South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1988 >>
[1988] ZASCA 80
| Noteup
| LawCite
S v Khoza (92/88) [1988] ZASCA 80 (23 August 1988)
Download original files |
92/88/av
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)
In die saak tussen:
PAULUS VUSI KHOZA Appellant
DIE STAAT Respondent
CORAM: GROSSKOPF, VIVIER et MILNE, ARR
VERHOOR: 18 Augustus 1988 GELEWER: 23 August 1988
UITSPRAAK
GROSSKOPF, AR
Die appellant is saam met ene Msana in die Transvaalse Provinsiale Afdeling
aangekla van moord op ene Elias Motsweni Ndala, asook
van roof met
verswarende
2
omstandighede op gemelde Ndala. Na 'n verhoor voor SMIT
R en assessore is
die appellant op albei klagtes skuldig bevind.
Ten opsigte van die moord het
die hof, met 'n meerderheid
bestaande uit die twee assessore, bevind dat daar geen
versagtende
omstandighede was nie. Hy is gevolglik ter dood
veroordeel. Vir die roof is
'n vonnis van twaalf jaar
gevangenisstraf opgelê. Die appellant se
mede-beskuldigde
is op albei klagtes onskuldig bevind. Met verlof van
die
verhoorregter kom die appellant nou in hoer beroep teen die
bevinding
dat daar geen versagtende omstandighede was nie,
en teen die doodstraf.
Die feite kan soos volg saamgevat word. Die
oorledene, 'n Swartman van ongeveer 30 jaar oud, het bouwerk
vir 'n sekere Mnr. Spies op 'n kleinhoewe naby Cullinan gedoen.
Die appellant, 'n Swartman van ongeveer 46 jaar oud, het ook
vir Mnr. Spies gewerk as handlanger vir die oorledene. Op
Donderdag 16 April 1987, wat die dag voor die Paasnaweek was,
het Mnr. Spies vir die oorledene lone ten bedrae van R80,00
3
betaal.
Vrydag was die oorledene nog by die kleinhoewe,
en die getuie John Chiza het
hom die middag ongeveer 17h00
daar by sy motor gesien. Volgens die getuienis
het die
oorledene snags in sy motor geslaap. Die appellant was toe
ook op
die kleinhoewe, en het Chiza se fiets, wat hy vroeer
van Chiza geleen het,
aan hom terugbesorg sodat hy daarmee
na 'n smokkelkroeg kon ry.
Later daardie aand het die oorledene sy einde teengekom
onder omstandighede wat nie heeltemal
duidelik uit die getuienis
blyk nie. Op Saterdaoggend het konstabel De Vries
na 'n
ongelukstoneel gegaan op 'n grondpad in die distrik Cullinan,
nie
ver van Mnr. Spies se kleinhoewe nie. Daar het hy die
oorledene se motor
gevind. Dit het die pad verlaat en blykbaar
teen 'n boom 'n paar tree van die
pad gebots. Die motor was
gedeeltelik uitgebrand. Binne in die voertuig
tussen die
voorste en agterste sitplek het konstabel De Vries
die
uitgebrande lyk van die oorledene gevind. Op die lyk het
daar 'n
petrolkannetjie gelê, en 'n prop, wat waarskynlik aan
4
die
kannetjie behoort het, is ongeveer vyf méter van die
voertuig
aangetref. Uit konstabel De Vries se waarnemings het hy
afgelei
dat die brand feitlik in die middel van die voertuig
ontstaan het. Ongeveer
'n halwe kilometer of 'n kilometer
van die toneel is die oorledene se beursie
langs die pad
aangetref. Daar was geen geld in nie. Van die
ongelukstoneel
het daar voetspore oor 'n mielieland geloop.
'n Nadoodse
ondersoek het aangetoon dat feitlik alle liggaamsweefsels en organe van die
oorledene erg verbrand was. Daar was 'n styfpassende
draadlus om die oorledene
se nek wat in lewe baie styf moes gewees het. Dit is moontlik dat sy dood deur
verwurging met hierdie draadlus
veroorsaak kon gewees het. Daar was egter
aanduidings dat hy moontlik nog geleef het toe hy aan die brand gesteek is, en
dat dit
die verbranding was wat sy dood veroorsaak het.
