South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 121

| Noteup | LawCite

S v Bezuidenhout (76/90) [1990] ZASCA 121 (28 September 1990)

Download original files

PDF format

RTF format


Saaknommer 76/90

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPeLAFDELING)

In die saak tussen:

PAUL BEZUIDENHOUT Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: HOEXTER, AR ; NICHOLAS et GOLDSTONE, Wnd ARR
VERHOOR: 17 September 1990
GELEWER: 28 September 1990

UITSPRAAK

HOEXTER, AR

2

HOEXTER, AR
Dit is'n strafappèl teen vonnis alleen. In die Noord-Kaapse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof is die appellant deur 'n hof bestaande uit regter ERASMUS en twee assessore aan o a twee aanklagte van moord skuldig bevind. Daar die verhoorhof bevind het. dat geen versagtende omstandighede aanwesig was nie, is die appellant op beide skuldigbevindinge ter dood veroordeel. Met verlof van die verhoorregter is die onderhawige appèl teen die bevinding m b t die afwesigheid van versagtende omstandighede en die daarop volgende twee doodvonisse
gerig.
Dit blyk dat op 1 September 1988 en te Bakensfontein, Strydenburg, in die distrik Hopetown, die appellant agtereenvolgens Martha Doorse, 'n 54-jarige vrou, en Estelle Dwango, 'n dogtertjie van twee jaar en tien

3

maande met 'n vlymskerp Okapi-mes ("die mes") dood gesteek het. Na sy twee slagoffers sal voortaan onderskeidelik as "die vrou" en "die kind" verwys word. By dieselfde geleentheid het die appellant 'n 5-jarige dogter ("Rebecca") met die mes aangeval. Rebecca is 'n lewensgevaarlike snywond regs van haar borsbeen toegedien. Ten opsigte van sy aanval op Rebecca is die appellant aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind en 'n vonnis van ses maande gevangenisstraf opgelê.
By die verhoor kon die presiese ouderdom van die appellant nie vasgestel word nie. Aan die hand van die aangevoerde getuienis het die verhoorhof tereg bevind dat ten tyde van die pleging van die drie misdade die appellant ten minste 20 jaar maar heel waarskynlik reeds 22 jaar oud was.

Ten spyte van sy betreklike jeugdigheid het die appellant ses vorige veroordelings op sy kerfstok. Sy

4

loopbaan as misdadiger strek oor 'n tydperk van vyf jaar. In Junie 1983 is hy aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, skuldig bevind. Daar het hy 'n mes gebruik, en 'n
vonnis van vier houe met 'n ligte rottang is hom opgelê. In November 1983 is die appellant 'n vonnis van ses maande gevangenisstraf weens veediefstal opgelê, welke vonnis in die geheel voorwaardelik opgeskort is. In Mei 1984 is die appellant weens diefstal van 'n fiets 'n vonnis van sewe houe met 'n ligte rottang opgelê. In September 1984 is die appellant andermaal aan veediefstal skuldig bevind. Hiervoor is hy tot nege maande gevangenisstraf gevonnis en terselfdertyd is die voormelde opgeskorte vonnis van ses maande gevangenisstraf in werking gestel. In April 1986 is die appellaht weer eens aan aanranding met die opset om ernstig te beseer (waarby 'n klip gebruik is) skuldig bevind. Vonnis van vier maande gevangenisstraf, in die geheel opgeskort, is hom opgelê. In Junie 1988 is die

5

appellant weens diefstal van klerasie 'n boetestraf van R90, by wanbetaling waarvan sestig dae gevangenisstraf, opgelê.
Geregtelike lykskouings op die vrou en die kind uitgevoer, het die volgende aan die lig gebring. Die vrou het twee steekwonde in die nek opgedoen waarvan een die linker sleutelbeenslagaar gepenetreer het. As gevolg hiervan het die vrou doodgebloei. In die geval van die kind was die oorsaak van dood steekwonde wat onderskeidelik die hart, die lewer en die regter long binnegedring het. Die aard en omvang van die kind se beserings het aangedui dat sy die slagoffer van 'n verwoede en meedoelose aanranding was. Daar was ongeveer dertig steekwonde voor aan die borskas waarvan vier die borsholte gepenetreer het. Op haar rug was dertien oppervlakkige steekwonde.

