South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1988 >> [1988] ZASCA 105

| Noteup | LawCite

S v Quandu and Others (378/87) [1988] ZASCA 105 (22 September 1988)

Download original files

PDF format

RTF format


Saaknommer 378/87

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

APPéLAFDELING

In die saak tussen:

BLACKIE QUANDU 1ste Appellant

(Besk. 2 in Hof a quo)
MZINDULA NDIMA 2de Appellant

(Besk. 5 in Hof a quo)
DIPO DEBORAH DOLOMBO 3de Appellant

(Besk. 7 in Hof a quo)

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: HOEXTER, GROSSKOPF, ARR et NICHOLAS, Wnd AR

VERHOOR: 9 September 1988 GELEWER: 22 September 1988

UITSPRAAK

HOEXTER, AR

2

HOEXTER, AR

Dit is 'n strafappèl alleen teen vonnis. In die streekhof vir die Oos-Kaapse streekafdeling te Paterson gehou, het die drie appellante en nege ander persone op een klagte van openbare geweld en een klagte van oortreding van art 46(3) van die Wet op Binnelandse Veiligheid, No 74 van 1982, gesamentlik tereggestaan. Nadat hulle skuldig gepleit het, is die drie appellante soos aangekla, skuldig bevind. Op 18 September 1985 het die verhoorhof die appellante onderskeidelik die volgende vonnisse opgelê. Op die eerste klagte (openbare geweld) is die eerste appellant tot sewe jaar gevangenisstraf, waarvan twee jaar voorwaardelik opgeskort is, gevonnis; terwyl die tweede en derde appellante elk tot drie jaar gevangenisstraf, waarvan die helfte voorwaardelik opgeskort is, gevonnis. Ten aansien van die tweede klagte (oortreding van art 46(3) van Wet 74 van 1982) is elkeen van die appellante 'n boetestraf van R200, of by

wanbetaling

3

wanbetaling daarvan ses maande gevangenisstraf, opgelê. Die appellante se appèl teen voormelde vonnisse is deur die Oos-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof afgewys. Met verlof van die Hof a quo kom die appellante voor hierdie hof in hoër beroep. Die tweede en derde appellante is op borgtog vrygelaat. Die eerste appellant dien sy vonnis uit.
Die strafsaak teen die appellante en hul medebeskul-digdes het voortgespruit uit 'n onwettige byeenkoms wat op 15 Junie 1985 te Paterson gehou is en wat deur o a die appellante bygewoon is (klagte 2), asook die oproerige nasleep daarvan (klagte 1). Wat betref die eerste klagte van openbare geweld kan die tersaaklike feite soos volg saamgevat word. Die klaers was twee konstabels, Xolile Witbooi en Khulile Witbooi, wat broers is. Op die betrokke dag was die klaers nie aan diens nie. In burgerdrag geklee, was hul omstreeks 1 uur nm te voet op pad na die woning van Xolile Witbooi toe 'n balhorige menigte

van

4

van 50 of 60 persone hul op straat voorgekeer het. Die oproer-makers (waaronder die drie appellante) het die klaers se deurgang versper en in dié proses is die klaers ook rondgestamp. Na etlike minute het Khulile Witbooi, wat 'n vuurwapen by hom gehad het, ten einde raad 'n skoot in die lug gevuur waarop die skare tydelik uitmekaar uit gegaan het. Die klaers het toe na Xolile Witbooi se huis gehardloop, maar die oproermakers het hul agternagesit en met klippe bestook. Die klaers kon egter daarin slaag om die huis van Xolile Witbooi te bereik en binne te gaan; en daar het laasgenoemde sy eie vuurwapen bekom Teen hierdie tyd was die skare besig om die huis onder die klippe te steek as gevolg waarvan twee vensterruite stukkend gegooi is. Sommige van die klipgooiers het in die straat gestaan terwyl ander die huis se erf binnegedring het. Toe Xolile Witbooi met sy vuurwapen by sy voordeur gestaan het, het die eerste appellant binne die erf en op 'n afstand van twee treë probeer

