet met albei koeëls. Hy het hom met 'n

klip op die kop geslaan sodat die skietwonde

20

nie moet wys nie. Hy het toe vir my gesê om niemand van die voorval te vertel nie en as ek sou, sal dieselfde met my gebeur. Dit is al."

Die volgende dag, 3 November 1987, is hy na die

moordtoneel by Kinross geneem waar hy gefotografeer is
terwyl hy op sekere plekke staan (Bewysstuk G).
Laastens het hy op 4 November 1987 om borg aansoek gedoen waartydens hy sy klagtes van aanranding pertinent geopper het. (Bewysstuk A.)
Dit bring my dan terug by die vrae wat vroeër geformuleer is en wat ek nou om die beurt behandel. 1. Die toelaatbaarheid van bewysstuk K:
Na 'n verhoor-binne-h-verhoor is die verklaring, Bewysstuk K, ooreenkomstig artikel 219 A van die Strafproseswet 1977 deur die verhoorhof as 'n
erkenning wat ongedwonge gemaak is, toegelaat, vir redes wat die verhoorhof later in sy uitspraak meer volledig behandel het. Die verhoorhof was daarop bedag dat dit vir polisie-getuies makliker is om aantygings van

21

aanranding te ontken as wat dit vir die appellant sou wees om dit te staaf; dat die polisie 'n besondere motief gehad het om 'n moordenaar van 'n makker ten alle koste aan die man te bring; dat die appellant op 22 Oktober 1987, toe hy voor landdros van Niekerk gebring is, ongeneë was om 'n verklaring te maak; dat hy op 26 Oktober na die distriksgeneesheer geneem is wat 'n geperforeerde oordrom met sepsis gediagnoseer het, 'n toestand wat met sowel 'n klap op die oor as middeloor-ontsteking versoenbaar was; en dat hy die gewraakte verklaring eers op 2 November 1987, sowat twee weke na sy arres, gemaak het. Al dié faktore word ten gunste van die appellant deur die verhoorhof in ag geneem. Desondanks bevind die hof dat die appellant nie die bewyslas gekwyt het wat daar kragtens die tersaaklike bepaling op hom gerus het, om op 'n oorwig van waarskynlikhede te bewys dat die verklaring nie "ongedwonge" was nie. Die hof a quo glo die appellant eenvoudig nie dat hy deurlopend aangerand en

22

aangesê is om die bewuste verklaring te maak nie.
Inderdaad is dit so dat die appellant se aantygings van aanranding bra vaag en ooglopend oordrewe was. Volgens hom is hy gedurende die periode van sy aanhouding vanaf 21 Oktober tot 2 November herhaaldelik met 'n toestel elektriese skokke toegedien; is hy geslaan en geklap (wat die perforasie van sy oordrom veroorsaak het); is sy neusholtes met 'n buiteband toegedruk; is hy kos en water ontsê; en is hy by een geleentheid na 'n
afgeleë plek geneem, so getuig hy, waar iets oor sy gesig getrek is en hy aangesê is om weg te hardloop sodat die polisie 'n rede kon hê om hom te skiet.
Ten spyte van al hierdie aanrandings kla die appellant nie teenoor landdros van Niekerk, vir wie hy terloops goed geken het, en meld hy ook nie die aanrandings teenoor die distriksgeneesheer wat hom ondersoek het nie. Weliswaar het hy getuig dat hy die aanrandings aan landdros van Niekerk, dr Geyser sowel as

23

landdros Pretorius genoem het, maar daarvan blyk niks uit òf die verslae wat hulle opgestel het, óf hul getuienis nie. Die hof aanvaar, myns insiens heel tereg, die getuienis van landdroste van Niekerk en Pretorius, asook dr Geyser, dat die appellant nooit enige klagtes van aanrandings teenoor hulle geopper het nie, en hul gevolglike ontkennings dat hulle doelbewus nagelaat het om sodanige klagtes aan te stip.
Volgens die appellant was die verklaring, bewysstuk K, wat hy aan landdros Pretorius gemaak het, 'n versinsel wat hy voorgesê is om in daardie vorm op te dis ten einde beskuldigde 1 te inkrimineer. Hierdie verduideliking van die appellant gaan net nie op nie.
Beskuldigde 1 het homself op daardie stadium reeds met sy eie verklaring teenoor die polisie geïnkrimineer. Die appellant se getuienis kon dus hoogstens net ter bevestiging van daardie inkriminasie dien. As die polisie die appellant werklik so afgetakel en

24
geïntimideer het dat hy bereid sou wees om enigiets te herhaal wat hulle aan hom voorsê, sou mens verwag het dat sy verklaring op sy minste darem beter by dié van beskuldigde 1 sou ingepas het (byvoorbeeld oor die skote wat met die vuurwapen afgevuur is), en dat hy homself in die proses ook sou inkrimineer, in elk geval tot 'n groter mate as bloot net dat hy die oorledene se liggaam na die aanranding help dra het.
Ook die appellant se getuienis oor sekere uitwysings wat hy gemaak het, word deur die verhoorhof verwerp, na my mening tereg. Daardie uitwysing is natuurlik nie met sy alibi te versoen nie. Om dié probleem te bowe te kom, het die appellant getuig dat hy sy kennis van die moordtoneel in die eerste plaas opgedoen het toe hy op 21 Oktober 1987 gesien het hoe beskuldigde 1, op pad terug van Springs, uit sy eie sekere plekke aan Mnisi uitwys - getuienis wat deur niks en niemand gestaaf word en wat boonop met die