Aan die hand van sekere getuienis wat in limine by die verhoor deur die appellant se advokaat aangevoer is,

6

het die verhoorregter die verrigtinge onderbreek en gelas
dat ingevolge art 79 van die Strafproseswet, 51 van 1977, 'n
ondersoek na die geestesgesteldheid van die appellant

ingestel moet word. Vanaf 24 April tot 2 Junie 1989 en by
die Oranje Hospitaal te Bloemfontein is die nodige
psigiatriese ondersoek na die geestestoestand van die
appellant uitgevoer. Na afloop daarvan, en by hervatting
van die verhoor, is 'n gesamentlike verslag van twee
geregistreerde psigiaters voorgelê. Hul bevindings oor die
appellant se geestesvermoens lui soos volg:-

"4.1 Hy beskik oor die vermoë om hofverrigtinge dermate te begryp dat hy sy verdediging na behore kan voer. 4.2 Volgens beskikbare gegewens was sy vermoë ten tyde van die beweerde misdrywe om die ongeoorloofdheid van sy handelinge te besef of om ooreenkomstig 'n besef van die ongeoorloofdheid van sy handelinge op te tree nie deur geestesongesteldheid of -gebrek beïnvloed nie."

Verder vermeldingswaardig is dat luidens die verslag daar

7

gedurende sy waarnemingstydperk geen afwykende gedrag by
die appellant opgemerk is nie; dat sy denkproses, spraak
en emosionele reaksies (ook wat betref sy doen en late ten
tyde van die beweerde misdrywe) binne normale perke is; en
dat die appellant oor 'n gemiddelde intelligensie beskik.

Uit die aangevoerde getuienis blyk verder dat op

2 September 1988 die appellant 'n bekentenis voor die
landdros van Britstown afgelê het. Die tersaaklike
gedeelte van die bekentenis lees soos volg:-

"Dit was die oggend voor 12 uur. Ek het vir Martha Doorse 'n vuurhoutjie gevra. Sy het niks gesê nie, sy het 'n klip gevat en my op my regterskouer raak gegooi. Ek haal toe my knipmes uit my linkerkantse broeksak. Ek het die mes oopgemaak, toe steek ek haar voor die bors. Ek het haar net een keer gesteek, toe loop val sy. Toe steek ek haar nog 'n hou voor die bors, toe lê sy daar. Toe gaan ek na die kleintjie, na Rebecca Doorse toe. Sy het om die huis gehardloop. Toe sy by die deur uit hardloop toe steek ek haar ook een hou voor die bors. Toe ek haar klaar gesteek het, het sy langs die bos gaan sit. Toe kom sy na my toe, toe wil sy saam met my loop. Sy het 'n mes wat in 'n glas water gestaan het, gevat, toe gaan steek sy vir die

8

kleintjie, Estelle Dwango wat by 'n bos gelê en slaap het. Sy het vir Estelle 'n hele paar keer gesteek. Toe kom 'n man op my afgehardloop

Toe hardloop ek weg Ek was nugter

gewees tydens die voorval. Martha Doorse was ook nugter. Ek kan nie verstaan hoekom sy my met die klip gegooi het nie. Ek het haar net gesteek omdat sy my met 'n klip gegooi het. Ek het ook vir Rebecca Doorse gesteek omdat sy gehardloop het om my met 'n klip te gooi. Toe kon sy nie verder die klip optel nie. Dit is al."

Die dogter Rebecca is besonder klein vir haar
ouderdom. Ten tyde van die verhoor is sy aan die hof
vertoon. Sy was toe reeds ses jaar oud, maar in sy
uitspraak noem die verhoorhof dat Rebecca eerder die
voorkoms van 'n vier-jarige kind gehad het. Rebecca was
glad nie daartoe in staat om by die verhoor getuienis af te
lê nie. Nadat hy 'n vergeefse poging aangewend het om met
Rebecca 'n onderhoud te voer, het die aanklaer besluit om
haar nie as staatsgetuie op te roep nie.

