South Africa: Supreme Court of Appeal
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 68 | Noteup | LawCitePresident Versekeringsmaatskappy Bpk. v Stroh (529/1988) [1990] ZASCA 68 (1 June 1990)
Download original files |
LL Saak No 529/1988
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPeLAFDELING
In die saak tussen:
PRESIDENT VERSEKERINGSMAATSKAPPY BEPERK Appellant
en
GEORGE STRoH Respondent
CORAM: BOTHA, MILNE et STEYN ARR
VERHOORDATUM: 2 MEI 1990
LEWERINGSDATUM: 1 JUNE 1990
UITSPRAAK BOTHA AR:-
2. Op 18 Oktober 1984, op 'n grondpad in die
omgewing van Nylstroom, het daar 'n botsing plaasgevind tussen twee
motorvoertuie. Die
bestuurder van die een voertuig was die respondent in hierdie
appel ("die eiser"). Die appellant was die versekeraar, kragtens die
bepalings
van Wet 56 van 1972, van die ander voertuig ("die versekerde voertuig"). Ten
opsigte van beserings wat hy in die botsing
opgedoen het, het die eiser 'n aksie
om skadevergoeding teen die appellant ingestel in die Transvaalse Provinsiale
Afdeling, gebaseer
op die bewering dat die botsing veroorsaak is. deur die
nalatigheid van die bestuurder van die versekerde voertuig. Met die aanvang
van
die verhoor van die aksie, het die Verhoorregter (J L VAN DER MERWE Wn R) op
versoek van die partye gelas dat die vraag na aanspreeklikheid
eerstens bereg
sou word, afsonderlik van die vraag na die quantum van die eiser se
skade. Nadat getuienis aangehoor is, het die Verhoorregter ten gunste van die
eiser, en teen die appellant, bevind
dat
3.
laasgenoemde aanspreeklik is teenoor eersgenoemde vir die betaling van
skadevergoeding en dat daar geen bydraende nalatigheid was
aan die kant van die
eiser nie. (Dit hou dus in dat daar bevind is dat die botsing veroorsaak was
deur die uitsluitlike nalatigheid
van die bestuurder van die versekerde
voertuig.) Teen hierdie bevindings van die Verhoorhof kom die appellant, met
verlof van die
Verhoorregter, na hierdie Hof in hoër beroep.
Die
grondpad waarop die botsing plaasgevind het, loop rofweg in 'n rigting van noord
na suid. Aan die suidepunt daarvan sluit dit
aan by 'n teerpad, wat rofweg loop
in 'n rigting van oos na wes, vanaf Nylstroom na Vaalwater. Ongeveer 15 km ten
noorde van die
aansluitingspunt tussen die twee paaie, is daar op die grondpad
'n afdraaipad na wes, wat lei na Alma. Vanaf daardie punt suidwaarts
loop die
betrokke pad vir etlike kilometers reguit en gelyk, tot by 'n ander afdraaipad,
na oos, wat lei na Paardeplaas. 'n Entjie
4. ten suide daarvandaan gaan die
betrokke pad vir 'n paar kilometers deur 'n klompie rantjies, waar dit kronkel
en ongelyk is. Daarna
word dit weer reguit en gelyk vir ongeveer 6 km, totdat
dit aansluit by die teerpad.
Die botsing het plaasgevind 2,6 km ten noorde
van die aansluiting met die teerpad. Onmiddellik voor die botsing het die eiser
gery
van noord na suid, en die bestuurder van die versekerde voertuig van suid
na noord. Die bestuurder van die die versekerde voertuig
is op slag gedood. Die
eiser het onder meer hoof-beserings opgedoen, wat tot gevolg gehad het dat hy ly
aan 'n algehele geheueverlies
ten aansien van die botsing self en die
voorafgaande tyd.
Namens die eiser is getuienis afgelê deur homself en
mnre Van Deventer en Van Staden. Namens die appellant het adj-off Nel getuig.