om

5

om hom met klippe te gooi. Xolile Witbooi het egter gekoes en daarna sy aanvaller in die been raakgeskiet. Daarop het die eerste appellant die aftog geblaas.
Die eerste appellant is 'n 27-jarige manspersoon wat 'n vaste betrekking in die Poswese beklee het. Die tweede en derde appellante is albei skoolgaande jeugdiges. Op 15 Junie 1985 was die eerste appellant 'n seun van vyftien jaar en die derde appellant 'n dogter van sestien jaar. By die verhoor is aldrie appellante deur 'n advokaat bygestaan. Met die oog op die verhoorhof se vonnisoorweging het die advokaat 'n versoek aan die streeklanddros gerig dat m b t die omstandighede van die tweede en derde appellante die verslag van 'n proefbeampte ingewin en voorgelê moet word. Dienaangaande het die streeklanddros die advokaat daarop attent gemaak dat so 'n stap 'n uitstel van die verhoor tot gevolg sou gehad het; en die streeklanddros het verneem in welke verband 'n maatskaplike verslag verlang word.

Daarop

6

Daarop het die voigende bespreking gevolg:-

"MR PILLAY : Yes, Your Worship, their general standard of living and the way they were brought up, their school conditions, their ability to study, all that. COURT : But surely the parents should be in a
position to testify in that regard?
MR PILLAY : No Your Worship, I have spoken to them. I am not convinced they can give a proper outline what the positions are."

In die loop van 'n verdere gedagtewisseling in hierdie verband
tussen die verhoorhof en die advokaat het die streeklanddros
gesê:-

"At this stage I hold the view....that the parents are present and you can call them as witnesses and I will make a final decision regarding the application after hearing their evidence."

Die advokaat het egter daarmee volhard dat dit nutteloos sou

wees om die ouers in dié verband uit te vra:-

"MR PILLAY : Your Worship if you insist I can call them, but as I say I do not know how thêy can help the Court in any way. I went over all the factors that I am interested in with

them

7

them, they do not seem to be able to grasp what the intention of my questions are."

Die slotsom waartoe die streeklanddros geraak het, was:-

"...dat ek dit nie nodig ag dat 'n Proefbeampte-verslag ten opsigte van beskuldigdes no 5 en 7 in hierdie saak voor my gelê word nie. Ek nooi mnr Pillay weer eens uit, indien hy dit goed ag, om die ouers van die beskuldigdes te roep oor daardie aspekte wat hy onder my aandag wil bring."

Hierop was die reaksie van die advokaat:-

"MR PILLAY : Your Worship, I just want to put on record that I am still of the view that neither of the parents in any way put the Court in a better position to make a decision."

Op slot van sake is nóg die ouers van die tweede en derde
appellante nóg 'n proefbeampte as getuie in die saak opgeroep.

Die eerste appellant het 'n bestendige werksrekord

van ses jaar se diens by die Poskantoor. Hy is 'n getroude man
met twee kinders. In Desember 1978 is hy weens aanranding met
die opset om ernstig te beseer 'n opgeskorte vonnis van twee
maande gevangenisstraf opgelê. Met inagneming van die feit dat

laasgenoemde

8

laasgenoemde misdryf 6½ jaar tevore gepleeg is asook die aard
en omvang van die vonnis daarvoor opgelê, is die eerste appellant
se enigste veroordeling nouliks 'n faktor wat by straftoemeting
in die onderhawige saak sterk verswarend sou kon inwerk.
Daarenteen, soos die streeklanddros tereg beklemtoon het, was
die eerste appellant een van die belhamels onder die oproerige
skare. Dat hy een van die aanvoerders by die kwaaddoenery was,
blyk uit die getuienis van Xolile Witbooi wat voor vonnisopleg-
ging deur die aanklaer in die verhoorhof aangevoer is.

In die hof a quo het regter JENNETT (met wie se

uitspraak regter KANNEMEYER saamgestem het) daarop gewys dat in
die geval van die eerste appellant die streeklanddros by vonnis-
oorweging geen mistasting begaan het nie; en daarna soos volg
opgemerk:-

"Although the sentence is perhaps higher than I myself would have imposed, I do not consider that I would be justified by going so far as to state that no reasonable Court would have imposed the

sentence

9

sentence that the Magistrate did, and accordingly, I do not consider that there are any grounds for interfering with the sentence which he imposed on count 1 on the first appellant."