25

waarskynlikhede bots: op daardie stadium was beskuldigde

1 immers nog nie eens ondervra nie. Later, op 26 Oktober

1987, op pad terug van sy besoek aan die
distriksgeneesheer, so sê hy, is hy deur speurder-sersant
Ntlane na die toneel geneem waar hy op 'n afstand gesien
het hoe beskuldigde 1 weer sekere uitwysings maak. Sy
getuienis oor hierdie insident was ewe onindrukwekkend.
Onder kruisverhoor deur beskuldigde 1 se advokaat sê hy
eers:

"Die dag toe hulle sy foto's geneem het, dit was op die 23ste, daar waar ek gestaan en kyk het, het ek gesien hoe hy saam met hulle loop en uitwysings doen, want mnr. Ntlane het vir my gesê ek moet aandagtig daarna kyk, daar waar Sipho, beskuldigde 1, uitwys."

Dié antwoord was 'n growwe fout want op sy eie getuienis
was hy nie op die 23ste op die toneel nie, maar op die

26ste; terwyl dit vasgestaan het dat die foto's van

beskuldigde reeds op die 22ste geneem is. Toe die hof

hom daarna vra, verander hy sy antwoord:

26

"HOF: Ekskuus tog, net seker maak, jy het gesê dat op 23 Oktober toe hulle beskuldigde 1 se foto's van uitwysing geneem het, toe het jy gestaan en kyk. -- Op die 23ste het hy foto's gaan neem. Hulle het sy foto's op die 23ste geneem.
Maar u anttoord nie my vraag nie. Jy het gesê so pas, en ek wil net seker hê dat gy dit gesê het, dat op 23 Oktober het hulle beskuldigde 1 se foto's geneem en jy het gekyk. -- Ek was nie by gewees toe hulle sy foto's geneem het nie, maar toe hy geloop en uitgewys het, het hy in die kantoor gegaan, hulle het nie sy foto's geneem nie, hy het net ingegaan en ek was 'n
entjie ver by die voertuig. Hy kon my nie sien nie.
Dit is nie wat ek vir jou vra nie. Het jy getuig of is dit jou getuienis dat toe hulle op 23 Oktober beskuldigde 1 se foto's geneem het, het jy gekyk? -- Toe hulle foto's geneem het, het ek nie gesien nie.
Nou op watse dag was jy dan daar gewees toe beskuldigde 1 die uitwysings gemaak het? -- Dit was op Maandag, die 26ste.
Nou hoekom het jy verwys na die 23ste? -- Mnr. Joseph Ntlane het aan my verduidelik dat Sipho op die 23ste uitwysings gedoen het en dat sy foto's geneem is. Toe ons van Kinross terugkom het hulle gesê hy sal uitwys en ek moet kyk waar Sipho uitwys.
Toe julle van Kinross af teruggekom het? -- Dit is toe ons van die dokter af gekom het, dit was op die 26ste."

Hierdie bewering is nooit aan speurder-sersant Ntlane

27

gestel nie, nóg vooraf, tydens die verhoor-binne-h-verhoor, nóg later, tydens die verhoor self. Al wat gestel is, was:

"Beskuldigde 2 sal verder sê dat u wel voorheen (d.w.s. voor 2 November 1987) by die toneel moes gewees het." Dit is ontken. Die hele insident is in elk geval hoogs

onwaarskynlik. Volgens sy eie weergawe het beskuldigde 1

reeds op 21 Oktober op pad na Evander in sy
teenwoordigheid 'n uitwysing gemaak. Daarna was daar die
geleentheid (op die 22ste) toe beskuldigde 1 die
uitwysing gemaak het wat gefotografeer is en waarby die
appellant, volgens sy laaste weergawe, nie teenwoordig
was nie. Waarom dit nou nodig sou wees om so 'n
uitvoerige toneelspelery van stapel te stuur, net sodat
die appellant kon sien hoe beskuldigde 1 opnuut sekere
plekke uitwys wat hy vantevore alreeds gade geslaan het,

is onbegryplik. Volgens die appellant was die doel met
hierdie hele ekspedisie, waarby nie net beskuldigde 1 nie
maar ook 'n hele groep polisiebeamptes betrokke was (almal

28

van wie geskool sou moes word om later in die hof meineed te pleeg), alleen maar om die hele proses van uitwysings te herhaal ten einde hom die geleentheid te gee om later self uitwysings te kan maak om beskuldigde 1 beter te inkrimineer en in die hof te kon "vastrek". Beskuldigde 1 was op dié stadium egter alreeds deur sy eie bekentenis en uitwysings geïnkrimineer en bowendien was die appellant volgens sy eie weergawe toe nog geensins bereid om self enige uitwysings of verklarings te maak nie. Op grond waarvan die polisie kon antisipeer dat hy later bereid sou wees om dit wel te doen, is ook nie verklaarbaar nie.
Ten spyte daarvan dat hy so goed deur die polisie voorberei is om sy eie uitwysing te maak, ontken die appellant dat hy dit hoegenaamd gedoen het: al wat gebeur het, so sê hy, is dat Ntlane by verskillende punte saam met hom gaan poseer het sodat 'n foto van die twee van hulle geneem kon word. Waarom die toeneelspelery

29

vooraf dan nodig was, as die doel van die oefening bloot was om 'n vals beeld van 'n kastige uitwysing te skep, is eweneens nie duidelik nie.
Die verhoorhof verwerp die appellant se getuienis in dié verband as vals en aanvaár die verduidelikings van Ntlane en luitenant Goosen dat hulle die appellant op 3 November 1987 vir die eerste keer ontmoet het toe hy die punte aan hulle uitgewys het wat gefotografeer is. Ek deel dié siening.