Geloofwaardig-heid speel geen rol in hierdie saak nie. Die Verhoorregter het al
drie die getuies as eerlike getuies beskou en daar
is geen gronde waarop
daardie
5. beskouing aangeveg kan word nie.
Uit die eiser se getuienis
blyk dit dat hy 'n plasie gehad het op die Alma-afdraaipad. Hy het gewoon op
Nylstroom. Hy het gereeld
tussen die plasie en sy huis gery, en was goed
vertroud met die betrokke grondpad. In die besonder het hy ondervinding gehad
van
die stof-toestande op die pad soos dit op die dag van die botsing geheers
het, en soos dit weldra beskryf sal word. Sy laaste herinnering
van voor die
botsing was dat hy na 'n besoek aan die plasie, daarvandaan vertrek het huis
toe. Hy het geen haas gehad om by die.
huis te kom nie.
Van Deventer het die
eiser en sy voertuig geken. Op die betrokke dag het hy van h winkel net ten
noorde van die Alma-afdraaipad suidwaarts
gery, op pad Nylstroom toe. Toe hy by
die Alma-afdraaipad verbyry, het hy opgemerk dat die eiser in sy voertuig op die
Alma-pad,
by die T-aansluiting, vir hom (Van Deventer) staan en wag om verby te
ry. Van Deventer het teen
6.
ongeveer 80 k p u gery. Terwyl hy deur die rantjies gery het,
het hy teruggekyk en gesien dat die eiser 'n paar honderd tree agter
hom aangery
gekom het. 'n Entjie voordat hy die teerpad bereik het, het hy die versekerde
voertuig van voor af sien aankom. Dié
voertuig en sy bestuurder was ook
aan hom bekend. Van Deventer het vermoed dat daar moontlik van sy werknemers in
die versekerde
voertuig ('n toegeboude bakkie) was, en het met handgebare aan
die bestuurder daarvan ("die versekerde bestuurder") probeer navraag
doen
daaroor. Die versekerde bestuurder het op sy beurt teenoor Van Deventer met sy
hand na agter toe beduie. Op die stadium toe
die twee voertuie verby mekaar gery
het, was die versekerde bestuurder nog besig om te beduie en het hy oor sy
skouer in die rigting
van Van Deventer gekyk. Laasgenoemde het voortgery en het
niks gehoor van die botsing wat kort daarna agter hom plaasgevind het nie.
Tydens 'n ondersoek ter plaatse het Van Deventer die plek waar hy
7. en die
versekerde voertuig by mekaar verbygery het, uitgewys. Dit is vasgestel dat
daardie plek 210 meter ten suide was van die
plek waar die botsing gebeur het.
Van Staden het beide die eiser en sy voertuig en Van Deventer en sy voertuig
geken. Op die betrokke
dag het hy met die Paardeplaas-pad gery, om by die pad
waarop die botsing gebeur het aan te sluit en suidwaarts te ry na sy plaas,
wat
digby die plek van die botsing was. By die T-aansluiting van die Paardeplaas-pad
met die betrokke grondpad, het hy stilgehou
en gesien dat Van Deventer by hom
verbyry.
Nog 'n voertuig was in aantog in dieselfde rigting, en hy het gewag
dat dié ook eers moet verbyry. Hy het opgemerk dat dit
die eiser in sy
voertuig was. Hy het daarna agter die eiser ingeval en agterna gery, teen 'n
snelheid wat gewissel het van 60 tot
90 k p u. Hy het op die botsingstoneel
afgekom, uit sy voertuig geklim, en ondersoek ingestel. Volgens sy getuienis het
die eiser
se voertuig op die oostelike helfte van die pad
8. gestaan (d w s
sy korrekte kant van die pad), met die agterkant daarvan baie naby aan die
oostekant van die pad en die voorkant
skuins na die middel van die pad. Die
versekerde voertuig het op sy dak gelê op die westelike helfte van die
pad, ten suide
van die eiser se voertuig. Volgens Van Staden het hy ander
verkeer wat daarna by die toneel opgedaag het, beduie om tussen die twee
voertuie deur te ry, skuins oor die middel van die pad. Die eiser was in sy
voertuig vasgeklem en die mense wat op die toneel gekom
het, het gespook en
gespartel om die eiser te bevry. Van Staden het ook 'n merk op die pad
waargeneem, waarna ek later weer sal verwys.
