South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1989 >> [1989] ZASCA 72

| Noteup | LawCite

S v Makhubo (488/88) [1989] ZASCA 72 (30 May 1989)

Download original files

PDF format

RTF format


Saak Nr 488/88 MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

VICTOR MAKHUBO Appellant

- en -

DIE STAAT Respondent

Coram: BOTHA, VIVIER et STEYN ARR. Verhoor: 9 MEI 1989. Gelewer: 30 MEI 1989.

UITSPRAAK

VIVIER AR.

2.

VIVIER AR:

Die appellant, na wie ek as beskuldigde 2 sal verwys, en Collin Xolani Mawewa Majola, na wie ek as beskuldigde 1 sal verwys, is in die Rondgaande Hof op Springs deur DE KLERK R en twee assessore aan moord skuldig bevind. Op 'n aanklag dat hulle die oorledene, wat 'n polisieman was, van sy aanstelling= sertifikaat beroof het, is die twee beskuldigdes onskuldig bevind. Beskuldigde 1, wat ten tyde van die pleging van die misdaad 16 jaar en 8 maande oud was, is tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die Verhoorhof het bevind dat daar geen versagtende omstandighede in die geval van beskuldigde 2 aanwesig was nie en hy is gevolglik ter dood veroordeel. Met verlof van

3/...

3.

hierdie Hof appelleer beskuldigde 2 slegs teen die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede was nie en die gevolglike doodvonnis hom opgelê. Daar is geen appèl deur beskuldigde 1 nie.
Volgens die onbetwiste getuienis en dié wat deur die Hof a quo aanvaar is, is die oorledene tussen 11 en 12 uur Saterdagaand 22 Augustus 1987 in die woonbuurt Kwa-Thema naby Springs deur beskuldigdes 1 en 2 met 'n mes en 'n stukkende bottel aangeval en doodgesteek. Volgens die lykskouingsverslag het die oorledene 59 steekwonde opgedoen waarvan 'n groot aantal die borskas en buik binnegedring en o a die hart, regterlong, regternier en lewer getref het.
In sy uitspraak sê die Verhoorregter dat die motief vir die moord nie bekend gemaak is nie en dat dit voorkom asof dit 'n sinnelose, onverklaarde

4/...

4.

optrede deur die twee beskuldigdes was.
Kort voordat die oorledene doodgesteek is, het die twee beskuldigdes die oorledene in die straat teengekom. Aldrie was onder die invloed van drank, die oorledene meer so as die twee beskuldigdes. Hulle het saam verder gestap. Die staatsgetuie Sipho Lawrence

Sengoane, wie se getuienis oor die verdere verloop

van die gebeure deur die Verhoorhof aanvaar is, het

by hulle aangesluit. Sipho het gesien dat beskuldigde 1 die oorledene beetkry deur sy arm om die oorledene se nek te haak en dat beskuldigde 2 sy hand in die oorledene se sak sit en iets daar uithaal. Die twee beskuldigdes het die oorledene na 'n verlate plek by die spoorlyn geneem waar beskuldigde 1 die oorledene op die grond laat beland het deur hom te pootjie.

5/...

5.

Beskuldigde 1 het toe die oorledene met 'n mes gesteek terwyl beskuldigde 2 die oorledene met 'n stukkende bottel gesteek het. Beskuldigde 2 het die bottel, wat nog vol bier was, in sy hand gehad toe hulle by die spoorlyn aankom. Hy het dit daar gebreek voordat hy die oorledene daarmee gesteek het. Beskuldigde

1het daarna die mes oorhandig aan beskuldigde 2 wat die oorledene herhaaldelik daarmee gesteek het. Hulle het die oorledene daar gelaat en huistoe gestap. Op pad het hulle by 'n ashoop verby geloop waar beskuldigde
2die oorledene se aanstellingsertifikaat verbrand het.

Beskuldigde 2 was ten tyde van die pleging van die misdaad 19 jaar en 10 maande oud. Wat sy jeugdigheid as 'n moontlike versagtende omstandigheid betref, het sy moeder getuig dat hy 'n "soet seun" is wat nog nooit

6/...

6.

vantevore in die moeilikheid was nie en dat hy slegs
by uitsondering drink. Sy het verder getuig dat beskuldigde
2 tot standerd 5 op skool gevorder het voordat finansiële
redes haar verplig het om hom uit die skool te neem.
Wat die gebeure van die betrokke aand betref, is dit
duidelik uit die getuienis van Sipho dat beskuldigde

1die voortou geneem het: hy het die oorledene gegryp en na die treinspoor gedwing, hy het hom daar op die grond laat beland en hy het die eerste houe gesteek. Inderdaad het Sipho getuig dat beskuldigde 1 'n aggressiewe en bakleierige persoon was en dat hy en beskuldigde
2vir beskuldigde 1 bang was. In sy uitspraak oor versagting sê die Verhoorregter dat beskuldigde 1 die voorbok was.