Laat die Vrydagaand of vroeg die Saterdagoggend (die tyd word deur twee getuies onderskeidelik as 23h00 en 03h00 aangegee) het die appellant en die persoon wat in die
5
hof a quo sy mede-beskuldigde was, by die smokkelkroeg
aangekom
waar John Chiza die aand verwyl het. Die appellant het geringe
beserings aan sy voorkop, sy lip en sy enkel gehad. Volgens
mediese
getuienis het hierdie beserings eerder ontstaan uit
'n motorongeluk as uit 'n
aanranding. Chiza het hom uitgevra
na die beserings aan sy voorkop en lip, en
die appellant het
gesê dat hy sy vriendin in ander mense se geselskap
gevind
het, en dat dit gelei het tot 'n voorval waarin die ander mense
hom
aangerand en beseer het. 'n Ander getuie, Mahlangu, het
verstaan dat die
appellant gesê het dat hy deur vroumense
aangeval is.
By sy aankoms by die smokkelkroeg was die appellant in besit van die oorledene se radio wat die oorledene gewoonlik in sy motor gehou het. Na hul aankoms het die appellant en sy mede-beskuldigde met ongekende vrygewigheid vir almal in die smokkelkroeg drank gekoop.
Die appellant het nie getuienis op die meriete gelewer nie. Hy het wel ter
versagting getuig, maar toe volstaan
6
deur te sê dat hy die
betrokke aand so dronk was dat hy glad
nie kon onthou wat gebeur het nie. Sy
enigste weergawe oor
hoe die misdaad gepleeg is, verskyn in 'n
pleitverduideliking
wat hy in die landdroshof gelewer het. Eerstens het hy
ten
opsigte van die moordklagte, waarop hy skuldig gepleit het,
die
volgende gesê:
"V. Was u op 17/4/87 te Kleinfontein distrik Cullinan? A. Ek ken nie die wêreld nie. Ek is wel in die
distrik gearresteer en ek het wel hier gewerk. V. Het jy die oorledene, Elias Mtsweni, geken? A. Ek het net sy van geken en ons het saam gewerk. V. Weet jy hoe hy gesterf het? A. Ja. V. Vertel?
A. Hy het R20-00 aan my geskuld. Toe ek dit wou terugkry wou hy my nie betaal nie. Daar was 'n woordewisseling tussen ons. Ek en my broer het die oorledene gevang en in die kar gegooi. My broer is beskuldigde 2 wat langs my staan. Hy is eintlik my vriend. Ons, dit is ek en beskuldigde 2, ry toe met die voertuig waarin die oorledene was. Terwyl ons ry bots ons met 'n boom. Ons het bang geword. Ons het die voer-tuig gebrand. Nadat ons dit gebrand het, het ons geloop. V. Wie het die voertuig gebrand? A. Dit is beskuldigde 2. V. Hoe brand hy dit? A. Hy het 'n kan met bietjie brandstof in gehad
en vuurhoutjies. V. Het jy gekyk terwyl hy dit doen? A. Nee, ek het net langs die pad geloop. V. Waar was die oorledene toe die voertuig aan
die brand gesteek word? A. Binne in die voertuig. V. Het die oorledene toe nog gelewe? A. Nee, ek het nie na hom gekyk op daardie stadium
nie. V. Toe julle die oorledene in die voertuig gegooi het, wat was sy
toestand?
7
A. Hy het toe nog gelewe. Hy was egter slap.
Hy kon niks doen nie. Dit was ook donker. V. Hoe kom die oorledene in so 'n toestand? A. Ons het hom vasgehou en na die grond gedruk.
Beskuldigde 2 het sy hande om die oorledene
se nek gehad en hom gewurg. Ek het die oor-
ledene se bene vasgehou. V. Het julle hom so bly wurg tot hy slap geword
het? A. Ja.
V. Hoekom laat julle hom toe in die voertuig? A. Dit is sy, die oorledene, se voertuig en ons
wou hom iewers langs die pad met sy voertuig
los. Toe ons egter bots toe skrik ons. V. Het die voorval wel op 17/4/87 plaasgevind? A. Ek weet nie. Ek ken nie die wêreld nie. V. Wat was die oorsaak van die dood? A. Die brand.
V. Wou jy die oorledene doodmaak? A. Nee, ek wou hom net skrikmaak.
Na
aanleiding van hierdie verklaring was die landdros nie
oortuig dat die
appellant al die beweringe in die moordklag
erken het nie, en het hy 'n pleit
van onskuldig genotuleer.
Op die roofklagte het die appellant onskuldig gepleit,
en die volgende verduideliking gegee:
"PLEITVERDUIDELIKING DEUR BESKULDIGDE:
Beskuldigde nommer 2 het die geld van die oorledene
gevat.
