South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 61

| Noteup | LawCite

S v Maans (292/89) [1990] ZASCA 61 (30 May 1990)

Download original files

PDF format

RTF format


Saak nr 292/89 /MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA-
(APPèLADELING) In die saak tussen

ANDRE DANIEL JOHN MAANS Appellant
- en -
DIE STAAT Respondent
CORAM: VAN HEERDEN, VIVIER ARR et

NICHOLAS Wn AR.
VERHOOR: 18 MEI 1990.
GELEWER: 30 MEI 1990.

UITSPRAAK

VIVIER AR.

2/...
2. VIVIER AR:

Die appellant is in die Kaapse Provinsiale Afdeling" deur TEBBUTT R en twee assessore aan moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind. Ene Dolphina Visser ("Dolphina") wat saam met die appellant op dieselfde aanklagte verskyn het, is aan die einde van die staatsaak op al die aanklagte onskuldig bevind en ontslaan. Die Verhoorhof het bevind dat daar geen versagtende omstandighede by die moord aanwesig was nie, en die appellant is gevolglik op hierdie aanklag ter dood veroordeel. Op die aanklag van verkragting is die appellant tot 10 jaar gevangenisstraf en op die aanklag van roof met verswarende omstandighede tot 3 jaar gevangenisstraf gevonnis. Met die verlof van die Verhoorregter appelleer hy na hierdie Hof teen sy skuldigbevinding op al drie

3/...

3.

aanklagte. Daar is geen appèl teen die vonnisse nie. Die aanklagte teen die appellant spruit uit 'n aanval op 'n 53-jarige blanke vrou ("die oorledene") in 'n onbewoonde gebied naby 'n opgaardam bekend as die Rooidam net buite die dorp McGregor. Die oorledene, wat van haar man geskei was, het alleen in 'n huis op die plaas Houtbaai ongeveer 1 km vanaf McGregor gewoon. Ongeveer halftien op Saterdagoggend 12 Desember 1987 het sy, soos haar gewoonte was, langs 'n voetpaadjie wat aan die oostekant naby die Rooidam verbyloop, dorp toe gestap. Ongeveer vyf-oor-tien die oggend het konstabel de Kock van die polisie op McGregor rook gewaar, ondersoek ingestel en gesien dat die bosse in die omgewing van die Rooidam aan die brand is. Hy het die munisipale werkers ontbied en een van hulle het die half-verkoolde lyk van die oorledene ongeveer 40 tree wes van die damwal en halfpad tussen

4/...

4.

die damwal en 'n sement opgaardam wat verder wes geleë is, gevind. Die hele gebied in die omgewing van die lyk was verbrand. Konstabel de Kock, wat kort daarna, op die toneel gekom het, het getuig dat die oorledene op haar rug gelê het en dat die onderste gedeelte van haar liggaam nakend was. Haar boonste kledingstukke was opgeskuif tot op haar borste en die hopie as van haar onderste kledingstukke het op haar linkerenkel gerus. Haar gesig was onherkenbaar verbrand. Hy het h baksteen by haar kop en nog een by haar voete gevind. Die polisie het later daarin geslaag om die lyk te eien aan sleutels wat langs die lyk gevind is,sowel as aan 'n stuk onverbrande materiaal wat die oorledene se buurvrou, Eva Adendorff, herken het as deel van die sweetpak wat die oorledene daardie oggend aangehad het. Konstabel de Kock het verder getuig dat hy later dieselfde dag 'n vars skoenspoor,so

5/...

5.

groot soos diè van 'n mansskoen, ongeveer 15 tot 20 meter vanaf die plek waar die lyk gevind is, in die modder naby 'n dieselaangedrewe waterpomp langs die Rooidam gevind het. Die volgende dag het hy stoeimerke gevind in die voetpaadjie waarlangs die oorledene dorp toe gestap het. Daarvandaan het skoenspore skuins oor die veld na die plek waar die oorledene gevind is, gelei. Van die spore was soortgelyk aan dié van die skoene wat die oorledene die oggend gedra het.
Eva Adendorff het getuig dat die oorledene reeds vroeg die betrokke oggend vir haar gesê het dat sy dorp toe gaan. Tussen halftien en tienuur het die oorledene by haar huis verby gestap op pad dorp toe. Die oorledene het 'n bruin handsak, wat Eva as 'n "slingbag" beskryf het, oor haar skouer gedra en sy het 'n paar blou North Star skoene aangehad. Eva se getuienis oor hoe laat die oorledene

6/...

