South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1989 >>
[1989] ZASCA 84
| Noteup
| LawCite
S v Ngubeni and Others (494/88) [1989] ZASCA 84 (27 July 1989)
Download original files |
Saak no 494/88
E du P IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen :
JEREMIAH NGUBENI Eerste Appellant
JAMES MOKETI TSHABALALA Tweede Appellant
THULANI SHEZI Derde Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: JOUBERT, EM
GROSSKOPF et F H GROSSKOPF ARR
Verhoor: Gelewer:
2
UITSPRAAK F.H. GROSSKOPF AR:
Die drie appellante is aldrie in die
Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof aan moord en aan
roof met verswarende
omstandighede skuldig bevind. Die verhoorhof (SMUTS RP en
assessore) het verder bevind dat daar geen versagtende omstandighede by
die
pleging van die moord was nie en die appellante is elkeen die doodvonnis vir die
moord opgelê. Vir die roof met verswarende
omstandighede is die appellante
ook elkeen die doodvonnis opgelê. Die appellante appelleer teen die
skuldigbevindings op beide
aanklagte en teen die vonnisse wat hulle opgelê
is nadat verlof om te appelleer ingevolge
artikel 316(8) van wet 51 van 1977 aan hulle toegestaan is. Die oorledene en sy eggenote, mev. Muller, het op 'n plasie naby Viljoensdrif in die omgewing van die Vaaldam gewoon. Hulle het elkeen 'n plaaswinkel in die omgewing besit waar hulle as algemene handelaars besigheid gedryf het. Ten tye van die gebeure was die oorledene ongeveer 66 jaar oud
terwyl mev. Muller oor die 70 jaar oud was.
3
Gedurende die laat namiddag van Vrydag 1 Augustus
1986 het die oorledene en sy eggenote soos gewoonlik hulle
onderskeie winkels gesluit en omstreeks 19h00 saam huis toe
gery in hulle ligte vragmotor. Dit was reeds sterk skemer
toe hulle op die
plaas aankom en die voertuig se ligte het
gebrand. Op die plaas het vier
swart mans hulle voorgelê,
vermoedelik in die verwagting dat die
winkels se kontant geld
op Vrydagaande huis toe gebring word. Dit is die
getuienis
van mev. Muller dat hulle die week se geld eers
Saterdagmiddae
huis toe gevat het.
Die oorledene het die voertuig bestuur en stilgehou
by die hek wat toegang tot die werf verleen. Mev. Muller,
wat langs die
oorledene gesit het, het uitgeklim om die hek
oop te maak. Toe sy by die hek
kom, het sy vier swart mans
van die skuur se kant af sien aankom en sy het
die oorledene
kort daarna hoor vra: "wat wil julle hê?". Twee van die
mans het
haar aangeval en twee het na die oorledene gegaan.
Een van die mans het haar neus toegedruk en haar terselfder-
tyd aan die gorrel gegryp. Dit was waarskynlik om te verhoed
dat sy skreeu. Dit is ook haar getuienis dat een van die
4
mans aan haar gesê het: "Skree net dan maak ons jou dood".
'n Ander
swart man het mev. Muller daarna een hou met 'n kierie oor die kop geslaan.
Hierdie man het onmiddellik daarna na die regterkant
van die vragmotor
gehardloop waar die oorledene nog in die voertuig gesit het. Die kierie waarmee
mev. Muller oor die kop geslaan
is, is waarskynlik die kierie met die metaal
moer aan die een punt wat die polisie later op die grond langs die voertuig
opgetel
het en wat as 'n bewysstuk voor die verhoorhof gedien het. Mev. Muller
beskryf die hou oor die kop as 'n harde hou, maar dit blyk
dat die slag haar nie
neergevel het nie. Sy het nie haar bewussyn verloor nie en was trouens deurentyd
by haar volle positiewe. Die
wond op haar kop het wel gebloei.
Nadat mev.
Muller oor die kop geslaan is, het twee van die mans haar na die huis geneem.
Die afstand van waar die voertuig gestaan
het tot by die huis is ongeveer 33
meter. Terwyl die twee mans nog met mev. Muller op pad na die huis was, het sy
'n skoot gehoor.
Dit was vermoedelik die
5
skoot wat, soos later geblyk het, die oorledene se dood
veroorsaak het.
Op pad na die huis het mev. Muller gevoel dat een van die
twee mans 'n mes in sy hand het. Mev. Muller het toe op een of ander manier
in
die donker daarin geslaag om hierdie mes uit haar aanvaller se hand te neem en
weg te gooi. Die polisie het later 'n Okapi knipmes
in die sand langs die huis
opgetel en dit is ook as 'n bewysstuk by die hof ingehandig. Eienaardig genoeg
het haar aanvallers nie
verder aggressief teenoor mev. Muller opgetree toe sy
die mes so weggegooi het nie.
Die twee mans het mev. Muller tot langs die
huis geneem en toe haar hande by die polse en haar voete by die enkels vasgebind
met 'n
telefoondraad wat hulle blykbaar buite die huis afgesny het. Alhoewel sy
op daardie stadium totaal aan hulle genade uitgelewer was,
het hulle haar op
geen ander wyse aangerand of gedreig nie. Hulle het selfs nie eens haar mond
toegebind nie.
6
Mev. Muller weet nie presies wanneer nie, maar op een of ander stadium nadat
sy deur die twee swart mans by die huis aangebring was,
het sy agtergekom dat
daar nog twee swart mans by hulle aangesluit het. Sy het vermoed dat dit die
ander twee was wat vroeër
by die oorledene agtergebly het. Hulle het in
hulle taal onder mekaar gefluister en toe is alvier van hulle daar weg. Sy het
vermoed
dat hulle besig was om by die huis in te breek, maar dit het later
geblyk dat dit nie die geval was nie.
Mev. Muller het na ongeveer tien tot
vyftien minute agtergekom dat die vier mans padgegee het. Sy het toe van die
huis tot by die
hek oor die grond gerol, haarself teen een van die hekpale
opgetrek en na die plaaswerkers geroep om haar te kom help. Twee van hulle
het
opgedaag en haar hande en voete losgemaak. Sy het na die voertuig gegaan en die
oorledene buite die voertuig aan die passasierskant
op die grond sien lê.
