South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1989 >>
[1989] ZASCA 67
| Noteup
| LawCite
S v Stigling and Another (460/88) [1989] ZASCA 67; [1989] 2 All SA 432 (A) (29 May 1989)
Download original files |
Saakno 460/88 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING) In die saak tussen;
PAUL ALBERTUS
STIGLING Appellant 1
DENNIS VALENTINE Appellant 2
en
DIE
STAAT Respondent
CORAM: HEFER, E M GROSSKOPF, KUMLEBEN, ARR
VERHOOR: 12 Mei 1989 GELEWER: 29 Mei 1989
UITSPRAAK HEFER, AR
Op 9 Maart 1987 het die appellante gepoog om
die 88-jarige Mev Huibrecht Boshoff in haar huis in Melville, Johannesburg, te
beroof.
Sy is gedreig met iets wat gelyk het na 'n vuurwapen maar wat inderdaad
'n speelgoed pistool kon gewees
2
het. Daarna is sy in 'n spens ingestamp waar sy geval het en waar sy en haar
huishulp, Mev Xaba, vasgebind en gemuilband is.
Hulle is daar gelaat terwyl
die appellante in die huis gesnuffel het vir geld. Hulle kon niks vind nie.
Appellante het daarop die
huis verlaat en op 'n aangrensende perseel ingebreek
en 'n aantal artikels gesteel. Intussen was Mev Boshoff en die huishulp nog
steeds in die spens. Laasgenoemde het geslaag om haar hande los te wikkel en
hulp by bure te gaan soek. Sy en 'n buurvrou is weer
die huis binne. Op die
spensvloer het hulle Mev Boshoff dood aangetref.
Die appellante is kort na
die voorval gearresteer en by hulle latere verhoor in die hof a quo is
hulle skuldig bevind aan moord op Mev Boshoff, aan 'n poging om Mev Boshoff te
beroof en aan huisbraak met die opset om te steel
en diefstal uit die huis op
die aangrensende perseel. Die verhoorhof het bevind dat daar nie versagtende
omstandighede was ten opsigte
van die moord nie en die appellante ter dood
veroordeel. Op die ander twee aanklagte is gevangenisstraf opgelê wat, in
eerste
appellant se
3
geval, 19 jaar en, in tweede appellant se geval, 15 jaar in
totaal beloop. Die huidige appèl is slegs gemik teen die
skuldigbevinding en vonnis op die moordklag.
Wat die skuldigbevinding betref, is die enigste vraag
wat in hierdie hof beredeneer is of die
appellante op die
voorgelegde getuienis skuldig is aan moord dan wel aan
strafbare
manslag. Die antwoord hang uitsluitlik af van
die
voorsienbaarheid vir die appellante van die oorledene se
doodias
gevolg van die geweld wat hulle haar aangedoen het. Die
verhoorhof
het bevind dat
"... die beskuldigdes vanweë die hoë ouderdom en die tengerheid van die oorledene subjektief voorsien het dat die dood van die oorledene moontlik kon intree as gevolg van hulle handeling en optrede deur haar vas te maak en 'n doek of doeke om haar mond styf vas te bind
Appellante se advokaat het egter aangevoer dat, hoewel die appellante redelikerwys behoort te voorsien het dat die oorledene moontlik kon sterf, dit nie bewys is dat hulle dit inderdaad voorsien het nie; daarom moes hulle skuldig bevind gewees het
4
aan strafbare manslag.
Voordat die meriete van die betoog namens die
appellante oorweeg word, is dit nodig om kortliks te verwys na die bevindings by
die
lykskouing wat na haar dood op die liggaam van die oorledene uigevoer is en
na die getuienis van die lykskouer daaromtrent. Breinbloeding
op vier
afsonderlike plekke en tekens van 'n ernstige hartsiekte is gevind. Die
lykskouer het die oorsaak van dood as breinbloeding
en hartversaking aangegee en
verduidelik dat die moontlikheid nie uitgesluit is nie dat die oorledene aan
hartversaking weens blote
émosionele spanning gesterf het. (Dat dit so
is, wil ek dadelik sê, is nie ter sake by die oorweging van appellante
se
aanspreeklikheid nie. Hulle advokaat het tereg toegegee dat al die omstandighede
daarop dui dat hulle onwettige optrede die oorledene
se dood veroorsaak het, wat
ook al die presiese doodsmeganisme mag gewees het.) Dat die oorledene
breinbloeding op vier plekke opgedoen
het, skep 'n mate van onsekerheid. Volgens
Mev Xaba het sy slegs een maal geval toe die appellante
5
haar gestamp het maar volgens die lykskouer is dit onwaarskynlik
dat
bloeding op soveel plekke deur 'n enkele val veroorsaak kon
gewees het Dit
skep die indruk dat meer geweld toegepas is as
wat hierbo beskryf is. Maar
die verhoorhof het Mev Xaba se
getuienis aanvaar en die afwesigheid van 'n
verduideliking vir al
die bloedings kan die appellante nie tot nadeel strek
nie. Die
appèl moet beslis word op die grondslag dat hulle die
oorledene
nie meer geweld aangedoen het as dié wat reeds beskryf is
nie.
