South Africa: North West High Court, Mafikeng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North West High Court, Mafikeng >> 2016 >> [2016] ZANWHC 50

| Noteup | LawCite

Stoffberg N.O. en 'n Ander v Amore Rhyn Beleggings (Edms) Bpk (1522/14) [2016] ZANWHC 50 (30 June 2016)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD WES AFDELING, MAHIKENG)

SAAK NR.: 1522/14

In die saak tussen:

KARIN STOFFBERG N.O                                                             1STE EISERES

ELIZABETH COLBYN OLIVIER NO                                               2DE EISERES

en

AMORE RHYN BELEGGINGS (EDMS) BPK                              VERWEERDER

UITSPRAAK

Landman R:

Inleiding


[1] Die eiseresse, Mev Stoffberg NO en Mev Olivier NO, die eksekutrises van die boedel van wyle Johan Cronje (hierna Cronje), het dagvaarding uitgreik om ‘n verklaring dat ‘n ooreenkoms wat Cronje met Amore-Rhyn (Edms) Bpk, die verweerder (hierna Amore Rhyn) aangegaan het, by die afsterwe van Cronje verval het, omdat prestasie onmoontlik geword het. Op sy beurt het Amore-Rhyn ‘n teeneis teen die boedel ingestel vir die betaling van die balans van ‘n lening wat Amore-Rhyn aan Cronje geleen en voorgeskiet het, ingestel.

[2] Die verhoor is uitgestel omdat Mev Jonker, die verweerder se getuie ongesteld geraak het. Toe die verhoor hervat is, het die verweerder sy teeneis teruggetrek en sy saak gesluit sonder om enige vedere getuienis aan te bied. Die verweerder het die verspilde koste aangebied. Die eiseresse het ‘n wysiging van hulle pleitstukke versoek om die ontwikkellinge asook die verstryking van die kontrak in ag te neem.

Die agtergrond

[3] Wyle Cronje het met beeste op sy plase, Waterval en Stormrivier geboer. Die plase is slegs deur ‘n pad van mekaar geskei. Hy het ook ‘n plaas naby Koster besit. Teen 2012 het hy hom hoofsaaklik tot die aankoop van kalwers beperk. Hy het die kalwers afgerond en daarna in sy voerkrale gevoer voordat hy hulle verkoop het. Hy en sy eggenote is op hulle plaas kort te vore aangeval. Dit het Cronje laat wonder of hulle op die plase moet aanbly of moet hy sy voerkraal besigheid tot niet maak. Cronje het van tyd tot tyd neerslagtig geword. Hy het sy toekomsplanne met sy dogter en seuns bespreek. Hy het twee keer ingestem om die plaas te verkoop maar hy het onmiddellik spyt geword en nie die kontrakte geteken nie. Hy wou op die plase aanbly.

[4] Uiteiendelik het Cronje besluit om ‘deel te neem’ aan ‘n projek wat die teel van Boran beeste ten doel gehad het. Die projek is die breinkind van ‘n mede boer en sakeman, Mnr Francois Henning (hierna Henning). Henning se maatskappy, Amore-Rhyn, word die eienaar van die kudde en die wins kom die maatskappy toe. Aanvanklik het Cronje, Henning met die aankoop van geskikte kommersiële koeie by vendusies bygestaan. Amore-Rhyn sou geskikte beeste aankoop en die beeste op Waterval en Stormrevier laat wei. Cronje sou die kudde bestuur en vir hulle sorg. Die beeste sou van Cronje se weiding gebruik maak. Cronje sou ook die arbeid, elektrisiteit, lek ens verskaf. Die koeie sou invitro of deur embryo-inplanting dragtig word. Die geskikte kalwers sou deel wees van die teel kudde. Die ander kalwers sou uitgeskop word. Cronje se vergoeding vir sy dienste asook die gebruik van sy fasiliteite sou bestaan uit ‘n weidingsfooi. Cronje sou ook kortweg op die uitskop kalwers geregtig word, wat hy deel van sy voerkraal besigheid sou word.

