South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 102

| Noteup | LawCite

S v Ramba (586/89) [1990] ZASCA 102 (25 September 1990)

Download original files

PDF format

RTF format


586/89

E du P

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

MZANDILE RAMBA Appellant
en
DIE STAAT Respondent

Coram: EM GROSSKOPF, F H GROSSKOPF ARR et NIENABER WN AR.

Verhoordatum: Leweringsdatum:

17 September 1990 25 September 1990.

2

UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:
Die familie Klaas het in 'n sinkhuis op die plakkersdorp Bontrug naby Kirkwood in die Oos-Kaap gewoon. Hierdie sinkhuis is gedurende die nag van 19 tot 20 April 1985 afgebrand. Die appellant was een van 'n groep persone wat teenwoordig was toe die gebou met behulp van petrol aan die brand gesteek is. Daar het elf mense daardie nag in die huis geslaap. Twee van hulle is in die huis doodgebrand. 'n
Derde persoon wat uit die brandende huis gered is, het kort daarna aan sy brandwonde beswyk. Die oorledenes was die 58-jarige moeder van die gesin, Elizabeth Klaas (alombekend as Mankomo en hierna "Mankomo" genoem), en haar twee kleinseuns, Goodwin Klaas, 3 jaar oud, en Sandla Livingstone Klaas, 7 jaar oud. Die ander agt mense wat daardie nag in die huis geslaap het, het gelukkig betyds uit die brandende gebou ontsnap.

Die appellant het tereggestaan op drie aanklagte

3

van moord (klagtes 1 tot 3) agt aanklagte van poging tot moord (klagtes 4 tot 11) en een aanklag van brandstigting, alternatiewelik kwaadwillige saakbeskadiging (klagte 12). Dit is die staat se saak dat die appellant en daardie lede van die groep wat die aanval geloods het, die gemeenskaplike oogmerk gehad het om Mankomo te verbrand en dat die appellant met hierdie oogmerk in gedagte aktief deelgeneem het aan die aanval op die huis en sy inwoners.
Dit is gemene saak dat die appellant daardie aand saam met 'n groep persone na Mankomo se huis gegaan het en dat hy teenwoordig was toe die huis aan die brand gesteek is. Die appellant se verweer was dat hy onder dwang saamgegaan het en dat hy aan geen wederregtelike optrede deelgeneem het nie. Die hof a quo het egter bevind dat die appellant se optrede sedert vroeër daardie aand glad nie strook met dié van 'n persoon wat onder dwang gehandel het nie. Die appellant het volgens die hof a quo deurgaans 'n aktiewe rol in die optrede van die groep gespeel. Die hof a quo het verder

4

bevind dat.die appellant 'n ongeloofwaardige getuie was en dat
sy bewering dat hy nie aan die aanval op die huis en die
inwoners daarvan deelgeneem het nie, as vals verwerp moes
word.
Die hof a quo het die appellant aan klagtes 1 tot 11 en aan die hoofaanklag van klagte 12 skuldig bevind. Dit is verder bevind dat daar geen versagtende omstandighede met betrekking tot die drie moordklagtes was nie. Die appellant is gevolglik die doodvonnis opgelê op elkeen van die drie moordklagtes (klagtes 1, 2 en 3). Ten aansien van klagtes 4 tot 12 is die appellant op elkeen tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis, maar dit is gelas dat daardie vonnisse saamloop. Die appellant appelleer met verlof van die hof a quo teen sy skuldigbevinding op al twaalf aanklagte, en teen die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede ten opsigte van die drie moordklagtes was nie. Dit is namens die appellant betoog dat die geleerde

5

verhoorregter nie die getuienis van die staatsgetuies
behoorlik ontleed het nie, en dat indien hy dit wel gedoen
het, hy moes bevind het dat daar wesenlike weersprekings en
teenstrydighede in hulle getuienis was. Daar kan na my
mening wel kritiek uitgespreek word teen die getuienis van
die getuie Makwenke Mabuya vir sover daar teenstrydighede
bestaan tussen sy getuienis enersyds en sy verklaring van
ongeveer drie jaar tevore aan die polisie andersyds. In sy
verklaring aan die polisie het Mabuya onder andere gesê:

"Ek het geen petrol in die groep opgemerk nie. Die mense het jasse aangehad en moontlik die petrol
versteek."