Nel het heelwat later by die
toneel opgedaag. Die eiser was toe reeds bevry en verwyder, en die versekerde
voertuig was reeds teruggeplaas
op sy wiele. Nel het opmetings op die toneel
gedoen en aangeteken, en later 'n plan en sleutel daarvan opgestel. Volgens sy
waarnemings
was die eiser se voertuig op die
9.
westekant (sy verkeerde kant) van die pad. Albei voertuie was aan die regter
voorkant erg beskadig. Nel het ook sekere merke op die
pad waargeneem en
aangeteken, waarna ek weldra sal verwys.
Die botsing het om ongeveer 18.30
plaasgevind. Op daardie stadium was die lig nog goed genoeg om geen uitwerking
te hê op die
uitsig van die bestuurders van die betrokke voertuie nie.
Maar daar was 'n ander faktor wat 'n erg belemmerende uitwerking gehad
het op
die sig van die padgebruikers, en wat van fundamentele belang is in die
beoordeling van hierdie saak: stof. Die eiser, Van
Deventer en Van Staden het 'n
grafiese beskrywing gegee van die stoftoestande op daardie pad op die betrokke
dag. Dit was iets besonders,
en buitengewoon. Dit was 'n tyd van kwaai droogte.
Die pad was nie slegs baie droog nie, maar ook baie sag op die oppervlakte. Daar
was 'n dik laag van fyn, los sand op die pad, soos ook ten duidelikste blyk uit
foto's wat op die toneel geneem is die dag na
10.
die botsing, en wat as bewysstukke voor die Verhoorhof
geplaas was. Die
toestand van die pad het tot gevolg
gehad dat 'n bewegende voertuig daarop 'n geweldige dik
stofwolk opgeskop het; soos dit in die getuienis
gestel is, die stofwolk
wat deur 'n voertuig veroorsaak
is, was soos 'n ondeursigtige muur wat in die pad gehang
het. Daar was
geen wind om die stof vinnig van die pad
af te waai nie. Al wat daar was, was
'n ligte briesie
wat van oos na wes geroer het en wat die hangende
stofwolk agter 'n bewegende voertuig geleidelik en
stadig van oos na wes laat wegdryf het. Al die getuies
was dit met mekaar
eens dat dit prakties gesproke
onmoontlik sou wees vir een voertuig om 'n
ander voor
hom op daardie pad verby te steek in die heersende
omstandighede. Van Deventer het dit so gestel in sy
getuienis, met
verwysing na die sig van 'n bestuurder
wat sou ry agter 'n bewegende voertuig
voor hom:
" jy kom nie nader as, die naaste wat jy
kom is miskien 300 meter."
11.
Hierdie getuienis is nie betwis nie.
Toe Van Staden by die
Paardeplaas-aansluiting vir Van Deventer en die eiser gesien verbyry het, het
die eiser ver genoeg agter Van
Deventer gery om buitekant die stofwolk van
laasgenoemde se voertuig te wees. Toe Van Deventer in die rantjies teruggekyk
het, het
hy met die kronkelings van die pad die eiser 'n paar honderd meter
agter hom sien aankom - klaarblyklik buitekant die stofwolk van
sy voertuig.
Soos Van Staden gery het, het hy die stofwolk van die eiser se voertuig
deurgaans voor hom gesien, en daarbuitekantr
gehou. Op 'n stadium het die stof
skielik weggeraak, en net daarna het Van Staden op die botsingstoneel
afgekom.
Soos vroeër vermeld, het Van Deventer en die versekerde bestuurder se
voertuie mekaar verbygegaan 210 meter suid van die botsing.