[5] Henning getuig dat Cronje mettertyd sy voerkraal besigheid tot niet sou maak. Die Boran projek sou sy netto inkomste wat hy uit sy voerkraal besigheid verdien het, ewenaar. Volgens Henning het Cronje kenne gegee dat hy tusssen R300 000 en R400 000 netto wins uit die besigheid verdien het.

[6] Cronje, wat homself soms as ‘n grasboer beskryf het, het weiding by Smuts, in sowat sewe van die kampe aangeplant. Die gras word bemes, natgelei en gebaal. Die gebalde gras word gebruik om ‘n mengsel voer te maak vir die beeste in twee voerkrale wat op die plaas gevestig is. Die bale aangeplante weiding het ook die natuurlik weiding in die wintermaande en gedurende droogtes aangevul.  

[7] Aanvanklik sou die beeste tot 150 groot vee eenhede beperk word.  Maar die trop beeste sou tot 100 geskikte beeste verskraal word.  Die drakrag van die plaas inaggenome die twee bergatige kampe (waarop blaargif een tot twee maande per jaar voorkom) sou slegs ongeveer 38 beeste kon dra. Dus was die aangeplante weiding nodig vir droogtes en winter. Maar dit sou nie genoeg wees nie en Amore-Rhyn sou voer moes aankoop.

[8] Nadat enkele konsepooreenkomste opgestel en bespreek is, het die partye ‘n ooreenkoms op 6 Desember 2012 aangegaan. Die kern klousule bestaan uit die volgende:

1.           Beweiding en Versorging

Johan as eienaar van die grond beskik oor die hanteringsgeriewe, kennis en vaardighede en arbeid om na Amore-Rhyn se beeste om te sien en hulle te laat aanteel.

Amore-Rhyn besit ‘n aantal vroulike diere en be-oog ook om addisionele vroulike diere aan te koop tot en met ‘n maksimum getal van ‘n honderd en vyftig (150). Met ingang van die effektiewe datum sal Amore-Rhyn geregtig wees om vroulike diere op die grond te bring en die grond te laat bewei tot en met ‘n honderd en vyftig (150) in getal.

Ten einde te verhoed dat Johan se grond oorbewei word die volgende werkswyse aanbeveel:

1.1        Amore-Rhyn toegelaat wees om ‘n totaal van ongeveer 100 groot vee eenhede op die plaas te bring, waaruit vroulike diere selekteer kan word om in die navermelde teelprogram opgeneem te word.

1.2        Met die verloop van tyd sal Amore-Rhyn diere wat nie geskik is om deel van die teelprogram te wees nie, uit selekteer sodat ‘n maksimum van 100 groot vee eenhede in die teel program ingebring word.

Vanaf die effektiewe datum sal Johan die versorging van die diere waarneem teen die vergoeding en onderhewig aan die vedere bedinge en voorwaardes hieronder uiteengesit.

4. Duur

Die kontrak sal ‘n aanvang neem op die Effektiewe Datum en sal voortduur vir drie kalwing siklusse.

5. Pligte Van Johan

Johan sal, ingevolge die ooreenkoms vir en ten behoewe van Amore-Rhyn, verantwoordelik wees vir die algehele bestuur en versorging van die kudde, ooreenkomstig algemeen aanvaarde boerdery praktyk.

5.1        Sonder om afbreuk te maak aan die algemeenheid van klousule 5 hierbo, sluit die algehele bestuur en versorging van die kudde en ander aktiwiteite deur Johan en ook op sy eie risiko en kostes, ook die volgende in-

5.1.1 Die verskaf van geriewe, arbeid en toerusting asook verbruiksitems wat nodig is om die versorging na behore volgens algeneem aanvaarde boerdery prakyk re bedryf;

5.1.2 Die verskaf van elektrisiteit, water en ander fasiliteite wat nodig is om die aktiwiteite te bedryf.

5.1.3 Die toedien van entstowwe en parasite-betryding wat nodig is om diere gesondheid volgens algemene aanvaarde boerdery praktyk te handhaaf.

5.1.4 Die verskaf van toepaslike fosfaat bevattende lek as byvoeding.

5.2        Johan sal verantwoordelik wees om die instellasies soos heinings en suipings in stand te hou gedurende die termyn van die kontrak en om in die algemeen voorsorg te tref dat Amore-Rhyn se diere nie in kontak kom met ander beeste nie.

