South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 45

| Noteup | LawCite

S v Gwe (619/89) [1990] ZASCA 45 (4 May 1990)

Download original files

PDF format

RTF format


619/89 N v H

VICTORIA GWE / DIE STAAT

SMALBERGER, AR

619/89
N v H

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:
VICTORIA GWE Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: SMALBERGER, KUMLEBEN, ARR,

et NIENABER, Wn AR
VERHOORDATUM: 4 MEI 1990
LEWERINGSDATUM: 4 MEI 1990

REDES VIR UITSPRAAK:

SMALBERGER, AR :-

Ongeveer agtuur op Maandagaand, 25 Augustus

1986 is Stanley William Hinrichsen ("die oorledene") 'n
dodelike skietwond toegedien tydens 'n gepoogde rooftog
by sy huis in Constantia, Kaapstad. Voortspruitend
uit hierdie voorval het die appellant (as beskuldigde

2/

2

5) saam met vyf ander beskuldigdes in die Kaapse Provinsiale Afdeling voor LATEGAN, R en twee assessore tereggestaan op aanklagte van, onder andere, huisbraak met die opset om te roof, waarby verswarende omstandighede aanwesig was (aanklag 1), en moord (aanklag 2). Die appellant is op albei aanklagtes skuldig bevind. Op aanklag 1 is sy tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis; op aanklag 2, by ontstentenis van versagtende omstandighede, is sy ter dood veroordeel. Verlof is deur die Verhoorregter aan die appellant verleen om na hierdie Hof te appelleer teen haar skuldigbevinding en vonnis op die moord-aanklag. Haar appèl het geslaag, en haar skuldigbevinding en vonnis op aanklag 2 is tersyde gestel - sien die uitspraak van hierdie Hof gelewer op 10 Maart 1988 in saak nr 418/87 ("die Appèlhof-
uitspraak"). Ofskoon die appellant ook verlof verleen


3/

3

was om appèl teen haar vonnis op aanklag 1 aan te

teken, het sy nie die appèl voortgesit nie. Na die

Appèlhof-uitspraak is daar, op aansoek van die appellant, déur hierdie Hof aan haar verlof verleen om appèl teen haar skuldigbevinding op aanklag 1 aan te teken. By die aanhoor van die appèl is haar appèl toegelaat, en haar skuldigbevinding en vonnis op aanklag 1 is tersyde gestel. Die redes vir ons beslissing volg.
Die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die appellant se skuldigbevindings blyk uit die Appèlhof-uitspraak. Die hooftrekke met betrekking tot aanklag 1 is die volgende. Ten tyde van die oorledene se dood was die appellant as huisbediende in diens van die Hinrichsens. Sy het 'n kamer op die perseel bewoon. Die voorafgaande Donderdagmiddag het sy besoek gaan aflê by haar suster (beskuldigde 6) te New

4/


4
Crossroads. Hulle het, onder andere, oor geldsake
gepraat. In die loop van die gesprek het die
appellant melding gemaak van die feit dat sy vir 'n
goeie loon werk, en bygevoeg dat by haar werkplek "lê
geld rond". Op dié tydstip het beskuldigde 1
daar aangekom. (Beskuldigdes 1 en 6 het destyds

saamgewoon as man en vrou.) Wat daarna gebeur het
blyk uit die volgende aanhaling uit die hoofgetuienis
van die Staatsgetuie, Sihlwele Thomas, wie se getuienis
deur die Verhoorhof aanvaar is:-

"Terwyl hulle so gesels, het beskuldigde no 1 opgedaag. Hy vra toe, wat se geld praat julle van en waar is die geld. Beskuldigde no 5 sê vir hom dat die geld by haar werk is. Beskuldigde no 1 wou weet hoeveel geld dit was, waarop beskuldigde no 5 geantwoord het deur te sê, sy weet nie hoeveel dit is nie, maar dit is in h brandkas. Beskuldigde no 1 vra vir haar, waar is die brandkas. Beskuldigde no 5 het aan hom gesê dat die brandkas in die gang is. Beskuldigde no 1 vra, nou sê nou maar 'n mens wil nou daar by die geld kom, hoe moet hy te werk gaan. Beskuldigde no 5 sê vir hom, daar is h hond
5/
5
by die huis en dat daar 'n alarmstelsel in die huis is. Hy vra vir haar, hoe is die man daarso, is dit 'n sterk man of is dit 'n man wat swak is. Beskuldigde no 5 sê vir hom, nee, dit is 'n bejaarde man. Beskuldigde no 1 vra vir haar, besit hy enige vuurwapens. Beskuldigde no 5 sê nee, ek weet nie, ek het dit nog nooit gesien nie. Beskuldigde no 5 sê verder vir beskuldigde no 1, indien hy gaan kom, dan sal ek toesien dat ek 'n klip voor die hond se hokkie se deur plaas sodat die hokkie nie - die hond nie kan uitkom nie en dan die kombuisdeur ongesluit los. Daarna het ek geloop."

