South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1984 >>
[1984] ZASCA 13
| Noteup
| LawCite
S v Boshielo (145/83) [1984] ZASCA 13 (16 March 1984)
Download original files |
Saaknommer: 145/83
WHN
LAZARUS PULENG BOSHIELO Appellant
en
DIE STAAT Respondent
JOUBERT, AR.
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
LAZARUS PULENG BOSHIELO Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: JOUBERT, NICHOLAS, ARR., et GROSSKOPF, Wn AR.
Verhoor: 24 Februarie 1984 Gelewer: 16 Maart 1984
UITSPRAAK JOUBERT, AR. :
/Die
2
Die appellant, 'n 28 jarige Swartman, is in die Transvaalse Provinsiale Afdeling voor VAN DYK, R. aangekla op vier klagtes. Klagte 1 is moord deurdat hy op 21 April 1981 te Toitskraal in die distrik Moutse 'n huis waarin sy vader Koos Boshielo (die oorledene) geslaap het aan die brand gesteek het as gevolg waarvan die oorledene ernstige brandwonde opgedoen het na aan= leiding waarvan hy op 24 April 1981 in die Philadelphia Hospitaal oorlede is. Klagte 2 is poging tot moord op 'n Swartvrou, Sina Boshielo, wat op dieselfde datum in gemelde huis was toe die appellant dit aan die brand gesteek het. Klagte 3 is ook 'n poging tot moord op 'n
/Swartdogter
3
Swartdogter, Anna Molomo, (13 jaar oud) wat op dieselfde datum in gemelde huis was toe die appellant dit aan die brand gesteek het. Klagte 4 slaan op brandstigting deur die appellant ten aansien van gemelde huis op dieselfde datum.
By die aanvang van die verhoor het die appellant op al die klagtes onskuldig gepleit. Hy het wel erken dat hy die nag van 20/21 April 1981 'n kombers by die gemelde huis aan die brand gesteek het. Hy het egter geweier om die basis van sy verweer uiteen te sit. Hy is verhoor en is op al vier klagtes skuldig bevind. Op
/klagte
4
klagte 1 is hy skuldig bevind aan moord met versagtende omstandighede en gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf. Op klagtes 2 en 3 is hy gevonnis tot 5 jaar gevangenisstraf op elkeen daarvan. Op klagte 4 is hy 2 jaar gevangenisstraf opgelê. Die vonnisse op klagtes 2,3 en 4 loop gelyktydig met die vonnis op klagte 1.
Met verlof van die Hoofregter kom die appellant nou na hierdie Hof in hoër beroep teen sy skuldigbevindings en vonnisse.
Die oorledene het twee huise gehad wat ongeveer 12 na 15 meter van mekaar op dieselfde perseel geleë is. Daar is om die perseel 'n draadheining met 'n groot hek
/vir
5
vir motorvoertuie sowel as 'n klein hek vir voetgangers. In die een huis het die oorledene se eerste vrou Jane en hul drie minderjarige kinders gewoon terwyl die appellant in Pretoria gewerk het. Ek sal voortaan na hierdie huis as „huis nr 1" verwys. Die oorledene het Sina Boshielo as 'n tweede vrou geneem en sy het met hul kind Anna Molomo ongeveer 2 maande voor die brandstigting in die huis waar die brand plaasgevind het, gaan woon. Ek sal voortaan na hierdie huis as „huis nr 2" verwys. Jane het huis nr 1 verlaat en daar het baie bitter en kwaai gevoelens tussen die oorledene en sy kinders by Jane, insluitende
/die
6
die appellant, ontstaan.
Huis nr 2 het uit twee vertrekke bestaan, nl. 'n voorhuis met 'n opening na 'n slaapkamer. Daar is net een buitedeur met 'n venster aan elke kant daarvan. Die venster regs van die buitedeur is by die voorhuis. Dit het 'n staalraam sonder glasruite gehad. 'n Groen kombers het as 'n gordyn gedien. Die venster links van die buitedeur is by die slaapkamer. Dit het 'n staal= raam met glasruite gehad. Die buitedeur kon van binne met 'n werwel toegemaak word. Van buite kon dit met 'n skuifslot toegemaak word. Die nag van 20 April 1981
/was
7
was die buitedeur slegs van binne toegemaak toe die oorledene en Sina Boshielo in die slaapkamer en Anna Molomo in die voorhuis geslaap het. Huis nr 2 het grondmure en 'n sinkdak.