5.3  Johan sal ook verantwoordelik wees vir die maak van brand paaie en die aanhou van werkende brandbestrydingstoerusting en om van tyd tot tyd brandbestryding toe te pas sou dit nodig blyk.

6. Vergoeding

6.1        Die vergoeding betaalbaar deur Amore-Rhyn aan Johan vir die toestemming, versorging en regte hierby verleen, beloop as volg.

6.1.1 Vir nie-diere dragtige diere R 2.14 per dag wat die dier op die plaas deurbring vandat die dier op die plaas afklim tot sy dragfig is of uitgeskot word deur Amore Rhyn.

6.1.2 Sou ‘n moeder op enige stadium nie in staat wees om ‘n kalf te produseer nie sal sy uit die teelprogram geneem word (in die geval waar sy die embrio aborteer, na twee onsuksesvolle inplantings of, in die geval waar sy as gevolg van haar moerder eienskappe nie speen nie), sal Amore Rhyn haar van die plaas verwyder en sal die vergoeding wat hierbo bepaal is bereken word. Sulke diere moet van die plaas verwyder word wanneer hulle uigeskot word.

6.2  Nadat ‘n kalf gespeen is sal Amore-Rhyn kalwers selekteer vir opname in hulle eie stoetery. Vir daardie kalwers word Johan vergoed vir sy dienste teen R3,600.00 (Drie duisend Seshonderd Rand) per kalf. Indien Amore Rhyn nie ‘n kalf so selekteer nie word Johan vergoed vir sy dienste teen R3,000.00 (Drie duisend Rand) per kalf en sal hy die kalf oorneem teen ‘n vooraf bepaalde vasgestelde vergoeding van R 3000.00 per kalf.

6.3 Die partye hiertoe stem toe dat, ten einde Johan en Amore-Rhyn in staat te stel om die vergoeding betaalbaar deur Amore-Rhyn te bepaal vir die eerste betaling siklus en elke daaropvolgende betaling siklus, Johan en Amore-Rhyn dagboek sal byhou van elke dier wat aangekoop en afgelewer word, soos wat algemene aanvaarde kuddebestuur vereis.

6.4 Amore-Rhyn onderneem om Johan van ‘n afkrif van die voltooide data te voorsien van alle verslae op die laaste dag van elke kalender maand vir die volle tydperk van hierdie ooreenkoms.

6.5 Die aangehegte skedule gemerk aanhangsel 6.7 geld ter bloot toeligting van die betalings reeling tussen die partye en is bereken op die verwagte opbrengste. Die partye verklaar dat die waardes in aanhangsel 6.7 net behaal kan word indien die maksimum hoeveelheid diere van 100 dragtig gesertifiseer word. Indien die kudde onder die getal vir watter rede ookal is die inkomste projeksie ook pro rata minder.

7. Lopende Uitgawes

7.1 Die koste vir die verskaffing van water en elektrisiteit asook arbeid, word deur Johan gedra.

7.2 Die koste vir

7.2.1  die verskaf van medisyne, dipstowwe en entstowwe, asook;

7.2.1  die versorging van die diere wat verband hou met die verbeterings skema byvoorbeeld veeartsenykundige dienste, die koste van embrio inplantings en alle koste wat gepaard gaan met geboortes van kalwers.

7.2.3 en spesialis voeding, soos byvoorbeeld onderhouds lek word deur Amore-Rhyn gedra.

11. Goedertrou

Elkeen van die Partye sal aan die ander ‘n verpligting van die uiterste goeie trou verskulding wees en verplig wees om homself te wy aan die bevordering en welvaart van die Kontrak, met dien verstande dat niks hierin vervat enige Party sal verplig om sy volle ty den aandag aan die daaglikse bestuur en administrasie van die sake in die Kontrak te wy nie.