Bygevolg was die enigste ooggetuie wat oor die aanval op die drie slagoffers by die verhoor getuig het die

9

appellant self. In hooftrekke het sy getuienis op die
volgende neergekom. Op die betrokke dag het hy 'n
halfbottel suurwyn verorber. Daarna is hy dorp toe. Te
Strydenburg het hy 'n bottel brandewyn gekoop en toe in die
rigting van die toneel van die misdaad gestap. Onderweg
het hy die bottel brandewyn uitgedrink en 'n zol dagga gerol
en opgesteek. Toe die zol doodgaan, het hy die vrou, die
kind en Rebecca by twee huisies in die veld aangetref.
Die appellant se relaas van wat daar plaasgevind het, word
in die uitspraak van die hof a quo bondig maar korrek in
die volgende woorde opgesom:-

"Hy ken die 'antie' sê hy. Hy sê hy het haar gegroet, maar sy het nie terug gegroet nie. Hy het haar om 'n vuurhoutj ie gevra toe raak sy opstandig en gooi hom met klippe, sonder om 'n woord te sê. Later sê hy weer, sy het gesê sy gee nie vuurhoutjies vir rondlopers nie. Sy het hom toe met 'n baksteen teen die skouer gegooi. Dit was seer. Dit het gemaak dat hy teen haar optree. Hy sien toe 'n mes op die tafel lê. Hy het verby haar gestap, die mes gevat en haar gesteek. Die kleintjies het probeer klippe optel. Die kleintjie het 'n klip opgetel en wou

10

hom daarmee gooi, toe steek hy haar een hou met
die mes. Die heel kleintjie het hy ook een hou
met. die mes gesteek. Almal wou hom met klippe
aanrand. Hy het eerste vir Martha voor die bors
gesteek, toe steek hy die kind wat oorleef het en
laastens die heel kleintjie. Hy het almal net
een maal voor in die bors gesteek. Rebecca het
toe vir die heel kleintjie wat onder die bos gelê
het, gesteek waar sy op haar maag gelê het "
In sy getuienis het die appellant beweer dat hy

ten tyde van sy aanval op die drie slagoffers dermate onder
die invloed van sterk drank en dagga verkeer het dat sy
verstand heeltemal beneweld was. In sy bekentenis aan die
landdros, aldus die appellant, het hy weens

senuweeagtigheid verkeerdelik daarvan melding gemaak dat hy
sy mes uit sy broeksak gehaal het. Voorts het die
appellant getuig dat hy ook ten onregte in sy bekentenis .
genoem het dat hy ten tyde van die gebeure nugter was. Hy
het beweer dat die polisie hom aangesê het om so voor die

landdros te praat. Uit hoofde van die appellant se

laasgenoede bewering het die verhoorhof 'n byverhoor

11

onderneem. Die byverhoor het op 'n bevinding uitgeloop dat die bekentenis toelaatbaar is.
Betreffende die toestand van die appellant sowel onmiddellik na sy aanval op die drie slagoffers as gedurende die res van die betrokke dag, was daar by monde van vérskillende staatsgetuies oorgenoeg getuienis wat onmiskenbaar op die gevolgtrekking dui dat die appellant ten tyde van die gebeure normaal voorgekom het; en dat hy goed geweet het wat hy doen. Hierdie getuienis word in die loop van 'n omvattende uitspraak van die hof a quo aangestip en deeglik ontleed. Die verhoorhof het dusdanige getuienis as betroubaar en geloofwaardig aanvaar.
Die appellant, daarenteen, het in die getuiebank 'n uiters swak figuur geslaan. By nalees van die oorkonde in hierdie saak staan dit soos 'n paal bo water dat die appellant 'n deurtrapte leuenaar is. Ek wil met eerbied saamstem met die volgende evaluering van die appellant as

12

getuie wat in die verhoof se uitspraak voorkom:-

"....... die getuienis van die beskuldigde
wemel van leuens en onwaarskynlikhede en teenstrydighede. Nadat hy onder kruisverhoor deurgeloop het, het feitlik nie 'n enkele van sy relase staande gebly nie. Soms het hy bloot leuens vertel, ander tye het hy onwaarskynlikhede verkondig, en verder het hy op die feitlike aspekte hom telkens weerspreek."