6.

dorp toe is, is in ooreenstemming met die getuienis van die oorledene se dogter, Johanna Susanna Cundell, wat getuig het dat sy net na nege-uur dié oggend met haar moeder oor die telefoon gepraat het en dat sy afgelei het dat laasgenoemde van voorneme was om ongeveer halftien daardie oggend dorp toe te stap.
Die ondersoek-beampte, speurder-adjudant-offisier Smit, het getuig dat hy die betrokke dag die waterpomp ondersoek en tekens gevind het dat dieselolie kort vantevore uit die tenk van die pomp getap is. Die tenk is bo-op die pomp gemonteer sodat dieselolie daaruit met 'n plastiekagtige pypie na die pomp vloei. Waar hierdie pypie met 'n koperpypie aan die pomp verbind word, was duidelike tekens te sien dat die plastiekpypie onlangs losgemaak was. Omdat die pomp slegs ongeveer 38 tree is van die plek waar die lyk gevind is, het Smit afgelei

7/...

7.

dat dieselolie in 'n houer uit die tenk getap was en dat die oorledene daarmee aan die brand gesteek is. Geen sodanige houer kon egter opgespoor word nie.
Smit het voorts getuig dat hy die appellant die aand van 12 Desember 1987 arresteer het. Ten tyde van sy arrestasie het die appellant 'n blou sweetpak-broek, 'n donkerkleurige hemp en wit skoene aangehad. Die appellant het aan Smit gesê dat hy dieselfde broek en skoene die Saterdagoggend aangehad het, maar hy het volstrek geweier . om te sê waar die ander klere was wat hy die oggend aangehad het. Die appellant het op daardie stadium by sy suster, Cynthia Jansen, gewoon. Die volgende dag het Smit by die huis van Cynthia Jansen 'n blou trui, 'n blou broek en 'n blou hemp gekry wat laasgenoemde se 18-jarige huisbediende, Rosetta Johnson, aan hom oorhandig het. Die klere was pas gewas en was nog nat. Volgens Rosetta

8/...

8.

Johnson se getuienis het die appellant gedurende die betrokke Saterdagoggend by Cynthia Jansen se huis gekom en ander klere en 'n paar wit skoene aangetrek. Hy het haar gevra om die klere wat hy aangehad het, te was maar sy het geweier en die klere net so op die vloer gelos. Sy het later die klere, wat intussen deur 'n ander getuie, Ju-hene Maans gewas is, aan Smit oorhandig. Volgens Smit is die swart skoene wat die appellant die Saterdagoggend sou aangehad het, nooit opgespoor nie. Rosetta Johnson het verder getuig dat die appellant die betrokke Saterdagoggend aan haar 'n silwerkleurige Casio dameshorlosie verkoop het vir R2-00. h Paar dae later het die appellant se ander suster, Johanna Kroukamp, die horlosie by haar geneem sonder om haar daarvoor te vergoed. Volgens die oorledene se dogter, mev Cundell, het die oorledene 'n silwerkleurige Casio armhorlosie besit. Johanna Kroukamp het namens

9/...

9.

die verdediging getuig dat sy niks van die horlosie af weet nie. DieVerhoorhof het Rosetta as 'n baie goeie getuie beskryf en haar getuienis dat die appellant 'n Casio horlosie op die betrokke dag aan haar verkoop het, aanvaar. Die getuienis van Johanna Kroukamp is verwerp. Die Verhoorhof het ook die getuienis verwerp van Cynthia Jansen, wat getuig het dat Rosetta voor die voorval reeds self 'n Casio horlosie besit het. Rosetta se getuienis was dat haar eie horlosie 'n Dion horlosie was.
Getuienis is namens die Staat by die verhoor gelei van drie buitegeregtelike mondelinge bekentenisse deur die appellant. Die eerste beweerde bekentenis is op 29 Desember 1987 aan die appellant se broers Ernest en Frederick en sy swaer Abraham Petrus Kroukamp by laasgenoemde se huis gemaak net nadat die appellant voor sy verhoor op borg vrygelaat is. Die tweede en derde

10/...

