South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1988 >> [1988] ZASCA 80

| Noteup | LawCite

S v Khoza (92/88) [1988] ZASCA 80 (23 August 1988)

Download original files

PDF format

RTF format


92/88/av

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak tussen:

PAULUS VUSI KHOZA Appellant

DIE STAAT Respondent
CORAM: GROSSKOPF, VIVIER et MILNE, ARR VERHOOR: 18 Augustus 1988 GELEWER: 23 August 1988

UITSPRAAK

GROSSKOPF, AR

Die appellant is saam met ene Msana in die Transvaalse Provinsiale Afdeling aangekla van moord op ene Elias Motsweni Ndala, asook van roof met verswarende
2

omstandighede op gemelde Ndala. Na 'n verhoor voor SMIT
R en assessore is die appellant op albei klagtes skuldig bevind.
Ten opsigte van die moord het die hof, met 'n meerderheid

bestaande uit die twee assessore, bevind dat daar geen
versagtende omstandighede was nie. Hy is gevolglik ter dood
veroordeel. Vir die roof is 'n vonnis van twaalf jaar
gevangenisstraf opgelê. Die appellant se mede-beskuldigde
is op albei klagtes onskuldig bevind. Met verlof van die
verhoorregter kom die appellant nou in hoer beroep teen die
bevinding dat daar geen versagtende omstandighede was nie,
en teen die doodstraf.

Die feite kan soos volg saamgevat word. Die

oorledene, 'n Swartman van ongeveer 30 jaar oud, het bouwerk

vir 'n sekere Mnr. Spies op 'n kleinhoewe naby Cullinan gedoen.

Die appellant, 'n Swartman van ongeveer 46 jaar oud, het ook

vir Mnr. Spies gewerk as handlanger vir die oorledene. Op

Donderdag 16 April 1987, wat die dag voor die Paasnaweek was,

het Mnr. Spies vir die oorledene lone ten bedrae van R80,00
3
betaal. Vrydag was die oorledene nog by die kleinhoewe,
en die getuie John Chiza het hom die middag ongeveer 17h00
daar by sy motor gesien. Volgens die getuienis het die
oorledene snags in sy motor geslaap. Die appellant was toe
ook op die kleinhoewe, en het Chiza se fiets, wat hy vroeer
van Chiza geleen het, aan hom terugbesorg sodat hy daarmee
na 'n smokkelkroeg kon ry.

Later daardie aand het die oorledene sy einde teengekom

onder omstandighede wat nie heeltemal duidelik uit die getuienis
blyk nie. Op Saterdaoggend het konstabel De Vries na 'n
ongelukstoneel gegaan op 'n grondpad in die distrik Cullinan,
nie ver van Mnr. Spies se kleinhoewe nie. Daar het hy die
oorledene se motor gevind. Dit het die pad verlaat en blykbaar
teen 'n boom 'n paar tree van die pad gebots. Die motor was
gedeeltelik uitgebrand. Binne in die voertuig tussen die
voorste en agterste sitplek het konstabel De Vries die
uitgebrande lyk van die oorledene gevind. Op die lyk het
daar 'n petrolkannetjie gelê, en 'n prop, wat waarskynlik aan
4
die kannetjie behoort het, is ongeveer vyf méter van die voertuig
aangetref. Uit konstabel De Vries se waarnemings het hy
afgelei dat die brand feitlik in die middel van die voertuig
ontstaan het. Ongeveer 'n halwe kilometer of 'n kilometer
van die toneel is die oorledene se beursie langs die pad
aangetref. Daar was geen geld in nie. Van die ongelukstoneel
het daar voetspore oor 'n mielieland geloop.
'n Nadoodse ondersoek het aangetoon dat feitlik alle liggaamsweefsels en organe van die oorledene erg verbrand was. Daar was 'n styfpassende draadlus om die oorledene se nek wat in lewe baie styf moes gewees het. Dit is moontlik dat sy dood deur verwurging met hierdie draadlus veroorsaak kon gewees het. Daar was egter aanduidings dat hy moontlik nog geleef het toe hy aan die brand gesteek is, en dat dit die verbranding was wat sy dood veroorsaak het.