18 Force majeure

18.3 Indien casus fortuitous of force majeure (‘n voorval) die uivoering van Johan se pligte in terme hiervan verhinder, sal die bedrywighede in terme van hierdie ooreenkoms nie opgeskort word nie maar moet Johan, so gou doenlik na die onstaan daarvan, aan Amore-Rhyn kennis gee van die bestaan van die voorval, met besonderhede van die aard, omvang, aanvang en verwagte duur daarvan. Amore-Rhyn moet dan vir die duur van die voorval sodanige stappe neem as wat hy dienstig ag om die kudde te beskerm. Sodra die voorval opgehou het, moet Johan sy bedrywighede hervat. Indien hierdie situasie voortduur en daar nie ‘n redelik vooruitsig is dat die situasie spoedig sal opklaar nie dan en in daardie geval sal Amore-Rhyn geregtig wees om die kontrak te kanselleer na beraadslaging met Johan.

25. Opvolgers

Hierdie ooreenkoms bind ook die partye se eksekuteurs, opvolgers in titel en in regte en die afsterwe van enige party hiertoe sal nie die einde van die kontrak.

[9] Toe die kontrak geteken word, volgens Henning, skuld Amore-Rhyn R280 000 aan Cronje waarvoor hy gebruik om ‘n demo bakkie aan te koop. Amore-Rhyn het ook sekere uitgawes van Cronje betaal by die herstel van die trok.

[10] Gedurende Desember 2012 en die daarop volgende twee maande word die eerste embryos ingeplant. Dit behels die aanvang van die eerste siklus. Dit het gemenesaak geword dat die derde siklus op 30 Mei 2016 verstryk.

[11] Op 22 Maart 2013 sterf Cronje toe hy die bakkie rol. Sy eggenote oorleef die ongeluk.

[12] Onmidddelik versuur die verhouding tussen Henning en die Cronje se gesin. Dit sal geen doel wees om die redes hiervoor op skrif te stel. Die Cronjes insluitende Mev Stoffberg, gee nie hulle samewerking nie en kom vir Henning as vyandig voor. Dit lui tot meningsverskile en hofsake.

[13] Amore-Rhyn het die meeste van Cronje se persoonlike verpligtinge oorgeneem.

[14] Op 8 Mei 2013 ontmoet die partye by prokureur Zietsman se kantooor ten einde om die situasie te bespreek. Mev Stoffberg het ‘n volledige notule van die verloop van die vergadering by wyse van ‘n skrywe gedateer 18 Junie 2013 aan die verweerder se prokureurs gestuur.

[15] Die eiseresse het na die tyd tot die slotsom gekom dat Amore-Rhyn die ooreenkoms gerepudieer het en kanselleer die ooreenkom. Dit het geen uitwerking nie. Amore-Rhyn houvol dat die ooreenkoms voortbestaan.

[16] Gedurende Augustus 2013 beveel die eiseresse ‘n werknemer om Amore-Rhyn se koeie in die pad in te jaag. ‘n Dringende aansoek word onder saak nommer 1386/2013 in hierdie hof van stapel gestuur. Op 7 Augustus 2013 stem die partye in tot ‘n bevel wat die spoliasie tersyde stel. Amore-Rhyn se beeste word weer op die plaas togelaat en Amore-Rhyn onderneem om aan die boedel vergoeding in die bedrg van R8 000 per maand te betaal. Die partye het ook ingestem dat die boedel onthef word van die bestuursverpligtinge wat Cronje moes onderneem. Die partye het ooreengekom dat die boedel nie verantwoordelik is vir byvoeding tydens droogtes en wat in elkgeval nie deel van die ooreenkoms was nie. Die ooreenkoms, aldus die hofbevel, word nie genoveer nie. Die tussen tydesere ling het tot einde Mei 2016 gegeld.

[17] Tussen November 2013 en begin 2014 het die partye tergeefs prober om ‘n huurkontrak te sluit.

[18] Amore-Rhyn het ‘n tweede dringende aansoek onder saaknommer M121/2014 teen Mnr Kobus Cronje (hierna Kobus) geloods. Die doel was om te keer dat die aangeplante gras op die plaas gebaal en verwyder word. Die hof het bevind dat Amore-Rhyn kragtens die kontrak op die die aangeplante weiding geregtig is en dat die beeste daarop mag wei.  

[19] Die eiseresse beweer dat die beeste die installasies beskadig het en ook dat die grond word oorbewei.