10.

bekentenisse is na bewering vroeg in 1988 in die gevangenis
op Robertson aan onderskeidelik die gemelde Ernest en
ene Albertus Davids gemaak nadat die appellant se borg
vroeër in 1988 ingetrek is. Dit is gerieflik om eerste
te verwys na die getuienis van Davids, wat ten tyde van
die verhoor besig was om 'n vonnis van vier jaar
gevangenisstraf weens diefstal uit te dien. Hy het getuig dat hy en die appellant gedurende 1988 saam in een sel in die gevangenis in Robertson aangehou is terwyl hulle verhoorafwagtend was. Dit was algemeen bekend onder die gevangenes dat hy (Davids) vantevore in die dodesel was. Hy was in 1949 die doodstraf opgelê maar die vonnis is later na 15 jaar gevangenisstraf verander. Davids het getuig dat die appellant aan hom vertel het dat hy van moord op 'n blanke vrou aangekla word en wat gebeur het. Hy het gevra dat Davids, "as 'n man wat al darem by die tou was" vir hom moes raadgee oor wat om te sê

11/...

11.

wanneer hy in die hof kom. Die appellant het hom vertel dat hy een oggend alleen op pad dorp toe was vanaf die plaas Houtbaai naby McGregor toe hy 'n blanke vrou in die voetpaadjie waarlangs hy gestap het, teenkom. Die appellant het gesê dat hy die vrou gevang en haar na die sloot by die waterpomphuis geneem het. Hy het haar gevra wat sy in haar "slingbag" het en sy het geantwoord dat daar geld in is waarmee sy wou vleis koop. Hy het die handsak by haar afgeneem en R10-00 daarin gekry wat hy in sy sak gesteek het. Hy het die vrou op die grond neergegooi en haar verkrag. Daarna het hy haar omgedraai sodat sy op haar maag lê waarna hy haar van agter gepenetreer het. Sy het gepleit dat hy haar moet los en gesê dat sy hom en sy ouers goed ken, waarop hy geantwoord het: "Dis goed dat jy my ken en dit is die laaste wat jy nou vir my sal ken". Terwyl sy op haar maag op die grond

12/...

12.

gelê het, het hy haar met 'n baksteen teen die kop bewusteloos
geslaan. Daarna het hy takke en blare op haar gegooi
en met 'n gellingblikkie wat in die helfte gesny is, diesel
uit die tenk van die dieselpomp getap en dit oor die vrou
gegooi. Hy het haar armhorlosie afgehaal en in sy sak
gesit en toe met h aansteker die vuur aangesteek. Nadat
die vuur 'n rukkie gebrand het, het hy die vrou omgedraai
en toe bemerk dat haar gesig nog nie verbrand het nie.
Hy het toe bossies nader aan haar gestoot sodat haar
gesig ook kon verbrand.
Davids het voorts getuig dat die appellant aan hom gesê het dat toe hy daarna die toneel verlaat, hy opgemerk het dat sy klere vol bloed is. Hy het huis toe gegaan en ander klere aangetrek. Die klere wat hy aangehad het, het hy in 'n bondeltjie gedraai en dit in sy suster se wasgoedmandjie onder die ander wasgoed gesit. Die

13/...

13.

horlosie het hy "oorhandig aan die servant wat onder sy suster werk". Davids het getuig dat hy nog nooit op McGregor was nie. Oor hoe dit gekom het dat hy getuienis in die huidige saak gegee het, het Davids gesê dat hy eers die dag voordat hy getuig het, deur 'n speurder genader is om te getuig. Die speurder het aan hom gesê dat hy van die appellant se broer, Ernest, wat op h stadium saam met die appellant en Davids in dieselfde sel in die gevangenis op Robertson aangehou is, gehoor het dat die appellant altyd met Davids gepraat het en dat Davids iets van die saak af mag weet.
Ek verwys vervolgens na die bekentenis wat die appellant na bewering aan sy broer Ernest in die gevangenis in Robertson gemaak het. Ernest Maans het voor Davids, by die verhoor getuig. Hy het aanvanklik slegs getuig oor die bekentenis wat die appellant op 29 Desember 1987

14/...