In die hof a quo het Mabuya egter getuig dat hy gesien het
dat die appellant op pad na Mankomo se huis 'n houer met
petrol gedra het. Toe daardie teenstrydigheid tydens
kruisondervraging aan Mabuya uitgewys is, het hy geantwoord
dat hy wel vir die ondersoekbeampte van die petrol vertel
het. Dit blyk egter nie uit sy verklaring dat hy dit vir die
ondersoekbeampte vertel het nie. Sy verklaring aan die

6

polisie was weliswaar sonder behulp van 'n tolk direk in Afrikaans gemaak, maar Mabuya het nie aangevoer dat dit die rede vir hierdie en ander teenstrydighede in sy verklaring was nie.
Die appellant het betwis dat hy self petrol na Mankomo se huis gedra het. In die lig van Mabuya se weersprekings sal dit na my oordeel nie geregverdig wees om op sy getuienis alleen te bevind dat die appellant self 'n
houer met petrol na Mankomo se huis geneem het nie. Dit is-trouens ook nie wat die hof a quo bevind het nie. Wat wel bevind is, is dat die appellant vroeër die aand 'n houer met petrol by hom gehad het wat hy gesê het hy uit Mabuya se motor getap het, en dat dit die petrol was wat later gebruik is. Daardie bevinding van die hof a quo strook wel met die getuienis van Mabuya, maar dit is deur die appellant self betwis. In die lig van die onbevredigende aard van Mabuya se getuienis in hierdie verband, kan dit na my oordeel nie gesê word dat die appellant se weergawe nie redelik moontlik

7

waar kon wees nie. Dit is egter nie die einde van die storie vir sover dit die aandra van petrol betref nie. Volgens die appellant se eie weergawe het hy self gesien dat 'n sekere Killer en 'n sekere Abraham elkeen 'n vyf liter houer met petrol na Mankomo se huis dra. Dit blyk dus uit die appellant se eie getuienis dat hy ten tyde van die gebeure wel deeglik daarvan bewus was dat daar petrol na Mankomo se huis geneem word. Daar kon by die appellant geen twyfel bestaan het oor wat die voorbokke beoog het om met hierdie petrol te doen nie.

Hoewel die getuienis van Mabuya in sekere opsigte onbevredigend is, blyk dit nogtans duidelik uit sy getuienis en trouens ook uit ander getuienis dat die leiers van die groep wat hom die aand omstreeks 22:00 in Bontrug voorgekeer het, op soek was na 'n sekere Jimmy Klaassen en Mankomo, en dat hulle vermoed het dat Mabuya daardie twee persone in sy motor vervoer het. Hierdie voorbokke het nie vir Mabuya vertrou nie en om daardie rede is hulle later die nag saam

8

met Mabuya in sy motor na 'n nabygeleë plekkie genaamd Enon waar Mabuya na bewering sekere kinders vroeër die aand afgelaai het. Dit is in geskil of die rit na Enon voor of na die afbranding van Mankomo se huis plaasgevind het, maar dit is gemene saak dat die appellant en Mabuya die rit na Enon in Mabuya se motor meegemaak het. Daar was ses persone in die motor. Volgens die appellant was die ander vier almal leiers van die groep. Die appellant het beweer dat hy onder dwang in hulle geselskap verkeer het en dat Killer hom forseer het om saam te ry na Enon. Die appellant kon egter geen aanvaarbare rede verstrek waarom hy as onwillige meeloper gedwing sou word om saam met die leiers van die groep na Enon te gaan waar hulle wou vasstel of Mabuya nie moontlik vir Jimmy en Mankomo êrens heen geneem het nie. Dit is myns insiens meer waarskynlik dat die appellant saamgegaan het omdat hy self een van die belhamels was - soos Mabuýa ook getuig het. Dit sal ook verklaar waarom die appellant, net soos die ander leiers in die motor, 'n mes by hom gehad het