Dit is nie nodig om uit te wei oor die wesensverskil
tussen moord en
strafbare manslag of oor die onderskeid tussen
dolus eventualis en
nalatigheid nie. Vir huidige doeleindes is
dit voldoende om te verwys na die
uiteensetting in S v. de Bruyn
en 'n Ander 1968(4) SA 498 (A)
op 510, S v. Sigwahla 1967(4) SA
566 (A) op 570 B-D en S v. Dladla
en Andere 1980(1) SA 1 (A) op
4 A-B en in gedagte te hou dat dit by
laasgenoemde onderskeiding
gaan om die verskil tussen sogenaamde objektiewe
en subjektiewe
voorsienbaarheid (objektief in die sin van voorsienbaarheid
aan
die hand van "die objektiewe waarskynlikhede, wat op algemene
6
menslike ervaring berus" (per JANSEN AR in Dladla op 4 H),
en
subjektief in die sin van 'n beskuldigde se daadwerklike
versiendheid
ten opsigte van die moontlike gevolge van sy
handeling.) Vir 'n
skuldigbevinding aan moord word natuurlik
bewys bo redelike twyfel geverg dat
die beskuldigde inderdaad die
dood van sy slagoffer as 'n moontlike gevolg
van sy handeling
voorsien het. Dikwels geskied dit by wyse van afleiding uit
die
bewese feite en in sulke gevalle kan die objektiewe
voorsienbaarheid
van die dood in aanmerking geneem word. Wat
egter nie uit die oog verloor
moet word nie, is dat die algemene
benadering tot bewys by wyse van afleiding
ook in sulke gevalle
geïd. In S v. Sigwahla (supra op 570
E-F) is opgemerk:
"Subjective foresight, like any other factual issue, may be proved by inference. To constitute proof beyond reasonable doubt the inference must be the only one which can reasonably be drawn. It cannot be so drawn if there is a reasonable possibility that subjectively the accused did not foresee, even if he ought reasonably to have done so, and even if he probably did do so."
(Kyk ook S v. Shaik and Others 1983(4) SA 57 (A) op 62 H.)
7
Volgens WESSELS AR in S v. Bradshaw 1977(1) P.H. H60
"(the) court should guard against proceeding too readily from 'ought to have foreseen' to 'must have foreseen' and thence to 'by necessary inference in fact foresaw' the possible consequences of the conduct enquired into. The several thought processes attributed to an accused must be established beyond any reasonable doubt, having due regard to the particular circumstances which attended the conduct being enquired into."
Ek stem
met eerbied volmondig saam.
Die vraag is nou: is dit in die huidige geval bo
redelike twyfel bewys dat die appellante voorsien het dat die oorledene moontlik
kon sterf as gevolg van hulle optrede hierbo beskryf? Daar is geen direkte
getuienis dat hulle dit inderdaad voorsien het nie; inteendeel,
tweede appellant
het getuig dat, wat hom betref, dit nie die geval was nie. (Eerste appellant het
sy aandadigheid ontken sodat die
vraag nie met hom geopper is nie). Dit kom dus
daarop neer dat wat oorweeg moet word, is of die enigste redelike afleiding van
die
bewese feite is dat hulle dit voorsien het. Myns insiens is dit nie.
Wat in hierdie geval sterk na vore tree, is die
8
relatief geringe mate van geweld wat op die
oorledene toegepas is. Dit is ongelukkig so dat rooftogte waarmee die howe te
doen kry
deesdae dikwels gepaard gaan met gruwelike geweld; dikwels word die
slagoffer dood of ernstig beseer in 'n plas bloed agtergelaat.
So 'n geval is
die huidige een nie. Die indruk wat die appellante se optrede laat, is dat hulle
Mev Boshoff en haar huishulp met
die mins-moontlike mate van geweld buite aksie
wou stel sodat hulle die huis ongehinderd kon plunder.
Dit spreek natuurlik
vanself dat dood as gevolg van geringe geweld nie maklik voorsienbaar is nie.
Daarom is dit verstaanbaar dat
die hof a quo sy bevinding dat die
appellante die moontlikheid van die oorledene se dood voorsien het, gebaseer
het, nie op die mate van geweld
nie, maar op haar ouderdom en tengerheid. Die
getuienis dui aan dat die appellante bewus was van haar bejaardheid (hulle wou
bv.
van Mev Xaba weet waar die "ou vrou" was) maar nie dat hulle geweet het van
haar tengerheid of van die feit dat sy nie gesond was
nie. Dit is alles faktore
wat heelwaarskynlik bygedra het tot haar dood maar, hoewel haar
9
bejaardheid op sigself voldoende rede was waarom die appellante
behoort te voorsien het dat sy moontlik sonder veel geweld kon
sterf, meen ek nie dat hiervan afgelei kan word dat hulle dit
inderdaad voorsien het nie. Daarom meen ek dat die betoog dat
hule skuldig bevind moes gewees het aan strafbare manslag
gehandhaaf moet word.
Wat vonnis betref, het ek reeds aangedui dat eerste
appellant 'n totaal van 19 jaar en tweede appellant 'n totaal van
15 jaar weens die twee ander oortredings opgelê is. Ek meen nie
dat hulle optrede die betrokke dag hulle aanhouding vir langer
tydperke regverdig nie; vandaar die bevel wat ek van voorneme
is om te maak. Dit lui soos volg:
Die appèl slaag tot die mate dat die appellante se skuldigbevindings en vonnisse op die eerste aanklag ter syde gestel word. Die skuldigbevindings op die eerste aanklag word vervang met skuldigbevindings aan strafbare manslag en die vonnisse, in die geval van beide appellante, met gevangenisstraf vir 8 jaar wat sal saamloop met die vonnisse wat hulle op die tweede aanklag opgelê is.
J J F HEFER, AR
E M GROSSKOPF, AR
KUMLEBEN, AR Stem
saam