VRAE DEUR HOF:
V. Was jy saam met beskuldigde 2 tydens die voorval?
A. Ja.
V. Hoe verwyder beskuldigde 2 die geld?
A. Terwyl die oorledene op die grond lê het beskuldig-
de 2 die geld uit sy sak gehaal. Dit was in
sy broek se agtersak. V. Was dit terwyl beskuldigde 2 die oorledene wurg
en jy hom vashou? A. Ja.
V. Weet jy hoeveel geld dit was? A. Nee, ek weet nie. Hy het net vir my R40-00 gegee.
Dit was van die geld van die oorledene. Ek weet
nie hoeveel het hy gevat nie.
8
V. Het jy die geld gevat omdat die oorledene aan
jou geld geskuld het? A. Ja. V. Het die voorval wel op 17/4/87 te Kleinfontein
plaasgevind? A. Ek sal dit nie betwis nie. Ek stem saam. Ek
ken nie die plek nie. V. Is die persoon wie se geld julle gevat het wel
Elias Mtsweni? A. Ja, ek stem saam alhoewel ek nie sy naam ken
nie."
Uit die bogemelde verklarings blyk dit
duidelik dat die appellant aandadig was aan die moord en die roof.
Oor die
presiese aard van die gebeure is sy weergawe egter heeltemal onbetroubaar. Die
draadlus wat om die oorledene se nek geplaas
is, was 'n belangrike element in
die aanranding op die oorledene. Die appellant verwys egter glad nie daarna nie,
miskien omdat die
gebruik van so 'n wapen mag aandui dat die misdaad nie
heeltemal so spontaan gepleeg was as wat deur die appellant voorgegee word
nie.
Dan verwys die appellant na 'n stryery wat hy met die oorledene gehad het oor 'n
skuld van R20,00. In sy getuienis ter versagting
het hy egter ontken dat die
oorledene ooit R20,00 aan hom geskuld het. Hy het bygevoeg dat hy 'n fout begaan
het toe hy die bedrag
van R20,00 aan die landdros genoem het, en dat die
oorledene
9
nie vir hom geskuld het nie.
Dit is teen bogemelde agtergrond dat die hof a quo
moes oorweeg of daar versagtende
omstandighede was. Soos
reeds gemeld, het die assessore bevind dat daar geen
versagtende
omstandighede was nie. Die hof se bevindinge word as
volg
uitgedruk in die verhoorregter se uitspraak:
"My assessore is van mening, ..., dat daar geen
versagtende omstandighede in hierdie saak teenwoordig
is nie. Ek het die minderheidsmening en ek meen
op die waarskynlikhede is daar 'n sterk aanduiding
dat die beskuldigde wel daardie aand onder die invloed
van drank was en ek meen ook dat ek verplig is om
in aanmerking te neem die getuienis van die beskuldigde
dat die oorledene aan hom geld geskuld het en geweier
het om dit terug te betaal en dat daar toe 'n
woordewisseling ontstaan het. Ek meen daardie faktor
is seer sekerlik ook versagtende omstandighede."
Dit is geykte reg dat hierdie hof slegs op beperkte gronde kan inmeng met 'n bevinding van 'n verhoorhof dat daar geen versagtende omstandighede is nie, nl. slegs indien die verhoorhof 'n mistasting of onreelmatigheid gepleeg het, of indien geen redelike hof tot daardie bevinding kon gekom het nie. In die onderhawige geval het Mnr. Mosupye, wat namens die appellant verskyn het, betoog dat die meerderheid in die hof a quo 'n mistasting begaan het omtrent die aard van die
10 bewyslas wat die appellant beswaar het om versagtende
omstandighede te bewys. Die meerderheid, so het hy betoog,
het die saak benader op die basis dat die appellant sodanige
omstandighede bo redelike twyfel moes bewys, terwyl bewys
op 'n oorwig van waarskynlikhede voldoende was. Indien die
juiste maatstaf toegepas word, so het die betoog voortgegaan,
blyk dit uit die getuienis dat die verhoorregter se houding
die korrekte een was.
Daar is niks in die hof se uitspraak om aan te dui
dat 'n verkeerde maatstaf toegepas is nie, en Mnr. Mosupye
se betoog kom eintlik daarop neer dat die bevinding van die
meerderheid so onredelik was dat 'n mens moet aflei dat hulle
'n mistasting van hierdie aard gepleeg het. Om hierdie betoog
na waarde te oordeel moet 'n mens nagaan watter getuienis daar
was met betrekking tot die faktore waarop daar gesteun word
as versagtende omstandighede.