[20] Gedurende April 2016 het die eiseresse ‘n dringende aansoek geloods onder saak nommer M166/2016 om Amore-Rhyn te verplig om die plaas se aangeplante gras wat die maatskappy gebaal en verwyder het, terug te besorg. Ek het gelas dat die verweerder die bale moet bewaar tot afhandeling van die saak.

Betekenis van weiding

[21] Na my mening is dit onnodig om al die geskilpunte op te los nie want die vraag is nie of Amore-Rhyn kontrakbreek gepleeg het nie maar of die kontrak weens ontmoontlikmaking van prestasie verval het. Ek moet egter ‘n uitsondering maak sover dat die reg van die beeste om op die plaas te wei en die gebruik van die aangeplante weiding betref.

[22] Die huidige benadering tot die uitleg van dokumente word in Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality 2012 (4) SA 593 (SCA) te para 18 uiteengesit, naamlik:

Over the last century there have been significant developments in the law relating to the interpretation of documents, both in this country and in others that follow similar rules to our own. It is unnecessary to add unduly to the burden of annotations by trawling through the case law on the construction of documents in order to trace those developments. The relevant authorities are collected and summarised in Bastian Financial Services (Pty) Ltd v General Hendrik Schoeman Primary School. The present state of the law can be expressed as follows: Interpretation is the process of attributing meaning to the words used in a document, be it legislation, some other statutory instrument, or contract, having regard to the context provided by reading the particular provision or provisions in the light of the document as a whole and the circumstances attendant upon its coming into existence. Whatever the nature of the document, consideration must be given to the language used in the light of the ordinary rules of grammar and syntax; the context in which the provision appears; the apparent purpose to which it is directed and the material known to those responsible for its production. Where more than one meaning is possible each possibility must be weighed in the light of all these factors. The process is objective, not subjective. A sensible meaning is to be preferred to one that leads to insensible or unbusinesslike results or undermines the apparent purpose of the document. Judges must be alert to, and guard against, the temptation to substitute what they regard as reasonable, sensible or businesslike for the words actually used. To do so in regard to a statute or statutory instrument is to cross the divide between interpretation and legislation; in a contractual context it is to make a contract for the parties other than the one they in fact made. The 'inevitable point of departure is the language of the provision itself, read in context and having regard to the purpose of the provision and the background to the preparation and production of the document.’

[23] Amore-Rhyn se standpunt is dat all die weiding op die plaas insluitende die aangeplante weiding is vir die Boran beeste se gebruik. Die volgende faktore ondersteun die standpunt. Die ooreenkoms maak melding van beskikbare weiding. Die begrip dui daarop dat Cronje nie fodder sou moes aankoop indien die weiding op die plaas onvoldoende sou wees. Tweedens is die drakrag van die plase, wat natuurlike weiding aanbetref, slegs genoeg om 38 beeste aan te hou. Die partye stel dit ten doel om 100 beeste daar te laat wei. Dus sou dit kommersiele sinvol wees om die aangeplante weiding vir die Boran beeste bekikbaar te maak. Dit verleen stawing dat die aangeplante weiding kontrakutueel ingesluit is.  

[24] Die teenkant is dat Cronje besig was met ‘n voerkraal besigheid. Hy het kalwers gekoop en hulle op die plaas in Leeuwfontein laat afrond en daarna het hy hulle intensief in sy voerkraale op die plase gevoer voordat hy hulle verkoop. In Desember 2012 het Cronje 400 kalwers in sy voerkraale gehad. Cronje het juis ‘n behoefte aan sy aangeplante weiding indien hy daarmee wou voortgaan. Henning getuig dat Cronje sou mettertyd daarmee ophou. Cronje sou hom op sy inkomste uit die Boran projek verlaat. Tog, volgens die kontrak, was Cronje nie verplig om sy volle tyd en aandag aan die daaglikse bestuur en administrasie van die Boran projek te wy nie. Dit is duidelik uit Henning se getuienis dat Cronje slegs die voerkraalbesigheid sou tot niet maak indien sy inkomste uit die Boran projek die winste sou ewenaar.