Na haar besoek aan beskuldigde 6 het die

appellant geen aandeel gehad in die beplanning en
uitvoering van die rooftog nie. In dié verband het
VIVIER, AR hom as volg uitgelaat in die Appèlhof-

uitspraak:

"Dit moet in die eerste plek beklemtoon word dat, nadat sy vroeg die Vrydagoggend teruggekeer het na haar werkplek ná haar besoek aan beskuldigdes 1 en 6, sy nie weer op énige wyse in verbinding was met die ander beskuldigdes nie. Sy was dus onbewus van beskuldigdes 3 en 4 se deelname aan die rooftog, van die vuurwapen wat deur laasgenoemde . verskaf is en van die feit dat

6/

6
daar 'n rooftog vir die Maandagaand beplan was. Daar is verder geen getuienis dat sy enige rol gespeel het in die gebeure van daardie aand nie."

Die appellant se aandadigheid moet beoordeel word aan
die hand van die getuienis aangaande die gebeure wat
die Donderdagmiddag by beskuldigde 1 en 6 se huis
plaasgevind het. Dié appellant sou alleenlik as
medepligtige aan aanklag 1 skuldig bevind kon word as
daar 'n vaste besluit daardie middag geneem is, waartoe

sy 'n party was, om die rooftog uit te voer, en die
gepoogde rooftog die volgende Maandagaand in uitvoering
van daardie besluit geskied het. Namens die Staat is
daar op appèl geredelik toegegee dat dit nie bo
redelike twyfel bewys is dat so 'n finale besluit geneem

is nie. Na my mening is hierdie toegewing tereg

gemaak. Klaarblyklik het die roof-gedagte posgevat as
gevolg van die appellant se openbaring dat daar

(skynbaar) baie geld by die oorledene se huis was. Dit

7/

7

ly ook geen twyfel dat die appellant na aanleiding van die gesprekke wat plaasgevind het die moontlikheid van 'n rooftog voorsien het nie. Maar die getuienis skiet tekort aan bewys dat sy haar daadwerklik tot 'n rooftog verbind het. Die aangehaalde getuienis van Thomas is nie vatbaar vir so 'n afleiding nie. In sy

hoofgetuienis het hy nie die aangeleentheid enigsins

verder gevoer nie. Weliswaar het hy onder

kruisondervraging deur beskuldigde 1 se advokaat bevestigend geantwoord op leidende vrae wat daarop gemik was om aan te toon dat die appellant 'n leidende rol gespeel het in die beplanning van die rooftog. Wat dit betref het hy homself egter in latere kruisondervraging deur die appellant se advokaat in verskeie belangrike opsigte weerspreek. Na my mening sou dit, wat die appellant betref, gevaarlik wees om op sy getuienis, buiten sy hoofgetuienis, peil te trek.

8/

8

Daar is geen ander aanvaarbare getuienis om die nodige

bewyse teen die appellant te lewer nie. Gevolglik was sy geregtig op haar vryspraak. Dit was onnodig om te besluit of sy haar aan 'n sameswering om te roof skuldig gemaak het aangesien sy nie daarvan aangekla is nie.
In die loop van die Appèlhof-uitspraak word gesê dat "(d)ie feite wat nie tans in geskil is nie, is dat al ses beskuldigdes 'n rooftog beplan het by die huis in Constantia, Kaapstad, van beskuldigde 5 se werkgewer". Later in die uitspraak word gesê dat "(d)aar is reeds die Donderdag voor die moord besluit om beskuldigde 5 se werkgewers te beroof". Beide hierdie stellings moet in behoorlike perspektief gesien word. Die tweede hou klaarblyklik verband met die eerste. Hulle slaan op feite wat nie vir die doeleindes van daardie appèl in geskil was nie, of nie

9/

9

in geskil geplaas is nie. Hulle kom klaarblyklik

nie neer op feitebevindings rakende betwiste
aangeleenthede nie. Die stellings is gevolglik nie
teenstrydig met die gevolgtrekkings waartoe daar in
hierdie uitspraak gekom is nie.

J W SMALBERGER APPeLREGTER
KUMLEBEN, AR - Ek stem saam NIENABER, Wn AR - Ek stem saam