Die verhoorhof het die appellant se verweer dat hy onder
die invloed van sterk drank en/of dagga gehandel het, tereg
verwerp. Daar kan ook geen fout gevind word nie met die
verhoorhof se verdere bevindinge (1) dat al die wonde wat
die vrou en die kind opgedoen het inderdaad deur die
appellant toegedien is; (2) dat die appellant se
geestestoestand ten tyde van die gebeure sodanig was dat hy
daartoe in staat was om 'n opset te vorm; (3) dat die
appellant die volle gevolge van sy handelinge besef het;
en (4) dat hy 'n direkte opset gekoester het om sowel die
vrou as die kind om die lewe te bring. By beredenering
van die appellant se appèl is die korrektheid van bostaande

13

bevindinge geensins in twyfel getrek nie.
Sedert die appellant se verhoor in die hof benede en die daarop volgende verlof tot appél wat aan hom verleen is, is die regsposisie m b t die oplegging van die doodvonnis deur die Strafwysigingswet, 107 van 1990, ingrypend verander. Wet 107 van 1990 het die verpligte doodstraf afgeskaf. Die uitwerking van Wet 107 van 1990 word uitvoerig bespreek in drie onlangse beslissings van hierdie hof : Obed Masina and Two Others v The State, op 13 September 1990 gelewer; Abel Senonohi v Die Staat, op 17 September 1990 gelewer en John Memfu Nkwanyana and Two Others v The State, op 18 September 1990 gelewer.
Kragtens art 277 van die Strafproseswet, 51 van 1977, soos deur Wet 107 van 1990 gewysig, is die grondslag waarop 'n verhoorhof tans oor die moontlike oplegging van die doodstraf besin en besluit ten opsigte van alle halsmisdade dieselfde. Word 'n beskuldigde nou aan moord

14

skuldig bevind, bepaal art 277, soos gewysig, dat die hof 'n
bevinding oor die aan- of afwesigheid van strafverfsagtende
of -verswarende faktore moet uitbring; en slegs indien die
voorsittende regter, met inagneming van daardie bevinding,
oortuig is dat die doodvonnis die gepaste vonnis is, word
die doodvonnis opgelê. Voorts bepaal art 20 van Wet 107
van 1990 dat 'n appèl soos die onderhawige voortgesit en
afgehandel moet word asof art 277 van die Strafproseswet te
alle tersaaklike tye aldus gewysig was. Die posisie wat
tans geld is in die uitspraak in die Senonohi-saak (supra)

soos volg deur E M GROSSKOPF, AR (op bl 15) toegelig:-

"By 'n appèl teen 'n doodvonnis oefen die Appèlhof dus nou 'n onafhanklike diskresie uit. Hy moet self oordeel of, met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore wat uit die oorkonde blyk, die doodvonnis 'die gepaste vonnis' ingevolge die nuwe artikel 277(2)(b) is. Deur die invoeging van art 322(2A) het die Wetgewer dus afgewyk van die beginsel wat tot dusver in appèlle teen vonnis gegeld het, naamlik dat die hof van appèl slegs kan ingryp as die verhoorhof nie sy diskresie behoorlik uitgeoefen het nie. Tans kan hierdie hof 'n doodvonnis ter

15

syde stel waar die verhoorhof se diskresie-uitoefening onbesproke is, en bloot op grond daarvan dat hierdie hof 'n ander mening huldig oor die gepastheid van die doodvonnis."

Hieruit volg dat in die onderhawige appèl dit vir hierdie hof onnodig is om oor die korrektheid al dan nie van die verhoorhof se bevinding i v m die afwesigheid van versagtende omstandighede te beslis. Oor die vraag of die doodvonnis 'n gepaste straf vir die appellant sou wees, moet hierdie hof sy eie diskresie laat geld.