[25] Dit raak belangrik om te bepaal of Cronje sou min of meer R400 000 netto inkomste per jaar uit die Boran projek verdien, maar tog met inagneming dat sy inkomste uit die projek deels uit uitskop kawlers sou bestaan. Indien wel sal dit ‘n sterk faktor wees ten gunste van die verweerder se standpunt wees.

[26] Die onbetwiste getuinenis van Mev Stoffberg is dat toe Cronje stref het hy ongeveer 400 kalwers in sy voerkrale gehad het. Die kawlers is vir min of meer twee miljoen Rand verkoop. Indien daar aanvaar word dat die kalwers teen R3 000 per stuk aangekoop is, sou Cronje ongeveer R800 000 wins maak. Ander uitgawes moet ook inaggeneem word. Ek twyfel of Cronje se ander uitgawes R400 000 sou beloop.

[27] Die HAT omskryf weiding as:

1. Veld met gewasse wat deur diere gevreet word: Weiding vir skape. 2. Gras of ander gewasse, gekweek om diere op te laat wei: Goeie weiding.’

Die woordeboek omskrywing is nie noodwendig deurslaggewend nie.

[28] Die getuienis van Mev Stoffberg, wat ek aanvaar, is dat Cronje sou nooit beeste toelaat om op die aangeplante weiding te wei nie. Alles in aggenome is ek van mening dat die begrip ‘beskikbare weiding’ wat in die kontrak gebruik word nie Cronje se aangeplante weiding insluit nie.

Ontleding van Cronje se kontraktuele verpligtinge

[29] Cronje se kontraktuele verpligtinge is:

1.     Cronje moet weiding op die plaasgrond toe te laat;

2.     Cronje is verantwoordelik vir die algehele bestuur en versorging van die kudde (met insette deur Amore-Rhyn en die se plaasvoorman en werkers), ooreenkomstig algemeen aanvaarde boerdery praktyk insluitend:

(a)  om Amore-Rhyn se beeste te versorg sodat hulle sal aanteel;

(b) bystand te verleen met selekteering van vroulike diere om in die navermelde teelprogram opgeneem te word;

(c)  entstowwe en parasite-bestryding toe te dien wat nodig is om diere gesondheid volgens algeneem aanvaarde boerdery praktyk te handhaaf;

(d) voorsorg te tref dat Amore-Rhyn se diere nie in kontak kom met ander beeste nie;

(e)  Instandhouding van die instellasies soos heinings en suipings gedurende die termyn van die kontrak;

(f)   maak van brand paaie;  

(g)  aanhou van werkende brandbestrydingstoerusting;

(h) brandbestryding sou dit nodig blyk; en

(i)    dagboek by te hou van elke dier wat aangekoop en afgelewer word, soos wat algeneem aanvaarde kuddebestuur vereis.

3.     Cronje moet die volgende verskaf:

(a)  geriewe insluitend hanteringsgeriewe op plaas;

(b) toerusting wat nodig is om die versorging na behore volgens algeneem aanvaarde boerdery prakyk re bedryf;

(c)  verbruiks items wat nodig is om die versorging na behore volgens algeneem aanvaarde boerdery prakyk re bedryf;

(d) elektrisiteit, water en ander fasiliteite wat nodig is om die aktiwiteite te bedryf;

(e)  toepaslike fosfaat bevattende lek as byvoeding; en

(f)   werkers se arbeid wat nodig is om die versorging na behore volgens algeneem aanvaarde boerdery prakyk re bedryf.

4. Cronje moet op eie koste dus die volgende aankoop en daarvoor betaal:

(a) elektrisiteit;

(b) entstowwe en parasite-bestryding middels;

(c) fosfaat bevattende lek;

(d) toerusting; en

(e) verbruiksitems wat nodig is om die versorging na behore volgens algeneem aanvaarde boerdery prakyk re bedryf.

5.     Cronje (as ook Amore-Rhyn) staan onder ‘n verpligting van die uiterste goeie trou verskulding wees en verplig wees om homself te wy aan die bevordering en welvaart van die kontrak.

6.     Cronje is nie verplig om sy volle tyd en aandag aan die daaglikse bestuur en administrasie van die sake in die kontrak te wy nie.