Volgens die verhoorhof is daar hoogstens

"waarheidselemente" in die appellant se getuienis, maar
oor die geheel het die appellant die verhoorhof nie
beïndruk nie. Ten slotte verklaar die verhoorhof dan:

"Maar om terug te kom na die kernprobleem van beskuldigde nr 2 se storie. Die polisie sê vir hom hy moet 'n verklaring maak en al wat hy daarin hoef te doen is om vir beskuldigde nr 1 te inkrimineer. Die probleem daarmee is dat beskuldigde nr 1 het homself klaar geïnkrimineer in 'n bekentenis. 'n Mens sou verwag het dat die polisie eerder 'n verklaring wou hê waarin beskuldigde nr 2 homself

30

inkrimineer.
Om op te som, en daar is nog addisionele redes maar ek wil dit nie alles behandel nie, ons aanvaar luitenant Kilian en sersant Mnisi se getuienis dat beskuldigde nr 2 die verklaring ongedwonge gemaak het."

Namens die appellant is betoog dat die verhoorhof Kilian en Mnisi se getuienis te onkrities benader het.
Ongetwyfeld is daar aspekte van hul getuienis wat onbevredigend is.
Om mee te begin is daar Kilian se reaksie die aand van die 21ste Oktober toe hy uitvind dat beskuldigde 1 die appellant geimpliseer het. Dit is, om die minste te sê, vreemd dat hy die appellant nie onmiddellik daarmee gekonfronteer het nie. Die geleentheid om dit te doen was daar en gevolglik is dit wat 'n mens van 'n ervare ondersoekbeampte sou verwag het. In plaas daarvan ondervra Kilian en sy kollegas vir Jamson en die swart vrouens wat saam met die appellant in die kombi was. Die

31

verduidelikings wat Kilian en Mnisi hiervoor verstrek, ofskoon identies, is allermins oortuigend.
Volgens Kilian se verduideliking het hy die ondervraging van die appellant na die volgende oggend uitgestel omdat hy toe nie meer 'n landdros sou kon vind om 'n bekentenis van die appellant af te neem nie. Hierdie verduideliking was naief. Hy het nie 'n landdros nodig gehad om die appellant te ondervra nie. Ook het hy geen rede gehad om sonder meer te aanvaar dat hy wel 'n
landdros sou benodig nie - dit sou immers van die ondervraging afhang. Op daardie tydstip het hy geen rede gehad om te vermoed dat die appellant by beskuldigde 1 se bekentenis sou inval of 'n afsonderlike bekentenis sou maak nie. En in elk geval, selfs al sou hy 'n landdros en
'n tolk na-uurs benodig, het hy vroeër diê aand reeds daarin geslaag om hulle in die hande te kry.
Op die waarskynlikhede was hierdie verduideliking dus nie waar nie. Waarom dan dié

32
onbesonne leuens? ("Onbesonne" want hy kon veeleer gesê het, as hy daarop uit was om leuens te vertel, dat hy die appellant die aand wel ondervra het, dat die appellant aan hom die gewraakte weergawe verstrek het - dat hy teenwoordig was maar nie aan die moord deel gehad het nie maar dat Kilian dit nie as belangrik genoeg beskou het om 'n landdros en tolk daarvoor op te klop nie.) Dit skep die indruk dat Kilian wel iets gehad het om te verbloem -en in die samehang waarin hierdie onwaarhede voorgekom het, kon dit alleen maar wees dat Kilian en sy kollegas hulle aan ondervragingsmetodes skuldig gemaak het wat hy nie wou openbaar nie.
Daar eindig die kritiek ook nie. Volgens Kilian het hy die appellant die volgende oggend vir die eerste keer ondervra, toe die appellant heel geredelik aan hom 'n weergawe verstrek het wat wesenlik met die latere bewysstuk K ooreengestem het. Wat meer is, die appellant was heeltemal bereid om dit voor 'n landdros te

33

herhaal. Daardie weergawe behels geen bekentenis as sodanig nie. Volgens Kilian se kennis op daardie tydstip het hy ook geen rede gehad om te vermoed dat die appellant later van front sou verander en sou ontken dat hy hoegenaamd teenwoordig was toe die oorledene om die lewe gebring is nie. Daar tas dus geen dwingende rede om die appellant onmiddellik voor 'n landdros te bring nie. Nietemin sou so 'n verklaring tog vir die Staat van waarde wees, nie soseer wat die appellant self betref nie, maar wel vir sover dit beskuldigde 1 se bekentenis sou staaf. So 'n verklaring sou die appellant verplig om getuienis te lewer, waartydens hy beskuldigde 1 vermoedelik sou inkrimineer, indien beskuldigde 1, soos maar so dikwels gebeur, sy bekentenis later in die hof sou repudieer. Vanuit Kilian se oogpunt gesien, sou die appellant op hierdie stadium dus eerder 'n bondgenoot as 'n teiken wees. Kilian erken dan ook dat hy begerig was dat die appellant 'n verklaring voor die landdros moes maak en dat hy

