South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1989 >>
[1989] ZASCA 125
| Noteup
| LawCite
S v Gqulagha (67/88) [1989] ZASCA 125 (29 September 1989)
Download original files |
CG SAAKNOMMER: 67/88
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèL AFDELING
In die saak tussen:
TAFENI GQULAGHA Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
CORAM: HOEXTER, VAN HEERDEN et STEYN, ARR. VERHOOR: 12 SEPTEMBER 1989 GELEWER: 29 SEPTEMBER 1989
UITSPRAAK STEYN, AR.
2
Appellant is op 4 November 1986 deur die landdros op Ceres skuldig bevind aan
handeldryf in 965 gram dagga ter oortreding van art
2(a) van Wet no 41 van 1971
(die Wet). Hy het drie soortgelyke vorige veroordelings erken, maar die jongste
van hulle was destyds
reeds 13 jaar oud. Hy is gevonnis tot 3 jaar
gevangenisstraf waarvan 2 jaar voorwaardelik vir 4 jaar opgeskort is. Hy het
sonder
welslae teen sy skuldigbevinding en vonnis na die Kaapse Provinsiale
Afdeling appelleer, maar volle verlof is deur daardie Hof verleen
om verder na
hierdie Hof te appelleer.
Die volgende blyk uit die erkende en onbetwiste
feite. Op Vrydagaand 26 September 1986 was A/0 N W Carstens, stasiebevelvoerder
van
die SA Polisie op Prince Alfred Hamlet, onderweg na die Koue Bokkeveld op 'n
spesiale sending. Hy was in 'n Nissan vierwiel-aangedrewe
polisie
patrollievoertuig. Dit was bestuur deur konstabel E J Spamer. A/0 Carstens het
langs hom gesit
3
in die passasiersitplek. Twee ander polisievoertuie met verdere polisiepersoneel wat deel van die span was, het hulle gevolg. Om ongeveer 21h25 sien A/O Carstens 'n Ford Cortina bakkie wat buitekant die pad aan die oostekant gestaan het. Dit was aan die bakkie se verkeerde kant van die pad (Cartens-hulle was besig om noord te ry en die bakkie se voorkant het ook noord gewys). Die bakkie het vir Carstens verdag voorgekom en hy het Spamer beveel om daarheen te ry sodat hulle ondersoek kon instel. Spamer het dit gedoen en aan die linkerkant van die bakkie stilgehou. Appellant was die bestuurder van die bakkie en het agter die stuurwiel daarvan gesit. Langs hom aan sy linkerkant het 'n onbekende swartman gesit. Carstens en Spamer het uitgeklim en ombeweeg na appellant se kant van die bakkie. Ongeveer 3 meter van die bakkie aan appellant se kant daarvan het twee vasgebinde plastiek sakkies op die grond gelê. Spamer het die sakkies opgetel. Daar was dagga in wat later
4
geweeg is. Die gewig van dié dagga was 965 gram. Die
passasier wat in die bakkie was het weggehardloop en
alhoewel hy deur
Carstens en Spamer agternagesit is, het
hy weggekom.
Tydens die verhoor was appellant verdedig deur
Mnr Davin, 'n prokureur van Ceres. Appellant het
onskuldig gepleit en Mnr
Davin het namens hom die
volgende mondelingse pleitverduideliking gegee in
terme
van art 115 van die Strafproseswet no 51 van 1977:
"Die beskuldigde ontken dat hy handel gedryf het in dagga. Die beskuldigde ontken ook dat hy in besit was van dagga. Die dagga wat gevind is, sal deur die beskuldigde beweer word, behoort aan iemand anders wat saam met hom in die voertuig was. Dit was nie sy dagga nie, hy dra nie kennis daarvan nie, hy weet niks daarvan af nie."
Die verdere detail van die gebeure was in
geskil. Carstens en Spamer se weergawe was soos volg.