9

soos Mabuya verder getuig het.
Dit blyk myns insiens duidelik uit die getuienis van die getuie Elliot Mjambane dat die appellant daardie aand as een van die voorbokke van die groep opgetree het en dat hy glad nie die onwillige meeloper was wat hy later probeer voorgee het nie. Die appellant het Elliot se getuienis betwis. Hy het aan die hand gedoen dat Elliot hom valslik inkrimineer omdat Elliot 'n wrok teen hom koester as gevolg van die feit dat hy vroeër 'n kind van Elliot geslaan het. Hierdie weergawe van die appellant is egter nooit tydens kruisondervraging aan Elliot gestel nie, met die gevolg dat Elliot nie die geleentheid gehad het om daarmee te handel nie. Hierdie beweerde wrok is trouens vir die eerste keer tydens kruisondervraging van die appellant self as motief vir Elliot se beweerde vals getuienis geopper. Dit was klaarblyklik 'n nagedagte aan die kant van die appellant en

onwaar.

Die geleerde verhoorregter is gekritiseer omdat hy

10

nie in sy uitspraak uiteengesit het waarom die hof a quo die getuienis van Elliot Mjambane aanvaar het nie, maar die advokaat vir die appellant kon, behoudens die beweerde wrok, self geen rede aanvoer waarom Elliot se getuienis nie aanvaar moet word nie. Dit blyk in ieder geval duidelik uit die uitspraak dat die hof a quo Elliot se getuienis as geloofwaardig en betroubaar aanvaar het. Daar is na my mening geen rede om van hierdie bevinding te verskil nie.
Die getuie Mabuya het op Vrydag 19 April 1985 van" sy werk in Uitenhage gekom, maar besluit om vanweë die onluste in die woongebied nie met sy motor tot by sy huis in Bontrug te ry nie. Hy was bang dat sy motor in die oproer beskadig sou word en het dit by sy vriend Elliot Mjambane se huis op 'n plaas teenaan Bontrug gelaat. Elliot het hierdie getuienis bevestig. Elliot Mjambane het in die nag wakker

geword en gehoor dat 'n persoon deur die venster vir hom sê

dat hy die motor neem. Later in die nag is Elliot weer wakker gemaak, hierdie keer deur 'n geklop aan sy deur. Hy

11

het die deur oopgemaak, 'n paraffienlamp opgesteek en gesien dat die appellant en nog 'n persoon sy huis binnegekom het. Elliot het die appellant van vroeër geken maar die ander persoon was aan Elliot onbekend. Volgens Elliot was hy en die appellant vroeër bevriend gewees toe die appellant nog vir ene Kerneels Roux gewerk het. Daardie aand het die appellant hom ondervra in verband met Mabuya se voertuig. Die appellant het hom gevra wie se motor vroeer die aand by sy huis gestaan het en waarom daardie motor by sy huis gelaat was. Elliot het geantwoord dat dit Mabuya se motor was wat hy vir hom moes oppas. Die appellant het Elliot verder gevra vanwaar Mabuya met die motor gekom het en Elliot het geantwoord dat Mabuya hom gesê het dat hy mense na Enon geneem het. Daarop het die appellant vir Elliot gevra of daar nie ander mense saam met Mabuya in die motor was nie, waarop Elliot geantwoord het dat Mabuya alleen was. Die,appellant het Mabuya toe pertinent gevra of Jimmy en nog 'n persoon nie in die voertuig was nie, maar Elliot het geantwoord dat hy

12

net die eienaar in die voertuig gesien het. Volgens Elliot het die appellant 'n lang mes by hom gehad. Die appellant het vir Elliot gewaarsku dat hy nie vir hom moet lieg nie. Daarna het die appellant Elliot se huis deursoek, maar hy het niemand daar gevind nie. Toe die appellant die huis verlaat, het Elliot gesien dat daar ander mense buite was wat toe saam met die appellant by die hek uitgegaan het.
Volgens die appellant se getuienis was dit Killer en ene Mphumi Jonas, twee van die voorbokke, wat Elliot se huis daardie aand binnegegaan het. Dit is ook tydens die kruisondervraging van Elliot aan hom gestel dat dit nie die appellant was nie, maar Killer en Mphumi Jonas wat saam met Mabuya in sy huis was. Elliot het dit ontken. Hy het getuig dat hy destyds vir beide Killer en Mphumi Jonas geken het, en dat dit nie hulle nie, maar die appellant en 'n ander onbekende persoon was wat daardie aand in sy huis was.