Die eerste faktor is die appellant se beweerde drankinname.
Dit is duidelik dat die appellant se getuienis hieromtrent
11
onaanvaarbaar was. Dit is eerstens opmerklik dat hy, ten
spyte van sy beweerde geheueverlies, nogtans 'n samehangende
relaas aan
die landdros kon voordra. Hierby kan gevoeg word
dat daar geen bewering van
dronkenskap aan die landdros gemaak
is nie. Dan word die appellant se getuienis oor sy toestand
nie gestaaf
deur ander getuienis nie. Volgens die appellant
was hy reeds baie dronk toe
hy die middag vir John Chiza ontmoet
het met die fiets. John Chiza staaf nie
hierdie bewering
nie, en dit was trouens nie aan hom gestel nie. Dan
was
daar getuienis dat die appellant veel later by die smokkelkroeg
gekom
het waar Chiza en Mahlangu was. Chiza is nie uitgevra
na die appellant se
toestand nie, en hy het geen verwysing
daarna gemaak nie. Dit blyk egter dat die appellant kon
loop, drank kon bestel en 'n logiese verduideliking vir sy
beserings kon gee. As hy papdronk was, sou Chiza dit tog
genoem het.
Mahlangu het wel hieroor getuig. Hy sê die volgende:
"Soos u beweer dat hulle daardie tyd gekom het toe u hulle sien wat was hulle toestand gewees? Was
12
hulle dronk, gedrink of nugter gewees? — Hulle het nie so gedrink nie. Hulle was gedrink gewees."
Die graad van die
appellant se dronkenskap blyk nie hieruit nie, en daarby moet in gedagte gehou
word dat hierdie insident moontlik
ure na die moord kon plaasgevind het.
Uit
die getuienis wat ek hierbo opgesom het, is dit onmoontlik om met enige
duidelikheid te sê of die appellant tydens die pleging
van die misdaad
onder die invloed van drank was, en, indien wel, tot watter mate. Daar is in
argument aan die hand gedoen dat die
motorbotsing veroorsaak kon gewees het deur
die appellant se dronkenskap, maar dit is blote bespiegeling. Dit is nie eers
duidelik
uit die appellant se pleitverduideliking dat dit hy was wat die motor
bestuur het nie, en in elk geval kon daar baie redes gewees
het wat tot 'n
verlies aan beheer oor die voertuig gelei het. Alles in ag genome meen ek dat
die hof a quo redelikerwyse op die getuienis kon bevind dat die appellant
nie op 'n oorwig van waarskynlikhede bewys het dat hy ten tyde van die
moord
wesentlik
13
onder die invloed van drank was nie.
Dit bring my dan by die tweede
faktor waarop staatgemaak word, te wete provokasie. Die basiese swakheid in die
appellant se saak is
dat die bewering van provokasie, wat in die
pleitverduideliking voorkom, die bodem ingeslaan is in die getuienis ter
versagting,
toe die appellant onder eed ontken het dat die oorledene hom geld
geskuld het. Dit wil dus voorkom dat daar geen betroubare feitebasis
vir die
beweerde provokasie in die getuienis as geheel gevind kan word nie.
Ek meen
dus dat die meerderheid van die hof a quo geregtig was om te bevind dat
die appellant nie bewys het, op 'n oorwig van waarskynlikhede, dat hy ten tyde
van die moord onder die
invloed van drank was nie, of dat daar enige provokasie
aan die kant van die oorledene was nie. Dit volg dus dat daar na my mening
geen
afleiding gemaak kan word dat die hof 'n verkeerde maatstaf toegepas het by die
beoordeling van hierdie vraag nie.
14
Weens die voorgaande is dit onnodig om te oorweeg
of
dronkenskap en die beweerde provokasie wel versagtend sou
ingewerk het in die
huidige geval. Die moord is klaarblyklik
gepleeg vir doeleindes van roof, en
die feit dat 'n draadlus
gebruik is dui op 'n sekere mate van voorbereiding.
Dit spreek
nie vanself dat 'n matige dronkenskap of 'n weiering deur
die
oorledene om 'n skuld van R20,00 te betaal noodwendig as
versagtende
omstandighede vir hierdie moord sou gegeld het
nie. Ek hoef my egter nie
verder hieroor uit te laat nie.
Weens die voorgaande word die appél afgewys.
E M GROSSKOPF, AR AR )
MILNE, AK ) Stem saam

RTF format