/

14.

sou gemaak het. 'n Paar dae nadat hy aanvanklik getuig het, en nadat Albertus Davids intussen getuig het, is Ernest deur die Staat herroep en hy het toe vir die eerste keer melding gemaak van 'n bekentenis wat die appellant aan hom sou gemaak het terwyl hulle in dieselfde sel in die gevangenis in Robertson aangehou was. Hy het toe getuig dat hy in 1985 in die hof op een of ander aanklag moes verskyn maar dat hy "die hof geminag het". Hy het hom op 22 Januarie 1988 aan die polisie gaan oorgee en het so as verhoorafwagtende gevangene in genoemde gevangenis beland. Gedurende Maart 1988 was hy en die appellant in dieselfde sel toe laasgenoemde hom vertel hoe hy die huidige misdade gepleeg het. Die appellant het aan hom gesê dat hy die betrokke Saterdagoggend vanaf Houtbaai op pad na McGregor was toe hy by 'n blanke vrou verbystap net voordat hy by die Rooidam sou kom. Hy het met 'n draai

15/...

15.

na haar teruggegaan en haar van haar geld beroof. Hy
het haar daarna verkrag. Toe hy besef dat sy sou uitvind
wie hy is, het hy besluit om haar dood te maak. Hy
het haar 'n ent gesleep, haar toe met 'n vrugtemessie of
naelknipper in die nek gesteek en haar met h klip teen
die kop gekap. Hy het daarna diesel by die dam gaan
haal wat hy saam met takke op die vrou gegooi en haar
aan die brand gesteek het.
Ernest het verder getuig dat die appellant aan van sy ander selmaats ook vertel het hoe hy die misdade gepleeg het. Albertus Davids was saam met hulle in dieselfde sel, maar hy het nie gehoor dat die appellant aan Davids vertel wat gebeur het nie. Davids het egter aan hom (Ernest) gesê dat die appellant hom wel vertel het. Ernest het sy versuim om in sy aanvanklike getuienis melding te maak van die bekentenis wat die appellant aan

16/...

16.

hom in die tronk gemaak het, verduidelik deur te sê dat
hy sy verklaring aan die polisie gemaak het kort nadat
die appellant op borg vrygelaat is en voordat die appellant
laasgemelde bekentenis aan hom gemaak het. Nadat hy
die eerste keer getuig het, het hy besluit om die Verhoorhof
ook van die appellant se bekentenis aan hom in die gevangenis
te vertel. Hy het gevolglik die seksiebeampte in die
gevangenis waar hy ten tyde van die verhoor besig was
om h vonnis van 5 jaar en 6 maande weens huisbraak en
diefstal uit te dien, in kennis gestel en hy is toe deur
die polisie na die hof gebring waar hy aan h speurder
en mnr Slabbert, wat vir die Staat by die verhoor verskyn
het, vertel het wat die appellaht aan hom in die tronk
gesê het.

Om redes wat later sal blyk, is dit nie nodig om die beweerde bekentenis van 29 Desember 1987 te behandel nie.

17/...

17.

Prof Schwär, die patoloog wat die lykskouing op die liggaam van die oorledene gedoen het, het getuig dat die liggaam in 'n gevorderde stadium van verbranding was met 'n gedeeltelike verkoling van die linkerkant van die liggaam. Prof Schwär het gesê dat hoewel die oorledene op haar rug gelê het toe haar liggaam gevind is, dit onmoontlik is dat sy op haar rug kon gelê het toe die vuur aangesteek is, omdat sy dan geen brandwonde op haar rug sou gehad het nie, terwyl haar rug inderdaad erg verbrand was. Prof Schwär het geen tekens van skedelbreuk of beserings aan die oorledene se geslagsorgane gevind nie. Hy het die moontlikheid van 'n natuurlike oorsaak van dood uitgeskakel, alhoewel hy nie kon sê wat presies die oorsaak van haar dood was nie.