Die bakkie was
geparkeer ongeveer 6 meter van die teer
af. Die ligte daarvan was afgeskakel. Carstens het ook
5
pertinent getuig dat die parkeerligte daarvan ook afgeskakel was. Aan die westekant van die pad reg oorkant die plek waar die bakkie gestaan het, was 'n 13 meter wye gruis parkeerarea. Hulle het albei flitse gehad en terwyl hulle die bakkie versigtig genader het, het albei hul flitse aangeskakel. Hulle het ongeveer 1 meter van die bakkie af tot stilstand gekom. Hulle het albei met hul flitse in die kajuit van die bakkie gelig. Hulle kon daar binne sien want die patrolliewa se vensterbank was ongeveer 20 cm hoër as dié van die bakkie. Appellant het die twee voornoemde sakkies by sy venster na regs uitgegooi en onmiddellik daarha die bakkie se masjien aangeskakel en probeer wegry. Spamer het egter skuins voor die bakkie ingery en appellant tot stilstand gedwing. Albei polisiemanne het uitgeklim. Die voertuie het só naby aan mekaar gestaan dat Spamer ook aan die passasierskant moes uitklim. Hulle het onmiddellik omgegaan na appellant se kant. Die bakkie se
6
masjien het nog geluier. Carstens het appellant aangesê om dit af te
skakel en uit te klim. Appellant het dit gedoen. Intussen
het Spamer die sakkies
gaan optel en na Carstens gebring. Ilulle het vasgestel dat daar dagga daarin
is, toegedraai in koerant papier.
Terwyl hulle na die dagga aan die kyk was het
die passasier weggehardloop en deur die padheining gegaan. Carstens het dadelik
die
voortvlugtende agternagesit. Nadat Spamer vir appellant agter in die
polisievoertuig toegesluit het, is hy agter Carstens aan. Na
die vrugtelose
poging om die voortvlugtige aan te keer, het Carstens vir appellant gevra wie se
dagga dit is en wie die ontsnapte
passasier was. Appellant het hom nie
geantwoord nie, en is toe aangehou.
Appellant se weergawe was kortliks die
volgende. Hy was dié aand haastig op pad om sy broer te gaan haal. 'n
Persoon wat aan
die oorkant van die pad gestaan het met 'n plastiese sak in sy
hand wys hom toe om
7
stil te hou. Hy het oorbeweeg na daardie kant van die pad en daar gaan stilhou omdat daar geen stilhouplek aan sy korrekte kant van die pad was nie. Hy het die masjien van die bakkie afgeskakel maar nie sy ligte nie. Die vreemdeling het hom om 'n geleentheid gevra, hy het ingestem, die ryloper het aan die passasierskant ingeklim en die plastiese sak tussen sy bene gesit. Appellant wis nie wat in die sak was nie; die ryloper het hom nie gesê nie en hy het hom nie daaroor gevra nie. Voordat hy kon vertrek het die polisievoertuig opgedaag én skuins voor die bakkie stilgehou, maar nie so na daaraan soos deur die staatsgetuies beweer nie. Hy het ook nie probeer wegry nie. Die twee polisiemanne het uitgeklim, elkeen aan sy kant, met hul flitse op hom gelig en na sy kant van die bakkie beweeg. Op daardie stadium het die ryloper ook uitgeklim en die plastiese sak wat hy by hom gehad het bo-oor die bakkie gegooi na appellant se kant toe en oor die pad weggehardloop. Appellant het steeds
8
agter die stuurwiel bly sit. Die polisie was toe ongeveer drie treë van sy voertuig af. Hulle het hom gevra wat se goed is dit wat weggegooi word. Hy het geantwoord dat hy nie weet nie. (Tydens kruisondervraging het appellant egter gesê dat hy aan die polisie gesê het dit is die goed van die passasier.) Op bevel van die polisie het hy uit die bakkie geklim. (Dit was deur Mnr Davin aan Carstens en Spamer gestel dat appellant op sy eie uitgeklim het terwyl hulle nog besig was om hom te nader, en dat die passasier die sak weggegooi het eers nadat hy, appellant, reeds uitgeklim het.) Die polisie het hom die plastiese sakke gewys en hom toe in die polisievoertuig toegesluit. Daarna is hulle agter die voortvlugtende aan.