Dit blyk uit die appellant se getuienis dat hierdie besoek aan Elliot se huis plaasgevind het terwyl die groep

13

op pad na Mankomo se huis was. Die rol wat die appellant op daardie stadium gespeel het, was glad nie dié van 'n passiewe meeloper wat onder dwang saamgeloop het nie. Hy het aktief en aggressief opgetree en was klaarblyklik een van die belhamels wat goed geweet het na wie hulle soek en waarom daardie persone gesoek word.
Die gebeure by Mankomo se huis is deur Kaar drie dogters Nokuzola Klaas, Pumla Klaas en Nomathemba Klaas aan die hof a quo beskryf. Hulle was ooggetuies van die wrede aanval wat hierdie groep op hulle huis en die inwoners daarvan gedoen het. Daar is geen aanduiding dat hierdie dogters enige rede of motief gehad het om die appellant deur middel van vals getuienis by die pleging van die misdade te betrek nie. Dit was trouens ook nie namens die appellant aangevoer dat hierdie getuies ongeloofwaardig is nie; die betoog was dat hulle onbetroubare getuies is. Daar bestaan wel sekere weersprekings in hulle getuienis, maar na my oordeel is dit nie van 'n wesenlike aard nie. Dit moet in

14

gedagte gehou word dat hulle getuig het oor gebeure wat vier jaar tevore onder traumatiese omstandighede plaasgevind het, en dit mag een van die redes wees waarom hulle mekaar in sekere opsigte weerspreek het.
In die lig van die bevindings van die hof a quo is dit duidelik dat die getuienis van die drie dogters as geloofwaardig en betroubaar aanvaar is. Die appeílant se advokaat het my glad nie oortuig dat daardie getuienis nie aanvaar moes gewees het nie, of dat hierdie hof geregtig is om met die bevindings van die verhoorhof in hierdie verband in te meng nie. My indruk van die dogters se getuienis, en veral dié van Nokuzola Klaas en Nomathemba Klaas, is in ieder geval ook dat dit betroubaar is. Hulle getuienis stem trouens in sekere wesenlike opsigte ooreen met die appellant se eie weergawe, veral soos vervat in sy twee verklarings. Die getuienis van Pumla Klaas voer die saak nie veel verder nie, en die hof a quo het ook nie daarop gesteun nie.

Nokuzola Klaas het getuig dat haar moeder as

15

Mankomo bekend gestaan het en dat sy 'n toordokter was. Gedurende die aand van 19 April 1985 het daar iemand aan die deur van hulle huis in Bontrug geklop, maar toe hulle weier om oop te maak, is die persoon weer weg. Ongeveer 02:00 die nag was daar weer 'n geklop aan die deur. Nokuzola het gevra wie dit is en iemand het geantwoord dat sy moet oopmaak want hulle is die "maqabanes". Volgens Nokuzola betekën dit dat hulle "comrades" is. Sy het opgestaan, die deur oopgemaak en haar kop by die deur uitgesteek. Dit is gemene saak dat die maan die aand geskyn het. Nokuzola het 'n groep mense voor die deur gesien, maar volgens haar was daar nie meer as. 20 nie. Die appellant het voor gestaan en haar in die huis ingestoot. Sy het hom geken. Een van die groep het gesê hulle moet 'n lamp aansteek, wat Nokuzola gedoen het. Die groep mense was toe reeds in die huis gewees. Sy het gesien dat Abraham 'n vyf liter houer met brandstof vashou en sy het dit probeer gryp. Sy het baie stemme gehoor wat sê dat hulle vir Jimmy soek. Sy het geweet wie Jimmy was, maar hy