Art 20(3) van Wet 107 van 1990 verleen egter aan hierdie hof die verdere bevoegdheid om die vonnis tersyde te stel en die saak na die verhoorhof terug te, verwys met die opdrag om met 'n aangeleentheid, met inbegrip van die aanhoor van getuienis, te handel op die wyse wat hierdie hof goed ag. In die onderhawige appèl was die advokaat namens die appellant en die advokaat namens die Staat dit eens dat vir doeleindes van vonnisoplegging ingevolge Wet 107 van 1990 geen verdere getuienis rakende die

16

aanwesigheid van strafversagtende of -verswarende faktore beskikbaar was nie; en dat terugverwysing na die verhoorhof met die oog op die aanvoer van aanvullende getuienis geen doel sou dien nie. Die gepastheid van die doodvonnis moet bygevolg aan die hand van die getuienis in die oorkonde vervat, beoordeel word.
Dit is oorbekend dat strafoplegging 'n funksie is wat hom nie tot maklike formulering leen nie. In die reeds vermelde drietal beslissings wat onlangs deur hierdie hof gelewer is, word egter etlike rigsnoere uitgestippel. So byvoorbeeld het FRIEDMAN, WnAR in die Masina-saak (supra) te bl 9 - 10 daarop gewys dat "strafversagtende faktore" soos bedoel by art 277(2) (a) van die Strafproseswet, soos gewysig, 'n ruimer begrip as "versagtende omstandighede" daarstel. Met verwysing na die nuwe statutêre voorskrif dat 'n hof daarvan oortuig moet wees dat die doodstraf "die gepaste straf" is, het hierdie

17

hof in die Senonohi-saak (supra) op bl 19 as algemene

riglyn aangestip:-

"...dat die afskaffing van die verpligte doodstraf vir moord 'n aanduiding is dat die wetgewer beoog het dat die doodstraf voortaan net in gevalle van uitsonderlike erns opgelê sou word." En m b t die begripsinhoud van "die gepaste straf" het

NESTADT, AR hom in die Nkwanyana-saak (supra) op

bl 30 - 32 soos volg uitgelaat:-

"In deciding whether the death sentence is 'the proper sentence' (an expression which the Legislature has understandably not defined), mitigating and aggravating factors are not the determining consideration. The section merely provides that 'due regard' be had to
them Inherent in the expression therefore is
a recognition that other matters may be relevant if not decisive. The absence of mitigating factors (or, as before, extenuating circumstances) will not mean that the death sentence must or should be passed. Conversely the presence of mitigating factors will not mean that the death sentence must or should not be passed. And when both mitigating and aggravating factors are present, their respective force or significance will have to be weighed in order to determine whether the death sentence is a proper one. In doing this I agree with the

18

view of E M GROSSKOPF, JA in Senonohi vs S, supra (at pp 18 - 19) that regard will be had to the main purposes of punishment, namely, deterrent, preventive, reformative and retributive. This means that in deciding whether the death sentence is the proper one, consideration will be given to whether these objects cannot properly be achieved by a sentence other than the death sentence (generally a lengthy period of imprisonment). If they can then the death sentence will not be passed. This is because 'the proper sentence' (unlike 'a proper sentence') must be interpreted to mean 'the only proper sentence'. It follows that the imposition of the death sentence will be confined to exceptionally serious cases where (in the words of NICHOLAS, AJA in S v J 1989(1) SA 669(A) at 682 D, albeit in a difference context) 'it is imperatively called for.'"