34

teleurgesteld was toe dit nie gebeur het nie. Ten spyte van hierdie voor-die-hand-liggende oorweginge, so sê Kilian, konfronteer hy die appellant nie toe hy later hoor dat die appellant geweier het om die verklaring voor die landdros af te lê nie - en dit in weerwil daarvan dat die appellant op daardie stadium steeds besig was om sy samewerking te verleen om die ondersoekspan na beskuldigde 1 se verblyfplek naby die Kinross-inryteater te neem op soek na die skede van die oorledene se dienspistool. Kilian se verskillende verduidelikings, onder kruisverhoor, dat hy die appellant nie wou konfronteer nie, dat dit deel van sy taktiek was om hom nie daaroor uit te vra nie, en dat dit onreëlmatig en in elk geval nutteloos sou wees om die appellant met beskuldigde 1 se bekentenis te konfronteer, was op sigself weersprekend en onoortuigend. Dat Kilian heeltemal bereid was om van onkonvensionele metodes gebruik te maak, blyk uit die abortiewe bandopname-

35

insident wat vroeër vermeld is.
Wat oor Kilian gesê is, geld natuurlik ook vir die getuienis van Mnisi, in elk geval tot die mate wat hy Kilian napraat.
Uit wat tot dusver gesê. is, blyk dit dat daar geldige punte van kritiek teen Kilian en Mnisi se gétuienis bestaan het, wat die verhoorhof in sy uitspraak glad nie vermeld of bespreek nie. Op sy minste wek dit die suspisie dat alles met hul weergawes nie pluis was nie. En as dit so is, het dit 'n tweeledige effek. Eerstens bied dit 'n mate van stawing vir die appellant se aantyging dat daar die aand van die 21ste hardhandig met hom gewerk is; en tweedens plaas dit Kilian en Mnisi se getuienis in die geheel onder verdenking.
Daarbenewens was daar ook ander aspekte waarop die appellant se advokaat hom vir stawing van die appellant se aantygings van dwang beroep het.

So byvoorbeeld was daar die besering aan die
36

appellant se oordrom waaroor dr Geyser getuig het. Hy het die appellant die oggend van die 26ste ondersoek; die beweerde aanranding was die aand van die 21ste. Sy getuienis kom daarop neer dat so 'n besering, veral waar daar geen teken van gestolde bloed in die oor te bespeur was nie, in omtrent 90% van gevalle aan middeloor-ontsteking te wyte sou wees - maar die moontlikheid dat dit wel deur 'n klap veroorsaak kon gewees het, kon hy nie volkome uitskakel nie. Volgens hom was die besering van die oor amper 'n nagedagte - die eintlike rede vir die mediese ondersoek was die appellant se geslagsiekte. Die appellant het nie getuig dat die polisie hom vooraf aangesê het om sy besering teenoor die geneesheer te verswyg nie. Dit was ook nooit sy saak dat hy die besering aan sy oor opsetlik teenoor die polisie verswyg het ten einde 'n geleentheid te kry om by 'n geneesheer daaroor te kla nie. Inteendeel, hy getuig dat hy wel teenoor die geneesheer oor die aanrandings gekla het.

37

Dit word deur dr Geyser ontken. Die hof glo dr Geyser, myns insiens tereg. Dit beteken dat die appellant op dié punt 'n ontaarheid verkondig het. Daardie feit, dat die appellant nie die aanranding teenoor die geneesheer vermeld het nie, onder omstandighede waar mens dit wel sou verwag het, sonder dat hy deur die polisie gedreig is om dit nie te doen nie, neig die waarskynlikhede na my mening op hierdie aspek eerder in die guns van die Staat as in die guns van die appellant. Ek beskou die getuienis oor die besering aan die appellant se oor dus nie as stawing vir die appellant se aantygings van aanrandings op die aand van die 21ste nie.
'n Tweede aspek wat ter stawing van die appellant se bewerings van ongeoorloofde druk aangevoer is, was die appellant se aanhouding te Bethal. Volgens die appellant se advokaat was die rede vir die oorplasing van die appellant na Bethal omdat daar nie fasiliteite vir eensame opsluiting te Evander of Secunda was nie.

38
Dit, tesame met die feit dat die appellant nie voldoende kos en water gekry het nie, sou dan deel wees van 'n
berekende en sistematiese sagmaak-proses. Bowendien was die appellant, volgens hom, gedurende hierdie tydperk stelselmatig deur die ondersoekspan aangerand. So iets word deur die ondersoekspan ontken. Geen dokumentêre bewys is 6f van die een 6f van die ander kant aangevoer dat die appellant ooit gedurende hierdie tydperk uit die Bethalse polisieselle verwyder is nie. Volgens Kilian bestaan daar 'n volkome aanvaarbare rede vir die aanhouding van die appellant te Bethal, naamlik, dat die polisie op daardie stadium nie geweet het wat die motief vir die moord was nie en dat hy die appellant van die jong konstabels in Evander, met wie hy bevriend was, wou isoleer. Mnisi verstrek 'n verdere rede, naamlik, om die appellant teen hierdie jong konstabels, makkers van die oorledene, te beskerm. Volgens Kilian is die besluit na samesprekings met sy distriks-speuroffisier, maj

39

Scheepers, geneem. Dat die appellant dus vir 'n tydperk te Bethal aangehou is, gedurende welke tydperk Kilian elders met ander sake besig was, en trouens in Nelspruit getuienis moes gee, is myns insiens nie so agterdogwekkend as wat die appellant se advokaat probeer uitmaak het nie.
Laastens is daar die feit dat die appellant, nadat hy vooraf geweier het om 'n verklaring te maak, op 2 November 1987 uiteindelik tog instem het om dit te doen. Ook hiervoor gee Kilian myns insiens 'n aanvaarbare verduideliking, naamlik, dat die appellant teenoor die veiligheidspolisie te Secunda, na wie hy geneem is sodat bepaal kon word of die motief vir die moord polities geïnspireerd was, dieselfde verduideliking verstrek het as wat hy 'n week vantevore aan Kilian self verstrek het. Omdat hierdie verduideliking nie werklik self-inkriminerend was nie, was die appellant, toe hy daarna gevra is, bereid om die verklaring voor 'n landdros te