Laat die Vrydagaand of vroeg die Saterdagoggend (die tyd word deur twee getuies onderskeidelik as 23h00 en 03h00 aangegee) het die appellant en die persoon wat in die

5

hof a quo sy mede-beskuldigde was, by die smokkelkroeg aangekom
waar John Chiza die aand verwyl het. Die appellant het geringe

beserings aan sy voorkop, sy lip en sy enkel gehad. Volgens
mediese getuienis het hierdie beserings eerder ontstaan uit
'n motorongeluk as uit 'n aanranding. Chiza het hom uitgevra
na die beserings aan sy voorkop en lip, en die appellant het
gesê dat hy sy vriendin in ander mense se geselskap gevind

het, en dat dit gelei het tot 'n voorval waarin die ander mense
hom aangerand en beseer het. 'n Ander getuie, Mahlangu, het
verstaan dat die appellant gesê het dat hy deur vroumense
aangeval is.

By sy aankoms by die smokkelkroeg was die appellant in besit van die oorledene se radio wat die oorledene gewoonlik in sy motor gehou het. Na hul aankoms het die appellant en sy mede-beskuldigde met ongekende vrygewigheid vir almal in die smokkelkroeg drank gekoop.

Die appellant het nie getuienis op die meriete gelewer nie. Hy het wel ter versagting getuig, maar toe volstaan
6
deur te sê dat hy die betrokke aand so dronk was dat hy glad
nie kon onthou wat gebeur het nie. Sy enigste weergawe oor
hoe die misdaad gepleeg is, verskyn in 'n pleitverduideliking
wat hy in die landdroshof gelewer het. Eerstens het hy ten
opsigte van die moordklagte, waarop hy skuldig gepleit het,
die volgende gesê:

"V. Was u op 17/4/87 te Kleinfontein distrik Cullinan? A. Ek ken nie die wêreld nie. Ek is wel in die
distrik gearresteer en ek het wel hier gewerk. V. Het jy die oorledene, Elias Mtsweni, geken? A. Ek het net sy van geken en ons het saam gewerk. V. Weet jy hoe hy gesterf het? A. Ja. V. Vertel?

A. Hy het R20-00 aan my geskuld. Toe ek dit wou terugkry wou hy my nie betaal nie. Daar was 'n woordewisseling tussen ons. Ek en my broer het die oorledene gevang en in die kar gegooi. My broer is beskuldigde 2 wat langs my staan. Hy is eintlik my vriend. Ons, dit is ek en beskuldigde 2, ry toe met die voertuig waarin die oorledene was. Terwyl ons ry bots ons met 'n boom. Ons het bang geword. Ons het die voer-tuig gebrand. Nadat ons dit gebrand het, het ons geloop. V. Wie het die voertuig gebrand? A. Dit is beskuldigde 2. V. Hoe brand hy dit? A. Hy het 'n kan met bietjie brandstof in gehad

en vuurhoutjies. V. Het jy gekyk terwyl hy dit doen? A. Nee, ek het net langs die pad geloop. V. Waar was die oorledene toe die voertuig aan

die brand gesteek word? A. Binne in die voertuig. V. Het die oorledene toe nog gelewe? A. Nee, ek het nie na hom gekyk op daardie stadium

nie. V. Toe julle die oorledene in die voertuig gegooi het, wat was sy toestand?
7

A. Hy het toe nog gelewe. Hy was egter slap.

Hy kon niks doen nie. Dit was ook donker. V. Hoe kom die oorledene in so 'n toestand? A. Ons het hom vasgehou en na die grond gedruk.

Beskuldigde 2 het sy hande om die oorledene
se nek gehad en hom gewurg. Ek het die oor-

ledene se bene vasgehou. V. Het julle hom so bly wurg tot hy slap geword

het? A. Ja.

V. Hoekom laat julle hom toe in die voertuig? A. Dit is sy, die oorledene, se voertuig en ons

wou hom iewers langs die pad met sy voertuig

los. Toe ons egter bots toe skrik ons. V. Het die voorval wel op 17/4/87 plaasgevind? A. Ek weet nie. Ek ken nie die wêreld nie. V. Wat was die oorsaak van die dood? A. Die brand.

V. Wou jy die oorledene doodmaak? A. Nee, ek wou hom net skrikmaak.
Na aanleiding van hierdie verklaring was die landdros nie
oortuig dat die appellant al die beweringe in die moordklag
erken het nie, en het hy 'n pleit van onskuldig genotuleer.