Die oorledene het voordat hy die betrokke nag gaan slaap het die groot hek toegemaak en gesluit met 'n slot aan 'n ketting. Op daardie stadium was die appellant se motorkar op die perseel geparkeer by huis nr 1. Appellant het die betrokke naweek sy drie minder= jarige broers kom besoek.
/Gedurende
8
Gedurende die nag is Sina Boshielo sowel as Anna Molomo gewek toe die appellant aan die slaapkamer se venster geklop het om die sleutel van die groot hek te vra. In kruisondervraging het Sina Boshielo gesê dat die appellant mooi met die oorledene gepraat het. Laas= genoemde het te kenne gegee dat hy sou opstaan en die sleutel vir die appellant gee. Sina Boshielo het haar kop met 'n kombers bedek. Die volgende wat sy gehoor het,is toe Anna Molomo skree daar is 'n brand. Sy het gesien dat die gordyn by die voorhuis se venster, die buitedeur en die slaapkamer se venster brand. Die
/oorledene
9
oorledene wat reeds gekleed was, het die buitedeur oopgeruk en na buite gevlug. Sy het net 'n damesbroekie aangehad toe sy uit die huis vlug. Sy het brandwonde aan haar voete en linkerarm opgedoen. Anna Molomo se getuienis het haar in wesenlike opsigte ondersteun. Anna Molomo het probeer om 'n venster oop te maak maar sy kon nie. Sy het 'n kombers om haar gehang maar toe dit by die buitedeur vlam vat, het sy dit laat val. Sy het toe ongedeerd na buite gevlug.
Die oorledene se broer Piet Boshielo wat daar naby woon, het spoedig op die toneel verskyn en met
/hulp
10
hulp van 'n paar mense het hulle daarin geslaag om die brand met grond te blus. Naby die buitedeur het hy 'n 5 liter plastiese emmertjie sien staan. Dit het na petrol geruik. Hy het gesien dat die appellant die groot hek se slot met 'n byl stukkend kap. Daarna het die appellant in sy motorkar deur die groot hek weggery.
Die ondersoekbeampte Disego Mampane het huis nr 2 na die voorval besoek. Hy het gevind dat die buitedeur van hout is en dat aan die regterkant is dit van bo tot onder gebrand. Die twee vensters het tekens van brand getoon. Die glasruite van die een venster
/was
11
was stukkend. Aan die muur en die dak binnekant die huis het hy kolle gesien wat deur vlamme veroorsaak is. Daar was geen meubels in die huis nie. Buitekant van die muur af na die lapa is daar met mis gesmeer. Hy kon brandmerke vanaf albei vensters en die buitedeur kry. By die vensters is beesmis gesmeer en dit het ook gebrand.
Dr Ninaber, die deeltydse distriksgeneesheer, het getuig dat hy die oorledene onder sy sorg en behandeling gehad het vanaf die oggend van 21 April 1981 totdat die oorledene op 24 April 1981 oorlede is. Die oorledene het ongeveer 65% brandwonde, hoofsaaklik 2e graad s'n,
/min
12
min of meer oor sy hele liggaam gehad. Hy het geen ander beserings gehad nie. Sy toestand het progressief verswak vanwee komplikasies as gevolg van die brand= wonde wat die oorsaak van sy dood was. Volgens dr Ninaber is 'n mens wat meer as 50% 2e graadse brandwonde het, se kanse op oorlewing baie swak. In kruisondervra= ging het hy beweer dat dit baie hoogs onwaarskynlik is dat daar 'n ander doodsoorsaak was. Daar is geen lyk= skouing op die oorledene gehou nie. Ek sal weer hiermee handel.