Sy het gehoor dat hy swaar asemhaal en het gevind dat hy nie op haar geroep
reageer nie. Volgens
7
mev. Muller se herinnering het die deur aan die passasierskant
oopgestaan.
Mev. Muller en die plaaswerkers het hulp by die bure gaan soek.
'n Buurman het mev. Muller langs die pad
opgelaai en sy het hom gevra om gou
'n draai te maak by die
een winkel wat digby geleë was om te kyk of daar by die
winkel ingebreek was. Hulle het gevind dat dit nie die geval
was
nie.
Mev. Muller en die oorledene is kort daarna per ambulans na die
hospitaal vervoer waar mev. Muller tot die volgende Donderdag aangehou
is. Mev.
Muller het haar beserings beskryf as 'n hou oor die kop, blou kolle in haar
gesig en aan haar arms en stukkende plekke aan
beide haar polse waar die
telefoondraad haar vermoedelik gesny het.
Die wyse waarop mev. Muller se aanvallers teenoor haar opgetree het, en die relatief geringe aard van die beserings wat sy wel in die proses opgedoen het, toon na my mening dat dit nooit die bedoeling van haar aanvallers was
8
om haar ernstig te beseer nie. Hulle wou haar net uit die pad hê sodat
hulle hulle beoogde doel kon bereik, naamlik om die twee
bejaarde mense te
beroof.
Die aard en omvang van die oorledene se beserings blyk uit die
getuienis van die distriksgeneesheer wat die lykskouing op die liggaam
van die
oorledene uitgevoer het. Volgens sy getuienis is die oorledene se dood
veroorsaak deur 'n koeëlwond wat deur sy voorkop
tot in sy brein gestrek
het. Die distriksgeneesheer het die koeël in die oorledene se liggaam
gevind en volgens sy getuienis
was dit afgevuur deur 'n swaar kaliber vuurwapen
van ten minste 9 mm. Die distriksgeneesheer het verder verskeie steekwonde aan
die
liggaam van die oorledene gevind. Daar was ses steekwonde op die oorledene
se regterhand en twee steekwonde op sy regter bo-arm.
Hierdie steekwonde kon
deur 'n skerp voorwerp soos 'n mes veroorsaak gewees het, maar volgens die
distriksgeneesheer was geeneen
van hierdie wonde van 'n ernstige aard nie. Hy
het tydens kruisondervraging toegegee
9
dat selfs die steekwonde op die
bo-arm "eintlik oppervlakkig"
was. Daarbenewens was daar ook sekere minder ernstige
kneuswonde aan veral
die regterkant van die oorledene se
liggaam. Volgens die distriksgeneesheer kon hierdie
kneuswonde moontlik
deur die kierie veroorsaak gewees het,
maar dan was dit eerder stampwonde en
nie slaanwonde wat met
die kierie toegedien was nie. Die distriksgeneesheer
het
ook toegegee dat die oorledene homself teen een of ander
voorwerp in
die voertuig kon gestamp het en dat van die
kneuswonde daardeur veroorsaak
kon gewees het, of selfs toe
die oorledene uit die voertuig geval het. Die
geheelbeeld
is dus dat die oorledene, afgesien van die skietwond, glad
nie
ernstig beseer was nie.
Dit is die getuienis van mev. Muller dat die
oorledene altyd sy rewolwer by hom gedra het. Sy
kon nie sê
watter kaliber vuurwapen dit was nie, maar sy het wel
geweet
dat dit 'n baie groter kaliber as haar eie .22 rewolwer was.
Die
oorledene het die rewolwer altyd in 'n holster aan sy
I
10
linkersy gedra en dit moet aanvaar word dat hy die rewolwer ook hierdie
Vrydagaand by hom gehad het. Die oorledene se rewolwer kon
na hierdie Vrydagaand
nie weer gevind word nie en dit was ten tye van die verhoor nog steeds weg. Die
enigste redelike afleiding
is dat een van die vier aanvallers die oorledene se
rewolwer gevat het.
Daar is geen getuienis dat enigeen van die vier rowers 'n
vuurwapen by hom gehad het toe hulle daardie Vrydagaand op die plaas aangekom
het nie. Die
waarskynlikhede is trouens oorweldigend dat die oorledene met sy
eie vuurwapen doodgeskiet is. Dit is egter onbekend wie van die vier
booswigte
die oorledene geskiet het.
Dit is glad nie bekend onder watter omstandighede
die oorledene geskiet is nie. Dit blyk egter uit die getuienis van mev. Muller
dat
daar 'n tydjie verloop het vandat die vier mans aanvanklik gelyktydig op
haar en die oorledene toegeslaan het totdat sy die skoot
gehoor het. Daar was
dus 'n sekere tydsverloop vandat die oorledene die
11
eerste keer gekonfronteer was totdat hy geskiet is. Dit is na my oordeel
waarskynlik dat die oorledene die steekwonde
toegedien was voordat hy geskiet
is. Die skoot was so
klaarblyklik 'n doodskoot dat dit onsinnig sou gewees
het om hom daarna nog hierdie ligte steekwonde toe te dien. Vir sover die
kneuswonde
aan die oorledene deur sy aanvallers veroorsaak was, moes dit om
dieselfde rede voor die doodskoot toegedien gewees het. Die geringe
aard van die
oorledene se aanvanklike beserings dui myns insiens daarop dat sy aanvallers nie
vooraf beplan het om hom ernstig te
beseer of dood te maak nie, maar dat hulle
eerder bedoel het om hom onskadelik te stel sodat hulle hulle beoogde roofplanne
ten uitvoer
kon bring.
Daar bestaan na my oordeel geen twyfel nie dat die
vier booswigte vooraf beplan het om die twee ou mense te beroof van die
kontantgeld
wat hulle van die winkels sou saambring. Ten einde hulle slagoffers
tot onderwerping te dwing, het hulle minstens die een kierie
met die metaal
moer
12
aan die punt en die een mes wat op die toneel opgetel is met
hulle saamgeneem. Daar was waarskynlik meer as een mes en
moontlik meer as een kierie op die toneel, maar soos reeds
gemeld was daar
geen getuienis dat enigeen van die vier mans
h vuurwapen by hom gehad het
nie.