40

herhaal. Dit het die appellant volgens Kilian vantevore ook aan hom gesê. Waarom sou die appellant in die eerste geval weier en in die tweede geval instem om dit te doen? Die rede, volgens die advokaat vir die Staat, kon wellig wees dat die appellant landdros van Niekerk goed geken het - Van Niekerk het op 'n stadium toe die appellant by die bank gewerk het en Van Niekerk Sotho bestudeer het, met hom daaroor gekonfereer - en dat die appellant om daardie rede ongeneë was om sy eie aandeel in die moord teenoor 'n bekende te bieg. Ek vind dié verklaring nie onwaarskynlik nie. Anders as die advokaat vir die appellant sien ek dus nie werklik iets sinistêrs daarin dat die appellant op 2 November 1987 ingestem het om die verklaring voor 'n ander landdros as landdros van Niekerk te maak nie.
Die posisie is dus dat nog die appellant, nog Kilian en Mnisi, getuienis gelewer het wat onbesproke was. Op geloofwaardigheid kan die kwessie dus nie besleg.

41

word nie; wat die deurslag moet gee, is die waarskynlikhede.
Volgens die appellant is hy die aand van die 21ste en die oggend van die 22ste Oktober 1987 ernstig aangerand. Die doel was om hom te dwing om 'n verklaring af te lê, die inhoud waarvan die polisie aan hom voorgesê het. Hy stem daartoe in. Tog doen hy dit nie. Ten spyte daarvan dat hy, op sy eie weergawe, verdere aanrandings te wagte kon wees, vermeld hy ook nie die aanrandings aan landdros van Niekerk nie. So ook nie aan dr Geyser of landdros Pretorius nie. Dit is na my mening
'n betekenisvolle waarskynlikheid teen die appellant se weergawe.
Volgens hom is hy voorgesê wat om in die verklaring te beliggaam. En dit was nie om homself te inkrimineer nie, maar wel vir beskuldigde 1. Myns insiens is dit inherent onwaarskynlik dat die polisie hulself soveel moeite sou getroos, soveel aanrandings sou

42

pleeg, hulself dermate aan strafregtelike vervolging sou blootstel, en dit alles om 'n verklaring voort te bring wat so min om die lyf het as dié een. Die kool was die sous net nie werd nie. Die waarde van die verklaring was bloot takties: om die appellant in die getuie-bank in te dwing. Bewyswaarde het dit nie gehad nie. Dit kon nie dien as bewys teen beskuldigde 1 nie; en dit sou nie eens die misdaad waarvan die appellant self aangekla is, bewys nie - inteendeel, dit verontskuldig hom. Waar die verklaring volgens die appellant in die geheel 'n
verdigsel was, kon die vervolging ook nie daarop reken dat die appellant, wanneer hy wel getuig, dit ooreenkomstig die verklaring sou doen nie.
Myns insiens is dit veel gevra om te aanvaar dat Kilian vernuftig genoeg was om 'n hele kampanje te bedink waarvolgens hy die appellant sou dwing om 'n geheel en al vals verklaring te maak, waarin laasgenoemde, as 'n vermeende getuie tot die daad, beskuldigde 1 impliseer

43

maar nie homself nie (behalwe darem as 'n begunstiger), sodat die appellant dan verplig sou wees om getuienis te lewer, taartydens hy vermoedelik van sy vals verklaring sou afwyk op so 'n wyse dat die hof kon bevind dat hy en beskuldigde 1 met 'n gemeenskaplike oogmerk opgetree het om die oorledene te vermoor. So 'n plan - wat terloops nooit aan Kilian gestel is nie - sou veels te spekulatief wees: veel eenvoudiger sou dit wees, as hy regtig daarop uit was om die appellant met 'n vals verklaring by die moord te betrek, om 'n verklaring aan die appellant op te dring waarin die appellant se weergawe met dié van beskuldigde 1 klop sodat albei van hulle direk by die moord geïmpliseer word.
Ek kan ook nie aanvaar dat al die besonderhede wat in die verklaring voorkom, werklik deur die polisie uitgedink kon gewees het nie.

Ook is dit vreemd dat die polisie die risiko sou loop om die appellant met al sy klagtes oor

44

aanrandings na 'n geneesheer te neem sonder om hom vooraf behoorlik te waarsku om nie 'n woord daarvan teenoor die dokter te rep nie.
Alles inaggenome, wat ek pas sowel as vroeër in die uitspraak gesê het, is die onwaarskynlikhede in die appellant se weergawe na my mening veel meer treffend as die aspekte waarop Kilian en Mnisi gekritiseer kan word, sodat daar by my min twyfel heers dat die appellant nie die bewyslas gekwyt het om te toon dat sy verklaring op hom afgedwing is nie.
Ofskoon ek dus van sommige van die redes wat die verhoorhof vermeld het, verskil, meen ek, by nabetragting, dat die verhoorhof tog reg was om bewysstuk K as bewysmateriaal toe te laat.
2. Of die uitlatings wat die appellant tydens die uitwysings op 2 November 1987 gemaak het, teen hom behoort te tel.