Die appellant se relaas van die gebeure was dat hy in die vroeë oggendure van 21 April 1981 met sy
/motorkar
13
motorkar na Pretoria moes terugkeer om te gaan werk. Die groot hek was egter met 'n ketting en 'n slot deur die oorledene gesluit sodat hy nie sy motorkar van die perseel kon verwyder nie. Volgens hom het hy verskeie kere aan die venster van die slaapkamer by huis nr 2 gaan klop en die oorledene vir die sleutel van die slot gevra. Die oorledene het elke keer vir hom gesê: "wag ek kom". Hy het na sy motorkar gegaan en nadat hy oor die aangeleentheid gepeins het, het hy besluit om omtrent 'n beker se petrol van sy motorkar in die geel plastiese emmer af te tap. Hy het 'n koppie geneem en hierdie
/petrol
14
petrol slegs op die groen kombers gegooi wat by die venster van die voorhuis as gordyn gedien het. Hy het dit aan die brand gesteek. Hy het ontken dat hy elders by huis nr 2 ook petrol gegooi het. Hy het ontken dat hy die buitedeur en die venster met die glasruite gebrand het. Hy het buitekant gestaan toe die oorledene gevolg deur Sina Boshielo en Anna Molomo by die buitedeur na buite gevlug het. Hy het toe 'n byl geneem waarmee hy die slot oopgebreek het en toe het hy met sy motorkar na Pretoria vertrek.
/By
15
By 'n opweging van die getuienis as 'n geheel is dit na my oordeel duidelik dat die appellant se weer= gawe van die omvang van die brandskade verwerp moet word waar dit oor hierdie aspek bots met die getuienis van Sina Boshielo, Anna Molomo, Piet Boshielo en Disego Mampane. In die lig daarvan asook op die waarskynlikhede van die geval moet sy bewering dat hy slegs petrol op die groen kombers gegooi het en slegs dit aan die brand gesteek het, verwerp word. Uit die aanvaarbare getuienis is die enigste redelike afleiding te maak dat die appellant ook petrol op die regterkant van die buitedeur asook op
/die
16
die slaapkamer se venster met glasruite gegooi het en dat hy dit aan die brand gesteek het.
Die appellant was bewus daarvah dat die oorledene saam met Sina Boshielo en Anna Molomo in huis nr 2 die betrokke nag was. Hy het ontken dat hy die bedoeling gehad het om hulle te dood anders „sou hulle nie by my verby gekom het nie". Weliswaar het hy nie opset as oogmerk (dolus directus) gehad nie soos blyk uit die feit dat hy nie die buitedeur van buite met die skuif= slot toegemaak het nie. Die appellant beweer dat hy die petrol aangewend het en die brand gestig het om
/hulle
17
hulle skrik te maak sodat wanneer hul besig sou wees om die brand te blus hy die geleentheid sou kry om die slot van die groot hek oop te breek. Dit is egter onsinnig want hy kon in elk geval gegaan het en die slot oopgebreek het sonder om die brandstigting te pleeg. Hy het by die enigste drie ontsnappingsplekke van huis nr 2 petrol gegooi en dit aan die brand gesteek. Na my mening het die Verhoorregter tereg bevind dat die appellant opset by moontlikheidsbewussyn (dolus eventualis) gehad het.
Daar is namens die appellant groot klem gelê op die feit dat geen lykskouing op die oorledene gehou is
/om
18
om die oorsaak van sy dood vas te stel nie. Daar is aangevoer dat die Staat nie bo redelike twyfel hom van die bewyslas gekwyt het as sou die oorledene se dood deur die brandwonde veroorsaak gewees het nie. In die lig van die aard en strekking van die mediese getuienis van dr Ninaber is dit na my mening duidelik dat die Staat wel bo redelike twyfel bewys het dat die oorledene dood is as gevolg van die komplikasies wat die 2e graadse brandwonde teweeg gebring het.