Met bostaande beskouing van die saak kan ek met eerbied nie
saamstem nie. Na my oordeel is die vonnis wat die verhoorhof
die eerste appellant op klagte 1 opgelê het so buitensporig
swaar dat hierdie 'n geval is waar die verhoorhof sy diskresie
m b t straftoemeting nie redelikerwys uitgeoefen het nie.
Bygevolg is hierdie hof regtens verplig om met die opgelegde
vonnis in te gryp. Dit wil my voorkom dat geregtigheid sou
geskied indien die eerste appellant weens sy veroordeling op
die eerste klagte 'n effektiewe termyn van drie jaar gevangenis-
straf uitdien. Mnr Lubbe, wat die appél namens aldrie appel-

lante beredeneer het, het die eerste appellant se vonnis op
die tweede klagte nie aangeveg nie, en, met inagneming van die
eerste appellant se persoonlike omstandighede, kan dit na my
mening nie as 'n onredelike vonnis aangemerk word nie.

Die
10
Die tweede en derde appellante was nie alleen

blote skoolkinders nie maar eerste oortreders daarby. Met
verwysing na die tweede en derde appellant het JENNETT, R
hom o a soos volg uitgelaat:-

"I have already referred to the judgment in the
unreported case of THE STATE v MANGALISO in which
it was said that in cases like the present, the
personal circumstances of the offender have to
some extent to yield to the interest of society
and therefore be accorded lesser weight than they
might otherwise be. It is unfortunately also a
fact that crimes of the nature of which the
appellants were convicted insofar as the first
count is concerned appear to involve juveniles
more and more, and indeed, on today's roll, there
are 3 appeals involving cases of public violence,
all of which involve juveniles, with the result
that the deterrent aspect of punishment has again
to be emphasised
Counsel appearing for the appellants before the Regional Magistrate requested the Regional Magi-strate to call for a probation officer's report, but despite the Magistrate concerned repeatedly inviting Counsel to lead some evidence so as to lay some foundation for the court to think that a probation officer's report would be of assistance, Counsel did not avail himself of the invitation.

I

11
I do in the circumstances of the present case, not consider that the Magistrate's failure to call for a probation officer's report, was wrong, nor that it amounts to an irregularity. As far as the sentence itself on 'Count 1 is concerned in respect of second and third appellants, again, it is a severe one for a juvenile particularly, but there is again no misdirection on the part of the Magistrate nor is the sentence so severe that I can say that it is unreasonable."

Met die oog op die passasie hierbo aangehaal is daar, so meen
ek, etlike fasette wat toeligting verdien. Dat by vonnisop-
legging in die geval van ernstige misdade soos openbare geweld
die belange van die gemeenskap sterk na vore tree, behoef geen
argument; en in 'n bepaalde geval kan dit ook meebring dat die
persoonlike omstandighede van die veroordeelde in 'n mate voor
die gemeenskapsbelang moet wyk. In hierdie verband moet twee
sake egter nie uit die oog verloor word nie. Eerstens is dit

vanselfsprekend so dat by skuldigbevinding aan enige ernstige
misdryf - wat ookal die aard daarvan - kennis van die

veroordeelde...

12

veroordeelde se persoonlike omstandighede vir die straftoe-
metingsfunksie onmisbaar is. Ten tweede moet deurentyd
gewaak word teen oorbeklemtoning van die gemeenskapsbelang
ten koste van die veroordeelde se persoonlike omstandighede.
Insiggewend in hierdie verband is die volgende opmerkings
van JANSEN, AR in S v Matoma 1981(3) SA 838 op 842H-843A:-

"Die geleidelike en geregverdigde verswaring van strawwe om die vermeerderde voorkoms van 'n bepaalde misdaad met afskrikking, retribusie en verwydering van die oortreder uit die gemeenskap in die belang van die gemeenskap te bekamp, moet by straftoemeting nie lei tot 'n noodwendige negering van 'n besondere beskuldigde se eie persoonlike omstandighede wat moontlik tot strafvermindering kan lei nie. Elke geval moet nog steeds in die lig van die beskuldigde se persoon en besondere omstandighede opgeweeg word."