Op die roofklagte het die appellant onskuldig gepleit,

en die volgende verduideliking gegee:

"PLEITVERDUIDELIKING DEUR BESKULDIGDE:
Beskuldigde nommer 2 het die geld van die oorledene
gevat.
VRAE DEUR HOF:
V. Was jy saam met beskuldigde 2 tydens die voorval?
A. Ja.
V. Hoe verwyder beskuldigde 2 die geld?

A. Terwyl die oorledene op die grond lê het beskuldig-

de 2 die geld uit sy sak gehaal. Dit was in

sy broek se agtersak. V. Was dit terwyl beskuldigde 2 die oorledene wurg
en jy hom vashou? A. Ja.
V. Weet jy hoeveel geld dit was? A. Nee, ek weet nie. Hy het net vir my R40-00 gegee.

Dit was van die geld van die oorledene. Ek weet

nie hoeveel het hy gevat nie.
8

V. Het jy die geld gevat omdat die oorledene aan
jou geld geskuld het? A. Ja. V. Het die voorval wel op 17/4/87 te Kleinfontein
plaasgevind? A. Ek sal dit nie betwis nie. Ek stem saam. Ek
ken nie die plek nie. V. Is die persoon wie se geld julle gevat het wel
Elias Mtsweni? A. Ja, ek stem saam alhoewel ek nie sy naam ken

nie."
Uit die bogemelde verklarings blyk dit duidelik dat die appellant aandadig was aan die moord en die roof.
Oor die presiese aard van die gebeure is sy weergawe egter heeltemal onbetroubaar. Die draadlus wat om die oorledene se nek geplaas is, was 'n belangrike element in die aanranding op die oorledene. Die appellant verwys egter glad nie daarna nie, miskien omdat die gebruik van so 'n wapen mag aandui dat die misdaad nie heeltemal so spontaan gepleeg was as wat deur die appellant voorgegee word nie. Dan verwys die appellant na 'n stryery wat hy met die oorledene gehad het oor 'n skuld van R20,00. In sy getuienis ter versagting het hy egter ontken dat die oorledene ooit R20,00 aan hom geskuld het. Hy het bygevoeg dat hy 'n fout begaan het toe hy die bedrag van R20,00 aan die landdros genoem het, en dat die oorledene
9
nie vir hom geskuld het nie.

Dit is teen bogemelde agtergrond dat die hof a quo

moes oorweeg of daar versagtende omstandighede was. Soos
reeds gemeld, het die assessore bevind dat daar geen versagtende
omstandighede was nie. Die hof se bevindinge word as volg
uitgedruk in die verhoorregter se uitspraak:

"My assessore is van mening, ..., dat daar geen
versagtende omstandighede in hierdie saak teenwoordig
is nie. Ek het die minderheidsmening en ek meen
op die waarskynlikhede is daar 'n sterk aanduiding
dat die beskuldigde wel daardie aand onder die invloed
van drank was en ek meen ook dat ek verplig is om

in aanmerking te neem die getuienis van die beskuldigde

dat die oorledene aan hom geld geskuld het en geweier

het om dit terug te betaal en dat daar toe 'n

woordewisseling ontstaan het. Ek meen daardie faktor
is seer sekerlik ook versagtende omstandighede."

Dit is geykte reg dat hierdie hof slegs op beperkte gronde kan inmeng met 'n bevinding van 'n verhoorhof dat daar geen versagtende omstandighede is nie, nl. slegs indien die verhoorhof 'n mistasting of onreelmatigheid gepleeg het, of indien geen redelike hof tot daardie bevinding kon gekom het nie. In die onderhawige geval het Mnr. Mosupye, wat namens die appellant verskyn het, betoog dat die meerderheid in die hof a quo 'n mistasting begaan het omtrent die aard van die

10 bewyslas wat die appellant beswaar het om versagtende

omstandighede te bewys. Die meerderheid, so het hy betoog,

het die saak benader op die basis dat die appellant sodanige

omstandighede bo redelike twyfel moes bewys, terwyl bewys

op 'n oorwig van waarskynlikhede voldoende was. Indien die

juiste maatstaf toegepas word, so het die betoog voortgegaan,

blyk dit uit die getuienis dat die verhoorregter se houding

die korrekte een was.

Daar is niks in die hof se uitspraak om aan te dui

dat 'n verkeerde maatstaf toegepas is nie, en Mnr. Mosupye

se betoog kom eintlik daarop neer dat die bevinding van die

meerderheid so onredelik was dat 'n mens moet aflei dat hulle

'n mistasting van hierdie aard gepleeg het. Om hierdie betoog

na waarde te oordeel moet 'n mens nagaan watter getuienis daar

was met betrekking tot die faktore waarop daar gesteun word

as versagtende omstandighede.