Dit blyk uit die getuienis van mev. Muller dat die
rowers R45,00 uit haar handsak verwyder het en
dat hulle die
oorledene se vuurwapen by hom afgeneem het. Mev. Muller se
.22 rewolwer, wat ook in haar handsak was, is egter nie
geneem nie. Dit is
moontlik dat die rowers dit nie gesien
het nie, maar dit dui daarop dat hulle
haastig daar weg is
nadat die oorledene geskiet is. Kort nadat die skoot
geskiet
is, het die twee mans wat vermoedelik by die oorledene was
by hulle ander
twee makkers aangesluit. Hulle het onder
mekaar gefluister en daarna is hulle
al vier daar weg sonder
om eers mev. Muller se mond toe te bind. Die
oorledene se
horlosie en ring is nie geneem nie, en ook nie die woonhuis
se sleutels wat in sy sak was nie. Nadat die oorledene
13
geskiet is en mev. Muller vasgebind is, kon die rowers maklik
by die huis
ingebreek het, maar om die een of ander rede het
hulle dit nie gedoen nie.
Hulle moes ook besef het dat die
winkels se sleutels byderhand was, maar
hulle het nie by die
winkels gaan inbreek nie. Die voertuig was tot
hulle
beskikking as hulle wou vlug, maar hulle het dit net so
daar
gelaat.
Mens kry die indruk dat al hulle planne skeefgeloop het toe
die oorledene geskiet is en dat die vier rowers met groot haas en onverrigter
sake daar weg is. Hulle het selfs die kierie net so daar op die toneel gelos.
Dit alles skep die indruk dat die skietery van die
oorledene heeltemal onverwags
gekom het, ten minste vir daardie twee wat nie direk daarby betrokke was nie, en
dat hulle nooit so
'n
moontlikheid voorsien het nie. Met die oog daarop dat
die verhoorhof bevind het dat die appellante wel die moontlikheid van doodslag
voorsien het, sal ek later verder met hierdie aspek van die saak handel.
14
Mev. Muller was nie in staat om enigeen van die vier swart mans wat haar en
die oorledene daardie Vrydagaand aangeval het, later uit
te ken nie. Sy sê
dit was te donker om hulle gesigte behoorlik te sien. Die drie appellante en 'n
vierde beskuldigde is amper
'n jaar later deur die polisie in hegtenis geneem en
van die moord op die oorledene en die roof op die Mullers aangekla. Hulle het
almal ontken dat hulle die misdade gepleeg het of dat hulle ooit voorheen op die
Mullers se plaas by Viljoensdrif was. Beskuldigde
1 voor die hof a quo is
onskuldig bevind en ontslaan, maar die drie appellante is elkeen aan albei
aanklagte skuldig bevind.
Die drie appellante is met die pleging van die
misdrywe verbind deurdat elkeen van hulle afsonderlik op 26 Junie 1987 op die
Mullers
se plaas sekere uitwysings aan luitenant Le Roux gedoen het. Le Roux was
aan die speurtak van die Suid-Afrikaanse Polisie te Parys
verbonde en was glad
nie met die ondersoek van die saak gemoeid nie. Die drie appellante het by die
verhoor aangevoer dat dit nie
h
15
behoorlike uitwysing was nie aangesien hulle die vorige dag, 25 Junie
1987, deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisie te Sasolburg
aangerand en
gedreig was. Hulle beweer dat hulle daarna gedurende die middag van 25 Junie
1987 deur speurder-sersant Van Tonder en
speurder-konstabel Radebe van die
Suid-Afrikaanse Polisie te Sasolburg na die toneel van die beweerde misdaad
geneem is. Daar is
hulle na bewering voorgesê en gewys watter punte hulle
die volgende dag aan die polisie offisier moet uitwys. Op 26 Junie 1987
is die
drie appellante volgens hulle weergawe toe deur Le Roux na die plaas geneem.
Daar het hulle op sy bevel daardie punte aan
hom uitgewys wat Van Tonder en
Radebe die vorige dag aan hulle uitgewys het.
Die grootste deel van die verhoor in die hof a quo is aan hierdie aspek van die saak gewy.
Soos luitenant Le Roux was speurder-sersant Mbali ook verbonde aan die speurtak op Parys en het hy ook niks met die ondersoek van die onderhawige saak te doen gehad nie.
16
Mbali het as tolk vir Le Roux opgetree. Beide het getuig dat die appellante
behoorlik gewaarsku was voordat hulle enige uitwysings
op die plaas gedoen het.
Hulle het uitdruklik ontken dat die appellante deur luitenant Le Roux
aangesê was om daardie punte
aan hom uit te wys wat die polisie die vorige
dag aan die appellante uitgewys het. Hulle het beide die bewering van die eerste
appellant
ontken dat hulle hom vroeër daardie oggend by die Sasolburg
polisiestasie ontmoet het en dat speurder-sersant Du Plessis toe
mev. Muller se
verklaring aan luitenant Le Roux oorhandig het. Sowel Le Roux as Mbali het
verder ontken dat Le Roux die posisies
wat deur die appellante uitgewys is aan
die hand van mev. Muller se verklaring daar op die toneel gekontroleer
het.
Sersant Viljoen van die Suid-Afrikaanse Kriminele Buro te Vereeniging
het as fotograaf opgetree toe die onderskeie appellante hulle
uitwysings op 26
Junie 1987 aan luitenant Le Roux gedoen het. Viljoen het nie gemerk dat daar
enigiets onbehoorliks tydens die uitwysings
plaasgevind
17
het nie. Sy indruk was dat die appellante die uitwysings uit eie vrye wil gedoen het.
Speurder-sersant Van Tonder en speurder-konstabel
Radebe het ontken dat die appellante deur hulle of deur enige
ander polisiebeampte in hulle teenwoordigheid aangerand is,
soos deur die
appellante beweer is. Van Tonder en Radebe het
verder ontken dat hulle die
appellante op 25 Junie 1987 na
die toneel van die misdaad geneem het en hulle
daar geskool
het met betrekking tot die uitwysings wat hulle die
volgende
dag aan 'n polisie offisier sou moes doen.