16

was nie daar in die huis nie. Sy het gesê hulle moet wag en eers kyk of hulle Jimmy in die huis kry. Daarop het een van die groep gesê: "Manne, kom ons maak wat ons hier kom doen het." Haar moeder wat in die slaapkamer was het gesê Jimmy is nie daar nie. Een van die groep het toe gesê: "Ja, hier is Mankomo." Volgens Nokuzola het sekere van die mense klippe in hulle hande gehad waarmee hulle die inwoners van die huis gedreig het. Die appellant het 'n mes met 'n lang lem in sy hand gehad waarmee hy hulle gedreig het. Op daardie stadium het Nokuzola by die kombuisdeur uitgevlug, oor die draad gespring en by die bure skuiling gaan soek. Later het sy haar susters hoor skreeu en gesien dat die huis aan die brand is.
Dit is in die loop van kruisondervraging aan Nokuzola gestel dat die appellant nooit verder as die drumpel van die voordeur gekom het nie, maar sy het volgehou dat hy haar in die huis ingestoot het en dat hy self ook in die huis was waar hy hulle met 'n mes gedreig het. Die appellant het

17

self getuig dat hy nooit verder as die drumpel van die deur gegaan het nie, maar die appellant kon nie 'n oortuigende verduideliking gee waarom hy in twee vorige verklarings gesê het dat hy in die huis was nie. Op 'n stadium het hy die volgende onsinnige antwoord gegee: "As 'n persoon daar by die deur staan buitekant by die deur dan beskou ek dit asof 'n
persoon in die huis is."

Nomathemba Klaas verbind ook die appellant met die pleging van die misdade. Sy het die appellant ook geken. Volgens haar getuienis het sy hom die betrokke aand by hulle huis gesien. Sy het getuig dat Abraham haar moeder uit die slaapkamer na die voorhuis gebring het en dat hy toe petrol oor haar gegooi het. Abraham het ook petrol in die voorhuis uitgegooi. Daarna het almal behalwe die appellant uitgehardloop. Hy het in die voordeur gestaan, 'n vuurhoutjie getrek het en dit in die voorhuis neergegooi. Op daardie stadium het die getuie ook uitgehardloop en het die huis aan die brand geslaan. Nomathemba is gekritiseer omdat sy

18

botsende getuienis sou gegee het met betrekking tot die vraag waar presies sy die appellant daardie aand gesien het. Indien haar getuienis egter in die geheel gelees word, is dit glad nie seker dat sy haarself in hierdie verband weerspreek het nie.
In die lig van al hierdie getuienis is die appellant se weergawe dat hy onder dwang met die groep saamgeloop het, nie redelik moontlik waar nie. Volgens sy een verklaring was hy in ieder geval eers na die voorval deur lede van die groep gedreig. Die blote feit dat die appellant hierdie vals verweer van dwang geopper het, toon reeds dat die hof a guo met reg bevind het dat hy 'n
ongeloofwaardige getuie is. Die getuienis gaan egter veel . verder en bewys na my oordeel bo redelike twyfel dat die appellant, afgesien van enige dwang, nie bloot 'n onskuldige toeskouer was nie. Dit blyk duidelik dat hy 'n aktiewe en aggressiewe rol gespeel het. Die groep het die wederregtelike, gemeenskaplike oogmerk gehad om Mankomo en

19

haar huis met petrol te verbrand, en die appellant was een van die voorbokke van die groep. Die appellant het nie slegs hierdie gemeenskaplike oogmerk gehad nie, maar hy het ook verder gegaan en daadwerklik deelgeneem aan die uitvoering van hierdie gemeenskaplike oogmerk. Na my oordeel is daar gevolglik geen meriete in die appèl teen die appellant se skuldigbevinding aan al twaalf aanklagte nie.
Die appèl teen die vonnis is slegs gerig teen die oplegging van die doodvonnis op klagtes 1,2 en 3. Die hof a quo het bevind dat daar geen versagtende omstandighede is nie en het toe die verpligte doodvonnis opgelê kragtens die bepalings van artikel 277 van die Strafproseswet, 51 van 1977, (hierna "die ou wet" genoem) soos dit destyds gegeld . het. Sedertdien het die Strafregwysigingswet, 107 van 1990, (hierna "die nuwe wet" genoem) op 27 Julie 1990 in werking getree en is die vroeere bedeling met betrekking tot die doodvonnis ingrypend deur die nuwe wet gewysig. Die relevante bepalings van die nuwe wet word volledig