Hierdie aspek is glad nie deur die verhoorhof

45
te berde gebring nie. Daarvoor kan die verhoorhof nie verkwalik word nie. Teen die toelaatbaarheid van luitenant Goosen se getuienis oor wat die appellant tydens die uitwysings aan hom en speurder-sersant Ntlane sou gesê het, is nooit beswaar gemaak nie, en wel omdat die appellant deurgaans betwis het dat hy ooit aan hulle enigiets gesê het. Volgens hom was hul getuienis oor wat hy daar sou gesê het, alles vals. Die verhoorhof glo hom nie. Daarin kan die verhoorhof nie gefouteer word nie. Die vraag onder bespreking moet dus benader word op die grondslag dat die appellant wel die verduidelikings verstrek het waaroor Goosen en Ntlane getuig het.
Drie foto's is geneem. Op dié eerste wys die appellant, volgens Goosen, die Kinross polisiestasie uit (bewysstuk G1); op die tweede (bewysstuk G2) wys die appellant uit waar die oorledene in die veld gelaat is; en op die derde (bewysstuk G3) toon die appellant waar die oorledene se kop met 'n klip gekap is.

46
Tydens betoog in hierdie hof is die vraag vir die eerste maal geopper of hierdie buitegeregtelike mededelings, wat in tyd sowel as strekking regstreeks by bewysstuk K inskakel, nie na regte ingevolge art 219A van die Strafproseswet, 1977, ontoelaatbaar was, al was daar geen bestaar daarteen geopper, en al was dit ook nie die onderwerp van 'n verhoor-binne-'n-verhoor nie.
Na my mening was die mededelings wat die appellant aan Goosen en Ntlane gemaak het, nie ontoelaatbaar nie. Dit was nooit die appellant se saak dat hy gedreig en voorgesê is wat om uit te wys en wat om te verduidelik nie. Bowendien, al rus die bewyslas in hierdie geval, anders as in die geval van bewysstuk K, op die Staat, meen ek, vir die redes vroeër vermeld, dat die waarskynlikhede nie die teorie steun dat die appellant klei in Kilian se hande was wat hy na willekeur kon manipuleer om enige rympie op te sê nie.

Die feit dat die appellant aan hulle sekere
47

punte uitgewys het, dui daarop dat hy onafhanklike kennis gehad het van wat aldaar gebeur het. Sodanige kennis is natuurlik nie versoenbaar met sy alibi nie - byvoorbeeld oor die plek waar die oorledene beseer is en waar hy geval het "nadat hy twee keer geskiet is". Volgens luitenant Goosen was die appellant nie seker van die presiese plekke nie want "dit was in die nag". Hy wys ook uit "waar die oorledene met 'n klip gekap is op die kop en laat lê is".
Op die belang hiervan kom ek mettertyd terug. 3. Of die uitwysinqs, sonder die uitlatings, enige bewyswaarde het.
Selfs al sou die uitlatings wat die uitwysings vergesel het - strydig met wat ek pas gesê het - buite rekening gelaat word, dui die uitwysings opsigself op dieselfde resultaat, naamlik dat die appellant nie so onkundig was oor hoe die oorledene te sterwe gekom het as wat hy in die hof wou voorgee nie.

48

Die Staat het geen direkte getuienis gelei wat enige van die uitwysings wat die appellant gemaak het met spesifieke punte op die plan, bewysstuk B, verbind het nie. Drie foto's is van die uitwysing self geneem, bewysstukke G1, 2 en 3. Sonder die opskrifte en verduidelikings wat daarmee gepaard gaan, is twee van die foto's eintlik niksseggend. Maar die derde, bewysstuk G3, dui 'n omgewing aan wat klaarblyklik ooreenstém met die foto, bewysstuk B1, waaroor daar geen dispuut was nie. Punt "D" op dié foto stem ooreen met punt "D" op die plan wat volgens Post en Kilian die plek is waar die oorledene se liggaam aangetref is.
Myns insiens is dit so onwaarskynlik dat die appellant toevallig juis in die onmiddellik omtrek sou gaan staan het waar die lyk vroeër ontdek is, dat mens veilig kan aflei dat dit nie toevallig kon wees nie en dat die appellant dus wel kennis gedra het van waar die oorledene se lyk die nag gelaat is.

49

Des te meer is dit die geval as mens die appellant se vals getuienis in dié verband in ag neem -oor wat (op die 21ste en die 26ste) die uitwysings na bewering voorafgegaan het sowel as oor wat na bewering tydens die uitwysing self gebeur het. In beide opsigte is die appellant se getuienis, wat deur alle ander betrokkenes weerspreek is, tereg deur die hof verwerp. Wat bewys dit? Eerstens, dat die appellant 'n deurtrapte leuenaar was, slim genoeg om 'n skema te bedink om agterna te verduidelik hoe hy 'n uitwysing kon maak ten opsigte van 'n gebeurtenis wat hy kamma-kastig nie waargeneem het nie; maar dom genoeg om sy eie skema te fnuik deur te beweer dat hy, na alles, tog geen uitwysing gemaak het nie. Tweedens, dat hy besef het dat daar iets was wat hy in dié verband moes verduidelik - anders was die leuens nie nodig nie. En dit kon alleen maar wees dat hy nie so onkundig was omtrent die omstandighede rondom die oorledene se dood as wat hy probeer voorgee het nie. Dié