Onmoontlikheid van prestasie

[30] Indien prestatsie van kontraktuele verpligting onmoontlik word verval die kontrak en word die partye onthef van hul verpligtinge. Sien Peters, Flamman & Co v Kokstad Municipality 1919 AD 427. Ten einde te bepaal of prestatise onmoontlik geword het is dit nodige om die bepalings van die ooreernkoms en in ag te neem. Sien Hersman v Shapiro & Co 1926 TPD 367 op at 373  waar Stratford R (Tindall R wat saamstem) hom soos volg uitlaat:

Indeed, it seems clear that it is impossible to disregard the nature not only of the contract, but of the causes of impossibility, because those causes might be in the contemplation of the parties; or, again, they might be such as no human foresight could have foreseen. That distinction between different kinds of causes of impossibility must be a feature to be regarded before applying this doctrine of impossibility of performance without qualification. Therefore, the rule that I propose to apply in the present case is the general rule that impossibility of performance does in general excuse the performance of a contract, but does not do so in all cases, and that we must look to the nature of the contract, the relation of the parties, the circumstances of the case, and the nature of the impossibility invoked by the defendant, to see whether that general rule ought, in the particular circumstances of the case, to be applied.’

Sien ook die bespreking in Neclelar Fuels Corporation of SA (Pty) Ltd. v Orda Ag (412/94) [1996] ZASCA 108; 1996 (4) SA 1190 (SCA); [1997] 1 All SA 11 (A); (25 September 1996).

[31] Die bewyslas berus op die eiseresse om te bewys, op ‘n oorwig van waarskynlikhede, dat prestasie onmoontlik geword het.

Was dit onmoontlik vir die boedel om Cronje se pligte uit te voer?

[32] Die partye het die moontlikheid voorsien dat Cronje verhinder sou word om sy pligte uit te voer hetsy tydelik of permanent en daarvoor voorsiening gemaak het. Kortliks bepaal klousule 18.3 dat indien ‘n voorval die uitvoering van Cronje se pligte verhinder, sal die bedrywighede nie opgeskort word nie maar Cronje moet kennis gee van die bestaan van die voorval aan Amore-Rhyn. Amore-Rhyn moet dan vir die duur van die voorval sodanige stappe neem as wat hy dienstig ag om die kudde te beskerm. Sodra die voorval opgehou het, hervat Cronje sy bedrywighede. Indien hierdie situasie voortduur en daar nie ‘n redelik vooruitsig is dat die situasie spoedig sal opklaar nie dan en, in daardie geval, sal Amore-Rhyn geregtig wees om die kontrak te kanselleer na beraadslaging met Cronje. In die tweede plek bepaal die kontrak dat die opvolgers in titel word gebind. Die gevolg is dat afsterwe van Cronje nie die kontrak tot niet gemaak het nie. Tog kon prestasie ontmoonlik geword het.

[33] Ek meen dat na ‘n redelike tyd na Cronje se afsterwe en by die uitreik van die eksekuteursbriewe moes die eiseresse aan Cronje se kontraktuele verpligtinge voldoen het. Dit word gepleit dat die eiseresse nie Cronje se verpligtinge kon uitvoer nie maar dit is nie ‘n vereiste nie. Daar steek nie meriete in die submissie dat Cronje se talente en kundigheid uniek was nie. Sonder om enigins die eer en respek wat die gesin en die getuies vir Mnr Cronje koester, te betwyfel, sou ‘n aanvaarbare, gesoute en ingeligte en eerbare plaasbestuurder Cronje se bestuurs- en toesighoudendeverpligtinge kon uitvoer. Geen getuienis is aangebied dat dit ontmoontlik was om so ‘n person se dienste te bekom. Immers het Amore-Rhyn se plaasbestuurders deel van die verpligtinge uitgevoer.

[34] Dit mag wees dat Amore-Rhyn nie die aangewese plaasbestuurder sou aanvaar en goedkeur nie. In die geval sou Amore-Rhyn hulle op klouse 18.3 kon staatmaak en die kontrak kanselleer (en dit mag ook die boedel instaat gestel het om ‘n standpunt in te neem dat prestasie onmoontlik geword het).