Die Hof a quo het bevind dat beskuldigde 2 se jeugdigheid nie as versagting dien nie omdat hy

7/...

7.

die misdaad uit inherente boosheid gepleeg het. In

sy uitspraak oor die vraag van versagtende omstandighede

sê die Verhoorregter dat die daad so afskuwelik is
dat dit slegs gepleeg kon word deur iemand wat inherent
boos is en dat dit ondenkbaar is dat beskuldigde 2

so 'n daad sou kon gepleeg het as hy nie inherent boos
was nie.
Wat beskuldigde 2 se gebruik van drank op die betrokke aand as 'n moontlike versagtende omstandigheid betref, sê die Verhoorregter in sy uitspraak dat omdat beskuldigde 2 so 'n duidelike herinnering het van die gebeure en geweet het wat hy doen, daar nie bevind kan word dat sy self-dissipline en insig tot so 'n mate verminder was dat sy optrede minder laakbaar was nie. Beskuldigde 2 het wel 'n verontskuldigende relaas vol besonderhede van hoe die misdaad gepleeg is, in sy

8/...

6.

getuienis voor sy skuldigbevinding gegee (hy het nie

ter versagting getuig nie) maar daardie relaas is as.
vals deur die Verhoorhof verwerp.
Wat beskuldigde 2 se jeugdigheid as 'n moontlike versagtende omstandigheid betref, het die Verhoorhof bloot op grond van die aard van die daad bevind dat beskuldigde 2 uit inherente boosheid gehandel het. Ander moontlike redes vir die sinnelose en afskuwelike daad, soos bv dronkenskap, is gladnie oorweeg nie. Na my mening het die Verhoorhof homself wanvoorgelig deur te bevind dat die aard van die daad slegs een afleiding regverdig, naamlik dat beskuldigde 2 inherent boos is.. . Gevólglik het die Verhoorhof versuim om ander relevante faktore soos beskuldigde 2 se persoonlikheid te oorweeg by die vasstelling van die vraag of hy inherent boos is.

9/...

9.

Die Verhoorhof se gevolgtrekking dat beskuldigde 2 se drankmisbruik nie as versagting dien nie, is gebaseer op beskuldigde 2 se getuienis alleen. Van sy selfverklaarde goeie geheue van die gebeure en van die feit dat hy, volgens homself, geweet het wat hy doen, lei die Verhoorhof af dat hy nie tot enige wesenlike mate deur drank beïnvloed was nie. Die afleiding is in die eerste plek nie geregverdig nie omdat beskuldigde 2 se relaas as vals deur die Verhoorhof verwerp is. Verder was die Verhoorhof verplig om die vraag van die bestaan al dan nie van versagtende omstandighede op al die getuienis, en nie net dié van die beskuldigde nie, te beslis (S v Felix and Another 1980(4) SA 604(A) op 609 E-F; S v Shoba 1982(1) SA 36(A) op 40 F-G). Dit het die Verhoorhof nie gedoen nie, en gevolglik, is Sipho se getuienis dat beskuldigde 2 dronk was oor die hoof gesien.

10/...

10.

Die kwessie van versagtende omstandighede moet gevolglik opnuut oorweeg word. Wat beskuldigde 2 se jeugdigheid betref, is ek nie daarvan oortuig, wanneer na al die tersaaklike faktore gekyk word, dat hy uit inherente boosheid gehandel het nie. Dit kom my as meer waarskynlik voor dat die rede vir sy optrede in sy dronkenskap te vinde is. Volgens Sipho se getuienis kan met veiligheid aanvaar word dat beskuldigde 2 erg deur drank beïnvloed was en dat sy optrede daardeur met minder verwyt bejeen moet word.
Ek is gevolglik van mening dat beskuldigde 2 se jeug en sy dronkenskap wel as versagtende omstandighede in die huidige saak dien. Ek is verder oortuig daarvan dat die oplegging van die doodvonnis in die huidige geval onvanpas was.

Die appèl slaag gevolglik. Die bevinding

11/...

11.

van die Verhoorhof word verander na een van skuldig

aan moord met versagtende omstandighede. Die doodvonnis

word vervang met 'n vonnis van 12 jaar gevangenisstraf.

W. VIVIER AR.

BOTHA AR)
Stem saam. STEYN AR)