Dit beteken dat die
versekerde bestuurder daarna 210 meter verder aan gery het voor die botsing
plaasgevind het. Dit kon hy
12. alleenlik gedoen het deur te ry deur die
stofwolk wat Van Deventer se voertuig opgeskop het. As die eiser gedurende
daardie tyd
nog steeds buitekant Van Deventer se stofwolk gehou het, sou hy,
volgens Van Deventer se getuienis hierbo aangehaal, nie nader as
h absolute
minimum van 300 meter agter Van Deventer se voertuig gewees het toe Van Deventer
. en die versekerde bestuurder by mekaar
verby is nie. Die snelheid . waarteen
die versekerde bestuurder gery het, is nie bekend nie, maar as dit min of meer
dieselfde was
as diê van Van Deventer en die eiser, sou die eiser ongeveer
200 meter vanaf die punt van botsing (of 400 meter agter Van Deventer
se
voertuig) gewees het op die stadium toe Van Deventer en die versekerde
bestuurder se voertuie mekaar gekruis het. Die botsing
moes dus noodwendig
plaasgevind het binne h oogwenk of wat nadat die versekerde voertuig uit die
stofwolk tevoorskyn gekom het.
Die feit dat elkeen van die twee betrokke
13. voertuie aan die regter voorkant beskadig is (soos ook blyk uit die foto's), dui daarop dat hulle van voor af met mekaar gebots het, òf reg van voor òf met 'n effense hoek van voor. Die pad is taamlik breed, sodat twee voertuie met gemak by mekaar verby kon ry. Dit volg dus dat ten tyde van die botsing een of albei van die voertuie op sy of hulle verkeerde kant van die pad gery het. Die Verhoorregter het bevind, op 'n oorwig van waarskynlikhede, dat die versekerde voertuig op sy verkeerde kant van die pad was, en die eiser se voertuig op sy korrekte kant van die pad; vandaar sy gevolgtrekking dat die botsing te wyte was aan die uitsluitlike nalatigheid van die versekerde bestuurder. In die betoog voor hierdie Hof is die Verhoorregter se bevindings namens die appellant aangeveg op 'n tweeledige grondslag, breed gestel. In die eerste plek is daar aangevoer dat die bevindings berus, nie op afleidings uit bewese feite nie, maar op blote bespiegeling. In die tweede plek is daar
14.
aangevoer dat die bevindings indruis teen die gegewens wat blyk uit Nel se
getuienis, die waarnemings wat hy gemaak het, en die plan
wat hy geteken het,
met die sleutel daarby. Dit sal gerieflik wees om die tweede deel van die betoog
eerste te behandel.
Soos vroeër aangedui, het Nel getuig dat die eiser
se voertuig op die westelike helfte (dus op sy verkeerde kant) van die pad
gestaan het. Ter verdere verduideliking moet ek meld dat, volgens Nel, nie die
hele voertuig aan daardie kant was nie, maar wel 'n
aansienlike gedeelte
daarvan, dwars oor die middel varr die pad. Dit bots met die waarneming van Van
Staden, wat ek ook vroeër
genoem het. Die Verhoorregter het bevind dat Van
Staden se geheue hom in hierdie opsig waarskynlik in die steek gelaat het, en
dat
dit onwaarskynlik is dat die eiser se voertuig na die westekant geskuif is
terwyl daar gewerskaf is om die eiser daaruit te verwyder,
voordat Nel by die
toneel opgedaag het. Ek het, met eerbied, bedenkings oor die
15. korrektheid
van die Verhoorregter se bevindings in hierdie opsig, enersyds vanweë Van
Staden se besliste en oortuigende redes
waarom hy onthou presies waar die
voertuig gestaan het, en andersyds vanweë sekere verskille tussen Nel se
eerste aantekening
met sy aanvanklike ruwe sketsplan, en sy later getekende
plan, wat nie bevredigend verklaar kon word nie. Dit is egter nie nodig
om
daarop in te gaan nie. Ek sal ten gunste van die appellant aanvaar dat die eiser
se voertuig gestaan het soos aangetoon op Nel
se plan, dwarsoor die middel van
die pad en grotendeels op sy verkeerde kant daarvan.