In die onderhawige geval was by vonnisoorweging van die tweede
en derde appellante die oorheersende faktor die feit dat hulle
skoolgaande kinders is. In S v Adams 1971(4) SA 125 (K)
verklaar regter STEYN op 126 G/H:-

"Dit is met die jeugdige soveel te meer as met

enige

13
enige ander beskuldigde noodsaaklik dat die Hof sy straftoemetingsfunksie nie behoort uit te voer tensy hy volledige gegewens voor hom het aangaande wat 'n gepaste vonnis is nie. Die regspleging verg steeds die grootste voorsorg en versigtigheid by die vasstel-ling van 'n geskikte straf, maar dit verg dit in 'n besondere mate waar met jeugdiges gehandel word. Die moontlikheid van hervorming is by die jeug soveel meer aktueel en die gevolge van 'n onoorwoe uitoefe-ning van diskresie deur die voorsittende amptenaar kan soveel meer onherstelbare skade meebring in die geval van 'n jeugdige."

Met verwysing na S v Adams (supra) laat BOTHA, AR hom in

S v Jansen and Another 1975(1) SA 425(A) op 428A soos volg uit:-

"To enable a Court to determine the most appropriate form of punishmeht in the case of a juvenile offender, it has become the established practice in the Courts to call for a report on the offender by a probation officer."

Vanselfsprekend moet elke geval waarby 'n jeugdige veroordeel
word aan die hand van die besondere omstandighede van die saak

beoordeel word. Na aanleiding van die benadering in S v Adams

(supra) aangedui, het RUMPFF, HR in S v Hlongwana 1975(4) SA 567

(A)
14

(A) op 571 A/B die volgende opgemerk:-

"Ek stem volmondig saam met wat daar gesê is maar wil beklemtoon dat die feit dat 'n Verhoorhof nie 'n verslag van 'n proefbeampte ingewin het nie, nie in elke geval en outomaties 'n geldige rede skep om 'n opgelegde vonnis ter syde te stel nie. Ek dink nie dit was die bedoeling om so 'n reël in die lewe te roep nie omdat dit in elke besondere geval sal afhang van die ouderdom van die beskul-digde en van ander relevante feite wat reeds deur getuienis geopenbaar is, of 'n hof 'n verdere verslag behoort te vra of nie. In die Jansen-saak het die Verhoorhof klaarblyklik gefouteer om seuns van 15 en 16 jaar met dieselfde maat te meet as mans van 25 tot 28 jaar. Die ouderdom van die appel-lante moes in ag geneem gewees het en dit, tesame met die besondere omstandighede, het 'n verslag van 'n proefbeampte vereis."

Ek kan met eerbied nie saamstem met die gedagte dat in die om-
standighede van die onderhawige geval die versuim van die
advokaat om die getuienis van die ouers van die twee kinders
aan te bied die verhoorhof enigsins onthef het van sy plig om

te
15

te besluit of 'n verslag deur 'n proefbeampte hom beter daartoe in staat sou stel om 'n gepaste vonnis op te lê nie. Daar mag uitsonderingsgevalle wees waar aan die hand van die getuienis van die veroordeelde se ouer of ouers afgelei kan word dat 'n proefbeampte se verslag geen nuttige doel sal dien nie. In die onderhawige geval het die advokaat egter die moeite gedoen om vooraf met die ouers 'n onderhoud te voer. In die lig daarvan het die advokaat tot die slotsom geraak dat die getuienis van die ouers hoegenaamd nie enige bydrae tot die ondersoek na die omstandighede van die tweede en derde appellante sou kon maak nie. By ondervraging van die ouers, aldus die advokaat, het die ouers nie die vaagste begrip getoon vir diê soort van ondersoek wat in dusdanige gevalle nodig is nie. Hierdie was dus 'n geval waar die advokaat grondige redes gehad het om nie self sodanige getuienis aan te bied nie; en in die loop van die tweegesprek wat hy en die streeklanddros in verband met die

noodsaaklikheid....