Die ondersoekbeampte, speurder-sersant Du Plessis,
het ontken dat hy bewus was van enige
aanrandings op die
appellante. Hy het Van Tonder se getuienis gestaaf
deurdat
hy getuig het dat hy en Van Tonder die middag van 25 Junïe
1987 in hulle onderskeie kantore op Sasolburg gewerk het, wat
beteken dat Van Tonder nie enige van die appellante daardie
middag na die
plaas by Viljoensdrif kon geneem het nie. Du
Plessis het verder ontken dat die eerste appellant die oggend
18
voor die uitwysing by Sasolburg aan luitenant Le Roux
voorgestel is. Du Plessis het ook uitdruklik ontken dat hy
mev. Muller se verklaring daardie oggend aan Le Roux
oorhandig het.
Verskeie ander polisiebeamptes het namens die staat getuig
aangaande inskrywings in die voorvalledagboek en selregister met betrekking
tot
die bewegings van die appellante in en uit die polisiestasie op 25 Junie 1987.
Hierdie getuienis is volledig deur die verhoorhof
ontleed en dit sal geen doel
dien om dit hier te herhaal nie.
Daarna het die onderskeie appellante self
getuig.
Die verhoorhof het die getuienis van die eerste appellant
in
detail ontleed en bevind dat hy 'n oneerlike getuie was. Daar
was
verskeie onwaarskynlikhede en ander onbevredigende
aspekte in die getuienis
van die eerste appellant en na my mening is daar geen rede om met die bevinding
van die verhoorhof in hierdie
verband in te meng nie.
Die tweede appellant het nie beter gevaar nie. Hy
19
het sy weergawe verander met betrekking tot die tyd wanneer hy na bewering
deur Van Tonder en Radebe na die plaas geneem is. Hy het
ook in 'n ander
belangrike opsig sy weergawe verander. Tydens kruisondervraging namens die
tweede appellant is dit aan Van Tonder
gestel wat die tweede appellant sal
beweer, naamlik dat Van Tonder en Radebe vir beskuldigde 1 en die drie
appellante almal gelyktydig
gedurende die namiddag van 25 Junie 1987 na die
plaas by
Viljoensdrif geneem het. Daardie stelling was teenstrydig met die
weergawe van die ander appellante. In die loop van sy eie getuienis
het die
tweede appellant egter sy weergawe verander en beweer dat Van Tonder en Radebe
hom alleen na die plaas geneem het om hom
te gaan voorsê wat hy die
volgende dag moet uitwys. Die tweede appellant het toe ontken dat hy ooit aan sy
advokaat opdrag
gegee het dat alvier die verdagtes gelyktydig na die plaas
geneem is. Die getuienisvan die tweede appellant is myns insiens ook met
reg
deur die hof a quo verwerp.
20
Die derde appellant het nie op appèl volhard met die bewering dat hy
op 25 Junie 1987 deur Van Tonder en Radebe na die toneel
van die misdaad geneem
is sodat hulle hom kon voorsê wat om die volgende dag uit te wys nie. Sy
weergawe tydens die verhoor
was in ieder geval onaanvaarbaar aangesien daar
volgens sy getuienis van die gebeure nie genoeg tyd sou gewees het om hom na die
plaas te neem vir die uitwysing en daarna betyds terug te bring vir die uitstel
van die saak voor die landdros om 16h30 daardie middag
nie.
Die hof a
quo het die getuienis van Van Tonder en Radebe met groot versigtigheid
benader en beslis dat dit op wesenlike aspekte slegs aanvaar sou
word vir sover
dit deur ander betroubare getuienis of die waarskynlikhede gestaaf is.
Die
hof a quo het verder bevind dat onder andere Le Roux, Du Plessis en Mbali
goeie getuies was. Die advokate vir die appellante kon geen aanvaarbare
redes
aanvoer waarom hierdie hof van daardie bevinding moet verskil nie. Die
verhoorhof het daarop gewys dat om die getuienis van
die drie
21
appellante met betrekking tot die uitwysing as redelik moontlik waar te
aanvaar, die hof sou moes bevind dat daar "h sinistere komplot
tussen onder
andere Le Roux, Mbali, Van Tonder en Radebe gesmee was. Daar is na my oordeel
geen regverdiging vir die afleiding dat
daar so 'n komplot was nie.
In die
omstandighede stem ek met eerbied saam met die bevinding van die verhoorhof dat
die drie appellante hulleself onteenseglik
met die pleging van die misdade op 1
Augustus 1986 op die plaas verbind het deur hulle uitwysingsop 26 Junie 1987 aan
Le Roux en
Mbali.
Daar is ook ander getuienis wat aantoon dat die drie
appellante in mekaar se geselskap was toe hulle op 'n
Vrydag gedurende
ongeveer die middel van 1986 in die omgewing van die Mullers se plaas in 'n
motor en 'n bus gereis het. Die appellante
se bewering dat dit op 'n Maandag
gedurende Mei 1986 plaasgevind het, is in die lig van die getuienis van die
getuies Koos Masoka
en Windvoël Mayika klaarblyklik vals, en dit is ook so
deur die verhoorhof bevind. Die enigste
22
redelike afleiding uit al die getuienis is dat dit inderdaad op Vrydag 1
Augustus 1986 was dat die appellante in mekaar se geselskap
saam met
Windvoël Mayika in sy motor gery het, en saam met Koos Masoka in die bus
tot naby die Mullers se plaas gery het.
In die lig van al die getuienis kan
daar na my oordeel geen twyfel wees nie dat die drie appellante en die onbekende
vierde lid van
die bende die gemeenskaplike oogmerk gehad het om die twee ou
mense te beroof. Ter uitvoering van hierdie gemeenskaplike oogmerk
het hulle
almal op die een of ander wyse deelgeneem aan die gewelddadige aanval op die
twee slagoffers. Elkeen van die appellante
het klaarblyklik die opset gehad om
te roof. Mev. Muller is inderdaad beroof van haar geld terwyl die oorledene van
sy vuurwapen
beroof is. Al vier die rowers was daarvan bewus dat minstens een
van hulle 'n gevaarlike wapen in die vorm van die kierie by hom
gehad het. In
die omstandighede het die hof a quo hulle aan roof met verswarende
omstandighede skuldig bevind. Na my
23
oordeel is daardie bevinding onaanvegbaar.