Op Nel se plan word twee
parallelle spore aangedui, wat heeltemal op die westelike helfte van die pad
geleë is, en eers ewewydig
met die pad loop en dan ooswaarts swenk, tot by
die plek waar die eiser se voertuig gestaan het. Volgens die sleutel was die
spore
13 meter lank. Nel het dit aangeteken as "buitebandmerke" wat
"vermoedelik" deur die eiser se
16. voertuig veroorsaak is. Op die oog af
beskou, skep Nel se plan dus die indruk dat die eiser se voertuig heel op sy
verkeerde kant
van die pad gery het en toe na sy linkerkant geswenk het, waar
dit met die versekerde voertuig gebots het. Ter onderskraging van
hierdie
beweging van die eiser se voertuig het Nel ook 'n "gat" in die pad, op die kurwe
van die spore, aangedui as "vermoedelik"
die punt van botsing. Die appellant se
advokaat het op al hierdie aanduidings staatgemaak ter ondersteuning van sy
betoog.
Daar bestaan egter onoorkomelike probleme in verband met Nel se plan,
en die merke wat hy daarop aangeteken het, asook met die kommentaar
wat in sy
sleutel vervat is. Volgens Nel se tekening van die spore en sy getuienis
dienaangaande, is dit logies volslae onmoontlik
om daardie spore met die eiser
se voertuig in verband te bring. Bekyk vanaf noord na suid, loop die
regterkantse spoor tot by die
regter voorwiel van die voertuig, waar dit eindig;
maar die
17. linkerkantse spoor, parallel met die regterkantse een, loop tot
by die kant van die voertuig, soos dit dwars-oor die pad gestaan
het, en eindig
teenaan die voer-tuig, omtrent net voor die regterkantse deur van die voertuig,
waar die eiser sou gesit het. Dit
maak geen sin nie. Daardie spoor kon
onmoontlik deur die linker voorwiel van die voertuig gemaak gewees het en daar
aan die kant,
langs die voertuig, geëindig het. Nog minder kon die spore
deur die agterwiele veroorsaak gewees het. Dit is verder ook opvallend
dat daar
geen merke van die agterwiele gevind is nie, as die voertuig dan so dwars sou
geskuif het in die botsing. Wat Nel se vermoedelike
punt van botsing betref, het
hy in sy getuienis geredelik toegegee dat hy die "gat" in die pad (volgens die
foto's is dit eintlik
'n uithol-skraapmerk) nie in verband kon bring met enige
gedeelte van òf die eiser se voertuig òf die versekerde voertuig
nie. Nel was weliswaar nie 'n oneerlike getuie nie, maar hy het geredelik
toegegee dat hy maar net
18. probeer aanteken het wat hy gesien het en dat sy
kommentaar oor die spore en merke nie voorgegee het om op enige deskundigheid
te
berus nie.
In verband met Nel se beweerde spoormerke is Van Staden se
getuienis van belang. Toe hy op die toneel afgekom het, het hy één
lang en dieperige merk in die padoppervlakte gesien, ten noorde van waar die
voertuie gestaan het. Hy het dié merk goed bekyk,
en tot die
gevolgtrekking gekom dat dit nie deur 'n motorband veroorsaak is nie, omdat dit
breër was as die wydte van 'n motorband
en omdat die kante daarvan
skerphoekig was. Sy getuienis was dat dit deur een of ander boerdery-implement
gemaak moes gewees het.