Tydens kruisondervraging van Carstens en Spamer is die bestaan van die wye gruisstrook aan die westekant van die pad nooit betwis nie. Die beskrywings deur Carstens en Spamer oor die wyse waarop appellant die
9
sakkies dagga by die bakkie uitgegooi het kom nie in alle opsigte met mekaar ooreen nie. Dit is egter verstaanbaar gesien die vinnige verloop van gebeure en die verskillende hoeke waaruit elk van hulle die toneel aanskou het. Dié verskille was in elk geval nie wesenlik nie. Die landdros het hul getuienis aanvaar en diê van appellant verwerp. Daar kan geen fout daarmee gevind word nie. Appellant se weergawe van die weggooi van die sakkies dagga is so vergesog dat dit tereg verwerp was. Dit is algeheel onwaarskynlik dat die ryloper die dagga só sou weggooi dat dit as't ware voor die voete van die polisie sou beland. Niks het hom volgens appellant verhinder om dit elders te gooi nie, soos bv onder die bakkie in of selfs onder die polisievoertuig, op só 'n wyse dat sy aksie vir die polisie onsigbaar sou wees. Die algemene waarskynlikhede is ook só oorweldigend ten gunste van die staatsweergawe dat daar, myns insiens, geen redelike twyfel oor die waarheid daarvan kan bestaan
10
nie. Waarom sou appellant vêr buite die pad aan sy verkeerde kant gaan stilhou om 'n onbekende ryloper op te laai en dan boonop, en ten spyte daarvan dat hy so haastig was, die masjien van die bakkie afskakel wanneer dit op sy weergawe totaal onnodig was om dit te doen? Boonop was appellant in die voormelde opsigte 'n onbevredigende getuie. Op die aanvaarde staatsgetuienis het hy in die nag sonder ligte en met 'n afgeskakelde masjien buite die pad aan sy verkeerde kant gestaan in weerwil van die ruim stilhouplek aan sy korrekte kant. Sulke gedrag is algeheel onversoenbaar met 'n heel toevallige en onskuldige samesyn met 'n onbekende ryloper. Appellant was gevind in fisiese besit van die sakkies dagga; hy het klaarblyklik geweet dat hulle dagga bevat en het beheer daaroor uitgeoefen. Al die elemente van juridiese besit is gevolglik bewese. Die hoeveelheid dagga sluit die redelike moontlikheid uit dat appellant dit slegs vir eie gebruik besit het. Weens
11
daardie hoeveelheid is hy egter ook geag ingevolge art 10(1 ) (a) van die Wet
om in dié dagga handel te gedryf het, en hy het
daardie vermoede nie
weerlê nie. Die
onderhawige geval is op die feite onderskeibaar van
S v
CAIN 1973 (2) SA 522 N. Daar het die beskuldigde 'n koevert
bevattende dagga wat op 'n vensterbank in 'n vriend se woonstel gelê het,
weggegooi
toe alarm gemaak is dat die polisie aan die kom was. As rede het hy
aangevoer dat hy pas in die woonstel opgedaag het, gesien het
dat daar dagga in
die koevert was, en toe alarm gemaak is dit by die venster uitgegooi het omdat
hy nie by die voorval betrokke wou
raak nie. Sy weergawe is aanvaar en die Hof
het op sterkte daarvan beslis dat hy nooit regtens in besit van die dagga was
nie. Dit
is onnodig om nou te besluit oor die korrektheid van daardie
beslissing.
Appellant was tereg skuldig bevind. Die vonnis aan hom
opgelê was onder die omstandighede 'n gepaste bestraffing en daar is
geen
rede om daarmee in te meng
12
nie.
Ek voel genoop om ten slotte die volgende opmerking te maak.
Gedurende kruisondervraging het die aanklaer herhaaldelik vir appellant
as
"beskuldigde" aangespreek. Die landdros het hom ook een keer so aangespreek
terwyl hy appellant ondervra het. Dit is 'n onaanneemlike
vorm van aanspreking.
Beleefdheid, wat so belangrik is vir gesonde regspleging, verg dat 'n
aangeklaagde (en ook 'n getuie) as "meneer",
"mev" ens, aangespreek word.
Die appèl word afgewys.
M T STEYN, AR.
HOEXTER, AR.) VAN HEERDEN, AR.)

RTF format