Die hof a quo het die drie appellante egter ook aan moord skuldig bevind, en wel op die basis dat hulle die gemeenskaplike oogmerk gehad het om te roof, dat hulle subjektief voorsien het dat een van die slagoffers moontlik in die proses gedood kan word, maar dat hulle onverskillig gestaan het teenoor die intrede van die moontlike gevolge. Die bevindings van die hof a quo in hierdie verband word soos volg in die uitspraak van die geleerde verhoorregter weergegee:
"Dit blyk uit die beserings aan die liggaam
van die oorledene, uitgesonderd die koeëlwond en
die feit dat die kierie, bewysstuk 2, op die grond
langs die motor gevind is, dat beskuldigdes 2,3 en
4 [die drie appellante] en die vierde aanvaller na
die plaas is met 'n mes en die genoemde kierie. Wat
ook al die posisie met die mes is, moes almal van
die kierie bewus gewees het. Hulle moes ook besef
het dat 'n dodelike wond met die kierie veroorsaak
kan word. Dit moes gevolglik duidelik gewees het
vir aldrie beskuldigdes dat 'n noodlottige wond
toegedien kon word tydens 'n worsteling met die
oorledene.
Dit was nie 'n ver verwyderde moontlikheid nie.
Dit was 'n werklike en wesentlike moontlikheid. Die
24
oorledene was 'n goedgeboude man van ses en sestig, en die beskuldigdes het
geen rede gehad om te dink dat hy hom aan hulle eise sou
onderwerp sonder
teenstand nie. Die dood van die oorledene as 'n
redelike moontlikheid moes
gevolglik deur aldrie beskuldigdes voorsien gewees het. En hulle het
klaarblyklik onverskillig gestaan
teenoor die moontlike gevolge van hulle
dade.
Dat dolus eventualis aanwesig is waar die redelike moontlikheid van die intrede van dood voorsien word, maar 'n dader onverskillig staan omtrent die moontlike gevolge van sy daad is herhaaldelik beslis in die Appèlhof."
"In hierdie geval moes (ek gebruik die woord 'moes' hier nie in die sin van behoort nie) beskuldigdes 2, 3 en 4 besef het, en gevolglik bevind die hof dat hulle wel besef het, dat die gevaar van 'n noodlottige wond aan die oorledene 'n wesentlíke moontlikheid was toe hulle na die plaas is met die doel om die oorledene te beroof terwyl een van hulle ooglopend gewapend was met die gevaarlike kierie, bewysstuk 2. Dat hulle bereid was om die kierie te gebruik, blyk uit die aanval op mev. Muller. Soos reeds gesê, kon hulle met die kierie die dood verporsaak het.
In hierdie geval is die dood van die oorledene deur 'n vuurwapen veroorsaak. In R v Shezi & Others 1948 2 SA 119 A sê Greenberg AR die volgende op 128 :
'ln my view, the true doctrine is that
25
suggested during the argument, viz., that the liability of the parties to a common purpose depends on whether the result produced by the perpetrator of the act falls within the mandate and is not concerned with the means by which the result is produced'."
Die hof a quo het verder soos volg bevind:
"Soos reeds gesê, is dit duidelik uit die getuienis dat beskuldigdes 2,
3 en 4 die moontlikheid dat weerstand gebied sou word
tydens hulle aanval met
die doel om te beroof moes voorsien het, en dit gevolglik wel voorsien het.
Hulle het geweet dat een of almal
van hulle geweld sou moes toepas om die
oorledene en mev. Muller se weerstand uit te skakel. Die enigste afleiding van
die feite
is dat hulle almal tevrede was dat dit gedoen moes word en hulle
daarmee versoen of vereenselwig het; dat hulle gêvaarlike
wapens die
kierie en 'n mes - saamgeneem het om dit te bewerkstellig en die wapens wel
gebruik het; dat hulle die moontlikheid van
doding van iemand wat weerstand mag
opper, voorsien het en onverskillig gestaan het teen daardie moontlike gevolg;
dit wil sê,
hulle het dit op die koop toe geneem.
In hierdie geval is
die dood van die oorledene veroorsaak deur 'n skoot met sy eie vuurwapen nadat
hy klaarblyklik weerstand gebied
het. Aangesien die beskuldigdes egter die
redelike moontlikheid van dood voorsien het en nogtans opgetree het, maak dit
nie saak
dat die metode van doding verskil het van dié wat hulle
aanvanklik voorsien het as 'n
moontlike wyse van doodsveroorsaking nie."
26
Alvorens die drie appellante vir die moord op die oorledene aanspreeklik gehou kan word, moet die bewese feite die afleiding regverdig, as enigste redelike afleiding (kyk S v. Shaik and Others 1983(4) SA 57 (A), op 62 G-H), dat elkeen van die drie appellante subjektief voorsien het dat daar 'n redelike moontlikheid (kyk S v Beukes en 'n Ander 1988(1) SA 511 (A), op 522 E-F) bestaan dat van hulle, in die uitvoering van hulle gemeenskaplike oogmerk om te roof, die dood van hulle slagoffers kan veroorsaak, maar dat hulle onverskillig teenoor die moontlike intrede van so 'n gevolg gestaan het (kyk in die algemeen S v Madlala 1969(2) SA 637 (A), op 640 F-H; S v Safatsa and Others 1988(1) SA 868 (A), op 896 G - 897 B, 900 H-J).
Die vereistes vir aanspreeklikheid in so 'n geval
word soos volg uiteengesit in die saak van
S v Malinga and
Others 1963(1) SA 692 (A), op 694 F-H per
HOLMES AR:
"Now the liability of a socius criminis is not vicarious but is based upon his own mens rea. The test is whether he foresaw (not merely ought to
27
have foreseen) the possibility that his socius would commit the act in question in the prosecution of their common purpose.
In considering the issue of intention to kill, the test is whether the socius foresaw the possibility that the act in guestion in the prosecution of the common purpose would have fatal consequences, and was reckless whether death resulted or not.
In both of the foregoing tests the foresight may of course be proved by inference; and remoteness of the possibility is relevant to the subjective question of foresight thereof".
Die drie appellante het tot aan die einde volhard
met hulle verweer dat
hulle nie op 1 Augustus 1986 op die
Mullers se plaas was of aan die rooftog
deelgeneem het nie.