Die appellant se getuienis by die verhoor was dat hy die aand voor die moord by Dolphina op die plaas

18/...

18.

Houtbaai geslaap het. Die betrokke Saterdagoggend het hy met die voetpad waarna reeds verwys is, na McGregor gestap. Toe hy verby die Rooidam stap, het hy rook agter die bome in die omgewing sien uitkom. Hy het verder niks ongewoons gesien of gehoor nie. Hy het aangestap dorp toe en net toe hy in die dorp kom, het hy twee vroue ver voor hom in die pad gesien. Alhoewel hy hulle nie herken het nie, het hy "maar net geskat op 'n naam en toe maar net geroep 'Anna' ". Hulle het omgekyk en hy het vir hulle gewaai. Toe hy by sy suster Cynthia Jansen se huis kom, het hy sy klere uitgetrek, gebad en skoon klere aangetrek. Hy het ontken dat hy ooit vir Rosetta 'n horlosie gegee het. Alhoewel hy erken het dat hy saam met Davids en sy broer Ernest in die tronk was, het die appellant hulle getuienis ten opsigte van die beweerde bekentenisse ontken.

19/...

19.

Die appellant se eienaardige getuienis omtrent sy ontmoeting met die twee vroue is gegee in antwoord op die getuienis van twee susters, Anna en Flora Adendorff, wat namens die staat getuig het. Hulle het getuig dat hulle die betrokke Saterdagoggend dorp toe gestap het met die betrokke voetpad. Die appellant het van agter vanaf die rigting van die Rooidam nader gekom, gesê "Môre aunt Anna" en by hulle verbygestap dorp toe. Dit was toe halftien die oggend. Anna Adendorff het getuig dat sy op die kerkhorlosie gekyk het en gesien het dat dit halftien was.

Die Verhoorhof het die getuienis van die appellant verwerp en hom as 'n deurtrapte leuenaar beskryf. Die Verhoorhof het verder bevind dat die appellant die bekentenisse aan Davids en Ernest Maans gemaak het met die inhoud soos deur hulle getuig, en dat daar voldoende

20/...

20.

stawing vir die bekentenisse was in die ander staatsgetuienis, soos vereis deur art 209 van die Strafproseswet 51 van 1977.
Wat die bekentenisse betref, het mnr Van der Merwe, wat namens die appellant voor ons verskyn het, betoog dat Davids en Ernest Maans saamgespan het om 'n storie teen die appellant saam te flans, dat hulle egter nie die detail daarvan bespreek het nie, en dat die besonderhede wat voorkom in die bekentenis waaroor Davids getuig het, die versinsels is van 'n siek brein wat lank in die gevangenis oor vroue gedroom het. Na my mening is daar geen basis vir die betoog nie en is dit sonder meriete. Die besonderhede wat in die bekentenisse voorkom waaroor beide Ernest Maans en Davids getuig het, is van so 'n aard dat hulle dit slegs van die appellant kon gekry het. Die enigste ander moontlikheid, naamlik dat hulle

21/...

21.

deur adjudant-offisier Smit voorgesê is, is deur die Verhoorhof oorweeg en tereg verwerp. Die besonderhede van die seksuele aanranding waaroor Davids getuig het, is, na my mening, glad nie so vreemd vir ons strafhowe soos wat mnr Van der Merwe wou voorgee nie. Verder is sterk stawing daarvoor te vind in die besliste getuienis van Dr Schwär dat die oorledene op 'n stadium toe sy verbrand is, op haar maag moes gelê het, omdat die ergste verkoling op haar rug was en sy geen brandwonde op haar rug sou gehad het as sy die heeltyd op haar rug gelê het nie. Davids se getuienis dat die appellant aan hom gesê het dat toe hy die vuur aansteek, die oorledene op haar maag gelê het en dat hy haar later op haar rug gedraai het om ook haar gesig te verbrand, stem presies ooreen met wat Dr Schwar getuig het. Daar is ander detail in die bekentenis waaroor Davids getuig het, wat deur aanvaarde

22/...