Dit is namens die appellant betoog dat daar 'n onbehoorlike verdubbeling van klagtes plaasgevind het
/wat
19
wat gelei het tot 'n verdubbeling van skuldigbevindings. Volgens die betoog het die appellant slegs één handeling verrig nl. die veroorsaking van die brand, met één opset sodat die appellant slegs aan opsetlike saakbeskadiging (klagte 4) skuldig bevind kon word of in die alternatief aan aanranding van die oorledene onder klagte 1. Hierdie betoog verloor egter uit die oog dat regtens 'n wederregte= like handeling, soos brandstigting, met meer as een opset gepleeg kan word, bv. opset om 'n saak te beskadig sowel as opset om 'n slagoffer te dood. Dit bring mee dat 'n beskuldigde regtens skuldig bevind kan word aan opsetlike
/saakbeskadiging
20
saakbeskadiging sowel as aan moord of poging tot moord. Die vermelde betoog namens die appellant kan derhalwe nie aanvaar word nie. Na my mening het die Staat bo redelike twyfel bewys dat die appellant opsetlik en wederregtelik huis nr 2 aan die brand gesteek het. Daar= benewens het die Verhoorregter, soos reeds vermeld, tereg bevind dat die appellant die opset om te dood (dolus eventualis) ten aansien van die oorledene, Sina Boshielo en Anna Molomo gehad het.
Die Verhoorregter het derhalwe die appellant tereg skuldig bevind op klagtes 1, 2, 3 en 4. Die
/bevinding
21
bevinding betreffende die aanwesigheid van versagtende omstandighede is tereg nie voor hierdie Hof betwis nie. Die baie bitter en kwaai gevoelens wat daar tussen die oorledene en die appellant bestaan het toe die brand= stigting gepleeg is, het die morele verwytbaarheid van die appellant verminder en derhalwe versagtende omstandig= hede daargestel.
Wat oplegging van vonnis ten aansien van klagte 1 betref, het die Verhoorregter tereg die betrokke moord as 'n ernstige misdaad beskou. Hy het egter 'n baie ernstige mistasting begaan toe hy rekening gehou het
/met
22
met „die impak wat dit gemaak het klaarblyklik op die gemeenskap as ek kyk na diehoeveelheid mense wat die hof bywoon, wat van Toitskraal 'n paar honderd kilometer van Pretoria, die hof bywoon, dat ek, hoe graag ek beskuldigde ook wil tegemoet kom, nie anders kan as om hom 'n swaar gevangenisstraf op te lê nie". Ongeag die feit dat daar geen getuienis volgens die oorkonde was as sou die toeskouers inderdaad van Toitskraal gekom het om die verhoor van die appellant by te woon nie, kan die aan= wesigheid of afwesigheid van toeskouers by hofverrigtinge nooit 'n faktor wees om in ag te neem by die oorweging van 'n gepaste vonnis nie. Om rekening te hou met die aantal
/van
23
van die toeskouers by 'n verhoor sou nie net tot ernstige wanpraktyke aanleiding gee om 'n regterlike beampte by vonnisoplegging onbehoorlik te beinvloed en druk op die regspleging uit te oeEen nie maar sou dit ook 'n veroordeelde op 'n uiters onregverdige wyse kon benadeel. Die vonnisse wat die Verhoorregter opgelê het, moet derhalwe tersyde gestel word en dit staan hierdie Hof vry om self die gepaste vonnisse op te lê. Al die relevante feite betreffende die omstandighede met betrekking tot die pleging van die misdade en die persoonlike omstandighede van die appellant is by wyse
/van
24
van getuienis voor hierdie Hof. Hierdie Hof sal ook rekening hou met die belange van die samelewing.
Na my mening is gepaste vonnisse op klagtes 1, 2, 3 en 4, gevangenisstraf van 10, 5, 5 en 1 jaar respektiewelik terwyl die vonnisse op klagtes 2,3 en 4 saamloop met die vonnis op klagte 1.
Die resultaat is dan soos volg : 1. Die appèl teen die skuldigbevindings op klagtes 1,2,3 en 4 word afgewys.
/2. Die
25
2. Die appèl teen die vonnisse wat die Verhoorhof ten opsigte van klagtes 1,2,3 en 4 opgelê het, slaag in die mate dat sodanige vonnisse deur die volgende vonnisse vervang word, nl.
(1) klagte 1 gevangenisstraf van 10 jaar (2) klagte 2 gevangenisstraf van 5 jaar (3) klagte 3 gevangenisstraf van 5 jaar (4) klagte 4 gevangenisstraf van 1 jaar
met dienverstande dat die vonnisse op klagtes 2,3 en 4 moet saamloop met die vonnis op klagte 1.
C.P. JOUBERT, AR.
NICHOLAS, AR. )
Stem saam. GROSSKOPF, Wn AR.
)

RTF format