Daar is dus geen getuienis van die appellante (of trouens
van
enigiemand anders) om te verduidelik onder watter
omstandighede die
oorledene doodgeskiet is nie. By gebrek
aan enige getuienis tot die teendeel is die enigste redelike
afleiding van al die feite dat die rowér wat die oorledene
28
in die voorkop geskiet het, die direkte opset gehad het om die oorledene te dood en dat hy aan moord skuldig is. Dit is onbekend wie van die vier rowers hierdie skoot afgevuur het of wie van hulle bygestaan het toe dit plaasgevind het . Aangesien minstens twee van die bendelede op daardie stadium elders met mev. Muller besig was, moet dit ten gunste van elke appellant as 'n redelike moontlikheid aanvaar word dat hy persoonlik nie aan die aanval op die oorledene deelgeneem het of gehelp het om die oorledene se dood te veroorsaak nie. Daar is verder ook geen getuienis om te verduidelik hoe en onder watter omstandighede die moordenaar daarin geslaag het om die oorledene se vuurwapen by hom af te neem nie. Dit is na my mening waarskynlik, maar op sy minste redelik moontlik, dat die.moordenaar die oorledene geskiet het nadat hy die oorledene klaar ontwapen het. Nadat die oorledene eenmaal ontwapen was, het hy geen gevaar meer vir die moordenaar en sy trawante ingehou nie, en het hy trouens magteloos teenoor hulle gestaan.
29
Daar was na my mening geen rede waarom die weerlose
ou man in daardie omstandighede koelbloedig vermoor moes word
nie. Die moord kon geensins bydra tot die bevordering van
die bende se gemeenskaplike oogmerk om te roof nie. Soos reeds gemeld, het
dit die teenoorgestelde effek gehad, want nadat die skoot
geskiet is, het die
rowers hulleself met groot haas en amper sonder buit uit die voete
gemaak.
Nog voordat hy geskiet is, was die oorledene reeds oorweldig en
verskeie male met 'n skerp voorwerp gesteek. Nadat hy ontwapen was,
kon hy
beslis geen weerstand meer gebied het of enige gevaar vir die rowers ingehou het
nie. Mev. Muller was toe reeds buite aksie
gestel. Op daardie stadium was die
oorledene 'n ou man wat ongewapen alleen gestaan het teen 'n groep gewapende
aanvallers wat nog
in die fleur van hulle lewe was. Daar was geen rede waarom
die rowers nie ook vir die oorledene, net soos vir mev. Muller, kon vasbind
nie.
Dan kon hulle na hartelus geroof het, en was daar geen gevaar dat hulle gehinder
of later agtervolg
30
sou word nie. Vanweë die donkerte was daar ook geen risiko dat die oorledene die rowers later sou kon uitken nie, en kon vrees vir latere uitkenning dus ook nie die motief vir die moord gewees het nie. Te oordeel na die reaksie van die rowers direk na
die skietery, het die moord op die oorledene heeltemal
onverwags gebeur en
was die ander rowers dit glad nie te
wagte nie. Dit kom voor asof hulle
ontsteld was en so gou
as moontlik van die toneel van die misdaad wou wegkom.
Dit
is na my mening 'n aanduiding dat die ander lede van die bende "
nie
voorsien het dat een van die groep in die uitvoering van
hulle gemeenskaplike
oogmerk om te roof so ver sou gaan as
om die oorledene dood te maak nie, en
is dit te betwyfel of
hulle hulle daarmee sou versoen het.
Die wesenlike vraag bly egter of die appellante moes voorsien het, en dus by noodwendige afleiding wel voorsien het, dat die moordenaar so 'n sinnelose moord sou pleeg. Tot op daardie stadium het die rowers deur hulle
31
optrede getoon dat hulle nie daarop uit was om hulle slagoffers te dood of
selfs ernstig te beseer nie, en is die wapens wat hulle
saamgebring het slegs
gebruik om die slagoffers mee te oorrompel. In al die omstandighede is dit na my
oordeel nie bewys dat die
doodslag van 'n slagoffer
vooraf as 'n redelike
moontlikheid voorsien was nie. Die
appellante kon seer sekerlik ook nie
voorsien het dat een van hulle die oorledene sonder meer met sy eie vuurwapen
sou doodskiet nadat
die oorledene ontwapen was en daar dusgeen logiese rede was
om hom te dood nie.
Die verhoorhof het met verwysing na Shezi se saak,
supra, bevind dat dit nie saak maak dat die uiteindelike metode
waarvolgens die oorledene gedood is, naamlik met 'n
vuurwapen, verskil het
van die metode wat die appellante volgens die verhoorhof aanvanklik as 'n
moontlikheid voorsien het nie, naamlik
dat hy met 'n kierie of 'n mes gedood kon
word. In die Shezi-saak op 128 is beslis dat indien A aan B 'n sogenaamde
mandaat gee om C met 'n pistool dood te skiet,
32
dit geen verskil aan A se aanspreeklikheid vir die doodslag sal maak indien B
sou besluit om 'n dolk in plaas van 'n pistool te gebruik
nie. (In die
Safatsa-saak supra, op 900 I-J, is dit beslis dat die gebruik van
die begrip mandaat in hierdie soort gevalle nie onvanpas is nie).
Die
beginsel wat in die Shezi-saak neergelê is, kan na my oordeel agter
nie op die feite van die onderhawige saak toegepas word nie, altans hie soos ek
hierdie
feite interpreteer nie. In die eerste plek is daar geen getuienis wat
die afleiding regverdig dat die vier rowers in die onderhawige
saak aan enigeen
uit hulle geledere 'n sogenaamde mandaat gegee het om enigeen van die slagoffers
met enige soort wapen dood te maak
nie. In die tweede plek is dit na my oordeel
onwaarskynlik dat die vier rowers 'n sogenaamde mandaat aan enigeen uit hulle
groep
sou gegee het om, in die uitvoering van hulle gemeenskaplike oogmerk om te
roof, die oorledene eers te ontwapen en onskadelik te
maak en daarna sonder rede
koelbloedig te vermoor, met watter soort wapen
33
ook al.
In die saak van S v Talane 1986(3) SA 196 (A) was
die appellant weens moord ter dood veroordeel.