20

uiteengesit en behandel in die uitsprake van hierdie hof in S v Masina and Others (saak 695/89, gelewer op 13 September 1990), S v Senonohi (saak 619/89, gelewer op 17 September 1990) en S v Nkwanyana and Others (saak 52/90, gelewer op 18 September 1990). Dit is nie nodig om al die bepalings hier te herhaal nie en ek sal slegs 'n kort samevatting van sekere van die bepalings gee.
Die nuwe wet het in artikel 4 daarvan artikel 277 van die ou wet met 'n nuwe artikel 277 vervang en daardeur weggedoen met die verpligte doodvonnis en die begrip "versagtende omstandighede". Alvorens die doodvonnis ingevolge die bepalings van die nuwe artikel 277 opgelê word, moet die verhoorhof, as een van die stappe, 'n bevinding uitbring "oor die aan- of afwesigheid van enige strafversagtende of -verswarende faktore". Uit hoofde van die bepalings van artikel 20 van die nuwe wet moet die, onderhawige appel afgehandel word asof die nuwe artikel 277 (artikel 4 van die nuwe wet) te alle tersaaklike tye in

21

werking was. Ingevolge die bepalings van artikel 13(b) van
die nuwe wet kan hierdie hof, indien hy "van oordeel is dat
hy self nie die doodvonnis sou opgelê het nie, die vonnis
tersyde stel en die straf oplê wat na sy oordeel gepas is".
Die posisie is soos volg saamgevat in Senonohi se saak,
supra:

"By 'n appèl teen 'n doodvonnis oefen die Appèlhof dus nou 'n onafhanklike diskresie uit. Hy moet self oordeel of, met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore wat uit die oorkonde blyk, die doodvonnis 'die gepaste vonnis' ingevolge die nuwe artikel 277(2)(b) is."
Dit is verder in die bogenoemde sake neergelê dat

die uitdrukking "strafversagtende faktore" 'n wyer begrip
uitdruk as wat voorheen onder "versagtende omstandighede"
verstaan was, en dat "strafversagtende of -verswarende
faktore" alle faktore insluit wat behoorlik deur 'n hof in ag
geneem kan word ter versagting of verswaring van vonnis. Met
hierdie maatstawwe voor oë, en in die lig van die feite van
die onderhawige saak, moet daar nou beslis word of die

22

doodvonnis "die gepaste vonnis" ingevolge die nuwe artikel 277(2)(b) is.
Dit blyk nie uit die getuienis wat Mankomo gedoen het wat haar die gramskap van die groep op die hals gehaal het nie, maar daar is geen twyfel dat dit die vooropgesette bedoeling van die groep was om haar te vermoor nie.
Die moorde was onteenseglik wrede en gevoellose moorde. Die groep het petrol saamgeneem toe hulle na Mankomo se huis gegaan het, en dit is duidelik dat hulle dit gedoen het met die oogmerk om Mankomo te gaan verbrand. In die proses van afbranding van die huis het die groep ook twee jong kinders doodgebrand. Hierdie is na my oordeel ernstige strafverswarende faktore.
Aan die ander kant is daar ook sekere strafversagtende faktore wat in aanmerking geneem moet word. Hierdie misdade is gepleeg tydens die 1985 onluste in die Oos-Kaap. Dit blyk uit die getuienis dat daar ten tyde van . die gebeure ernstige onrus in Bontrug geheers het en dat die