Teen die agtergrond van bostaande beginsels keer ek na die
feite van die onderhawige geval terug. Na
skuldigbevinding het die appellant by sy verhoor ter
strafversagting getuig. Daaruit blyk dat die appellant
van kleins af swaargekry het en vele ontberings verduur
het. Hy het die voordeel van slegs voor-primêre

skoolopleiding gehad en hy is totaal ongeletterd. Sy eie
vader het hy nooit geken nie; en volgens die appellant het

19

hy as jong seun toegekyk toe sy stiefpa sy moeder met 'n mes dóodgesteek het. Die appellant is hoofsaaklik deur sy ouer broer grootgemaak. Behalwe vir loswerkies wat hulle op plase verrig het, het die twee broers 'n armoedige swerwersbestaan gevoer en dikwels hongersnood ervaar.
Die appellant se appèl is deur mev Fouche, wat pro deo opgetree het, beredeneer. Verder dien gemeld te worá dat mnr Erasmus, wat die respondent se saak behartig het, die moeite gedoen het om by wyse van aanvullende betoogpunte die nuwe regsposisie deur Wet 107 van 1990 geskep, toe te lig. Teenoor albei advokate wil hierdie hof sy dank betuig.
Op grond van die appellant se betreklike jeugdigheid asook sy lae beskawingspeil en maatskaplike agterstand, het mev Fouche aangevoer dat langdurige gevangesetting eerder as die doodstraf die gepaste vonnis sou wees. Dat die appellant se jeugdigheid en swak

20

maatskaplike agtergrond as sterk versagtende faktore aangemerk moet word, behoef m i geen argument nie. Voorts het die appellant se advokaat in bedenking gegee dat die hervormende uitwerking van gevangenisstraf nie uit die oog verloor moet word nie.
Na my oordeel, egter, dui sowel sy vorige veroordelings as die gruwelike aard en omvang van . sy misdrywe in die onderhawige geval eerder op die gevolgtrekking dat die appellant se kanse op hervorming as gevolg van lang-termyn gevangenisstraf uiters skraal is. Die appellant is reeds by twee geleenthede aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind, en weens dusdanige aanrandings tot lyfstraf gevonhis. Ofskoon sy orige veroordelings nie weens geweldsmisdade is nie, dien nietemin opgemerk te word dat die appellant ook nie deur daadwerklike gevangenisstraf afgeskrik is om weer tot misdadigheid oor te gaan nie. 'n Meer insiggewende

21

aanduiding van die appellant se inbors vind mens egter in die aakligheid van die lafhartige gruweldade wat hy in die onderhawige geval gepleeg het. Sy algehele verdorwenheid word veral bewys deur sy sinnelose en verwoede aanval op 'n weerlose kleuter onder die ouderdom van drie jaar. Meer nog : in plaas daarvan om oor hierdie afgryslike wandaad enige berou te betoon, het die appellant by sy verhoor deurentyd volhard met 'n belaglike en deursigtige poging om die skuld vir 42 van die kind se 43 steekwonde op die tingerige en onskuldige Rebecca te plaas. In die lig van hierdie oorwegings kom dit my voor dat indien hy nie vir die onderhawige twee moorde met sy lewe boet nie, daar 'n beduidende gevaar bestaan dat die appellant andermaal (het sy binne hetsy buite die gevangenis) tot doodslag van 'n medemens sal oorgaan.
Bostaande oorwegings staan dan ook in noue verband met die gemeenskapsbelang as 'n faktor by

22

straftoemeting. 'n Hof trag om die gemeenskapsbelang te beskerm deur 'n herhaling van die veroordeelde se misdadige vergrype te voorkom. Dit spreek vanself dat waar (soos in die onderhawige geval) dit oor 'n misdaad gaan wat vir die gemeenskap inherent verderflik is, die belange van die maatskappy meer gewig sal dra as by die geval waar die gemeenskapsbelange minder direk en nadelig getref word.
Na my beskouing word in die onderhawige geval die strafversagtende faktore deur laasgenoemde strafverswarende faktore verreweg oortref. Met inagneming daarvan, en na angsvallige oorweging van al die omliggende omstandighede van die geval, meen ek dat die twee moorde wat die appellant gepleeg het beslis albei as gevalle van uitsonderlike erns aangemerk moet word. Na my oordeel is die doodstraf t o v elkeen van die twee skuldigbevindinge aan moord die gepaste straf.

23

Die appèl word afgewys.

G G HOEXTER, AR