Twee van sy
mede-beskuldigdes het die oorledene en 'n vriend
met
vuurwapens gedreig en geld van hulle geëis. Die appellant
het,
soos beplan, by hulle aangesluit en hulle het sekere
artikels geneem.
BOSHOFF AR beslis verder soos volg in die
Talane saak,
supra, op 206 G -207 B:
"Hierdie onderneming waarin hulle die slagoffers met vuurwapens moes bedreig en inderdaad gedreig het, het vir die drie deelnémers inherente gevaarmoontlikhede ingehou wat hulle moes besef het en bereid moes wees om te aanvaar en te oorkom om met die onderneming te slaag. Die gevaarmoontlikhede het daaruit bestaan dat die slagoffers gewapen mag wees en weerstand mag bied wat oorkom sal moet word, dat hulle geweld sal moet gebruik om te voorkom dat hulle self liggaamlik beseer word, geweld sal moet gebruik as hulle slagoffers hulle na die gebeure sal wil arresteer of probeer ar resteer of dat hulle geweld sal moet gebruik om hulle slagoffers te verhinder om hulle te agtervolg na die gebeurë indien hulle sou probeer om weg te kom. Hulle het twee vuurwapens by hulle gehad om die onderneming mee uit te voer en dit is redelik om te aanvaar dat hule bereid was om indien nodig die vuurwapens te gebruik indien
34
enige van die genoemde moontlikhede sou opduik. Indien 'n slagoffer dus gedood word om enige van hierdie gevare af te wend is dit 'n moontlikheid wat deur die drie deelnemers voorsien was in die uitvoering van die roof en het hulle hul met daardie moontlikheid versoen. Die persoon wat die slagoffer doodskiet is duidelik skuldig aan moord. Die ander twee deelnemers sal dan elk ook skuldig wees aan moord omdat hulle verbind word met die daad wat die dood veroorsaak en hulle ook die nodige opset in die vorm van dolus eventualis het; vgl. S v Williams en 'n Ander 1980 (1) SA 60 (A) op 62-63A-C en S v Maxaba 1981 (1) SA 1148 (A) op 1155E-1156A.
Die vraag is nou of daar in die onderhawige saak bo redelike twyfel bevind kan word dat die appellant voorsien het wat uiteindelik gebeur het en die nodige opset gehad het om hom van moord te kan skuldig bevind."
Dit blyk dat die oorledene in daardie saak
op 'n stadium op
beskuldigde 1 begin skiet het, dat hy sy pistool in
die
proses leeg geskiet het en dat hy beskuldigde 1 in die maag
gewond
het. Beskuldigde 2 en die appellant het reeds
weggehardloop. Die oorledene se
vriend het hom teruggeroep,
en toe die oorledene omdraai, is hy deur
beskuldigde 1 in die
rug geskiet. Die geleerde regter in die
Talane-saak beslis
dan soos volg op 207 'n - 208 A :
35
"Die oorledene was nie van plan om enige van die rowers te arresteer nie maar hy het klaarblyklik probeer om van hulle te skiet en sodoende te verhinder dat hulle wegkom.
Die feite van die saak toon egter dat die oorledene sy pistool reeds leeggeskiet gehad het en dat hy nie meer van plan was om enige van die rowers te verhinder om weg te kom nie. Maia het hom ook teruggeroep en hy het gehoor daaraan gegee. Dit sou onregverdig wees om op die getuienis bo redelike twyfel te bevind dat die rowers voorsien het en beoog het dat die oorledene ook nog in so 'n geval geskiet en buite aksie gestel moet word. Die skote wat beskuldigde 1 toe op die oorledene afgevuur het toe sy mededaders in alle waarskynlikheid alreeds ver en buite gevaar was en. hyself ook buite gevaar was van agtervolging deur, die oorledene, kan nie bo redelike twyfel bevind word te geval hët binne die grense van wat die appellant voorsien het en hom mee versoen het nie._ Die Verhoorhof het gevolglik gefouteer om appellant aan die moord op oorledene skuldig te bevind."
Na my oordeel spreek die feite in die onderhawige
saak veel sterker in die appellante se
guns, en is hierdie
a fortiori 'n geval waar die staat nié
dolus eventualis aan
die kant van die appellante bewys het nie. Dit volg dus dat
die appellante na my oordeel nie aan moord skuldig is nie.
Dit is in die alternatief namens die Staat betoog
36
dat die appellante aan strafbare
manslag skuldig is. In hierdie verband is daar gesteun op die
meerderheidsbeslissing in die saak
van S v Nkwenja en 'n Ander 1985(2) S
A 560 (A). In die Nkwenja-saak het die twee appellante 'n stilstaande
motor met twee mense op die agtersitplek genader met die oogmerk om hulle te
beroof.
Die twee appellante het gelyktydig die deure aan beide kante oopgeruk en
elkeen het onmiddellik geweld op die insittende aan sy kant
toegepas. JANSEN AR,
wat die meerderheidsbeslissing in die Nkwenja-saak gelewer het, noem dat
die optrede van die appellante van beplanning spreek. Daar was 'n rolverdeling
en gesamentlike goedkeuring
van die toepassing van geweld op die liggame van die
insittendes ten einde moontlike verset te voorkom. Die oorledene is later dood
as gevolg van die geweld wat op hom toegepas is, maar die verhoorhof was van
oordeel dat dit nie bo redelike twyfel bevind kon word
dat die een of ander
appellant hierdie gevolg subjektief voorsien het nie.
JANSEN AR vervolg dan soos volg in die
Nkwenja-saak,
37
supra, op 572 F-J :
"Of die appellante aan strafbare manslag skuldig is, behels onder andere die vraag of 'n redelike mens (bonus paterfamilias) in die omstandighede die moontlikheid van die dood sou voorsien het en as gevolg daarvan anders sou gehandel het. Dit kom my voor dat reeds toe die appellante ooreengekom het om die insittendes van die motor te beroof, hulle die rolverdeling gedoen het en ook besluit het om geweld toe te pas ten einde moontlike verset te voorkom, dit redelikerwys voorsienbaar was dat die toepassing van geweld vir daardie doel in daardie omstandighede moontlik die dood as gevolg kon hê. Die graad van moontlike verset was nie vooraf te bepaal nie (veral aangesien een van die insittendes van die motor 'n man was), dus ook nie die graad van geweld wat nodig sou blyk te wees nie, en die menslike liggaam is ook nie altyd ewe bestand teen geweld nie (soos die distriksgeneesheer dit stel, 'relatively small force can cause relatively big injury and vice versa').