23

toestand in daardie plakkersdorp gespanne was. Die getuie Mabuya sê die toestand in die woonbuurt was "woelig" gewees. Hy was bevrees dat sy motor beskadig sou word as hy dit in Bontrug inneem en hy het besluit om die motor by sy vriend Elliot Mjambane buite die dorp te laat. Die getuie Nokuzola Klaas het getuig dat sy nie die deur van hulle huis wou oopmaak toe daar vroeër die aand geklop was nie. Sy sê hulle was bang aangesien daar "slegte dinge" in die swartwoonbuurt gebeur het. Sy het later in haar getuienis hierop uitgebrei en verduidelik dat hulle nie op daardie stadium skool bygewoon het nie en dat sale aan die brand gesteek was.
Die appellant was een van 'n groep wat deur Nokuzola as "maqabanes" of "comrades" beskryf is. Hulle optrede daardie nag was 'n groepsoptrede. Dit is bekend dat mense wat normaalweg nie gewelddadig van aard is nie, geweldsneigings kan openbaar wanneer hulle as deel van 'n groep optree en deur
'n massa-histerie meegevoer word.

Die appellant was reeds 36 jaar oud toe hy in Mei

24

1989 verhoor is. Hoewel die appellant op daardie stadium sekere vorige veroordelings gehad het, was hy nog nie voorheen aan enige geweldsmisdaad skuldig bevind nie. Die afleiding is myns insiens geregverdig dat die appellant dus nie inherent gewelddadig van aard is nie, maar dat hy daardie aand as een van die groep meegevoer is. '
'n Verdere faktor wat wel genoem kan word, maar waaraan daar nie te veel gewig geheg moet word nie, is die feit dat die appellant voor sy arrestasie 'n vaste werk gehad het en dat hy dus andersins as 'n nuttige lid van die samelewing beskou kan word.
Strafversagtende faktore wat dus in die onderhawige
saak in aanmerking geneem kan word, is die feit dat die
misdade in groepsverband ten tyde van ernstige onlustoestande
gepleeg is; die feit dat die appellant die ouderdom van 36
jaar bereik het sonder enige skuldigbevinding vir 'n geweldsmidaad; en die feit dat hy gewerk het.

Die voorgaande bevinding met betrekking tot

25

strafversagtende faktore beteken geensins dat die verhoorhof
fouteer het toe dit bevind het dat daar geen versagtende
omstandighede aanwesig was nie. Daar is reeds daarop gewys
dat strafversagtende faktore 'n wyer betekenis as versagtende
omstandighede het en dat dit faktore sal insluit wat nooit
onder die ou bedeling as versagtende omstandighede beskou sou
gewees het nie.
Die volgende vraag is of dit gesê kan word - met inagneming van die gemelde strafversagtende en -verswarende faktore - dat die doodvonnis "die gepaste vonnis" in die onderhawige saak is. Ek is nie oortuig dat dit die geval is en dat geen ander straf in die omstandighede gepas sou wees nie. (Vgl S v Senonohi, supra. In S v Nkwanyana and Others, supra, is dit beslis dat "'the proper sentence' (unlike 'a proper sentence') must be interpreted to mean 'the only proper sentence'".) Na my oordeel sal 'n lang termyn van 25 jaar gevangenisstraf onder al die omstandighede 'n gepaste straf op elkeen van die moordklagtes wees. Vanweë die.

26

kumulatiewe effek van die onderskeie vonnisse op al twaalf aanklagte sal dit gelas word dat die vonnisse op klagtes 2
tot 12 saamloop met die vonnis op klagte 1.

Die bevel van die hof is dus soos volg:

1.Die appèl teen die skuldigbevindings word afgewys.

2.Die appèl teen die doodvonnisse op klagtes T, 2 en 3 slaag. Die doodvonnisse op hierdie drie klagtes word tersyde gestel en vervang met 'n vonnis van vyf-en-twintig (25) jaar gevangenisstraf op elkeen van die drie klagtes. Dit word gelas dat die vonnisse op klagtes 2 tot 12 saamloop met die vonnis op klagte 1.

F M GROSSXOPF AR.

E M GROSSKOPF AR

NIENABER WN AR Stem saam.