16

noodsaaklikheid al dan nie van 'n proefbeampte se verslag gevoer het, het die advokaat by herhaling die redes vir die nutteloos-heid van die ouers se getuienis genoem en beklemtoon.
Uit die voorgaande wil dit blyk dat om sonder 'n proefbeampte se verslag tot vonnisoplegging oor te gaan die streeklanddros fouteer het. Deur aldus te besluit het die verhoorhof sy toevlug gehad tot 'n prosedure wat teenoor die tweede en derde appellant onbillik was; en wat op 'n onreëlmatig-heid neerkom. Vgl S v Jabavu 1969(2) SA 466 (A) op 472 D/E. Bowendien tref die vonnisse wat die streeklanddros die twee jeugdiges op sowel die eerste as die tweede klagte opgelê het my nie as weloorwoe nie. Met inagneming van die aard en omvang van die openbare geweld waaraan hul deel gehad het, kom die vonnis van drie jaar gevangenisstraf, die helfte waarvan opgeskort is, my as buite verhouding kwaai voor. Wat betref die vonnis op die tweede klagte dien gemeld te word dat die

Wetgewer

17

Wetgewer by art 57 van Wet 72 van 1982 die misdryf waaraan die appellante skuldig bevind is, strafbaar gemaak het met 'n boete van hoogstens vyfhonderd rand of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens ses maande. Ten opsigte van aldrie appellante het die verhoorhof 'n boete van R200 opgelê en gelas dat by wanbetaling daarvan die maksimum termyn van gevangenis-straf deur die Wet voorgeskryf, uitgedien moet word. Die eerste appellant was 'n salaristrekker en dit is moontlik dat hy die opgelegde boete kon byeenbring. Dit val egter te betwyfel of by vasstelling van die boetestraf van R200 die streeklanddros die waarskynlike vëreffeningsvermoë van die twee skoolkinders deeglik oorweeg het. In al hierdie omstandighede, so meen ek, is dit nodig om die vonnisse van die tweede en derde appellante ter syde te stel en om die saak teen hulle na die verhoorhof terug te verwys sodat die verhoorhof na ver-kryging van 'n proefbeampte verslag, en indien nodig, na

aanhoor
18

aanhoor van die proefbeampte se getuienis, opnuut vonnis kan
oplê. Mnr Els, wat in hierdie Hof die betoog namens die Staat
behartig het, het geredelik toegegee sowel dat dit nodig was vir
die verhoorhof om die ondersoek na die omstandighede van die
tweede en derde appellante deur inwinning van 'n proefbeampte-
verslag te verruim, as dat hul in alle geval buitensporig swaar
vonnisse opgelê is.

Die appèl van die eerste appellant slaag ten dele.

Op die eerste klagte word die vonnis van die eerste appellant
gewysig tot:

"Vyf jaar gevangenisstraf waarvan twee jaar opgeskort word vir vyf jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan openbare geweld gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie."
Die appèlle van die tweede en derde appellante slaag.

Op sowel die eerste as die tweede klagte word die vonnisse van

die tweede en derde appellante ter syde gestel, en die saak teen

die
19

die tweede en derde appellante word na die verhoorhof terug-verwys. Die verhoorhof sal gelas dat die verslag van h proef-beampte m b t die omstandighede van die tweede en derde appel-lante verkry word. Nadat die proefbeampte sy verslag aan die verhoorhof voorgelê het, en nadat die partye en die hof 'n geleentheid gehad het om verdere getuienis (insluitende dié van die proefbeampte, indien nodig) oor straftoemeting te lei, sal die verhoorhof opnuut vonnisse oplê. Hangende sodanige vonnisoplegging sal die borgtog wat op 17 September 1985 deur die Oos-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof aan die tweede en derde appellante toegestaan is van krag bly.

G G HOEXTER, AR

GROSSKOPF, AR )

NICHOLAS, Wnd. AR ) Stem saam