50

twee feite, dié vergelyking van die foto's, en die appellant se desperate poging om sy uitwysings om die beurt te verduidelik en te betwis, dui myns insiens onteenseglik daarop dat hy goed geweet het hoe die oorledene aan sy einde gekom het, selfs al word die appellant se eie verklaring, bewysstuk K, en die uitlatings wat hy tydens die uitwysings aan luitenant Goosen gemaak het, geheel en al buite rekening gelaat. 4. Of die appellant 'n mede-dader, 'n begunstiger, of bloot net 'n toeskouer tydens die moord op die oorledene was.
Staan dit eenmaal vas, vir al of enige van die redes wat vroeër vermeld is, dat die appellant wel teenwoordig was toe die oorledene vermoor is, was hy, volgens die weergawe van beskuldigde 1, 'n mede-dader en volgens die weergawe wat hy in sy verklaring, bewysstuk K, verstrek het, op sy minste 'n begunstiger. Watter weergawe mens ook al aanvaar, 'n bloot onskuldige

51

toeskouer was hy beslis nie. Op die grondslag van bewysstuk K sou hy wel deeglik as 'n begunstiger beskou kon word - soos die appellant se advokaat trouens betoog het - aangesien hy beskuldigde 1 daarvolgens gehelp het om die liggaam van die oorledene te dra, klaarblyklik sodat beskuldigde 1 die oorledene se kop kon verbrysel om die koeëlwonde te verberg wat beskuldigde 1 andersins moontlik met die moord sou koppel; daarbenewens het hy die oorledene se dienspistool 'n week later, in beskuldigde 1 se geselskap, in eie besit gehad, wat ook op bystand na die tyd dui.
Maar kan hierdie weergawe 'hoegenaamd ten gunste van die appellant aanvaar word? In sy eie getuienis verwerp die appellant sy eie verklaring, bewysstuk K, as 'n versinsel. Sy getuienis kan egter nie sonder meer geglo tord nie, vir die verskeidenheid van redes wat reeds genoem is. Beskuldigde 1, die enigste ander ooggetuie, ontken

52

eweneens die verklaring. Hy pak die meeste van die skuld op die appellant maar, soos die hof a quo tereg bevind het, kan daar ewe min op beskuldigde 1 se woord peil getrek word as op die appellant s'n. Betroubare getuienis ter ondersteuning van die verklaring ontbreek dus.
Dat die appellant 'n reeks leuens vertel het, en homself ten alle koste ên van beskuldigde 1 , én van sy eie verklaring, én van enige betrokkenheid by die moord op die oorledene probeer distansieer het, is op sigself geen afdoende bewys dat hy die oorledene help vermoor het nie. (Vgl S v MTSWENI 1985 (1) SA 590 (A) te 593H-594E). Mens kan aan 'n aantal redes dink waarom die appellant homself so naarstiglik van die moord sou probeer distansieer - dat hy gevrees het dat sy blote aanwesigheid tydens die moord hom daarby sou betrek; dat hy beskuldigde 1 agterna gehelp het om die oorledene se liggaam te verskuif; dat die oorledene se dienspistool in

53

sy besit gevind is wat op sigself 'n misdaad was - en dat hy gevolglik alle rede gehad het om te glo dat hy saam met beskuldigde 1 vir die moord blameer sou word, al vertel hy ook die waarheid. Nietemin bly sy leuenagtigheid 'n relevante faktor by die beoordeling van die omstandighede as geheel. Daar is geen ander opsigtelike rede waarom hy dié leuens sou vertel het, en sy verklaring sou wou repudieer, as dat hy sy eie kennis van en moontlike aandeel in die moord probeer verberg het nie.
Wat die verklaring, bewysstuk K, wel aantoon, is dat die appellant 'n gedetailleerde kennis gehad het omtrent die omstandighede rondom die oorledene se dood; en dat hy aspekte aanroer wat nie uit beskuldigde 1 se verklaring voortspruit en wat die polisie nie self kon uitgedink het nie, soos byvoorbeeld dat die oorledene twee keer geskiet is en dat beskuldigde 1 'n skoot in die grond gevuur het. 'n Dergelike intieme kennis van die

54

gebeure blyk ook uit sy uitwysings en uitlatings aan luitenant Goosen. Dit alles dui daarop dat hy wel op die moordtoneel aanwesig was toe die oorledene gedood is - en vir sover hy dit agterna heftig ontken, is dit op sy minste 'n aanduiding dat sy teenwoordigheid nie so onskuldig was as wat hy dit in die verklaring self probeer skets het nie.
Origens wemel dit in die verklaring van onwaarskynlikhede: waarom sou beskuldigde 1, hom vra om kastig buite te gaan staan? Waarom dreig beskuldigde 1 hom? Waarom help hy beskuldigde 1 om die oorledene se liggaam te dra? Waarheen word die lyk geneem? Waarom? En as mens die verklarïng met die objektieve feite vergelyk, is daar geen verduideliking vir 'n magdom aspekte wat mens in die verklaring sou verwag het nie: waarom is daar in die verklaring geen melding daarvan dat die aanklagkantoor in chaos gevind is nie; van die bloed op die vloer en by die ligskakelaar; dat die lig

55

afgeskakel was; hoe dit gebeur het dat die oorledene sy trui en das kwyt is; wie die oorledene se vuurwapen en skede verwyder het; en dies meer.
Hoe suspisieus ook al, die verklaring bewys op sigself nie dat die appellant 'n mede-dader by die moord was nie.
Die enigste direkte getuienis teen die appellant dat hy wel 'n mede-dader was, is die getuienis van beskuldigde 1.

Van hom sê die verhoorhof egter:
"Vanweë die feit dat beskuldigde nr 1 so 'n swak getuie was is ons nie bereid om te bevind aan die hand daarvan dat beskuldigde nr 2 teenwoordig was, of die handeling verrig het wat hom toegedig is nie, tensy daar substantiete stawing is wat beskuldigde nr 2 aan die misdryf verbind."