Daar is geen rede om die juistheid van sy waarneming te
betwyfel nie. Ook moet daar in gedagte gehou word dat Nel eers heelwat later
sy
waarnemings gemaak het. Die foto's wat die volgende oggend geneem is, is ook
insiggewend. Van die twee spore wat Nel daarop uitgewys
het as dié wat hy
waargeneem het die vorige
19. aand, is een duidelik sigbaar, maar die ander
omtrent nie. Die foto's toon dat die middel van die pad h diep laag sagte sand
op
die oppervlak het, met relatief harder oppervlaktes aan die kante. Die foto's
wys verder dat in die sagte gedeelte van die pad enige
spore maklik sigbaar is;
enige voertuig wat daar beweeg sou 'n spoor laat. Die een spoor wat Nel uitgewys
het en wat duidelik sigbaar
is (die linkerkantse een, bekyk van noord na suid),
is in die middelste, sagte gedeelte van die pad. Dit is dieper en breër
as
enige van die ander sigbare spore. Dit is 'n sterk waarskynlikheid dat dit die
merk is wat Van Staden waargeneem het, en dat die
skerp kante daarvan wat hy
gesien het, vervaag het as gevolg van die verkeer wat na die botsing daaroor sou
beweeg het, soos Van
Staden in sy getuienis beskryf het.
Die gevolgtrekking uit die voorgaande oorwegings is dat Nel se plan geen
aanvaarbare grondslag bied vir enige afleidings omtrent die
20. bewegings van
die eiser se voertuig voor die botsing nie. Dit is onbetroubaar ten opsigte van
waar die eiser sou gery het en dit
is niksseggend wat betref die werklike punt
van botsing. Die aanvanklike indruk wat die plan skep, kan dus nie staande gehou
word
nie. Die Verhoorregter het bevind dat daar geen peil getrek kon word op die
plan nie, en om die redes hierbo gemeld is daar geen
gronde om van die
Verhoorregter se bevinding in hierdie verband te verskil nie. As 'n mens die
spore en merke wat Nel aangeteken
het, buite rekening laat, en slegs die posisie
van die voertuie op die pad" betrag, kan dááruit geen afleiding
gemaak
word oor waar die eiser voor die botsing gery het of waar die punt van
botsing was nie. In die afwesigheid van deskundige getuienis
is die feit
(volgens Nel) dat die eiser se voertuig met sy voorkant oor die middel van die
pad, aan die westekant daarvan, tot stilstand
gekom het, hoegenaamd nie 'n
voldoende grondslag vir 'n bevinding, as 'n waarskynlikheid, dat die eiser op sy
verkeerde
21 .
kant van die pad gery het nie. Insgelyks regverdig die feit dat die
versekerde voertuig op sy dak beland het op die westekant van
die pad, weer eens
in die afwesig-heid van deskundige getuienis, nie'n genoegsame grondslag vir 'n
bevinding, as 'n waarskynlikheid,
dat hy op sy korrekte kant van die pad beweeg
het voor die botsing nie.
Die betoog namens die appellant met betrekking tot
Nel se getuienis en sy plan kan dus nie aanvaar word nie.
Vervolgens moet die
eerste deel van die be-toog oorweeg word, naamlik dat die Verhoorregter se
be-vindings nie geregverdigde afleidings
uit bewese feite was nie, maar blote
bespiegeling. Met hierdie betoog kan ek ook nie saamstem nie, om die redes wat
volg.
Die feite waarna ek vroeër reeds verwys het, onder andere die
stowwerigheid van die pad, die mate waarin dit die sig van bestuurders
belemmer
het, die algemene wyse waarop die voertuie beweeg het, en die
22.
afstande soos genoem, is almal feite wat ten volle
bewys is. Die
Verhoorregter het bevind dat die
stofwolk agter Van Deventer se voertuig, as
'n
waarskynlikheid, 'n rol gespeel het in die botsing.
Namens die
appellant is daar betoog dat daar geen so 'n
waarskynlikheid by wyse van
afleiding uit die feite
gepostuleer kon word nie, en dat die Verhoorregter
se
bevinding in hierdie verband maar net 'n bespiegeling
was. Hierdie
betoog is onhoudbaar. Voertuie kan
natuurlik in helder daglig met
onbelemmerde sig van
voor af teen mekaar bots; maar as'nbotsing van
voor
plaasvind in die omgewing van 'n ondeursigtige muur van
stof is dit
sekerlik, by gebrek aan enige ander
verduideliking, aanmerklik waarskynliker
dat die stof 'n
veroorsakende bydrae tot die botsing was as dat dit
nie
die geval was nie. Algemene menslike ervaring dui
dikwels, soos hier
ook, op die verskil tussen waarskynlikhede gegrond op geregverdigde afleidings
en
blote bespiegeling.