Die eerste faktor is die appellant se beweerde drankinname.

Dit is duidelik dat die appellant se getuienis hieromtrent

11
onaanvaarbaar was. Dit is eerstens opmerklik dat hy, ten

spyte van sy beweerde geheueverlies, nogtans 'n samehangende
relaas aan die landdros kon voordra. Hierby kan gevoeg word
dat daar geen bewering van dronkenskap aan die landdros gemaak

is nie. Dan word die appellant se getuienis oor sy toestand
nie gestaaf deur ander getuienis nie. Volgens die appellant
was hy reeds baie dronk toe hy die middag vir John Chiza ontmoet
het met die fiets. John Chiza staaf nie hierdie bewering
nie, en dit was trouens nie aan hom gestel nie. Dan was
daar getuienis dat die appellant veel later by die smokkelkroeg
gekom het waar Chiza en Mahlangu was. Chiza is nie uitgevra
na die appellant se toestand nie, en hy het geen verwysing

daarna gemaak nie. Dit blyk egter dat die appellant kon

loop, drank kon bestel en 'n logiese verduideliking vir sy

beserings kon gee. As hy papdronk was, sou Chiza dit tog

genoem het.

Mahlangu het wel hieroor getuig. Hy sê die volgende:
"Soos u beweer dat hulle daardie tyd gekom het toe u hulle sien wat was hulle toestand gewees? Was

12

hulle dronk, gedrink of nugter gewees? — Hulle het nie so gedrink nie. Hulle was gedrink gewees."

Die graad van die appellant se dronkenskap blyk nie hieruit nie, en daarby moet in gedagte gehou word dat hierdie insident moontlik ure na die moord kon plaasgevind het.
Uit die getuienis wat ek hierbo opgesom het, is dit onmoontlik om met enige duidelikheid te sê of die appellant tydens die pleging van die misdaad onder die invloed van drank was, en, indien wel, tot watter mate. Daar is in argument aan die hand gedoen dat die motorbotsing veroorsaak kon gewees het deur die appellant se dronkenskap, maar dit is blote bespiegeling. Dit is nie eers duidelik uit die appellant se pleitverduideliking dat dit hy was wat die motor bestuur het nie, en in elk geval kon daar baie redes gewees het wat tot 'n verlies aan beheer oor die voertuig gelei het. Alles in ag genome meen ek dat die hof a quo redelikerwyse op die getuienis kon bevind dat die appellant nie op 'n oorwig van waarskynlikhede bewys het dat hy ten tyde van die moord wesentlik

13
onder die invloed van drank was nie.
Dit bring my dan by die tweede faktor waarop staatgemaak word, te wete provokasie. Die basiese swakheid in die appellant se saak is dat die bewering van provokasie, wat in die pleitverduideliking voorkom, die bodem ingeslaan is in die getuienis ter versagting, toe die appellant onder eed ontken het dat die oorledene hom geld geskuld het. Dit wil dus voorkom dat daar geen betroubare feitebasis vir die beweerde provokasie in die getuienis as geheel gevind kan word nie.
Ek meen dus dat die meerderheid van die hof a quo geregtig was om te bevind dat die appellant nie bewys het, op 'n oorwig van waarskynlikhede, dat hy ten tyde van die moord onder die invloed van drank was nie, of dat daar enige provokasie aan die kant van die oorledene was nie. Dit volg dus dat daar na my mening geen afleiding gemaak kan word dat die hof 'n verkeerde maatstaf toegepas het by die beoordeling van hierdie vraag nie.
14

Weens die voorgaande is dit onnodig om te oorweeg

of dronkenskap en die beweerde provokasie wel versagtend sou
ingewerk het in die huidige geval. Die moord is klaarblyklik
gepleeg vir doeleindes van roof, en die feit dat 'n draadlus
gebruik is dui op 'n sekere mate van voorbereiding. Dit spreek
nie vanself dat 'n matige dronkenskap of 'n weiering deur die
oorledene om 'n skuld van R20,00 te betaal noodwendig as
versagtende omstandighede vir hierdie moord sou gegeld het
nie. Ek hoef my egter nie verder hieroor uit te laat nie.

Weens die voorgaande word die appél afgewys.

E M GROSSKOPF, AR AR )

MILNE, AK ) Stem saam