22.

staatsgetuienis bevestig word. So word die appellant
se mededelings aan Davids dat hy die oorledene se
polshorlosie aan die "servant wat onder sy suster werk"
gegee het, en dat hy skoon klere aangetrek en die ander klere
laat was het, gestaaf deur die getuienis van Rosetta Johnson.
Die appellant se mededeling aan Davids dat die oorledene
'n "slingbag" gedra het, stem presies ooreen met die getuienis
van Eva Adendorff dat die oorledene kort voor haar dood
by haar verbygestap het met 'n "slingbag" oor haar skouer.
Volgens Davids het die appellant aan hom vertel dat hy
die oorledene met 'n baksteen teen die kop gekap het.
Konstabel de Kock het inderdaad 'n baksteen langs die
oorledene se kop gevind. Daar is ander detail in Davids.

se relaas soos die verwysing na die voetpad na die dorp,

die waterpomphuis, die dieselpomp en die diesel wat

uit die pomp getap is, wat hy slegs van die appellant

23/...

23.

kon gekry het en wat, na my mening, 'n waarborg vir die betroubaarheid van Davids se getuienis daarstel. Die bekentenis wat die appellant volgens Ernest Maans aan hom in die gevangenis gemaak het, stem wesenlik ooreen met dié waaroor Davids getuig het, alhoewel dit nie soveel besonderhede bevat nie, iets wat mens sou verwag het indien daar wel 'n samespanning tussen dié twee was. Na my mening is daar geen rede om in te meng met die aanvaarding van die getuienis van Davids en Ernest oor die bekentenisse wat die appellant aan hulle in die gevangenis gemaak het nie.

Dit is gevolglik onnodig om na die verdere bekentenis te verwys wat die appellant op 29 Desember 1987 sou gemaak het.

Mnr Van der Merwe het betoog dat die getuienis van Anna en Flora Adendorff beteken dat die appellant

24/...

24.

nie die misdade kon gepleeg het nie aangesien die oorledene eers om halftien die betrokke oggend dorp toe gestap het terwyl, volgens hul getuienis, die appellant toe reeds verby die Rooidam en feitlik in die dorp was. Die getuienis van die twee Adendorff-susters oor presies hoe laat die appellant by hulle verbygestap het, is, na my mening, sterk te betwyfel. Dit is eienaardig dat Anna op die kerkhorlosiesou gekyk het juis toe sy die appellant gewaar, en nog meer eienaardig dat sy aan Flora sou gesê het dat dit halftien is. Hulle getuienis skep die indruk dat-hulle agterna daarop uit was om 'n presiese tyd te bepaal vir die toevallige ontmoeting met die appellant. Die appellant self wou nie erken dat hy die Adendorff-susters ontmoet het nie. Na my mening kan nie op die getuienis van Anna en Flora Adendorff bevind word dat die appellant nie die misdade kon gepleeg het nie.

25/...

25.

Mnr Van der Merwe het ten slotte betoog dat 'n foto wat van die liggaam van die oorledene in die lykshuis geneem is, twyfel werp op die betroubaarheid van die appellant se bekentenisse. Mnr Van der Merwe het betoog dat die foto toon dat die oorledene nog haar damesbroekie aan het sodat dit te betwyfel is of sy inderdaad verkrag is. Ek kan nie met die betoog saamstem nie. Die getuienis van konstabel de Kock, waarna ek reeds verwys het, was uitdruklik dat die oorledene se onderlyf nakend was toe hy die liggaam gevind het. Hierdie getuienis is nie by die verhoor betwis nie. Dit is ook nooit by die verhoor aangevoer dat 'n broekie op die foto sigbaar is nie en hierdie aspek is gevolglik nie verder ondersoek nie. Geen tekens van 'n broekie is waarneembaar op die foto nie, alhoewel die foto nie duidelik is nie.

Ek is gevolglik van mening dat die appellant

26/...

26.

tereg skuldig bevind is. Die appèl teen al sy skuldigbevindings word afgewys.

W. VIVIER. AR.

VAN HEERDEN AR)
Stem saam. NICHOLAS Wn AR)