Die finale vraag is dan of daar in die

objektiewe feite stawing vir beskuldigde 1 se aantyging
gevind kan word wat die appellant se aandadigheid aan die
moord bo redelike twyfel bevestig.

56

Uit die appellant se eie getuienis blyk dit dat hy beskuldigde 1 reeds voor die voorval vir 'n tydperk geken het, ofskoon hy ontken dat hulle vriende van mekaar was. Daar is wel ander getuies, selfs afgesien van beskuldigde 1, soos Baloyi, wat getuig het dat die appellant en beskuldigde 1 meer as net toevallige kennisse was en dikwels in mekaar se geselskap gesien is.
Blykens die appellant se verklaring, bewysstuk K, was beskuldigde 1 die betrokke aand saam met hom by die Kinross polisiestasie.
By die polisiestasie self was daar duidelike tekens van 'n worsteling en 'n gestoei. Dit blyk uit die toestand van die kantoor, uit die sleepmerke en bloedspatsels op die vloer en die smeermerke teen die muur. Klaarblyklik het die oorledene heftig weerstand gebied. Hy was 'n opgeleide, getapende polisieman. Dit is onwaarskynlik dat beskuldigde 1 hom alleen sou kon oorval en oorrompel. Van die patroonpunte wat op die

57

vloer aangetref is, saamgelees met die mediese getuienis, kan met veiligheid afgelei word dat die oorledene sowel geskiet as gesteek is. Waarom sou een persoon die oorledene sowel steek as skiet? Ook dit dui sterk op gesamentlike optrede en dien as stawing vir beskuldigde 1 se bewering in dier voege. Nog beskuldigde 1 in sy verklaring of getuienis, nog die appellant in sy verklaring, meld dat óf hy óf beskuldigde 1 in die proses beseer is of enige letsel opgedoen het, iets wat ontaarskynlik sou wees indien slegs een persoon die oorledene trotseer het. Uit sowel beskuldigde 1 se getuienis as die appellant se verklaring blyk dit dat die appellant beskuldigde 1 gehelp het om die oorledene se
liggaam te dra. Dit is verdere bewys van gesamentlike optrede. Volgens beskuldigde 1 het die twee saam die betonblok van 33 kg opgetel. Gesien die gewig daarvan steun die waarskynlikhede beskuldigde 1 se weergawe in diê verband dat die twee die betonblok saam hanteer het.

58

Al hierdie omstandighede, saam beoordeel, sluit die redelike moontlikheid na my mening uit dat die oorledene deur een persoon alleen oorval is - en as daar twee was, kon dit alleen maar die appellant en beskuldigde 1 gewees het.
Dan is daar hul optrede na die tyd. 'n Week na die gebeure is hulle steeds in mekaar se geselskap. Die appellant se verduideliking dat dit bloot toeval was, is onaanvaarbaar, veral in die lig van Lina Nhlapo se getuiehis. Mens sou verwag het, as die appellant nie met beskuldigde 1 saamgewerk het nie, dat hy hom so gou doenlik uit beskuldigde 1 se geselskap sou verwyder en beskuldigde 1 ten alle koste sou probeer vermy het. Dat hy dit nie gedoen het nie, staaf beskuldgide 1 se bewering dat hulle kop in een mus was.
Volgens Lina Nhlapo was die appellant in besit van die vuurwapen, bewysstuk 6, die oorledene se dienspistool, en was dit hy wat daarvan ontslae probeer

59

raak het toe die polisie skielik hul opwagting maak. So ook was dit die appellant wat volgens Lina Nhlapo aangedring het dat beskuldigde 1 dit ook met sy vuurwapen moet doen. As die appellant werklik so onskuldig was as wat hy wil voorgee, wat maak hy in ieder geval met die oorledene se pistool in sy besit? Daarvoor kon hy geen vêrduideliking verstrek nie. Hoekom sou hy aan beskuldigde 1 opdrag gee, toe die polisie hulle nader, om van die vuurwapen, bewysstuk 5, ontslae te raak as hy beskuldigde 1 bloot toevallig daar raakgeloop het? Al hierdie omstandighede dui myns insiens oorweldigend daarop dat die appellant en beskuldigde 1 voor, tydens en na die moord makkers was wat saam gejag het; en dit dien as stawing vir beskuldigde 1 se weergawe dat die appellant wel by die moord gemoeid was.
Presies hoe die moord gepleeg is, met watter motief dit geskied het en wat elkeen se aandeel daarin was, sal mens met sekerheid stellig nooit weet nie. Maar

60

as al die omstandighede kumulatief in ag geneem word -dat die twee van hulle deurentyd saam was, voor, gedurende, sowel as na die tyd, dat die oorledene wat gewapen was oorval is, dat hy brutaal vermoor en sy lyk 'n ent van die aanklagkantoor gevind is, dat sy kop aldaar met 'n 33 kg stuk beton verbrysel is, dat die appellant dáarna die oorledene se dienspistool dra, en dat hy les bes sy eie verklaring teenspreek en 'n vals alibi probeer opper - is die enigste redelike afleiding na my mening dat die twee van hulle die moord saam gepleeg het of dat die appellant hom, op sy minste, deur sy eie optrede doelbewus daarmee vereenselwig het.
Na my mening is die appellant tereg aan moord skuldig bevind.
Waar dit die enigste kwessie is wat in hierdie appél ter sprake kom, volg dit dat die appèl van die hand getys moet word.

61

P M NIENABER WAR

BOTHA AR) Stem saam
SMUTS WAR)