23.
Om die korrektheid van die Verhoorregter se bevindings by wyse van afleiding
te toets, moet h mens die posisie waarin die eiser hom
bevind het kontrasteer
met die posisie waarin die versekerde bestuurder hom bevind het, in albei
gevalle aan die hand van die bewese
feite.
Eers, die eiser. Hy het die pad
geken en was bewus van die gevaar van stof op daardie dag. Op twee geleenthede
is waargeneem dat hy
ver genoeg agter Van Deventer gery het om buitekant die
stofwolk te bly wat deur die voorste voertuig veroorsaak is. Dit is feitlik
ondenkbaar dat hy sou gepoog het om Van Deventer verby te steek, nadat die
grootste gedeelte van die grondpad alreeds agter die rug
was en die teerpad
trouens baie naby was. Dit is inherent onwaarskynlik dat hy binne-in Van
Deventer se stofwolk sou gery het, sowel
vanwee die onaangenaamheid daarvan as
vanweë die gevaarlikheid daarvan. Die patroon van die wyse waarop hy gery
het, dui ook
op die teendeel.
24. Met die briesie van oos na wes, sou die sig
op sy linkerkant van die pad baie beter gewees het as op die regterkant daarvan.
Die
oppervlak van die pad aan die kant daarvan was heelwat fermer as in die
middel daarvan. Daar was gevolglik alle rede vir die eiser
om op sy korrekte
kant van die pad te hou, en dit is h aansienlike waarskynlikheid dat hy dit sou
gedoen het eerder as om die gevaar
te loop wat verbonde sou wees daaraan as hy
op sy verkeerde kant van die pad gery het, met die oog op die klaarblyklike
moontlikheid
dat 'n voertuig van voor af skielik uit die stofwolk tevoorskyn sou
kon kom.
Nou, die versekerde bestuurder. Soos hy by Van Deventer verbygery
het, het hy geen keuse gehad anders as om onmiddellik in 'n digte
stofwolk te ry
en deur 'n waas van onsigbaarheid gehul te word nie. Volgens Van Deventer se
getuienis het die versekerde bestuurder,
toe hy hom genader het, ongeveer in die
middel van die pad gery, en toe na sy linkerkant
25.
oorgegaan om verby Van Deventer te kom. Soos vroeër vermeld, het die
versekerde bestuurder, toe hy verby Van Deventer gery het,
oor sy skouer na
laasgenoemde gekyk en met sy hand iets beduie. Sy aandag was dus op daardie
oomblik nie op die pad voor hom toegespits
nie, en onmiddellik daarna het hy
homself bevind in 'n toestand waar sy sig nul was, en vir die tyd daarna aldus
gebly het, terwyl
hy voortgery het, tot h oomblik of wat voordat die botsing
plaasgevind het. In sy posisie, is dit inherent waarskynlik dat hy
gedisoriënteerd
geraak het ten aansien van sy posisie op die pad, en dat hy
sy rigting byster geraak het en aldus oorbeweeg het na sy verkeerde kant
van die
pad.
Na my oordeel spreek die gevolge van die teenstelling wat ek hierbo
geskets het, tussen die posisie waarin die eiser was en dié
waarin die
versekerde bestuurder homself bevind het, vanself. Die afleidings wat die
Verhoorregter daaruit gemaak het, en sy gevolglike
bevindings op 'n oorwig
van
26.
waarskynlikhede, is onaanvegbaar.
Die appél word van die hand gewys, met koste.
A.S. BOTHA AR
MILNE AR
STEM SAAM STEYN AR