[35] Die feit van die saak is dat die boedel natuurlike weiding, hanteerings- en ander geriewe asook water en krag verskaf het. Behoudens dit het die boedel nie gepoog om Cronje, of te wel die boedel, se verpligtinge na te kom nie. Die boedel het aangevoer dat Amore-Rhyn kontrakbreek gepleeg het en die kontrak gekanseller het welwetende dat die begrip verskil van onmoontlikmaking van prestatsie. Amore-Rhyn het egter kontrakbreek ontken en die ooreenkoms in stand gehou met inagnemeing van die tussentydse bevel.

[36] Mnr MP van der Merwe SC, wat namens die eiseresse opgetree het, het aangevoer dat reeds op 8 Mei 2013 het die partye besef dat uitvoering van die ooreenkoms ontmoontlik geword het. Hy maak staat of Mev Stoffberg se skrywe van 18 Junie 2013 wat afsluit met die volgende:

Die vergadering is afgesluit op die basis dat u kliënt onderneem het om die kinders te voorsien met al die data, rekonsiliasies en afrekeningstate sodra dit bygewerk is en om voorts binne ‘n periode van sewe (7) dae te kom met voorstelle aangaande die moontlike wysiging of kansellasie van die bestuursooreenkoms, alternatiewelik die bedinging van ‘n weidingskontrak, korttermynverhuringskontrak of koopkontrak, onder omstandighede waar die party dit basies eens was dat die voortsetting van die bestuursooreenkoms onprakties en onhoudbaar is weens die feit dat wyle Mnr J C Cronje se boerdery tans bloot uitbestuur word en sy toesig, kundighede en ervaring nie meer beskikbaar is of gelewer kan word nie. Ons het egter nog nie van u in die verband verneem nie en sal dit waardeer indien u ons so as moontlik van u kliënt se instruksies en voorstelle sal verwittig.

[37] Die moontlikheid dat die ooreenkoms nie uitgevoer kon word nie is wel voorsien. Maar objetief gesien was die uitvoering van die ooreenkoms nie ontmoontlik nie. Die rede vir sogenaamde onuitvoerbaarheid van die ooreenkoms moet in die vyandige houding van die Cronje-gesin gesoek word.

[38] Dit volg dus dat die verklaring nie gemaak kan word nie en kan die aksie nie slag nie.

Koste

[39] Koste berus binne die diskresie van die hof. Ek meen dat die veweerder, wat geslaag het op koste geregtig is. Tog moet elk inagneem dat die verhoor die twis ten opsigte van die tydsduur van die kontrak opgelos het. Die kontrak het op 31 Mei 2016 uitgeloop in plaas van September of Junie 2017 soos die verweerder te kenne gegee het. Die eiseresse het hierdeur baat gevind. Na my mening sal dit billik wees dat die eiseresse in hulle amptelike hoedanighede twee derde van die koste moet betaal.

Bevel

[40] Ek verleen die volgende bevel:

1.     Die wysinging kragtens reel 28(10) word toegestaan.

2.     Die verklarende bevel wat die eiseresse versoek, word nie verleen nie; die kontrak wat wyle Mnr Johan Cronje met die verweerder op 6 Desember 2012 aangegaan het, het tot 31 Mei 2016 voortbestaan.

3.     Dit word verklaar dat die begrip ‘beskikbare weiding’ wat in die bogemelde kontrak gebesig word nie Cronje se aangeplante weiding insluit nie.

4.     Die eiseresse word gelas, in hulle hoedanighede as eksekutrises van die boedel van wyle Johan Cronje, om twee derdes van die verweerder se getakseerde koste met uitsondering van die koste verwaant aan die teeneis te betaal.

5.     Dit word genotuleer dat die verweerder sy teeneis teruggetrek het en die verspilde koste getender het.


A A Landman

Regter van die Hooggeregshof


Appearances

 

Date of hearing:                     21 June 2016

Date of Judgment:                 30 June 2016

For the Plaintiff:                        Adv van der Merwe SC instructed by Van Rooyen Tlhapi & Wessels Inc

For the Defendant:                    Adv De Villiers instructed by Smit Stanton Inc