Beide appellante behoort nog voor hul plan in werking gestel is, redelikerwys te voorsien het dat die uitvoering daarvan lewensgevaarlik vir die insittendes kon wees en dat die gevaar so groot was dat van die roof afgesien moes word."
Die meerderheid van die hof in die Nkwenja-saak het
beslis dat beide die appellante gehandel het met culpa ten
opsigte
van die dood wat ingetree het, enudat hulle gevolglik
38
aan strafbare manslag skuldig was.
Indien mev. Muler in die onderhawige
saak as gevolg van die hou met die kierie oor haar kop later sou beswyk het, kon
die appellante
op die bogenoemde grondslag aan strafbare manslag skuldig gewees
het. Na my oordeel kan dit egter nie bevind word dat die appellante
ook
redelikerwys moes voorsien het dat die moordenaar in die onderhawige geval so
sinneloos sou optree dat hy die oorledene sonder
rede sou doodskiet nie. Dit was
miskien nog redelikerwys voorsienbaar dat die oorledene as winkelier 'n
vuurwapen by hom sou gedra
het, maar dan is ek nog steeds van oordeel dat dit
nie bo redelike twyfel bevind kan word dat die appellante redelikerwys moes
voorsien
het dat die moordenaar die oorledene onder die gemelde omstandighede
koelbloedig sou vermoor nie. Die moordenaar het nie opgetree
in die uitvoering
van hulle gesamentlike oogmerk om te roof nie, en ten einde moontlike verset aan
die kant van die oorledene te
bowe te kom nie, maar op sy eie en vir redes wat nie logies
39
nie. In die omstandighede is ek dus van oordeel dat die appellante ook nie
aan strafbare manslag skuldig is nie. Dit kan terloops
gemeld word dat die
appellante in die bogenoemde Talane-saak ook nie in die alternatief aan
strafbare manslag skuldig bevind is nie.
Vervolgens moet ek handel met die
appèl teen die skuldigbevinding en vonnis op die aanklag van roof. Ek het
reeds genoem waarom
die appèl teen die skuldigbevinding aan roof met
verswarende omstandighede na my mening afgewys moet word.
Die geleerde
verhoorregter het in die uitoefening van sy diskresie die doodvonnis vir die
roof opgelê. Hy meld uitdruklik dat
hy by die oplegging vari die doodstraf
vir die roof nie die doodslag van die oorledene in ag geneem het nie. Met 'n
beroep op S v Witbooi 1982(1) SA 30 (A), op 34F-35F, en S v Mooi
1985(1) SA 625 (A), op 630 G, bevind die geleerde verhoorregter egter dat die
lewensgevaarlikheid van die geweld deur die appellante
toegepas, wel by
straftoemeting
40
'n rol kan speel, en dan vervolg hy soos volg:
"In hierdie geval kan die feit dat 'n skoot op die oorledene afgevuur is wat lewensgevaarlik was, gevolglik in ag geneem word."
h Verdere faktor wat die geleerde verhoorregter by
die beoordeling van die erns van die misdaad in
ag geneem
het, word soos volg uiteengesit :
"Die roof het gepaard gegaan met onnodige geweld. Nadat die oorledene reeds ontwapen is, was die skoot op hom afgevuur. Daar was geen wyse waarop die slagoffers hulle kon verweer nie. Dit werp lig op die brutaliteit waarmee die roof uitgevoer is."
Daar is reeds hierbo uiteengesit waarom die drie
appellante nie regtens aanspreeklik gehou kan word vir die
skoot wat die moordenaar afgevuur het nie. Die feit dat h
lewensgevaarlike skoot op die oorledene afgevuur is, kan dus
nie teen die appellante in aanmerking geneem word nie. Dit
volg dan ook dat die omstandighede waaronder die skoot
afgevuur is, en die gevolglike bevinding van ónnodige geweld
en brutaliteit waarmee die roof uitgevoer is, eweneens buite
rekening gelaat moet word wanneer 'n gepaste vonnis vir die
41
appellante se deelname aan die roof oorweeg word.
Die bogenoemde
oorwegings het klaarblyklik swaar by die verhoorhof geweeg, maar vir die redes
so pas uiteengesit, is ek van oordeel
dat hierdie oorwegings verkeerdelik deur
die verhoorregter by die uitoefening van sy diskresie in aanmerking geneem is.
Dit staan
hierdie hof dus vry om opnuut oor 'n gepaste vonnis te besin.
Dit
is reeds genoem dat die aanrandings op die oorledene (met uitsondering van die
skoot) en op mev. Muller nie besonder ernstig van
aard was nie, en dat die
beserings wat hulle opgedoen het ook van minder ernstige aard was. Dit het
geblyk dat daardie beserings
nie lewensgevaarlik was nie. Daardeur wil ek nie te
kenne gee dat die misdaad nie ernstig was nie. Maar selfs nadat al die
verswarende
faktore in ag geneem is, is ek van oordeel dat hierdie nie 'n
gepaste geval is waar die doodvonnis opgelê behoort te word nie.
Die
advokate het nie gevra dat die saak na die verhoorhof terugverwys moet word vir
die oplegging van vonnis nie. In
42
die omstandighede is die vonnis wat hierdie hof vir die roof met verswarende omstandighede oplê vyftien jaar gevangenisstraf.
Die volgende bevel word gemaak:
1.Die appêl van elkeen van die drie appellante teen sy skuldigbevinding en vonnis op die aanklag van moord slaag, met die gevolg dat die skuldigbevinding en vonnis van elke appellant op die moordklag tersyde gestel word.
2.Die appèl van elkeen van die drie appellante teen sy skuldigbevinding aan roof met verswarande omstandighede word afgewys.
3.Die appèl van elkeen van die drie appellante teen die doodvonnis vir die roof slaag, en die vonnis van elkeen van die drie appellante op die roofklag word verander na een van vyftien jaar gevangenisstraf.
F 'n GROSSKOPF AR
JOUBERT AR.
E M GROSSKOPF AR. Stem saam